Artikel 2 en 3

Wettige roeping tot bepaalde diens

 

Artikel 2: Daar is vier soorte dienste: die van die bedienaars van die Woord, die van die professore aan die Teologiese Skool, die van die ouderlinge, en die van die diakens. 

Artikel 3: Dit sal vir niemand geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof en Regeerder van sy Kerk

Nie die kerk nie, maar die koninkryk van God moet die vertrekpunt vir kerkreg en kerkregering wees. Christus het met die oog op die koninkryk van God na die aarde gekom (Mt 4: 17,23; Mk 1: 15; Lk 4: 43). Hy preek meer as honderd maal die koninkryk en maak slegs twee maal van die gemeente (kerk) in nou verband met die koninkryk melding (Mt 16: 19; 18: 17). Die twee keer staan ook in verband met die regering van die Koning oor sy volk. Die wese van hierdie kerkregering is dus monargaal.

Die Bybelse begrip “koninkryk” beteken oorwegend koningskap, koninklike heerskappy (Ridderbos 1950:41 ), dit wil sê die regering van God deur Christus en die Heilige Gees (Heid Kat S 21; NGB 7). Die regering van God oor sy skepping en ongelowige wêreld laat ons hier buite rekening.

Waar die evangelie van Christus geglo en Hy gehoorsaam word, kom die koninkryk op aarde en word die kerk van God bewaar en vermeerder. Die kerk is dus in besonder die koninkryk (regeergebied) van God (Heid Kat S 48; Calvyn Inst IV.2.iv). Die Gereformeerdes bely derhalwe dat Jesus Christus die enigste algemene Opsiener (Biskop) en enigste Hoof van die Kerk is (NGB 31; Van der Walt 1976).

 

2. Christus roep en gebruik mense in diens van sy Koninkryk

Rome (Kung 1973: 395-401 ) en die Reformasie aanvaar Christus as Hoof van sy kerk en die intieme verband tussen koninkryk en kerk. Hulle verskil egter

|27|

radikaal oor hoe Christus sy kerk regeer. Rome sê Hy doen dit deur die opvolging van biskoppe wat Hy in sy plek aangestel het en onfeilbaar deur die Heilige Gees lei (Mt 16: 18; Joh 20: 21-23). Die kerk (pous) verteenwoordig Christus op aarde en kan dus vir die koninkryk nuwe leerstellings neerlê, voorskrifte gee, sakramente instel en oor geestelikes regspreek.

Die Reformasie sê daarteenoor dat Christus self direk deur Woord en Gees in die harte van die gelowiges (die kerk) regeer (Heid Kat S 21). Hy gebruik egter nog mense in sy diens om die Woord en Sakramente te bedien, kerklike dissipline uit te oefen en onderlinge broederliefde te bevorder. In die kerk is daar net een Koning. Daarom moet die gesag van die amp altoos dienend van aard wees, ’n bediening van Woord en Gees waardeur Christus regeer (NGB 30-32; Inst IV.i.v; 2v; 3.i.viii). Gevolglik moet ons nie op die waardigheid of gawes van die herder let nie, maar op die kwaliteit van diens wat gelewer word (2 Kor 5: 7; Inst IV.1.v; 3.i). Die Reformasie het die Skrif as kriterium geneem om te bepaal of ’n kerklike dienaar of sinode Christus dien of vir homself gesag aanmatig (NGB 7,31 ,32; Inst IV.9.vii; 10.i).

Calvyn is ook versigtig teenoor die Wederdopers. Hy benadruk dat die Heilige Gees die kerklike dienste gebruik om die gemeente op te bou. Hy wil nie van ’n vrye “profete”-amp weet nie (Balke 1973:164).

Demokrasie en volksoewereiniteit het vanaf die 17de eeu die monargale model in die kerkregering begin verdring. Die “kerk” is nie meer as ’n “koninkryk” beskou nie, maar as ’n organisasie van mense. Kerkdienaars het “kerkleiers” geword. Hulle behartig die sigbare regering van die kerk, terwyl die koninkryk van God tot die onsigbare en hiernamaals behoort. Kerklike ampsdraers, kerkrade en sinodes word regeerders van die “sigbare kerk” (Dijk 1952:16). Gevolglik raak dit belangriker om te vra wat sinodes of die “kerk” eerder as die Bybel oor vraagstukke soos Skrifgesag, vrou in die amp, gesamentlike aanbidding, “lidmaatskap” en politieke sake sê. Kerklike gesag kan die gesag van Christus in sy kerk verplaas (NGB 29).

 

3. Die dienste gaan die kerk vooraf

Onder predikante kry jy “verkoopsmanne” en “dienaars” (Bandstra 1985:4). Die verkoopsman het die evangelie om te verkoop, terwyl die dienaar hom persoonlik aan die evangelie diensbaar stel. Eersgenoemde “besit” die evangelie, terwyl die evangelie die dienaar gebruik.

Sommige gereformeerdes neem die “kerk” as instituut (kollegium) as vertrekpunt. Die kerk gaan dus aan die ampte vooraf, het seggenskap oor die “ampte” en kan daarom “spesiale opdragte” aan bepaalde ampsdraers gee. Die ampsdraers is feitlik amptenare in “diens van die kerk”. Sommige word met die oog daarop selfs los van gemeentes en die primêre bediening van Woord, Sakramente en tug gemaak, solank dit werk vir of posisie in die kerk as instituut is.

