Hoofstuk 2: Die definiëring van ratifikasie binne die konteks van die Gereformeerde kerkreg

 

2.1 Die ontstaan van ratifikasie

2.1.1 Die ontstaan van ratifikasie in die sekulêre reg

2.1.1.1 Betekenis van ratifikasie in die sekulêre reg

Die term ratifikasie (ratificatio) bestaan uit twee Latynse woorde: ratum en facere. Die werkwoord facere beteken “maak, berei, vervaardig, bou, voortbring, saamstel” (Postma, 1975:116). Die adjektief ratum dra verskeie betekenisse, maar dui veral op “eweredigheid, vasstaande, geldig, van krag, wettig” (Postma, 1975:267; Van Jaarsveld, 1971:14). Die samestelling ratum facere kan letterlik vertaal word as “geldig maak”.
Regs- en ander woordeboeke gee die betekenis van ratum facere deurgaans weer as “bevestig, bekragtig” (Black, 1979:1135; Bosman et al., 1982:1579; Curzon, 1994:319; Dietl & Moss, 1979:626; Reifferscheid et al., 1968:206).
Roeleveld (1987:24) en Black (1979:1135) haal ´n hofsaak aan waarin ratificatio binne die nie-kerklike positiewe reg (in hierdie studie genoem sekulêre reg) omskryf word as “the affirmance by a person of a prior act which did not bind him but which was professedly done on his account, whereby the act, as to some or all persons, is given effect to as if originally authorized by him”.
In die hedendaagse verteenwoordigingsreg dui die begrip ratificatio sowel op die geldig maak van wéttig gemaakte voorstelle deur afgevaardigdes, as op die geldig maak van ónwettige, vernietigbare besluite wat afgevaardigdes geneem het (Black, 1979:1135; Roeleveld, 1987:24). In die volkereg het dit ´n soortgelyke betekenis en toepassing: “Ratifikation bezeichnet die Genehmigung zwischenstaatlicher Verträge. Diese werden zwar stets von Bevollmächtigten geschlossen; bedürfen aber der späteren Genehmigung durch das Staatsoberhaupt, bzw. das Parlement” (Reifferscheid et al., 1968:206).

2.1.1.2 Ratificatio en ratihabitio in die sekulêre reg

Hiemstra en Gonin (s.j.:275) beskryf ratihabitio as die goedkeuring of bekragtiging van ´n eie regshandeling waaraan ´n gebrek kleef, of die handeling van ´n ander - byvoorbeeld van ´n lashebber of saakwaarnemer - wat buite sy opdrag of bevoegdheid opgetree het.
Die Duitse regsgeleerde Sigerist gee in sy proefskrif die volgende omskrywing van ratihabitio: “Ratum habere speziell ist gleich firmum habere, confirmare, agnoscere, comprobare, servendum esse, etwas für rechtsgiltig, rechtsbeständig unanfechtbar halten, aufrecht erhalten, billigen...” (soos aangehaal deur Van Jaarsveld, 1971:18).
In die “Handlexikon zu den Quellen des Römischen Rechts” van Heumann-Seckell (soos aangehaal deur Van Jaarsveld, 1971:18) word eweneens ´n verklaring van ratihabitio gegee: “...bezeichnet ratum habere und ratihabitio die nachfolgende Gültigerklärung, Genehmigung, Bekraftigung, sei es a) eines eigenen mangelhaften Geschäfts; b) die nachträgliche Zustimmung zu einer fremden Handlung...”.
Bostaande aanhalings maak dit duidelik dat ratihabitio en ratificatio in die sekulêre reg oor die algemeen as sinonieme beskou en hanteer word. Beide dui op die bekragtiging van ´n voorafgaande daad of besluit. Derhalwe word ratificatio en ratihabitio in verskeie regswoordeboeke as sinonieme aangedui (Lewis & Short, 1969:1525; Black, 1979: 1135; Anon., 1992:292).
Roeleveld (1987:24) wyk van die algemene beskouing oor ratificatio en ratihabitio af. Hy is van mening dat die uitdrukkings ratihabitio en ratum habere ´n ruimer betekenis as ratificatio en ratum facere het. Ratificatio vorm volgens hom deel van ratihabitio.
Dit blyk dat daar oor die verhouding tussen ratificatio en ratihabitio in die sekulêre reg nie volkome eenstemmigheid bestaan nie. Die meeste regsgeleerdes beskou die twee begrippe as sinonieme. Een regskundige wie se bronne geraadpleeg is, beskou ratificatio as deel van ratihabitio. Op dié verskil word in hierdie verband nie verder ingegaan nie, aangesien dit buite die bestek van ´n Gereformeerd-kerkregtelike studie val. Daar word wel in die vervolg van die studie kerkregtelik met die onderskeie verhoudingsmoontlikhede rekening gehou.

2.1.1.3 Inhoud van ratificatio in die sekulêre reg
2.1.1.3.1 Inhoud van ratificatio in die gemene reg

In sy proefskrif wat oor die leerstuk van ratifikasie in die Suid-Afrikaanse verteenwoordigingsreg handel, gee S.R. van Jaarsveld (1971) ´n insiggewende oorsig oor die ontwikkeling en hantering van ratificatio in die gemene reg. Uit die proefskrif asook uit ander studies oor die onderwerp word verskeie gegewens aangehaal wat betrekking het op die regte verstaan van die historiese belading van ratificatio en hoe dit as vakterm geyk geraak het.
Die leerstuk van ratihabitio in die Romeinse reg is volgens Van Jaarsveld (1971:2) reeds baie oud. Hy stel dat daar in die Romeinse reg geen noemenswaardige verskil tussen ratihabitio en ratificatio bestaan nie (Van Jaarsveld, 1971:14). In die Romeinse regsgeskrifte het die wisselterme ratificatio en ratihabitio verskillende betekenisse, waaronder: bekragtiging, bevestiging, erkenning, latere wettiging of geldigverklaring (Van Jaarsveld, 1971:17). Die verskillende betekenisse is variante van die begrip goedkeuring.
Van Jaarsveld (1971:24) merk verder op dat ratihabitio en ratificatio onderskei word van die begrip confirmatio. Laasgenoemde dui op die bevestiging van regshandelinge. Ratihabitio en ratificatio dui in onderskeiding hiervan op verlening van terugwerkende regskrag.
Ratificatio is op verskillende terreine van die Romeinse reg toegepas. Met name in die verteenwoordigingsreg het dit die betekenis van verlening van terugwerkende regskrag.
Binne die verteenwoordigingsreg beteken ratihabitio (of ratificatio) dat ´n dominus die handeling van ´n procurator of gestor, wat laasgenoemde sonder opdrag of toestemming namens hom verrig het, bekragtig (Van Jaarsveld, 1971:26). Ratihabitio is die latere verlening van ontbrekende toestemming of magtiging, ´n eensydige daad van die kant van die dominus (Van Jaarsveld, 1971:26).
In die Romeinse reg het ratihabitio op een van twee maniere plaasgevind:
· deur stilswye (indien ´n dominus ´n regshandeling verrig in opvolging van regshandelinge wat reeds vroeër deur sy verteenwoordiger verrig is, kan sy latere handeling die bedoeling openbaar dat die voorafgaande handelinge van die verteenwoordiger sy goedkeuring wegdra. As sulks konstitueer sy latere handelinge ´n daad van ratihabitio) (Van Jaarsveld, 1971:78);
· deur ´n goedkeurende uitspraak (Van Jaarsveld, 1971:77).
· Oor die tydstip van ratihabitio het daar geen twyfel bestaan nie. Dit moet so gou moontlik na die verrigting van die verteenwoordiger se handeling plaasvind (Van Jaarsveld, 1971:79).
· Die belangrikste enkele gevolg van ratihabitio is dat die dominus volle verantwoordelikheid vir die regshandeling van die gestor aanvaar asof dit van meet af aan sy eie regshandeling was. Hy aanvaar derhalwe ook ten volle aanspreeklikheid vir die gevolge wat die regshandeling mag meebring (Van Jaarsveld, 1971:81). Om hierdie rede beteken ratihabitio die verlening van regskrag aan ´n voorafgaande handeling of besluit. Die verleende regskrag is terugwerkend van aard en wel vanaf die moment waarop die oorspronklike handeling deur die gestor verrig is (Van Jaarsveld, 1971:82).
· In die Romeins-Hollandse reg het die begrip ratihabitio oor die algemeen die betekenis van bekragtiging, bevestiging of goedkeuring van handelinge (Van Jaarsveld, 1971:94). Die afdwing van verpligtings wat uit ´n gestor se handelinge of besluite voortvloei, kan afhanklik gemaak word van die plaasvind van ratihabitio al dan nie (Van Jaarsveld, 1971:96).
· Ratihabitio in die Romeins-Hollandse reg geskied, net soos in die Romeinse reg, deur ´n uitspraak van die dominus of deur sy stilswye (Van Jaarsveld, 1971:114). Ratihabitio deur ´n uitspraak geskied wanneer duidelike woorde te dien effekte deur die dominus gebesig word (Van Jaarsveld, 1971:116). Stilswyende ratihabitio geskied by wyse van ´n opvolgende goedkeurende handeling deur die dominus. Byvoorbeeld: indien ´n vader sy seun se optrede nie goedkeur nie, moet hy dadelik sy afkeur te kenne gee. As die vader sou stilbly, word sy stilswye as goedkeuring aanvaar.
· Om aan te toon dat die begrip ratihabitio na 1581 - toe dit vir die eerste keer in die Gereformeerde kerkreg opgeneem is (vergelyk 2.1.2.1) - wesenlik onveranderd in die sekulêre reg hanteer is, word enkele tersaaklike opmerkings in die verband weergegee. Moontlike latere ontwikkelinge en verfynings van die begrip in die gemene (en in die statutêre) reg kan vir die toepassing daarvan in die Gereformeerde kerkreg eventueel gebruik word.
· In die Hollandse reg van die sewentiende en agtiende eeu kom die begrip “mandaat” saam met ratihabitio na vore (Van Jaarsveld, 1971:124). ´n Gestor ontvang volmag (mandaat) van die dominus om namens hom sekere regshandelinge te verrig. Wanneer die gestor in ooreenstemming met sy mandaat opgetree het, word dit deur die dominus bekragtig (ratihabitio) (1971:24). Sodoende verleen die dominus regsgeldigheid aan die handelinge van die gestor.
· Ook in die volkereg kom die begrip ratificatio voor. Besluite van verskillende volks-verteenwoordigers is nie geldig alvorens dit deur die betrokke state wat hulle verteenwoordig, bekragtig (geratifiseer) is nie (Roeleveld, 1987:24).

2.1.1.3.2 Inhoud van ratificatio in die statutêre reg

In die Duitse reg word daar onderskei tussen gebrekkige verteenwoordigingshandelinge ten aansien waarvan Genehmigung (ratihabitio) toegepas kan word en enige ander soort gebrekkige handeling ten aansien waarvan Bestätigung (confirmatio) aangewend kan word om sodoende die gebrek aan te suiwer. Genehmigung (ratihabitio) dui op die geldigmaking van ´n handeling wat sonder volmag verrig is (Van Jaarsveld, 1971:143).
Gedurende die negentiende eeu is daar in die Duitse reg drie teorieë ontwikkel om die verhouding tussen dominus en gestor te bepaal, te wete die Repräsentations-theorie, die Geschäftsherrn-theorie en die Vermittlungs-theorie. Die drie teorieë kom hierin ooreen dat die handelinge van die gestor deur die dominus geratifiseer moet word (Van Jaarsveld, 1971:238).
In die Duitse reg is dit moontlik dat ´n kontrak, wat deur ´n gestor namens ´n dominus gesluit is, voor ratificatio geldig kan wees. Dit is egter nie afdwingbaar solank dit nie geratifiseer is nie (Van Jaarsveld, 1971:239).
In die Nederlandse en Franse reg word ratificatio aangedui met die term bekragtiging. In besondere gevalle word ook gebruik gemaak van die begrippe “bevestiging” en “goedkeuring” as sinonieme van bekragtiging (Van Jaarsveld, 1971:190).
In die Suid-Afrikaanse reg word ratificatio - net soos in die ou Romeinse reg - beskou as die uitdruklike of stilswyende goedkeuring deur ´n dominus van òf ´n ongemagtigde verteenwoordigingshandeling òf ´n regshandeling wat die perke van die verleende volmag oorskry het, wat namens hom verrig is. Deur ratificatio word sodanige handeling met volle regskrag, terugwerkend vanaf die oomblik wat dit plaasgevind het, beklee (Van Jaarsveld, 1971:349).
In die Engelse reg beteken ratificatio eweneens dieselfde as in die ou Romeinse reg, naamlik die goedkeuring van ´n ongemagtigde verteenwoordigingshandeling deur ´n dominus (Van Jaarsveld, 1971:335). Die gevolg van ratificatio is dat ´n aanvanklik nie-geldige handeling ten volle regsgeldig word, asof magtiging daartoe aanvanklik verleen is.
Met betrekking tot die verhouding tussen dominus en gestor onderskei die Engelse reg twee moontlikhede (Van Jaarsveld, 1971:335):
· Die gestor tree as spreekbuis van die dominus op. Die dominus word as handelende party beskou wanneer daar met ´n derde gekontrakteer word.
· Die gestor tree selfstandig namens die dominus op. Die gestor bereik ´n wilsooreenstemming met die party met wie hy ten behoewe van die dominus kontrakteer.

