Visser, J. (1999)

Die Kerkorde in Praktyk
Roodepoort
eigen beheer
1999

April 1999 

|iv|

Gedruk en gebind deur:
EFJS Drukkers
Posbus 493,
ORKNEY 2620
Tel: (018) 473-2740 

Uitgegee deur:
Dr. J. Visser
Sonderendstraat 31
HELDERKRUIN Uitbr. 6
ROODEPOORT 1724
Tel: (011) 768-0989

|v|

In verwysings na en aanhalings uit die Kerkorde word steeds die uitgawe van 1980 bedoel (tensy anders vermeld), omdat dit met die opstel van hierdie werk die nuutste beskikbare uitgawe was. Alle skrifverwysings in hierdie werk is volgens die vertaling van 1953.

Die Sinode van Reddersburg 1862 het die Dordtse Kerkorde van 1618-19 vir die kerkregering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aanvaar. Verskillende sinodes het dit ooreenkomstig artikel 86 gewysig om aan te pas by veranderde tye en plaaslike omstandighede.

Visser, J. (1999) Vw

|vii|

Voorwoord 

 

Vir geruime tyd reeds word daar van verskeie kante druk op my uitgeoefen om ’n praktiese handleiding vir gebruik met die Kerkorde saam te stel.

Ook ontvang ek oor baie jare reeds talle versoeke om “advies” oor die praktiese toepassing van hierdie of daardie artikel van die Kerkorde.

Hierdie dinge het my tot die besef gebring dat daar ’n groot behoefte bestaan aan ’n handleiding by die Kerkorde wat slegs toegespits is op die praktiese toepassing van die verskillende artikels. Bestaande handleidings by die Kerkorde voorsien nie ten volle in hierdie behoefte nie, om die eenvoudige rede dat dit met ’n ander doel saamgestel is.

Hierdie boek moet dan ook in die bostaande lig beskou en gebruik word. Dit is slegs my persoonlike menings, gebaseer op my eie kennis van die Kerkorde en my eie praktiese ondervinding tydens die jare van my bediening.

[Let daarop dat ek die woord “advies” in die tweede paragraaf hierbo in aanhalingstekens geplaas het. Want advies, in die kerkordelike betekenis van die woord, kan slegs deur ’n kerklike vergadering gegee word. Alle sogenaamde “adviese” deur individue, selfs deur ’n professor in Kerkreg, is en bly per slot van rekening ’n persoonlik mening, wat as sodanig geëvalueer en gebruik moet word.]

Ek is bewus daarvan dat ander van my siening kan verskil. Tog het ek my uiterste bes gedoen om my in hierdie werk te hou aan die mees logiese en mees aanvaarbare verklarings van die Kerkorde. In gevalle waar die toepassing van ’n bepaalde artikel onseker, kontensieus of selfs kontroversieel is of mag wees, het ek so wyd as moontlik gekontroleer aan die hand van bestaande gesaghebbende werke. Ek het ook probeer om toepaslike sinodebesluite te respekteer.

Hierdie boek wil presies wees wat die titel aandui: die Kerkorde in praktyk. Daarom het ek nie ingegaan op die Skriftuurlike fundering en die historiese agtergrond van elke artikel nie. Ook het ek nie

|viii|

kerkregtelike, dogmatiese, eksegeties-hermeneutiese en tekskritiese probleme behandel nie.

Volledigheid is uit die aard van die saak onmoontlik; tog het ek probeer om die veld van die praktiese kerkregering so volledig moontlik te dek.

Mag die HERE hierdie poging ryklik seën tot sy eer en in belang van ons Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

 

J. Visser

Visser, J. (1999) Inh

|ix|

Inhoud

 

Voorwoord — VII

Inhoud — IX

Artikel 1 — 1

Die betekenis en belangrikheid van die Kerkorde — 1
Artikel 1 en artikels 23 en 64 — 2

Artikel 2 — 3

Amp en diens — 3
Die dienste onderskeie maar tog gelyk — 4
Vereistes en gawes vir die dienaars van Christus — 4
Gebrek aan of verlies van ampsgawe(s)? — 5
Meer as een amp gelyktydig? — 6
Mag een persoon meer as een amp gelyktydig bedien? — 6

Artikel 3 — 7

Wettige beroeping noodzakelijk — 7
Inwendige en uitwendige roeping — 7
Wettige toelating noodsaaklik — 8
Wie mag preek? — 8

Artikels 4 en 5 — 14

Wettige beroeping en toelating — 15
Drie eksamens — 15
Persone wat elders gestudeer het — 17
Beroepbaarstelling van kandidate en proponente uit erkende Gereformeerde Kerke — 18
Staking van stemme by toelating — 18
Aansoek om eksaminering/beroepbaarstelling — 18
Die beroeping — 19
Wie mag beroep word? — 19
Wie beroep: die kerkraad, of die gemeente? — 20
Prosedure by verkiesing/beroeping — 21
Die konsulent — 21
Advies deur klassis/konsulent — 23
Verskillende metodes by verkiesing/beroeping — 24
Die verkiesing (stemming) — 24

|x|

Verkiesing deur gemeente — 27
Die beroep — 28
 Beroeping van teologiese professore — 29
 Kombinasie-beroepe — 29
 Verdere optrede met betrekking tot beroep — 31
Die beroepsbrief — 31
Goedkeuring (approbasie) van beroep — 32
Die kontrolering van vereiste dokumente — 33
Die vereiste dokumente — 34
Die bevestiging — 35
Die handoplegging — 35
Die Ondertekeningsformulier — 36
Beroepbaarstelling van voormalige predikante — 36
Gesamentlike dienste — 37

Artikel 6 — 39

Predikante in buitengewone omstandighede — 39
Onderworpe aan die Kerkorde — 40
Aan bepaalde gemeente verbonde — 40

Artikel 7 — 41

Bedienaar van Gods Woord aan bepaalde kerk verbind — 41
Bedienaar van Gods Woord op bepaalde plek gevestig — 41
Bedienaar van Gods Woord uitgestuur om kerke te vergader — 42
Slegs deur plaaslike kerk — 42

Artikel 8 — 43

Toelating sonder voorafgaande studie — 43
Prosedure by toelating — 43

Artikel 9 — 45

Bewoording — 45
Aansluiting by vorige artikels — 45
Eers aansluit as lidmaat — 45
Prosedure by toelating — 45

Artikel 10 — 47

Losmaking — 47
Bewilliging van kerkraad met diakens — 47
Toestemming van klassis — 48
Hoe die losmaking geskied — 49
Akte van losmaking — 49

|xi|

Antwoord op beroep — 50
Kerklike verbintenis in die periode tussen losmaking en bevestiging — 50
Beroep deur ’n kerk buite die verband van die GKSA? — 50

Artikel 11 — 52

Versorging van bedienaars van die Woord — 52
Behoorlike lewensonderhoud — 52
Vergoeding van reisonkoste — 53
Eie woning vir predikant — 53
Riglyn deur klassis — 53
Die taak van visitatore — 54
Sustentasie — 54
„Tentmakerbediening” — 55
Ontslag van ’n bedienaar van die Woord — 56
Keerdatum — 57
Geen beroep vóór keerdatum? — 57
Ander oorsake as slegs versorging? — 58

Artikel 12 — 59

Die bedoeling van hierdie artikel — 59
Slegs om gewigtige redes — 59
Mag ’n kerkraad sy predikant adviseer om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat? — 60
Beoordeling van de redes — 60
Eiewillige neerlegging van die amp — 61
Terugkeer tot die bediening — 62
Nie ampsherstel nie, maar beroepbaarstelling — 63
Opsegging van kerklike gemeenskap — 63

Artikels 13 en 20 — 64

Aansoek om emeritering — 64
Ouderdom — 64
Siekte — 65
„Andersins” — 66
Praktiese effek van emeritering — 67
Hulpdiens deur emeritus — 67
Prosedure by emeritering — 68
Wyse van versorging — 69
Pensioenvoordele ontoereikend? — 71
By afsterwe van predikant — 71
Deurlopende skakeling van kerkraad met emeritus/weduwee — 72
Vertrek uit kerk waar geëmeriteer het — 72

|xii|

Opheffing van emeritaat — 72

Artikel 14 — 76

Onderbreking van diens vir ’n tyd lank — 76
Redes vir tydelike diensonderbreking — 76
Siekte — 76
Ander redes — 77
Prosedure — 78
Praktiese effek van tydelike diensonderbreking — 79

Artikel 15 — 81

Bediening van Woord en sakramente in ’n ander kerk — 81
Bewilliging van kerkraad — 81
Predikante nie in vaste diens nie — 82

Artikel 16 — 83

Ampsomskrywing — 83
Predikante as huweliksbevestigers — 84
Die predikant as liturg — 84
Hulpdienste vir die predikant — 85
Geen ampsgewaad — 86
Predikant voltyds in diens — 86
Die regeeramp van die predikant — 86

Artikel 17 — 88

Artikel 17 en Artikel 84 — 88
„Gelykheid” in hierdie artikel — 88
Gelyke versorging — 90

Artikel 18 — 91

Wie mag beroep word as professor aan die Teologiese Skool? — 91
Prosedure by beroep — 91
Toesig en tug oor professore — 92
Die dienspligte van die professore — 92
Die Kuratorium — 93

Artikel 19 — 94

Voldoende aantal predikante — 94
Ondersteuning van studente — 94
Toelating tot teologiese studie — 95

Artikel 21 — 96

|xiii|

Kerk en skool — 96
Christelike onderwys in ’n onchristelike staat — 97
Kerkskole? — 97

Artikels 22 en 24 — 98

Verkiesing deur die gemeente — 98
Wie mag deelnemen aan die verkiesing? — 98
Wie is verkiesbaar? — 98
Wyse van verkiesing — 99
Tweetal — 99
Dubbele getal — 100
Approbasie — 100
Afkondiging aan gemeente — 100
Bevestiging in die amp — 101
Ondertekeningsformulier — 101

Artikel 23 — 102

Artikel 23 en artikel 16 — 102
Toesig oor mede-ampsdraers — 102
Huisbesoek — 103
Huisbesoek „sowel voor as na nagmaal” — 104
Lidmate „uitnooi” na nagmaal? — 104
Huisbesoek ook by mede-ampsdraers — 105
Huisbesoek deurlopend deur die jaar — 105
Ander besoeke — 105
Ander opwek tot Christelike Godsdiens — 106
Ouderling sonder wyk? — 106
„In-diens-opleiding” — 106

Artikel 25 — 108

Die „eintlike” amp — 108
„Armes” en „die wat in nood is” — 109
Die wyse van versorging — 110
Voorkoming van armoede — 112
Huisbesoek — 113
Verslag van werksaamhede — 114
Afkondiging van kollekte in erediens — 114
Diakonale konferensies — 114

Artikel 26 — 116

Verhouding tot ander liggame — 116
Huise vir bejaardes en onversorgde kinders — 116

|xiv|

Oorlegpleging met kennis van kerkraad — 117

Artikel 27 — 118

Onderskeid met bedienaars van die Woord — 118
Dienstyd deur kerkraad gereël — 118
Periodieke aftreding — 118
Bevestiging na herverkiesing? — 119
„Eervolle” en „gewone” losmaking? — 119

Artikel 28 — 121

Wedersydse verpligting — 121
Geen ordelike samelewing sonder burgerlike regering — 121
Nie slegs Christelike owerheid — 121
Deputate vir Korrespondensie met Streeks- en Sentrale Owerheid — 122
Roeping van kerklike vergaderings — 122
Getuienis voor owerheid — 122

Artikel 29 — 123

Plaaslike kerk en kerkverband — 123
Meerdere vergaderings, en nie hoëre vergaderings nie — 123
Aantal kerklike vergaderings — 124
Die kworum van kerklike vergaderings — 124

Artikel 30 — 125

Beperking van bevoegdhede — 125
Slegs kerklike sake — 125
Op kerklike wyse — 126
Geen presedente — 127
Meerdere vergaderings en studie — 127
Motivering by besluite — 128
Onderskeid tussen prinsipiële en middelmatige sake — 128
Beperkte bevoegdheid van meerdere vergaderings — 128
Mag ’n beskrywingspunt deur ’n meerdere vergadering verander word? — 129
Mag ’n meerdere vergadering ingryp in die sake van ’n mindere vergadering? — 130
Meerdere vergaderings en grensreëlings tussen plaaslike kerke — 132
Meerdere vergadering word versoek om in ty gryp in die sake van ’n plaaslike kerk — 132

Artikel 31 — 136

Kerklike vergadering — 136
Kworum — 136

|xv|

Meerderheid van stemme — 136
Konformering — 136
Twee derde meerderheid? — 137
Opsteek van hande, of geslote stembriewe? — 138
Buite stemming bly — 138
Aantekening in minderheid — 138
Staking van stemme — 139
Voorsitter geen beslissende stem — 139
Vas en bindend — 139
Voorwaarde — 140
Ratifikasiereg — 141
„Tensy bewys word...” — 141
Appèl — 141
Is appèl toelaatbaar in alle gevalle war nie saamgestem word met besluite van kerklike vergaderings nie? — 142
Appèlprosedure — 142
Orde van behandeling van appèl — 143
Praktiese konsekwensies van geslaagde appèl — 145
Appèl geniet voorrang — 146
Kan kennisgewing van appèl uitvoering van besluite opskort? — 147
Mag ’n appèl verwys word na deputate om ’n volgende vergadering te adviseer? — 148

Artikel 32 — 149

„Alle vergaderinge...” — 149
Christus Hoof van sy kerk — 149

Artikel 33 — 150

Samestelling van meerdere vergaderings — 150
Geloofsbriewe — 150
Openlike Verklaring — 151
Opdragte — 151
Geen oop agenda nie — 152
Mag ’n vergadering aan sy afgevaardigdes opdrag gee hoe om te stem? — 152
Keurstem — 153

Artikel 34 — 155

„Praeses” — 155
Skriba — 155
Notule — 155
Gebruik van bandopname — 156
Goedkeuring van notule — 156

|xvi|

Notuleboek moet genummerde bladsye hê — 157
Korrespondensie voortvloeiend uit vergadering — 157
Uittreksels uit notule — 157
Verskillende skribas — 158

Artikel 35 — 159

Bedienaar van die Woord voorsitter — 159
Werk van voorsitter — 159
Voordra en verduidelik wat behandel moet word — 159
Toesien dat elkeen op sy beurt spreek — 160
Swye oplê aan die wat „redetwis en alte heftig spreek” — 160
„Gepaste sensuur” uitoefen indien nodig — 161
Onpartydigheid van voorsitter — 161

Artikel 36 — 163

„Seggenskap” en „gesag” — 163
„Dieselfde” seggenskap — 163
Mag ’n meerdere vergadering ingryp in die sake van ’n mindere vergadering? — 164

Artikel 37 — 165

Uit wie bestaan die kerkraad? — 165
Gereelde byeenkomste — 165
Buitengewone vergaderings — 166
Kworum van vergaderings — 166
Kworum van „breë kerkraadsvergadering” — 166
Agenda — 167
„Gemeentevergaderings” — 168
Bedienaar van die Woord voorsitter — 168
Predikante om die beurt voorsitter — 169
Mag ’n ouderling as voorsitter in ’n kerkeraadsvergadering optree? — 169
Die taak van die voorsitter — 170
Uitpraat uit kerkraadsvergadering — 170

Artikel 38 — 171

Kerkraad vir eerste maal of opnuut ingestel — 171
Advies van klassis — 171
Aansoek om stigting van bykomende kerk — 171
Konsepakte van afstigting — 171
Die taak van die klassis — 174
Die afstigting — 174
Toetrede van bestaande kerk(e) tot verband van GKSA — 176

|xvii|

Die klassis en grensgeskille tussen kerke — 177
Handhawing van bestaande grense — 177
Samesmelting van twee of meer kerke — 178
Ontbinding van kerk — 178
Kerkraad „te klein” — 179
Kombinasie van kerke — 179

Artikel 39 — 180

Interpretasie van artikel — 180
Geestelike versorging van verspreidwonendes — 180

Artikel 40 — 182

Vergadering van diakens — 182
Aantal vergaderings — 182
Aanroeping van die Naam van God — 182
Handel oor eie ampsake — 182
Toesig deur predikant — 183
Teenwoordigheid van predikant — 183
Diakonale konferensies — 183
Verteenwoordiging van diakens in meerdere vergaderings — 184

Artikel 41 — 185

Vergadering van kerke — 185
Afvaardiging — 186
Plek en tyd — 186
Voorsitter — 187
Die agenda — 188
Afvaardiging na partikuliere sinode — 188

Artikel 42 — 189

Wese van klassis — 189
Ook in ander meerdere vergaderings? — 189
Ook ouderlinge? — 189

Artikel 43 — 190

Sensuur — 190
Doel — 190
Wyse — 190
Verontagsaming van vermaning van mindere samenkomste — 191

Artikel 44 — 192

Betekenis en doel van visitasie — 192

|xviii|

Artikel 44 en artikel 49 — 192
Die visitatore — 193
Ouderlinge as visitatore? — 194
Gewone en buitengewone visitasie — 194
Afkondiging van visitasie — 195
Ontmoeting van individue met visitatore — 195
Die inhoud van visitasie — 195
Vasstel of versorging van predikant behoorlik is? — 196
Verslag van visitasie aan klassis — 197
Slegs kardinale sake wat die klassis se aandag benodig — 199
Woordbediening deur visitator(e) — 199

Artikel 45 — 200

Taak van korresponderende kerkraad — 200
Taak van roepende kerkraad — 201

Artikel 46 — 203

Eindelose herhaling voorkom — 203
Moontlikheid van wysiging — 203
Beswaarskrif of gravamen — 204
Behandel en nie afhandel nie — 204

Artikel 47 — 206

Vergadering van klassisse — 206
Afvaardiging — 206
Vergadertye — 206

Artikel 48 — 208

Die term „korrespondensie” — 208
Wyse van korrespondensie hou — 208

Artikel 49 — 209

Meerdere vergaderings nie permanente „strukture” nie — 209
Deputate met omskrewe opdrag — 209
Deputate sonder „omskrewe” opdrag — 209
Deputate „vanweë die partikuliere sinode” — 210
Deputate moet verslag doen van hul werksaamhede — 210
Kuratore/Kuratorium — 210

Artikel 50 — 212

Vergadering van partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) — 212
Afvaardiging — 212

|xix|

Afvaardiging by wyse van toerbeurt? — 212
Vergadertye — 213
Werkswyse — 213

Artikel 51 — 214

Vergadering van nasionale sinodes — 214
Afvaardiging — 214
Vergadertye — 214

Artikel 52 — 215

Korrespondensie — 215
Samewerking — 215
Kontak — 215
Taak van nasionale sinode — 215
Taak van algemene sinode — 216

Artikels 53 en 54 — 217

Onderskrywing en ondertekening van Belydenisskrifte — 217
„Onderskryf en onderteken” — 217
Ondertekeningsformulier — 218
Waar ondertekening moet plaasvind — 218
Optrede by weiering om te onderteken — 218
„Metterdaad” — 219
Skorsing/afsetting — 219

Artikel 55 — 221

Handhawing van suiwere leer — 221
Nie primêr die taak van meerdere vergaderings nie — 221

Artikel 56 — 222

Die verbond van God — 222
Geen onnodige vertraging — 222
Verbondskinders — 222
Kinders van ouers wat onder tug is — 223
Kinders wat buite die huwelik gebore is — 223
Aangenome kinders — 224
Kinders van ouers wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie — 224
Verbondskinders in kinderhuise — 224
Wanneer een ouer nie lidmaat van die gemeente is nie — 224
Doopsbediening in ’n ander (Gereformeerde) Kerk — 225
Doop bedien deur ’n nie-Gereformeerde predikant — 226
Leeftydsgrens vir die kinderdoop — 226

|xx|

Erkenning van die doop deur ander kerkgroepe — 227
Voorskrifte by doopsbediening — 227
Die doopsformule — 228
Wyse van doopsbediening — 228

Artikel 57 — 229

Taak van die bedienaar van die Woord — 229
Aanvraag van die doop — 229

Artikel 58 — 231

Die belangrikheid van die Formuliere — 231
Verklaring van die doop — 231
Eenheid in liturgie m.b.t. doopsbediening — 231

Artikel 59 — 233

Konsekwensies van volwassedoop — 233
Konsekwensies van ongeoorloofde herdoop — 233

Artikel 60 — 235

Doopregister — 235
Doopseel benodig vir aflegging van geloofsbelydenis — 235
Geen doopseel bekombaar — 235
Koste verbonde aan uitreik van doopseels — 236
Naamsverandering in Doopregister — 236

Artikel 61 — 237

Toelating tot nagmaalsgebruik — 237
Belydenis van Gereformeerde godsdiens — 237
Aflegging van Belydenis van Geloof — 238
Voor die gemeente — 238
Geen „aanneming en voorstelling” nie — 239
Opname van lidmate uit ander nie-Gereformeerde kerke met dieselfde Belydenis — 239
Opname van lidmate uit kerke met ’n nie-Gereformeerde Belydenis — 240
Toelating tot gebruik van die nagmaal — 240
Geen „oop nagmaalstafel” nie — 240
Toelating tot nagmaalsgebruik deur lidmate van ander Gereformeerde gemeentes — 241
Toelating tot nagmaalsgebruik deur nie-Gereformeerde lidmate — 241

Artikels 62, 63 en 64 — 243

Vryheid van elke plaaslike kerk — 243

|xxi|

Voorskrifte wat nagekom moet word — 244
Aan tafel, of in banke? — 244
Beker of kelkies — 244
Druiwesap — 245
Uitnooi om aan te sit? — 246
Alle bygeloof vermy — 246
Twee nagmaalsvierings op een Sondag — 246
Nagmaalsbediening buite die normale erediens — 247

Artikel 65 — 248

Historiese agtergrond — 248
Geen erediens — 248
Waak teen verkeerde praktyke — 248
Lykverbranding — 248

Artikel 66 — 250

„Groot beproewings” — 250
Taak van aangewese klassis — 250
Samewerking van ander kerkgroepe/owerheid — 250
Inkleding van byeenkomste — 250

Artikel 67 — 251

Historiese agtergrond van hierdie artikel — 251
Aan vryheid van kerk oorgelaat — 251
Gesamentlike dienste met nie-Gereformeerde Kerke — 252
Die sogenaamde „kerklike jaar — 252

Artikel 68 — 253

Woordbediening — 253
Teks? — 253
Ook ander Belydenisskrifte? — 254
Sondagsafdelings verdeel? — 254

Artikel 69 — 255

Psalms en Skrifberyminge — 255
„Skrifgetroue liedere” — 255
Liturgie — 256
Liturgiese elemente — 256
Die sogenaamde „kinderkerk” — 257

Artikel 70 — 259

Huweliksbevestiging en erediens — 259

|xxii|

Die Owerheid en huweliksbevestigings — 259
„Huweliksgebooie”, afkondiging van voorgenome huwelik — 260
Egskeiding — 260

Artikel 71 — 261

Tug, sensuur en straf — 261
Tug onontbeerlik vir ware kerk — 261
Tugtoepassing ’n betoning van liefde — 261
Kerklike tug is geestelik — 262
Stiptelike en noukeurige notulering — 262
Tug oor dooplidmate — 262

Artikel 72 en 73 — 264

Heimlike sondes — 264
In alle gevalle eers die weg van Matthéüs 18? — 265

Artikel 74 — 266

Wanneer ’n sonde by die kerkraad aanhangig gemaak moet word — 266
Op watter wyse ’n sonde by die kerkraad aanhangig gemaak moet word — 266
Ontvanklikheid eers beoordeel — 266
Deeglike ondersoek deur kerkeraad — 267
„Advokaat” van buite? — 267
Getuienis van meer as een — 267
Saak verwys na kerkraadskommissie? — 267

Artikel 75 — 268

Die plek van artikel 75 — 268
Slegs ná boetvaardigheid — 268
Wyse deur kerkraad bepaal — 269
Openbare versoening — 269
Wyse van openbare versoening — 269
Vorm van openbare versoening — 269
Verskil van mening — 270

Artikel 76 — 271

„Dissiplinêre afhouding” — 271
Erns van dissiplinêre afhouding— 271
Redes vir dissiplinêre afhouding — 271
Wanneer vermanings van kerkraad verwerp word — 272
Wanneer ’n openbare of growwe sonde begaan is — 272
Voortgaande bearbeiding — 272
Mededeling van kerkraadsbesluit — 273

|xxiii|

Indien so ’n lidmaat desondanks na die nagmaal gaan? — 273
Afhouding afkondig? — 273
„Selftug” — 274
„Stille sensuur” of „eenvoudige afhouding” — 274
Posisie van ’n afgehoudene — 274
Hertoelating tot nagmaal — 275
Lidmaat weier om ouderling en/of predikant te ontvang — 275

Artikel 77 — 276

Afsnyding van die kerk — 276
Artikel 76 mag nie oorgeslaan word nie — 277
Drie openbare afkondigings — 277
Die eerste afkondiging — 278
Die tweede afkondiging — 278
Die derde afkondiging — 279
Die afsnyding — 279
Opsegging van gemeenskap voor afsnyding — 280

Artikel 78 — 281

Heropname ná boetvaardigheid — 281
Aansoek om heropname — 281
Die heropname — 282
Verbind aan viering van nagmaal — 282
Met betuiging van bekering — 282
Opname in geval van verhuising — 282

