|165|

Artikel 37

 

In alle kerke moet ’n kerkraad wees wat bestaan uit die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge, wat gereeld vergader onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord of die bedienaars om die beurt as daar meer as een is.

(Kyk by hierdie artikel Bylae „C” agter in hierdie boek).

 

Uit wie bestaan die kerkraad?

Volgens hierdie artikel bestaan die kerkraad uit die ouderlinge en die bedienaar(s) van die Woord.

Die diakens vorm dus nie deel van die kerkraad nie. As die Kerkorde praat van „kerkraad”, word altyd die ouderlinge en die predikant(e) bedoel. Waar die sogenaamde „breë kerkraad” bedoel word, praat die Kerkorde konstant van „die kerkraad en (met) die diakens” (kyk byvoorbeeld artt. 4, 5,10, 22/24, 25, 81).

Nou lyk dit egter of daar ’n teenstrydigheid is tussen hierdie artikel en artikel 30 van die NGB, waar ons lees dat die diakens saam met die predikante en ouderlinge die kerkraad vorm. Hierdie teenstrydigheid is egter slegs skyn. In sy uitnemende werk oor die NGB (Vierde Deel, p. 22 e.v., veral p. 27 en 28) verduidelik A.D.R. Polman die saak só dat die diakens by die kerkraad gereken is as hulpouderlinge (vgl. hier KO art. 38).

 

Gereelde byeenkomste.

Die Kerkorde bepaal slegs dat die kerkraad gereeld moet vergader; die frekwensie van die vergaderings of die aantal per jaar word nie gestipuleer nie. Dit is ’n saak vir elke plaaslike kerkraad. Sorg moet egter gedra word dat vergaderings nie te ver uitmekaar gereël of te lank uitgestel word tot nadeel van die kerk nie.

|166|

Buitengewone vergaderings.

Soms gebeur dit dat ’n spoedeisende saak ’n buitengewone vergadering noodsaak, dit wil sê ’n vergadering wat buite die gereelde vergaderings val en dus nie op die jaarprogram verskyn nie.

In so ’n geval is dit noodsaaklik dat alle betrokke ampsdraers kennis kry van so ’n vergadering. Indien slegs een ampsdraer nie kennis ontvang het nie en hy beswaar aanteken teen die hou en die handelinge van so ’n vergadering, kan dit gebeur dat die besluite van so ’n vergadering nietig verklaar word en dus van nul en gener waarde is.

In die sogenaamde „konsistorie-vergaderings” voor/ná eredienste behoort daar nie ingrypende sake behandel te word nie; dit moet liewer wag vir ’n gereelde vergadering, of in dringende gevalle moet daar ’n buitengewone vergadering belê te word.

 

Kworum van vergaderings.

Op p. 124 is daarop gewys dat die Sinode van 1920 besluit het dat kerkrade hulle eie kworum bepaal; die Sinode ag dit egter wenslik dat dit nie minder sal wees nie as die helfte plus een. Indien ’n kerkraad sy kworum vasstel op minder as die helfte plus een (byvoorbeeld een-derde) kan dit maklik gebeur dat besluite van ’n vergadering waar daar net-net so ’n kworum was, op ’n volgende vergadering, waar daar meer ampsdraers teenwoordig is, herroep word.

 

Kworum van „breë kerkraadsvergadering”.

Omdat ’n „breë kerkraadsvergadering” ’n vergadering is van die kerkraad saam met die diakens, word die kworum daarvan bereken volgens die aantal ouderlinge wat teenwoordig is. Gestel ’n „breë kerkraad” bestaan uit 22 ouderlinge en 22 diakens (totaal 44); in die vergadering is daar slegs 10 ouderlinge, maar 20 diakens; uit die somtotaal van 44 is daar dus 30 teenwoordig, wat meer is as die helfte plus een (23). Tog is daar geen kworum van ouderlinge nie, en dus geen kworum van die kerkraad nie. So ’n vergadering kan dus nie voortgaan nie omdat dit onwettig sal wees, en sy besluite geen geldigheid sal hê nie.

|167|

Agenda.