2.1.1.4 Samevatting

Samevattend kan die volgende met betrekking tot ratificatio in die sekulêre reg gestel word:
· In die gemene reg bestaan daar volgens die meeste kundiges geen verskil tussen ratificatio en ratihabitio nie. Dit word as sinonieme terme beskou en gebruik. Onder die skrywers wat geraadpleeg is, is daar slegs een wat ratificatio as ´n onderdeel van ratihabitio beskou.
· Ratihabitio (of te wel ratificatio) is in die gemene reg ´n ou leerstuk, wat prominent in die verteenwoordigingsreg voorkom.
· Ratihabitio in die verteenwoordigingsreg het met die bekragtiging van ´n verteenwoordiger se regshandelinge deur ´n dominus te doen.
· Ratihabitio in die verteenwoordigingsreg beteken dat ´n regshandeling van ´n verteenwoordiger by nabaat bekragtig en sodoende geldig (ratum) gemaak (facere) word. In ´n uiterste geval kan dit ´n nie-geldige handeling van ´n verteenwoordiger geldig maak.
· Dit is moontlik dat ´n kontrak, wat deur ´n gestor namens ´n dominus gesluit is, voor ratificatio reeds geldig kan wees. Die geldige kontrak is egter nie afdwingbaar alvorens dit nie geratifiseer is nie.
· Die verhouding en onderlinge ooreenkoms wat tussen ´n dominus en sy verteenwoordiger bestaan, is grondliggend vir die hantering en toepassing van ratihabitio.
· Ratihabitio is ´n handeling van die dominus, waarop hy as lasgewer volle reg het.
· Ratihabitio geskied by wyse van stilswyende aanvaarding of goedkeuring deur ´n uitspraak.
· Ratihabitio moet so gou moontlik na die regshandeling(e) van die verteenwoordiger (gestor) geskied.
· Die effek van ratihabitio is dat ´n regshandeling van ´n verteenwoordiger regskrag verkry vanaf die oomblik dat dit plaasgevind het (met terugwerkende krag).
· Sonder ratihabitio ontbreek die regsgeldigheid aan die regshandeling van die verteenwoordiger. Dit beteken dat die dominus nie daardeur gebind word nie.

 

2.1.2 Ontstaan van ratifikasie in die Gereformeerde kerkreg

2.1.2.1 Ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg opgeneem

Ratihabitio, wat in die sekulêre reg oor die algemeen as ´n sinoniem van ratificatio beskou word (vergelyk 2.1.1.2), is ´n term wat vir die eerste keer formeel deur die Nasionale Sinode Middelburg 1581 in die woordeskat van die Gereformeerde kerkreg opgeneem is. Sedert 1581 kom die term ratihabitio in die kerkorde van die Gereformeerde kerke voor.
Die Latynse bewoording van artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde lui soos volg (Rutgers, 1889:384):
Si quis minoris conventus sententia se gravari queretur, ad superiorem erit provocatio. Quod vero plurium suffragiis erit probatum, id ratum habebitur, nisi verbo Dei, aut etiam articulis a Synodo generali constitutis, donec alia Synodo generali mutentur, adversari ostendatur.
Kersten (1961:127) gee ´n modern Nederlandse vertaling van die artikel:
Zo iemand zich beklaagt door de uitspraak der mindere vergadering verongelijkt te zijn, die zal hetzelve tot een meerdere beroepen mogen. En hetgeen, dat bij de meeste stemmen goedgevonden is, zal voor vast en bondig gehouden worden, tenzij dat het bewezen worde te strijden tegen het Woord Gods, of tegen de artikelen in onze Generale Synode besloten, zolang dezelve door geen andere Generale Synode veranderd zijn.
Die Latynse teks kan soos volg in Afrikaanse weergegee word:
As iemand ´n klagte het dat hy deur ´n besluit van ´n mindere vergadering verontreg word, sal beroep (moontlik) wees op ´n meerdere (vergadering). Wat deur die stemme van ´n meerderheid goedgekeur sal word, sal as geldig gehou word, tensy aangetoon word dat dit teen die Woord van God of ook teen die artikels wat deur ´n generale sinode bepaal is, ingaan, totdat dit gewysig word deur ´n ander generale sinode.
Artikel 23 van die 1581 Kerkorde bevat twee sinne. Die twee sinne vat twee afsonderlike artikels uit die Kerkorde wat deur die Sinode te Dordrecht in 1578 opgestel is, saam. Die betrokke twee artikels uit die Kerkorde van 1578 is:
· Artikel 19 (hoofstuk 2, artikel 4): “Zoo iemant hem beklaagt, dat hy door het oordeel der mindere Verzamelingen bezwaart is, die zal zyn zaake voor een meerdere mogen betrekken” (Hooijer, 1865:148).
· Artikel 23 (hoofstuk 2, artikel 8): “In allen zaken (altyd uitgenomen van welke wy een uitgedrukt Woord Gods hebben) als de stemmen naarstelyk gewogen zyn, zal men blyven by’t advis der meeste stemmen, om daarna te besluiten, ‘t welke een ieder schuldig zal zyn na te komen” (Hooijer, 1865:149).
Oor die eerste sin van artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde insake die reg tot appèl, wat ooreenkom met artikel 19 van die Dordtse Kerkorde 1578, word nie nou verder gehandel nie, aangesien dit buite die direkte skopus van hierdie studie val. Die bewoording van die tweede sin van artikel 23 uit die Middelburgse Kerkorde van 1581, asook die hele artikel 23 van die Dordtse Kerkorde van 1578 is relevant.
Tussen laasgenoemde twee artikels kan, wat die inhoud betref, hoofsaaklik drie verskille aangetoon word.
In die eerste plek merk Jansen (1923:146) op dat die spesifieke terminologie “uitgedrukte Woord Gods” van 1578 in 1581 vervang is met ´n meer algemene term: “Woord Gods”. Die rede hiervoor is dat talle besluite van ´n kerklike vergadering nie op grond van ´n bepaalde teks nie, maar op grond van ´n Skrifbeginsel geneem word. Die toevoeging “of tegen de artikelen in onze Generale Synode besloten, zolang dezelve door geen andere Generale Synode veranderd zijn” was noodsaaklik om die kerklike en konfessionele onverskilligheid van manne soos Coolhaes hok te slaan (Kamphuis, 1970:55). Sonder om die kerkorde op dieselfde vlak as Gods Woord te stel, word wel beklemtoon dat die orde wat die kerke onderling aanvaar het, bindend vir die kerklike lewe is, ook wat die besluitnemingsproses betref.
Hierdie verskil in bewoording is nie wesenlik nie. Beide artikels bring een en dieselfde skriftuurlike eis onder woorde. Die beginsel van 1578 het nie weggeval nie, dit is in 1581 slegs noukeuriger omskryf (Kamphuis, 1970:53).
Die tweede verskilpunt raak die uitdrukkings “als de stemmen naarstelyk gewogen zyn, zal men blyven by’t advis der meeste stemmen” en “om daarna te besluiten, ‘t welke een ieder schuldig zal zyn na te komen” uit die 1578 Kerkorde. Die advies van die meeste stemme en die daaropvolgende finale besluitneming waarvan 1578 melding maak, herinner aan die destydse gebruik van dubbel stemming (Deddens, 1946:11). Sedert 1581 word met een stemming volstaan.
Hierdie verskilpunt val buite die raamwerk van die studie en bly derhalwe verder buite beskouing.
Die derde verandering wat in die redaksie van 1581 aangebring is, is die sinsnede “zal voor vast en bondig gehouden worden”. Dit vervang die “schuldig zal zyn na te komen” van 1578. Die verandering raak die term ratihabitio (voor vast en bondig houden), wat hier vir die eerste keer in die Gereformeerde kerkorde voorkom.
· In die volgende paragraaf (2.1.2.2) sal ondersoek gedoen word na die herkoms van die term ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg. In ´n daaropvolgende paragraaf (2.1.2.3) sal vasgestel word wat die redes vir die invoering van die term was. Daarna sal die betekenis van die terme ratihabitio (2.1.2.4) en ratificatio (2.1.2.5) in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering sedert 1581 vasgestel word, en wat die verhouding tussen ratihabitio en ratificatio in die Gereformeerde kerkreg van die sestiende eeu was (2.1.2.6). Op grond van die verskillende bevindings sal uitgemaak kan word of die opname van ratihabitio in artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde ´n kerkregtelike Fremdkörper ten opsigte van die vorige kerkordes was, al dan nie (2.1.2.7).

2.1.2.2 Herkoms van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg
2.1.2.2.1 Herkoms van die saak

Die eerste vraag wat beantwoord moet word, is waar die saak van ratihabitio vandaan kom. Ten einde die vraag te beantwoord, word ´n kort ondersoek ingestel na die werk van die reformatore, die Gereformeerde belydenisskrifte en die praktyk van kerkregering van die sestiende eeu tot die jaar 1581 in soverre dit op die onderwerp betrekking het.

2.1.2.2.1.1 Ratihabitio by Luther en Calvyn
· Die eerste spore van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg word teruggevind by die reformatore van die sestiende eeu. Die bespreking van die reformatore se gedagtes in hierdie verband word beperk tot dié van Luther en Calvyn, aangesien hulle werk beduidende rigting gegee het aan die Gereformeerd-kerkregtelike ontwikkeling sedert die eerste helfte van die sestiende eeu.

· Luther (1483-1546)
· Maarten Luther se denke en optrede maak onder andere die weg oop vir ontwikkeling van kerkreg op die ou skriftuurlike grondslag (Van der Walt, 1976:100). Luther (1523b:225) het ´n afkeer van die rigoristiese en hiërargiese Roomse kanonieke reg gehad, alhoewel hy tog die invloed van die owerheid op die regering van die kerk toegelaat het (cuius regio, eius religio) (Van der Walt, 1976:104).
· Enkele insidente uit sy lewensverhaal is tekenend van die wyse waarop Luther sy afkeer van die hiërargiese stelsel van kerkregering te kenne gegee het.
· In 1519 raak hy in ´n twisgesprek tussen sy kollega Karlstadt en Johann van Eck betrokke (Lindsay, 1963:237-239; d’Assonville, 1992:104). Die gesprek handel oor die gesag van konsilies en die primaat van die pous (Luther, 1520a:130). Van Eck verdedig die Roomse standpunt dat die besluite van ´n konsilie wat wettig byeen is, aanvaar moet word, aangesien Christus met sy kerk bly tot aan die einde van die wêreld. Luther stel daarteenoor dat die biskop van Rome ´n feilbare mens is en konsilies eweneens uit mense met gebreke bestaan. Hy beroep hom op die reël van 1 Tessalonisense 5:21 - “Beproef alle dinge; behou die goeie” - en betoog dat pouslike uitsprake of besluite van konsilies nie bo daardie reël verhef mag word nie. Hy beroep hom ook op die uitspraak van Augustinus wat stel dat alle skrywers geoordeel moet word deur die Goddelike Skrif wat die grootste gesag het (Borchardt, 1988:330). Op grond van Johannes 10:4, 5 en 14 stel hy (1523b:225) dat die gemeente as skape van die hemelse Herder “das Recht hat, die Lehre zu beurteilen. Bischof, Papst, Gelehrte und jedermann hat Macht, zu lehren: aber die Schafe sollen urteilen, ob sie Christi Stimme oder der Fremden Stimme lehren”. Die slotsom waartoe Luther kom, is eenvoudig maar skerp: konsilies kan dwaal en die pous besit geen primaat van Christus nie (Van der Walt, 1976:101; Borchardt, 1988:326). Die gelowige, kragtens sy algemene priesterskap, moet aan die hand van die Bybel standpunt inneem en stel. Daardie standpunt mag alleen in die lig van die Skrif beoordeel word (Kuyper, 1936:3).
· In 1520 word Luther se “rewolusionêre” siening oor die mag van die pous indringend getoets. Die pous dreig hom met die banvloek (Lindsay, 1963:247). Luther moet binne sestig dae sy standpunte herroep. Boonop moet al sy boeke verbrand word (d’Assonville, 1992:104). Uiteindelik word hy verban. Uit sy reaksie op die verbanning blyk Luther se reformatoriese siening op die hiërargiese aanmatiging van gesag deur ampsdraers. Met opgaaf van redes verbrand hy die pouslike banbul en al die pouslike dekrete (Luther, 1520b:198-203; Lindsay, 1963:251).
· ´n Jaar later, in 1521, word hy gedaag om voor die keiser in Worms te verskyn (Lindsay, 1963:252; d’Assonville, 1992:105). Weereens weier hy om sy standpunte te herroep, wat tot gevolg het dat - benewens die kerklike ban - ook die ryksban oor hom en sy volgelinge uitgespreek word. In alles wat hy doen, laat Luther (1523a:205-223) gehoorsaamheid aan God swaarder weeg as gehoorsaamheid aan mense (Handelinge 4:19, 5:29). Hy handhaaf die gesag van die Skrif in die beoordeling van kerklike besluite. Besluite van ampsdraers, kerklik sowel as nie-kerklik, wat teen die uitsprake van die Skrif ingaan, het vir Luther geen bindende krag nie.