Hierdie opvatting sluit grotendeels by Luther aan. Op sterkte van sy tweerykeleer het Luther die voorsiening van predikante vir die sigbare kerk van die “onsigbare” ryk van Christus losgemaak en aan die “sigbare” owerheid

|28|

opgedra. Predikant-wees kan so as ’n staatsbetrekking beskou word. So word die amp verhorisontaliseer as dit aan staat of kerk (mense) gekoppel word. Wanneer Rome en gereformeerdes egter die koninkryk van God as uitgangspunt neem, is die kerk ’n bepaalde resultaat van die koms van die koninkryk (Heid Kat S 48). Die dienaar is net ’n instrument, gereedskap, in die hand van Koning Christus waardeur Hy met sy Woord en Gees die gelowiges roep, vergader en bou. Daarvoor gebruik Hy verskillende mense in verskillende bedieninge van lering, vertroosting, vermaning, versorging, liefdesbetoon, regering en tug (Rm 12: 4-8; 1 Kor 12: 27-31; Ef 4: 11-16).

Die verskillende soorte dienste het die gemeenskaplike kenmerk dat hulle deur Christus ingestel en die dienaars deur Hom geroep is om sy genadegawes aan die kerk (gelowiges) mee te deel. Daar moet dus eers dienste (ampte) wees, voordat daar ’n kerk kan wees (Mt 28: 19; Rm 10: 13-17; Inst IV.1.v.xii).

Die Kerkorde handel derhalwe eerste oor die dienste (artt 2,16,18,23,25,26) voordat daar oor vergaderings van die dienaars (kerkraad) en van kerke (sinodes) gehandel word. Selfs die Franse Kerkorde van 1559 (Pont 1981:50) wat met vergaderings begin, berus op die veronderstelling dat daar reeds predikante, ouderlinge en diakens in die verskillende gemeentes dien.

Die ampte is dus nie kerklike posisies nie, maar bedieninge waardeur die Koning (Christus) sy volk versorg en regeer. Elke aspek van ampsbediening moet die kerk (gelowiges) versorg (Dijk 1952:30). Christus bepaal dus wat die diens inhou en wie dit moet doen. Christus staan in direkte verhouding tot die dienaar in die bepaalde diens. Die Hoof van die kerk gee bepaalde mense vir bepaalde dienswerk aan die liggaam, die gemeente. So word elke bepaalde dienaar as ’n gawe aan die gemeente gegee (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11; Spoelstra 1971b:33; 1976:44). Hy is vir die uitoefening van sy diens aan Christus verantwoordelik, terwyl die hele kerk daaroor toesig het.

Van God se kant noem die Bybel die dienste gawes (charismata) en van die gemeente se kant dienste (diakoniai) (Ridderbos 1966:492v).

 

4. Die begrip “diens”

Met Christus as uitgangspunt is kerklike dienaars nie diensknegte of werknemers van die kerkraad of gemeente nie. Hulle is diensknegte, slawe, arbeiders, bestuurders van Christus (Rm 1: 1; 15: 16; 1 Kor 4: 1; Fil 1: 1). Jesus Christus het die apostels self geroep (1 Kor 1: 1) en deur die wil van God aan die gemeente van God gegee (2 Kor 1: 1 , vgl Gl 1: 1 , Ef 1: 1 ens). Paulus beskou homself as ’n “gevangene” van die Here (Ef 3: 1 ). Hy het ’n dienaar van die genade van God geword volgens genadegawes wat hy ontvang het (Ef 3: 7). Hy sluit ook die evangelis Timoteus by hom onder die terme dienaar (diaken) in (Fil 1: 1, vgl Ts 1: 1; 1 Tm 3: 1,10,12,13 vir begrip dien). Aan die ander kant word iemand soos die vrou Febe, wat nie een van die besondere dienste beklee nie, die dienares (diaken) van die gemeente genoem (Rm 16: 1).

Die begrip diens (diakonia) wat die Skrif ten opsigte van Christus, sy apostels, ander dienaars en vroue gebruik, het die Grieke en Jode nie aangestaan nie. Hulle wou onderskeidelik as elite of kinders van Abraham vereer word. Die woord “diaken” het egter ’n tafelbediende, een van die geringste slawedienste,

|29|

aangedui. Die woord “diens” het selfs in Afrikaans die betekenis van werk onder gesag van iemand anders (HAT 1965:11 5; Van Dale 1950:390). Juis hierdie woord diens (diakonia) gebruik die Skrif vir werk wat in ’n besondere verband met God en Christus met die oog op die gemeente gedoen word (Spoelstra 1971b:32v; 1976:41-44) Die pous het selfs die titel van dienaar (slaaf) van die dienaars (servus servorum) geërf.

In Nederlands beteken die woord amp nog werk of “diens”, alhoewel dit ookal op ’n eervolle openbare betrekking dui (Van Dale 1950:131). In Afrikaans beteken “amp” uitsluitlik “betrekking”, posisie, waardigheid of status wat aan ’n eervolle diens in die samelewing verbind word (HAT 1965:34). Terwyl “amp” vandag by voorkeur gebruik word, verraai dit dat die kerklike diens as ’n eervolle posisie of waardigheid beskou word en sy oorspronklike betekenis verloor. Amp as posisie ontstaan wanneer die “amp” aan die kerk gekoppel word. Mense praat dan van diens van koster en orrelis, maar van die amp van predikant.

