|125|

Artikel 30

 

Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel. Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.

 

Beperking van bevoegdhede.

In hierdie artikel word ’n aantal beperkinge in die bevoegdhede van kerklike vergaderings aangedui:
➢ Kerklike vergaderings mag slegs kerklike sake behandel.
➢ Kerklike vergaderings mag sake in hul agenda slegs op kerklike wyse behandel.
➢ Meerdere vergaderings mag nie sake behandel wat deur mindere vergaderings afgehandel kan word nie.
➢ Meerdere vergaderings mag slegs sake behandel wat by hulle tuishoort.
➢ Bogenoemde impliseer ook baie duidelik dat mindere vergaderings nie sake wat by ’n meerdere vergadering tuishoort, mag afhandel nie.

 

Slegs kerklike sake.

Die noodsaaklikheid van hierdie beperking in artikel 30 lê daarin dat dit die wese van die kerk en kerkregering beskerm.

Dit is egter nie altyd ewe maklik om uit te maak wat kerklike sake is, en wat nie. Soms bestaan daar ook ernstige meningsverskil hieroor.

Enige poging egter om ’n „katalogus” op te stel van wat kerklike sake is, is ’n onbegonne taak.

Kerklike vergaderings sal hier met wysheid en verantwoordelikheid en fyn aanvoeling moet oordeel.

Daar sal egter ook deurentyd selfdissipline toegepas moet word; mense is baiekeer geneig om oor sekere sake, wat hulle na aan die hart lê en wat in verband staan met hul tradisionele en/of politieke oorwegings,

|126|

emosioneel en pragmaties op te tree; dit word ook as belangrik en voordelig beskou om vir sekere aksies ’n „kerklike sanksie” te verkry.

Wat hier deurslaggewend is, is dat slegs sake wat pas by die wese en aard en doel van die kerk, behandel mag word. Kerklike vergaderings mag hulle nie bemoei met politieke, maatskaplike, militêre en soortgelyke sake nie.

Tog is daar soms raakvlakke tussen kerk en owerheid, kerk en skool, kerk en samelewing, en so meer. Die kerk moet ook die lig van Gods Woord laat val op alle terreine van die lewe. Soms mag kerklike vergaderings geroepe wees om in konkrete situasies met verklarings uit die Skrif te reageer, om die owerheid met vertoë te nader, om maatskaplike misstande en euwels aan te pak en te beveg, en so meer. Hier sal wysheid en versigtigheid die wagwoord moet wees.

Maar nooit mag die kerk probeer doen wat uitsluitlik die taak en verantwoordelikheid is van owerheid, skool, weermag, en ander samelewingsverbande nie.

 

Op kerklike wyse.

Omdat die kerk die liggaam van Christus is, moet kerklike vergaderings die heerskappy van Christus verwesenlik, ook in die wyse waarop sake behandel word; dit moet ten alle tye by die Hoof van die kerk pas.

Dit spreek dus vanself dat kerklike vergaderings nie dieselfde werkwyse volg as byvoorbeeld die parlement of enige ander raad of vereniging nie. Daar is wel bepaalde prosedures wat in kerklike vergaderings dieselfde geldingskrag het as in ander sekulêre rade en verenigings. Dit neem egter nie weg nie dat sake in kerklike vergaderings op ’n eiesoortige wyse behandel moet word.

[Die prosedure in kerklike vergaderings word by artikel 35 behandel].

Christus regeer sy kerk deur sy Woord en Gees; daarom moet die handelinge van kerklike vergaderings gelei en beïnvloed word deur die Woord en Gees van die Here. Optrede in kerklike vergaderings moet staan in die gees van liefde tot die Here en liefde tot die naaste.

Hieruit spruit voort dat sekere handelwyses nie in kerklike vergaderings geduld mag word nie; die volgende kan hier genoem word:

|127|

➢ Partyvorming.
➢ Vooraf koukus.
➢ Onbehoorlike beïnvloeding van persone.
➢ Manipulasie van persone en/of prosedures.
➢ Dreigemente en/of geweldpleging.
➢ Sloerstaking.
➢ Omkopery.
➢ Protesteer by wyse van uitstap.
➢ Stoomroller-taktiek.
➢ Dwangmaatreëls.