· Calvyn (1509-1564)
· Calvyn se gedagtes oor die ware Christokrasie in die kerk, asook die mag van kerklike vergaderings en die regsgeldigheid van hulle besluite, sluit by dié van Luther aan. Dit word net in ´n heelwat breër raamwerk en fyner besonderhede gestel. Calvyn se standpunte wat op die ratihabitio van kerklike besluite betrekking het, word duidelik in die vierde boek van sy Institusie weerspieël (1559a:163-235; 1559b:1430-1500).
· Calvyn stel as allesbeheersende uitgangspunt dat Christus alleen die Hoof en Hoeksteen van die kerk is (IV, 2, i; IV, 3, i; IV, 6, viii-x). Hierdie belydenis is bepalend vir sy omskrywing van die doel van die kerklike mag, naamlik dat dit sal dien tot opbou en nie tot afbreking van die kerk nie (IV, 8, i). Ampsdraers mag nooit méér as dienaars van Christus wees nie. Dienaars moet alles in hulle vermoë doen om “vir Christus sy gesag te bewaar” (IV, 8, i). Christus, as die enigste Meester van sy kerk, moet as enigste Koning erken word. Die kerk moet deur een wet regeer word: “die wet van vryheid, naamlik die heilige Woord van die evangelie” (IV, 10, i).
· Die gesag wat Christus oor sy kerk voer, dra Hy nie aan mense oor nie, maar “verleen Hy ten volle aan die amp waarin Hy die mense stel” (IV, 8, ii). Om dit korter te stel: die Woord wat bedien moet word, het gesag. Ampsdraers kan op geen ander gesag aanspraak maak buiten die gesag wat hulle kragtens die Woord ontvang nie (IV, 8, ii). Die mag van die ampsdraers is dus nie onbegrens nie. Inteendeel, “dit is aan die Here se Woord ondergeskik en as’t ware daarin ingesluit” (IV, 8, iv). Die kerk mag aan geen ander diensbaarheid onderwerp en deur geen ander bande vasgesnoer word, as die diensbaarheid aan en die bande van Christus nie (IV, 10, i). Bowendien doen Christus geen afstand van sy gesag as Hy dit deur ampsdraers laat bedien nie. Dit is dan ook die reg van Christus dat Hy die Voorsitter van alle konsilies is. Christus ís Voorsitter “wanneer die hele vergadering deur sy Woord en Gees regeer word” (IV, 9, i).
· In die lig hiervan beoordeel Calvyn Rome se aanspraak op die onfeilbaarheid van hulle konsilies. Hy bevraagteken die Roomse pretensie dat dit wat die konsilie goedkeur ook “sonder enige twyfel”, dit wil sê ongetoets, deur die lidmate aanvaar moet word; en dat, indien die konsilies iets verdoem, dit ook sonder enige toetsing deur die lidmate as verdoem beskou moet word (IV, 8, x). In sy kommentaar op Handelinge 15:28 spreek Calvyn (1977:149-150) hom soos volg oor die gesagsaanmatiging van Rome uit: “Hoe dwaas zijn dus de papisten, die uit deze woorden (want die Heilige Gees en ons het besluit - GJM) willen bewijzen, dat er bij de kerk eenig eigen gezag berust; ja zij zijn met zichzelven in openlijken strijd. Want onder welk voorwendsel kunnen zij beweren, dat de kerk niet dwalen kan dan dat zij onmiddellijk door den Heiligen Geest bestuurd wordt? Daarom beroemen zij zich met grooten mond dat het ingevingen des Geestes zijn, wat wij beweren dat hunne uitvindsels zijn. Trotschelijk leggen zij daarom al den nadruk op het partikel: het heeft ons goedgedacht. Want indien de Apostelen iets besloten hebben, los van den Heiligen Geest, valt terstond hunne eerste grondstelling, dat de concilien niet besluiten, dan wat hun door den Heiligen Geest ingegeven is”.
· Met bogenoemde bevraagtekening van Rome se Skrifverklaring wil Calvyn geen wanorde in die kerk van Christus skep nie. Hy stel uitdruklik dat dit iemand nie vrystaan om na eie goeddunke besluite van konsilies aan te neem of “´n streep deur hulle te trek” nie (Institusie, IV, 9, viii). Wat wél moet gebeur, is dat konsiliebesluite sorgvuldig geweeg en volgens die reël van die Skrif ondersoek moet word. Die besluit van die konsilie moet as’t ware ´n “voorlopige” (1559a:187), ´n “voorwaardelike” (1559b:1454) oordeel wees; die ondersoek van die besluit mag nie verhinder word nie (IV, 9, viii). “Op die weegskaal van die Woord” moet alle menslike wette geweeg word, sodat daar nie gedwaal word nie (IV, 10, viii).
· Na aanleiding hiervan kom Borchardt (1988:333) tot ´n slotsom: “Almal moet steeds bewus wees van hul swakheid en daarom noukeurig binne die perke van Gods Woord hou. Want almal bely saam met Paulus dat hulle nog nie die eindpunt bereik het nie (Filippense 3:12)”.
· ´n Ander beginsel wat eksplisiet deur Calvyn beklemtoon word, is die selfstandigheid van die plaaslike kerk (d’Assonville, 1992:119). Teenoor die hiërargiese stelsel van Rome formuleer Calvyn ooreenkomstig die Skrif die beginsel dat die ampte in die plaaslike kerk moet funksioneer tot opbou van die liggaam van Christus (IV, 3-6). Op grond van Romeine 12:8 stel Calvyn dat “elke kerk van die begin af sy eie vergadering gehad het” wat “oor die regsbevoegdheid beskik het om oortredings in die gemeente reg te stel” (IV, 3, viii; IV, 4, vi).
· Bucer (1491-1551), kerkhervormer van Straatsburg, ondersteun Calvyn in hierdie opsig. Bucer bepleit kerkreg as reg van die gemeente, pastorale reg. “Elke willekeurige kerk van Christus heeft de totale Christus, en met Hem alles wat door de Vader ons met Hem geschonken is. Daarin ligt de bron van het kerkelijk recht en van het kerkelijk gezag” (Van’t Spijker, 1972:25).
· In teenstelling met Luther toon Calvyn aan dat die regering van die kerk en die regering van die burgerlike owerheid in beginsel onderskei moet word (III, 19, xv). Die burgerlike owerhede mag hulle nie inmeng met die regering van die kerk nie, en die kerk mag sy regering nie aan die burgerlike owerhede toevertrou nie.

Samevatting
Luther en Calvyn het, wat die kerkreg betref, op sekere punte van mekaar verskil. Hulle uiteenlopende gedagtes oor die taak van die burgerlike owerheid ten opsigte van die kerk loop selfs op verskillende kerkregeringstelsels uit. Tog vul hulle mekaar oor die onderwerp in bespreking aan en stem hulle op bepaalde punte wesenlik ooreen.
Die verskillende gedagtes van die reformatore kan samevattend soos volg weergegee word:
· Christus is die enigste Koning van sy kerk.
· Die kerk van Christus word plaaslik vergader en regeer.
· Die plaaslike kerk is selfstandig en smelt nie saam met ander plaaslike kerke in ´n groter kerkformasie op, wat - soos by Rome - finale gesag uitoefen nie.
· Christus laat sy gesag in die plaaslike kerke deur ampsdraers bedien.
· Ampsdraers in die plaaslike kerk word deur Christus geroep en verantwoordelik gehou vir die regering van die kerk.
· Ampsdraers staan in diens van Christus en het in onderdanigheid aan Hom gesag.
· In soverre ampsdraers in diens van Christus staan, tree hulle met gesag op en is hulle besluite bindend.
· Buite hulle diens aan Christus in onderwerping aan sy Woord het ampsdraers geen gesag nie.
· Plaaslike kerke, wat in meerdere kerklike vergaderings byeenkom, is bevoeg om - ooreenkomstig die Woord van God - besluite te neem.
· Mense met gebreke kom in kerklike vergaderings byeen. Daarom moet al hulle besluite ooreenkomstig die reël van 1 Tessalonisense 5:21 aan die norm van die Woord getoets word.
· ´n Besluit van ´n meerdere kerklike vergadering is as’t ware ´n voorlopige oordeel, wat aan die Woord getoets moet word.
· Besluite wat die toets van die Woord nie kan deurstaan nie, is ongeldig en nie bindend nie: gehoorsaamheid aan God weeg altyd swaarder as gehoorsaamheid aan mense (Handelinge 4:19, 5:29).
· Dit staan niemand vry om na eie goeddunke besluite van kerklike vergaderings te aanvaar of te verwerp nie, want sodoende sou hulle die eenheid van die kerk aantas.

2.1.2.2.1.2 Ratihabitio in die Gereformeerde belydenisskrifte

· Die skriftuurlike basis van die kerkregering, wat deur die reformatore opnuut ontdek en verkondig is, is met verloop van jare deur die Gereformeerde kerke in hulle belydenisskrifte veranker. Veral die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), wat deur Guido de Brès in 1561 opgestel en in 1571 as belydenisskrif deur die Gereformeerde kerke aanvaar is (Noordzij, 1994:17, 18), is ´n duidelike weerspieëling van die reformatore se Gereformeerd-kerkregtelike denke.
· Dat Christus die enigste Koning van sy kerk is, is die allesbeheersende beginsel van artikels 27 tot 32 van die NGB. In artikel 27 NGB word bely dat Christus ´n “ewige Koning” is. In artikel 29 NGB word Jesus Christus as die “enigste Hoof” van die kerk erken. Artikel 31 NGB sluit daarby aan deur na Christus as die “enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk” te verwys. In artikel 32 NGB word Christus die “enigste Meester” van die kerk genoem. Die verskillende artikels beklemtoon twee Skrifbeginsels: dat Christus Kóning van sy kerk is, en dat Hy alléén Koning van sy kerk is.
· Dat die kerk van Christus plaaslik vergader word en dat die plaaslike kerk selfstandig is en nie saam met ander plaaslike kerke in ´n groter, meer gesaghebbende kerkformasie opsmelt (soos by Rome die geval is) nie, word bely in artikels 27 tot 29 NGB. In artikel 27 NGB word bely dat die kerk van Christus “nie gebonde is aan of bepaal is tot ´n sekere plek of persone nie, maar dat dit oor die hele wêreld versprei en verstrooi” is. Hieruit volg dat die algemene Christelike kerk op verskillende plekke (dit is: plaaslik) dwarsoor die wêreld deur Christus vergader word (vergelyk Schilder, 1977:87; Van Bruggen, 1980:134). Die plaaslikheid van die kerk word verder bely in artikel 28 NGB: “Almal is verplig om by die ware kerk aan te sluit en hulle daarmee te verenig”. Alhoewel die term “plaaslike kerk” nie in artikel 28 NGB voorkom nie, word dit as vanselfsprekend veronderstel, aangesien dit nie moontlik is om as lede by ´n onsigbare, nie-plaaslike liggaam aan te sluit en daarmee te verenig nie (vergelyk Schilder, 1977:91; Van Bruggen, 1980:142). Net so vooronderstel artikel 29 NGB dat Christus sy kerk plaaslik vergader. Die Woord, sakramente en tug word bedien waar die gelowiges hulle ooreenkomstig die bevel van Christus op ´n bepaalde plek (artikel 27 NGB) onder toesig van sy ampsdraers (artikel 30 NGB) aansluit en verenig (artikel 28 NGB).
· Die bediening van Christus se koningskap in die plaaslike kerke deur ampsdraers en die taak van die ampsdraers om in die Naam van Christus oor die kerk te regeer, kom na vore in artikel 30 NGB. Die ware kerk “moet ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse” regeer word. “Daar moet naamlik dienaars, ouderlinge en diakens wees ... om die kerkraad te vorm.”
· Die verhouding tussen ampsdraers en Christus (die enigste Gesaghebber), asook die verhouding tussen ampsdraers onderling word in artikel 31 NGB bely. Bedienaars van die Woord (en in gelyke mate alle ander ampsdraers) het almal “een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is”.
· In soverre ampsdraers in diens van Christus staan, tree hulle met gesag op. Elke lidmaat moet “vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting hê ter wille van die werk wat hulle doen” (artikel 31 NGB).
· Dit staan iemand nie vry om na eie goeddunke besluite van ampsdraers (en ook kerklike vergaderings) te aanvaar of te verwerp nie. Dit “wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou, moet aanvaar word” (artikel 32 NGB).
· Buite hulle diens aan Christus, in onderwerping aan sy Woord, het ampsdraers egter geen gesag nie. Inteendeel, “alle menslike versinsels en alle wette wat mense wil invoer om die gewetens daardeur te bind en te dwing, moet verwerp word” (artikel 32 NGB).
· Besluite van kerklike vergaderings wat die toets van die Woord nie kan deurstaan nie, is ongeldig en nie bindend nie. Geen geskrifte van mense of besluite van kerkvergaderings mag met die waarheid (Woord) van God gelykgestel word nie, want die waarheid is bo alles (artikel 7 NGB). Vraag en antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus (HK) lê eweneens besondere klem op die heerskappy van Gods Woord in die kerk: die Seun van God vergader, beskerm en onderhou sy kerk “deur sy Gees en Woord”. Dienooreenkomstig word in die “Besluit” van die Dordtse Leerreëls gestel dat bedienaars van die Woord “hulle moet weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars ´n gegronde rede gee om die leer van die Gereformeerde Kerke sleg te maak of te belaster”. Alhoewel die Dordtse Leerreëls etlike jare na 1581 opgestel is, is dit duidelik dat die beginsel wat daarin uitgespreek word, dieselfde is as dié in die ander twee belydenisskrifte.
· Burgerlike owerhede mag nie met die regering van die kerk inmeng nie, ook nie met die kerk se besluitnemingsproses nie. Alhoewel dit die taak van die owerhede is “om die heilige Woordbediening te beskerm” (artikel 36 NGB), is dit die taak van die ampsdraers in die plaaslike kerk om die kerk te regeer (artikel 30 NGB) en om sodoende die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder (artikel 36 NGB). Oor die vraagstuk of die kerke in artikel 36 NGB nie juis bely dat owerhede afgodery en valse godsdiens moet teengaan en uitroei nie (vergelyk Polman, s.j.b.:290-306), het die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1979 na aanleiding van ´n beswaarskrif (GKSA, 1973:191-193) die korrekte bedoeling van die artikel bevestig (GKSA, 1979:478). Die Franse teks van die NGB maak dit duidelik dat dit die owerhede se taak is om die heilige Woordbediening (die kerk) te beskerm, sódat (Frans: pour) die kerk deur die Woordbediening alle afgodery en valse godsdiens sal kan teengaan en uitroei.