Die begrip amp kom nêrens as sodanig in die Nuwe Testament voor nie (Spoelstra 1976a:42v). M Bouwman (1937) neem egter die begrip “ampsdraer” (iemand wat die eer dra) as uitgangspunt vir die kerkregering. Kleynhans beskou die “ampte” as posisies wat Christus met die oog op die kerkraad ingestel het en wat daarom gesag besit (1985:36-38). So verloor die begrip “amp” maklik sy diens-(diakonale) karakter.

Verdere besware kan teen die begrip “ampsdraer” ingebring word. Dit differensieer nie tussen die verskillende dienste, take en gawes wat die Here gee nie, terwyl die Bybel telkens iemand konkreet as ouderling of apostel aandui (1 Kor 12: 28, Ef 4: 11). Die benaming “ampsdraer” begunstig ’n klerikale stand teenoor die gemeente. Dit versterk die verkeerde opvatting dat die “ampte” in die kerk aktief mag optree, terwyl die gemeente passief moet bly of eers toestemming van die “ampsdraers” kry voordat hulle iets mag onderneem. Daarin skemer iets van die Roomse clerus en leke-opvatting deur. Die dienste moet tog juis die gelowiges beweeg om vryelik te onderneem, so lank hulle nie teen die Woord of Wet van Christus gaan nie.

 

5. Buitengewone en gewone dienste

Die vier dienste wat die Kerkorde erken, moet onderskei word van die buitengewone dienste soos van profete en apostels deur wie Christus grondliggende werk gedoen het (Ef 1: 22; 2: 19-22; Hb 1: 1; 2 Pt 1: 16-19). Hierdie apostels het ouderlinge, diakens en evangeliste of leraars aangestel (Hd 6: 2-6; 14: 23; 1 Tm 1: 18; 3; 4: 6-16; 2 Tm 2: 3; 4: 4) wat weer ander opsieners, leraars en diakens moes aanwys. Oor wat die diens van “evangelis” behels het, heers daar vandag onsekerheid. Een beskou dit as ’n buitengewone diens, ’n ander selfs as helper vir die sendeling (Floor 1964). Dit kon ook net ’n ander benaming vir die diens van latere predikante en sendelinge gewees het (Spoelstra 1968:45).

In sommige vroeë kerke het ook buitengewone en tydelike dienste van gesondmaking en uitlê van tale voorgekom (1 Kor 12: 30; 14: 5,13,28; Koole 1949:82-90). Calvyn het grootliks van Ef 4: 11 gebruik gemaak en die vier

|30|

gewone dienste onderskei wat die goeie orde volgens 1 Kor 14: 40 in die kerk van Christus verseker (Inst IV.3.iv-x; Spoelstra 1982:243-248).

In die vroeë kerk het een dienaar soms meer as een diens verrig (Hd 6: 5; 8: 33-38; 1 Tm 5: 17). Daar is dus nie vir elke taak ’n afsonderlike diens ingestel nie. Omdat die begrip “amp” nie in die Skrif voorkom nie, hoef die vraag of daar twee ampte (ouderling en diaken) en vier dienste of drie ampte (predikante, ouderling, diaken) en vier dienste bedoel word, nie beantwoord te word nie. Die werk wat ’n persoon doen, waartoe hy geroep en bevestig is, en wat die Formulier omskryf, bepaal sy amp (GKSA 1964:100).

Sommige kerkregtelikes verwys na die ampte van Christus (Heid Kat S 12) en noem die predikantsamp die profeteamp, die ouderlingamp die koninklike en die diakenamp die priesterlike. Die dienste is egter so verstrengel dat diê skema nie opgaan nie (Dijk 1952:227).

 

6. Onderskeie dienste

Elke dienaar moet ’n bepaalde diens vervul. Die diens word uit die Skrif in die Formuliere omskryf. Die gereformeerde kerkregering is presbiteriaal (presbiter = ouderling), omdat Christus elke ouderling afsonderlik geroep het om met die herderstaf van die Woord te regeer. Wanneer sy regering vrug dra, is die koninkryk van God gedien en het die kerkraad daar niks mee te make nie (kyk Mt 18: 16; artt 16,23,71-76). Elke predikant vervul ook so sy leerdiens, professor sy opleidingstaak en diaken sy versorgingstaak op gesag van Christus wat hom geroep het. Die een mag nie die diens oorneem of indring in ’n diens waartoe ’n ander geroep is nie (kyk art 80).

 

7. Christus gee dienste met die oog op die gemeente

Calvyn begin sy uiteensetting van kerkregering met die gemeente wat God tot die ewige lewe uitverkies en deur sy Woord en Gees vergader (Inst IV.1). Die gemeente is nie daar ter wille van die dienste nie, maar die dienste is daar met die oog op die gemeente (Hd 20: 28; Rm 12: 4; Ef 4: 11-16; 1 Tm 3: 5; 4: 16; 2 Tm 4: 2v; Dijk 1952:30). Die belangrikste dienswerk of amp is om as gelowige die Here te dien. Daartoe moet die besondere dienste (ampte) die gelowiges toerus (Rm 12: 6-8). Hulle moet doen wat vandag dikwels van die besondere dienste verwag word. Elke besondere diens moet ’n bepaalde faset van kerkwees in die Christene bevorder. Die besondere dienste beantwoord aan hulle doel wanneer die gelowiges diens aan die Here en mekaar lewer en hulle amp vervul.

Die diens van predikant beklee by Calvyn ’n belangriker plek as die ander dienste omdat God daardeur die gelowiges (kerk) roep, wedergebore maak, vergader, bou en tug (Inst IV.1.i.xii). Hieroor was Calvyn se mening: “God has ordained both the preaching of the Word and the administration of the sacraments, and when coupled with the efficacious working of the Spirit they constitute the order which marks the church…” (Milner 1970:123v). Die kerk is in wese nog “wordende gemeente” (Bavinck 1918:311) en daarom het God

|31|

dienste gegee om die gelowiges steeds meer te maak wat hulle in Christus reeds is (Ef 4: 11v).

