|
Voorwoord
Artikel 1
Artikel 2
Artikel 3
Artikel 4 en 5
Artikel 6
Artikel 7
Artikel 8
Artikel 9
Artikel 10
Artikel 11
Artikel 12
Artikel 13 en 20
Artikel 14
Artikel 15
Artikel 16
Artikel 17 en 84
Artikel 18
Artikel 19
Artikel 21
Artikel 22
Artikel 23
Artikel 24
Artikel 25
Artikel 26
Artikel 27
Artikel 28
Artikel 29
Artikel 30
Artikel 31
Artikel 32
Artikel 33
Artikel 34
Artikel 35
Artikel 36
Artikel 37
Artikel 38
Artikel 39
Artikel 40
Artikel 41
Artikel 42
Artikel 43
Artikel 44
Artikel 45
Artikel 46
Artikel 47
Artikel 48
Artikel 49
Artikel 50
Artikel 51
Artikel 52
Artikel 53 en 54
Artikel 55
Artikel 56
Artikel 57
Artikel 58
Artikel 59
Artikel 60
Artikel 61
Artikel 62, 63 en 64
Artikel 65
Artikel 66
Artikel 67
Artikel 68
Artikel 69
Artikel 70
Artikel 71
Artikel 72 en 73
Artikel 74
Artikel 75
Artikel 76
Artikel 77
Artikel 78
Artikel 79 en 80
Artikel 81
Artikel 82
Artikel 83
Artikel 84
Artikel 85
Artikel 86
Bylae A1
Bylae A2
Bylae B
Bylae C
Bylae D
Bylae E
|
Diegene wat na afhouding van die sakramente en na herhaalde vermanings geen teken van boetvaardigheid laat blyk nie, maar hardnekkig in die sonde volhard, moet eindelik met die laaste tugmiddel, die afsnyding van die gemeenskap van die kerk afgesny word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is. Die finale afsnyding moet voorafgegaan word deur drie openbare afkondigings daarvan aan die gemeente, waarin vermeld moet word wat die oortreding van die sondaar is, dat daar veel arbeid aan hom bestee is deur bestraffing, afhouding van die sakramente en menigvuldige vermaninge en dat hy hom nie bekeer het nie. In hierdie afkondiginge moet die gemeente opgewek word om met die sondaar te spreek en vir hom te bid. By die eerste afkondiging moet die naam van die sondaar, om hom enigsins te spaar, nie genoem word nie. By die tweede moet met advies van die klassis ook sy naam genoem word. By die derde moet aan die gemeente bekend gemaak word dat die sondaar, as hy hom nie bekeer nie, van die gemeenskap van die kerk afgesny sal word, sodat sy afsnyding met die stilswyende bewilliging van die gemeente kan plaasvind as hy hardnekkig bly. Die kerkraad bepaal die tyd wat vir elke afsonderlike geval tussen die drie afkondigings verloop.
Afsnyding van die kerk
Die laaste tugmiddel is die afsnyding van die gemeenskap van die kerk. Daartoe word slegs oorgegaan indien die sondaar, nadat hy/sy verskeie kere van die nagmaal afgehou en intussen ook herhaaldelik vermaan is, geen boetvaardigheid en bekering laat blyk nie, maar hardnekkig in die sonde volhard. Artikel 76 mag nie oorgeslaan word nie. 'n Foutiewe optrede waarteen ernstig gewaarsku moet word, is dat die afhouding van die nagmaal volgens artikel 76 in die tugproses oorgeslaan word. Ek het al argumente gehoor soos hierdie: die sonde wat begaan is, is só gruwelik dat die kerkraad nie die sondaar eers van die nagmaal afgehou het nie, maar onmiddellik oorgegaan het tot die „eerste trap van sensuur" (art. 77). Dit mag nooit gebeur nie! In geen geval mag die afhouding van die nagmaal oorgeslaan word nie - selfs al is die sonde wat gepleeg is hoe ernstig. Artikel 77 bepaal uitdruklik: „…na afhouding van die sakramente en na herhaalde vermanings…".