Kortom: alle metodes om eie standpunt te laat seëvier ten koste van die eer van God, die welsyn van die kerk en die belang van die saak in behandeling.

 

Geen presedente.

Soms word in kerklike vergaderings probeer om besluitneming te beïnvlo ed deur te verwys na ’n presedent (’n vroeëre beslissing in ’n soortgelyke saak as dié onder bespreking).

Voorbeelde:
➢ Iemand verwys na ’n vroeëre besluit wat verband hou met die saak onder bespreking, in ’n poging om die besluitneming in ’n soortgelyke rigting te stuur.
➢ Iemand probeer ’n voorstel verongeluk met die argument dat aanvaarding van die besluit ’n „gevaarlike presedent sal skep”.

In die GKSA bestaan daar egter geen „presedensiële” kerkregering nie (’n kerkregering wat op presedente berus), maar slegs ’n Skriftuurlike kerkregering. Elke saak moet op eie verdienste, in die lig van die Skrif, oorweeg en beslis word.

 

Meerdere vergaderings en studie.

Dit gebeur nogal dikwels dat ’n mindere vergadering ’n versoek rig tot ’n meerdere vergadering, by wyse van ’n beskrywingspunt, dat studiedeputate aangewys moet word wat ’n sekere saak in studie moet neem, sodat daar ’n „eenvormige besluit” geneem kan word.

Nou mag dit soms nodig wees vir ’n meerdere vergadering om deur middel van verdere studie meerdere lig op ’n bepaalde saak te kry

|128|

voordat ’n besluit geneem word. Ook is dit soms nodig om ’n „eenvormige besluit” te neem wat verpligtend is vir alle gemeentes in kerkverband.

Maar ’n meerdere vergadering is nie ’n „studieliggaam” nie.

Indien ’n saak by wyse van beskrywingspunt in die agenda van ’n meerdere vergadering opgeneem word, moet die studie wat daarvoor nodig is, reeds afgehandel wees deur dié vergadering wat die beskrywingspunt deurgestuur het.

 

Motivering by besluite.

Besluite deur kerklike vergaderings moet ten alle tye behoorlik gemotiveer word, omdat dit dikwels tot in die verre toekoms gebruik word vir navorsing en vir die kerkregering.

Dit is veral belangrik dat die toepaslike Skriftuurlike en/of konfessionele en/of kerkregtelike en/of ander begronding by besluite aangedui moet word.

Om met besluite van kerklike vergaderings te werk waarby geen motivering aangegee word nie, is uiters frustrerend en dikwels futiel.

 

Onderskeid tussen prinsipiële en middelmatige sake.

In besluite deur kerklike vergaderings behoort duidelik onderskei te word tussen prinsipiële en middelmatige sake.

Om ter wille van „eenvormigheid” besluite van kerklike vergaderings af te dwing waarby geen beginsels ter sprake is nie, is onbehoorlik; so ’n optrede tas die Christelike vryheid van kerke en lidmate aan.

Meerdere vergaderings behoort duidelik in hul besluite aan te toon watter sake „vas en bindend” is (kyk by art. 31 KO), en watter aan die vryheid van die kerke oorgelaat word.

 

Beperkte bevoegdheid van meerdere vergaderings.

In hierdie artikel word duidelik bepaal dat meerdere vergaderings beperkte bevoegdheid het. Slegs sake wat in mindere vergaderings nie afgehandel kan word nie, asook sake wat by meerdere vergaderings tuishoort, moet deur meerdere vergaderings behandel word.

|129|

Dit is dus duidelik dat meerdere vergaderings nie maar na willekeur in die sake van mindere vergaderings kan inmeng en/of ingryp nie.