Artikels 79 en 80 — 283

Openbare growwe sondes — 283
Die „sondelys” in artikel 80 — 284
Simonie — 285

Trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van ’n ander — 285
Egbreuk — 286
Gewoontedronkenschap — 286
Wie die tug volgens artikel 79 uitoefen — 286
Hoe kom ’n tugsaak ordelik ter tafel? — 287
Kerkraad terselfdertyd klaer en regter? — 289
In alle gevalle eers Matthéüs 18? — 289
Verdere verloop — 289
Die inskakeling van naburige kerke — 291
Die oproep van die classis contracta — 292
Die funksionering van die classis contracta — 292
Afsonderlike vergaderings — 293

|xxiv|

Volledige vergadering — 293
Die bevoegdheid van die classis contracta — 294
Wat skorsing behels — 295
Indien bevindings nie ooreenstem nie — 295
Deputate van partikuliere sinode hulp/advies gee aan classis contracta? — 296
Die klassis met deputate van die partikuliere sinode — 296
Afsonderlike vergaderings — 297
Gesamentlike vergadering — 297
Wat afsetting behels — 298
Minder ernstige en meer ernstige afsetting? — 299
Tug oor predikante wat nie lidmate van hul „roepende” kerke is nie — 299
Tug oor teologiese professore — 300
Tug in gevalle van eiewillige neerlegging van die amp en opsegging van kerklike gemeenskap — 300
Artikels 11 en 79 K.O. — 302
Hertoelating tot die amp ná afsetting — 302
Die verhouding tussen artikels 79 en 76-77 — 303

Artikel 81 — 305

Christelike sensuur — 305
Praat met mekaar, nie van mekaar nie — 305
Artikel 81 en artikels 79/80 — 305
Artikel 81 en Matthéüs 18 — 306
Ook oor leer en lewenswandel? — 307
In elke vergadering — 307
Praktiese toepassing — 307
Waak teen formaliteit — 308

Artikel 82 — 309

Lidmaatskap verbonde aan plaaslike kerk — 309
Attestasie word deur kerkraad gegee — 309
Vrou as attestasie-skriba? — 309
Wat ’n attestasie is — 310
Verhuis sonder attestasie — 310
Attestasie „saamgee” — 311
Attestasie aanstuur sonder aansoek? — 311
Noukeurige attestering deur kerkrade — 311
Attestasie aanvra sonder dat verhuis word — 312
Geen attestasie in geval van opsegging van kerklike gemeenskap nie — 313
Geen bewys van lidmaatskap nie — 313
Mag ’n kerkraad weier om ’n attestasie te gee? — 313
Mag ’n kerkraad weier om ’n attestasie te aanvaar? — 313

|xxv|

Reisattestasie — 315

Artikel 83 — 316

Voortgesette verantwoordelikheid — 316
Redes vir vertrek — 316
Aard van hulpverlening — 316
Oorlegpleging met diakens van gemeente waarheen vertrek word — 317

Artikel 84 — 318

Geen hiërargie — 318
Tug per implikasie — 318
Ook by afvaardiging na meerdere vergaderings — 318

Artikel 85 — 319

Tug kragtens ekumeniese verhoudings — 319
Verdraagsaamheid in middelmatige sake — 320

Artikel 86 — 321

Slotartikel — 321
Onderhouding van Kerkorde — 321
Verandering van Kerkorde — 321

Bylae „A1” — 323

Bylae „A2” — 326

Bylae „B” — 329

Besluite van Meerdere Vergaderings: Vas en Bindend — 329
Plaaslike kerk en kerkverband — 329
Meerdere en mindere vergaderings — 330
Die gesag in meerdere vergaderings — 330
Artikel 30 Kerkorde — 331
Artikel 31 Kerkorde — 333
Afvaardiging en geloofsbriewe — 335
Opdragte — 337
Samevatting — 338

Bylae „C” — 341

Vergaderingprosedure — 341
Inleidend — 341
Kenmerke van ’n kerkraadsvergadering — 341
Agenda — 342

|xxvi|

Kworum — 342
Spreekbeurte — 343
Ordevoorstelle en punte van orde — 344
Besluitneming — 345
Bindende krag van besluite — 348
Notulering — 349
Artikel 81 KO — 349
Die voorsitter — 350

Bylae „D” — 353

Matthéüs 18: 15-18: Tekskrities, Eksegeties en Kerkregtelik — 353
Inleidend — 353
Tekskrities — 353
Eksegeties — 355
Kerkregtelik — 359
Slotopmerkings — 363

Bylae „E” — 365

Enkele Opmerkings oor Appèlle — 365

Indeks — 367

Visser, J. (1999) Art. 1

|1|

Artikel 1 

 

Om goeie orde in die kerk van Christus te onderhou, is daarin nodig: die dienste, samekomste, toesig oor die leer, sakramente en seremonies en die kerklike tug, waaroor hierna agtereenvolgens gehandel word.

 

Die betekenis en belangrikheid van die Kerkorde.

In hierdie artikel moet daarop gelet word dat gepraat word van die onderhouding van „goeie orde in die kerk van Christus”.

Die Kerkorde is dus nie ’n wet wat van bo-af op die plaaslike kerke en mindere vergaderings afgedwing word nie. Dit gaan om die onderhouding of handhawing van die „goeie orde”; want in die kerk van Christus moet alles ordelik geskied en verloop (kyk NGB art. 30, 32).

Die Kerkorde moet ook gehandhaaf en toegepas word. Dit is onjuis om te beweer dat die Kerkorde slegs ’n riglyn is, en dat elkeen dus daarmee kan doen soos goed gedink word. (Let op die woord „nodig” in hierdie artikel).

Die Kerkorde is wel nie as sodanig die „akkoord van kerklike gemeenskap” nie; die Belydenis is die akkoord; maar die Kerkorde vorm ’n integrale deel van die Belydenis, soos artikel 32 NGB duidelik stel. Daarom is dit vanselfsprekend dat die Kerkorde gehandhaaf en eerbiedig en uitgevoer moet word. Trouens, elke ampsdraer moet, nadat hy in die amp bevestig is, die Ondertekeningsformulier onderteken (kyk artt. 53, 54); daarmee verbind hy homself met sy handtekening om die „Drie Formuliere van Eenheid” (en daarmee dus ook die Kerkorde), te handhaaf (kyk ook I Korinthiërs 14: 40).

Belangrik in hierdie verband is die uitdruklike bepaling in artikel 86, dat die artikels van die Kerkorde met ywer („toelê”) onderhou moet word.

Die kredensiebrief („geloofsbrief”, art. 33) is oor hierdie saak ook baie duidelik; elke mindere vergadering verbind hom daarin om die

|2|

„aangenome Kerkorde”, saam met Gods Woord en die Drie Formuliere van Eenheid, as basis en rigsnoer vir besluitneming te eerbiedig.

In die Openlike Verklaring, waarmee alle betrokke kerklike vergaderings deur middel van hul afgevaardigdes instemming moet betuig, word ook eksplisiet die volgende onderneem: „Met betrekking tot die Kerkregering sal ons ons hou aan die kerkorde van bogenoemde sinode van Dordrecht soos dit gewysig is deur die sinodes van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika” (Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, uitgawe 1980, p. 65). 

Indien ’n sekere vergadering se afgevaardigdes nie instem met die Openlike Verklaring nie, is die konsekwensie daarvan dat hulle hul sittingsreg verbeur. Daardie spesifieke meerdere vergadering sal daaroor moet handel.

Per implikasie word die belangrikheid en die handhawing van die Kerkorde in die kerkregering ook beklemtoon deur artikel 31; hierin word bepaal dat besluite van kerklike vergaderings vas en bindend is, as dit nie in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde nie.

Hieruit blyk dus die belangrikheid, selfs die noodsaaklikheid, van stiptelike en verantwoordelike eerbiediging en handhawing van die Kerkorde. Nalatigheid en onverskilligheid in hierdie opsig sou neerkom op de facto verbreking van kerkverband.

 

Artikel 1 en artikels 23 en 64. 

Die bewoording: „... toesig oor die leer, sakramente en seremonies ...” bring hierdie artikel direk in verband met artikel 23, waar die toesigtaak van die ouderlinge gereël word. Toesig is dus onontbeerlik vir die goeie orde in die kerk van Christus.

Hierdie woord lê egter ook ’n direkte verband met artikel 64, waar bepaal word dat die ouderlinge toesig moet hou oor die bediening van die Nagmaal.

Artikel 1 is dus nie slegs ’n aanduiding van die 4 onderafdelings van die Kerkorde nie; dit lê inteendeel baie belangrike en onmisbare bepalings neer vir die goeie orde, die toesig en die voorspoedige regering in die kerk van Jesus Christus.

Visser, J. (1999) Art. 2

|3|

Artikel 2

 

Daar is vier soorte dienste: die van die bedienaars van die Woord, die van die professore aan die Teologiese Skool, die van die ouderlinge, en die van die diakens.

 

Amp en diens.

Is daar verskil tussen die begrippe „amp” en „diens”?

Dit was lank „mode” onder sekere Gereformeerde teoloë om te sê dat ons in die kerk drie ampte en vier dienste het; die drie ampte was dan die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en die diakens, terwyl die professore die vierde „diens” is. (In vroeëre uitgawes van die Kerkorde is die professore genoem die „Doktore” — kyk bv. uitgawe van Sinode 1945).

By sommige is daar beswaar teen die woorde „amp” en „ampsdraer”, omdat dit na bewering die gedagte van waardigheid sterk na vore bring; dit sou dan meer ’n aanduiding wees van die posisie wat ’n persoon beklee, in plaas van die diens wat hy verrig.

„Amp” en „diens” is egter presies dieselfde. Die woord „dienste” in artikel 2 kom van die Latynse woord „functio”; in artikels 16, 23 en 25 word „officium” vertaal met „amp” en in artikel 18 kom die woord „dienspligte” van die Latynse woord „munus” (Kerkordeboekie p. 14, 17, 18, 19). Kenners van Latyn wys daarop dat al drie genoemde Latynse woorde duidelik die gedagte van diens en diensvervulling behels. Daar kan dus nie uit die oorspronklike Latynse woorde afgelei word dat daar ’n verskil tussen „amp” en „diens” is nie. Etimologies beteken „Amp” dieselfde as „diens”, en „ampsdraer” dieselfde as „dienskneg”. Daarom word albei hierdie terme in die Kerkorde gebruik (vgl. bv. artt. 1, 2 en 3 met artt. 16, 23, 25 en 79). Ek sal in hierdie werk dikwels die terme „amp” en „ampsdraer” gebruik, omdat dit in die algemene omgang die mees gebruikte terme is.

Die opmerking moet hier gemaak word dat die professore aan die Teologiese Skool nie ’n aparte diens is, los van die ander dienste nie. Trouens, die diens van die professore is niks anders nie as ’n differensiasie

|4|

van die diens van bedienaars van die Woord; dit is, om dit só te stel, slegs ’n toegespitste diens van bedienaar van die Woord om toekomstige bedienaars van die Woord op te lei. Hierdie diens is gegrond op II Timótheüs 2: 2: „... en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.”

Die woord „diens” in Afrikaans moet na my mening voorkeur kry. Dit is ’n duidelike weergawe van die Griekse begrip diakonia, wat in die Skrif gebruik word van Jesus, sy apostels en ander dienaars. Daarbenewens beliggaam die woord „diens” ook die absolute koningskap van Christus oor sy kerk, terwyl dit terselfdertyd die gedagte van dienslewering sterk benadruk. Ampsdraers het geen „waardigheid” of gesag in hulleself nie; hulle is niks anders nie as geroepe diensknegte van die Here wat dienswerk verrig en wat optree met gesag in die Naam van Christus. Dit is nie die ampsdraers wat regeer nie, maar Christus deur sy Woord en Gees. Die ampsdraers in die kerk het slegs bedienende mag.

 

Die dienste onderskeie maar tog gelyk.

Daar bestaan ’n ongegronde opvatting onder die breë „kerkpubliek” dat die dienste van predikant, ouderling en diaken nie gelyk is nie. Die predikant staan bo, die ouderling so ’n trappie laer en die diaken heel onder.

Niks is verder van die waarheid nie! Die dienaars in die kerk van Christus is almal gelyk, alhoewel hulle dienswerk verskil. Tussen die dienste is daar nie verskil in status nie; hulle is slegs onderskeie in werkopdragte.

 

Vereistes en gawes vir die dienaars van Christus.

Die Skrif lê sekere vereistes neer waaraan iemand moet beantwoord, sekere gawes wat hy moet hê, voordat hy verkies mag word tot een of ander diens in die kerk (kyk bv. I Timótheüs 3, Titus 1:5 e.v., ens.).

Ons hoor soms die opmerking met betrekking tot ’n lidmaat wat nie so getrou in sy kerklike meelewing is nie: „Sit hom in die kerkraad, dan sal hy regkom.” Hierdie uitgangspunt is onaanvaarbaar, omdat dit in stryd is met die vereistes wat die Skrif stel voordat iemand tot ’n diens in die kerk verkies mag word. Die kerkraad is beslis nie ’n

|5|

„verbeteringskool” nie! Die Bevestigingsformuliere stel dat ampsdraers goeie voorgangers moet wees vir die hele gemeente. Voorts veroorsaak hierdie uitgangspunt ’n onhoudbare situasie in ’n gemeente: hoe kan iemand wat self nalatig is in sy kerklike meelewing, lidmate aanspoor en vermaan tot getroue kerklike meelewing?

 

Gebrek aan of verlies van ampsgawe(s)?

Wat moet gedoen word indien vroeër of later ná bevestiging in die amp sou blyk dat iemand nie die vereiste ampsgawes het nie, of dat hy een of meer vereiste ampsgawes verloor het?

Mag so iemand uit die amp afgesit word volgens art. 79?

Nee. Dit sal regskrenking wees, omdat dit nie ’n sonde is nie.

Na my mening is die volgende optrede deur die Kerkraad aangewese:

❖ in die geval van ’n ouderling of diaken, moet die broeder geadviseer word om losmaking uit die amp te vra;

❖ in die geval van ’n predikant, moet die broeder geadviseer word om volgens artikel 12 aansoek te doen om oor te gaan tot ’n ander staat van die lewe.

Gestel egter so ’n broeder sou die advies van die kerkraad van die hand wys? 

Allereers moet uitdruklik gestel word dat die eer van God en die welsyn van die kerk nie opgeoffer mag word aan ’n onbevoegde ampsdraer nie.

Weiering om die advies van die kerkraad op te volg, sou neerkom op oortreding van die vyfde gebod; so ’n broeder sou homself dus in ’n situasie plaas waar hy, indien hy in sy houding volhard, uiteindelik uit die amp afgesit moet word volgens artikel 79. So ’n broeder wys deur sy weiering dat dit vir hom nie gaan om die eer van God en die welsyn van die kerk nie, maar slegs om homself.

|6|

Meer as een amp gelyktydig?

Mag een persoon meer as een amp gelyktydig bedien?

Dit gebeur soms dat ’n emeritus (predikant of professor) gekies word as ouderling, of gevra word om predikantsdiens in ’n vakante gemeente te verrig.

Op sigself is so iets moontlik; ’n predikant is immers ook ouderling, en ’n professor ook predikant (kyk I Timótheüs 5: 17, II Timótheüs 2: 2). Of dit altyd wenslik is, sal afhang van omstandighede.

’n Persoon wat die eer en naam van een amp dra, mag egter nie tegelykertyd ’n ander amp beklee nie (Sinode 1967, Handelinge p. 61). Die Sinode van 1979 het soos volg geantwoord op ’n beswaar teen die bogenoemde besluit van 1967: „Die sinodebesluit gelees teen die agtergrond ..., kom daarop neer dat die Sinode hom uitgespreek het teen die bevestiging van ’n geëmeriteerde predikant in ’n ander diens sonder dat hy ontslag uit sy diens as predikant ontvang het.” (Handelinge p. 551, 2.1.4.2.; kursivering oorspronklik, J.V.).

’n Emerituspredikant of -professor mag dus wel gekies of gevra word om diens as ouderling of predikant te lewer, maar mag nie in daardie ander amp bevestig word nie.

Visser, J. (1999) Art. 3

|7|

Artikel 3

 

Dit sal vir niemand geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie.

 

[Opmerking: Oor beroeping en toelating word in besonderhede gehandel in artikels 4 en 5; hier, by artikel 3, sal slegs enkele belangrike opmerkings hieroor gemaak word.]

 

Wettige beroeping noodsaaklik.

By hierdie artikel is die sterk verbiedende formulering opvallend.

In die praktiese kerklike lewe beteken dit dat slegs predikante wat wettig beroep en bevestig is, Woord en Sakramente mag bedien. Al is daar persone wat die bekwaamheid en die gawes besit om te kan „preek”, byvoorbeeld voormalige predikante (wat tot ’n ander staat van die lewe oorgegaan het) of selfs begaafde lidmate, beteken dit nie dat kerkrade sulke persone op die preekstoel mag toelaat nie. In hierdie artikel word die baie belangrike beginsel van roeping beklemtoon. In die bediening van Woord en Sakramente gaan dit nie slegs (en selfs nie primêr) om bekwaamheid en begaafdheid nie, maar om roeping.

 

Inwendige en uitwendige roeping.

By die roeping tot diens onderskei ons tussen inwendige en uitwendige roeping.

Die inwendige roeping bestaan daarin dat die Heilige Gees die vereiste gawes aan iemand verleen, die innerlike drang tot die diens van Woord en Sakramente in sy hart lê en die weë wat tot die amp lei, vir hom open. Dit is dus nie ’n blote begeerte om „predikant te word”, soos om dokter, onderwyser, advokaat, ens. te word nie. (Met hierdie stelling word ander beroepe nie afgekraak tot minderbelangrike of ondergeskikte beroepe nie; trouens, per slot van rekening is elke beroep, hoe nederig ook al, in ’n sekere sin ’n roeping van die Here).

Wanneer iemand nou hierdie inwendige roeping tot die diens van Woord en Sakramente as ’n onontkombare drang in sy hart ervaar,

|8|

word hy aan die Teologiese Skool toegerus vir sy diens, en daarná volgens die vasgestelde prosedure toegelaat tot die bediening. So ’n persoon is dan proponent.

Die uitwendige roeping volg op die inwendige roeping ná die voorgeskrewe toerusting en toelating soos hierbo genoem; dit beseël dus die inwendige roeping. Dit vind naamlik plaas wanneer ’n proponent beroep word na 'n gemeente. Ná aanvaarding van ’n beroep, word hy in die amp van Bedienaar van die Woord bevestig. Bevestiging in die amp vind dus eers plaas waar daar ooreenstemming is tussen die inwendige en uitwendige roeping.

 

Wettige toelating noodsaaklik.

Per slot van rekening is dit die reg van elke plaaslike kerkraad om te besluit wie hy op sy preekstoel toelaat en wie nie.

Dit moet egter goed begryp word dat hierdie „reg” van plaaslike kerkrade nie in independentistiese sin verstaan moet word nie. Die onderlinge ooreenkoms tussen kerke in kerkverband verplig plaaslike kerkrade om hulle te hou aan die vereistes en prosedure vir toelating tot die bediening wat in die Kerkorde vervat en gesamentlik in meerdere vergaderings vasgestel is.

 

Wie mag preek? 

Proponente

„Proponent” is nie ’n aanduiding van ’n kerklike diens (amp) nie. ’n Proponent is ’n teologiese kandidaat wat reeds beroepbaar gestel is. Proponente word wel toegelaat om op versoek van ’n kerkraad ’n sogenaamde „stigtelike woord” te spreek, sodat van hulle gawes kennis geneem kan word met die oog op ’n moontlike beroep, sowel as om hul preekgawes te oefen. Hierdie spreek van ’n stigtelike woord is egter geen amptelike Woordbediening nie. Proponente mag ook nie die Sakramente bedien nie, en mag nie as voorsitter in ’n kerkraadsvergadering optree nie.

Teologiese Studente.

Teologiese studente in hul finale studiejaar word ook toegelaat om op versoek van ’n kerkraad ’n stigtelike woord te spreek om hul

|9|

preekgawes te oefen — die sogenaamde „preekverlof” (kyk hiervoor Sinode 1961, Handelinge p. 244, art. 184 f).

Soos in die geval van proponente is dit egter geen amptelike bediening van Gods Woord nie; hulle mag ook nie die Sakramente bedien en as voorsitter optree in kerkraadsvergaderings nie.

Die optrede van teologiese studente in hul voorlaaste studiejaar voor gemeentes, onder leiding van die teologiese professore en onder toesig van die kerkraad, vorm deel van hul opleiding; dit is geen amptelike Woordverkondiging nie.

Teologiese kandidate en voortgesette „preekverlof”.

Dit gebeur tans toenemend dat teologiese kandidate hulle nie ná voltooiing van die Kandidaatseksamen aanmeld by ’n partikuliere sinode vir die Voorbereidende en Toelatingseksamen nie, maar voortgaan met gevorderde studie.

Die „preekverlof” wat aan hulle verleen is vir die laaste studiejaar met die oog op oefening van preekgawes, verval egter by suksesvolle aflegging van die Kandidaatseksamen.

Aangesien dit nadelig is vir ’n kandidaat om nie tydens sy gevorderde studie sy preekgawes voortdurend te oefen nie, het die Sinode van 1994 besluit dat die Kuratorium van die Teologiese Skool voortgesette „preekverlof” kan verleen aan kandidate wat daarom aansoek doen. Dit behels dat sulke kandidate steeds onder toesig van die Kuratorium bly (kyk Handelinge p. 721v).

Voormalige predikante.

Predikante wat oorgegaan het tot ’n ander staat van die lewe (kyk by art. 12), mag nie meer Woord en Sakramente bedien nie ... eenvoudig omdat hulle nie meer daartoe geroepe is nie (kyk p. 7 hiervan).

Sulke broeders het, om watter rede ook al, die roeping tot die diens van Woord en sakramente „ingeruil” vir ’n ander beroep.

Nou gebeur dit in die praktyk tog dat kerkrade sulke broeders uitnooi om te preek ... onder die dekmantel dat hulle ’n stigtelike woord spreek of ’n leesdiens hou. Die argument wat kerkrade in

|10|

sulke gevalle aanvoer, is dat hierdie broeders dan só begaafd en bekwaam is. (Soms word daar soortgelyke argumente gebruik om een of ander begaafde lidmaat toe te laat tot bediening van Woord en Sakramente).

Begaafdheid en bekwaamheid kan en mag egter nooit die beginsel van roeping oorskadu of verdring nie! Toelating tot die diens van die Woord is allereers en deurslaggewend afhanklik van roeping! En voormalige predikante het juis hierdie roeping „verruil”!

Hierdie praktyk moet met die uiterste versigtigheid hanteer word; ek wil selfs aanraai dat hierdie praktyk heeltemal gestaak behoort te word, behalwe waar so ’n voormalige predikant in die gemeente waar hy lidmaat is, voorgaan in ’n „leesdiens”.

Te alle tye moet daar egter nougeset gewaak word teen die indruk dat begaafdheid en bekwaamheid voldoende is vir toelating tot bediening van die Woord!

Emeriti

Emeriti (predikante en teologiese professore) is nie losgemaak uit die amp nie; hulle is slegs onthef van ampsverpligtinge. Daarom mag hulle, op uitnodiging van ’n kerkraad, wel Woord en Sakramente bedien.

In die praktyk gebeur dit soms dat ’n emeritus gevra word om op ’n tydelik-permanente basis hulpdiens in 'n kleiner gemeente te verrig. So ’n reëling is nie as sodanig onordelik nie.

Daar moet egter op die volgende gelet word:

Hoewel ’n emeritus onthef is van ampsverpligtinge, is hy „ampshalwe” nog steeds die predikant/professor van daardie gemeente/Teologiese Skool; die band tussen hom en die gemeente/Kuratorium van die Teologiese Skool waar hy geëmeriteer het, bly dus steeds bestaan.

Die kerkraad van die gemeente wat die dienste van so ’n emeritus verlang, sal dus met die kerkraad/Kuratorium aan wie die emeritus „ampshalwe” verbind is, oorleg moet pleeg. Dinge soos versorging, toesig, eventuele tugoefening en so meer sal duidelik uitgeklaar

|11|

en in ’n soort bedieningsooreenkoms gestipuleer moet word. (’n Konsep vir so ’n bedieningsooreenkoms verskyn agter as Bylae „A2”).

So ’n emeritus kan uiteraard nie op die gewone wyse in daardie kerk, waar hy hulpdiens gaan verrig, „in die amp bevestig” word nie, aangesien hy nie losgemaak is van die kerk/Teologiese Skool waar hy vroeër in die amp bevestig is nie.

Vrouelidmate

Veral in die huidige tydsgewrig is daar sterk aandrang dat vrouelidmate toegelaat moet word tot die besondere ampte, ook tot die bediening van Woord en Sakramente. Hierdie aandrang word gemotiveer met die aktiwiteite van vrouelidmate in die vroeë kerke uit die Bybel. In die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) word vrouelidmate geruime tyd reeds toegelaat tot die besondere ampte.

In die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) word vrouelidmate egter nie toegelaat tot die besondere ampte nie. Die Sinode van 1988 het, nadat die hele aangeleentheid oor ’n tydperk van 9 jaar omvattend bestudeer is, besluit dat daar geen deurslaggewende bewyse uit die Skrif aangevoer kan word dat vrouelidmate tot die besondere ampte toegelaat moet word nie (Handelinge p. 507v).