Drie openbare afkondigings
Die afsnyding moet egter voorafgegaan word deur drie openbare afkondigings daarvan aan die gemeente. In hierdie afkondigings moet die volgende aan die gemeente gemeld word: · die oortreding van die sondaar; · die bearbeiding wat aan hom/haar bestee is deur bestraffing, afhouding van die nagmaal en menigvuldige vermanings; · dat daar geen bekering is nie; · die gemeente moet opgewek word om met die sondaar te spreek en vir hom/haar te bid. Hierdie afkondigings is in wese niks anders nie as drie openbare vermanings, wat met toenemende intensiteit plaasvind. Al is dit afkondigings aan die gemeente, verg dit nie groot onderskeidingsvermoë om in te sien dat daarin tog ook 'n baie sterk element van vermaning aan die sondaar sit nie, selfs al is dit in sy/haar afwesigheid. Gewoonweg word hierdie afkondigings genoem: „eerste en tweede en derde trappe van sensuur". (Die argument dat hierdie terminologie foutief is, omdat daar in die tugproses slegs twee trappe is, naamlik die afhouding van die nagmaal en die afsnyding, grens vir my aan haarklowery. Met selfs groter geldigheid kan gesê word dat daar in die tugproses vyf trappe is: afhouding van die nagmaal, eerste en tweede en derde afkondigings, en laastens afsnyding volgens die formulier. Ook kan met reg gesê word dat die tugproses in vyf verskillende stadiums uiteenval, en dat die vyfde stadium, die afsnyding, voorafgegaan word deur die drie trappe van die vierde stadium). Die tydsverloop tussen die drie afkondigings word deur die kerkraad bepaal.
Die eerste afkondiging
In hierdie afkondiging word aan die gemeente bekendgemaak dat 'n lidmaat weens hierdie of daardie sonde, na afhouding van die nagmaal, onder die eerste trap van sensuur geplaas word. Die sonde word dus wel bekendgemaak, maar nie die naam van die sondaar nie. Die gemeente word aangemoedig om vir hierdie lidmaat voorbidding te doen. Intussen moet die intensiewe pastorale arbeid aan hierdie lidmaat voortgaan, ook deur kerkraadskommissies, met noukeurige notulering daarvan.
Die tweede afkondiging
In die tweede afkondiging word ook die naam van die sondaar bekendgemaak. Die gemeente word opgeskerp om met die sondaar te spreek en vir hom/haar voorbidding te doen. Hierdie tweede afkondiging mag egter nie gedoen word voordat die advies van die klassis eers ingewin is nie (vir die draagwydte van die begrip „advies", kyk p. 67 e.v.). Die advies van die klassis is nodig om groter objektiwiteit in die tughandeling te waarborg. Die klassis gee sy advies nadat hy die pastorale bearbeiding gedurende die verloop van die tugproses nagegaan het aan die hand van die kerkraad se notuleboek. As die bearbeiding voldoende was, gee die klassis toestemming dat met die tughandeling voortgegaan en die tweede afkondiging gedoen mag word. As dit onvoldoende was, mag die kerkraad nie oorgaan tot die tweede afkondiging nie; die saak word vir voortgesette bearbeiding na hom terugverwys. Na verloop van genoegsame tyd van voortgesette bearbeiding kan die kerkraad, indien nodig, weer die advies van die klassis inwin.
Die derde afkondiging
Die derde afkondiging is 'n herhaling van die tweede, met die byvoeging dat die sondaar, as hy/sy hom/haar nie bekeer nie, op 'n vasgestelde datum van die gemeenskap van die kerk afgesny sal word. Hiervoor is nie weer advies van die klassis nodig nie. Die doel van hierdie afkondiging is om die stilswyende bewilliging van die gemeente tot afsnyding te verkry indien die hardnekkigheid voortduur. Weer moet die gemeente aangemoedig word om met die sondaar te praat en vir hom/haar te bid. Die pastorale bearbeiding moet egter nog voortgaan tot met die vasgestelde datum van afsnyding. Die tydsverloop tussen die tweede en derde afkondigings (wat deur die kerkraad bepaal word) is gewoonlik heelwat korter as dié tussen die eerste en tweede.
Die afsnyding
As daar ná die derde afkondiging en die vermanings daarná nog geen boetvaardigheid en bekering is nie, moet die sondaar van die gemeenskap van die kerk afgesny word. Hierdie afsnyding, wat 'n baie pynlike handeling is, vind in 'n erediens plaas volgens die vasgestelde Formulier. Die naam van die afgesnedene word vanselfsprekend uit die lidmaatregister verwyder. Volgens Christus se voorskrif in Matthéüs 18:17 („ … laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar") moet daar geen intieme, broederlike omgang meer met die afgesnedene onderhou word nie.
Opsegging van gemeenskap voor afsnyding
Indien die sondaar voor die afsnyding offisieel die gemeenskap met die kerk opsê, spreek dit vanself dat nie met die afsnyding voortgegaan mag word nie. Met die daad van opsegging van gemeenskap het die sondaar hom/haar onttrek aan die jurisdiksie van die kerkraad.

|