Uitgebreid zoeken
Kerkrecht.nl
Help
Contact

Spoelstra, B., Geref. Kerkreg en Kerkregering, 1989


auteur(s): Spoelstra, B.
genre: Commentaren
bundel:
tijdschrift:
jaargang:
uitgever: V&R Drukkery
plaats: Pretoria
jaar: 1989
druk:
ISBN/ISSN:
aantal pagina's: 489

  • Artikel 1
  • Artikel 2 en 3
  • Artikel 4 en 5
  • Artikel 6
  • Artikel 7
  • Artikel 8
  • Artikel 9
  • Artikel 10
  • Artikel 11
  • Artikel 12
  • Artikel 13 en 20
  • Artikel 14
  • Artikel 15
  • Artikel 16
  • Artikel 17
  • Artikel 18
  • Artikel 19
  • Artikel 21
  • Artikel 22 en 24
  • Artikel 23
  • Artikel 25
  • Artikel 26
  • Artikel 27
  • Artikel 28
  • Artikel 29
  • Artikel 30
  • Artikel 31
  • Artikel 32
  • Artikel 33
  • Artikel 34
  • Artikel 35
  • Artikel 36
  • Artikel 37 en 38b
  • Artikel 38a en 39
  • Artikel 40
  • Artikel 41
  • Artikel 42
  • Artikel 43
  • Artikel 44
  • Artikel 45
  • Artikel 46
  • Artikel 47, 50 en 51
  • Artikel 48
  • Artikel 49
  • Artikel 52
  • Artikel 53 en 54
  • Artikel 55
  • Artikel 56
  • Artikel 57
  • Artikel 58
  • Artikel 59
  • Artikel 60
  • Artikel 61
  • Artikel 62
  • Artikel 63
  • Artikel 64
  • Artikel 65
  • Artikel 66
  • Artikel 67
  • Artikel 68
  • Artikel 69
  • Artikel 70
  • Artikel 71
  • Artikel 72 en 73
  • Artikel 74
  • Artikel 75
  • Artikel 76
  • Artikel 77
  • Artikel 78
  • Artikel 79 en 80
  • Artikel 81
  • Artikel 82
  • Artikel 83
  • Artikel 84
  • Artikel 85
  • Artikel 86
  • Artikel 28

    Artikel 28: Soos dit die plig van die owerhede as instellings van God is om aan die kerk en sy ampsdraers hulp en beskerming te bied, so is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou en ywerig by die gemeente in te skerp, en hulle moet trag om in die vrees van die Here, die guns van die owerheid jeens die kerke op te wek en te behou in belang van die kerke. Dit is ook die plig van die kerklike vergaderings om korrespondensie met die owerheid te onderhou om die nodige medewerking van die owerheid te verkry en in voorkomende gevalle as kerk van Christus voor die owerheid te getuig.

    A. KERKREGTELIK

    1. Owerhede is ook dienaars van God

    Rome leer dat die pous as verteenwoordiger van Christus oor staat en kerk moet regeer. Luther het met sy twee-ryke leer die kerk van ware gelowiges tot die hemelregering en die burgerlike owerhede tot die sigbare aardse regering gereken, sodat hulle ook vir die kerkdienaars moes sorg. Die Anabaptiste en later die Piëtiste het kerk en wêreld radikaal gestel en teenoor mekaar gestel.

    Calvyn gaan ook van "tweërlei regering", naamlik’n geestelike en burgerlike uit. Hulle kan onderskei word, maar moet nie vermeng word nie. Christus het die burgerlike regering gegee sodat die kerk en godsdiens beskerm, en welvaart in die samelewing bevorder word (Inst IV.20.i,ii; Rm 13; NGB 36; Heid Kat S 39). God roep mense deur wie Hy op politieke terrein regeer en hulle moet as dienaars van God op ‘n ander terrein as waar kerkdienaars regeer, erken word.

    In die Skrif en gedurende die 16de eeu slaan die begrip "owerhede" op vorste wat geroep is om te regeer. Die abstrakte begrippe van onpersoonlike "kerk" en "staat" het eers na die 16de eeu posgevat. Die artikel wil dus die optrede van kerklike dienaars teenoor regeerders op burgerlike terrein reël, sonder om in Roomse, Lutherse, revolusionêre of Anabaptistiese opvattings te verval. Vanweë die tweërlei roeping tot dienaars, kerklik en burgerlik, wat albei van God uitgaan (Spoelstra 1982:233), skryf die Kerkorde nie aan die owerhede voor nie. Dit neem ‘n vergelyking as uitgangspunt. God gee aan owerhede ‘n opdrag teenoor kerklike dienaars en die beskerming van godsdiens. So gee hy ook aan kerkdienaars ‘n opdrag teenoor die burgerlike owerhede.