’n Beswaarskrif teen hierdie besluit is deur die Sinode van 1994 van die hand gewys (Handelinge p. 467 e.v.). 

Predikant buite die verband van die GKSA.

Mag ’n predikant buite die verband van die GKSA toegelaat word tot die bediening van Woord en Sakramente in ’n Gereformeerde kerk?

En mag ’n Gereformeerde predikant, al is dit met toestemming van sy kerkraad, amptelik Woord en Sakramente bedien in ’n kerk buite die verband van die GKSA? 

Alhoewel daar wel sulke gevalle voorkom in ’n aantal Gereformeerde gemeentes, is dit tog nie ’n toelaatbare praktyk nie. Die

|12|

Sinode van 1985 het dan ook ’n duidelike besluit oor „kanselruil” geneem en dit op bepaalde kerkordelike gronde met droefheid afgewys (Handelinge p.677/8). Die Sinode van 1991 het ’n beswaar teen die besluit van 1985 ondubbelsinnig van die hand gewys (Handelinge p. 482 e.v.).

Om slegs twee besondere probleme aan te stip wat uit hierdie situasies kan voortspruit: 

hoe gaan ’n kerkraad sy verantwoordelikheid, om te waak oor suiwere Woord- en Sakramentsbediening, uitoefen oor ’n predikant van buite die verband van die GKSA? Dié kerkraad kan tog nie amptelik in so ’n geval saamwerk met ’n kerk/kerkraad wat nie met die GKSA één is in leer, liturgie en kerkregering nie;

hoe kan ’n kerkraad toestemming verleen dat sy predikant, in die amptelike bediening van Woord en Sakramente, onder die toesig staan van ’n kerkraad in ’n kerk wat nie met die GKSA één is in leer, liturgie en kerkregering nie?

Volgens artikel 3 KO, in samehang met artikels 4, 5, en 9, is dit eintlik vanselfsprekend dat „kanselruil” nie moontlik is nie. ’n Kerkraad mag slegs iemand wat wettig in ’n Gereformeerde kerk beroep en toegelaat is, toelaat om Woord en Sakramente te bedien.

Van kerkrade kan minstens verwag word om hulle te hou aan bepalings van die Kerkorde en besluite van die Sinode, en nie op independentistiese wyse eensydig hul eie kop in sulke sake te volg nie!

Ouderlinge, diakens, lidmate

In afwesigheid van die predikant, mag ’n ouderling, diaken, of selfs ’n lidmaat hulpdiens lewer deur voorlesing van die Skrif en ’n preek wat geskryf is deur ’n bedienaar van die Woord. So ’n voorlesing in ’n „leesdiens” is egter nie amptelike Woordverkondiging nie.

Soms word daar, met ’n beroep op ampsgelykheid, beweer dat ’n ouderling ook die reg moet hê om die seën uit te spreek, ampsdraers te bevestig, huwelike te bevestig en selfs (in noodgevalle) om die doop te bedien.

|13|

Hierdie argument hou nie rekening met die feit dat, hoewel die ampte gelyk is, hulle tog nie eenders is nie. Daar is vir die verskillende ampte verskillende werkopdragte (kyk p. 4). Wat spesifiek en eksklusief aan die bedienaar van die Woord opgedra is, mag die ouderling of diaken nie doen nie.

Visser, J. (1999) Art. 4/5

|14|

Artikels 4 en 5

 

Artikel 4. 

Die wettige beroeping en toelating van iemand wat nie tevore in die diens van die Woord gestaan het nie en wat deur die klassis waarin hy woonagtig is, voorbereidend (preparatoir) geëksamineer is, bestaan uit:
ten eerste, die verkiesing na voorafgaande gebede, deur die kerkraad en die diakens volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of soos deur die kerkraad vasgestel is en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;
ten tweede, die ondersoek na die leer en lewe (peremptoir) van die beroepene deur die klassis (waar die beroeping ter goedkeuring voorgelê moet word) wat met advies van die deputate van die partikuliere sinode moet plaasvind;
ten derde, die approbasie en goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk wat daarin bestaan dat daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige beswaar ingedien is nie;
ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente in teenwoordigheid van die klassikale deputate, volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is

Artikel 5. 

Wanneer ’n bedienaar van die Woord van een kerk na ’n ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg:
ten eerste, die verkiesing deur die kerkraad en die diakens na voorafgaande gebede, met onderhouding van die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is en van die algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedien het en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is
;

|15|

ten tweede, die goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk, as daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige besware ingedien is nie;
ten derde, die kontrolering deur die kerkraad saam met die klassikale deputate van die goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer, lewe en ampsbediening en van die losmaking;
ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is

[Opmerking: Die laaste sin in artikel 5, insake die bevestiging, is per abuis in die huidige Kerkordeboekie weggelaat. Kyk Sinode 1964, Handelinge p. 52, punt C, en p. 54/55. Ook Sinode 1994, Handelinge p. 641, 3.5].

 

Wettige beroeping en toelating.

Dit is opmerklik dat artikel 4, soos ook artikel 3, baie sterk nadruk lê op die wettige beroeping en toelating.

Daar kan dus so iets soos onwettige beroeping wees, naamlik wanneer ’n kerk iemand beroep wat nie wettig toegelaat is nie. Dit kom daarop neer dat iemand beroep word wat nie deur Christus geroep is nie.

’n Kerk kan nie sommer enigeen voor die voet beroep nie. Daar moet eers seker gemaak word of dié een wat deur die kerk beroep word, ook werklik deur Christus geroep is vir die diens; die kerk is immers die eiendom van die Here. Daarom is die wettige toelating onontbeerlik; daarsonder is wettige beroeping onmoontlik.

 

Drie eksamens.

Voordat iemand tot die bediening van Woord en Sakramente toegelaat en beroep mag word, is daar drie eksamens wat hy moet aflê:

Die Kandidaatseksamen 

In hierdie eksamen, wat deur die teologiese professore onder toesig van die Kuratorium afgeneem word, word die teologies-wetenskaplike onderlegdheid van die toekomstige bedienaar van die Woord getoets en gefinaliseer.

|16|

Die Voorbereidende eksamen (Preparatoir). 

Hierdie eksamen, met die oog op beroepbaarstelling, is ’n toets van die kandidaat se bekwaamheid en gawes om sy teologies-wetenskaplike kennis in die praktyk toe te pas. 

Die Toelatingseksamen (Peremptoir). 

Hierdie eksamen, met die oog op toelating tot en bevestiging in die amp, is ’n toets van die kandidaat se regsinnigheid in leer en sy vroomheid in lewenswandel.

Volgens artikel 4 word die Voorbereidende en Toelatingseksamens deur 2 verskillende klassisse afgeneem.

Die Sinode van 1967 het hieroor ’n uitvoerige besluit geneem (Handelinge p. 48 e.v.).

Die Sinode van 1970 (Handelinge p. 122 e.v.) het egter besluit om hierdie 2 eksamens één te maak; die partikuliere sinode waar die kandidaat oorspronklik vandaan kom, neem die eksamen af.

Hierdie besluit het nie die beginsel van artikel 4, dat ’n meerdere vergadering die eksamen van voornemende bedienaars van die Woord afneem, verander nie; slegs die toepassing van die beginsel is verander.

(Die belangrike kern van bogenoemde Sinodebesluite, waarin volledige besonderhede van die twee eksamens vervat is, is opgeneem in die Kerkordeboekie; kyk p. 36 e.v.).

Slaag die kandidaat hierdie eksamen voor die partikuliere sinode, onderteken hy die Ondertekeningsformulier vir Proponente (art. 54. Die bewoording van hierdie en ander Ondertekeningsformuliere is in die Kerkordeboekie p. 82 e.v.).

Daarna stel die partikuliere sinode hom beroepbaar en verleen aan hom preekverlof; dit beteken dat hy kan „proponeer” met die oog op ’n beroep.

(Hierdie preekverlof moet nie verwar word met die „spreek van ’n stigtelike woord” deur teologiese studente, wat op p. 8 bespreek is nie.)

|17|

Eksaminering deur klassis

In sommige gevalle mag dit nodig wees dat die klassis waar die kandidaat oorspronklik vandaan kom, hierdie eksamen afneem. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat ’n persoon se Kandidaatseksamen nie betyds vir die sitting van die partikuliere sinode afgehandel kon word nie, om watter rede ook al. Of die partikuliere sinode is nie heeltemal tevrede met die standaard van die kandidaat se kennis en/of preke nie en besluit dat hy aanvullend geëksamineer moet word.

In plaas daarvan om ’n buitengewone partikuliere sinode hiervoor op te roep (wat ingrypende finansiële implikasies het), kan die eksaminering verwys word na die betrokke klassis. Dit staan die klassis natuurlik vry om die hulp van die eksamendeputate van die partikuliere sinode te versoek.

Hierdie optrede tas geen beginsel aan nie; dit is slegs ’n praktiese reëling.

Indien ’n proponent vir langer as 9 maande geen beroep ontvang nie, moet die betrokke meerdere vergadering oordeel of dit nodig is dat die proponent weer geëksamineer moet word (kyk Handelinge Sinode 1970 p. 128).

 

Persone wat elders gestudeer het.

Oor persone wat elders gestudeer het, dit wil sê nie aan die Teologiese Skool van die GKSA nie, en wat begeer om by die GKSA in die diens van die Woord te tree, het die Sinode van 1967 besluit dat hulle hul eers tot die Teologiese Skool moet wend; daar sal dan op die vasgestelde wyse bepaal word of die voornemende kandidaat ’n sertifikaat van aflegging van die Kandidaatseksamen kan ontvang, soos dit vereis word vir die Voorbereidende Eksamen. (Handelinge 1967 p. 52, punt 5. Kyk ook Handelinge Sinode 1979 p. 130 e.v., punt I).

Die besonderhede in elke geval sal bepaal hoe die Kuratorium moet optree. In sekere gevalle sal aanvullende studie en/of eksaminering nodig wees, terwyl in ander gevalle volstaan sal kan word met ’n indringende broederlik gesprek (colloquium doctum).

Nadat ’n sertifikaat van aflegging van die Kandidaatseksamen ontvang is, volg die kandidaat die verdere prosedure soos hierbo beskryf is. In

|18|

geval van ’n persoon wat van die buiteland af kom, behoort die Kuratorium hom te adviseer by watter partikuliere sinode of klassis hy aansoek moet doen vir eksamen met die oog op beroepbaarstelling.

 

Beroepbaarstelling van kandidate en proponente uit erkende Gereformeerde Kerke.

Die Sinode van Middelburg, 1904 (Handelinge p. 37/38, art. 125) het besluit dat waar beroepbaarstelling van kandidate en proponente uit erkende Gereformeerde Kerke oorweeg word, geen eksamen vereis word nie; kerklike getuienis en ’n broederlike onderhoud deur die Kuratorium is wel noodsaaklik.

Tans onderhou die GKSA met die volgende buitelandse Kerke korrespondensie (hulle word dus gereken as „erkende Gereformeerde Kerke”):
➢ Christelijke Gereformeerde Kerken in Nederland.
➢ Christian Reformed Church in North America. (Tans is die bande tussen hierdie Kerk en die GKSA vir alle praktiese doeleindes nie in funksie nie, aangesien die CRC die korrespondensie met die GKSA opgeskort het).
➢ Free Church in Scotland.
➢ Korea Presbyterian Church.
➢ Nederlands Gereformeerde Kerken.
➢ Reformed Churches of Australia.
➢ Reformed Churches of New Zealand.
➢ The Reformed Churches of Japan.

 

Staking van stemme by toelating. 

Wanneer daar ’n staking van stemme is in die meerdere vergadering wat oor toelating tot die bediening van Woord en Sakramente moet besluit, het die Sinode van 1888 besluit dat in hierdie geval staking van stemme beskou moet word as nie-toelating. (Handelinge p. 24, art. 35).

 

Aansoek om eksaminering/beroepbaarstelling.

Aansoek om eksaminering met die oog op beroepbaarstelling word gedoen by die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie van die betrokke partikuliere sinode of klassis. So ’n aansoek moet vergesel wees van die kandidaatsertifikaat en goeie kerklike getuienis.

|19|

Die eksaminerende vergadering moet hom vergewis van die feit dat die kandidaat die voorneme het om, ná aflegging van die eksamen, ’n wettige beroep te aanvaar (kyk Handelinge Sinode 1967 p. 49 e.v.; vgl. ook Handelinge Sinode 1970 p. 122 e.v.). 

’n Kandidaat wat die Kandidaatseksamen afgelê het en wat nie van voorneme is om die eksamen met die oog op beroepbaarstelling af te lê en ’n beroep te aanvaar nie, moet van sy voorneme behoorlik, en met ’n aanbeveling van die Kuratorium van die Teologiese Skool, rekenskap gee aan die vergadering waar hy eksamen behoort af te lê; hierdie vergadering sal grondig op die versoek ingaan, voor en aleer hy die kandidaat toestemming gee om sy voorneme ten uitvoer te bring. (Sinode 1970, Handelinge p. 128).

 

Die beroeping.

Nadat ’n kandidaat deur die meerdere vergadering beroepbaar gestel is, word hy na ’n bepaalde kerk (gemeente) beroep (art. 4).

Dit is egter ook moontlik dat ’n predikant wat reeds in diens van ’n bepaalde kerk (gemeente) staan, deur ’n ander kerk in die kerkverband beroep kan word (art. 5). Hierdie beroeping van ’n predikant deur ’n ander kerk is slegs moontlik kragtens die eenheid van kerke in Jesus Christus.

Die beroepingsproses begin met „voorafgaande gebede”. Die gebed is noodsaaklik omdat die Here, as Koning van die kerk, Self sy diensknegte roep; Hy gebruik ampsdraers en gemeente slegs as sy instrumente om dié een wat Hy roep, aan te wys.

 

Wie mag beroep word?

Slegs proponente en predikante wat wettig toegelaat is tot die bediening van Woord en Sakramente in die verband van die GKSA, mag beroep word (kyk p. 7 e.v.).

Wanneer ’n predikant van een kerk na ’n ander beroep word, hoef hy nie weer geëksamineer te word nie; die kerke in kerkverband is immers één in belydenis, liturgie en kerkregering.

|20|

Predikante buite die verband van die GKSA mag nie beroep word voordat hulle nie wettig toegelaat (beroepbaar gestel) is kragtens artikel 4 nie.

Die Sinode van 1945 (Handelinge p. 113, art. 89a) het besluit dat dit nie wenslik is dat ’n predikant wat minder as 2 jaar in sy gemeente werksaam is, beroep word nie; die kort bedieningstyd is in stryd met die belange van die gemeente.

Die Sinode van 1879 (Handelinge p. 46, art.133) het besluit dat, indien ’n predikant binne een jaar van ’n gemeente vertrek, die „roepende gemeente” die onkoste wat die ander gemeente oorspronklik aangegaan het om die predikant te verkry, moet vergoed („teruggeven”).

Soms gebeur dit dat ’n predikant vir ’n tweede en selfs derde keer na mekaar deur ’n kerk beroep word. Hoewel daar miskien goeie redes vir so ’n optrede aangevoer kan word, is dit tog nie aanbevelenswaardig nie. ’n Predikant bedank tog nie ’n beroep ligvaardig nie; hy doen dit slegs ná volhardende gebedsworsteling (altans, só behoort dit te wees!). Kerkrade moet egter baie versigtig wees om nie onbehoorlike druk op ’n predikant uit te oefen om ’n beroep op te volg nie.

➢ En predikante mag onder geen omstandighede ín tweede beroep uitlok deur in die brief van bedanking subtiel daarop te sinspeel dat hy ín volgende beroep gunstig sal oorweeg as byvoorbeeld die traktement verhoog kan word nie.

 

Wie beroep: die kerkraad, of die gemeente?

In hierdie twee artikels word bepaal dat die kerkraad (ouderlinge — art.37) en die diakens beroep. Só is dit bepaal in die oorspronklike Dordtse Kerkorde van 1618-1619.

In beginsel is dit God Self wat beroep (kyk p. 15). Hy doen dit deur die lot wat gewerp word (Handelinge 1: 15-26); of Hy gebruik mense as sy instrumente wat sekere persone verkies (Handelinge 6: 5, 14: 23) of aanstel (Titus 1: 5).

As die Kerkorde dan bepaal dat die kerkraad en diakens deur middel van verkiesing beslis wie beroep moet word, tree hulle op as instrumente van God. Hierdie verkiesing vind plaas volgens plaaslike reëling of soos die kerkraad mag besluit.

|21|

Daar bestaan dus in die GKSA geen onbuigsame, afdwingbare stel reëls wat by beroeping gevolg moet word nie. ’n Kworum moet egter teenwoordig wees (kyk by art. 29).

Indien daar by die verkiesing ’n staking van stemme is, word die lot gewerp met plegtige aanroeping van die Naam van die Here, soos die Sinode van 1873 besluit het (Handelinge p. 46, art. 173).

In die lig van Handelinge 1: 23 en 6: 3, 5 (kyk ook art. 31 NGB) is dit beslis noodsaaklik dat die gemeente by hierdie verkiesing betrek word. Kerkraad en gemeente staan nie teenoor mekaar nie. Die gemeente is ook nie onmondig en onbekwaam nie. Per slot van rekening is dit die kerk (gemeente) wat beroep, onder leiding van die kerkraad.

 

Prosedure by verkiesing/beroeping.

Die bepaling van „voorafgaande gebede” in hierdie artikels word weer eens sterk benadruk. Daar moet te alle tye biddend gesoek word na die wil van die Koning van die kerk.

Daar is geen vasgestelde, afdwingbare prosedure by die verkiesing/beroeping van ’n predikant nie; die Kerkorde bepaal dat dit plaasvind volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. Daar is egter „algemene ordinansies” wat eerbiedig moet word; sommige hiervan is reeds eerder bespreek (o.a. die vraag oor wie beroep mag word; die optrede by staking van stemme; die verhouding kerkraad/gemeente by verkiesing/beroeping, en so meer), terwyl ander hierná behandel sal word.

Waar daar in ’n kerk meer as een bedienaar van die Woord is, lei een van hulle die beroepingsproses as voorsitter; in so ’n geval is die „advies van die klassis of van die konsulent” nie nodig nie.

Waar ’n gemeente egter vakant is, moet die konsulent wat daarvoor deur die klassis aangewys is, as voorsitter optree.

 

Die konsulent.

Die konsulent is ’n predikant wat deur die klassis aangewys word om as voorsitter op te tree wanneer ’n gemeente vakant is. Hy tree ook as voorsitter op wanneer dit vir die predikant van die betrokke gemeente nie moontlik of wenslik is om self as voorsitter op te tree nie; die

|22|

verskillende omstandighede moet deur kerkrade self geïdentifiseer word. Daar moet egter steeds in gedagte gehou word dat ’n predikant nie as voorsitter mag optree wanneer hy self só betrokke is dat objektiwiteit in gevaar kom nie.

’n Kerkraad mag nie sonder medewete en bewilliging van die konsulent ’n ander predikant vra om as voorsitter op te tree nie, behalwe op die voorwaardes soos deur die Sinode van 1907 gestel (kyk bladsy verder op hierdie bladsy).

Die konsulent is geen „lid” van die kerkraadsvergadering waar hy as voorsitter waarneem nie; hy het dus vanselfsprekend ook geen stemreg nie, en word ook nie by die kworum gereken nie.

By staking van stemme het die konsulent (en enige voorsitter) geen beslissende stem nie (Sinode 1910, Handelinge p. 68, art. 176).

Die Sinode van 1952 (Handelinge p. 297, art. 134/218) het bepaalde besluite geneem insake die werk van ’n konsulent. Die belangrikste hiervan is die volgende:
➢ die opdrag van die konsulent sluit volgens Kerkorde nie vanself bediening van Woord en Sakramente in nie;
➢ die vakante gemeente moet reëlings tref met die konsulent en sy kerkraad vir tydelike bediening;
➢ vir hierdie tydelike bediening moet „traktement” (lees: „vergoeding”) gegee word vir die vervoer sowel as vir die tydelike ampswerk.

Op die vraag of ’n kerkraad mag weier om die benoeming van sy predikant as konsulent te aanvaar, het die Sinode van 1949 besluit dat dit ’n saak van die betrokke klassis is (Handelinge p. 274, art. 141).

Is die vergadering van ’n kerkraad met diakens sonder konsulent ’n wettige vergadering?

Hierop het die Sinode van 1907 besluit dat so ’n vergadering wel wettig is, maar op die volgende voorwaardes:
➢ die saak wat behandel moet word, kan nie uitgestel word nie;
➢ so ’n saak moet in oorleg met („op instructie van”) die konsulent afgehandel word;

|23|

➢ op die volgende vergadering moet verslag gedoen word van wat verhandel of besluit is (Handelinge p. 36, art. 113).

 

Advies deur klassis/konsulent.

In hierdie artikels word bepaal dat die klassis of die aangewese konsulent „advies” moet gee by beroeping. Dit beteken dat die klassis uit krag van kerkverband belang het by die beroeping van ’n predikant in sy ressort. Daar moet onder andere toegesien word dat die beroep uitgebring word volgens die goeie orde en „met onderhouding van die ... algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedien het ...” (art. 5).

Hierdie advies mag onder geen omstandighede die selfstandigheid of die vryheid van die vakante gemeente inkort nie; ook lê dit nie op die weg van die konsulent om die gemeente te beïnvloed wie om te beroep nie.

Die doel van hierdie advies is slegs om die vakante kerk te help.

As voorbeelde van moontlike advies, kan die volgende genoem word:
➢ advies dat ’n sekere persoon wat genomineer is, nie beroepbaar is nie (bv. ’n voormalige predikant; ’n predikant wat weens swak gesondheid geëmeriteer het; ’n kandidaat wat nog nie die eksamen tot beroepbaarstelling suksesvol afgelê het nie; ’n predikant buite die verband van die GKSA; ’n predikant wat om een of ander rede nie geskik sal wees vir daardie betrokke gemeente nie; ’n predikant wat nog nie ’n volle jaar in die gemeente is waar hy op daardie tydstip dien nie, ens.);
➢ advies vir die korrekte opstelling en ondertekening van die beroepsbrief sowel as die begeleidende brief, waarin die verskillende fasette van die versorging uiteengesit word (vir konsepvorms, kyk Sinode 1985, Handelinge p. 557-9). Met betrekking tot emeritaatsversorging, deug die bewoording in genoemde Handelinge nie meer nie, omdat daar in 1994 oorgeskakel is na ’n pensioenfonds. Die Sinode van 1997 het ’n nuwe bewoording goedgekeur, wat in die Handelinge op p. 233 onder punte 4.6.1. en 4.6.2. weergegee word.
➢ advies met betrekking tot die prosedure by beroeping.

|24|

Verskillende metodes by verkiesing/beroeping.

Daar kan verskillende metodes gevolg word by die verkiesing/beroeping van ’n predikant; die metode wat na my mening die maklikste en mees logiese is, word hier bespreek.

Die kerkraad en diakens vra die gemeente om nominasies ... om naamlik die name van predikante wat oorweeg behoort te word, skriftelik vóór ’n sekere datum by die skriba in te handig, sodat ’n groslys saamgestel kan word. Die kerkraad en diakens kan sekere beperkings stel, met die uitdruklike veronderstelling dat die leiding van die Heilige Gees op geen enkele wyse deur sulke beperkings in gedrang kom nie.

Vir die finalisering van die groslys, mag die kerkraad en diakens self ook name byvoeg.

Onder leiding van die voorsitter (die konsulent indien daar nie nog een of meer predikante in die gemeente is nie) word hierdie finale groslys deur die kerkraad en diakens deeglik bespreek, in die lig van die spesifieke behoeftes van die gemeente.

Daarna word oorgegaan tot stemming om ’n dubbeltal of drietal te bepaal.

 

Die verkiesing (stemming).

Normaalweg word daar oor sake gestem deur opsteek van hande; wanneer daar egter oor persone gestem word, geskied dit deur middel van geslote stembriewe.

’n Beginsel wat by alle gevalle waar gestem word in ag geneem moet word, is dat die uitslag by wyse van ’n volstrekte meerderheid bepaal word.

Volstrekte meerderheid beteken eenvoudig dat dié persoon wat verkies word, meer as die helfte van die uitgebragte stemme op hom moet verenig; anders gestel: die verkose persoon se stemtotaal moet meer wees as al die ander bymekaar.

Waar daar tussen twee persone gestem moet word, is ’n volstrekte meerderheid die helfte plus een. By ’n ewe getal, bv. 6, is dit maklik: die helfte (3) plus 1 = 4. By ’n onewe getal, bv. 7, word 1 by

|25|

die totaal getel (dus 8); ’n volstrekte meerderheid is dan die helfte van 8 = 4. 

In die geval van ’n dubbeltal is ’n gewone meerderheid (die helfte plus een) vanself ’n volstrekte meerderheid. Daarom is dit altyd wenslik om ’n dubbeltal aan die gemeente voor te lê, omdat die uitslag van die stemming dadelik bepaalbaar is sonder ingewikkelde „rekenkunde”.

By wyse van eliminasie (uitskakeling van sekere name) word die groslys verkort. Eliminasie kan op verskillende maniere gedoen word; daar moet egter gewaak word dat name nie wederregtelik van die groslys verwyder word nie.

