|64|

Artikels 13 en 20

 

Artikel 13.

As ’n bedienaar van die Woord, volgens oordeel van die kerkraad met goedkeuring van die klassis en advies van die deputate van die partikuliere sinode onbekwaam word vir die uitoefening van sy diens weens ouderdom, siekte of andersins, behou hy die eer en die naam van ’n bedienaar van die Woord en moet die kerk wat hy gedien het, hom in sy nooddruf eervol versorg.

Artikel 20.

By die afsterwe van ’n bedienaar van die Woord moet die kerk wat hy gedien het of in die geval van ’n professor aan die Teologiese Skool, die kerkverband, sy weduwee en wese eervol in hulle nooddruf versorg.

 

Aansoek om emeritering.

Wanneer ’n bedienaar van die Woord onbekwaam word om sy pligte te vervul, moet hy by sy kerkraad aansoek doen om te emeriteer.

Die kerkraad ondersoek die redes vir die aansoek (ouderdom, siekte of andersins) grondig en indringend; indien dit gegrond bevind word, lê die kerkraad die aansoek met ’n aanbeveling aan die klassis voor, wat saam met die deputate van die partikuliere sinode moet oordeel of emeritaat wel verleen kan word.

Die klassis en deputate van die partikuliere sinode moet vasstel of die kerkraad die aansoek behoorlik ondersoek het, en dan ondersoek instel na die redes vir die aansoek. Daarná moet hulle elkeen selfstandig en objektief, onafhanklik van mekaar, tot ’n eie bevinding kom (kyk p. 56 en p. 296 e.v. in hierdie verband).

In die geval van ’n teologiese professor, word die aansoek hanteer deur die Kuratorium.

 

Ouderdom.

Die eerste rede vir emeritering wat in artikel 13 genoem word, is ouderdom. Die vraag op watter ouderdom ’n predikant „onbekwaam”

|65|

word vir uitoefening van sy dienswerk, is relatief en sal verskil van persoon tot persoon. 

Die Sinode van 1961 (Handelinge p. 227, punt 3(e)) het die begrip „ouderdom” nader verklaar „as synde 65 jaar en ouer te wees”.

Die Sinode van 1997 (Handelinge p. 370, punt 4.1) het hierdie besluit egter soos volg gewysig: „Ouderdom in KO, artikel 13 word deur die Kerkraad, Klassis en Partikuliere Sinodedeputate bepaal op versoek van ’n predikant en kerkraad”.

Die Emeritaatsversorgingstrust en die Pensioenfonds gaan egter uit van die veronderstelling dat predikante normaalweg op ouderdom 65 emeriteer; daar is dus besliste finansiële implikasies ten opsigte van versorging indien ’n predikant vóór 65 emeriteer (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 370). Die betrokke Deputate kan besonderhede in elke geval voorsien.

Indien ’n predikant, aan die „verkeerde” kant van 65 jaar, wil voortgaan met sy aktiewe dienswerk, moet hy homself objektief daarvan vergewis (sover objektiwiteit hier moontlik is) of hy nog die gesondheid en kragte het om sy dienswerk voort te sit tot eer van die Here, tot welsyn van die kerk en tot uitbreiding van Gods koninkryk; hy moet ook sekerheid hê of die gemeente hom nog langer as predikant begeer, en hy moet oortuig wees dat hy nie in die pad staan van proponente wat wag op ’n beroep nie.

In die geval van ’n professor aan die Teologiese Skool, is daar bepaalde faktore wat dit verpligtend maak om op ouderdom 65 jaar te emeriteer, onder andere die Ooreenkoms tussen die GKSA en die PU vir CHO, en die finansiële posisie van die kerke in die verband van die GKSA. (Volgens die Ooreenkoms wat tans van krag is, betaal die GKSA en die PU vir CHO elkeen 50% van die traktement van slegs 9 professore; indien daar meer as 9 professore by die Teologiese Skool benodig word, moet die GKSA die bykomende aantal 100% versorg).

 

Siekte.