    2. Kerklike dienaars het’n plig teenoor burgerlike owerhede

    Die Skrif noem alle owerhede ongekwalifiseerd dienaars van God vir die gelowige se beswil (Rm 13:1). Calvyn wys op versklllende plekke waar die Skrif owerhede met hoë eer vermeld (Ex 22:8; Ps 82:1,6; Joh 10:35; Spr 8:14; Js 49:23; Lk 22:25,26). Gevolglik vermaan die apostel die kerkdienaars om vir konings en almal wat hoog geplaas is, te bid sodat ons ‘n stil en rustige lewe in godsvrug en waardigheid kan lei (1 Tm 2:2). Hulle moet selfs sorg dat die Wet van God nagekom moet word. Die owerhede sal aan God rekenskap moet doen (Inst IV.20).

    B. KERKREGERING

    1. Redaksioneel

    Die Kerkorde handel in die reël net oor die afspraak tussen die kerke wat in kerkverband met mekaar wil lewe. Die Sinode van Dordrecht 1619 het hierdie artikel bygevoeg in hulle vergeefse poging om die owerhede te verseker dat kerklike vergaderings nie politieke heerskappy begeer nie, in die hoop dat die owerhede die Kerkorde sou goedkeur. Die ou artikel het die beginsel van die Christelike ryk (corpus christianum) wat by Lutherse en Nederlandse owerhede sterk geleef het, as uitgangspunt gestel: die owerhede sorg vir die godsdiens van hulle onderdane (vgl ook feodale kontrakreg). Hulle sou dus die kerkdiens bevorder, ‘n voorbeeld vir hulle onderdane stel en moet die kerkdienaars in voorkomende sake ‘n helpende hand bied. Ewe so is die kerkdienaars verplig om by die gemeente gehoorsaamheid, liefde en eerbied vir die "magistrate" in te skerp en voorbeeld te stel, en waar nodig deur respek en korrespondensie die guns van die owerhede teenoor die kerke op te wek sodat die Here geëer kan word in ‘n samelewing waarin geen agterdog of wantroue tussen die kerklike en burgerlike owerhede voorkom nie. Hierdie stelling, wat eintlik nie ‘n wyse van optrede (kerkorde) voorskrywe nie, is in 1967 hersien (GKSA 1967:65-66).

    2. Erkenning van gesag en regering

    Geen ordelike samelewing tussen mense is sonder burgerlike regering moontlik nie. Daar is verskillende vorme van regering en regeringstelsels moontlik (Calvyn: Inst IV.20.viii). Gevolglik moet die gelowiges die gesag van regeerders eerbiedig, ongeag die vraag of hulle met die stelsel saamstem (Heid Kat S 39). Die revolusionêre magte van die Antichris beroep hulle op "burgerlike ongehoorsaamheid" om ‘n land onregeerbaar te maak, sodat hulle die bewind kan oorneem en hulle regeringstelsel met geweld kan daarstel en handhaaf. Die gereformeerdes het vanaf die 16de eeu volgehou dat die wettige owerheid eerbiedig moet word, oor verkeerde wette of gebrek aan wetgewing gespreek moet word en veranderinge vreedsaam aangebring moet word.

    Die Skrif stel ‘n hoë premie op rus en vrede met die oog op die diens en eer van God. Slegs wanneer ’n owerheid gehoorsaamheid aan God onmoontlik maak en die owerheid die wil van God weerstaan, kan die volk onder leiding van die mindere owerhede in opstand kom om die moedswil van owerhede te bedwing en die reg van God te handhaaf (Calvyn Inst IV20.xxix-xxxii; Murray 1976:8v).

    3. Korrespondensie met owerhede

    Die goeie verhouding tussen kerklike en burgerlike dienaars waarmee God die mense in rus, vrede en voorspoed wil hou, moet in die eerste plek in die plaaslike gemeenskap verwerklik en uitgeleef word. Wanneer nodig moet die naburige kerke in klassikale of sinodale verband skrywes rig of deputate na owerhede stuur om bepaalde wense en versoeke by die betrokke owerheid voor te dra. Gewoonlik wys streeks- of nasionale sinodes deputate vir korrespondensie met die owerheid aan. Dit verswak egter die Christelike getuienis wanneer kerkrade, klassisse en streeksinodes nie self hulle vertoë by die owerhede voorlê nie.