Ratihabitio in die Gereformeerde belydenisskrifte kan kortliks soos volg saamgevat word:
· Christus alleen is Koning van sy kerk. Aan sy alleen-heerskappy is en moet alles in die kerk onderwerp word.
· Die kerk word deur Christus plaaslik vergader en regeer.
· Besluite van kerklike vergaderings wat eendrag en eenheid in die waarheid bevorder, moet aanvaar en in gehoorsaamheid aan God onderhou word.
· Besluite wat nie eendrag en eenheid in die waarheid bevorder nie (dit wil sê: menslike versinsels en wette wat mense wil invoer om die gewetens daardeur te bind en te dwing), mag nie aanvaar word nie, maar moet in gehoorsaamheid aan God verwerp word.
· Burgerlike owerhede mag nie met die besluitnemingsproses van kerklike vergaderings en die daaropvolgende aanvaarding of verwerping van besluite deur die kerke inmeng nie.

2.1.2.2.1.3 Ratihabitio in die praktyk van kerkregering voor 1581

· Die feit dat die Gereformeerde kerke kort na die begin van die reformasie nog geen kerkorde gehad het nie, het nie beteken dat sake in die kerke op onordelike en willekeurige wyse hanteer is nie. Hovius (1962:12, 13) toon aan dat die bestaande belydenisskrifte as formuliere van eenheid en sodoende tegelyk as gemeen akkoord vir die kerklike lewe gedien het. Die belydenis insake die kerkregering, soos verwoord in die NGB, het as beginsel vir die kerke se kerkregtelike optrede gegeld. So het daar vanuit die belydenis ´n kerkregtelike praktyk ontstaan wat enkele jare later in ´n kerkorde geyk is.
· Hovius (1962:10) kom tot die gevolgtrekking dat die grondreëls van die belydenis tegelyk die sleutelartikels van die kerkorde is. Hierdie gevolgtrekking word ondersteun deur Kamphuis (1966:154), wat daarop wys dat die Gereformeerde kerkorde in die Gereformeerde belydenis rus. Die praktyk van kerkregering vorm die skakel tussen die reeds bestaande belydenis en die, in daardie stadium, nog komende kerkorde. Met betrekking tot die onderwerp lewer die wyse waarop die kerke tussen 1571 en 1581 met besluite van meerdere vergaderings te werk gegaan het, belangrike gegewens op.
· 1571
· Die eerste amptelike sinode wat die Gereformeerde kerke in die Nederlande belê het, was die Synode onder het kruis gehouden te Emden 1571 (Hooijer, 1865:54; Noordzij, 1994:16). Tydens daardie sinode is die artikels van die Konvent van Wesel, wat nie die regskrag van ´n kerkorde gehad het nie (Roeleveld, 1972a:48), breedvoerig bespreek en verfyn. Die eindproduk van die indringende besprekings was ´n (eerste) kerkorde wat wel regskrag gehad het. Nauta (1961:55) beskryf die vooruitgang wat vanaf die Weselse Konvent na die Sinode van Emden ingetree het, deur daarop te wys dat Wesel reël hoe Gereformeerde kerke plaaslik ingerig behoort te word, terwyl Emden nadruk lê op hoe die verband tussen plaaslike kerke gereël moet word. Vir die funksionering van die kerkverband het Emden die Franse Kerkorde as voorbeeld gebruik, waarin die invloed van Calvyn duidelik merkbaar is (Nauta, 1961:56).
· Twee sleutelartikels van die acta van die Emdense Sinode is die eerste artikel, wat die gelykheid van die ampte bepaal, en die slotartikel wat soos volg lui: “Deze Articulen de wettelyke ende behoorlyke order der Kerken betreffende, zyn alzoo met gemein accoort gestelt, datse (zoo ’t de nuttigheid der Kerken vereischt) verandert, vermeerdert ende vermindert mogen ende behoren te worden. Nochtans zal ‘t geen byzondere Kerke vry staan, zulks te doen: maar alle Kerken zullen arbeiden deze te onderhouden, tot dat in een Synodale vergadering anders besloten wordt”. Laasgenoemde artikel sny independente kerklike optrede by die wortel af (Bremmer, 1984:74). Dit onderstreep ook die geldigheid van die kerkorde artikels wat tydens die sinode vasgestel is (Hooijer, 1865:75).
· Die slotartikel van die Emdense Sinode, wat die basis vir artikel 86 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vorm, berus op verskeie uitsprake in die belydenis.
· In die eerste plek word ooreenkomstig artikels 27 en 32 NGB belowe dat die kerke wat hulle in die sinode tot die kerkverband verbind het, hulleself ook aan die kerkorde bind wat deur die kerkverband in die sinode vasgestel is.
· In die tweede plek word daar ooreenkomstig dieselfde artikel 32 NGB asook artikel 7 NGB met name bygevoeg dat die Kerkorde van Emden nie beskou moet word as die alfa en die omega nie. Daar is ruimte vir verandering, vir vermeerdering en vermindering, soos dit nodig blyk te wees. Die veranderings wat aangebring behoort te word, mag egter nie deur ´n individuele kerk gedoen word nie. Daaroor moet die kerke gesamentlik in ´n volgende sinode besin en besluit.
· Nadat die Sinode van Emden verdaag het, het die kerke gehoor gegee aan die oproep wat van die sinode uitgegaan het. Op grond van die gemeenskaplike belydenis dat die kerk plaaslik vergader (artikel 28 NGB) en regeer word (artikel 30 NGB), het die plaaslike kerke dit as hulle plig geag om die sinodale besluite eers aan die norm van Gods Woord te toets (artikels 7 en 32 NGB) alvorens dit in die kerklike lewe toegepas word. Lohman en Rutgers (1887:199) vermeld dat dit wat te Emden vasgestel is, eers nog ´n keer in klassisse deur die kerke selfstandig aangeneem is alvorens dit in praktyk deurgevoer word. So het die Cuelsscher Gemeynten aanvanklik besluit om die artikels van die Emdense Sinode nie te onderskryf nie (Lohman & Rutgers, 1887:200).
· Mindere vergaderings het die besluite van meerdere vergaderings na toetsing aan die Skrif òf vir hulle rekening geneem òf nie as hulle eie aanvaar nie.
· 1574
· Die Klassis Dordrecht van 20 April 1574 neem twee en ´n half jaar na die Emdense Sinode die volgende besluit: “De broederen hebben bewilliget dat men indese bijkomst alle handelingen sal verrichten na den Embdischen Synodo” (Deddens, s.j.:51). Later in 1574, op die derde Augustus, vergader die kerke in die Klassis Dordrecht andermaal. Hierdie keer dien die handelinge van die Provinsiale Sinode, wat vanaf 16 tot 28 Junie 1574 in hulle stad gehou is, op die agenda (Hooijer, 1865:97). Die Provinsiale Sinode Dordrecht 1574 het ´n besluit geneem wat amper woordeliks ooreenkom met die slotbesluit van die Emdense Sinode. Die laaste artikel in die handelinge maak weer ´n appèl op die kerke om die besluite van die sinode as hulle eie besluite te beskou en uit te voer (Hooijer, 1865:109).
· Die Klassis Dordrecht het ooreenkomstig die sinodale besluit opgetree deur die volgende te beslis: “Sijn ghelesen die Acta des Dordraceensen Synodi ende besloten eendrachtelick by den broederen die sellighe een ijder in sijn Kerck int werk testellen” (Deddens, s.j.:51). Deur die handelinge van die sinode te lees, neem die klassis welbewus kennis van dit wat op die meerdere vergadering besluit is. Daarby bly dit egter nie. Vervolgens word daar eendragtig besluit dat die gelese en aanvaarde besluite van die sinode in elke kerk binne die ressort van die klassis in werking gestel sal word.
· 1578
· Nie net kerkrade en klassisse het daartoe oorgegaan om die besluite en artikels van meerdere vergaderings te toets nie. Voor die byeenkoms van die kerke in die Nasionale Sinode te Dordrecht in Junie 1578, vergader die Provinsiale Sinode Noord-Holland vanaf 7 April in dieselfde jaar. Dié sinode besluit dat elke klassis in sy ressort die artikels van die Sinodes van Emden 1571 en Dordrecht 1574 asook die artikels van voorgaande provinsiaal sinodale vergaderings moet lees om na te gaan “wat men van dyen sal connen aennemen oft nyet ende daer syne redenen by verclaeren met oyck alsulcke particuliere zwaericheden, die een yegelyck in zyn classe scriftelyck sal aenteyckenen” (Ketel, 1948:113). Daar is verder besluit om die tyd van die volgende provinsiale sinode uit te stel, sodat die besluite van die komende nasionale sinode ook onder oë geneem kan word.
· Ooreenkomstig die oproep van die Provinsiale Sinode Noord-Holland is die artikels van die nasionale sinodes wat reeds gehou is deur die klassisse in Noord-Holland nagegaan, ook dié van die Dordtse Sinode wat in Junie 1578 vergader het. Op 15 September 1578 vergader die Provinsiale Sinode Noord-Holland opnuut. Die bevindinge wat oor die verskillende acta gemaak is, is deurgaans positief: “Item zyn alhier in tegenwoerdicheyt der broederen alle die articulen des voergeruerden nationalen synodi Dordracensis gelesen ende wel aengemerckt” (Deddens, s.j.:51). Tog is daar nie oor alles saamgestem nie. Dit blyk uit die volgende aanhalings uit die acta: “Het ´negende artyckel desselfden nationalis synodi is duyster ende incorrect’. Aan het ‘elfste artyckel’ wil men ´nyet gebonden en zijn’, het negentiende wordt geaccepteerd, bij het negende de belofte geplaatst dat men dit zooveel mogelijk zal trachten na te komen” (Ketel, 1948:113). Tenslotte word vasgestel “met malcanderen in alle die articulen te verwilligen behoudens de uitzondering die in veel articulen worden gestelt” (Ketel, 1948:113). Daar word verder “besloten dat zy (die broeders wat na die provinsiale sinode afgevaardig is - GJM) in alles deselfde gelyck met malcanderen verwilligen ende dieselfde voer goet aennemen ende altesamen ende elcx beloeft diezelfde nae haere vermoegen int werck te stellen” (Deddens, s.j.:51). Deur die Provinsiale Sinode Noord-Holland word bevestig dat wettige besluite van meerdere vergaderings in werking gestel word. Daarbenewens word geoordeel dat sekere besluite en artikels van meer as een meerdere vergadering nie vir vas en bindend gehou word nie.
· Die Provinsiale Sinode Gelderland van 1579 het ongeveer ´n jaar later, op 20 Augustus, eweneens die handelinge van die Nasionale Sinode Dordrecht 1578 ter tafel geneem. Uit die handelinge van daardie provinsiale sinode blyk wat hulle met die nasionale sinode se besluite gedoen het: “Seijndt voorgelesen die articulen, die in Junio anno 1578 toe Dordrecht verordenet und opgericht seijnn, die welcke alle kerckendienaeren und ouderlingen die tegenwoordich geweest, voor recht und der H. Schrift gelijkvormich te sijn bekant hebben; hebben oock insgelijcken vrijwilligh toesaemen onderschreven” (Deddens, s.j.:51).
· Die Klassis Dordrecht van 5 Julie 1578 het enkele weke na die afsluiting van die Nasionale Sinode Dordrecht 1578 soos volg met die handelinge te werk gegaan: “Acta Synodi Nationalis ghelesen hebbende ende omghevraecht sijnde offse alle teghenwoordige dienaren voor goet kenden ende begeerden te onderteekenen, antwoorden jae ende hebbent gedaen” (Deddens, s.j.:51).
· Daar moet gestel word dat die beskouing en optrede wat hierbo kortliks weergegee is, nie geïsoleerd, gedeeltelik of slegs tydelik voorgekom het nie. In al die verskillende provinsies van die Nederlande is daar op hierdie manier te werk gegaan. Alle besluite van meerdere vergaderings is aan dieselfde wyse van toetsing onderwerp. Kerkorde artikels, sowel as konsep-belydenisskrifte en ander besluite wat deur die verskillende sinodes geneem is, is getoets. Die patroon van goedkeuring het in die vroeë 1570’s posgevat. Dit is voortgesit tot en met 1620 (vergelyk 5.2.2.1).