Nou is dit so dat daar onder Gereformeerdes meningsverskil bestaan oor die bevoegdheid van meerdere vergaderings. Sommige meen dat ’n meerdere vergadering hoegenaamd nie, selfs nie in gevalle van wanbestuur en eiegeregtige optrede deur ’n mindere vergadering, mag ingryp nie.

Met respek gesê grens baie van hierdie soort besware aan ’n kerkbegrip wat sterk independentisties gekleur is.

Kerklike vergaderings moet in hierdie opsig met versigtigheid en wysheid handel. Aan die een kant moet die selfstandigheid van elke plaaslike kerk (gemeente) gerespekteer word; aan die ander kant moet steeds onthou word dat kerke in kerkverband nie in isolasie lewe nie, maar op mekaar aangewese is.

Kerkrade moet hul taak ten volle vervul en hul verantwoordelikhede in alles nakom. Dit gebeur te maklik dat kerkrade sake na die klassis verwys sonder om eers ondersoek te doen of dit nie iets is wat plaaslik selfstandig afgehandel en opgelos kan word nie.

Wanneer kerkrade sake, wat plaaslik afgehandel kan en moet word, deurstuur na die klassis vir behandeling deur meerdere vergaderings, moet die klassis dit na die kerkraad terugverwys.

Indien ’n saak vir alle kerke in die gebied van ’n klassis of partikuliere sinode of in die hele kerkverband van belang is, word dit, ná deeglike studie, op die ordelike wyse volgens kerkorde deurgestuur na die betrokke meerdere vergadering.

 

Mag ’n beskrywingspunt deur ’n meerdere vergadering verander word?

By die bespreking van artikel 33 sal aangetoon word dat alle sake vir behandeling deur meerdere vergaderings (behalwe deputate-rapporte en appèlle), die weg moet volg van die kerkraad na die klassis, en dan via die klassis (en die ander kerklike vergaderings) na dié meerdere vergadering vir wie dit oorspronklik bedoel is.

|130|

Die vraag ontstaan nou: kan een van die kerklike vergaderings, deur wie se agenda ’n beskrywingspunt (of ’n beswaarskrif of ’n versoek tot revisie) gaan, die oorspronklike bewoording van so ’n saak verander?

Die antwoord is onomwonde: ja.

Byvoorbeeld:

’n Kerkraad versoek die klassis om via die partikuliere sinode ’n beskrywingspunt deur te stuur na die nasionale sinode.

Indien die klassis (en respektiewelik die partikuliere sinode) aan die beskrywingspunt gevolg gee (die voorstel daarin steun), beteken dit dat hy daardie beskrywingspunt sy eie maak. Hy kan dus, voordat hy dit verder deurstuur, gedeeltes daarvan (of ’n formulering daarin) na sy goeddunke verander.

Dieselfde geld van beswaarskrifte en versoeke tot revisie.

 

Mag ’n meerdere vergadering ingryp in die sake van ’n mindere vergadering?

Soos vroeër gesê is, bestaan daar meningsverskil oor hierdie vraag.

Ek wil weereens beklemtoon dat meerdere vergaderings nie maar na willekeur in die sake van mindere vergaderings kan inmeng en/of ingryp nie.

Tog is daar omstandighede wat so ’n ingryping nie slegs toelaatbaar maak nie, maar beslis noodsaaklik ... kragtens kerkverband.

[Hier kan verwys word na die besluit van Sinode 1920 wat op p. 124 (by die kwessie van die kworum) ter sprake gekom het: as besware teen die hele kerkraad gemaak word, moet die meerdere vergadering in die saak handel (Handelinge p. 58, art. 139)].