Die beroeping en bevestiging van dienaars (artt 4,5,22 en 24) is die enigste aspek van instituering wat in gereformeerde kerkreg op gemeente-organisasie wys (Bavinck 1918:362v). Daar is nie sprake van “kerk” instituering nie, maar wel van instituering van bepaalde dienste.

 

8. Algemene kenmerke van die dienste

Die kenmerke van die dienste (ampte) moet in ag geneem word wanneer vrae oor vroue in die amp, meer of minder ampte, ensovoorts gevra word (Spoelstra 1971 a en b; RES 1972:167-204; 52-60). Die Gereformeerde Ekumeniese Sinode het in 1972 na Skrifondersoek grootliks eenstemmig oor die karakter van die dienste geoordeel. Elke diens dra ’n teosentriese karakter (Joh 20: 21; Mt 28: 19; NGB 31). Dit is God wat daardeur werk. Daarom het die Here self die dienste deur die apostels ingestel en as voorskrif aan Timoteus, Titus en ander deurgegee. Dit bly egter dienste, omdat Christus die absolute, sentrale en enigste Opsiener van sy kerk moet wees. Die dienaar in sy diens (amp) is instrument van Christus en nie ’n funksie wat die kerk vir sy doeleindes nodig ag nie. Die instrument moet hom onderwerp aan die een wat hom gebruik (Goumaz 1964:16).

Die diens dra gevolglik ’n verteenwoordigende (gesantskap) karakter. Christus gebruik die diens om self by die gemeente teenwoordig te wees. Die dienaar moet dus Christus bring en bly aan Hom verantwoording verskuldig. Terwyl Rome sê dat die biskop deur die Gees gelei word om namens Christus te regeer, sê die Gereformeerdes dat die dienaar die Woord wat die Gees gebruik, moet bedien. So is Christus by sy kerk nie in die bedienaar nie, maar in die bediening teenwoordig (Calvyn Inst IV.3.i; 6.ix; 8.ii; NGB 31).

Wanneer ampte aan die kerk ontleen word (vgl RES 1968:146v; 1972:187, 191), word alle kerklike aktiwiteit aan die ampte gekoppel, iemand moet dus eers ’n besondere amp beklee om in die koninkryk van God te kan werk! Met hierdie klerikalistiese argument word gepleit dat vroue besondere ampte moet beklee (vgl RES t.a.p.).

In die Bybel staan die inhoud van die betrokke diens voorop (Ridderbos 1966:496). As sodanig dra die gewone dienste ’n charismatiese karakter, sonder dat dit beteken dat die begaafste persoon die diens moet verrig. Gawes word aan die hele gemeente gegee. Die primêre vraag is dus nie of iemand die meeste gawes ontvang het nie, maar of hy genoeg gawes vir die uitoefening van die diens ontvang het. Daaroor moet die gemeente oordeel wanneer hulle iemand tot diens roep.

 

9. Vereistes vir die dienaars van Christus

Die Skrif bepaal vereistes waarvolgens die dienaars gekeur moet word (1 Tm 3; Tit 1: 5v ens). Daaroor word meer in besonder by ander artikels gehandel.

|32|

10. Goeie orde vereis wettige beroeping

Artikel 3 is feitlik regstreeks aan Calvyn ontleen. Goeie orde en welvoeglike optrede (1 Kor 14: 40) vereis dat iemand in die kerk van die Here wettig tot ’n besondere diens beroep moet word (Inst IV.3.vii.x). Die gemeente is middel wat Christus gebruik om te beroep en moet toesig hou oor wie en hoe dienaars in hulle amp gestel word (Inst IV.3.xi).

In beroeping werk goddelike en menslike faktore van koninkryk en kerk geheimnisvol saam. Christus roep sy dienaars deur die werk van die Gees (Hd 9: 6; 20: 28 vgl Rm 1: 1; 1 Kor 15: 8-11; Gl 1: 1,10; 5: 25). Die gelowiges moet dit opmerk, die dienaars uitken, aanwys en erken (1 Ts 5: 12; 1 Tm 3; 5: 22; Tit 1: 7; 1 Joh 4: 1). Hulle moet vir die valse profete wat voorgee, oppas (2 Pt 2: 1 v; 1 Joh 2: 18; Jd 4).

 

11. Inwendige en uitwendige roeping

By die roeping tot diens is daar drie instansies betrokke, naamlik Christus, die persoon wat van die roeping bewus word en die gemeente wat die roeping erken. So het gereformeerdes tradisioneel tussen inwendige en uitwendige roeping onderskei.

Die Skrif sê dat niemand die eer van ’n heilige bediening vir homself aanneem nie. Hy moet soos Aaron deur God geroep word (Hb 5: 4). Reeds in die vroegste Nuwe Testament-kerke het mense na vore gekom wat op ’n besondere roeping en spesiale gawes aanspraak gemaak het. Die aanspraak kan waar of vals wees. Die gelowiges moes dus versigtig en verantwoordelik die geeste beproef en nie maklik iemand wat hom aandien, in ’n besondere diens stel nie (1 Tm 5: 22; Hd 20: 29-30; Gl 1: 9-10). Hoewel Paulus eers die gemeente vervolg het (1 Kor 15: 9; 1 Tm 1: 13), het God hom tog al voor sy geboorte bestem maar eers later deur sy gebede geroep (Gl 1: 15) om apostel, leraar en prediker (2 Tm 1: 11) te wees.