Soms gebeur dit dat ’n predikant se gesondheid só verswak, dat hy nie meer in staat is om sy dienswerk te verrig nie, en gevolglik genoodsaak word om sy emeritaat aan te vra.

|66|

Deurdat die Sinode van 1994 (Handelinge p. 245, punt 9.2.1.3.) besluit het om die bestaande Emeritaatsfonds te sluit en ’n eie pensioenfonds vir predikante van die GKSA in die lewe te roep, rus daar ’n baie swaar verantwoordelikheid op kerkrade, klassisse en deputate van partikuliere sinodes om absoluut seker te maak dat aansoeke van predikante wat vóór ouderdom 65 jaar weens swak gesondheid verplig word om te emeriteer, vergesel word van deurslaggewende mediese getuienis deur minstens twee mediese spesialiste waarin duidelik verklaar word dat hy onbekwaam geword het om sy dienswerk voort te sit (kyk ook Handelinge Sinode 1997, p. 218 e.v.).

Die dringendheid van wat hierbo gesê is, word veroorsaak deurdat predikante wat lede is van die Pensioenfonds, by ’n groepversekeringskema ingeskakel is wat dekking bied in geval van onbekwaamheid. Indien die Maatskappy by wie dié risiko verseker is, nie oortuig is van so ’n predikant se onbekwaamheid nie, kan hy weier om enige ongeskiktheidseis en/of pensioen uit te betaal. Dit is begryplik dat in so ’n situasie ’n kerkraad en gemeente en predikant in ’n toestand gedompel word wat katastrofale gevolge kan hê!

Daarom is dit wenslik en aanbevelenswaardig dat kerkrade in so ’n geval eers (nog voordat so ’n aansoek na die klassis deurgestuur word) afskrifte van die mediese sertifikate aan die Trustees van die Pensioenfonds voorlê vir uitklaring by die betrokke Versekeraar.

Hierdie sekerheid wat van die Versekeraar verkry word, onthef kerkraad en klassis en deputate van die partikuliere sinode hoegenaamd nie van hul eie verantwoordelikheid om selfstandig oor so ’n aansoek te oordeel nie.

Dit is ook wenslik dat die kerkraad op gereelde tye mediese verslae oor die predikant se gesondheidstoestand ontvang ten einde op hoogte te bly van die predikant se onbekwaamheid. Indien die predikant só herstel het dat hy weer voltyds dienswerk kan hervat, moet hy op die ordelike wyse aansoek doen vir opheffing van sy emeritaat (kyk p. 72 e.v.).

 

„Andersins”.

Hierdie begrip in artikel 13 is vir wye interpretasie vatbaar. Hoewel hier nie ’n katalogus opgestel kan word van watter omstandighede hieronder verstaan kan word nie, moet dit tog duidelik wees dat dit onder

|67|

artikel 13 tuishoort en nie byvoorbeeld onder artikels 12 of selfs 79/80 behandel moet word nie.

„Andersins” in hierdie artikel bedoel ander gevalle wat onbekwaamheid kan veroorsaak, anders as ouderdom en siekte, byvoorbeeld verswakking van geestesvermoëns, gebreke, of gevolge van ongelukke. Elke geval sal volgens eie omstandighede beoordeel moet word.

 

Praktiese effek van emeritering.

’n Predikant wat geëmeriteer het, is nie ontslaan uit die diens nie; sy amp is hom nie ontneem nie; hy is slegs onthef van sy verpligtinge. Hy behou die eer en die naam van ’n bedienaar van die Woord.

Alhoewel hy dus vrygestel is van verpligtinge om dienswerk te verrig, behou hy nog die bevoegdheid om dienswerk te verrig; indien hy daartoe versoek word en sy gesondheid en kragte dit toelaat, kan hy nog optree met Woord- en Sakramentsbediening, leiding van kerkraadsvergaderings as voorsitter, en selfs pastorale werk.

Die emerituspredikant mag egter nie aanspraak maak om bepaalde funksies in die kerk waar hy geëmeriteer het, te verrig nie, soos byvoorbeeld om kerkraadsvergaderings by te woon, as voorsitter op te tree, te preek, en so meer. In hierdie verband is die besluit van Sinode 1967 (Handelinge p. 60, punt 3) belangrik: „Geen kerk het egter die reg om op sulke dienste van sy emerituspredikant aanspraak te maak nie, al word hy deur die kerk versorg, net so min as wat die geëmeriteerde spesiale ampsvoorregte besit waarvolgens hy kan eis om sulke dienste te verrig.” ’n Emerituspredikant ontvang nog die eer wat ’n bedienaar van die Woord toekom, en hy is geregtig op eervolle versorging deur die kerkraad.