Die volgende kan as voorbeelde dien:
➢ ’n Kerkraad weier om op te tree teen ’n predikant wat sy plig versuim of dwaalleer verkondig, ondanks besluite van die klassis in hierdie verband. Daar is dus onwilligheid by die kerkraad om sy plig te doen.
In so ’n geval moet die klassis doen wat die kerkraad normaalweg doen, en die tug kragtens artikel 79 KO toepas.

|131|

➢ Die kerkraad weier om die klassisdeputate in die gemeente toe te laat om hul opdrag uit te voer, en die gemeente vereenselwig hom met die optrede van die kerkraad. Weer ’n geval van onwilligheid.
So ’n weiering kom neer op de facto (feitelike) verbreking van kerkverband. Sou die gemeente hom vereenselwig met die optrede van die kerkraad, verklaar die klassis dat die gemeente deur sy optrede de facto kerkverband verbreek het en voortaan ook de jure (regtens) buite die verband van die GKSA staan.
Indien die gemeente hom nie met die kerkraad se optrede vereenselwig nie, moet die klassis die kerkraadslede uit hul amp afsit; daarna moet die gemeente, onder leiding van die klassis, ’n nuwe kerkraad verkies. As die kerkgebou nie gebruik kan word nie weens die kerkraad se optrede, moet die vergadering van die gemeente om ampsdraers te kies, in ’n ander lokaal plaasvind — desnoods onder ’n seringboom, soos met die herstigting van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg in 1859!
Kennisgewing van so ’n gemeentevergadering sal uit die aard van die kerkraad se onwilligheid tot samewerking nie tydens ’n erediens gedoen kan word nie. Kennisgewing van lidmaat tot lidmaat is dan die enigste moontlikheid.
Dit mag wees dat daar in sulke gevalle ’n dispuut ontstaan oor die kerkeiendomme, wat kan uitloop op hofsake. Elke sodanige geval moet volgens eie omstandighede hanteer word.
➢ Die kerkraad weier om uitvoering te gee aan besluite van meerdere vergaderings in geval van onregmatige praktyke in die gemeente wat deur die predikant en/of die kerkraad ingevoer is, byvoorbeeld:
- die liturgiese orde wyk af van die orde soos deur die nasionale sinode vasgestel;
- die nagmaal word op on-Skriftuurlike wyse gevier;
- Gesange en vrye liedere word in die erediens gesing;
- eredienste ontaard in „gesellighede” om lidmate en ander te lok;
- „charismatiese” elemente word in die eredienste toegelaat, en so meer. 

Dieselfde optrede soos hierbo genoem, word gevolg.

|132|

Nadruk moet egter daarop gelê word dat ’n klassis eers ná langdurige vermanings by wyse van visitasie, korrespondensie, en so meer tot sulke drastiese stappe mag oorgaan.

 

Meerdere vergaderings en grensreëlings tussen plaaslike kerke.

’n Plaaslike kerk wil die grens(e) tussen hom en sy buur-kerk(e) verander. Die kerkraad stuur ’n beskrywingspunt met so ’n versoek na die klassis, voordat hy nog met sy buur-kerkraad(e) daaroor onderhandel het.

Wat staan die klassis te doen in so ’n situasie?

Wanneer die klassis vasgestel het dat daar nog nie onderlinge oorlegpleging plaasgevind het nie, moet die saak na die betrokke kerkraad terugverwys word. Onder geen omstandighede mag die klassis op daardie stadium die versoek in behandeling neem nie, omdat dit iets is wat by die mindere vergadering(s), naamlik die betrokke kerkrade, tuishoort.

Slegs wanneer die kerkrade, ná indringende en herhaalde oorlegpleging, nie tot ’n vergelyk kan kom nie, mag die saak na die klassis verwys word vir arbitrasie en finale beslissing.

Dit spreek egter vanself dat ’n klassis in so ’n delikate situasie met die grootste omsigtigheid en wysheid moet optree. Oorhaastigheid moet ten alle koste vermy word. Die klassis sal verstandig wees om nogeens te probeer om die saak te besleg deur middel van voortgesette onderhandeling, met klassisdeputate as adviseurs en bemiddelaars.

 

Meerdere vergadering word versoek om in te gryp in die sake van ’n plaaslike kerk.

Dit kan gebeur dat ’n kerkraad die klassis versoek om in ’n bepaalde situasie in te gryp in ’n saak wat streng gesproke tuishoort by en afgehandel behoort te word deur die kerkraad self.