Kommentaar
In sy rede oor die geldigheid van die ou kerkordes wys Rutgers daarop hoe die Gereformeerde kerke in die vroeë 1570’s die Kerkorde van Emden bejeën het. Volgens Rutgers (1971:12) is die artikels van die Emdense Kerkorde “niet als een voorstel, waarover nu door anderen zou moeten beslist worden; niet als een ontwerp, welks definitieve vaststelling nog van iemands goedkeuring zou afhankelijk zijn” opgestel nie. Die artikels van die kerkorde was van meet af aan “Synodale besluiten, die dus als zoodanig zooveel mogelijk moesten gevolgd worden; als een samenstel van regelingen, waarnaar nu vervolgens het kerkelijk leven zou zijn in te richten”. Die kerke wat by wyse van hulle afgevaardigdes gehelp het om die kerkorde op te stel, en - waar nodig - te wysig, is aan en deur dié orde gebind (Rutgers, 1971:23). Die binding het egter nie beteken dat die plaaslike kerkrade, deur wie Christus oor sy kerk regeer (Rutgers, 1971:18), direk voortgegaan het om die Emdense Kerkorde klakkeloos in die kerklike lewe toe te pas nie. Dit was naamlik die gewoonte van die kerke om die vasgestelde kerkorde nog ´n keer in ´n mindere vergadering aan te neem alvorens dit toegepas word: “De reeds vastgestelde ordening werd dan als het ware geratificeerd, juist door hen die de lastgevers der Synode geweest waren” (Rutgers, 1971:24). Op die oog af, aldus Rutgers, was dit oorbodig en selfs vreemd om so te werk te gaan. Besluite word deur ´n meerdere vergadering geneem en na die tyd deur mindere vergaderings oor en oor bespreek, asof dit nie reeds volwaardige besluite is nie. By nadere insien was dié werkwyse egter besonder doeltreffend. Sodoende kon die algemene akkoord van en tussen die samewerkende kerke des te beter blyk. Die optrede van die verskillende mindere vergaderings het tot ware eensgesindheid in die kerklike lewe bygedra (Rutgers, 1971:24). Verder is daar vir enige vorm van menseheerskappy in die kerk geen ruimte gelaat nie (Rutgers, 1971:44).
Laasgenoemde optrede van die mindere vergaderings moet derhalwe nie as eiesinnig of independentisties geïnterpreteer word nie (vergelyk Rutgers, 1971:42; Du Plooy, 1982:364, 365, 419). Daar was ruimte om sake te bespreek en ondersoek, “maar binnen zekere grenzen, en regelmaat zonder formalisme. Er kon vrijheid zijn, zonder dat die vrijheid op losbandigheid en willekeur uitliep” (Rutgers, 1971:43). Die suiwer verhouding tussen die selfstandigheid van die plaaslike kerk en die belewing van kerkverband is voortdurend nagestreef.
As die Provinsiale Sinode Friesland in die lig van bogenoemde oordeel om weens grondige redes nie ´n besluit van die Nasionale Sinode Dordrecht te aanvaar nie, is dit nie deur die ander kerke as rewolusionêre optrede beskou wat onmiddellik of onvermydelik tot verbreking van die kerkverband lei nie. “Nooit werden de kerken behoorende tot deze vergadering (die Provinsiale Sinode Friesland - GJM) buiten het verband geplaatst. De Provinciale Synode Zuid-Holland hield er zelfs rekening mee” (Ketel, 1948:114). In hulle formulier van eenheid (artikels 7 en 32 van die NGB) sowel as in die kerkorde (artikel 31) het die kerke met mekaar afgespreek om besluite van kerklike vergaderings, wat die toets van die Woord nie slaag nie, nie as bindend te aanvaar nie (vergelyk Rutgers, 1971:43). Daardie afspraak is in die praktyk van die kerkregering toegepas. Uiteraard kon die provinsiale sinode die besluite van die nasionale sinode nie eensydig en sonder verdere optrede langs hom neerlê nie. Daaroor is die slotartikel van Emden 1571, wat eweneens in die belydenis rus, duidelik genoeg.
Ketel (1948:114) kom tot die konklusie dat die kerke in die Noordelike Nederlande aanvanklik sterker gebind was aan die “tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord” van artikel 23 Middelburgse Kerkorde, as aan die “vir vas en bindend hou” van die besluite van meerdere vergaderings. “Het eerste was het wachtwoord voor het tweede, en het (besluit - GJM) werd dan ook niet ‘doorgelaten’ in de kerkelijke samenleving wanneer het dit wachtwoord niet kende” (Ketel, 1948:114).

Samevatting
Uit die beskrywing van die kerke se hantering van besluite van meerdere vergaderings word dit duidelik dat - ooreenkomstig die belydenis, wat as gemeen akkoord gedien het - ´n reeks opeenvolgende aksies plaasgevind het voordat ´n sinodebesluit in die verskillende plaaslike Gereformeerde kerke toegepas is. Die aksies kan soos volg onderskei word:
· Die acta van ´n meerdere vergadering dien op die agenda van ´n mindere vergadering.
· Die mindere vergadering lees die acta van die meerdere vergadering deur.
· Nadat die acta gelees is, word die verskillende artikels en besluite sorgvuldig getoets aan die norm van God se Woord.
· Wanneer ´n spesifieke besluit of artikel aan die norme van die Skrif gemeet is, word elke lid van die vergadering afsonderlik gevra of dit in alles daarmee ooreenkom.
· Indien die hele vergadering eenstemmig is dat die besluit in alles met die Woord van God ooreenkom, word die besluit geapprobeer, goedgekeur.
· Goedgekeurde besluite word eenparig deur die vergadering as hulle eie aanvaar.
· Besluite wat mondeling aanvaar is, word ook met die daad aanvaar deur dit te onderteken. Laasgenoemde geld in besonder waar die belydenisskrifte en die kerkorde bekragtig moes word.
· Goedgekeurde, aanvaarde en ondertekende besluite word as bindend beskou.
· Oor bindende besluite word eenparig geoordeel dat hulle uitgevoer moet word.
· Indien die vergadering na toetsing oordeel dat ´n besluit van die meerdere vergadering nie met God se Woord ooreenstem nie, word dit nie bekragtig nie.
· Besluite wat nie bekragtig kan word nie, word nie aanvaar en onderteken nie. Sulke besluite is nie bindend nie en word gevolglik ook nie uitgevoer nie.
· In sulke gevalle is die kerke ooreenkomstig die slotartikel van die kerkorde verplig om vir regstelling van die sinodebesluit te vra.

2.1.2.2.1.4 Ratihabitio: ´n skriftuurlike beginsel en praktyk

Dit blyk dat die beginsel van ratihabitio eerstens bely en uitgedra is deur die reformatore. Hulle gedagtes het neerslag in die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus gevind, wat sedert 1571 offisieel as gemeen akkoord van die Gereformeerde kerke gegeld het.
Vanaf 1571 is ratihabitio in ooreenstemming met die belydenis in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering toegepas, alhoewel die term nog nie in die kerkorde opgeneem was nie. Die volgende dien ter motivering vir laasgenoemde bevinding.
Christus is die enigste Koning van sy kerk
Teenoor die Roomse hiërargie, in besonder die primaatskap van die pous, het die reformatore op die Skrifbeginsel gestaan dat Christus alleen die Koning van die kerk is. Alleen sy Woord is wet. Mensewoorde moet altyd buig voor die Woord van die Koning. In die NGB (artikels 27, 29, 31 en 32) word die Christokrasie herhaaldelik beklemtoon en as allesbeheersende beginsel bely. Die belydenis dat Christus die kerk deur sy Woord en Gees regeer (artikel 7 NGB; antwoord 54 HK), is grondliggend aan die wese van ratihabitio. Besluite van kerklike vergaderings sal as geldig gehou word (ratum habebitur), tensy dit met die Woord van die Koning in stryd is. Indien ´n besluit nie met die wil van die Koning ooreenkom nie, is dit vir geen oomblik geldig nie. Christus het deur sy Woord die eerste en laaste en enigste seggenskap in die kerk.

Die kerk van Christus word plaaslik vergader en regeer
Teenoor die kerkbegrip van Rome, waarvolgens ´n gesentraliseerde hoër mag (pous en konsilies) die kerk van bo af tot op grondvlak bestuur, stel die reformatore die Skrifbeginsel dat Christus sy kerk plaaslik vergader en regeer. Hierdie beginsel word in die NGB prominent bely. In artikels 30 en 31 word bely dat Christus sy koningskap in die plaaslike kerke deur ampsdraers laat bedien. Ouderlinge in die plaaslike kerk word deur Christus geroep en verantwoordelik gehou vir die regering van die kerk. Hierdie belydenis lê die grondslag vir ratihabitio, wat daarvan uitgaan dat die kerk nie deur die sinode nie, maar deur die kerkraad regeer word. Daarom moet die besluite van meerdere kerklike vergaderings wat direk op die kerke betrekking het, daadwerklik die besluite van die plaaslike kerk word alvorens dit uitgevoer kan word. Dit geskied as ´n kerkraad die besluit van ´n sinode nie maar net objektief as vas en bindend beskou nie, maar die sinodebesluit met die daad sy eie maak deur dit vir homself geldig te verklaar en aan te neem. Sodoende word die plaaslike kerk nie deur sinodebesluite regeer nie, maar deur die kerkraad wat deur die Here daartoe geroep is.

Plaaslike kerke leef in kerkverband
Die beklemtoning van die plaaslike kerk mag nie die gedagte laat ontstaan dat elke kerk kan doen wat goed is in sy eie oë nie. Die reformatore bely uitdruklik die eenheid tussen die kerke. Hierdie eenheid word in artikel 27 NGB verwoord: “tog is die kerk met hart en wil deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig”. Die eenheid word konkreet gemaak in ratihabitio. Kragtens die eenheid in Christus sal kerkrade die besluite van meerdere vergaderings (dit is: die kerkverband) vir vas en bindend hou.

Besluite van mense is toetsbaar
Ampsdraers in diens van Christus is, nieteenstaande hulle uitnemende posisie, mense met gebreke. Daarom moet al hulle besluite ooreenkomstig die reël van 1 Tessalonisense 5:21 aan die norm van die Woord getoets word. Hierdie Skrifgefundeerde oortuiging van die reformatore is die grondslag van artikels 7 en 32 NGB. Dit is tewens die grondslag van die ratihabitio in die kerkorde. Om ´n besluit van ´n meerdere vergadering vir vas en bindend te hou, is ´n reël met ´n ingeboude voorbehoud: ténsy die besluit in stryd is met die Woord van God. Die voorbehoud stel per implikasie dat besluite van mense toetsbaar is aan die Woord van die Koning wat die enigste seggenskap het.

Gehoorsaamheid in liefde
Gehoorsaamheid aan die Koning van die kerk werk na twee kante toe. Dit streef na onderwerping aan die Woord en dit bestry sodoende tegelyk die energie van dwaling. Hierdie tweevoudige gehoorsaamheid is die grondtoon van die werk van die reformatore. Dit kom ook in die belydenisskifte na vore. In artikel 32 NGB bely die kerke die volgende: “En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur bindend te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou”.
Ratihabitio veronderstel eweneens hierdie tweevoudige gehoorsaamheid. Uit liefde vir die Koning van die kerk en vir die kerkverband word geldige besluite van meerdere vergaderings vir vas en bindend gehou. Ongeldige besluite word nie vir vas en bindend gehou nie. In laasgenoemde geval dryf liefde vir die kerkverband die plaaslike kerk daartoe om sy motivering waarom hy ´n bepaalde besluit ongeldig ag met haas bekend te maak, sodat so ´n ongeldige besluit - waaraan geen kerk gebind mag wees nie - so gou moontlik hersien kan word. Liefdevolle gehoorsaamheid aan die Koning van die kerk is die kenmerk van alle Gereformeerd-funksionerende kerke in ´n kerkverband. Artikel 29 NGB druk dit soos volg uit: “kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken”.

Slotsom
Uit alles wat oor die herkoms van die saak van ratihabitio beredeneer is, is dit duidelik dat die saak in beginsel deur die reformatore gestel is. Via die belydenis en die praktyk van kerkregering het dit voor 1581 inhoudelik reeds gefunksioneer. Die Sinode Middelburg het dít, wat op grond van beginsels vir etlike jare in praktyk reeds toegepas is, slegs geyk deur na ´n term te soek wat die inhoud van die saak kan dek.

2.1.2.2.2 Herkoms van die term

2.1.2.2.2.1 Die term ratihabitio uit die sekulêre reg oorgeneem

Toe die Sinode Middelburg 1581 die term ratihabitio in die Gereformeerde kerkorde opgeneem het, was dit in die sekulêre reg reeds geyk.
In paragraaf 2.1.1 is aangetoon wat ratihabitio, in samehang met ratificatio, in die sekulêre reg beteken. Dit dui op die handeling van ´n lashebber of verteenwoordiger (gestor) wat by nabaat deur ´n lasgewer (dominus) bekragtig en sodoende geldig gemaak word. Dit geskied by wyse van stilswyende aanvaarding of goedkeuring deur ´n uitspraak, en moet so gou moontlik na die handeling van die verteenwoordiger plaasvind. Die effek van ratihabitio is dat die handeling van ´n verteenwoordiger regskrag verkry vanaf die oomblik dat dit plaasgevind het. Sonder ratihabitio is die optrede van die verteenwoordiger nie regsgeldig nie, wat beteken dat die dominus nie daardeur gebind word nie.