Die agenda word deur die vergadering self vasgestel. Volgens artikel 30 mag daarin slegs kerklike sake opgeneem word.

Dit is wenslik dat aan die vergadering ’n konsep-agenda voorgelê word, wat goedskiks deur die skriba en/of voorsitter opgestel word.

Voordat die vergadering begin met die behandeling van die verskillende sake in die konsep-agenda, moet daar geleentheid gegee word aan die vergadering om sake wat dringend behandel moet word, by te voeg. Daarna moet die vergadering die agenda vasstel.

Die voorsitter moet nie toelaat dat die teenwoordige ampsdraers buite die vasgestelde agenda ronddwaal nie; ook nie dat sake wat afgehandel is, weer onder bespreking kom nie — behalwe in noodsaaklike gevalle, en dan met toestemming van die volle vergadering.

Die bekende (maar absurde) item „Algemeen” hoort nie tuis in die agenda van enige kerkraadsvergadering nie. Hierdie item kan maklik daarin ontaard dat daar ’n nuwe vergadering gehou word met ’n wawyd-oop agenda en wat soms langer kan duur as die ordelik-gereelde vergadering!

Aan die einde van die vergadering moet daar geleentheid gegee word vir die opgawe van beskrywingspunte vir die volgende vergadering.

Op die vraag watter sake hoort tuis by die kerkraad, en watter by die kerkraad met die diakens, is daar eerstens die stipulasies in die Kerkorde, byvoorbeeld artt. 4, 5, 10, 22/24, 25, 81). Daarby is daar talle ander sake waaroor kerkrade self kan besluit, met in agneming van die ampsomskrywings van predikante (art. 16), ouderlinge (art 23) en diakens (art. 25). ’n Volledige onderskeidende katalogus van wat by watter vergadering tuishoort, is nie wenslik nie, omdat omstandighede van plek tot plek verskil.

Wat die insameling van kerklike bydraes betref, is dit nie buite orde dat die diakens versoek word om hierdie dienswerk te verrig nie; dit is egter nie deel van hul ampspligte volgens artikel 25 nie. (Die ideaal is natuurlik dat lidmate self hul bydraes by die eredienste afdra.) Die toesig oor en vermaning in geval van nalatige en uitstaande bydraes

|168|

is egter die ampswerk van die ouderlinge en nie die taak/plig van die diakens nie.

Administrasie van finansies en eiendomme kan ook goedskiks deur die „breë kerkraad” hanteer word.

 

„Gemeentevergaderings”.

In die Gereformeerde kerkregering het ’n sogenaamde „gemeentevergadering” geen „status” nie; die naam is ook foutief; die korrekte benaming is: „vergadering van die kerkraad saam met die gemeente”.

Hierdie korrekte naam sê dan ook presies wat die „status” van hierdie vergadering is: dit is ’n kerkraadsvergadering waar die medewerking van die gemeente ingeskakel word. In die uitvoering van artikels 22 en 24 (verkiesing van ouderlinge en diakens) moet die gemeente ingeskakel word (kyk p. 98, 100). So ook by die beroeping van ’n predikant, alhoewel artikels 4 en 5 dit nie eksplisiet noem nie; in die Konsep-beroepsbrief word dit soos volg bewoord: „... dat die Gereformeerde Kerk ... op ... onder leiding van die kerkraad vergader het en dat u op hierdie vergadering as herder en leraar van hierdie Kerk verkies is” (kyk p. 20, 21).

Dit is ook wenslik en beslis aanbevelenswaardig dat die kerkraad by ingrypende besluite (soos byvoorbeeld die oprigting van ’n kerkgebou, kombinasievorming of -opsegging, ens.) die medewerking van die gemeente vra.