Onder die innerlike roeping verstaan Calvyn ’n werk van God in die hart van die mens waardeur hy bewus en oortuig raak dat hy uit liefde vir God en begeerte om die kerk te dien, die bepaalde diens sou wou verrig. Hy moet seker wees dat hy die begeerte nie uit eersug of ter wille van byvoordele koester nie (Inst IV.3.xi).

Die eerste vraag in die Bevestigingsformuliere “of u in u hart voel”, het op hierdie “innerlike roeping” betrekking. Die innerlike roeping kan slegs waar wees indien die persoon oor die nodige gawes vir die diens beskik, standvastig na die diens strewe en die weë vir so ’n persoon ook oopgaan. Die uitwendige moet op die innerlike roeping die seël plaas (Bavinck 1918:415). Net soos wat daar naam-Christene en hipokriete onder die Christene gevind word (Inst III.14.i.ii), kan mense ook valslik voorgee dat hulle die innerlike roeping het.

Die innerlike roeping word egter deur sommige betwyfel (Runia 1982) Runia sê die hele gemeente word innerlik geroep na die heil in Christus (Rm 1: 6,7; 1 Kor 1: 9; 1 Ts 2: 12), dissipelskap en navolging (1 Kor 11: 1; Ef 5: 1; 1 Pt 2: 21), bepaalde gedrag (Ef 4: 1; 1 Ts 2: 11,12) en tot verkondiging van Christus (1 Pt 2: 9). Volgens hom is daar nie spesiaal van 'n innerlike roeping tot die amp

|33|

sprake nie en ken kollegas en predikante in die Gereformeerde Kerke van Nederland nie so iets nie. Hy bevind egter dat hulle in aansluiting by 1 Tm 3: 1 van ’n begeerte of verlange na die predikantsdiens kan getuig, wat hulle ten spyte van uitwendige en innerlike weerstande en moeilike teologiese studie behou. Runia wil dus liewers van die begeerte tot die amp in plaas van innerlike roeping praat.

Klaarblyklik koester Runia ’n professionele en kerkgesentreerde uitgangspunt. Die “verlange na die diens” (van predikant) val vir hom op presies dieselfde vlak as die begeerte om onderwyser, dokter of ambagsman te word. Die “amp” is dan ’n gewone “beroep” waarin ’n gelowige God dien en daarom ag hy daarvoor geen inwendige roeping nodig nie. Hierdie opvatting pas in die Gereformeerde Kerke van Nederland waar die kerk as ’n gewone samelewingsverband soos skool, industrie of staat beskou word (Nauta 1971:7,9,123). Iemand gaan werk (“job”) in die kerk soos ’n onderwyser dit in die skool gaan doen, omdat hy daarvoor opgelei is. Wie egter van Christus as Hoof van sy kerk (NGB 31; Heid Kat S 21) uitgaan en die vier dienste aan Christus en nie aan die kerk ontleen nie, moet aan innerlike roeping bly vashou. Wie dit loslaat, sny die band tussen Christus en die diens waarin Hy hom by die gemeente verteenwoordig, af.

Die uitwendige roeping kom wanneer die kerk van die Here (die gelowiges) na ondersoek en aanlê van die kriteria wat die Skrif vereis (vgl 1 Tm 3; Tit 1: 5-11), verantwoordelik en versigtig iemand met die bepaalde diens konfronteer. Calvyn het beklemtoon dat die gemeente die dienaar moet goedkeur, erken en aanvaar (Inst IV.3.x-xv). Hulle behoort hom dus te ken.

 

12. Vroue en die besonder dienste

Vroue het tydens Jesus se lewe op aarde en in die vroegste kerke aktief in die amp van die gelowige aan die uitbreiding van die evangelie meegewerk (bv Mt 28: 4; Lk 24: 10; Hd 18: 26; Rm 16; 1 Tm 5; Tit 2 ens; Spoelstra 1971 a en b). Vandag word beweer dat die apostels op grond van die kultuursituasie vroue in daardie tyd openbare optrede en toelating tot die ampte ontsê het. Die feit dat vroue egter in Korinthe die reg en vryheid gehad het om in die gemeente hulle mans teen te staan, sodat die apostel moes ingryp, bewys dat vroue destyds wel kon optree (1 Kor 14: 34-37; 1 Tm 2: 9-15; Tit 2: 3,4). Die apostel sluit hulle dus om ander as kulturele redes by evangeliediens in maar van die besondere ampte uit.

Weliswaar kom die aandrang om vroue tot die ampte toe te laat uit die huidige kultuursituasie op. Nuwe denkbeelde het oor die rol en verhouding tussen man en vrou, seksualiteit, die huwelik, beroepslewe, kiesreg van die individu, outonome selfverwesenliking en menseregte na vore gekom. Gevolglik word geredeneer dat vroue tot die besondere ampte toegelaat moet word om diskriminasie uit te skakel, pragmaties voordeel vir die “kerk” te behaal, vroue hulle self te laat verwesenlik en om die kerk bytyds te hou. Dit word met vroueaktiwiteite in die vroeë kerke uit die Bybel gemotiveer (RES 1968:144-160; Kleynhans 1984:106-143).

|34|

Wie aanvaar dat die “kerk” as regspersoon oor die gesag beskik om oor “sy ampte” te besluit, kan vroue in die amp akkommodeer. So het die Ned Herv Kerk alle ampte en verskillende Ned Geref Kerke die diakenamp vir vroue oopgestel (Kleynhans 1984:143-161). Die kollegialisme beskou dat die kerk sy werk na die ampte delegeer. Hierdie opvatting stimuleer die verval en passiwiteit van die amp van die gelowige wat op sy beurt roep om die ampte vir vroue oop te stel.