2.1.2.2.2.2 Die term ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg toegepas

Die feit dat die kerke ´n term uit die sekulêre reg oorgeneem het, beteken nie noodwendig dat al die elemente daarvan sonder meer toegepas is nie. In hierdie paragraaf sal aangetoon word tot watter mate die kerke die term oorgeneem het. Eerstens word gewys op die elemente van ratihabitio in die sekulêre reg wat wel in die Gereformeerde kerkreg oorgeneem is. Vervolgens sal die element uitgewys word wat nie oorgeneem is nie.
Elemente wat oorgeneem is
Soos in die sekulêre reg, het ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg te doen met ´n lasgewer (dominus) en ´n lashebber (gestor). Die lasgewer in die Gereformeerde kerkreg is die kerkraad, wat ooreenkomstig artikel 30 NGB deur die Here geroep en verantwoordelik gehou word vir die regering van die plaaslike kerk. Die lashebber(s) is die kerkraad se afgevaardigde(s) na die meerdere vergadering. Die lashebber (afgevaardigde) word wettig deur die lasgewer (kerkraad) afgevaardig. Die lashebber (afgevaardigde) ontvang ´n mandaat om in opdrag van die lasgewer (kerkraad) oor sake te handel wat op ´n vooraf vasgestelde agenda geplaas is (vergelyk artikels 30 en 33 KO asook die kredensiebrief vir afgevaardigdes na meerdere vergaderings).
Na afloop van die lashebber se optrede (dit is as die meerdere vergadering sy werk afgehandel het en gesluit is), moet daar verslag aan die lasgewer gedoen word. Die lasgewer (in die sekulêre reg: dominus) moet die optrede van die lashebber (in die sekulêre reg: gestor) bekragtig. In Gereformeerd-kerkregtelike terme: die kerkraad moet, nadat hy die handelinge van die afgevaardigdes (meerdere vergadering) getoets het, verklaar dat die vergadering van afgevaardigdes hulle opdrag in ooreenstemming met hulle mandaat uitgevoer het.
Omdat die kerkraad deur die Here geroep word om die kerk in sy Naam te regeer, is hy daartoe verplig om die handelinge van sy afgevaardigdes te toets. Die vergadering van afgevaardigdes regeer nie die kerk nie, maar die kerkraad regeer die kerk in onderworpenheid aan die Woord van God.
In die sekulêre reg is twee maniere van ratihabitio moontlik: stilswyende aanvaarding of goedkeuring deur ´n uitspraak. Die Gereformeerde kerkreg, soos toegepas in die jare voor 1581, ken slegs een manier van ratihabitio. Besluite van meerdere vergaderings word voorgelees, bestudeer, getoets en mondeling sowel as skriftelik bekragtig (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Goedkeuring vind slegs deur ´n uitspraak plaas.
Met betrekking tot die tyd van ratihabitio geld die reël in die sekulêre reg dat dit so gou as moontlik na die handeling van die verteenwoordiger moet geskied. In die Gereformeerde kerkreg geld in beginsel dieselfde reël. Besluite van meerdere vergaderings moet nie vir ´n onbepaalde tyd “ongeratihabeer” bly nie. Inteendeel, geldige besluite moet so gou moontlik getoets, aanvaar en uitgevoer word, terwyl ongeldige besluite so gou moontlik hersien moet word (vergelyk 2.1.2.2.1.4). Tog het dit in die jare kort na die reformasie voorgekom dat ´n geruime tyd verloop het alvorens die kerke tot ratihabitio oorgegaan het (vergelyk 2.1.2.2.1.3), moontlik omdat kerklike vergaderings tydens die tagtigjarige oorlog (1568-1648) nie maklik byeengeroep kon word nie.
Wat die terugwerkende regskrag ten opsigte van ´n besluit van ´n verteenwoordiger betref, bestaan daar eweneens ´n duidelike punt van ooreenkoms tussen die sekulêre reg en die Gereformeerde kerkreg. ´n Besluit van ´n meerdere vergadering was op die oomblik toe dit geneem is reeds geldig of ongeldig. ´n Besluit word dus nie later geldig (ratum) of ongeldig (irratum) gemaak (facere) nie. Alhoewel ´n besluit vir die Here - wat volkome wys is (artikel 1 NGB) - van meet af aan geldig of ongeldig is, kan ´n kerkraad dit egter eers ná beoordeling in die lig van die Skrif as sodanig vasstel. Daarom moet die geldige besluite van die meerdere vergadering na toetsing deur die kerkraad geldig verklaar (ratideclaratio) word. Deur die vir-die-Here reeds geldige besluit van ´n meerdere vergadering geldig te verklaar, gee die kerkraad welbewus erkenning daaraan. Daar word verklaar dat die besluit van meet af aan geldig was. In daardie opsig kom dit ooreen met die terugwerkende regskrag waarvan in die sekulêre reg sprake is.
Indien ´n kerkraad na toetsing egter sou bevind dat ´n bepaalde besluit van ´n meerdere vergadering ongeldig blyk te wees, kan hy die besluit nie self herroep nie. In so ´n geval moet ´n soortgelyke meerdere vergadering wat gehou gaan word daardie betrokke besluit herroep. Intussen is die kerkraad geroep om die besluit ongeldig te verklaar (irratideclaratio).

Die enigste element wat nie oorgeneem is nie
In die sekulêre reg word handelinge van ´n verteenwoordiger by wyse van ratihabitio deur ´n dominus geldig gemaak. Dit kan selfs gebeur dat ´n verteenwoordiger se ongeldige handelinge deur middel van ratihabitio geldig gemaak word (vergelyk 2.1.1.4). In die Gereformeerde kerkreg is dit onmoontlik. ´n Ongeldige besluit, dit is ´n besluit wat teen die Woord van God of die geldende kerkorde ingaan, mag en kan nie geldig gemaak word nie. Net so min mag en kan ´n geldige besluit van ´n meerdere vergadering deur ´n kerkraad ongeldig gemaak word. Roeleveld (1987:24) merk met reg op dat die Dordtse Kerkorde net geldige of nietige besluite ken, nie vernietigbare besluite nie.

2.1.2.2.2.3 Balans

Ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg vertoon duidelike ooreenkomste met ratihabitio in die sekulêre reg van die sestiende eeu. Dit is geen toevalligheid dat die Gerefomeerde kerke, wat in daardie stadium al geruime tyd die praktyk van ratihabitio in die kerklike lewe beoefen het, in 1581 besluit het om juis dié term in die kerkorde op te neem nie. Dit blyk dat die Sinode Middelburg 1581 ´n bestaande term uit die sekulêre reg oorgeneem het wat essensieel dieselfde strekking het as waarvoor dit in die Gereformeerde kerkreg gebesig sou word. Van die enkele element wat nie in die Gereformeerde kerkreg inpas nie, is ontslae geraak. Sodoende het ratihabitio in die kerkorde in sekere opsigte ´n nuwe inhoud verkry, wat ooreenkom met die praktyk van die kerkregering voor 1581, wat op sy beurt voortvloei uit die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus as formuliere van eenheid en die skriftuurlike denke van die reformatore.
Die inhoudelike verandering wat die term in die Gereformeerde kerkreg ondergaan het, is daarop gerig om die heerskappy van Christus in sy kerk te eerbiedig. Dit sal in die volgende paragrawe nader aangetoon word.

2.1.2.3 Redes vir die invoering van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg

Uit die verloop van die geskiedenis kan vier redes aangevoer word waarom die Sinode Middelburg 1581 besluit het om die woorde “schuldig zal zyn na te komen” van die 1578 Kerkorde te vervang met “zal voor vast en bondig gehouden worden”.

2.1.2.3.1 Om die kerke teen ´n nuwe vorm van hiërargie te beskerm

Gereformeerd-kerkregtelik gesproke was die sestiende-eeuse reformasie hoofsaaklik daarop gerig om enige vorm van hiërargie in die kerklike lewe teen te gaan. Calvyn het die allesbeheersende beginsel gestel dat Christus die enigste Hoof van die kerk is en dat geen mens of vergadering daardie Hoofskap mag verdring nie (vergelyk 2.1.2.2.1.1). Die openbaring oor Christus as die enigste Kerkhoof is vervolgens eerbiedig deur Gereformeerde kerke bely (vergelyk onder andere artikels 27 tot 32 NGB, antwoord 54 HK) en gehoorsaam in die praktyk van kerkregering aanvaar (vergelyk 2.1.2.2.1.3; GKSA, 1980:12, 13).
Bevryding van die pouslike hiërargie beteken egter nie noodwendig dat Christus as enigste Hoof van die kerk erken word nie. In die Gereformeerde kerke was en is dit voortdurend vir voorgangers ´n versoeking om hiërargies op te tree. Dominokrasie, waarin die dominee ´n oorheersende rol speel, konsistoriokrasie, waarin die kerkraad - sonder inagneming van die kerkverband - al die sê het, of sinodokrasie waar die sinode die kerkraad se verantwoordelikheid ontneem en die kerke vanuit ´n topstruktuur wil regeer, is almal verskillende vorms van hiërargie (d’Assonville, 1992:97).
Om hiërargie in die vorm van sinodokrasie te bestry, het die kerke ooreengekom om kerkordelik vas te stel dat besluite van meerdere vergaderings nie sonder meer uitgevoer word nie. Sulke besluite sal vir vas en bindend gehou word (ratihabitio), wat onder andere beteken dat hulle eers deur die plaaslike kerke ondersoek sal word of hulle geldig is, alvorens hulle aanvaar en in die kerklike lewe uitgevoer word.
Die bepaling “skuldig sal wees na te kom” uit die 1578 Kerkorde is, soos die latere ratihabitio, ook bedoel om anti-hiërargies te wees. Tog beskerm ratihabitio die kerke meer teen hiërargie as “skuldig sal wees na te kom”, aangesien laasgenoemde in praktyk kan neerkom op uitvoering van besluite sonder dat hulle vooraf behoorlik getoets en as eie aanvaar is. In die voorkoming van hiërargie is ratihabitio derhalwe ´n verbetering op die reeds bestaande kerkorde artikel.

2.1.2.3.2 Om die kerke teen independentisme te beskerm

Teen die einde van die sestiende eeu ontwikkel daar ´n meer vrysinnige opvatting oor die handhawing van die Gereformeerde belydenis soos wat dit in daardie stadium in die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus vervat is (d’Assonville, 1992:129). Teoloë soos Coornhert en Coolhaes, wat die Gereformeerde belydenis en kerkorde as totaal onbelangrik beskou, veroorsaak onrus en verdeeldheid in die kerklike lewe (Kamphuis, 1970:54, 55). Met ´n beroep op artikel 7 NGB distansieer hulle hul van alle bindende sinodebesluite. Die gevolg is dat hulle deur verkeerde interpretasies van die Skrif afwyk, wat daartoe lei dat elkeen doen wat reg is in sy eie oë (Rigters 21:25).
Om hierdie vernietigende gees van independentisme (wat immer met leervryheid gepaard gaan) teen te staan, word besluit om ratihabitio in die kerkorde op te neem (Noordzij, 1994:70). Daarvolgens word sinodebesluite hoog geag, aangesien hulle vir vas en bindend gehou sal word. Ratihabitio waarborg vryheid in Christus, dit is vryheid wat nie op losbandigheid en willekeur uitloop nie. Ratihabitio stel vryheid onder een voorwaarde: “dat de kerken één bleven in belijdenis en tezamen onderworpen aan Gods Woord” (Rutgers, 1971:43).
Kamphuis (1970:58-60) en Nauta (1971:136) beklemtoon die anti-independentistiese betekenis van ratihabitio. Volgens hulle dui ratihabitio daarop dat ´n saak waaroor ´n beslissing geneem is, as onverbreeklik beskou moet word. Wat geldig is en as sodanig aanvaar is, moet uitgevoer word; anders het dit geen sin om besluite te neem nie.
Dit is die bedoeling van ratihabitio in artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde om ontbinding van die kerklike lewe ten alle koste te beveg. Ratihabitio beskerm die kerk van die Here teen dwaalleraars wat onder vroom voorwendsels aan die eenheid in Christus afbreuk doen.
In die stryd teen independentisme is ratihabitio nie ´n verbetering of ´n verswakking ten aansien van “skuldig sal wees na te kom” nie. Middelburg 1581 handhaaf die anti-independentistiese strekking van Dordrecht 1578. Beide bepalings verbind kerke gelyklik tot die uitvoering van besluite van meerdere kerklike vergaderings. Ook verplig beide artikels kerke om bewyse voor te lê indien ´n besluit nie uitgevoer kan word nie, omdat bevind is dat sodanige besluit in stryd met die Woord van God of die geldende kerkorde is. Laasgenoemde is tipies anti-independentisties, aangesien dit vir kerke geen ruimte laat om ´n besluit - waaroor hulle oordeel dat dit ongeldig is - eensydig langs hulle neer te lê sonder om aan die kerkverband die bewyse vir die vermeende ongeldigheid voor te lê nie.