Die volgende situasie is ’n voorbeeld van regverdige eliminasie:

Daar is 54 stemgeregtigdes in die vergadering. ’n Volstrekte meerderheid in hierdie geval is die helfte van 54 (27) plus 1 = 28; die groslys bestaan uit 8 name; ná die eerste ronde stemming lyk die prentjie só: A:14 stemme, B:12, C:8, D:7, E:6, F:3, G:3 en H:1 stem. A, wat die meeste stemme op hom verenig het, het nog geen volstrekte meerderheid nie. Daar moet dus nou oorgegaan word tot eliminasie. F, G en H se stemme bymekaar getel (7) is nie meer as die totaal van B, wat 2e meeste het nie; hulle word dus geëlimineer.

In die tweede ronde word daar dus gestem tussen A, B, C, D en E. Ná hierdie stemming is die posisie só: A:20 stemme, B:14, C:8, D:7 en E:5 stemme. A het nog steeds geen volstrekte meerderheid nie en daar moet verder geëlimineer word. D en E se stemme bymekaar (12) is nie meer as die totaal van B nie; hulle word dus nou geëlimineer.

Nou word daar gestem tussen A, B en C. Hierdie ronde lewer wel ’n volstrekte meerderheid: A het 29 stemme, B:16 en C:9 stemme. A is dus verkies as eerste lid van die dubbeltal; vir die tweede lid van die dubbeltal moet daar tussen B en C uitgestem word. Indien die kerkraad en diakens besluit om ’n drietal aan die gemeente voor te lê, sal dit A, B en C wees.

’n Alternatiewe wyse van stemming is dat daar vir elkeen van die 8 persone op die groslys afsonderlik, in alfabetiese volgorde, gestem kan word; dan sal eliminasie waarskynlik op ’n „natuurliker” wyse plaasvind. In so ’n geval sal die vergadering vooraf moet bepaal of daar ’n

|26|

dubbeltal of ’n drietal aan die gemeente voorgehou sal word; want met ’n dubbeltal het elke stemgeregtigde 2 stemme (hy kan vir 2 persone stem), en met ’n drietal het elkeen 3 stemme. Hierdie metode kan egter meer as 2 of 3 kandidate oplewer wat volstrekte meerderhede behaal. Byvoorbeeld: in geval van ’n dubbeltal is daar 54×2 geldige stemme (108); die volstrekte meerderheid bly egter 28. A kry 40 stemme, B:30, C:28, D:4, E:2, F:1, G:1 en H:2. Volstrekte meerderhede is dus behaal deur A, B en C. Dieselfde kan gebeur by ’n drietal. In sulke gevalle word dié 2 of 3 aangewys wat die meeste stemme op hulle verenig het (in die geval van die voorbeeld dus: A en B. Indien B en C egter albei bv. 28 stemme behaal, hoef daar nie geloot te word nie; daar word eenvoudig tussen dié twee uitgestem).

In uitsonderlike gevalle mag daar slegs één naam aan die gemeente voorgelê word, sodat die gemeente vir of teen hom kan stem. (’n Voorbeeld van so ’n geval wat werklik plaasgevind het, was toe die konsulent die Sondagoggend toe beroep sou word, berig ontvang het dat een van die twee persone wat op die dubbeltal aangewys is, reeds ’n ander beroep aanvaar het).

Aangesien Christus Self in absolute sin dié Een is wat sy dienaars roep en aanwys, maar tog van mense as sy werktuie gebruik maak, is dit nie ordelik en aanvaarbaar dat iemand in ’n kerklike vergadering buite stemming bly nie — behalwe in hoogs uitsonderlike gevalle; en dan slegs met toestemming van die vergadering.

Elke ouderling en diaken is ampshalwe verplig om sy stem uit te bring, omdat hy ’n geroepene van die Here is wat namens Hom optree.

Dit sal dus ongewoon wees as daar in die proses van stemming blanko stembriewe te voorskyn kom. Indien dit wel sou gebeur, word sulke stembriewe glad nie by die aantal geldige stemme getel nie ... nie by die meerderheid nie, en ook nie by die minderheid nie.

Indien die aantal blanko stembriewe só hoog is dat dit die wettigheid van die verkiesing in gedrang sou bring, moet daar ’n dringende beroep gedoen word dat almal moet stem; die oorsaak waarom sommige buite stemming bly, moet uit die weg geruim word, selfs al sou dit beteken dat die verkiesing uitgestel moet word.

|27|

Gestel byvoorbeeld dat daar 20 stemgeregtigdes in die vergadering is en daar moet tussen twee persone gestem word; 8 stem vir hom, 5 stem teen hom en 7 bly buite stemming (7 blanko stembriewe). ’n Volstrekte meerderheid is die helfte van 20 (10) plus 1 = 11. Daar is dus geen volstrekte meerderheid nie; dit is ook onwaarskynlik dat ’n volstrekte meerderheid verkry sal word voordat die 7 wat buite stemming gebly het, nie ook hul stemme uitbring nie (vir buite stemming bly, kyk p. 138).

Indien daar steeds ’n kworum (kyk by art. 29, p. 124) sou wees sonder die 7 wat buite stemming gebly het, mag die vergadering besluit dat daar wel ’n volstrekte meerderheid sonder die 7 blanko stembriewe verkry is; want die praktiese effek daarvan sou dieselfde wees as wanneer die 7 afwesig was. Die ideale toestand is egter dat alle teenwoordiges hul stemme uitbring.

 

Verkiesing deur gemeente.

Nadat die kerkraad en diakens ’n dubbel- of drietal vasgestel het, word dit aan die gemeente voorgelê om daaroor te stem; alle belydende lidmate, mans en vroue, wat nie onder sensuur is nie, mag stem. Dit is wenslik dat die dubbel- of drietal ’n Sondag vóór die verkiesing aan die gemeente bekendgemaak word vir kennisname en moontlike kommentaar, soos die kerkraad en diakens ook al mag besluit. Kerkrade moet egter op hul hoede wees om nie deur persoonlike voorkeure van enkele lidmate op sleeptou geneem en geveto te word nie!

Indien daar, tydens die verkiesingsvergadering, deur lidmate verandering van of byvoeging by die voorgelegde name voorgestel word, moet daar korrek opgetree word: as daar, soos in die vorige paragraaf gesê is, reeds geleentheid was vir kommentaar, moet die voorsitter so ’n voorstel ferm buite orde reël en met die verkiesing voortgaan.

Indien daar nie geleentheid was vir vooraf kennisname en kommentaar nie, moet so ’n voorstel liewer nie in die volle vergadering saam met die gemeente bespreek word nie. Die vergadering moet verdaag word sodat die kerkraad en diakens geleentheid kan kry vir ’n kort buitengewone vergadering om die name te heroorweeg. Wat daarná aan die gemeente voorgelê word, moet deur die voorsitter met beslistheid gehandhaaf word.

|28|

Hier moet weer benadruk word dat daar in elke stemming, deur die kerkraad en diakens sowel as deur die gemeente, met geslote stembriewe gestem moet word en nie deur opsteek van hande nie.

By die stemming deur die gemeente word die volstrekte meerderheid bepaal volgens die aantal uitgebragte stemme (kyk p. 24).

By staking van stemme kan oorgestem word; indien daar weer ’n staking van stemme is, moet met plegtige aanroeping van die Naam van die Here geloot word (kyk p. 21).

(’n Interessante voorbeeld van hoe ’n konsulent nie mag optree nie, is die volgende: by die vergadering van kerkraad en diakens om ’n dubbeltal te stel, was daar twee lede te min vir ’n kworum. Die konsulent het egter ’n oplossing gehad: hyself is daar met gewone stem asook beslissende stem; dit tel dus vir die twee ontbrekende lede om ’n kworum te kry!).

 

Die beroep.

Nadat die uitslag van die stemming deur die gemeente bekend is, besluit die kerkraad en diakens om dié predikant te beroep wat deur die meerderheid van stemme aangewys is.

Hoewel in hierdie artikels bepaal word dat dit „die kerkraad en die diakens” is wat beroep (terwyl die gemeente glad nie genoem word nie), beteken dit egter nie dat die kerkraad en diakens ’n ander predikant kan beroep as dié een wat die meeste stemme op hom verenig het nie.

So ’n optrede sal totaal onwenslik en heeltemal onhoudbaar wees; dit sal beslis nie die belang van die gemeente dien nie.

Om die meerderheidsbegeerte van die gemeente, wat deur middel van stemming kenbaar geword het, te ignoreer, kom daarop neer dat die gemeente onmondig en onbekwaam geag word; dit sou ook beteken dat kerkraad/diakens en gemeente teenoor mekaar gestel word ... iets wat ontoelaatbaar is. Per slot van rekening is dit die kerk (gemeente) wat beroep, onder leiding van die kerkraad (kyk p. 21).

Daarbenewens is so ’n eensydige optrede deur die kerkraad en diakens ook ’n „mosie van wantroue” wat hulle in hulself stel; hulle het immers self besluit watter dubbeltal of drietal aan die gemeente voorgelê sal

|29|

word; daarmee het hulle self te kenne gegee dat enigeen van die twee- of drietal aanvaarbaar en beroepbaar is.

 

Beroeping van teologiese professore.

Vir die doel van hierdie boek ag ek dit nie nodig om die prosedure by beroeping van teologiese professore uiteen te sit nie; ouderlinge, diakens, lidmate en meeste predikante het immers geen direkte belang daarby nie. 

Die prosedure vir die beroeping van teologiese professore word volledig uiteengesit in die sogenaamde „Teologiese Skoolboekie”, verkrygbaar by die Registrateur van die Teologiese Skool te Potchefstroom.

In hierdie Boekie is alle Sinodebesluite rakende die Teologiese Skool opgeneem en verwerk.

Interessantheidshalwe kan net genoem word dat die liggaam wat teologiese professore beroep, eers genoem is die „Kieskollege”; daarná is die naam verander na „Beroepingsvergadering”; uiteindelik het die Sinode van 1994 (Handelinge p. 650, 3.2) die naam verander na „Breë Kuratorium”.

 

Kombinasie-beroepe.

Wanneer ’n gemeente nie finansieel in staat is om alleen ’n predikant te versorg nie, versoek hy een of meer ander naburige gemeentes om met hom in kombinasie te tree, sodat hulle gesamentlik ’n predikant kan bekom. Soms word ’n kombinasie ook gevorm deur ’n paar gemeentes om gesamentlik ’n predikant te beroep vir sending en/of evangelisasie.

So ’n kombinasie-vorming moet egter ordelik gereël word; die besonderhede daarvan moet in ’n kombinasie-akte, opgestel deur die betrokke kerkrade en goedgekeur deur die klassis, gestipuleer word. Aangesien toestande soms baie kan verskil, is dit moeilik om ’n eenvormige kombinasie-akte vas te stel wat vir alle gevalle moet geld; elke besondere kombinasie moet volgens eie omstandighede gereël word.

Die Sinode van 1939 (Handelinge p. 34 e.v., art. 43-45; p. 222, art. 175) het bepaalde riglyne neergelê; dit is opgeneem in die Kerkordeboekie, p. 41 e.v. (Hou egter in gedagte dat dit slegs riglyne is, wat aangepas kan word volgens plaaslike omstandighede). By c.: „Die

|30|

byvoegsel by die beroepsbrief”, artikel 7(b) insake die afvaardiging na meerdere vergaderings, het die Sinodes van 1958 (Handelinge p. 135, art. 71) en 1970 (Handelinge p. 120 e.v., art. 60) besluit dat waar die predikant verbonde is aan kombinasiegemeentes wat selfs onder verskillende klassisse ressorteer, hy ook om die beurt deur die verskillende kerkrade afgevaardig kan word.

Kombinasie-aktes moet baie duidelike stipulasies bevat wat nie vatbaar is vir meer as een interpretasie nie; in die praktyk kan sulke „dubbelsinnige” bepalings baie ongelukkigheid en onsmaaklikheid meebring. Veral moet, waar dit gaan om die beëindiging van die kombinasie en aan watter gemeente die predikant by beëindiging van kombinasie verbonde bly, praktiese en maklik uitvoerbare bepalings neergelê word.

Ek noem die volgende:
➢ In elke kombinasie-akte moet ’n artikel ingebou word wat bepaal dat die kombinasie slegs met instemming van al die betrokke gemeentes sowel as die klassis(se) beëindig mag word. Dit is om te voorkom dat die oorblywende gemeente(s) in finansiële probleme beland.
➢ Daar moet duidelik gestipuleer word aan watter gemeente die predikant verbonde sal bly wanneer die kombinasie beëindig word.

Soms gebeur dit dat in een of ander kombinasie-akte bepaal word dat die predikant aan dié gemeente verbind sal bly wat aansoek gedoen het om uit die kombinasie te tree of dit te beëindig. Indien dit die gemeente is waar die predikant woon en waar sy en sy gesin se attestasies is, sal dit nie praktiese probleme meebring nie; hy bly dus eenvoudig waar hy tydens die duur van die kombinasie gewoon het; al wat verander, is dat een van die gemeentes uit die kombinasie tree en dat hy gewoon predikant van die oorblywende gemeente(s) bly. ’n Formele losmakingsprosedure volgens artikel 10 is in so ’n geval nie nodig nie, aangesien die klassis alreeds toestemming tot wysiging of beëindiging van die kombinasie gegee het (kyk argument in vorige paragraaf). ’n Afskeidspreek deur die predikant, met wat gewoonlik daarmee saamgaan, kan in die uittredende gemeente gelewer word.

Indien die gemeente wat aansoek gedoen het om uit die kombinasie te tree of dit te beëindig, ’n ander gemeente is as dié waar die predikant woon en waar sy attestasie is, ontstaan daar onnodige komplikasies.

|31|

Dan moet daar besluit word of dié betrokke gemeente die predikant op die gewone wyse moet beroep (art. 5); of hy op die gewone wyse losgemaak moet word van die ander gemeente(s) in die kombinasie (art. 10); of hy weer in die gemeente waaraan hy kragtens die kombinasie-akte verbonde bly, bevestig moet word (art. 5), en so meer.

Ek gaan nie antwoorde gee op die bogenoemde probleme nie. Dit moet maar volgens elke geval se omstandighede beoordeel word.

Ek beklemtoon slegs dat dit onnodige probleme is wat maklik voorkom kan word!

Indien ’n gemeente wat uit die kombinasie tree of versoek dat die kombinasie beëindig moet word, die predikant vir homself begeer, word die predikant op die gewone wyse (art. 5) beroep.

 

Verdere optrede met betrekking tot beroep.

Nadat die gemeente besluit het wie beroep moet word, hanteer die kerkraad (ouderlinge) en die diakens verder alle handelinge wat daaruit voortspruit.

Die volgende is hier van belang:
➢ die vasstelling van ’n datum waarop die beroepe predikant se antwoord verwag word;
➢ die afronding en ondertekening van die beroepsbrief met begeleidende brief (die sogenaamde „byvoegsel”);
➢ die mededeling van die beroep aan die predikant wat beroep is;
➢ die afkondiging van die beroep vir minstens 3 Sondae.

Die oorhandiging, of versending van die beroepsbrief met begeleidende brief (per versekerde pos), behoort na my mening (teen die heersende gebruik in) oor te staan tot ná die goedkeuring van die beroep deur die lidmate oor ’n periode van 3 Sondae. Anders word die indruk geskep dat die kerkraad en diakens die goedkeuring van die beroep deur die lidmate as ’n blote formaliteit beskou ... ’n totaal onhoudbare situasie!

 

Die beroepsbrief.

Die beroepsbrief met begeleidende brief moet met groot noukeurigheid opgestel en onderteken word, aangesien dit krag van kontrak het. (Vir

|32|

konsepvorms, kyk Sinode 1985, Handelinge p. 557-9; kyk ook p. 23 hiervan).

 

Goedkeuring (approbasie) van beroep.

’n Opmerklike bewoording in artikel 4 (wat nie in art. 5 voorkom nie) is dat daar gepraat word van „die approbasie en goedkeuring” (my kursivering, J.V.) deur die lidmate.

„Approbasie” en „goedkeuring” is woorde met presies dieselfde betekenis.

In die oorspronklike Kerkorde van Dordrecht, 1618-19, was die bewoording soos volg: „Ten derde, in de Approbatie, ende goet-kenninghe van de Overheyt, ende daer nae oock van de lidtmaten der Ghereformeerde Gemeente ...”. (Oorspronklike kursivering, J.V.).

Dit is onverstaanbaar dat hierdie toutologiese woordgebruik in artikel 4 nie lank reeds gekorrigeer is nie.

Die naam van die beroepe proponent/predikant moet vir minstens 3 agtereenvolgende Sondae in die gemeente afgekondig word.

Indien daar gedurende hierdie periode geen beswaar ingebring word nie, word dit aanvaar as stilswyende goedkeuring deur die lidmate.

Indien een of meer lidmate wel beswaar wil indien, moet dit skriftelik en goed gemotiveerd vóór ’n vasgestelde keerdatum (verkieslik so gou moontlik ná die derde afkondiging) by die skriba van die kerkraad ingedien word, waarná die kerkraad en die diakens die beswaar (besware) met groot erns en verantwoordelikheid moet beoordeel.

Dit kan naamlik gebeur dat daar, ondanks noukeurige reëlings en toesig deur die kerkraad, tog onreëlmatighede met die verkiesing plaasgevind het. Of daar kon ná die verkiesing informasie bekend geword het wat bedenkinge ten opsigte van die beroepene se leer en/of lewe en/of ampsgawes laat ontstaan het; dit sou beslis onwenslik wees om met die beroep voort te gaan voordat sulke besware nie deurtastend ondersoek is nie.

In elke afsonderlike geval sal uitgemaak moet word of die besware van so ’n aard is dat dit slegs deur die kerkraad (ouderlinge — art. 37) of deur die kerkraad en die diakens behandel moet word. Handhawing van

|33|

die beswaar beteken dat die beroep nietig verklaar word. Die gemeente en die beroepe predikant (indien hy reeds kennis dra van die beroep, kyk p. 32) moet só ingelig word.

Met ’n beroep op ’n (nie-bestaande) besluit van die Sinode van 1964 word soms beweer dat die klassis, deur middel van ’n classis contracta, wat saamgestel word uit afgevaardigdes van twee naburige kerkrade, ook die beroep moet goedkeur; hierdie classis contracta moet ook alle besware wat ingedien word, behandel.

(Die term classis contracta beteken letterlik ’n „saamgetrokke” klassis; dus: ’n verkleinde klassis).

Benewens die feit dat daar nie so ’n besluit deur die Sinode van 1964 geneem is nie, is so ’n argumentasie vir my aanvoeling ook nie Gereformeerd nie. Dit adem inteendeel ’n sterk kollegialisties/presbiteriaanse gees. Waarom sou die plaaslike kerkraad verbygegaan moet word in so ’n handeling?

Dit is éérs die goedkeuring van die beroep deur die lidmate („ten derde” in art. 4 en „ten tweede” in art. 5); daarná kom die classis contracta in funksie, volgens „ten laaste” in artikel 4 en „ten derde” in artikel 5.

Dat die klassis wel deeglik belang het by die leer, lewe, ampsbediening en bewys van ordelike losmaking van ’n beroepene, staan vas. Die „kontrolering” wat egter in artikel 5 aan „die klassikale deputate” (classis contracta) opgedra word, moet egter nooit gesien word as ’n vervanging van die plig tot goedkeuring van ’n beroep deur die lidmate nie, maar slegs as ’n bykomende handeling.

 

Die kontrolering van vereiste dokumente.

Voordat bevestiging mag plaasvind, moet die kerkraad eers reël vir die oproep van ’n classis contracta.

So ’n classis contracta word saamgestel uit 2 afgevaardigdes van elkeen van 2 naburige kerkrade, gewoonlik die predikant en een ouderling, plus die konsulent. (Indien een van die naburige gemeentes vakant is of nie ’n eie voltydse predikant het nie, kan ook 2 ouderlinge afgevaardig word).

|34|

Hierdie afgevaardigdes van die naburige kerkrade moet met geloofsbriewe aanmeld by die kerkraad waar die bevestiging plaasvind, as bewys dat hulle wettig deur die betrokke kerkrade afgevaardig is, en dus die kerkrade verteenwoordig. Sonder geloofsbriewe kan die classis contracta nie saamgestel (gekonstitueer) word nie! Die konsulent/voorsitter sal hierop baie noukeurig moet let.

Die classis contracta moet nagaan of al die vereiste dokumente beskikbaar en in orde is en of die beroep en die antwoord op die beroep korrek afgehandel is. Ook moet hulle toesien dat die bevestiging ordelik verloop volgens die vasgestelde Formulier en ander aanvaarde prosedures.

Die classis contracta moet ook aan die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie van die klassis kennis gee van die afloop van die verrigtinge. (Vir konsepkennisgewing, kyk Handelinge Sinode 1985 p. 559, 3.3).

Die reiskoste van hierdie afgevaardigdes na die classis contracta word gedra deur die gemeente wat beroep het.

 

Die vereiste dokumente.

In geval van ’n proponent:
➢ Sertifikaat van suksesvolle aflegging van die Voorbereidende en Toelatingseksamen en beroepbaarstelling.
➢ Beroepsbrief.
➢ Antwoord op beroep.
➢ Lidmaat-attestasie.

In geval van ’n dienende predikant:
➢ Beroepsbrief.
➢ Antwoord op beroep.
➢ Akte van losmaking van vorige gemeente. (Vir konsep, kyk Handelinge Sinode 1985, p. 559, 3.4).
➢ Goeie kerklike getuienis van ampsbediening in vorige gemeente. (In die ou konsepakte van losmaking agter in die huidige Kerkordeboekie was hierdie getuienis inbegrepe, maar in die nuwe konsep sedert Sinode 1985 ontbreek dit; die losmakende kerkraad sal hierdie getuienis dus bykomend moet verskaf. Aangesien ons hier egter te doen het met konsepvorms en nie met vorms waarvan die gebruik

|35|

verpligtend en afdwingbaar is nie, kan kerkrade nog steeds van die ou konsep gebruik maak, of die nuwe konsep aanpas en/of aanvul.)
➢ Lidmaat-attestasie.

 

Die bevestiging.

Die amp kleef nooit aan die persoon wat geroep is nie; ’n predikant is ook nie predikant van die „kerkverband” nie. Die roeping gaan van die plaaslike kerk uit, en daarom moet ’n predikant wat van een gemeente na ’n ander verhuis nadat ’n beroep aanvaar is, opnuut weer bevestig word.

Die bevestiging is die openlike verbintenis van die proponent/predikant aan die gemeente, sowel as sy openlike diensaanvaarding in die gemeente. Dit vind plaas in ’n erediens „volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.” (Vir Formulier, kyk Sinode 1985, Handelinge p. 361, punt 13).

Aangesien die bevestiging in ’n gemeente ook die breëre kerkverband aangaan, moet dit plaasvind „in teenwoordigheid van die klassikale deputate”. Hierdie deputate van die klassis is in wese ’n classis contracta (kyk p. 33 hiervan).

 

Die handoplegging.

Wanneer ’n proponent bevestig word, lê die predikant wat die leiding neem in die bevestiging, sy regterhand op die hoof van die proponent, terwyl hy ’n kort gebed (as deel van die Formulier) uitspreek. Ander predikante wat teenwoordig is, neem gewoonlik deel aan hierdie handoplegging deur almal saam hul regterhande op die hoof van die proponent te lê. Sorg moet egter gedra word dat hierdie plegtige handeling nie onordelik verloop nie.

Die doel van hierdie handoplegging is ’n simboliese handeling waardeur die proponent openlik afgesonder word tot die diens van Gods Woord en waardeur erken word dat die Heilige Gees aan hom die gawes verleen het wat hy nodig het vir sy dienswerk.

Indien hierdie handeling aanleiding gee tot bygelowigheid, moet dit liewer nagelaat word.

|36|

Die Ondertekeningsformulier.

In artikels 53 en 54 KO word bepaal dat alle predikante, teologiese professore, proponente, ouderlinge en diakens die „drie Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618-19” moet „onderskryf en onderteken”. Dié wat weier om dit te doen, moet metterdaad in hul diens geskors word; by hardnekkige weiering, moet hulle heeltemal uit hulle diens afgesit word.

Uit die bewoording en streng bepaling van hierdie artikels word dit duidelik dat dit hier nie slegs gaan om ’n mooi formaliteit nie, maar inderdaad om ’n uiters belangrike en onmisbare element in die dienswerk van ampsdraers.

Die Ondertekeningsformuliere vir predikante, proponente, ouderlinge en diakens verskyn op p. 82 e.v. van die Kerkordeboekie; dié vir die teologiese professore verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1988 op p. 409 (punt 2.5).

Uit die inhoud daarvan word dit duidelik dat elkeen wat hierdie Ondertekeningsformulier(e) „onderskryf en onderteken”, homself met sy handtekening verbind om die suiwere leer te handhaaf, te bevorder en te verdedig; om niks daarteen, openlik of in die geheim, direk of indirek, te leer of te skrywe nie; en om die dwaalleringe wat teen die suiwere leer stry, te verwerp, te weerlê, te weerspreek en alles te doen om hulle uit die kerk te weer.

Die ondertekening van hierdie Formuliere behoort direk ná die bevestiging in teenwoordigheid van die hele gemeente plaas te vind; die gemeente het immers die allernouste belang by die onderneming van elke ampsdraer dat hy die suiwere leer sal handhaaf en verdedig en die dwaalleer sal beveg en uit die kerk sal weer (kyk Sinode 1985, Handelinge p. 422, punt 4.5.4).