In Roomse kloosterordes, by Metodiste en in sendinggenootskappe het vroue sonder om kerklike ampte te beklee, ’n groot rol gespeel. Die Gereformeerde kerklike lewe in Nederland en Suid-Afrika het vroue ongetwyfeld (moontlik op kultuurgronde) grootliks passief gehou. Hulle kon slegs beskeie aktiwiteite, soos om fondse in te samel, onderneem. Dié praktyk mag selfs op ’n verkeerde filosofie berus dat die vrou die mindere van die man volgens die Skrif sou wees. Daardeur het die gereformeerde vrou na buite vir die koninkryk van die Here werkloos geraak. Die koninkryk is vergeet en die kerk vir mans geannekseer. Vroue moes by die “kerkraad” toestemming gaan vra om iets in die “kerk” te doen. Hulle mag nie buite die kerkraad om inisiatief vir die koninkryk neem nie. Die “kerkraad” tree op soos ’n bestuur van ’n genootskap omdat die “kerk” en nie die koninkryk nie, as uitgangspunt geneem word.

Die opsieners moet oor die diens en werk van gelowiges toesig hou (Ef 4: 12-16). Hulle moet daarom lerend en dissiplinerend ingryp wanneer gelowiges (ook vroue) teen die Skrif of Belydenis oortree. Dit beteken egter nie dat slegs die opsieners inisiatief mag neem of besluit wat die gelowiges vir die koninkryk van God wil of moet doen nie. In die Gereformeerde kerke het ’n ontsaglike skat aan vroue-diens verlore gegaan.

Die kerkregtelike implikasie van die koningskap van Christus sluit vroue van die regeerampte of opsienerdiens uit (RES 1972:58, 59-60). Die Skrif leer dat Christus manne aangewys het om Hom as Koning by sy volk te verteenwoordig. Hierdie verhouding stel die Skrif in Ef 5: 23 normatief vir die huwelik. Christus wil Hom dus as Koning in die amp van regering deur die man as gesinshoof in die kerk laat verteenwoordig. Die uitsondering om hierdie reël te bevestig, sal totale afwesigheid van manne en uiters abnormale en buitengewone omstandighede vereis. Firet argumenteer tereg dat die ampte vir vroue op ander as Bybelse gronde oopgestel moet word (RES 1972:53; Spoelstra 1985:43-48; vgl Vorster 1984). Wie die Skrif as norm neem (NGB 7), moet met die vroeë Christelike en Roomse episkopaalse tradisie aanvaar dat die openbare opsienersdiens deur manne verrig moet word.

Aan die ander kant vereis die koninkryk van God dat die amp van gelowige teenoor die besondere dienste herwaardeer moet word. Vroue moet vry kan werk en kan as kragte by die besondere dienste betrek word. So kan verhoed word dat die kerklike lewe in sy instellings stol (Spoelstra 1989b).

|35|

B. Kerkregering

1. Redaksie van artikel 2

Calvyn het reeds in 1537 in Genève ordereëls vir predikante en diakens ingestel. Bucer het in Straatsburg (1538-1542) plek vir die regeer-ouderling naas die predikant ingeruim (Van ’t Spijker 1970:3,439). Die doktore-amp (doceo vir leer, onderwys, lesings hou) is met die oog op opleiding van predikante en kategete ingestel (Pont 1981:23 art 2).

In die abnormale omstandighede van 1571 wys die Sinode van Emden “lesers” aan vir die plekke waar geen predikante is nie (Pont 1981:98v), maar sê niks oor opleiding van predikante nie. Toe die kerklike toestande enigsins gestabiliseer het, maak die Kerkorde van 1581 vir vier dienste voorsiening. Die dienste word volgens funksie benoem en onderskei (Biesterveld, Kuyper 1905:142 artt 1,2).

“Doktor” dui vandag ’n akademiese graad aan en nie noodwendig ’n leraar (dosent) nie. Gevolglik oorweeg Sinode Potchefstroom om “doktore” met “professore in die teologie” te vervang, maar besluit daarteen omdat alle professore in teologie (bv by Unisa) nie noodwendig predikante oplei nie. “Doktore” word vervang met “professore aan die Teologiese Skool” (1964:67). Die huidige bewoording bevredig nie. Dit klink asof die diens aan ’n “Skool” buite die kerke gelewer word. “Leraars (of dosente) vir die opleiding van predikante” sou ’n meer kerklike benaming wees. Nie die band met ’n instituut soos ’n Skool nie, maar die aard van die besondere diens (2 Tm 2: 2; art 18) moet die kerklike diens bepaal.

 

2. Redaksie van artikel 3

Op die oog af bepaal artikel 3 net dat wettige roeping vir predikante noodsaaklik is. Calvyn noem die predikante biskoppe (opsieners) en herders, terwyl ander ouderlinge nooit biskoppe genoem word nie (Inst IV.3.iv,vii,viii). Die ou Kerkordes stel gevolglik die noodsaaklikheid van roeping ten opsigte van die diens van die Woord terwyl roeping voorvereiste is vir al vier dienste. Die eerste kernvraag in die Bevestigingsformuliere vra by elke amp na die innerlike en uitwendige roeping.

