Hoofstuk 5: Kerklike opsig, tug en dissipline

Opheffing van tug- en/of dissiplinêre maatreëls

66.1 Tugmaatreëls het berou en inkeer ten doel en word, met inagneming van Artikel 59.1 van die Kerkorde, opgehef in die geval van:

66.2 Lidmate
66.2.1 Wanneer ’n belydende lidmaat berou betoon nadat hy/sy onder sensuur geplaas is, hef ’n ondersoekliggaam of kerkraad wat oortuig is van die egtheid van die berou, die sensuur op.
66.2.2 Wanneer belydenis van geloof weerhou is, laat die kerkraad die dooplidmaat toe tot belydenisaflegging wanneer die tugliggaam oortuig is van die egtheid van berou.
66.2.3 Wanneer ’n lidmaat wat van die gemeente afgesny is, berou betoon en verlang om weer in die gemeente opgeneem te word, neem die kerkraad, as hy oortuig is van die egtheid van die berou, die persoon weer in die gemeente op met die gebruik van die betrokke formulier. By dooplidmate kan hierdie stap gepaard gaan met belydenisaflegging.

66.3 Ouderlinge en diakens
66.3.1 As die ring of sy gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam oortuig is van die egtheid van berou, kan die skorsing opgehef word. Ouderlinge en diakens wat afgesit is, kan dan weer verkies word tot die kerkraad.

66.4 Bedienaars van die Woord, emeriti en proponente
66.4.1 As die ring of sy gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam/kerkverband as werkgewer oortuig is van die egtheid van berou, word die sensuur en skorsing as tug- en/of dissiplinêre maatreël opgehef met verslag aan die Algemene Bevoegdheidsraad.
66.4.2 In geval van ontslag van ‘n werknemer volgens Artikel 64.5.4 van die Kerkorde, moet die ring die opskorting van lidmaatregte en die onthouding van die sakramente ophef voor die Algemene Bevoegdheidsraad die legitimasie kan herstel.
66.4.3 Herstel in diens van die gemeente/kerkverband kan alleen geskied na suksesvolle appèl en indien die appèlliggaam so beslis.
66.4.4 ‘n Gelegitimeerde wie se legitimasie deur tug- en/of dissiplinêre optrede beëindig is, kan slegs na colloquium doctum by ‘n proponentskommissie en na aanbeveling van ‘n kuratorium deur die Algemene Bevoegdheidsraad opnuut gelegitimeer word (vergelyk die Reglement vir die Reëling van die Bevoegdheid van Bedienaars van die Woord en Proponente).
66.4.5 In die geval van beëindiging van legitimasie deur tug- en/of dissiplinêre handeling as gevolg van ergerlike sondes/wangedrag soos owerspel, onsedelikheid, egskeiding, moord, meineed, diefstal of na beëindiging van legitimasie as gevolg van leerdwaling, mag toestemming tot legitimasie alleen by hoë uitsondering, nadat gunstige aanbevelings van alle betrokke kerkvergaderinge ontvang is, deur die Algemene Sinodale Moderamen op aanbeveling van die Algemene Bevoegdheidsraad, verleen word.


Kerkorde NGKerk (2011)

 

TREFWOORDEN

Berouw