Hoofstuk 3: Die vergaderinge van die kerk

3.2. Besondere bepalinge

3.2.3 Die sinode

33.1 Sinodes word op een van die volgende maniere — waaroor elke sinode self besluit — saamgestel:
33.1.1 uit een bedienaar van die Woord en een ouderling/diaken as afgevaardigdes deur die kerkraad van elke gemeente binne die sinodale gebied. Waar die pos vir bedienaar van die Woord vakant is, kan ’n ouderling/diaken in die plek van die bedienaar van die Woord afgevaardig word; óf
33.1.2 as ’n gemeente meer as een pos vir bedienaar van die Woord het, het die kerkraad die reg om meer bedienaars van die Woord en nog een ouderling/diaken vir elke bykomende bedienaar van die Woord af te vaardig, indien die sinode daartoe besluit. Waar in sodanige gemeente ’n pos vir bedienaar van die Woord vakant is, mag die kerkraad ’n ouderling/diaken vir die vakante pos afvaardig; óf
33.1.3 ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge/diakens uit elke ring in die sinodale gebied. Die sinode besluit op die wyse van afvaardiging en die aantal afgevaardigdes per ring.

33.2 Die teologiese opleiding word in adviserende hoedanigheid verteenwoordig deur ʼn NG dosent van die Teologiese Fakulteit Stellenbosch en/of die Teologiese Fakulteit Pretoria en/of die Teologiese Fakulteit Bloemfontein.

33.3 Vir elke afgevaardigde word ’n sekundus aangewys. ’n Ouderling/diaken mag as sekundus vir ’n bedienaar van die Woord optree.

33.4 Afgevaardigdes moet van geloofsbriewe voorsien wees.


Kerkorde NGKerk (2011)

 

TREFWOORDEN

Particuliere synode