Die Sinode van Dordrecht 1578 stel voorop dat net persone wat ten opsigte van leer en lewe goed “beproef” was, bekwaam is om onderwys te gee en oor goeie getuienis van binne en buite die gemeente beskik, tot die diens van predikant beroep mag word, en so ’n dienaar moet bewus wees dat hy deur God (innerlik) en die gemeente (uiterlik) “wettig beroep” is (Pont 1981:130).

Die Sinode van Middelburg 1581 bepaal in artikel 3: “Dit sal vir niemand, al is hy Doktor, Ouderling of Diaken geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep is nie. En as iemand hierteen handel … sal die Klassis oordeel of hy as skeurmaker verklaar … moet word” (Kuyper, Biesterveld 1905:142). Die Sinode van Potchefstroom 1964 het sonder om te motiveer die roeping tot predikante beperk en die strafmaatreëls weggelaat.

|36|

Mense is geneig om te dink dat universitêre opleiding die essensiële vereiste vir die diens van predikant is. Roeping bepaal egter wie mag preek en sakramente bedien. Iemand wat opgelei is as predikant en oorgaan tot die beroepslewe (artikel 12) verbeur die reg om Woord en Sakramente te bedien omdat hy nie meer die roeping van God (innerlik) en van die gemeente (uiterlik) het nie. Van der Linde noem ontslane predikante “lopers” wat onder dekmantel van ’n “stigtelike woord” of “preeklees” in gemeentes met hulle eie preke voorgaan (1983:12). Wanneer die diens van predikant horisontaal en pragmaties as ’n professie in ’n “kerk” beskou word, word nie op roeping gelet nie. Niemand wat hom van die Here geroepe voel om predikant te wees, sal die diens verlaat om buite die kerk van Christus te gaan werk nie.

 

3. Vier verskillende dienste

Die Latynse vertaling van die Kerkorde in 1619 noem die dienste by artikel 2 functio (werking, taak), terwyl dit by artikels 16,23,25 officium (amp of plig, taak, diens) en by die doktorediens in artikel 18 munus (taak, diens, plig, amp, pos, werk) gebruik. Dit lyk asof artikel 2 ’n wyer begrip as die ander artikels gebruik (GKSA 1964:67). Die offisiële Nederlandse Kerkorde van 1619 gebruik egter in artikel 2 “dienste” en by artikels 16,18,23 en 25 konsekwent die woord “amp” in die sin van 'n diens (ambag) wat verrig moet word. Amp moet nie teenoor diens gestel word nie.

 

4. Verskillende artikels reël saam een diens

Artikels 2 tot 17 en 28 het gelyktydig en saam betrekking op die een diens van predikant. Artikel 4 sluit woordeliks en kwalifiserend by artikel 3 aan. Net so reël artikel 2 saam met artikels 16,17,22,23,24,25,26,27 onderskeidelik die dienste van ouderlinge en diakens. Ons het in die Kerkorde een orde wat in verskillende artikels beskryf word. Daarom geld artikel 3 ook vir ouderlinge en diakens (vgl Middelburg 1581).

In die 16de eeu het die staat predikante in gemeentes en professore aan die Universiteite aangestel. Gevolglik kon die kerke nie die opleiding van predikante in eie reg reël nie (Pont 1981:207v). Die ou beginsel van die staatskerk (jus patronatus in sacra) begin gedurende die 19de eeu verval. Die Afskeiding van 1834 herstel die kerklike opleiding en dra dit aanvanklik aan dienende predikante op. Die basiese beginsels vir predikante geld dus ook vir professore. Sodra ’n professor tot suiwer universitêre diens (al is dit in teologie) oorgaan, is hy nie meer aan die wettige roeping van die kerk onderhewig nie en moet hy sy amp neerlê (art 12). Hy tree dan immers uit die kerk by ’n universiteit in diens.

 

5. Dienste en hulpdienste

Naas die buitengewone en gewone dienste, bied die Skrif voorbeelde van dienste met die oog op tydelike behoeftes (1 Kor 12: 30, 14: 5,28), en van ander

|37|

kragte en hulpdienste wat die ampsdraers bygestaan het. Onder hulle was selfs vroue (Rm 16: 3,12,13; Hd 9: 36; 1 Tm 5 ens). Vandag word redelik algemeen van katkisasie-onderwysers in die leerdiens van predikante, helpers by sendelinge en in enkele gevalle vroue as hulp vir die diakens gebruik gemaak.

Die voorbeeld van die apostels (vgl Rm 16) laat ’n groot veld braak vir predikante, ouderlinge, diakens en professore om manlike en vroulike helpers te gebruik om hulle onderskeie dienste beter te kan uitvoer, byvoorbeeld waar ouderlinge damestehuise of alleenwonende vroue of vroue met besondere probleme moet besoek, mense moet troos. nuwelinge moet opvang; diakens behoeftes by gesinne moet vasstel, mense moet versorg; die evangelie op die sendingveld gebring word, swart kerke voorgelig of ontmoet word, ens. Hulpdiens kan geskied sonder dat die hulpkrag in ’n diens bevestig word soos katkisasie-hulpkragte predikante se leerdiens aanvul sonder om in ’n “amp” bevestig te word. Elke ouderling en diaken moet egter ten volle die leiding behou en verantwoordelikheid bly dra vir die diens waartoe hy deur die Here geroep is.