2.1.2.3.3 Om die kerke teen owerheidsindringing te beskerm

In sy rede oor die geldigheid van die ou kerkordes van die Nederlandse Gereformeerde kerke bespreek Rutgers (1971) die kwessie van owerheidsgesag en kerklike gesag met betrekking tot die geldigheid van die ou kerkordes.
In 1571, toe die eerste sinode van Gereformeerde kerke in Emden vergader, was die owerhede van die Nederlande nog geensins ten gunste van die Reformasie nie (Rutgers, 1971:25, 27). Die kerke het onder Spaans-Roomse tirannie gebuk gegaan (d’Assonville, 1992:128). Een voordeel van die vyandiggesindheid van die owerhede was dat die kerke sonder inmenging van die staat hulle werk gedoen het. Nieteenstaande wrede onderdrukking was die kerke onafhanklik en vry. Hulle het die kerklike lewe ooreenkomstig Gods Woord, sonder voorskriftelikheid van owerheidsweë ingerig.
Na 1571 verander die geskiedenis egter handomkeer. Willem van Oranje voer sedert 1572 vanuit die provinsies Holland en Zeeland die stryd teen Spanje. Op 1 April 1572 behaal die Nederlanders met die oorname van Den Briel ´n groot oorwinning oor die Spanjaarde (Noordzij, 1994:19). Van daar af word die Spanjaarde stelselmatig verdryf. Oral waar die Spanjaarde verslaan word, ontstaan Gereformeerde kerke. In 1573 word prins Willem van Oranje Gereformeerd (d’Assonville, 1992:128). Die prins beywer hom vir die beskerming en uitbreiding van die Gereformeerde religie. Die mag van die owerheid word gebruik om die reformasie deur te voer. “Heelwat personen en Kerken zijn toen, om het zoo eens uit te drukken, Gereformeerd gemaakt” (Rutgers, 1971:25).
Die voordeel van die radikale verandering was dat die Gereformeerde kerke sonder lewensgevaar hulle gang kon gaan. Die nadeel was, onteenseglik, die gevaar van afhanklikwording van die owerheid. Dat hierdie gevaar nie denkbeeldig was nie, blyk uit die feit dat die kerke in hulle optrede en besluitneming al hoe meer gebind word aan die opinie en bekragtiging van die owerheid.
Aanvanklik het die owerheid nie baie met die regering van die Gereformeerde kerke ingemeng nie. “De kerken legden zich neder bij overheidsregelingen, die haar feitelijk toelieten, bijna geheel hare eigene ordening na te leven. En de Overheid heeft de Kerken veelzins ontzien, hetzij door zich van regelingen te onthouden (Holland en Friesland), of wel door approbatie van de Gereformeerde Kerkenordening (Overijssel, Gelderland en Utrecht), of wel door het maken of approbeeren eener regeling die genoegzaam daarmede overeenkwam (Groningen, Drenthe en Zeeland)” (Rutgers, 1971:34).
Met verloop van tyd het die situasie egter ingrypend verander. In die loop van 1578 het die Leidse magistraat byvoorbeeld ontken dat die kerke wat in meerdere vergaderings byeenkom, bevoeg is om geldige besluite te neem (Kamphuis, 1970:52; Bremmer, 1984:191). In Groningen en Drente vaardig die owerheid self ´n kerkorde uit wat deur die kerke aanvaar en uitgevoer moes word (Rutgers, 1971:33).
Teen hierdie agtergrond word dit duidelik waarom die Sinode Middelburg in 1581 poog om die kerklike samekomste waarlik kerklik te hou. Een van die maniere waarop die kerke probeer het om van owerheidsinmenging ontslae te raak, was om voortaan geen ruimte vir afgevaardigdes van die magistraat of die hoë owerheid by enige kerklike vergadering te maak nie (Hooijer, 1865:199).
Die vernaamste besluit wat die sinode in hierdie verband geneem het, was die hersiening van artikel 23 van die bestaande kerkorde. Deur die oordeel in appèlsake en die besluitnemingsbevoegdheid van die kerklike vergaderings aan mekaar te koppel, en boonop by wyse van ratihabitio regskrag van kerklike besluitneming te erken, het die sinode alles in sy vermoë gedoen om verkeerde inmenging van die owerheid teen te werk (Kamphuis, 1971:52; Bremmer, 1984:188; Noordzij, 1994:53, 55).
Samevattend kan as derde rede vir die invoering van ratihabitio gestel word dat die kerke langs hierdie weg in beginsel ooreenkom dat slegs húlle (die kerke) geldige besluite van kerklike vergaderings vir vas en bindend kan hou. Deur middel van ratihabitio skakel die kerke die owerhede sowel by die néém van besluite oor kerklike sake as die geldigverklaring, aanvaarding en uitvoering van besluite oor kerklike sake uit. Waar die woorde “skuldig sal wees na te kom” uit die 1578 Kerkorde vir die owerheid nog ruimte bied om van kerke te verwag dat hulle die owerheid se besluite oor kerklike aangeleenthede uitvoer, is die formulering van 1581 ´n verbetering weens die besliste afwysing van owerheidsinmenging by die neem, beoordeling en uitvoering van besluite van meerdere vergaderings.

2.1.2.3.4 Om ´n reeds bestaande belydenis en praktyk kerkordelik te bevestig

In paragraaf 2.1.2.2 oor die herkoms van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg is aangetoon dat die saak van ratihabitio deur die reformatore opnuut in beginsel gestel is. Dit het via die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat in die jare voor die vasstelling van ´n kerkorde as gemeen akkoord vir die kerkregering gedien het, praktyk geword in die kerkregering gedurende die jare 1571 tot 1581. Die Sinode Middelburg het die bestaande praktyk van “vir vas en bindend hou” slegs geyk deur ´n term te kies wat die inhoud van die saak genoegsaam dek. Hulle het die term ratihabitio uit die sekulêre reg gekies en dit, wat die inhoud betref, Gereformeerd aangepas en in die kerkorde opgeneem. Dit was ´n logiese besluit om die bestaande kerklike praktyk met die toepaslike term uit die sekulêre reg in die Gereformeerde kerkreg te veranker.
Waar ratihabitio ´n reeds bestaande praktyk in die Gereformeerde kerkregering yk, is dit ´n baie noukeuriger aanduiding van die saak waaroor dit gaan as die woorde “skuldig sal wees na te kom”. Ratihabitio dui die aksies van toetsing, regsgeldigverklaring, aanvaarding en uitvoering van besluite van meerdere vergaderings aan, terwyl “skuldig sal wees na te kom” slegs na uitvoering van besluite verwys.

2.1.2.3.5 Samevatting

Al vier redes waarom ratihabitio in die Gereformeerde kerkorde opgeneem is, vertoon een gemeenskaplike komponent: dit is ingevoer ten einde “vir Christus sy gesag te bewaar” (Calvyn, Institusie IV, 8, i). In vergelyking met “skuldig sal wees na te kom” is dit ´n besliste en noodsaaklike verbetering. Ten einde die kerklike lewe teen hiërargie, independentisme en owerheidsinmenging te beskerm en tegelyk ´n reeds bestaande, skriftuurlik-verantwoorde kerkregtelike praktyk kerkordelik vas te lê, het die kerke tereg besluit om die term ratihabitio in die Gereformeerde kerkorde en -reg op te neem.

2.1.2.4 Inhoud van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg
2.1.2.4.1 Betekenis van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg

In paragraaf 2.1.2.2.1.3 is aangetoon hoe die Gereformeerde kerke gedurende die sestiende eeu die besluite van meerdere vergaderings hanteer het. Dit was die kerke se gewoonte om:
· besluite van meerdere vergaderings aan die Skrif te toets;
· ooreenkomstig die uitslag van die toets die betrokke besluit goed te keur (of af te keur) en geldig te verklaar (of ongeldig te verklaar);
· hulleself aan ´n geldigverklaarde besluit te bind deur dit as hulle eie besluit te aanvaar;
· geldigverklaarde en aanvaarde besluite uit te voer.
Uit hierdie vier onderskeie handelinge blyk dit dat die besluit van ´n meerdere vergadering algaande die besluit van die mindere vergadering word. Inderdaad is dit die bedoeling van ratihabitio (ratum habere). Die werkwoord habere dui, afgesien van “hou” ook op “besit, hê” (Postma, 1975:133). Deur die daad van ratihabitio word die besluit van ´n meerdere vergadering die “besit”, die “eiendom” van die mindere vergadering.
Die proses waardeur ´n besluit van ´n meerdere vergadering die eiendom van die mindere vergadering word, kan stapsgewys soos volg weergegee word:
· Wanneer ´n meerdere vergadering ´n besluit neem, is dit nog nie die besluit van die mindere vergadering nie.
· Wanneer die mindere vergadering die besluit van die meerdere vergadering by wyse van die acta ontvang het en toets, bly dit nog die meerdere vergadering se besluit.
· Ook bly die besluit die meerdere vergadering s’n as die mindere vergadering dit na toetsing goed- of afkeur en dienooreenkomstig geldig of ongeldig verklaar.
· Eers as die mindere vergadering die geldigverklaarde besluit as sy eie aanvaar, word dit sý besluit.
· ´n Aanvaarde, eie besluit word uitgevoer. Ratihabitio sluit uitvoering van besluite in.
Wat uit die voorafgaande bronnestudie oor die handeling van ratihabitio na vore gekom het, kan skematies soos volg uiteengesit word:


DIE PROSES VAN RATIHABITIO

A. Word getoets (probatio)
B. Word goedgekeur Besluite van meerdere vergaderings
en geldig verklaar
(ratideclaratio)
word
C. Word aanvaar
(acceptatio)
Besluite van mindere vergaderings
D. Word uitgevoer
(executio)
 

2.1.2.4.2 Definisie van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg

Ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg kan gedefinieer word as die regshandeling van ´n mindere vergadering waardeur die besluite van ´n meerdere vergadering in die lig van die Skrif, belydenis en kerkorde getoets (probatio), geldig verklaar (ratideclaratio), as eie aanvaar (acceptatio) en uitgevoer (executio) word.

2.1.2.4.3 Voorkoms van ratihabitio in die Gereformeerde kerkorde

Ratihabitio kom as ´n futurum (ratum habebitur) in artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde voor. Die implikasie van die futurum is tweërlei.
In die eerste plek moet die futurum nie as ´n imperatief (moet vir vas en bindend gehou word) gelees word nie. Binding aan geldige besluite volg nie as onderwerping aan ´n hoër instansie nie, maar as nakom van ´n belofte. Die futurum beklemtoon die belofte-karakter.
Tweedens moet die futurum nie as ´n praesens geïnterpreteer en toegepas word nie. Hier staan nie “´n meerderheidsbesluit is vas en bindend” nie. In daardie geval sou daar van toetsing en aanvaarding van besluite geen sprake kon wees nie. Dan het die Gereformeerde kerke van meet af aan teen hulle eie kerkordelike reëling opgetree. Die futurum, anders as die praesens, stel dat besluite vir vas en bindend gehou sal word, “constaterende wat het geval zal zijn” (Roeleveld, 1972b:54; 1987:22). Indien ´n besluit geldig is, sal dit as sodanig aanvaar en uitgevoer word; indien dit na toetsing ongeldig blyk te wees, sal dit nie uitgevoer word nie.
Verder moet opgemerk word dat die habere (hou vir) van ratihabitio nie as “beskou as” verstaan behoort te word nie (GKSA, 1980:21). Om ´n besluit vir vas en bindend te hou, dui op ´n reeks handelinge, soos hierbo aangetoon is. “Beskou” dui slegs op oorweging en beoordeling (HAT, 1985:84). “Beskou” is derhalwe ´n verswakking ten opsigte van “hou vir”. Wanneer ratihabitio as “beskou as” in die kerkorde vertaal en toegepas word, soos in die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika die geval is, kan dit tot gevolg hê dat daar van besluite, nieteenstaande hulle geldigheid, op ´n independente wyse kennis geneem word sonder dat hulle in praktyk uitgevoer word.

2.1.2.5 Omskrywing van ratificatio in die Gereformeerde kerkreg
2.1.2.5.1 Omskrywing deur kerkregtelikes

Die term ratificatio bestaan uit twee Latynse woorde: ratum en facere, wat letterlik vertaal kan word as “geldig maak”. In die sekulêre reg het dit oor die algemeen die betekenis van “bevestig, bekragtig” (vergelyk 2.1.1.1), dieselfde as ratihabitio (vergelyk 2.1.1.2).
Oor die inhoud en beskrywing van ratificatio in die Gereformeerde kerkreg word daar uiteenlopend gedink. Ter wille van oriëntasie word die verskillende gedagtes weergegee, sonder om tans tot ´n definisie van die begrip te kom. In ´n volgende paragraaf (2.2) sal ratificatio gedefinieer word.
Coetzee (1946a:4, 1946c:5) beskou ratifikasiereg as toetsingsreg, die reg van alle kerkrade, asook predikante, ouderlinge, diakens en lidmate om besluite van meerdere vergaderings aan te neem of te verwerp, al na gelang hulle dit mag goedvind.
Te Velde (1994:309) is van mening ratificatio in die Gereformeerde kerkreg behels om besluite van meerdere vergaderings goed te lees, aan die Skrif en die kerkorde te toets en dan bewustelik te aanvaar.
Van Wyk (1988:38) sien, soos Te Velde, twee elemente in die handeling van ratificatio wanneer hy opmerk dat ´n kerkraad elke sinodebesluit moet oorweeg en dan moet besluit of hulle daartoe verbind voel of nie.
In sy rede oor die geldigheid van die ou kerkordes beskryf Rutgers (1971:24) die gebruik van mindere vergaderings om die kerkorde artikels, wat op ´n meerdere vergadering vasgestel is, as “wederom aan te nemen”. Die manier waarop Rutgers (1971:24) die “aanneem”-daad nader omskryf, is veelseggend: “De reeds vastgestelde ordening werd dan als het ware geratificeerd, juist door hen, die de lastgevers der Synode geweest waren”.
Jansen (1950:50) sluit by Rutgers aan en sê van ratificatio: “En bij de eenparige aanvaarding op de meerdere vergadering, kwam dan in den eerste tijd nog de herhaling dezer aanvaarding door de mindere vergadering, om de vastgestelde ordening ook voor haar ressort te ratificeeren (goed te keuren)”.
Die persoon wat wetenskaplik die breedvoerigste oor ratificatio gehandel het, is P. Deddens. In sy inougurele rede vind hy noue aansluiting by Rutgers. Deddens (1946:12) omskryf ratificatio as deel van ratihabitio soos volg: “Zoodra nu de Kerken na toetsing overtuigd zijn: het besluit van de meerdere vergadering is recht en goed, het strijdt niet met het dubbele voorbehoud van art. 31, dan eerst ratificeeren ze dat besluit. Nu eerst bekrachtigen ze het, en voeren ze het uit. Dat wil dus zeggen: ratificeering is een integreerend deel van den rechtsvorm inzake de geldigheid van besluiten eener meerdere vergadering”. Hy omskryf ratificatio verder as die “approbatie, bekrachtiging, goedkeuring der Synodebesluiten” (1946:12). In hierdie omskrywing stel Deddens ratificatio - met uitsondering van executio - gelyk aan ratihabitio.
Du Toit (1946a:14), Nauta (1960:578) en Kamphuis (1970:60) deel Deddens se omskrywing van die term.
Oranje (1944:31) merk, sonder om die term self te omskryf, op: “Ratificatie van besluiten van de meerdere vergaderingen door de mindere is ... niets anders dan independentisme, in flagranten strijd met Gods Woord”.

