Voorwoord

Kerkorde 2011 verskyn amptelik in koninkrykstyd! In die kerklike jaar word in koninkrykstyd gefokus op die werk van die kerk. Kerk-wees in die wêreld is die oorkoepelende tema. Dit gaan in hierdie tyd oor die roeping van die kerk om God se koninkryk, wat in Jesus Christus naby gekom het (Mk 1: 15), in ons wêreld sigbaar te maak. As gereformeerdes bely ons dat Jesus Christus die Koning van sy kerk is (Art 3.2). Kerklike bepalinge reël die kerklike lewe, maar die kerk word steeds deur Jesus Christus regeer. Die kerk se belydenis is op Christus se leer en lewe gegrond. Die ampte vloei voort uit Christus se dienswerk in die wêreld. Die kerkvergaderinge het ’n gesag deur Christus aan hulle verleen, wat in sy Naam uitgeoefen word. Die werk van die kerk is op die kragtige groei en die uitbreiding van Christus se koninkryk gerig. Die kerklike opsig en tug word tot heil van Christus se kerk beoefen en toegepas. Die kerk se betrekkinge na buite wil Christus se koningskap so ver en so wyd moontlik bevestig, verdedig en bevorder. Die NG Kerk het die keuse gemaak om ’n missionale kerk te wees. In ons sending na die wêreld nooi ons almal om soos ons vir Jesus Christus as Koning van die wêreld te erken.

Die kerklike bepalinge word in ’n kerkordeboek saamgevoeg om te dien as die corpus juris, die gesistematiseerde versameling van kerkordelike voorskrifte en riglyne wat gelowiges in dieselfde kerkverband aan mekaar verbind en by mekaar hou. Daar kan ook na die kerkorde as die familiereëls van dieselfde geloofsfamilie verwys word. In die Verslag van die Taakspan Strukturering wat voor die Algemene Sinode in Oktober 2011 gedien het, word die volgende antwoorde gegee op die vraag oor wat die NG Kerk se teologiese vertrekpunte oor kerkverband is:

  • Ons is mense aan wie God Drie-enig Hom uit liefde verbind, daarom leef ons in verbondenheid met God, met mekaar, en met sy wêreld.
  • Ons is huis- en reisgenote saam met God, daarom verstaan ons kerk-wees as struktuur én beweging.
  • Ons is ’n gereformeerde kerk wat bly reformeer, daarom soek ons voortdurend saam rondom Woord en belydenis na God se wil vir ons lewe.
  • Ons word deur God geroep en gestuur, daarom volg ons Hom in alles na en verbeeld en verklank so God se liefde en sy hier-wees in die wêreld.
  • Ons vorm deel van die een liggaam van Christus, daarom bly groei ons saam al is ons verskillend. Ons het mekaar nodig en vier ons saamwees voor God.
  • Ons is ’n kerk wat deur God se genade ’n lang pad met mekaar saamloop, daarom wil ons mekaar nie los nie.

Die sorgvuldige en konsekwente toepassing van die familiereëls dien die eenheid, heiligheid, omvattendheid en suiwerheid van die kerk. Die toepassing van die kerklike bepalinge moet die kerk beskerm teen verdeeldheid, wêreldsheid, uitsluiting en dwaling. Die toepassing van die reg in ’n geloofsgemeenskap moet gelowiges gesond, heel en gelukkig maak.

Dankie aan elke lid van die Algemene Taakspan Regte (ATR) en elke ander rolspeler wat die uiteindelike publikasie van die 2011-uitgawe van die NG Kerk se Kerkordeboek moontlik gemaak het. ’n Besondere woord van dank aan ds Helgard Janse van Rensburg, die ATR se hardwerkende en toegewyde skriba, vir die saamstel en tegniese versorging hiervan.

DR JOHANN ERNST (AKTUARIUS)
Algemene Sinode 2011


Kerkorde NGKerk (2011)

 

TREFWOORDEN

Kerkorde