In so ’n geval sal die klassis homself eers baie deeglik moet vergewis of so ’n versoek gebore is uit onkunde of onwil of uit werklike onmag.

|133|

In geval van onkunde en onwil moet die klassis die saak summier na die kerkraad terugverwys met ’n ernstige vermaning om sy verantwoordelikheid uit te voer en die saak self op te los.

In geval van onmag (wat vanselfsprekend eers deeglik deur die klassis ondersoek en uitgemaak moet word) mag die klassis die versoek bewillig en die saak opvolg. Optrede sal afhang van die betrokke probleem, óf by wyse van visitasie (gewoon of buitengewoon, afhangende van die omstandighede), óf by wyse van advies-deputate wat die probleem saam met die kerkraad aanpak en oplos.

By wyse van voorbeeld: ’n kerkraad rig ’n brief aan die klassis met die mededeling dat hy as kerk nie meer kan voortbestaan nie, as gevolg van finansiële probleme. Verskillende opsies word deur die betrokke kerkraad aan die klassis voorgehou. By nadere ondersoek kom die klassis tot die oortuiging dat die grootste enkele oorsaak van daardie kerk se dilemma bestaan in ’n gebrek aan begrotingsdissipline. Op ’n vraag onder artikel 41 KO, of kerke die oordeel en hulp van die klassis vir hul regte bestuur nodig het, sê die afgevaardigdes van daardie kerk dat hul kerkraad se brief die antwoord op hierdie vraag is. Daarop besluit die klassis dat die kerkraad se mededeling, dat daardie kerk nie langer kan voortbestaan nie, só beantwoord word dat die klassis twee adviseurs aanwys as volle lede van daardie kerkraad se finansiële kommissie, ten einde hulp te verleen om die regte begrotingsdissipline daar te stel. (In ’n werklike soortgelyke geval het hierdie optrede van die klassis daartoe gelei dat daardie kerk se skuldlas ná ’n paar jaar met meer as die helfte gedaal het, bloot as gevolg van die hulp van die twee klassisdeputate ten aansien van begrotingsdissipline. Met die skryf van hierdie boek, was die twee klassisdeputate nog steeds besig om die kerkraad by te staan).

’n Volgende voorbeeld: ’n Kerk (kerk A) se lidmatetal daal aansienlik as gevolg van werksgeleenthede in die gebied wat drasties ingekort is. Die betrokke kerk is genoodsaak om sustentasie aan te vra. ’n Kleiner naburige kerk (kerk B) maak egter gebruik van die dienste van ’n emerituspredikant, omdat hulle nie ’n predikant volledig kan versorg nie. Mag die klassis kerk B nou verplig om die dienste van die emerituspredikant te beëindig en met kerk A in kombinasie te tree, om sodoende sustentasie te bespaar? Vir my aanvoeling kan die klassis slegs

|134|

kerk B se kerkraad versoek om kombinasie met kerk A te oorweeg. Indien kerk B egter, om watter rede ook al, nie so ’n versoek van die klassis sou bewillig nie, mag die klassis nie kerk B in so ’n „ongewenste” kombinasie indwing nie. Aan die ander kant sal kerk B ook, kragtens kerkverband, die belang van kerk A sowel as die belang van die klassis, ernstig moet oorweeg in sy besluit.

Voorbeeld 3 (kyk ook by art. 79): ’n Predikant se vrou verlaat hom om met ’n ander man in die huwelik te tree; die konsulent word versoek om as voorsitter van die kerkraad op te tree in die oorweging van die aangeleentheid. Die kerkraad bevind egter dat die predikant geen skuld het in die verbreking van die huwelik nie. Nogtans adviseer die konsulent (wederregtelik) dat die predikant voorlopig geskors word, en dat ’n classis contracta (kyk p. 292) opgeroep word. Uit onkunde stem die kerkraad tot hierdie optrede in. Die classis contracta besef nie dat hier ’n blatante oortreding is van die beginsel in artikel 30 KO nie; die saak word wederregtelik behandel, die predikant word geskors en die saak word na die volle klassis met deputate van die partikuliere sinode verwys vir afhandeling. Die deputate van die partikuliere sinode adviseer die klassis egter tereg dat die saak deur ’n mindere vergadering afgehandel is deurdat die kerkraad die predikant reg in die begin onskuldig bevind het. Die klassis aanvaar hierdie advies van die deputate van die partikuliere sinode, en daarmee is die saak afgehandel.