Dit is ook belangrik om te stel dat ’n emerituspredikant steeds verbonde bly aan die kerk waar hy geëmeriteer het, selfs al sou hy hom elders gaan vestig.

 

Hulpdiens deur emeritus.

Soms gebeur dit dat ’n emeritus (predikant of professor) deur ’n gemeente gevra word om vir ’n korter of langer tydperk hulpdiens te lewer.

|68|

Uit die aard van die saak is so iets slegs moontlik indien die gesondheid en die kragte van so ’n emeritus dit toelaat.

In so ’n geval moet die bewilliging van die kerkraad/kuratorium wat emeritaat verleen het, verkry word, aangesien ’n emeritus „ampshalwe” steeds verbonde bly aan die kerk/Teologiese Skool waar hy geëmeriteer het.

Indien bewilliging verkry is, moet daar ’n bedieningsooreenkoms tussen die kerkraad waar hulpdiens gelewer gaan word en die betrokke emeritus opgestel word; hierdie bedieningsooreenkoms moet goedgekeur word deur die kerkraad/kuratorium wat emeritaat verleen het.’n Konsep van so ’n bedieningsooreenkoms word as Bylae „A2” agter in hierdie boek voorsien.

 

Prosedure by emeritering.

Nadat die aansoek tot emeritering deur kerkraad, klassis en deputate van die partikuliere sinode goedgekeur is, ontvang die predikant sy emeritaat op ’n ordelike wyse van die kerkraad, onder voorsitterskap van die konsulent in teenwoordigheid van deputate van 2 naburige kerke (kyk p. 33, 34, en 49). Vereiste dokumente is die oorspronklike aansoek van die predikant, en die besluite van kerkraad en klassis met deputate van die partikuliere sinode.

Aan die geëmeriteerde predikant word ’n akte van emeritering gegee, onderteken deur die konsulent/voorsitter, die skriba en die deputate van die naburige kerkrade. Hierdie akte moet in drievoud voltooi word: een vir die emeritus en een elk vir die kerkraad en die klassis. ’n Konsepakte verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 560, punt 3.5. Kyk hierby ook Handelinge Sinode 1994, p. 489, punt 22.12.

Die kerkraad moet aan die Trustees van die Pensioenfonds (per adres die Administratiewe Buro van die GKSA) kennis gee van die emeritering, met die oog op uitkering van pensioenvoordele. In die geval van predikante (en professore) wat nog gedeeltelike versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust (die voormalige Emeritaatsfonds, kyk Handelinge Sinode 1997, o.a. p. 277 e.v.) ontvang, moet ook kennis gegee word aan die Deputate vir Emeritaatsversorging, by dieselfde adres.

|69|

Predikante wat beroep word as professore aan die Teologiese Skool, skakel normaalweg in by die personeelpensioenfonds van die PU vir CHO, waarheen pensioenvoordele wat reeds verwerf is by die pensioenfonds vir predikante, oorgedra word.

 

Wyse van versorging.

Soos reeds op bladsy 65 e.v. aangetoon is, het die Sinode van 1994 die Emeritaatsfonds gesluit en ’n pensioenfonds vir predikante van die GKSA in die lewe geroep.

Hierdie Sinode het besluit dat slegs predikante wat per lederegister tot 30 Junie 1994 kragtens beroepsbrief geregtig was op versorging uit die Emeritaatsfonds, ook ná 1 Julie 1994 geregtig is op versorging daaruit vir diensjare vóór 1994 (Handelinge p. 245, punt 9.2.1.3.). (Vir lederegister, kyk Handelinge Sinode 1997, p. 224 e.v.).

Volgens besluit van hierdie Sinode word verwag dat alle predikante moet inskakel by die Pensioenfonds.

Vanaf 1 Julie 1994 is die situasie dus só dat predikante wat toe alreeds in die bediening was, met emeritering hul pensioenvoordele wat reeds verwerf is, ontvang; hierdie pensioenvoordele sal egter nie toereikend wees vir volledige eervolle versorging nie, aangesien hierdie predikante nie vir hul volle bedieningstyd lede was van die Pensioenfonds nie; hulle is kragtens beroepsbrief geregtig op aanvullende versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust vir diensjare vóór 1994; die versorgingsbedrag in elke geval word deur die Deputate volgens ’n bepaalde formule vasgestel.

Versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust sal dus met verloop van tyd ten volle uitgefaseer word, sodat uiteindelik die volledige versorging uit die Pensioenfonds sal geskied.

Om te verseker dat die versorging uit die Pensioenfonds met emeritering (en by vroeë onbekwaamheid of afsterwe), toereikend sal wees, sal elke kerkraad met groot verantwoordelikheid en erns moet toesien dat die pensioengewende traktement (hierná genoem PGT) wat by die Trustees van die Pensioenfonds vir sy predikant opgegee word, voldoende is. Die PGT is dié traktement waarvolgens bepaal word wat die uiteindelike pensioen van die predikant by emeritering sal wees;

|70|

hiervolgens word egter ook bepaal watter bedrae uitbetaal sal word by vroeë onbekwaamheid of afsterwe. Dit is dus begryplik dat hoe hoër die PGT, hoe beter die uiteindelike pensioen-, ongeskiktheids- en sterftevoordele. Hierdie PGT sal, as gevolg van inflasie en veranderde omstandighede by die predikant en sy gesin, op ’n jaarlikse basis hersien en aangepas moet word.

Volgens die PGT word die ledegeld van die Pensioenfonds bepaal. Ledegeld van ’n pensioenfonds is gewoonlik 20% van die PGT; dit word normaalweg soos volg verdeel: 12.5% deur die werkgewer (in hierdie geval die kerkraad) en 7.5% deur die lid (in hierdie geval die predikant).

Van hierdie ledegeld word ’n sekere deel aangewend as premie vir ’n groepassuransiepolis, waarin die risiko's van vroeë onbekwaamheid en afsterwe verseker word.

In die praktyk het dit in sommige gevalle gebeur dat kerkrade ’n lae PGT by die Trustees opgee, om sodoende te bespaar deur ’n laer ledegeld.

Hierdie praktyk is absoluut dwaas!

Wat sulke kerkrade blykbaar nie begryp en besef nie, is dat hierdie manier van „besparing” in werklikheid geweldig „duur” is; oplaas sal dit vir die predikant en sy gesin (en by vroeë afsterwe vir sy weduwee en wese) slegs rampspoed meebring, in die vorm van ontoereikende versorgingsmiddele!

Ook vir die kerkraad self skuil in hierdie „besparingsmetode” ’n baie groot gevaar. Want die feit dat predikante lede is van ’n pensioenfonds, onthef die kerkraad nooit van sy roeping en verantwoordelikheid volgens artikels 13 en 20 nie! As die pensioen- of ongeskiktheids- en sterftevoordele ontoereikend is, is en bly dit, kragtens artikels 13 en 20, die roeping en verantwoordelikheid van die kerkraad om sy emerituspredikant en gesin, asook sy predikantsweduwee en -wese, eervol te versorg.

En hulp uit die Emeritaatsversorgingstrust is in sulke gevalle totaal buite die kwessie, kragtens die Sinodebesluit van 1994 (kyk p. 65, 68 e.v. asook hierbo).

|71|

Kerkrade wat só probeer „bespaar”, openbaar ’n groot gebrek aan kundigheid, insig, roepingsbesef en verantwoordelikheid!

 

Pensioenvoordele ontoereikend?

Dit mag in bepaalde gevalle gebeur dat, hoewel die PGT aanvanklik voldoende versorging moontlik gemaak het, die predikant se omstandighede só kan verander ná sy emeritering (of dié van sy weduwee ná sy afsterwe), dat die pensioenvoordele nie meer voldoende is nie.

Dan is dit, kragtens artikels 13 en 20, die kerkraad se roeping en verantwoordelikheid om bykomende voorsiening te maak vir toereikende versorging.

Hierdie bykomende versorging — of dit in die vorm is van kontant, huisvesting of op watter ander wyse dan ook — is ’n verpligting wat die kerkraad op homself geneem het en wat hy enduit moet eerbiedig.

Die opmerking is al gemaak dat so ’n bykomende versorging nie ’n blywende verpligting op die kerkraad plaas nie, aangesien dit slegs pro amico (ter wille van vriendskap) onderneem is.