 

Beroepbaarstelling van voormalige predikante.

Wanneer ’n voormalige predikant, wat óf sy amp eiewillig neergelê het, óf kragtens artikel 12 KO tot ’n ander staat van die lewe oorgegaan het, óf kragtens artikels 79-80 KO uit die amp afgesit is, weer geroepe voel om tot die bediening van die Woord terug te keer, kan dit slegs kragtens artikel 4 KO plaasvind.

|37|

Die prosedure wat hier gevolg moet word, is deur die Sinode van 1973 vasgestel (kyk Handelinge p. 317-318, 3.2.2.).

In kort kom dit hierop neer:
➢ So ’n voormalige predikant moet eers die oordeel en aanbeveling kry van die kerk (gemeente) waar hy lidmaat is.
➢ Dan doen hy by die kerk en klassis waar hy uit die amp is aansoek om ’n aanbeveling.
➢ Daarna doen hy by die partikuliere sinode (in wie se ressort laasgenoemde kerk en klassis is) aansoek om beroepbaarstelling.

 

Gesamentlike dienste.

In hierdie onderafdeling gaan dit nie om gesamentlike dienste van twee of meer Gereformeerde gemeentes nie.

Dit gaan om gesamentlike dienste tussen bv. ’n Gereformeerde gemeente en een of meer nie-Gereformeerde gemeentes ... iets wat soms voorkom op die sogenaamde Christelike feesdae.

Indien so ’n gesamentlike diens gelei word deur ’n Gereformeerde predikant, onder toesig van ’n Gereformeerde kerkraad, kan daarteen seker geen beswaar ingebring word nie.

Sodra so ’n diens egter gelei word deur ’n nie-Gereformeerde predikant, onder toesig van ’n nie-Gereformeerde kerkraad, ontstaan daar talle probleme.

Al is daar sommige predikante in nie-Gereformeerde kerke wat in hul prediking baie suiwer is, is die tragiese feit egter dat die GKSA nie met ander, nie-Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, één is in belydenishandhawing en belydenisuitlewing en belydenisbinding, in liturgie en in kerkregering nie.

Daarom is dit bedenklik dat ’n Gereformeerde kerkraad sy lidmate in die posisie plaas dat hulle onder onsuiwere prediking kan kom, bloot net ter wille van ’n demonstratiewe eenheid, wat in wese geen eenheid is nie!

Verder: selfs al sou ’n nie-Gereformeerde predikant die Woord bedien onder toesig van ’n Gereformeerde kerkraad, los dit die probleem nog nie op nie. ’n Gereformeerde kerkraad het nóg die reg, nóg die

|38|

bevoegdheid om toesig te hou en/of leertug toe te pas oor ’n nie-Gereformeerde predikant.

In artikel 3 KO word wettige roeping en toelating vereis voordat iemand toegelaat mag word tot die bediening van die Woord in ’n Gereformeerde kerk. Artikel 9 KO bepaal watter prosedure gevolg moet word voordat predikers uit ander (nie-Gereformeerde) kerke tot die „kerkdiens” toegelaat mag word ... selfs al is dit slegs by één geleentheid. Kyk ook wat op p. 11 e.v. gesê is oor kanselruil.

Dit is steeds vir my ’n ernstige vraag waarom daar slegs by sekere geleenthede sulke gesamentlike dienste gereël word; waarom dan nie elke Sondag nie? Is dit dalk omdat kerkrade wat daarby betrokke is, deeglik daarvan bewus is dat daar, hoe jammer ook al, geen ware eenheid is tussen Gereformeerde en nie-Gereformeerde kerke nie?

Is dit heeltemal eerlik om so ’n skyn van „eenheid” te wek?

Sulke gesamentlike dienste moet die vrug van kerkeenheid wees, en nooit pogings tot kerkeenheid nie.

Visser, J. (1999) Art. 6

|39|

Artikel 6

 

Geen bedienaar van die Woord mag onder ’n beskermheer of in gestigte of op ’n ander wyse diens van die Woord aanvaar nie, tensy hy daarvoor toestemming verkry het en toegelaat is volgens die voorgaande artikels; en hy is ook net soos die ander aan die Kerkorde onderworpe.

 

Predikante in buitengewone omstandighede.

Dit gebeur soms dat kerke gevra word om predikante beskikbaar te stel vir besondere dienswerk wat nie bepaald afgebaken is binne die grense van die suiwer gemeentelike bediening van Gods Woord nie.

Dit kan byvoorbeeld gebeur dat die geestelike bearbeiding van inwoners van een of ander diakonale inrigting opgedra word aan ’n predikant wat slegs daarvoor afgesonder word.

Ook was daar ’n paar jaar gelede ’n versoek deur die vroeëre Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie om ’n Gereformeerde predikant beskikbaar te stel vir die afdeling Godsdienstige Uitsendings.

Daarbenewens het daar in Suid-Afrika ’n situasie ontstaan dat die owerheid, in samewerking met die verskillende kerke, kapelaansdienste ingestel het vir die geestelike bearbeiding van lede van die weermag, polisie en korrektiewe dienste (voorheen gevangenisdienste). Daarvoor is ooreenkomste opgestel tussen die owerheid en die kerke. Die ooreenkoms tussen die GKSA en die verskillende departemente is opgeneem in die Handelinge van die Sinode van 1982, p. 481 e.v.

Hierdie kapelaansdienste lewer bepaalde probleme op, byvoorbeeld die hele rangstruktuur waardeur die „gelykheidsbeginsel” van artikel 17 KO in gedrang kom; die inspraak van die owerheid in kerksake; die spanning tussen die dissipline in die verskillende departemente en die kerklike tug, en so meer.

Die ideale toestand sou egter wees dat hierdie bearbeiding deur die plaaslike kerke, in wie se gebied sulke lede van die weermag, polisie en

|40|

korrektiewe dienste woon en werk, behartig word. Die enigste uitsondering is die bearbeiding van soldate op die slagveld.

 

Onderworpe aan die Kerkorde.

Artikel 6 KO bepaal egter dat sulke bedienaars van die Woord, net soos die ander, aan die Kerkorde onderworpe is. Dit beteken dat alle kerkregtelike beginsels wat van toepassing is op die beroeping en toelating van predikante in die algemeen, ook geld vir predikante in besondere dienste soos hierbo genoem.

Daar moet baie noulettend gewaak word dat die basies-prinsipiële van die amp en die kerkregering, sowel as die regering van Christus in sy kerk, nie met sulke reëlings in gedrang kom of aangetas word nie.

Só het die Sinode van 1964 tereg besluit dat die diens wat ’n persoon doen, waartoe hy middellik deur God geroep en bevestig is, sy amp bepaal; sodra hy daar buite tree, verval sy amp en hy word eervol losgemaak (Handelinge p. 100, B2).

’n Predikant kan nie slegs in naam bedienaar van Gods Woord wees, terwyl die hoofinhoud van sy „dienswerk” niks met Woordbediening te doen het nie.

 

Aan bepaalde gemeente verbonde.

’n Onontbeerlike beginsel is en bly altyd dat selfs in sulke buitengewone gevalle die betrokke predikante aan bepaalde gemeentes verbonde moet wees. In die Gereformeerde kerkregering bestaan daar nie so iets as „losloperpredikante” nie ... dit beteken predikante wat nie aan bepaalde gemeentes verbind is nie, maar bloot deur een of ander organisasie „aangestel” is.

Visser, J. (1999) Art. 7

|41|

Artikel 7

 

As iemand tot die diens van die Woord in ’n bepaalde kerk beroep word, moet hy op die bepaalde plek gevestig wees, tensy hy gestuur word om elders kerke te vergader.

 

Bedienaar van Gods Woord aan bepaalde kerk verbind.

In die Dordtse Kerkorde van 1618/19 is die formulering van hierdie artikel baie sterker as in die Kerkorde van die GKSA, sodat die prinsipiële bedoeling daarvan baie duideliker na vore kom; vry vertaal lui dit só: Niemand sal tot die diens van die Woord beroep word nie tensy hy op ’n sekere plek (standplaas) gevestig is nie.

Die bedoeling van hierdie artikel is tweërlei: eerstens word hier bepaal dat niemand predikant mag wees as hy nie aan ’n bepaalde kerk (gemeente) verbind is nie. Die roeping gaan van die plaaslike kerk uit, sodat ’n predikant aan ’n plaaslike kerk verbind moet wees. Die amp kleef nie aan die persoon nie, maar bestaan primêr in die roeping tot die diens van die Woord; hierdie roeping gaan van ’n bepaalde kerk uit.

Wanneer ’n predikant die band met die kerk wat hom beroep het, verbreek, sonder om aan ’n ander kerk verbind te word, het hy prakties sy amp as predikant laat verval en kan hy nie meer aanspraak maak op die naam en eer van ’n bedienaar van Gods Woord nie. ’n Predikant kan nie na eie goeddunke rondtrek en oral preek nie. Roeping en verbondenheid aan ’n bepaalde kerk is onlosmaaklik aan mekaar verbind.

 

Bedienaar van Gods Woord op bepaalde plek gevestig.

Tweedens bepaal hierdie artikel dat ’n predikant op die bepaalde plek waar hy beroep is, gevestig moet wees. Dit beteken dus dat ’n predikant binne die grense van die kerk wat hom beroep het, moet woon. Hierdie bepaling is so logies en prakties vanselfsprekend dat daaroor nie meer gesê hoef te word nie. (Hierdie bepaling hoef na my mening nie só rigoristies toegepas te word dat ’n predikant, byvoorbeeld in ’n stedelike gebied, gladnie buite die grense van sy eie kerk ’n eie huis of pastorie mag bewoon nie).

|42|

Bedienaar van Gods Woord uitgestuur om kerke te vergader. 

Op hierdie algemene reël is daar egter ’n uitsondering: „... tensy hy gestuur word om elders kerke te vergader.”

Die beginsel van hierdie bepaling vind ons reeds in die Nuwe Testament, waar die Heilige Gees opdrag gegee het dat Paulus en Bárnabas deur die gemeente van Antiochië uitgestuur moet word na die heidene (Handelinge 13).

In die praktyk sal dit só toegepas word dat ’n gemeente (of ’n kombinasie van gemeentes — kyk p. 29 e.v.) ’n predikant beroep en hom uitstuur na ’n bepaalde gebied om deur middel van die verkondiging van Gods Woord „nuwe” kerke (gemeentes) te vergader.

 

Slegs deur plaaslike kerk.

Nadruk moet egter daarop gelê word dat so ’n roeping en „uitstuur” van ’n sendeling slegs van ’n plaaslike kerk (of kombinasie van kerke) mag uitgaan (kyk artt. 3-7 KO); geen meerdere vergadering het die reg of bevoegdheid om sendelinge te beroep en uit te stuur nie; kragtens artikel 30 KO is dit ’n saak wat deur ’n mindere vergadering (in hierdie geval die kerkraad van die plaaslike kerk) afgehandel kan (en moet) word.

Vanselfsprekend sny hierdie kerkregtelike beginsel die hele idee van die sogenaamde „genootskaplike sending” by sy wortel af. Die Skrif ken nie so iets dat buitekerklike genootskappe sendelinge uitstuur, oor hulle toesig hou en hulle versorg nie; dit is en bly die taak en verantwoordelikheid van die plaaslike kerk (of kombinasie van kerke).

Visser, J. (1999) Art. 8

|43|

Artikel 8

 

Iemand wat nie gestudeer het nie, sal nie tot die diens van die Woord toegelaat word nie, tensy daar sekerheid is van sy buitengewone gawes, godsaligheid, ootmoedigheid en ingetoënheid, goeie verstand en onderskeidingsvermoë sowel as gawes van welsprekendheid. As so iemand hom aanmeld, moet die klassis, as die partikuliere sinode dit goedvind, hom eksamineer en na gunstige bevinding hom vir ’n tyd lank private preekproewe laat lewer, om dan met hom te handel soos die klassis stigtelik oordeel.

 

Toelating sonder voorafgaande studie. 

In hierdie artikel word die moontlikheid van toelating tot die diens van die Woord sonder voorafgaande studie bepaal. Dit is geen prinsipiële uitsondering op die vorige artikels nie; dit is steeds gefundeer in die basiese Skriftuurlike beginsels dat die Here Self manne tot sy diens roep en daarvoor toerus (kyk art. 3).

Normaalweg is voorafgaande studie noodsaaklik om toegelaat te word tot die diens van die Woord. Veral is kennis van die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf is, naamlik Hebreeus en Grieks, onontbeerlik om Gods Woord uit te lê en te verkondig. Hierby kom dan nog kennis van al die verskillende teologiese vakwetenskappe.

Tog is daar, in hoogs uitsonderlike gevalle, ’n moontlikheid om sonder voorafgaande studie toegelaat te word tot die diens van die Woord ... as daar naamlik bewys gelewer kan word dat die Heilige Gees iemand toegerus het met „buitengewone gawes”, soos in hierdie artikel genoem word. Die Here kan ook diegene wat Hy roep, sonder studie bekwaam om sy Woord te verkondig. Daar moet egter „sekerheid” wees van so iemand se buitengewone gawes.

 

Prosedure by toelating.

Die ordelike weg waarlangs so ’n persoon homself moet „aanmeld”, is soos volg:

|44|

➢ hy moet sy begeerte om tot die diens van die Woord toegelaat te word, onder die aandag van sy kerkraad bring. (Selfs in die geval van persone wat deur middel van voorafgaande studie toegerus word tot die diens van die Woord, word daar vertroulike getuienis van die plaaslike predikant verlang);
➢ die kerkraad moet volgens sy eie diskresie sekerheid verkry oor die persoon se buitengewone gawes, voordat hy die aansoek na die klassis deurstuur;
➢ as die kerkraad oortuig is dat die aansoek verdienste het en die aansoeker se motiewe suiwer is, verwys hy die persoon na die Teologiese Skool, sodat daar vasgestel kan word of sy teologiese toerusting voldoen aan die vereistes vir die Kandidaatseksamen, en of aanvullende opleiding nodig is;
➢ wanneer die Senaat van die Teologiese Skool tevrede is dat die teologiese toerusting van die persoon bevredigend is, word hy voorsien van ’n amptelike dokument waarin die toepaslike en vereiste gegewens weergegee word. Die kerkraad stuur dan ’n behoorlik gemotiveerde aansoek na die klassis deur; hierdie aansoek moet vergesel word van die dokument van die Senaat van die Teologiese Skool, asook van ’n getuienis van die aansoeker se leer en lewenswandel;
➢ nadat die klassis oortuig is dat daar wel genoegsame bewys van buitengewone gawes gelewer is, word die aansoek na die partikuliere sinode deurgestuur vir goedkeuring, voordat die kandidaat finaal deur die klassis (verkieslik met advies van die deputate van die partikuliere sinode — kyk art. 49 KO) geëksamineer word met die oog op beroepbaarstelling;
➢ vóór beroepbaarstelling moet die kandidaat egter vir ’n tyd lank, soos die klassis reël, „private preekproewe” lewer. Hierdie preekproewe is geen amptelike Woordbediening nie, maar die spreek van ’n stigtelike woord (kyk p. 8, 16). Oor hierdie preekproewe moet aan die volgende klassis verslag gelewer word;
➢ indien die verslag oor die preekproewe bevredigend is, volg die amptelike beroepbaarstelling, waarná die Ondertekeningsformulier vir Proponente onderteken moet word (kyk by art. 4, p. 16).

Visser, J. (1999) Art. 9

|45|

Artikel 9

 

Predikers wat uit ander kerke of een of ander sekte aansluit, sal nie tot die kerkdiens toegelaat word nie, behalwe met groot versigtigheid, en dit eers nadat hulle vir ’n sekere tyd goed beproef is.

 

Bewoording.

Die bewoording „kerke” in hierdie artikel moet duidelik verstaan word as kerke buite die verband van die GKSA.

Die woord „kerkdiens” beteken niks anders nie as „diens van die Woord”, soos in vorige artikels. Dit is vreemd dat hierdie bewoording nog nie verander is om aan te pas by vorige artikels nie.

 

Aansluiting by vorige artikels.

Artikel 9 moet nie bloot op sy eie beoordeel en hanteer word nie, maar in noue aansluiting by vorige artikels, veral artikel 3 (die noodsaaklikheid van wettige beroeping en toelating), artikel 4 (die wyse van beroeping en toelating) en artikel 8 (groot versigtigheid voor toelating).

 

Eers aansluit as lidmaat.

Voordat daar hoegenaamd aandag gegee mag word aan ’n aansoek om volgens hierdie artikel toegelaat te word tot die diens van die Woord, moet die aansoeker, uit die aard van die saak, eers as lidmaat van ’n plaaslike Gereformeerde kerk opgeneem word. Dit is trouens een van die uitgangspunte in hierdie artikel, soos die woord „aansluit” duidelik impliseer.

 

Prosedure by toelating.

Die ordelike weg waarlangs so ’n persoon aansoek moet doen om toegelaat te word tot die diens van die Woord, is na my mening die volgende:
➢ hy moet sy begeerte om toegelaat te word tot die diens van die Woord aan sy kerkraad bekend maak;

|46|

➢ die kerkraad moet die aansoek deeglik oorweeg; met die oog op die aansoeker se motiewe, moet ’n deurtastende ondersoek gedoen word by wyse van ’n indringende broederlike gesprek;
➢ as die kerkraad oortuig is dat die aansoek verdienste het en die aansoeker se motiewe suiwer is, verwys hy die persoon na die Teologiese Skool, sodat daar vasgestel kan word of sy teologiese opleiding voldoen aan die vereistes vir die Kandidaatseksamen, en of aanvullende opleiding nodig is;
➢ wanneer die Senaat van die Teologiese Skool tevrede is dat die teologiese toerusting van die persoon bevredigend is, word hy voorsien van ’n amptelike dokument waarin die toepaslike en vereiste gegewens weergegee word. Die kerkraad stuur dan ’n behoorlik gemotiveerde aansoek na die klassis deur; hierdie aansoek moet vergesel word van die dokument van die Senaat van die Teologiese Skool, asook van ’n getuienis van die aansoeker se leer en lewenswandel;
➢ die klassis, verkieslik saam met die deputate van die partikuliere sinode (kyk art. 49 KO), behandel die aansoek selfstandig en indringend, voordat oorgegaan word tot eksaminering volgens artikel 4 KO;
➢ verloop die eksaminering bevredigend, moet daar eers ’n tydperk bepaal word waarin die aansoeker „goed beproef” — dit wil sê behoorlik prakties getoets — moet word. Hierdie praktiese toetsing vind uiteraard in ’n gemeente plaas, onder toesig van ’n kerkraad en met begeleiding van ’n bedienaar van die Woord. Die aansoeker moet ruim geleentheid kry vir „preekproewe” soos in die geval van ’n aansoeker onder artikel 8 KO (kyk p. 44);
➢ van hierdie praktiese toetsing, sowel as van die aansoeker se leer en lewenswandel tydens die proeftyd, moet uitvoerig aan die klassis en die deputate van die partikuliere sinode getuienis gelewer word;
➢ is hierdie getuienis bevredigend, word die aansoeker beroepbaar gestel en onderteken hy die Ondertekeningsformulier vir Proponente.

Visser, J. (1999) Art. 10

|47|

Artikel 10

 

’n Bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, mag die kerk waaraan hy verbonde is, nie sonder bewilliging van die kerkraad met die diakens en toestemming van die klassis verlaat om op ’n ander plek ’n beroep op te volg nie; en geen ander kerk mag hom ontvang voordat hy van die kerk en die klassis wat hy gedien het, wettige getuienis van sy losmaking getoon het nie.

 

Losmaking.

In artikel 3 word bepaal dat niemand die diens van die Woord en Sakramente mag uitoefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie. Hierdie beroeping en toelating, onder verskillende omstandighede, word dan in artikels 4 tot 9 gereël.

Dit gaan dus in artikels 3 tot 9 om die ordelike toelating tot die diens van Woord en Sakramente.

Artikels 10 tot 14 reël nou die ordelike losmaking, onder verskillende omstandighede, uit die diens van Woord en Sakramente in die bepaalde kerk waar die bedienaar van die Woord bevestig is.

Artikel 10 reël die losmaking van ’n bedienaar van die Woord wat die kerk waar hy bevestig is, wil verlaat om „op ’n ander plek ’n beroep op te volg”.

Geen predikant het die reg om eiewillig en eensydig die kerk waaraan hy verbind is, in die steek te laat nie; die band tussen predikant en gemeente is immers bilateraal, dit wil sê wedersyds bindend van karakter.

Die Here mag dit wel só beskik dat hy na ’n ander kerk beroep word; maar dan moet hy op ’n ordelike en eervolle wyse losgemaak word van die kerk waar hy bevestig is.

 

Bewilliging van kerkraad met diakens.

Wanneer ’n predikant ’n beroep na ’n ander kerk ontvang, moet hy daarvan kennis gee aan die kerkraad en die gemeente, en voorbidding

|48|

vra by die oorweging van die beroep. Dit is ook wenslik dat hy die advies van kerkraad en diakens versoek. 

Indien hy, onder biddende opsien tot die Here, tot die oortuiging kom dat hy die beroep moet opvolg, moet hy eerstens die bewilliging van die kerkraad met die diakens, as verteenwoordigers van die gemeente, verkry voordat hy sy besluit aan die gemeente wat hom beroep het, bekend maak.

By die oorweging van ’n beroep moet die koninkryk van God, die opbou en totale belang van albei betrokke gemeentes, dié waaraan die predikant verbonde is sowel as dié wat beroep het, ernstig in aanmerking geneem word.

Indien die belang van die gemeente waar die predikant dien, dit vereis, of die predikant nog maar ’n kort rukkie in die gemeente arbei, mag die kerkraad en diakens besluit dat die beroep nie opgevolg moet word nie.

By so ’n besluit moet die predikant berus, of hy mag daarteen appelleer na die klassis.

Dit kan ook gebeur dat die predikant besluit om ’n beroep nie op te volg nie, maar dat die kerkraad en diakens oortuig is dat dit in belang van die gemeente sal wees indien die beroep wel opgevolg sou word. Dan het die kerkraad en diakens wel deeglik die reg om die predikant só te adviseer. Enige verstandige en regdenkende predikant sal dan ook so ’n advies baie ernstig oorweeg.

 

Toestemming van klassis.

Hierdie artikel bepaal dat ook die „toestemming van die klassis” verkry moet word voordat ’n predikant ’n beroep mag opvolg. Die klassis het immers, as vergadering van naburige kerke, belang by die moontlike vertrek van ’n predikant uit sy gebied. Indien daar byvoorbeeld alreeds te veel vakatures in gemeentes binne die ressort van die klassis is, mag toestemming vir opvolging van die beroep geweier word.

Vir hierdie toestemming hoef nie die hele klassis opgeroep te word nie; ’n classis contracta (kyk p. 33) kan hierdie taak verrig, onder voorsitterskap van die konsulent.

Hierdie vergadering kontroleer die volgende:

|49|

➢ die beroepsbrief;
➢ die besluit van die predikant;
➢ die bewilliging van kerkraad en diakens.

Dit is belangrik dat die afvaardigings van die naburige kerkrade selfstandig en objektief, onafhanklik van die kerkraad, tot ’n eie bevinding kom (kyk p. 292 e.v. vir funksionering van classis contracta).

 

Hoe die losmaking geskied.

Nadat die bewilliging van die kerkraad en diakens, asook die toestemming van die klassis verkry is vir opvolging van die beroep, word die predikant ordelik van sy verbintenis aan die betrokke kerk losgemaak.

Hierdie losmaking word deur die kerkraad en diakens, onder voorsitterskap van die konsulent en in teenwoordigheid van klassikale deputate (dus ’n classis contracta) verleen. (Hierdie classis contracta kan dieselfde wees as dié wat toestemming gegee het vir opvolging van die beroep; dit hoef egter nie noodwendig dieselfde te wees nie).

Hierdie vergadering kontroleer die volgende:
➢ die beroepsbrief;
➢ die besluit van die predikant;
➢ die bewilliging van kerkraad en diakens;
➢ die toestemming van die klassis;
➢ die getuienis van die kerkraad oor die predikant se leer, lewenswandel en ampsbediening.

 

Akte van losmaking.

Nadat alle dokumente en prosedures in orde bevind is, gee die classis contracta aan die predikant ’n amptelike akte van losmaking. ’n Konsep hiervan verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 559, 3.4.

Hierdie akte van losmaking behoort in duplikaat uitgemaak te word: een vir die kerkraad waar die predikant losgemaak word, en een vir die predikant om in te handig by die classis contracta waar hy bevestig sal word.

Die kerkraad van die gemeente waar die predikant losgemaak is, moet ook aan die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie

|50|

van die klassis waaruit die predikant vertrek, kennis gee van die losmaking.

Die kerkraad moet ook aan die predikant ’n getuienis ten opsigte van sy leer, lewe en ampsbediening gee.

Hierdie akte van losmaking en kerklike getuienis is noodsaaklik vir bevestiging in die gemeente waarheen die predikant beroep is (kyk art. 5 KO).

 

Antwoord op beroep.