2.1.2.5.2 Kommentaar

Dit is uit die onderskeie beskrywings duidelik dat daar geen eenstemmigheid oor die inhoud van ratificatio bestaan nie. Die omvang van ratificatio is volgens onderskeie skrywers verskillend.
Coetzee beskou ratificatio as toetsing (probatio) wat op geldig- of ongeldigverklaring (rati- of irratideclaratio) van ´n besluit van ´n meerdere vergadering uitloop. Jansen beskou dit as geldigverklaring (ratideclaratio) en aanvaarding (acceptatio) van besluite. Te Velde en Van Wyk interpreteer ratificatio as die toets (probatio) en aanvaar (acceptatio) van besluite. Rutgers beskou dit slegs as aanvaarding (acceptatio) van besluite. Deddens sluit in sy definisie van ratificatio by Rutgers aan, maar in sy verdere omskrywing brei hy die begrip uit tot geldigverklaring (ratideclaratio) en aanvaarding (acceptatio).
Dit blyk dat, nieteenstaande die uiteenlopende beskouing wat oor ratificatio gehuldig word, al die elemente wat deur die onderskeie kerkregtelikes as deel van ratificatio beskou word, eweneens deel van ratihabitio vorm (vergelyk 2.1.2.4.2). Dit impliseer dat ratificatio en ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg - soos in die sekulêre reg - nou aan mekaar verwant is.
Om aan die begripsverwarring - wat onmiskenbaar tot ernstige meningsverskille in die kerklike lewe lei (vergelyk die aangehaalde opmerking van Oranje) - te ontkom, is dit noodsaaklik om die omvang van ratificatio in verhouding tot die omvang van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg te bepaal.

2.1.2.5.3 Ratificatio: begripsbepaling

Uit die vakliteratuur word dit duidelik dat daar oor die algemeen onvoldoende onderskeid gemaak word tussen ratihabitio (ratum habere) en ratificatio (ratum facere). Dit is wetenskaplik nie verantwoordbaar nie. Rutgers het ratum facere beperk tot acceptatio. Deddens het in sy definisie van ratificatio by hom aangesluit, maar in sy verdere beskrywende terme ratideclaratio by ratificatio ingesluit. Deur die breëre omskrywing word ratum facere met uitsondering van die executio identies met ratum habere.
Om identifisering van die twee begrippe te vermy, word in hierdie verhandeling aangesluit by die omskrywing van Rutgers en die definsie van Deddens. Ratificatio word as sinoniem van acceptatio beskou. Sodoende word die kerkregtelike gebruik van die Gereformeerde kerke gedurende die sestiende eeu, wat die Sinode Middelburg 1581 kerkordelik geyk het, in ratificatio sorgvuldig bewaar. Mindere vergaderings moet geldige besluite van meerdere vergaderings as hulle eie besluite aanvaar.
In verband hiermee merk Kamphuis (1970:58, 61) op dat ratificatio nie die term is wat die saak noukeurig genoeg aandui nie, omdat ratificatio letterlik neerkom op geldig maak van besluite. Die mindere vergadering se aanvaarding van besluite behoort nie met so ´n term aangedui te word nie. Die term acceptatio is ´n noukeuriger aanduiding van die saak in bespreking. Aangesien die term ratificatio egter reeds in die Gereformeerde kerkreg ingeburger is, word dit verder in die studie gebruik, maar dan in die sin van acceptatio.

2.1.2.6 Ratihabitio en ratificatio in die Gereformeerde kerkreg
2.1.2.6.1 Beskrywing van die verhouding

Dit is reeds beredeneer dat ratihabitio die regshandeling van ´n mindere vergadering aandui wat in drie dele onderskei kan word, te wete geldigverklaring (ratideclaratio), aanvaarding (acceptatio) en uitvoering (executio) van besluite van ´n meerdere vergadering (vergelyk 2.1.2.2.1.3). In die vorige paragraaf is die omvang van ratificatio omskryf as die mindere vergadering se eie-maak van die geldige besluite van ´n meerdere vergadering.
Ratificatio in die Gereformeerde kerkreg vorm in hierdie verhandeling, anders as wat oorwegend in die sekulêre reg beskou word (vergelyk 2.1.1.2), ´n onderdeel van ratihabitio. Ratificatio dui die tweede deel van die ratihabitio-handeling aan, naamlik die aanvaarding (acceptatio) van geldige besluite van meerdere vergaderings. Ratideclaratio (geldigverklaring) van besluite vorm geen deel van ratificatio nie. Ratideclaratio gaan aan ratificatio vooraf en loop daarop uit. Executio is ook nie deel van ratificatio nie, maar spruit daaruit voort.
Deur ratificatio word die geldigverklaarde besluit van die meerdere vergadering daadwerklik die eie besluit van die mindere vergadering.

2.1.2.6.2 Skematiese voorstelling van die verhouding



DIE VERHOUDING VAN RATIHABITIO EN RATIFICATIO

Besluite van ´n meerdere vergadering

Toetsing
(probatio)

Ratihabitio Goedkeuring/ geldigverklaring
deur (ratideclaratio)
mindere vergaderings
Aanvaarding
(ratificatio/acceptatio)


Uitvoering
(executio)

 

2.1.2.7 Ratihabitio en ratificatio: Fremdkörper in die Gereformeerde kerkreg?

Aan die slot van paragraaf 2.1.2.1 is die vraag gesuggereer of ratihabitio, toe dit deur die Sinode Middelburg 1581 in die kerkorde opgeneem is, ´n Fremdkörper in die Gereformeerde kerkreg was. Aan die hand van die resultate wat die studie tot hiertoe oplewer, kan die vraag gemotiveerd beantwoord word.
Die eerste element van ratihabitio, dit is om besluite van meerdere vergaderings te toets en geldig te verklaar, is gefundeer in artikels 7 en 32 van die NGB asook in antwoord 54 HK. Die Gereformeerde kerke het in die betrokke belydenis artikels, wat in daardie dae tewens as gemeen akkoord vir die kerkverband gedien het, met mekaar afgespreek om alle besluite van kerklike vergaderings ondergeskik te beskou aan die Woord van God en slegs dié besluite te aanvaar wat met die Skrif ooreenkom.
Die tweede element van ratihabitio, dit is om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer (aksepteer), spruit voort uit die beginsel dat die kerk van Jesus Christus plaaslik vergader (artikels 27 tot 29 NGB; vergelyk 2.1.2.2.1.2) en regeer word (artikel 30 NGB). Christus het geen ander regeerders in sy kerk aangestel behalwe die kerkraad nie (artikel 32 NGB). Die sinode regeer nie die plaaslike kerk nie, maar die kerkraad. Hierdie saak sal nader toegelig word in paragraaf 4.2.
Die derde element van ratihabitio, dit is om besluite van meerdere vergaderings uit te voer, rus in die beginsel dat die verskillende plaaslike kerke in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig is (Efesiërs 4:4-6; artikel 27 NGB). Dit wat die kerkverband in die meerdere vergadering op grond van Gods Woord besluit, sal - buiten enkele besluite wat op deputate betrekking het, en op voorwaarde van die “tensy” van artikel 31 KO - in die plaaslike kerk uitgevoer word.
Al drie elemente van ratihabitio, waarvan ratificatio een is, wortel in die beginsels van die Gereformeerde kerkreg. Daar kan gekonkludeer word dat ratihabitio en ratificatio geen Fremdkörper in die Gereformeerde kerkreg is nie. Ratihabitio is in wese niks anders as die “schuldig zal zyn na te komen” uit die 1578 Kerkorde nie. Dit is wel ´n noodsaaklike uitbreiding daarop. “Schuldig zal zyn na te komen” veronderstel nie per se dat besluite van meerdere vergaderings getoets, geldig verklaar en aangeneem sal word alvorens dit uitgevoer word nie.

 

2.2 Die definisie van ratifikasie

In die lig van die bostaande kan ratificatio gedefinieer word as die aanvaarding (acceptatio) van besluite van meerdere vergaderings ná die geldigverklaring (ratideclaratio) daarvan, waardeur die besluit van die lashebber (meerdere vergadering) die lasgewer (kerkraad) s’n word, met die effek dat dit as die besluit van die lasgewer uitgevoer (executio) word.

 

2.3 Die toepassing van ratifikasie

Ooreenkomstig die definisie behoort ratificatio (acceptatio) binne die konteks van ratihabitio soos volg toegepas te word:
· Kerkrade moet by ontvangs van die handelinge van meerdere vergaderings al die besluite van die meerdere vergadering aan die norm van die Woord van God en die geldende kerkorde toets.
· Op grond van die toetsing moet die vergadering konstateer of ´n besluit geldig of ongeldig is.
· ´n Geldige besluit moet by wyse van notulering geldig verklaar word (ratideclaratio).
· Die vergadering moet ook op skrif uitspreek dat hy die geldigverklaarde besluit as sy eie besluit aanvaar (ratificatio, acceptatio).
· Die vergadering besin oor die wyse waarop die geldigverklaarde en -aanvaarde besluit uitgevoer gaan word (executio). Van sekere besluite sal daar slegs kennis geneem word (byvoorbeeld uitsprake oor appèlskrifte wat nie deur die mindere vergadering self aan die meerdere vergadering gerig is nie), terwyl ander besluite direk uitgevoer moet word (byvoorbeeld die betaling van verpligte kollektes). Deurgaans sal dit raadsaam wees om die gemeente van die uitvoering van besluite op hoogte te bring en te hou.
Indien na toetsing bevind word dat ´n besluit nie met die Woord van God of die geldende kerkorde ooreenkom nie, moet die volgende gebeur:
· ´n Ongeldige besluit moet by wyse van notulering ongeldig verklaar word (irratideclaratio). Die redes vir die ongeldigverklaring moet uitdruklik in die notule vermeld word.
· Uit liefde vir die Koning van die kerk en vir die kerkverband moet die bewyse waarom ´n besluit ongeldig verklaar moes word by wyse van ´n beswaarskrif so gou moontlik aan ´n meerdere vergadering bekend gemaak word (ostentatio irratideclarationis).
· Wanneer ´n beswaarskrif oor ´n bepaalde besluit op die agenda van die meerdere vergadering dien, moet daardie vergadering - nadat die aanvanklike besluit en die beswaarskrif deeglik oorweeg is - een van twee dinge besluit:
* Die beswaarskrif is gegrond, wat beteken dat die aanvanklike besluit ongeldig is en nie uitgevoer mag word nie. In daardie geval moet die meerdere vergadering die aanvanklike besluit ook ongeldig verklaar.
* Die beswaarskrif word skriftuurlik, konfessioneel en/of kerkordelik ongegrond bewys, wat beteken dat daar niks aan die aanvanklike besluit verander nie en die kerke dit gevolglik vir vas en bindend sal hou.
Skematies kan die onderskeie handelinge van mindere vergaderings soos volg weergegee word:


DIE PROSESSE VAN RATIHABITIO EN IRRATIHABITIO

Besluite van ´n meerdere vergadering


Toetsing
(probatio)


Ratihabitio Irratihabitio


Geldigverklaring Ongeldigverklaring
(ratideclaratio) (irratideclaratio)


Aanvaarding Bewys van ongeldigverklaring
(acceptatio) in mindere vergadering
(probatio irratideclarationis)


Uitvoering Voorlegging van bewys aan
(executio) meerdere vergadering
(ostentatio irratideclarationis)


Indien ratificatio (acceptatio) binne die konteks van ratihabitio nie so toegepas word nie, impliseer dit verbreking van die onderlinge afspraak. Deur die kerkorde te aanvaar, verbind die kerke hulle daartoe om besluite van meerdere vergaderings vir vas en bindend te hou. Dit veronderstel dat hulle ook tot die daad van aanvaarding (ratificatio) verbind is, aangesien ratificatio onlosmaaklik deel vorm van ratihabitio.
´n Slotopmerking moet gemaak word oor wie vir ratificatio binne die konteks van ratihabitio verantwoordelik is.
In die kerklike lewe van die sestiende-eeuse reformasie het sowel kerkrade as klassisse en partikuliere sinodes die onderskeie aksies van ratihabitio ten aansien van besluite van meerdere vergaderings uitgevoer (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Ratihabitio deur klassisse en partikuliere sinodes het daarop neergekom dat húlle aanvaarding van ´n bepaalde besluit van die meerdere vergadering deur die kerke in hulle ressort uitgevoer sal word. Dit kom neer op onvoldoende erkenning van die kerkraad se posisie en taak, aangesien geen meerdere vergadering namens ´n kerkraad besluite kan neem nie. Moontlik kan dit toegeskryf word aan die geringe vermoëns van die kerkrade in daardie tyd. Dit is ´n kerkhistoriese kwessie wat in die raamwerk van hierdie studie nie verder ondersoek kan word nie.
Omdat Christus alleen aan kerkrade regeermag gegee het, en hulle in die Gereformeerde kerklike lewe die enigste regeerkolleges is, en aangesien meerdere vergaderings geen permanente sittingsreg het nie, is kerkrade die enigste bevoegde instansies om besluite van meerdere vergaderings met die daad vir vas en bindend te hou, waaronder ratifiseer. Hierdie reg en plig van ratifikasie kom ook nie aan lidmate toe nie. Lidmate kan òf konformeer òf beswaar aanteken teen besluite van kerklike vergaderings.