As hierdie uitgangspunt korrek sou wees, word so ’n emerituspredikant aan gevaarlike en benouende willekeur prysgegee!

Kragtens artikel 13 is die kerkraad verplig om so ’n onderneming gestand te doen (behalwe as die bykomende versorging uitdruklik as ’n tydelike pro amico-reëling gestipuleer is).

 

By afsterwe van predikant.

Wanneer ’n predikant te sterwe kom, moet die kerkraad onverwyld daarvan kennis gee aan die Trustees van die Pensioenfonds, sodat uitbetaling van die sterftevoordele nie onnodig vertraag word nie. Hierdie kennisgewing moet ook gedoen word in gevalle waar die predikant nog geregtig was op gedeeltelike versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust, aangesien die risiko's in alle gevalle van vroeë onbekwaamheid en afsterwe verseker is deur middel van die groepassuransiepolis.

Aandag moet ook daarop gevestig word dat die weduwee van ’n predikant vir hoogstens 6 maande die volle reg het op die gebruik van die pastorie en/of toelaes soos wat van toepassing was vir huisvesting van die predikant (Sinode 1997, Handelinge p. 247, 7.2).

|72|

Deurlopende skakeling van kerkraad met emeritus/weduwee.

Wanneer ’n emerituspredikant of ’n predikantsweduwee uit die kerk verhuis waar die predikant geëmeriteer of te sterwe gekom het, is dit van wesenlike belang dat die kerkraad deurlopend in verbinding sal bly met die emeritus/weduwee, om sodoende op hoogte te bly van die omstandighede.

Want al vertrek ’n emeritus of weduwee met attestasie na ’n ander gemeente, bly dit kragtens artikels 13 en 20 steeds die verantwoordelikheid van die kerkraad waar die emeritus/afgestorwene gedien het, om die emeritus/weduwee en wese eervol te versorg.

 

Vertrek uit kerk waar geëmeriteer het.

Dit gebeur dikwels dat ’n emerituspredikant ná emeritering met attestasie uit die kerk waar hy geëmeriteer het, verhuis na ’n ander kerk.

In so ’n geval bly hy nog steeds „ampshalwe” verbind aan die kerk waar hy geëmeriteer het. Die kerk waarheen hy verhuis, ontvang hom en sy gesin wel as lidmate; maar as predikant (sover dit versorging, ampsbevoegdheid en eventuele tug oor hom as predikant betref) bly hy verbind aan die kerk wat hom beroep en waar hy geëmeriteer het. Indien daar dus ’n tugsaak teen hom as ampsdraer ontstaan, moet die kerkraad waar hy lidmaat is, die saak oorgee aan die kerkraad wat emeritaat verleen het.

Dit beteken dus dat die kerkraad wat emeritaat verleen het, die tug ooreenkomstig artikels 79/80 KO toepas, en die kerkraad van die kerk waar hy woon, die tug ooreenkomstig artikels 76-78 KO toepas (kyk Handelinge Sinode 1970, p. 428, punt B).

 

Opheffing van emeritaat.

Wanneer ’n predikant, wat weens swak gesondheid genoodsaak was om vroeg te emeriteer, weer sodanig herstel het dat hy tot die voltydse bediening kan terugkeer, moet hy op die ordelike wyse daarvoor aansoek doen.

Eerstens moet hy skriftelik by die kerkraad wat emeritaat verleen het, aansoek doen om opheffing van sy emeritaat. Ter ondersteuning van sy

|73|

aansoek moet hy minstens 2 mediese sertifikate inhandig (verkieslik deur dieselfde spesialiste wat met sy aansoek om emeritering gesertifiseer het dat hy onbekwaam was tot voortgesette dienswerk); hierin moet ondubbelsinnig verklaar word dat sy gesondheid só verbeter het, dat sy emeritaat opgehef kan word.

Die kerkraad moet hierdie aansoek en stawende mediese getuienis indringend ondersoek, sodat daar absolute duidelikheid bestaan voordat ’n besluit geneem word.

Indien daar nie voldoende duidelikheid bestaan nie (ondanks die mediese getuienis), moet die kerkraad nie toestem tot opheffing van emeritaat nie. Want wanneer ’n predikant vir ’n tweede keer weens siekte vroeg moet emeriteer, is dit ’n dubbel traumatiese ervaring! Die aansoek moet dan liewer tot ’n later datum uitgestel word, of heeltemal afgewys word.

