|1|

’n Woord Vooraf

 

 

In my diens as professor in kerkreg en kerkregering gedurende die afgelope agtien jaar het ek stelselmatig besef watter voorreg ek gehad het om aan die Teologiese Skool te Potchefstroom by die onvergeetlike prof W J Snyman eksegeties geskool te word in die Bybelse gebruik en betekenis van die woord kerk. Tweedens het die Openbaringsgeskiedenis my verplig om kennis te neem van die magistrale werk van dr Herman Ridderbos, De Komst van het Koninkrijk waardeur ek kon begryp dat hierdie koninkryk op heerskappy van God, teenwoordig en toekomstig, neerkom. Dit het my daartoe gebring om krities na die gangbare benadering van kerkreg te kyk en my oortuig dat die koninkryk van God wonderlike perspektiewe vir kerk-wees vandag open. Dit was toe ook asof Calvyn vanself oopgeval en hier en nou aktueel geword het.

My ervaring met kerkregering in kerke van die Eerste en Derde Wêreld wat almal gereformeerd wil wees, het my oortuig dat die basiese kerkreg in die Skrif gevind word terwyl die Kerkorde slegs maniere hoe dit toegepas behoort te word, aandui.

Hierdie werk wil Christus as Koning van sy kerk bely en aanvaar onvoorwaardelik dat Hy alleen reg, wet en regering van sy kerk bepaal. Nietemin gebruik Hy ook mense op ’n wyse wat in die Skrif beskryf is. Die boek wil aan die koningskap van Christus diensbaar wees en verskil waarskynlik van baie uitgangspunte wat die kerk as vertrekpunt neem. Ek kon nie my hand op ’n werk lê wat kerkreg (wat die Koning bepaal het) konsekwent van kerkregering (soos die dienaars dit beoefen) onderskei nie. Indien ek hiermee ’n eie bydrae maak, wil ek by voorbaat verskoning vra omdat so ’n braakland uiteraard met banke geploeg is. Indien dit vir ander iets beteken, is die werk hieraan meer as beloon.

Ek betuig graag my innige dank aan die Kuratore, Senaat en personeel van die Hammanskraalse Teologiese Skool vir ondersteuning, verlof, hulp en aanmoediging om die publikasie die lig te laat sien, veral aan mev Ina du Plessis vir die tik en aan dr Izak Bekker vir taalkundige nasien en proeflees van die manuskrip, dikwels onder moeilike omstandighede. Ek dank my vrou vir jarelange liefde, begrip en vertroue, ook wanneer mens soms alleen moes loop. Indien dié werk kerkregering tot eer van die Drie-enige Verbondsgod sal dien, wil ek dit aan die Here as my geringe offer van dank opdra vir so veel en groot genade, waaraan ek my lewe dank.

Mag die kerk reg regeer word. Soli Deo Gloria.


Spoelstra, B. (1989)