Waar geloviges in die amp van die gelowige op eie inisiatief of op versoek van ’n ampsdraer diens lewer, is geen “toestemming” daarvoor van die kerkraad nodig nie. Selfs in ’n kontensieuse tugsaak verleen die Skrif in Mt 18: 16 aan ’n hulpkrag by 'n ouderling diskresionêre bevoegdheid. Eers wanneer ’n ouderling in opdrag van ’n kerkraad optree (kyk by artt 75,76), kan hy slegs met medewete en toestemming van die kerkraad van hulpkragte gebruik maak.

Talle ander dienste, soos dié van koster, orrelis(te), tuinier en byvoorbeeld huisouers van ’n tehuis, word ten behoewe van die hele gemeente onder sorg van die kerkraad en diakens gelewer. Hierby kan funksionarisse soos voorsitter, skriba en kassier gereken word. Die hulpdienste moet die amptelike dienste aanvul en die diens van die gelowiges stimuleer en nie verplaas nie.

 

6. Die ondersoek na roeping

Die bevestigingsformulier stel iemand met die eerste vraag in sy gewete voor die innerlike sowel as die uitwendige roeping. Die kerk (gelowiges) moet voortdurend kyk of teologiese studente uit of in hulle midde met leer en lewe bewys lewer dat hulle tot die diens geroep is. Anders as predikante, kan ouderlinge, diakens en professore eers na ’n uitwendige beroep innerlike roeping oorweeg. In daardie stadium moet die kerk (gelowiges) ook op hulle leer en lewe let.

 

7. Niemand kan gelyktydig meer as een diens vervul nie

Die Here het nie “poste” in ’n “kerk” geskep nie, maar gee iemand in ’n bepaalde funksie as leraar, herder of diaken aan die kerk (gelowiges). Dieselfde persoon kan nie verskillende “funksies” gelyktydig op hom neem nie. Hy is of tot leraar, of tot ouderling of tot diaken geroep. Namate die kollegialisme “ampte” as funksies waaroor die kerk as ’n instituut besluit, beskou het, het in die GKSA ’n praktyk ontstaan om geëmeriteerde predikante (of teologiese professore) nog ook as ouderlinge te beroep en te bevestig sonder dat hulle

|38|

ontslag neem. Sodoende kon ’n professor as ouderling na ’n meerdere vergadering afgevaardig word, daar as voorsitter verkies word asof hy as predikant afgevaardig was, terwyl hy nog as teologiese professor kon optree.

Die kerke het die praktyk beëindig. Iemand wat die naam en eer van een amp dra, mag nie tegelykertyd in ’n ander amp bevestig word nie. Die werk wat iemand doen, sê in watter diens hy staan. Indien hy ’n ander amp wil bedien, moet hy van sy vorige amp losgemaak word (GKSA Acta 1964:100; 1967 pt 5b). Tans emeriteer professore omdat hulle op ouderdom 65 jaar “tegnies seniel” verklaar word en word hulle sonder ontslag uit die amp van professor weer as predikante beroep en bevestig. Dit plaas ’n vraagteken agter die lewenslange roeping van die Here tot ’n bepaalde diens (art 12) en die gronde waarop professore emeriteer word (art 13). Durf die kerke ’n geroepene van God aan wie God nog klaarblyklik gawes van gesondheid gee, ontslaan? Dit lyk asof koppeling met die Universiteit die diens van professor weer soos in die 16de eeu grootliks gesekulariseer het.

 

8. Wie is ’n “wettig” beroepe predikant?

“Wettig beroepe predikante” is deur ’n kerk in kerkverband volgens die Kerkorde of deur kerke met wie “enger korrespondensie” (art 52) beoefen word, as predikant beroep en bevestig.

Gereformeerdes erken egter ook van die begin af dat in ander kerkgemeenskappe met wie nie korrespondensie beoefen word nie ook “wettige” predikante dien, al het hulle selfs op gewetensgronde van daardie kerke afgeskei (vgl Afskeidingsverklaring 12.1.1859 in Postma 1905:124). Op versoek van die NG Kerk van die OVS wys die Sinode van Pretoria dat elke kerkraad moet besluit watter “evangeliedienaar” hy op die kansel toelaat. Die kerkraad moet hom daarvoor aan die gemeente en meerdere vergaderings kan verantwoord. Gevolglik moet elke kerkraad vooraf vasstel dat so ’n predikant regsinnig is en in goeie trou staan (GKSA 1882:34).

Die toesig oor wie op die kansel toegelaat word, is ’n basiese “eie saak” en reg van elke kerkraad (artt 15,30: Hd 20:28-31). Geen ander kerkraad, klassis of sinode kan ’n kerkraad hierin voorskryf nie. Indien ’n kerkraad egter iemand sou toelaat wie se regsinnigheid en goeie trou ten opsigte van die gereformeerde leer en lewe onder verdenking is, moet die kerke daardie kerkraad in die klassis tot verantwoording roep.

Indien ’n kerkraad hieroor onverskillig blyk te wees kom die kerkverband in gedrang en kan die ander kerke gemeenskap met daardie kerk opsê. Dit is egter verkeerd om van die klassis of sinode te vra wie die kerkraad mag toelaat. ’n Kerkraad mag selfs weier om ’n predikant uit eie kerkverband op sy kansel toe te laat indien die kerkraad die erns, opvattings, goeie trou of verantwoordelikheid van dié predikant bevraagteken. Nie die formele vraag uit watter “kerkverband” ’n predikant kom nie, maar die vraag of hy wettig beroep en regsinnig in leer en suiwer in lewe is, bepaal of hy toegelaat mag word.