Die predikant mag eers aan die kerk wat hom beroep het, kennis gee dat hy die beroep opvolg nadat hy die bewilliging van kerkraad en diakens en die toestemming van die klassis verkry het. Anders kan dit gebeur dat die predikant sy antwoord wat reeds gegee is, moet verander — indien óf die kerkraad en diakens óf die klassis sou besluit dat die beroep nie opgevolg moet word nie.

 

Kerklike verbintenis in die periode tussen losmaking en bevestiging.

Die vraag ontstaan wat sou die predikant en/of sy afhanklikes se posisie wees indien hy tussen losmaking en bevestiging genoodsaak sou word om te emeriteer (byvoorbeeld as gevolg van ’n motorongeluk), of indien hy vanweë een of ander oortreding getug moet word, of indien hy te sterwe sou kom. Watter kerk is dan verantwoordelik vir versorging of tugtoepassing?

In die konsepakte van losmaking word duidelik soos volg gestipuleer: „Hierdie losmaking sal geld vanaf die dag dat hy in die Gereformeerde Kerk ... bevestig is.”

Die predikant bly dus ampshalwe verbonde aan die kerk waaruit hy vertrek het totdat hy in die „nuwe kerk” bevestig is.

Dit is dus wenslik dat losmaking en bevestiging so gou moontlik op mekaar sal volg.

 

Beroep deur ’n kerk buite die verband van die GKSA?

Dit het in die verlede gebeur dat ’n Gereformeerde predikant beroep is deur ’n kerk (gemeente) buite die verband van die GKSA.

|51|

Wat staan ’n kerkraad dan te doen?

’n Situasie soos hierdie is uiters buitengewoon, indien nie totaal onordelik nie. Tog moet kerkrade weet wat om in so ’n geval te doen.

Ek meen dat daar by so ’n beroep nie sprake kan wees van normale optrede soos hierbo uiteengesit is, waar ’n predikant na ’n ander Gereformeerde kerk beroep word nie.

Indien ’n predikant ernstig sou oorweeg om so ’n beroep op te volg, sou die aangewese (en eerbare) weg wees dat hy eers sy lidmaatskap in daardie plaaslike Gereformeerde kerk moet beëindig.

Dit sou egter meebring dat die kerkraad sy amp op die ordelike wyse (kyk by art. 12 KO) vervalle moet verklaar.

So ’n „predikant” sou dus geen amptelike dokumentasie ontvang van ordelike losmaking, getuienis oor leer, lewe en ampsbediening, en so meer nie ... net so min as wat ’n lidmaat wat die gemeenskap met ’n Gereformeerde kerk opgesê het, ’n attestasie kan ontvang vir die kerk waar hy gaan aansluit. Die enigste wat hy wel sou kon ontvang, is ’n verklaring deur die kerkraad dat hy tot ’n sekere datum lidmaat en predikant was van daardie gemeente.

Visser, J. (1999) Art. 11

|52|

Artikel 11

 

Die kerkraad wat die kerk verteenwoordig, is verplig om sy bedienaars van die Woord met behoorlike onderhoud te versorg en mag hulle nie die onderhoud weerhou of hulle uit hulle diens ontslaan sonder kennis en goedkeuring van die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode nie.

 

Versorging van bedienaars van die Woord.

Predikante in die GKSA ontvang nie salaris nie, maar traktement. Traktement is voorsiening in lewensonderhoud; salaris is betaling vir dienste gelewer.

Daarom word traktement aan die begin van die maand, vooruit betaal.

Vir die bediening van Woord en Sakramente kan daar geen sprake wees van „betaling vir dienste gelewer” nie; hoe kan daar in elk geval ’n bedrag bepaal word as „betaling” vir die evangelie? Die Here het bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, van die evangelie moet lewe (I Korinthiërs 9:13, 14).

Daarom word in artikel 11 bepaal dat kerkrade verplig is om hul predikante „met behoorlike lewensonderhoud” te versorg.

(Die versorging van professore aan die Teologiese Skool word uiteengesit in die „Teologiese Skoolboekie”, verkrygbaar by die Registrateur).

 

Behoorlike lewensonderhoud.

Op die vraag wat behoorlike lewensonderhoud is, word verskillend geantwoord. Wat in geval A „behoorlik” is, kan in geval B te ruim wees, en in geval C te min.

Die maatstaf wat aangelê behoort te word, is die omstandighede van die betrokke predikant en sy huisgesin. Waar ’n kerkraad nie oor voldoende fondse beskik om sy predikant behoorlik te versorg nie, moet hulp van ander kerke gevra word — óf by wyse van aansoek om sustentasie

|53|

(kyk p. 54), óf by wyse van ’n versoek aan ’n naburige kerk wat finansieel in staat is om hulp te verleen.

Nooit mag daar egter van ’n predikant verwag word om deur middel van ’n onvoldoende traktement die gemeente „finansieel te steun” nie.

In artikel 11 word die woord „behoorlik” gebruik; in artikel 13 word ’n ander woord gebruik, wat egter net so sterk geld by artikel 11, al word dit nie hier gebruik nie, en dit is die woord „eervol”. Kerkrade, as verteenwoordigers van kerke, moet hul eer daarin stel om hul predikante behoorlik te versorg. Geen predikant, wat gedurig moet worstel om uitgawes en inkomste te laat klop, kan sy beste gee in die uitoefening van sy ampswerk nie!

 

Vergoeding van reisonkoste.

Hierdie „behoorlike onderhoud” sluit ook in die vergoeding van reisonkoste vir die uitoefening van ampswerk. Dit is altyd raadsaam vir ’n kerkraad om hier ’n objektiewe maatstaf te gebruik, wat deur kundiges opgestel word, soos byvoorbeeld die „Automobiel Assosiasie”.

Van ’n predikant kan sekerlik nie verwag word om op eie koste vervoer te voorsien vir die uitoefening van sy ampswerk nie.

 

Eie woning vir predikant.

’n Baie belangrike aspek van die „behoorlike onderhoud” is die voorsiening van ’n eie woning vir die predikant wanneer hy emeriteer. Dit is in baie gevalle vir emerituspredikante ’n yslike „kopseer”.

Opmerklik dat die Sinode van 1985 die saak in so ’n ernstige lig gesien het, dat hy twee besluite daaroor geneem het: hy het aan ’n beskrywingspunt hieroor gevolg gegee, en hy het op grond van ’n aanbeveling van die Deputate vir EPPW en W-versorging soos volg besluit: „Die Sinode adviseer dat dit uiters gewens is dat kerkrade predikante help sodat hulle by emeritering eie huisvesting besit. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur huistoelaes i.p.v. pastorieë aan predikante te voorsien” (Handelinge p. 734, 2.7.2.3.; kyk ook p. 526-531, art. 112).

 

Riglyn deur klassis.

In verskillende klassisse bestaan daar bepaalde riglyne vir die behoorlike versorging van predikante.

|54|

Baie kan seker ten gunste daarvan, sowel as daarteen gesê word.

Die Sinode van 1988 het byvoorbeeld nie aan ’n beskrywingspunt in hierdie verband, wat vergesel was van indringende studieresultate, gevolg gegee nie. Dit is egter jammer dat die Sinode geen motivering vir dié besluit gegee het nie. (Handelinge p. 778-788, art. 158).

Dit is begryplik dat ’n Sinode moeilik so ’n riglyn kan opstel, om die eenvoudige rede dat omstandighede van predikante en kerke in die ressort van die Sinode wyd uiteenlopend is.

In die geval van klassisse is dit egter meestal anders: dáár is omstandighede dikwels basies dieselfde, met inagneming van persoonlike omstandighede wat verskil. Daarom kan dit sinvol en dienlik wees indien ’n klassis so ’n riglyn opstel.

Nadruk moet egter op twee dinge gelê word:
➢ dit is slegs ’n riglyn, omdat geen klassis aan plaaslike kerke kan voorskryf watter versorgingsbedrae aan predikante gegee moet word nie;
➢ om so ’n riglyn bruikbaar te maak, moet dit jaarliks aangepas word.

 

Die taak van visitatore.

(Kyk p. 195, 196 e.v.)

Navraag oor die behoorlike versorging van predikante behoort ’n staande opdrag van visitatore in elke klassis te wees.

Artikel 44 KO bepaal immers dat die visitatore onder andere moet vasstel of „die Kerkorde in alles onderhou” word — dus ook artikel 11. En indien daar nalatigheid in hierdie opsig bevind word, moet die visitatore so ’n kerkraad „betyds broederlik ... vermaan” en met raad en daad reël dat die versorging aangepas word.

 

Sustentasie.

Die woord „sustentasie” beteken hulp, bystand, ondersteuning.

Verskillende meerdere vergaderings het hul eie sustentasiefondse waaruit hulp verleen word aan gemeentes wat dit benodig.

Hierdie hulp word aangevul uit die rente-opbrengs van die GKSA-Sustentasiefonds (die Fonds wat tot stand gekom het met die saamvoeging

|55|

van die voormalige Eeufeesbedienings- en Duvenagefondse (kyk Handelinge Sinode 1994, p. 318 e.v., punt 2.3; ook Handelinge Sinode 1997, p. 385, punt 3.3.1.2.) Vir hierdie Fonds is daar ’n bepaalde Reglement deur die Nasionale Sinode vasgestel waaraan voldoen moet word (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 385 e.v., punt 3.3).

Gemeentes wat finansieel nie in staat is om ’n predikant te onderhou nie, hetsy alleen of in kombinasie met ander gemeentes, doen op die voorgeskrewe wyse aansoek om sustentasie. Alle aansoeke moet in ooreenstemming wees met die bepalings van die betrokke meerdere vergadering. (Die bepalings van die onderskeie meerdere vergaderings is bekombaar by die korresponderende kerkrade/deputate vir korrespondensie, of by die deputate vir sustentasie van daardie meerdere vergadering).Voordat sustentasie toegestaan word, moet die meerdere vergaderings wat die aansoeke hanteer, vasstel of die lidmate van die gemeente(s) wat aansoek doen, wel na vermoë bydra. Slegs in gevalle waar dit duidelik is dat die gemeente(s) wat aansoek doen, werklik nie in staat is om finansieel die mas op te kom nie, ondanks nakoming van eie verantwoordelikheid, mag sustentasie toegestaan word.

 

„Tentmakerbediening.”

In die huidige finansiële krisisklimaat en as gevolg van die afname in die aantal belydende lidmate in baie gemeentes binne die verband van die GKSA, gebeur dit toenemend dat predikante nie ten volle deur gemeentes onderhou kan word nie. Soms is kombinasievorming prakties nie moontlik nie; die laaste aantal jare is die sustentasie-aansoeke ook aansienlik hoër as die beskikbare fondse.

Dit het gelei tot die sogenaamde „tentmakerbediening” — ’n situasie waar die predikant gedeeltelik in sy eie lewensonderhoud voorsien, deurdat hy deeltyds ’n bykomende beroep beoefen.

Die begrip „tentmakerbediening” is afgelei van Paulus se tentmakerambag in Korinthe, volgens Handelinge 18: 3 (vergelyk hier I Korinthiërs 9).

Oor die reg of verkeerd van hierdie praktyk en die fundering daarvan op die bogenoemde Skrifgegewens, gaan ek nie verder in nie.

|56|

Deurslaggewend-belangrik in hierdie situasie is dat die gemeente in geen enkele opsig skade mag ly nie! Die ideale en gesonde toestand is en bly steeds dat die predikant al sy tyd en aandag en kragte sal wy aan sy dienswerk in belang van die gemeente.

Nooit mag hierdie „tentmakerpraktyk” toegelaat word waar ’n predikant daarop uit is om geld te maak nie! ’n Predikant wat behoorlik versorg word, behoort nie toegelaat te word om ’n bykomende beroep op deeltydse basis te beoefen nie; die praktyk het immers bewys dat in sulke gevalle die gemeente onteenseglik skade ly en die predikant se roeping oplaas ernstig in gedrang kom.

 

Ontslag van ’n bedienaar van die Woord.

Hierdie tweede deel van artikel 11 klink by die eerste aanhoor uiters vreemd. Dienaars van die Woord is immers lewenslank aan die kerkdiens verbonde (kyk art. 12); daarom is dit vanselfsprekend dat hulle ook lewenslank deur die kerk versorg sal word.

In die Kerkorde van die Sinode van Dordrecht, 1618/19, is dit baie duidelik dat dit hier slegs gaan om ’n situasie waar die kerk sy predikant nie langer kan onderhou nie.

Dit kan gebeur dat ’n kerk onvoorsiens só agteruitgaan op finansiële gebied, dat hy sy predikant nie langer behoorlik kan onderhou nie — selfs nie met aansienlike hulp van buite nie. In so ’n geval moet die kerkraad die saak onder die aandag bring van die klassis wat dan daaroor moet oordeel, met advies van die deputate van die partikuliere sinode.

[Die woord „advies” het in die Kerkorde (kyk ook artt. 12, 13, 38 en 79) die betekenis van „goedkeuring” of „bewilliging”. Die implikasie hiervan is dus dat die „advies” van die deputate van die partikuliere sinode nie maar willekeurig aanvaar of ter syde gestel mag word nie; dit moet uitgevoer word. In geval van onbereikbare konsensus, moet die hele aangeleentheid verwys word na die volle partikuliere sinode om daaroor te besluit.]

Dit is belangrik dat die deputate van die partikuliere sinode selfstandig en objektief, onafhanklik van die klassis, tot ’n eie bevinding kom (kyk p. 296 e.v. vir funksionering in hierdie verband).

|57|

As die klassis en die deputate van die partikuliere sinode bevind dat daar genoegsame grond is dat die predikant van die betrokke kerk losgemaak („ontslaan”) moet word, word daar aan alle kerke in die kerkverband kennis gegee dat die kerkraad sy predikant nie langer behoorlik kan versorg nie en dat hy aanbeveel word met die oog op ’n beroep deur ’n ander kerk.

 

Keerdatum.

Hierdie situasie kan egter nie vir ’n onbepaalde tyd voortduur nie; daarom word ’n keerdatum bepaal waarop die „ontslag” in werking sal tree. Tot en met die keerdatum (of totdat die predikant in ’n ander kerk bevestig word) is hy nog onder die toesig van die kerkraad, en moet hy nog ten volle versorg word. Hierdie periode van versorging word soms „waggeld” genoem.

 

Geen beroep vóór keerdatum?

Wat gebeur indien die predikant nie vóór die keerdatum ’n beroep ontvang nie?

Onomwonde moet gestel word dat hy in so ’n geval beslis nie uit die amp afgesit mag word nie! Dit sou growwe regskrenking wees, aangesien hy nie ’n tugwaardige sonde begaan het nie.

Op p. 7 is die verhouding tussen die inwendige en die uitwendige roeping bespreek. Waar ’n predikant nou „ontslaan” word kragtens artikel 11, het daar ’n probleem ontstaan met betrekking tot sy uitwendige roeping, naamlik sy verbintenis aan ’n bepaalde plaaslike kerk. Indien hy dan geen beroep vóór die keerdatum ontvang nie, moet aanvaar word dat die Here dit só beskik het dat sy roeping as sodanig verval het en hy dus nie meer predikant mag wees nie. Dit moet gevolglik as ’n voldonge feit aanvaar word dat hy tot ’n ander staat van die lewe moet oorgaan (kyk by art. 12, bl. 59).

Dit spreek dus vanself dat enige besluit kragtens hierdie laaste gedeelte van artikel 11 met die grootste versigtigheid en deernis geneem moet word!

|58|

Ander oorsake as slegs versorging?

Hierdie bepaling in artikel 11 word soms ook toegepas wanneer ’n predikant nie meer met vrug en seën in ’n bepaalde kerk kan arbei nie, as gevolg van omstandighede wat nie tugstappe kragtens artikel 79/80 KO regverdig nie.

In sulke gevalle moet die klassis en deputate van die partikuliere sinode met die uiterste noulettendheid en versigtigheid besluit. Nooit mag hierdie deel van artikel 11 misbruik word bloot om van ’n predikant ontslae te raak nie.

Daar moet ook versigtig onderskei word tussen „ontslag” kragtens artikel 11 en „oorgaan tot ’n ander staat van die lewe” kragtens artikel 12. Wanneer ’n predikant se dienswerk in ’n gemeente onvrugbaar word omdat bepaalde ampsgawes by hom ontbreek, is dit nie ’n saak wat kragtens artikel 11 hanteer moet word nie, maar wel kragtens artikel 12.

Onder geen omstandighede mag hierdie artikel misbruik word omdat ’n kerkraad te slap is om die tug toe te pas nie!

Visser, J. (1999) Art. 12

|59|

Artikel 12

 

Omdat ’n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is, mag hy nie tot ’n ander staat van die lewe oorgaan nie, behalwe om gewigtige redes waaroor die kerkraad en die klassis moet oordeel met advies van die deputate van die partikuliere sinode.

 

Die bedoeling van hierdie artikel.

In die verlede is hierdie artikel misbruik om predikante, wat nie meer predikantswerk doen nie, tog nog die predikantsnaam en die predikantsamp te laat behou.

In die Gereformeerde kerkregering is daar egter geen plek vir sogenaamde „losloperpredikante” nie ... „predikante” wat nie meer predikantswerk doen nie, maar steeds die predikantsamp beklee. Byvoorbeeld: ’n predikant aanvaar ’n voltydse aanstelling as sekretaris van ’n kultuurorganisasie, maar behou nog steeds sy „status” as predikant.

Die Sinode van 1964 het in hierdie verband die volgende besluit geneem: Die diens wat die persoon doen, waartoe hy middellik deur God geroep en bevestig is, bepaal sy amp. Sodra hy daar buite tree, verval sy amp en hy word eervol losgemaak, indien sy verandering van lewenstaat deur die kerkraad en klassis, met advies van die deputate van die partikuliere sinode, as noodsaaklik beoordeel word. Die bedoeling in artikel 12 is om te bepaal hoe ’n bedienaar van die Woord onder uitsonderlike omstandighede sy amp eervol mag neerlê, en nie hoe hy dit kan behou nie (Handelinge 1964, p. 100).

 

Slegs om gewigtige redes.

Om vas te stel of die redes by ’n aansoek onder hierdie artikel wel „gewigtig” is, verg ernstige en versigtige oorweging deur die betrokke kerklike vergaderings. Elke geval moet volgens eie verdienste en omstandighede beoordeel word.

Dit kan byvoorbeeld gebeur dat ’n predikant ’n fisiese of psigiese gebrek opdoen wat hom onbekwaam maak vir predikantswerk, terwyl hy

|60|

tog nog in staat is om ander werk te verrig. (Hier sal met groot versigtigheid geoordeel moet word of so ’n predikant nie moet emeriteer nie). 

Daar kan ook ’n situasie ontstaan dat dit gedurende ’n predikant se dienswerk blyk dat sekere onmisbare ampsgawes by hom ontbreek. In so ’n geval behoort hy geadviseer te word om volgens hierdie artikel oor te gaan tot ’n ander staat van die lewe (kyk p. 5).

 

Mag ’n kerkraad sy predikant adviseer om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat?

Oor die vraag of ’n kerkraad sy predikant mag adviseer om, indien nodig, aansoek te doen om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat, bestaan daar geen eenstemmigheid nie. Volgens sommige mag die inisiatief in so ’n situasie nie van die kerkraad uitgaan nie, maar slegs van die predikant.

Dit is egter my oortuiging dat ’n kerkraad wel in voorkomende gevalle die inisiatief mag (en dalk moet) neem. Geen predikant kan objektief staan ten opsigte van sy eie bekwaamhede en gebreke nie. En wanneer die welsyn van die gemeente dit noodsaaklik maak, is dit die kerkraad se roeping en verantwoordelikheid om sy predikant te adviseer om kragtens hierdie artikel aansoek te doen om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat. So ’n advies mag egter slegs met groot versigtigheid en ná biddende oorweging gegee word. Die eer van God en die welsyn van die kerk mag tog nie opgeoffer word aan ’n predikant wat onbekwaam is en/of geen roepingsoortuiging meer het nie.

Weiering om hierdie advies op te volg, sou neerkom op oortreding van die vyfde gebod; volharding in hierdie weiering moet uiteindelik uitloop op afsetting uit die amp kragtens artikel 79 KO (kyk p. 5).

 

Beoordeling van die redes.

Die aanvanklike beoordeling van die redes om oor te gaan tot ’n ander staat van die lewe, berus nie by die predikant of die kerkraad alleen nie; daar moet gesamentlike oorweging wees, voordat die aansoek na die klassis deurgestuur word. Die predikant moet die kerkraad daarvan oortuig dat dit noodsaaklik is dat hy uit die bediening tree.

Finale beoordeling geskied deur die klassis, met advies van die deputate van die partikuliere sinode. (Ek wys weer op die belangrikheid daarvan

|61|

dat die deputate van die partikuliere sinode selfstandig en objektief, onafhanklik van die klassis, tot ’n eie bevinding moet kom. — Kyk in hierdie verband p. 56 en p. 296 e.v.).

Indien die klassis en die deputate van die partikuliere sinode oordeel dat die redes wel gewigtig is en besluit dat die aansoek slaag, is die persoon van daardie oomblik af nie meer predikant nie.

 

Eiewillige neerlegging van die amp.

Wanneer ’n predikant oorgaan tot ’n ander staat van die lewe sonder die bewilliging van sy kerkraad en/of die klassis met deputate van die partikuliere sinode, kom dit neer op eiewillige neerlegging van sy amp. Dit word ook genoem „bedank uit die amp”.

’n Predikant wat dus sy amp eiewillig neerlê of gemeenskap met die Kerk opsê, het sy amp laat verval. Die kerkraad sien toe dat hy geen verdere ampswerk verrig nie, verwys die saak na ’n classis contracta (kyk pp. 33 en 292) wat dit vir finale afhandeling na die volle klassis met deputate van die partikuliere sinode verwys (vir prosedure, kyk p. 300 e.v.).

Die Sinode van 1973 het besluit dat eiewillige neerlegging van die amp ’n eensydige beëindiging is van ’n verbintenis wat in sy wese tweesydig is; dit is verbreking van ’n kontrak. Eiewilligheid is sonde teen die tweede gebod (I Samuel 15: 23). Tog is eiewillige neerlegging van die amp nie strafbaar met skorsing en afsetting kragtens artikels 79/80 KO nie. Met eiewillige neerlegging van die amp het so ’n persoon self eensydig alle ampspligte afgelê en alle ampsregte prysgegee; vervulling van ampspligte en besit van ampsregte kan hom dus nie meer ontsê word deur middel van tughandeling nie. Hy kan slegs getug word kragtens artikels 76 en 77 KO. Maar eiewillige neerlegging van die amp mag nie afgehandel word deur bloot daarvan kennis te neem nie. Omdat die roeping van die kerk uitgaan, moet die kerk ook besluit dat die eiewillige daad die reg om die werk van ’n bedienaar van die Woord uit te oefen, beëindig het. Dit word volgens die ordelike weg in artikels 79 en 80 KO gedoen: voorlopig deur die kerkraad en finaal deur die klassis met deputate van die partikuliere sinode. (Handelinge Sinode 1973, p. 316 e.v.).

|62|

Dieselfde prosedure word gevolg wanneer ’n predikant gemeenskap met die Kerk opsê.

’n Predikant wat dus sy amp eiewillig neerlê of gemeenskap met die Kerk opsê, het sy amp laat verval. Die kerkraad sien toe dat hy geen verdere ampswerk verrig nie, en bring die saak onder aandag van die klassis met deputate van die partikuliere sinode. Hierdie vergadering beëindig dan die „proses” deur te verklaar dat so ’n persoon se amp verval het.

 

Terugkeer tot die bediening.

Die Kerkorde bepaal nie op watter wyse iemand wat kragtens artikel 12 oorgegaan het tot ’n ander staat van die lewe, weer tot die bediening kan terugkeer nie.

Na my mening moet daar onderskeid gemaak word tussen gevalle waar iemand eervol tot ’n ander lewenstaat oorgegaan het, en iemand wat eiewillig sy amp neergelê het.

Iemand wat sy amp eiewillig neergelê het, sal baie moeilik weer toegelaat kan word tot die bediening, aangesien hy die roeping geminag het deur sy eiewillige optrede en „kontrakbreuk” gepleeg het.

Ook in gevalle waar iemand eervol oorgegaan het tot ’n ander lewenstaat omdat hy ’n ander betrekking wou aanvaar, moet daar met groot versigtigheid gehandel word. So ’n persoon het tog duidelik ’n saak uitgemaak dat hy nie meer geroepe voel om bedienaar van Gods Woord te wees nie. God speel nie met die roeping nie. Die Skrif leer nêrens dat iemand nou geroepe is om predikant te wees, dan weer nie geroepe is nie, en later weer geroep word nie.

Die Sinode van 1973 (Handelinge p. 317/318, punt 3.2.2.) het bepaal dat iemand wat kragtens artikel 12 KO (en ook kragtens artt. 79/80) uit die amp is en weer beroepbaar gestel wil word, ooreenkomstig artikel 4 KO aansoek moet doen. Voordat hy sy aansoek indien, moet hy egter eers die oordeel en aanbeveling verkry van die kerk waar hy lidmaat is; daarná moet hy by die kerk en klassis waar hy uit die amp is, aansoek doen vir ’n aanbeveling. Eers dan kan hy sy aansoek indien by die partikuliere sinode in wie se ressort laasgenoemde kerk en klassis is.

|63|

Hierdie Sinode het egter ook besluit dat berou alleen (waar dit van toepassing is — J.V.) nie genoegsame grond is om weer beroepbaar gestel te word nie. By oorweging van ’n aansoek om beroepbaarstelling sal vasgestel moet word of die persoon weer met stigting in die kerk sal kan dien, en of hy die gawes van roepingstrou, selfverloëning en volharding besit. Indringende ondersoek moet ook ingestel word na die beweegredes tot die aansoek.