As daar ’n moontlikheid bestaan dat in geval van onsekerheid die emeritus êrens in ’n gemeente hulpdiens kan verrig om te toets of hy weer voltyds na die bediening kan terugkeer, moet so ’n moontlikheid op die proef gestel word.

Om so ’n „toets” sinvol te maak, moet dit na my mening soos volg geskied:
➢ dit moet vir minstens ’n jaar duur, indien die predikant se gesondheid dit toelaat;
➢ die predikant moet heeltyds werk, dit wil sê hy moet ten volle alles doen wat ’n predikant normaalweg doen;
➢ die predikant moet ten volle eerlik wees in so ’n situasie; daarmee bedoel ek dat hy nie moet probeer voorgee dat hy in staat is om weer voltyds bedieningswerk te doen, terwyl hy ervaar dat dit eintlik nie moontlik is nie;
➢ indien hierdie „toets” gedoen word in ’n ander kerk as dié waar die predikant geëmeriteer het, moet daar ’n bedieningsooreenkoms opgestel word met instemming en goedkeuring van albei betrokke kerkrade (kyk Bylae „A1”).

Wanneer dit vir die kerkraad wat die aansoek moet oorweeg, wel duidelik is dat die emeritus se gesondheid só verbeter het dat sy emeritaat opgehef kan word, stuur hy die aansoek en stawende getuienis, met

|74|

’n aanbeveling, na die klassis en deputate van die partikuliere sinode, wat ’n finale besluit neem. Dit is egter belangrik om te benadruk dat die klassis en deputate van die partikuliere sinode selfstandig ’n eie indringende ondersoek moet doen voordat finaal besluit word.

Ná opheffing van die emeritaat moet die kerkraad wat aanvanklik emeritaat verleen het, aan die kerke in kerkverband daarvan kennis gee, met die oog op ’n beroep. Ook moet kennis gegee word aan die Trustees van die Pensioenfonds, om die praktiese implikasies van die opheffing van emeritaat te hanteer; in die geval van ’n predikant wat ten volle of gedeeltelik versorg is uit die Emeritaatsversorgingstrust, moet met dieselfde doel ook kennis gegee word aan die Deputate vir Emeritaatsversorging.

Die effek van opheffing van emeritaat is naamlik dat die betrokke predikant onmiddellik weer voltydse diensdoende predikant is van die gemeente waar hy geëmeriteer het. As dié gemeente op daardie stadium vakant is, behoort daar geen probleem te wees nie. As dié gemeente egter ’n diensdoende predikant het, ontstaan daar ’n praktiese probleem.

Wie is in hierdie geval vir sy versorging verantwoordelik?

Na my mening moet daar onderskei word tussen die „status” en die versorging van so ’n predikant. Sy „status” het nou verander van emerituspredikant na diensdoende predikant. Sy versorging skep egter ’n probleem, aangesien dit vir meeste kerke finansieel onmoontlik sal wees om twee predikante gelyktydig eervol te versorg. En die predikant wie se emeritaat opgehef is, mag immers nie onversorg gelaat word nie — selfs nie vir slegs een maand nie!

Sy pensioen en/of emeritaatstraktement (waar van toepassing) sal dus nie onmiddellik gestaak mag word nie. Daar sal ’n tydsduur bepaal moet word waarbinne die predikant ’n beroep moet ontvang. So ’n tydsduur moet om verstaanbare redes nie te kort wees nie.

Dit kan egter ook nie onbepaald voortduur nie.

Indien die predikant nie binne die bepaalde tyd ’n beroep ontvang nie, mag hy nie maar bloot, deur ’n besluit van kerklike vergaderings, „terug geplaas” word na die „staat” van emeritus nie.

|75|

Ek is van oortuiging dat daar in so ’n geval slegs één weg oopstaan, hoe ongelukkig dit ook al mag wees: hierdie predikant moet op ’n ordelike wyse „ontslaan” word kragtens artikel 11 KO (kyk hier die besluit van die Sinode van 1997, Handelinge p. 248, 8.4.3. en p. 262, 3.7.4.3.).

Wanneer so ’n predikant wel ’n beroep ontvang, word die gewone prosedure kragtens artikel 10 KO gevolg.