Voorbeeld 4: ’n Predikant is só ernstig geestelik siek dat hy nie sy werk kan volhou nie. Visitatore beveel (sonder die kerkraad se instemming) by die klassis aan dat hy kragtens art. 11 KO „ontslaan” word. Die klassis neem die saak (wederregtelik) ter tafel en roep die deputate van die partikuliere sinode op vir advies (kyk by art. 11 KO). Die deputate van die partikuliere sinode adviseer die klassis dat die saak wederregtelik in behandeling geneem is en dat die saak na die kerkraad terugverwys moet word. Die klassis aanvaar hierdie advies. Uiteindelik kon daardie betrokke predikant op ’n ordelike wyse aansoek doen om kragtens artikel 13 KO te emeriteer, wat dan ook bewillig is.

Wat nou van die opvatting dat ’n meerdere vergadering alle sake wat op ’n wettige wyse deur ’n mindere vergadering na hom verwys is, in behandeling mag neem? Uit wat reeds tot dusver gesê is, behoort dit duidelik te wees dat so ’n opvatting nie geldig is nie. Sake wat deur ’n

|135|

mindere vergadering afgehandel kan/moet word, kan nie „op ’n wettige wyse” na ’n meerdere vergadering verwys word nie; so iets is beslis „onwettig”.

By wyse van voorbeeld: ’n Predikant versprei dwaalleer deur middel van die pers of brosjures. Die argument is nou dat omdat dwaalleer alle kerke in kerkverband raak, hierdie saak direk tuishoort by die meerdere vergaderings. Hier moet egter in gedagte gehou word dat die aard of die omvang van so ’n „openbare growwe sonde” gladnie die subjek van die eventuele tugtoepassing bepaal nie. Kragtens artikel 79 KO begin die tug in so ’n geval by die kerkraad. Die kerkraad mag die tug egter nie afhandel nie. Maar indien die kerkraad in die tugproses verbygegaan word, sneuwel die presbiteriale kerkregering onder die stewel van die kollegialisties-presbiterianistiese kerkregering!

Daarom kan nie ernstig genoeg gewaarsku word nie dat meerdere vergaderings met die grootste nougesetheid daarop moet let dat artikel 30 KO ten alle tye gerespekteer en in werking gestel moet word.

Die beginsel in artikel 30 KO gaan naamlik baie dieper as ’n formele aanduiding wat op die agenda van ’n meerdere vergadering mag kom. Hierdie artikel wil nie bloot die aard van agendastukke definieer nie, maar dit wil die regte en pligte van kerkvergaderings waarborg. Dit maak ’n Bybelse beginsel, van hoe elkeen geroepe is om aan die Here verantwoordelik te lewe en te werk, diensbaar in kerkvergaderings. Tegelykertyd wil dit negatief enige heerskappyvoering en magsindringing uitsluit (kyk B. Spoelstra, 1980: „Die beginsel in Art. 30 KO”, p. 12 in In die Skriflig, 14(55):3-12, September).

Artikel 30 KO is anti-hiërargies, omdat dit nie toelaat dat alles maar deur die meerdere vergaderings behandel word nie; dit is egter ook anti-independentisties, omdat dit duidelik spreek van die sake wat die kerke gemeenskaplik raak en wat gemeenskaplik afgehandel moet word (kyk J. Kamphuis, 1966: Verkenningen III, p. 85-87. Goes, Oosterbaan en Le Cointre).