 

Nie ampsherstel nie, maar beroepbaarstelling.

Verkeerdelik word soms in gevalle soos hierbo gepraat van „ampsherstel”.

Van „ampsherstel” is daar slegs in twee gevalle sprake: wanneer ’n predikant wat tydelik geskors is, se skorsing opgehef word; wanneer ’n appèl teen ’n besluit tot afsetting by ’n meerdere vergadering geslaag het. Hierdie opheffing van skorsing is „ampsherstel”, omdat die persoon nie sy amp „verloor” het nie; hy is nie uit die amp afgesit nie. Wanneer ’n predikant geskors word, beteken dit dat hy verbied word om ampswerk te verrig; die uitoefening van ampswerk is hom tydelik ontneem; opheffing van skorsing beteken dat hy weer toegelaat word om ampswerk te verrig, dat hy weer in sy amp „herstel” word.1

Wanneer ’n predikant egter buite sy amp getree het of daaruit afgesit is, het hy sy amp „verloor”. Terugkeer tot die amp geskied nie by wyse van ampsherstel nie, maar slegs by wyse van beroepbaarstelling volgens art. 4 KO (kyk p. 36 e.v.).

 

Opsegging van kerklike gemeenskap.

Wanneer ’n predikant gemeenskap opsê met die kerk waarin hy bedienaar van die Woord is (was) terwyl hy nog in die amp is, is die praktiese effek daarvan presies dieselfde as wanneer hy eiewillig sy amp neergelê het. 

Die betrokke kerklike vergaderings moet dan ook optree soos in die geval van eiewillige neerlegging van die amp (kyk p. 61 e.v.).


1 En by handhawing van ’n appèl teen afsetting word „teruggekeer” na die situasie vóór die afsetting: die predikant word weer in sy amp „herstel”.

Visser, J. (1999) Art. 13/20

|64|

Artikels 13 en 20

 

Artikel 13.

As ’n bedienaar van die Woord, volgens oordeel van die kerkraad met goedkeuring van die klassis en advies van die deputate van die partikuliere sinode onbekwaam word vir die uitoefening van sy diens weens ouderdom, siekte of andersins, behou hy die eer en die naam van ’n bedienaar van die Woord en moet die kerk wat hy gedien het, hom in sy nooddruf eervol versorg.

Artikel 20.

By die afsterwe van ’n bedienaar van die Woord moet die kerk wat hy gedien het of in die geval van ’n professor aan die Teologiese Skool, die kerkverband, sy weduwee en wese eervol in hulle nooddruf versorg.

 

Aansoek om emeritering.

Wanneer ’n bedienaar van die Woord onbekwaam word om sy pligte te vervul, moet hy by sy kerkraad aansoek doen om te emeriteer.

Die kerkraad ondersoek die redes vir die aansoek (ouderdom, siekte of andersins) grondig en indringend; indien dit gegrond bevind word, lê die kerkraad die aansoek met ’n aanbeveling aan die klassis voor, wat saam met die deputate van die partikuliere sinode moet oordeel of emeritaat wel verleen kan word.

Die klassis en deputate van die partikuliere sinode moet vasstel of die kerkraad die aansoek behoorlik ondersoek het, en dan ondersoek instel na die redes vir die aansoek. Daarná moet hulle elkeen selfstandig en objektief, onafhanklik van mekaar, tot ’n eie bevinding kom (kyk p. 56 en p. 296 e.v. in hierdie verband).

In die geval van ’n teologiese professor, word die aansoek hanteer deur die Kuratorium.

 

Ouderdom.

Die eerste rede vir emeritering wat in artikel 13 genoem word, is ouderdom. Die vraag op watter ouderdom ’n predikant „onbekwaam”

|65|

word vir uitoefening van sy dienswerk, is relatief en sal verskil van persoon tot persoon. 

Die Sinode van 1961 (Handelinge p. 227, punt 3(e)) het die begrip „ouderdom” nader verklaar „as synde 65 jaar en ouer te wees”.

Die Sinode van 1997 (Handelinge p. 370, punt 4.1) het hierdie besluit egter soos volg gewysig: „Ouderdom in KO, artikel 13 word deur die Kerkraad, Klassis en Partikuliere Sinodedeputate bepaal op versoek van ’n predikant en kerkraad”.

Die Emeritaatsversorgingstrust en die Pensioenfonds gaan egter uit van die veronderstelling dat predikante normaalweg op ouderdom 65 emeriteer; daar is dus besliste finansiële implikasies ten opsigte van versorging indien ’n predikant vóór 65 emeriteer (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 370). Die betrokke Deputate kan besonderhede in elke geval voorsien.

Indien ’n predikant, aan die „verkeerde” kant van 65 jaar, wil voortgaan met sy aktiewe dienswerk, moet hy homself objektief daarvan vergewis (sover objektiwiteit hier moontlik is) of hy nog die gesondheid en kragte het om sy dienswerk voort te sit tot eer van die Here, tot welsyn van die kerk en tot uitbreiding van Gods koninkryk; hy moet ook sekerheid hê of die gemeente hom nog langer as predikant begeer, en hy moet oortuig wees dat hy nie in die pad staan van proponente wat wag op ’n beroep nie.

In die geval van ’n professor aan die Teologiese Skool, is daar bepaalde faktore wat dit verpligtend maak om op ouderdom 65 jaar te emeriteer, onder andere die Ooreenkoms tussen die GKSA en die PU vir CHO, en die finansiële posisie van die kerke in die verband van die GKSA. (Volgens die Ooreenkoms wat tans van krag is, betaal die GKSA en die PU vir CHO elkeen 50% van die traktement van slegs 9 professore; indien daar meer as 9 professore by die Teologiese Skool benodig word, moet die GKSA die bykomende aantal 100% versorg).

 

Siekte.

Soms gebeur dit dat ’n predikant se gesondheid só verswak, dat hy nie meer in staat is om sy dienswerk te verrig nie, en gevolglik genoodsaak word om sy emeritaat aan te vra.

|66|

Deurdat die Sinode van 1994 (Handelinge p. 245, punt 9.2.1.3.) besluit het om die bestaande Emeritaatsfonds te sluit en ’n eie pensioenfonds vir predikante van die GKSA in die lewe te roep, rus daar ’n baie swaar verantwoordelikheid op kerkrade, klassisse en deputate van partikuliere sinodes om absoluut seker te maak dat aansoeke van predikante wat vóór ouderdom 65 jaar weens swak gesondheid verplig word om te emeriteer, vergesel word van deurslaggewende mediese getuienis deur minstens twee mediese spesialiste waarin duidelik verklaar word dat hy onbekwaam geword het om sy dienswerk voort te sit (kyk ook Handelinge Sinode 1997, p. 218 e.v.).

Die dringendheid van wat hierbo gesê is, word veroorsaak deurdat predikante wat lede is van die Pensioenfonds, by ’n groepversekeringskema ingeskakel is wat dekking bied in geval van onbekwaamheid. Indien die Maatskappy by wie dié risiko verseker is, nie oortuig is van so ’n predikant se onbekwaamheid nie, kan hy weier om enige ongeskiktheidseis en/of pensioen uit te betaal. Dit is begryplik dat in so ’n situasie ’n kerkraad en gemeente en predikant in ’n toestand gedompel word wat katastrofale gevolge kan hê!

Daarom is dit wenslik en aanbevelenswaardig dat kerkrade in so ’n geval eers (nog voordat so ’n aansoek na die klassis deurgestuur word) afskrifte van die mediese sertifikate aan die Trustees van die Pensioenfonds voorlê vir uitklaring by die betrokke Versekeraar.

Hierdie sekerheid wat van die Versekeraar verkry word, onthef kerkraad en klassis en deputate van die partikuliere sinode hoegenaamd nie van hul eie verantwoordelikheid om selfstandig oor so ’n aansoek te oordeel nie.

Dit is ook wenslik dat die kerkraad op gereelde tye mediese verslae oor die predikant se gesondheidstoestand ontvang ten einde op hoogte te bly van die predikant se onbekwaamheid. Indien die predikant só herstel het dat hy weer voltyds dienswerk kan hervat, moet hy op die ordelike wyse aansoek doen vir opheffing van sy emeritaat (kyk p. 72 e.v.).

 

„Andersins”.

Hierdie begrip in artikel 13 is vir wye interpretasie vatbaar. Hoewel hier nie ’n katalogus opgestel kan word van watter omstandighede hieronder verstaan kan word nie, moet dit tog duidelik wees dat dit onder

|67|

artikel 13 tuishoort en nie byvoorbeeld onder artikels 12 of selfs 79/80 behandel moet word nie.

„Andersins” in hierdie artikel bedoel ander gevalle wat onbekwaamheid kan veroorsaak, anders as ouderdom en siekte, byvoorbeeld verswakking van geestesvermoëns, gebreke, of gevolge van ongelukke. Elke geval sal volgens eie omstandighede beoordeel moet word.

 

Praktiese effek van emeritering.

’n Predikant wat geëmeriteer het, is nie ontslaan uit die diens nie; sy amp is hom nie ontneem nie; hy is slegs onthef van sy verpligtinge. Hy behou die eer en die naam van ’n bedienaar van die Woord.

Alhoewel hy dus vrygestel is van verpligtinge om dienswerk te verrig, behou hy nog die bevoegdheid om dienswerk te verrig; indien hy daartoe versoek word en sy gesondheid en kragte dit toelaat, kan hy nog optree met Woord- en Sakramentsbediening, leiding van kerkraadsvergaderings as voorsitter, en selfs pastorale werk.

Die emerituspredikant mag egter nie aanspraak maak om bepaalde funksies in die kerk waar hy geëmeriteer het, te verrig nie, soos byvoorbeeld om kerkraadsvergaderings by te woon, as voorsitter op te tree, te preek, en so meer. In hierdie verband is die besluit van Sinode 1967 (Handelinge p. 60, punt 3) belangrik: „Geen kerk het egter die reg om op sulke dienste van sy emerituspredikant aanspraak te maak nie, al word hy deur die kerk versorg, net so min as wat die geëmeriteerde spesiale ampsvoorregte besit waarvolgens hy kan eis om sulke dienste te verrig.” ’n Emerituspredikant ontvang nog die eer wat ’n bedienaar van die Woord toekom, en hy is geregtig op eervolle versorging deur die kerkraad.

Dit is ook belangrik om te stel dat ’n emerituspredikant steeds verbonde bly aan die kerk waar hy geëmeriteer het, selfs al sou hy hom elders gaan vestig.

 

Hulpdiens deur emeritus.

Soms gebeur dit dat ’n emeritus (predikant of professor) deur ’n gemeente gevra word om vir ’n korter of langer tydperk hulpdiens te lewer.

|68|

Uit die aard van die saak is so iets slegs moontlik indien die gesondheid en die kragte van so ’n emeritus dit toelaat.

In so ’n geval moet die bewilliging van die kerkraad/kuratorium wat emeritaat verleen het, verkry word, aangesien ’n emeritus „ampshalwe” steeds verbonde bly aan die kerk/Teologiese Skool waar hy geëmeriteer het.

Indien bewilliging verkry is, moet daar ’n bedieningsooreenkoms tussen die kerkraad waar hulpdiens gelewer gaan word en die betrokke emeritus opgestel word; hierdie bedieningsooreenkoms moet goedgekeur word deur die kerkraad/kuratorium wat emeritaat verleen het.’n Konsep van so ’n bedieningsooreenkoms word as Bylae „A2” agter in hierdie boek voorsien.

 

Prosedure by emeritering.

Nadat die aansoek tot emeritering deur kerkraad, klassis en deputate van die partikuliere sinode goedgekeur is, ontvang die predikant sy emeritaat op ’n ordelike wyse van die kerkraad, onder voorsitterskap van die konsulent in teenwoordigheid van deputate van 2 naburige kerke (kyk p. 33, 34, en 49). Vereiste dokumente is die oorspronklike aansoek van die predikant, en die besluite van kerkraad en klassis met deputate van die partikuliere sinode.

Aan die geëmeriteerde predikant word ’n akte van emeritering gegee, onderteken deur die konsulent/voorsitter, die skriba en die deputate van die naburige kerkrade. Hierdie akte moet in drievoud voltooi word: een vir die emeritus en een elk vir die kerkraad en die klassis. ’n Konsepakte verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 560, punt 3.5. Kyk hierby ook Handelinge Sinode 1994, p. 489, punt 22.12.

Die kerkraad moet aan die Trustees van die Pensioenfonds (per adres die Administratiewe Buro van die GKSA) kennis gee van die emeritering, met die oog op uitkering van pensioenvoordele. In die geval van predikante (en professore) wat nog gedeeltelike versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust (die voormalige Emeritaatsfonds, kyk Handelinge Sinode 1997, o.a. p. 277 e.v.) ontvang, moet ook kennis gegee word aan die Deputate vir Emeritaatsversorging, by dieselfde adres.

|69|

Predikante wat beroep word as professore aan die Teologiese Skool, skakel normaalweg in by die personeelpensioenfonds van die PU vir CHO, waarheen pensioenvoordele wat reeds verwerf is by die pensioenfonds vir predikante, oorgedra word.

 

Wyse van versorging.

Soos reeds op bladsy 65 e.v. aangetoon is, het die Sinode van 1994 die Emeritaatsfonds gesluit en ’n pensioenfonds vir predikante van die GKSA in die lewe geroep.

Hierdie Sinode het besluit dat slegs predikante wat per lederegister tot 30 Junie 1994 kragtens beroepsbrief geregtig was op versorging uit die Emeritaatsfonds, ook ná 1 Julie 1994 geregtig is op versorging daaruit vir diensjare vóór 1994 (Handelinge p. 245, punt 9.2.1.3.). (Vir lederegister, kyk Handelinge Sinode 1997, p. 224 e.v.).

Volgens besluit van hierdie Sinode word verwag dat alle predikante moet inskakel by die Pensioenfonds.

Vanaf 1 Julie 1994 is die situasie dus só dat predikante wat toe alreeds in die bediening was, met emeritering hul pensioenvoordele wat reeds verwerf is, ontvang; hierdie pensioenvoordele sal egter nie toereikend wees vir volledige eervolle versorging nie, aangesien hierdie predikante nie vir hul volle bedieningstyd lede was van die Pensioenfonds nie; hulle is kragtens beroepsbrief geregtig op aanvullende versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust vir diensjare vóór 1994; die versorgingsbedrag in elke geval word deur die Deputate volgens ’n bepaalde formule vasgestel.

Versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust sal dus met verloop van tyd ten volle uitgefaseer word, sodat uiteindelik die volledige versorging uit die Pensioenfonds sal geskied.

Om te verseker dat die versorging uit die Pensioenfonds met emeritering (en by vroeë onbekwaamheid of afsterwe), toereikend sal wees, sal elke kerkraad met groot verantwoordelikheid en erns moet toesien dat die pensioengewende traktement (hierná genoem PGT) wat by die Trustees van die Pensioenfonds vir sy predikant opgegee word, voldoende is. Die PGT is dié traktement waarvolgens bepaal word wat die uiteindelike pensioen van die predikant by emeritering sal wees;

|70|

hiervolgens word egter ook bepaal watter bedrae uitbetaal sal word by vroeë onbekwaamheid of afsterwe. Dit is dus begryplik dat hoe hoër die PGT, hoe beter die uiteindelike pensioen-, ongeskiktheids- en sterftevoordele. Hierdie PGT sal, as gevolg van inflasie en veranderde omstandighede by die predikant en sy gesin, op ’n jaarlikse basis hersien en aangepas moet word.

Volgens die PGT word die ledegeld van die Pensioenfonds bepaal. Ledegeld van ’n pensioenfonds is gewoonlik 20% van die PGT; dit word normaalweg soos volg verdeel: 12.5% deur die werkgewer (in hierdie geval die kerkraad) en 7.5% deur die lid (in hierdie geval die predikant).

Van hierdie ledegeld word ’n sekere deel aangewend as premie vir ’n groepassuransiepolis, waarin die risiko's van vroeë onbekwaamheid en afsterwe verseker word.

In die praktyk het dit in sommige gevalle gebeur dat kerkrade ’n lae PGT by die Trustees opgee, om sodoende te bespaar deur ’n laer ledegeld.

Hierdie praktyk is absoluut dwaas!

Wat sulke kerkrade blykbaar nie begryp en besef nie, is dat hierdie manier van „besparing” in werklikheid geweldig „duur” is; oplaas sal dit vir die predikant en sy gesin (en by vroeë afsterwe vir sy weduwee en wese) slegs rampspoed meebring, in die vorm van ontoereikende versorgingsmiddele!

Ook vir die kerkraad self skuil in hierdie „besparingsmetode” ’n baie groot gevaar. Want die feit dat predikante lede is van ’n pensioenfonds, onthef die kerkraad nooit van sy roeping en verantwoordelikheid volgens artikels 13 en 20 nie! As die pensioen- of ongeskiktheids- en sterftevoordele ontoereikend is, is en bly dit, kragtens artikels 13 en 20, die roeping en verantwoordelikheid van die kerkraad om sy emerituspredikant en gesin, asook sy predikantsweduwee en -wese, eervol te versorg.

En hulp uit die Emeritaatsversorgingstrust is in sulke gevalle totaal buite die kwessie, kragtens die Sinodebesluit van 1994 (kyk p. 65, 68 e.v. asook hierbo).

|71|

Kerkrade wat só probeer „bespaar”, openbaar ’n groot gebrek aan kundigheid, insig, roepingsbesef en verantwoordelikheid!

 

Pensioenvoordele ontoereikend?

Dit mag in bepaalde gevalle gebeur dat, hoewel die PGT aanvanklik voldoende versorging moontlik gemaak het, die predikant se omstandighede só kan verander ná sy emeritering (of dié van sy weduwee ná sy afsterwe), dat die pensioenvoordele nie meer voldoende is nie.

Dan is dit, kragtens artikels 13 en 20, die kerkraad se roeping en verantwoordelikheid om bykomende voorsiening te maak vir toereikende versorging.

Hierdie bykomende versorging — of dit in die vorm is van kontant, huisvesting of op watter ander wyse dan ook — is ’n verpligting wat die kerkraad op homself geneem het en wat hy enduit moet eerbiedig.

Die opmerking is al gemaak dat so ’n bykomende versorging nie ’n blywende verpligting op die kerkraad plaas nie, aangesien dit slegs pro amico (ter wille van vriendskap) onderneem is.

As hierdie uitgangspunt korrek sou wees, word so ’n emerituspredikant aan gevaarlike en benouende willekeur prysgegee!

Kragtens artikel 13 is die kerkraad verplig om so ’n onderneming gestand te doen (behalwe as die bykomende versorging uitdruklik as ’n tydelike pro amico-reëling gestipuleer is).

 

By afsterwe van predikant.

Wanneer ’n predikant te sterwe kom, moet die kerkraad onverwyld daarvan kennis gee aan die Trustees van die Pensioenfonds, sodat uitbetaling van die sterftevoordele nie onnodig vertraag word nie. Hierdie kennisgewing moet ook gedoen word in gevalle waar die predikant nog geregtig was op gedeeltelike versorging uit die Emeritaatsversorgingstrust, aangesien die risiko's in alle gevalle van vroeë onbekwaamheid en afsterwe verseker is deur middel van die groepassuransiepolis.

Aandag moet ook daarop gevestig word dat die weduwee van ’n predikant vir hoogstens 6 maande die volle reg het op die gebruik van die pastorie en/of toelaes soos wat van toepassing was vir huisvesting van die predikant (Sinode 1997, Handelinge p. 247, 7.2).

|72|

Deurlopende skakeling van kerkraad met emeritus/weduwee.

Wanneer ’n emerituspredikant of ’n predikantsweduwee uit die kerk verhuis waar die predikant geëmeriteer of te sterwe gekom het, is dit van wesenlike belang dat die kerkraad deurlopend in verbinding sal bly met die emeritus/weduwee, om sodoende op hoogte te bly van die omstandighede.

Want al vertrek ’n emeritus of weduwee met attestasie na ’n ander gemeente, bly dit kragtens artikels 13 en 20 steeds die verantwoordelikheid van die kerkraad waar die emeritus/afgestorwene gedien het, om die emeritus/weduwee en wese eervol te versorg.

 

Vertrek uit kerk waar geëmeriteer het.

Dit gebeur dikwels dat ’n emerituspredikant ná emeritering met attestasie uit die kerk waar hy geëmeriteer het, verhuis na ’n ander kerk.

In so ’n geval bly hy nog steeds „ampshalwe” verbind aan die kerk waar hy geëmeriteer het. Die kerk waarheen hy verhuis, ontvang hom en sy gesin wel as lidmate; maar as predikant (sover dit versorging, ampsbevoegdheid en eventuele tug oor hom as predikant betref) bly hy verbind aan die kerk wat hom beroep en waar hy geëmeriteer het. Indien daar dus ’n tugsaak teen hom as ampsdraer ontstaan, moet die kerkraad waar hy lidmaat is, die saak oorgee aan die kerkraad wat emeritaat verleen het.

Dit beteken dus dat die kerkraad wat emeritaat verleen het, die tug ooreenkomstig artikels 79/80 KO toepas, en die kerkraad van die kerk waar hy woon, die tug ooreenkomstig artikels 76-78 KO toepas (kyk Handelinge Sinode 1970, p. 428, punt B).

 

Opheffing van emeritaat.

Wanneer ’n predikant, wat weens swak gesondheid genoodsaak was om vroeg te emeriteer, weer sodanig herstel het dat hy tot die voltydse bediening kan terugkeer, moet hy op die ordelike wyse daarvoor aansoek doen.

Eerstens moet hy skriftelik by die kerkraad wat emeritaat verleen het, aansoek doen om opheffing van sy emeritaat. Ter ondersteuning van sy

|73|

aansoek moet hy minstens 2 mediese sertifikate inhandig (verkieslik deur dieselfde spesialiste wat met sy aansoek om emeritering gesertifiseer het dat hy onbekwaam was tot voortgesette dienswerk); hierin moet ondubbelsinnig verklaar word dat sy gesondheid só verbeter het, dat sy emeritaat opgehef kan word.

Die kerkraad moet hierdie aansoek en stawende mediese getuienis indringend ondersoek, sodat daar absolute duidelikheid bestaan voordat ’n besluit geneem word.

Indien daar nie voldoende duidelikheid bestaan nie (ondanks die mediese getuienis), moet die kerkraad nie toestem tot opheffing van emeritaat nie. Want wanneer ’n predikant vir ’n tweede keer weens siekte vroeg moet emeriteer, is dit ’n dubbel traumatiese ervaring! Die aansoek moet dan liewer tot ’n later datum uitgestel word, of heeltemal afgewys word.

As daar ’n moontlikheid bestaan dat in geval van onsekerheid die emeritus êrens in ’n gemeente hulpdiens kan verrig om te toets of hy weer voltyds na die bediening kan terugkeer, moet so ’n moontlikheid op die proef gestel word.

Om so ’n „toets” sinvol te maak, moet dit na my mening soos volg geskied:
➢ dit moet vir minstens ’n jaar duur, indien die predikant se gesondheid dit toelaat;
➢ die predikant moet heeltyds werk, dit wil sê hy moet ten volle alles doen wat ’n predikant normaalweg doen;
➢ die predikant moet ten volle eerlik wees in so ’n situasie; daarmee bedoel ek dat hy nie moet probeer voorgee dat hy in staat is om weer voltyds bedieningswerk te doen, terwyl hy ervaar dat dit eintlik nie moontlik is nie;
➢ indien hierdie „toets” gedoen word in ’n ander kerk as dié waar die predikant geëmeriteer het, moet daar ’n bedieningsooreenkoms opgestel word met instemming en goedkeuring van albei betrokke kerkrade (kyk Bylae „A1”).

Wanneer dit vir die kerkraad wat die aansoek moet oorweeg, wel duidelik is dat die emeritus se gesondheid só verbeter het dat sy emeritaat opgehef kan word, stuur hy die aansoek en stawende getuienis, met

|74|

’n aanbeveling, na die klassis en deputate van die partikuliere sinode, wat ’n finale besluit neem. Dit is egter belangrik om te benadruk dat die klassis en deputate van die partikuliere sinode selfstandig ’n eie indringende ondersoek moet doen voordat finaal besluit word.

Ná opheffing van die emeritaat moet die kerkraad wat aanvanklik emeritaat verleen het, aan die kerke in kerkverband daarvan kennis gee, met die oog op ’n beroep. Ook moet kennis gegee word aan die Trustees van die Pensioenfonds, om die praktiese implikasies van die opheffing van emeritaat te hanteer; in die geval van ’n predikant wat ten volle of gedeeltelik versorg is uit die Emeritaatsversorgingstrust, moet met dieselfde doel ook kennis gegee word aan die Deputate vir Emeritaatsversorging.

Die effek van opheffing van emeritaat is naamlik dat die betrokke predikant onmiddellik weer voltydse diensdoende predikant is van die gemeente waar hy geëmeriteer het. As dié gemeente op daardie stadium vakant is, behoort daar geen probleem te wees nie. As dié gemeente egter ’n diensdoende predikant het, ontstaan daar ’n praktiese probleem.