Hoewel die kerkraad nie gebonde is om die oortuiging van die gemeente in ag te neem of uit te voer nie, sal dit tog onverstandig wees om ná so ’n vergadering saam met die gemeente die mening van die gemeente te ignoreer. Maar tog is die finale besluitneming die verantwoordelikheid van die kerkraad.

 

Bedienaar van die Woord voorsitter.

Hierdie artikel bepaal dat die kerkraad vergader onder voorsitterskap van die predikant ... nie omdat die predikante altyd die beste voorsitters is nie; inteendeel, daar sit soms in kerkraadsvergaderings ouderlinge/diakens wat oor baie meer bekwaamhede as voorsitter beskik. Maar omdat Christus sy kerk regeer deur sy Woord en Gees, moet die bedienaar van die Woord as voorsitter optree in kerkraadsvergaderings. In

|169|

kerklike vergaderings word daar immers nie menslike slimmighede en redenasies teenoor mekaar opgeweeg vir uiteindelike besluitneming nie; daar word gevra wat die Here in sy Woord sê.

Predikante moet hulleself dan ook goed voorberei vir elke vergadering; daar is min dinge so frustrerend en gevaarlik as ’n onvoorbereide voorsitter.

 

Predikante om die beurt voorsitter.

Waar daar in ’n gemeente meer as een predikant is, moet hulle om die beurt as voorsitter optree, om elke moontlikheid van oorheersing uit te skakel.

Dit mag wees dat een van die predikante die gawe het om ’n baie bekwame voorsitter te wees; tog mag hy nie die „permanente” voorsitter wees ten koste van die ander nie. Die predikante moet om die beurt optree as voorsitter.

 

Mag ’n ouderling as voorsitter in ’n kerkraadsvergadering optree?

(Kyk p. 22.)

Op die vraag of ’n ouderling in afwesigheid van die predikant mag optree as voorsitter in ’n kerkraadsvergadering, kan bevestigend geantwoord word. Daar mag ’n saak of twee behandel word waarby die predikant belang het en dus nie teenwoordig behoort te wees nie; of die predikant kan skielik kort vóór die vergadering siek word of dringend weggeroep word.

In sodanige gevalle (wat uit die aard van die saak hoë uitsonderings moet wees) mag ’n ouderling wel as voorsitter optree, maar dan op die volgende voorwaardes:
➢ die saak moet só dringend wees dat nie gewag kan word vir die predikant of konsulent nie;
➢ die besluit(e) van hierdie vergadering moet so gou moontlik bekragtig word deur ’n volgende vergadering waar die predikant of konsulent voorsitter is.

|170|

Die taak van die voorsitter.

Die taak van die voorsitter van ’n kerklike vergadering word in artikel 35 behandel (waar dit gaan om die voorsitter van meerdere vergaderings).

Tog kan die stipulasies in artikel 35 ook toegepas word op die voorsitter van ’n kerkraadsvergadering. (In Bylae „C” word meer uitvoerig hieraan aandag gegee).

 

Uitpraat uit kerkraadsvergadering.

Normaalweg is sake wat in kerkraadsvergaderings behandel en besluit word, vertroulik. Daarom is dit onordelik dat ampsdraers los en vas na buite daaroor praat.

Dit geld veral konfidensiële aangeleenthede, soos die predikant se versorging, onderlinge vermanings kragtens artikel 81, tugsake en so meer.

Tog is daar soms dinge wat nie so vertroulik hanteer hoef te word nie en waarby die gemeente ook belang het. In sulke gevalle is dit die heel verstandigste dat daar ’n amptelike bekendmaking (by wyse van afkondiging of in die nuusbrief) aan die gemeente gedoen word; uit die aard van die saak sal die kerkraad self so ’n bekendmaking formuleer en/of goedkeur.

Dit is gewaagd as elke ampsdraer op sy eie sulke sake „bekendmaak”; daar kan op hierdie wyse verskillende (verwarrende) weergawes van dieselfde saak gegee word, wat oplaas tot skade van die onderhawige aangeleenthede mag lei.