Wie is in hierdie geval vir sy versorging verantwoordelik?

Na my mening moet daar onderskei word tussen die „status” en die versorging van so ’n predikant. Sy „status” het nou verander van emerituspredikant na diensdoende predikant. Sy versorging skep egter ’n probleem, aangesien dit vir meeste kerke finansieel onmoontlik sal wees om twee predikante gelyktydig eervol te versorg. En die predikant wie se emeritaat opgehef is, mag immers nie onversorg gelaat word nie — selfs nie vir slegs een maand nie!

Sy pensioen en/of emeritaatstraktement (waar van toepassing) sal dus nie onmiddellik gestaak mag word nie. Daar sal ’n tydsduur bepaal moet word waarbinne die predikant ’n beroep moet ontvang. So ’n tydsduur moet om verstaanbare redes nie te kort wees nie.

Dit kan egter ook nie onbepaald voortduur nie.

Indien die predikant nie binne die bepaalde tyd ’n beroep ontvang nie, mag hy nie maar bloot, deur ’n besluit van kerklike vergaderings, „terug geplaas” word na die „staat” van emeritus nie.

|75|

Ek is van oortuiging dat daar in so ’n geval slegs één weg oopstaan, hoe ongelukkig dit ook al mag wees: hierdie predikant moet op ’n ordelike wyse „ontslaan” word kragtens artikel 11 KO (kyk hier die besluit van die Sinode van 1997, Handelinge p. 248, 8.4.3. en p. 262, 3.7.4.3.).

Wanneer so ’n predikant wel ’n beroep ontvang, word die gewone prosedure kragtens artikel 10 KO gevolg.

Visser, J. (1999) Art. 14

|76|

Artikel 14

 

’n Bedienaar van die Woord wat weens siekte of om enige ander rede sy diens ’n tyd lank moet onderbreek, wat nie sonder bewilliging van die kerkraad en advies van die klassis mag gebeur nie, bly steeds onderworpe aan die beroeping van daardie kerk.

 

Onderbreking van diens vir ’n tyd lank.

Daar kan omstandighede ontstaan wat dit vir ’n predikant noodsaaklik maak om sy diens vir ’n tyd lank te onderbreek.

Die Sinode van 1967 het bepaal dat in hierdie artikel vier beginsels gestel word:
➢ die onderbreking moet noodsaaklik wees;
➢ die onderbreking moet vir ’n bepaalde tyd wees; wanneer daar permanente of onbepaald-tydelike onvermoë is, word volgens artikel 13 KO gehandel;
➢ die onderbreking moet deur die kerkraad bewillig word met advies van die klassis;
➢ die verbintenis tussen die predikant en die kerk moet ongeskonde bly, en die predikant mag deur die kerkraad selfs vóór verstryking van die bepaalde tyd teruggeroep word; dit sluit dus die oorgaan tot ’n ander staat van lewe uit, aangesien dit onder artikel 12 KO gereël word; sodra die onderbreking eindig, gaan die predikant weer met volle ampsbediening voort net soos vóór die onderbreking (Handelinge p. 60, punt 4).

 

Redes vir tydelike diensonderbreking.

Die redes vir tydelike onderbreking van diens word in die artikel aangedui as „siekte of enige ander rede”. Kerkrade en klassisse sal dus met groot versigtigheid en onderskeiding aansoeke onder hierdie artikel moet oorweeg.

 

Siekte.

In hierdie artikel gaan dit nie om gevalle waar ’n predikant vir ’n kort periode nie kan werk nie, as gevolg van ’n kortstondige siekte, ’n

|77|

operasie wat ondergaan moet word, en so meer; dit word deur die kerkraad in oorleg met die predikant self gereël.

In artikel 14 gaan dit oor buitengewone gevalle van siekte wat langer onderbreking van diens noodsaaklik maak.

Dit sal egter duidelik moet wees dat die siektetoestand nie permanente onbekwaamheid tot gevolg het nie; dan hoort dit tuis onder artikel 13. Voorbeelde van siekte wat tydelike onbekwaamheid veroorsaak, is byvoorbeeld wanneer ’n predikant liggaamlik en/of geestelik só afgetakel en uitgeput raak dat hy, op mediese advies, sy diens vir ’n jaar of selfs langer moet onderbreek om weer te herstel. Of die predikant kan in een of ander ongeluk beland waardeur hy só beseer is, dat hy vir ’n tyd lank nie sy diens kan voortsit nie.

Dit is ook nie noodwendig dat ’n aansoek onder hierdie artikel slegs deur die predikant gedoen mag word nie; daar kan situasies ontstaan waar ’n kerkraad sy predikant moet verplig om sy diens ’n tyd lank te onderbreek, ten einde sy gesondheid en kragte geleentheid tot herstel te gee.

 

Ander redes.

Soos hierbo gesê is, sal kerkrade en klassisse met groot versigtigheid en onderskeiding aansoeke onder hierdie artikel moet oorweeg, veral as die tydelike onderbreking van diens nie weens siekte is nie.

’n Beginsel wat in sulke gevalle streng gehandhaaf moet word, is dié dat die werk wat ’n persoon doen, sy amp kwalifiseer (Sinode 1964, Handelinge p. 100). As die tydelike onderbreking van diens sou meebring dat die predikant werk gaan doen (selfs al is dit slegs tydelik) wat nie met hierdie beginsel versoenbaar is nie, moet daar ten minste ’n saak uitgemaak kan word dat hierdie werk noodsaaklikerwys slegs deur ’n predikant gedoen kan word. Die taak wat die onderbreking noodsaak, moet van ernstige aard wees, terwyl die bydrae wat die predikant in hierdie verband kan lewer, duidelik aangetoon moet word.

Daar moet altyd onthou word dat die roeping tot Woordbediening voorop staan; dit mag nie sommer ligtelik op die agtergrond gedwing word nie, selfs nie eers vir ’n tyd lank nie.

Voorbeelde van hierdie kategorie is:

|78|

➢ Bybelvertaling;
➢ onderrig aan die PU vir CHO in die voorbereidende vakke vir die opleiding van voornemende predikante, solank geen ander geskikte persoon beskikbaar is nie (Sinode 1976, Handelinge p. 91/92, punt 14.2.1., 14.2.2. Kyk ook Handelinge Sinode 1982, p. 487 e.v., art. 126; veral p. 493, punt 4.2.2).
➢ tydelike hulpdiens met die opleiding van voornemende predikante aan die Teologiese Skool;
➢ noodsaaklike studieverlof; (die kerke het goed toegeruste broeders nodig wat as professore beroep kan word vir die opleiding van voornemende bedienaars van die Woord; indien daar in een of meer vakke ’n tekort aan bekwame kandidate met nagraadse kwalifikasies is, kan die noodsaaklikheid van studie vir hierdie doel aangetoon word).
➢ besondere kerklike of burgerlike opdragte wat binnelands of buitelands verrig moet word.

 

Prosedure.

Die prosedure wat gevolg moet word vir toestemming tot tydelike onderbreking van diens, is soos volg:
➢ die aansoek moet skriftelik en goed gemotiveerd aan die kerkraad (of, in geval van ’n professor aan die Teologiese Skool, aan die Kuratorium) gerig word; as dit vanweë siekte is, moet deurslaggewende mediese getuienis ter stawing van die aansoek ingedien word;
➢ onder leiding van die konsulent oorweeg die kerkraad die aansoek ernstig en indringend; indien die kerkraad van mening is dat verlof tot tydelike diensonderbreking toegestaan moet word, win hy die advies van die klassis hieroor in (in spoedeisende gevalle sal dit dalk nie moontlik wees om die volle klassis hiervoor byeen te kry nie; dan kan ’n classis contracta (kyk p. 33) opgeroep word);
➢ die tydsduur van die diensonderbreking moet vasgestel word; indien dit nie sekuur bepaal kan word nie, moet die kerkraad van tyd tot tyd voorsien word van verslae wat hom op hoogte hou van hoe lank die onderbreking nog sal duur;
➢ reëlings vir behartiging van dienswerk gedurende die diensonderbreking moet getref word;

|79|

➢ die predikant se posisie by sy terugkeer ná sy diensonderbreking moet noukeurig beskrywe word.

Hier moet opgemerk word dat ’n predikant geen reg het om teen die oordeel van sy kerkraad en/of die advies van die klassis in te gaan nie; so ’n eiewillige optrede sou neerkom op trouelose verlating van diens, strafbaar met skorsing en/of afsetting volgens artikels 79/80 KO.

 

Praktiese effek van tydelike diensonderbreking.

Die praktiese effek van verlof tot tydelike diensonderbreking volgens hierdie artikel is soos volg:
➢ soos op p. 76 aangetoon is, moet die verbintenis tussen die predikant en die kerk ongeskonde bly; vir die duur van die tydelike onderbreking van diens bly hy dus predikant van daardie bepaalde kerk (hy „bly steeds onderworpe aan die beroeping van daardie kerk”); dit hou in dat daar geen sprake is van enige losmaking nie; die kerkraad mag hom selfs ook vóór verstryking van die bepaalde tyd terugroep (alhoewel dit slegs in hoogs uitsonderlike gevalle sal gebeur);
➢ as gevolg van wat hierbo gesê is, spreek dit vanself dat die predikant, veral in geval van siekte, geregtig is op volle versorging kragtens artikel 11 KO; indien finansiële probleme ontstaan vir die vergoeding van plaasvervangende dienswerk, moet sustentasie aangevra word (kyk p. 54); in gevalle waar tydelike diens gelewer word vir Bybelvertaling, opleiding van voornemende predikante en so meer, kan redelikerwys van die betrokke instansies verwag word om óf finansieel by te dra vir plaasvervangende dienswerk, óf die predikant self te vergoed vir gelewerde diens; sodoende word die kerkraad vir die duur van die diensonderbreking gesteun in die nakoming van sy versorgingsplig kragtens artikel 11 KO;
➢ omdat die verbintenis tussen die predikant en die kerk ongeskonde bly, spreek dit vanself dat die kerkraad in geen opsig die predikant se reg mag krenk deur sy versorging te weerhou of hom ná verstryking van die diensonderbreking volgens artikel 11 KO te ontslaan of hom volgens artikel 12 KO te forseer om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat nie — selfs nie as daar reeds ’n ander predikant in die gemeente dien nie.

|80|

Indien die kerkraad probleme ondervind om albei predikante te versorg, moet daar hulp verkry word deur middel van sustentasie (kyk p. 54).

In die lig van alles wat by hierdie artikel gesê is, is dit duidelik dat implementering hiervan slegs in uitsonderlike gevalle moet plaasvind en met die mees omsigtige beoordeling.

Visser, J. (1999) Art. 15

|81|

Artikel 15

 

Geen bedienaar van die Woord mag in ’n ander kerk die Woord of sakramente bedien sonder bewilliging van die kerkraad van daardie kerk nie, en niemand wat die diens van sy kerk onderbreek of nie in vaste diens staan nie, mag hier en daar gaan preek sonder die toestemming van die klassis of ’n partikuliere sinode nie.

 

Bediening van Woord en sakramente in ’n ander kerk. 

Artikel 15 moet gelees word in samehang met artikel 3 (wettige beroeping en toelating noodsaaklik vir Woord- en sakramentsbediening), asook artikel 7 (’n predikant moet op ’n bepaalde plek gevestig wees, tensy hy gestuur word om elders kerke te vergader).

Hierdie twee artikels impliseer egter nie dat ’n beroepe en bevestigde predikant in geen ander kerk as dié waarin hy bevestig is, mag preek nie.

Kerke wat met mekaar een is in belydenis, liturgie en kerkregering erken ook die toelating, beroeping en bevestiging van mekaar se predikante; dit hou onder andere in dat die predikant van Gereformeerde Kerk A ook in Gereformeerde Kerke B en C die Woord en sakramente mag bedien, indien hy daartoe uitgenooi word.

Dit moet egter ordelik gereël word.

 

Bewilliging van kerkraad.

Die kerkraad (ouderlinge — art. 37) het die roeping om te waak oor die bediening van Woord en sakramente; die besluit oor wie toegelaat word op die preekstoel, berus uitsluitlik by die kerkraad; ander kerke, selfs in meerdere vergaderings, kan hom nie daarin voorskryf nie.

Voordat ’n ander predikant dus toegelaat word om die Woord en sakramente in ’n bepaalde kerk te bedien, moet die plaaslike kerkraad eers daartoe instem.

|82|

Dit geld ook in die geval van die sogenaamde ruildienste, en ook wanneer ’n predikant ’n besoekende kollega sou vra om sy diensbeurt waar te neem.

 

Predikante nie in vaste diens nie.

Hierdie artikel bepaal verder dat ’n predikant wat die diens van sy kerk onderbreek of nie in vaste diens staan nie, toestemming van die klassis of ’n partikuliere sinode moet verkry voordat hy „hier en daar” gaan preek.

In die verband van die artikel kan die woorde „hier en daar” kwalik anders verklaar word as plekke waar nog geen kerkraad ingestel is nie; daarom die bepaling dat in so ’n geval „die toestemming van die klassis of ’n partikuliere sinode” verkry moet word (en nie „die bewilliging van die kerkraad van daardie kerk”, soos in die eerste deel van hierdie artikel nie).

’n Predikant wat „die diens van sy kerk onderbreek” slaan terug na artikel 14; dit kan ook predikante insluit wat kragtens artikel 11 losgemaak is en wag op ’n beroep (’n predikant wat dus „op waggeld” is — kyk p. 57).’n Predikant wat „nie in vaste diens staan nie”, dui op ’n predikant wat geëmeriteer is, wat dus wel aan ’n plaaslike kerk verbind is, maar onthef is van verpligte diens.

Visser, J. (1999) Art. 16

|83|

Artikel 16

 

Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente, en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

 

Die „praktiese toepassing” van hierdie artikel behoort nie veel probleme op te lewer nie, aangesien die inhoud bekend en vanselfsprekend is; daarom vestig ek slegs die aandag op ’n paar dinge.

 

Ampsomskrywing.

Die woord „amp” in hierdie artikel bedoel nie ’n soort waardigheid of eer of status wat die predikant sou beklee nie; dit bedoel gewoon sy diens, sy taak en plig. „Amp” en „diens” is immers presies dieselfde (kyk p. 3).

In hierdie artikel word nie ’n soort „posomskrywing” van die predikantsamp gegee, waarin al sy ampspligte noukeurig aangedui en bepaal word nie. Die Kerkorde is immers geen reglement nie; dit gee slegs die breë lyne.

Niemand kan dus beweer dat ’n predikant byvoorbeeld nie nodig het om huisbesoek te doen (ook by siekes en bejaardes) en katkisasie te gee, bloot omdat artikel 16 nie daarvan melding maak nie.

Benewens die beroepsbrief, waarin al hierdie dinge gestipuleer word, moet in ag geneem word dat huisbesoek en katkisasie in wese ook Woordbediening is!

Hiermee saam moet in gedagte gehou word dat ’n predikant, volgens die Woord van die Here, ook ouderling is (kyk I Timótheüs 5: 17); en in artikel 23, waar oor die amp van die ouderlinge gehandel word, staan uitdruklik dat die ouderling ook huisbesoek moet doen.

|84|

Predikante as huweliksbevestigers.

In Suid-Afrika tree predikante ook op as huweliksbevestigers vir die staat.

Hulle moet egter daarvoor registreer.

Voordat hulle egter deur die staat as huweliksbevestigers aangestel kan word, moet hulle eers bewys lewer dat hulle op hoogte is met alle wetgewing in hierdie verband.

Volle besonderhede hieroor kan van die Administratiewe Buro van die GKSA verkry word.

 

Die predikant as liturg.

Die predikant as die bedienaar van die Woord is in die erediens die voorganger (liturg).

In sy optrede as voorganger is hy gebonde aan die vasgestelde orde in die erediens.

Die Sinodes van 1985 (Handelinge p. 398 e.v.) en 1997 (Handelinge p. 731 e.v.) het bepaalde besluite in hierdie verband geneem; die aandag moet daarop gevestig word dat hierdie besluite, kragtens artikel 31 KO, "vas en bindend" is (behalwe waar Sinode 1997 besluite van Sinode 1985 verander het, of waar die Sinodes uitdruklik besluit het dat een of ander onderdeel aan die vryheid van die plaaslike kerke oorgelaat word).

As voorbeelde van laasgenoemde kan die volgende dien: Sinode 1985, Handelinge p. 417, punt 3.7.4.1; Sinode 1997, Handelinge p. 755, punt 8.3.2.

Die besluite van genoemde Sinodes laat wel op bepaalde punte aan die liturg ’n mate van vryheid; verder kan ’n bepaalde (eenmalige) situasie noodsaak dat die liturg van die vasgestelde orde moet afwyk; geen predikant het egter die reg om die liturgiese orde, wat deur ’n sinode vasgestel is, eiewillig te verander en só die eenheid in diens tussen kerke in kerkverband te versteur nie; en geen kerkraad mag so iets toelaat nie.

|85|

Hulpdienste vir die predikant. 

Met katkisasie.

Wanneer ’n predikant weens omstandighede nie self alle kategetiese onderrig kan behartig nie, moet noodwendig van hulpkragte gebruik gemaak word.

Daar moet egter toegesien word dat slegs bekwame en goed toegeruste hulpkragte gebruik word.

Met leesdienste

Wanneer die predikant nie beskikbaar is nie, weens siekte of verlof, en wanneer ’n gemeente vakant is, word ’n aantal geskikte broeders aangewys om leesdienste waar te neem; sulke broeders hoef nie kerkraadslede te wees nie.

By die aanwysing van sulke broeders moet gekyk word na diegene wat ’n leesdiens tot die meeste stigting van die gemeente kan waarneem.

So ’n leesdiens is ’n hulpdiens vir die diens van die Woord. Die leser is dan die instrument of die „mond” van dié predikant wie se preek voorgedra word. Die leser mag egter nie die preek wat hy voorlees, willekeurig verander nie; ook mag hy nie self ’n „preek” probeer maak nie.

Die Sinode van 1961 (Handelinge p. 449 e.v., Artikel 150) het besluit dat in ’n leesdiens die votum aan die begin wel uitgespreek mag word, terwyl aan die einde nie ’n seën uitgespreek mag word nie, maar wel ’n seënbede afgebid moet word.

Uit die aard van die saak mag in ’n leesdiens geen doop- of nagmaalsbediening plaasvind nie, aangesien slegs ’n dienende predikant die bevoegdheid het om die sakramente te bedien.

’n Leesdiens mag egter van die preekstoel af gelei word; ’n preekstoel is nie ’n heilige plek wat uitsluitlik deur ’n predikant betree mag word nie; dit is slegs ’n „platform” waar die gemeente die voorganger goed kan sien en hoor. Die Sinode van 1955 (Handelinge p. 334, punt d (3)) het hieroor besluit dat geen beginsel hier in gedrang is nie; daarom word dit aan die vryheid van elke kerkraad oorgelaat om te besluit of die leser die leesdiens vanaf die kansel sal lei.

|86|

Geen ampsgewaad.

In kerke binne die verband van die GKSA word geen „ampsgewaad” voorgeskryf nie ... eenvoudig omdat die Skrif so iets in die Nuwe-Testamentiese kerke nie ken nie.

 

Predikant voltyds in diens.

By die aantekeninge op p. 55 oor die sogenaamde „tentmakerbediening”, moet bygevoeg word dat die bediening (as dit getrou en met toewyding uitgeoefen word) al ’n predikant se tyd en kragte opeis. Oorvloedige voorbeelde kan voorgelê word waar gemeentes benadeel is omdat predikante te besig is met sake wat niks met hul dienswerk te doen het nie.

Om twee maal op ’n Sondag Gods Woord te bedien, verg intensiewe studie en voorbereiding wat baie tyd in beslag neem. Predikante wat sommer op ’n Saterdag twee „preke” aanmekaar timmer of uit hul mou uitskud, is nie werd om „bedienaar van Gods Woord” genoem te word nie! Hulle is die oorsaak dat die kudde van die Opperherder geestelik verhonger, en hulle sal eenmaal daarvan rekenskap moet gee!

 

Die regeeramp van die predikant.

Hierdie artikel maak in drieërlei sin melding van die predikant se regeeramp:
➢ hy moet goed ag gee op sy medebroeders (as daar meer as een predikant in die gemeente is), op die ouderlinge, diakens en die gemeente;
➢ hy moet saam met die ouderlinge die kerklike tug toepas;
➢ hy moet sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

Hieruit is dit duidelik dat die predikant, wat saam met die ouderlinge verantwoordelik is vir die regering in die kerk, in hierdie opsig tog ’n baie belangrike plek in die gemeente inneem en ’n baie verantwoordelike diens het om te verrig.

Dit beteken egter nie dat hy bokant die ouderlinge en diakens staan nie (kyk p. 4).

’n Predikant wat hom verbeel dat hy so groot en so belangrik is, dat hy ’n onaantasbare figuur is en dat hy sy wil oral en op almal kan afdruk,

|87|

sal beslis groot ongelukke maak in sy bediening; hy sal met so ’n houding die gemeente nie regeer nie, maar onderdruk; nie bou nie, maar afbreek!

Om sy regeeramp tot eer van God en tot opbou van die gemeente uit te oefen, moet die predikant wel beslis wees, maar nie oorheersend nie; hy moet wel ’n leier wees, maar nie ’n tiran nie; hy moet wel „die sweep kan laat klap”, maar altyd in liefde.

Visser, J. (1999) Art. 17

|88|

Artikel 17

 

Waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan ’n kerk verbonde is, moet in hulle dienspligte sowel as in die ander opsigte volgens die oordeel van die kerkraad en, indien nodig, van die klassis, soveel moontlik gelykheid bestaan. Dit moet ook in die geval van die ouderlinge en die diakens onderhou word.

 

Artikel 17 en Artikel 84.

Artikel 84 bepaal dat geen kerk oor ander kerke en geen ampsdraer oor ander ampsdraers enige heerskappy mag voer nie.

In albei hierdie artikels word die Roomse hiërargie (heerskappy van hoëre ampte oor laeres) by die wortel afgesny.

In reaksie teen hierdie Roomse hiërargiese sisteem was die kerke van die Reformasie van die begin af sterk gekant teen enige vorm van heerskappyvoering deur mense in die kerk. Vergelyk hier ook artikels 37, 41 (dat een predikant nie ten koste van ander in die kerkraad of meerdere vergaderings as voorsitter mag optree nie), en artikel 35 (dat die voorsitter in meerdere vergaderings se amp ophou as die vergadering beëindig is).

Die Kerkorde ken dus nie so iets as ’n tydelik-permanente moderator, of ’n „leierouderling” en „leierdiaken” in die GKSA nie.

Dit is egter moontlik dat daar ongelykheid tussen ampsdraers is, sonder dat daar hiërargie is.

 

„Gelykheid” in hierdie artikel.

Die artikel praat van ’n situasie waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan ’n kerk (lees: gemeente) verbonde is. In so ’n geval moet daar, sover moontlik, gelykheid wees in dienspligte sowel as in ander opsigte.

Elke ampsdraer is in diens van Christus; almal is dus gelyk in diens, met dieselfde verpligtinge en dieselfde regte.

|89|

Elke predikant moet dieselfde diens lewer as die ander, oor die hele veld van die dienswerk; preekbeurte, katkisasie, huisbesoek, siekebesoek en so meer moet eweredig verdeel word. ’n Predikant mag byvoorbeeld nie beroep word om net te preek of net siekebesoek te doen of net katkisasie waar te neem nie; elke predikant moet betrokke wees in al die dele van die dienswerk. Slegs in uitsonderlike gevalle, soos wanneer ’n predikant se vermoëns só afgeneem het dat hy nie meer die volle las kan dra nie, maar nog nie só onbekwaam geword het dat hy moet emeriteer nie, kan hy van sekere ampspligte vrygestel word.

Soms is dit moeilik vir ’n kerkraad om die werkverdeling presies só te doen dat aan die beginsel van hierdie artikel voldoen word; daar is byvoorbeeld in ’n gemeente ’n tehuis vir bejaardes, ’n jeugsentrum en ’n aantal skoolkoshuise; indien die gelyke werkverdeling só gedoen word dat elke predikant dieselfde aantal wyke het, kan ’n situasie ontstaan dat die een predikant meestal met bejaarde-bearbeiding besig is (wat somtyds baie veeleisend kan wees as gevolg van siektes en sterfgevalle), terwyl die ander predikant grootliks met kinders en jongmense te doen het.

(Dit gebeur soms dat ’n gemeente ’n emerituspredikant of -professor se dienste verkry vir byvoorbeeld hospitaalbesoek of die behartiging van ’n kinder- of bejaardetehuis wat binne die grense van die gemeente geleë is; so ’n reëling val buite die bepalings van art. 17).

Wat geld vir predikante, geld ook vir ouderlinge en diakens; gelykheid bestaan nie altyd in dieselfde aantal besoekpunte per wyk nie; ’n uitgestrekte plaaswyk met 4 besoekpunte verg meer tyd en kragte as ’n dorpswyk met 8 besoekpunte.

Dit mag ook nodig wees dat aan ’n bejaarde ouderling (of ’n ouderling/ diaken wat skriba of kassier is) ’n wyk toegeken word wat kleiner is as dié van ander ouderlinge/diakens. Daarom bepaal artikel 17 dat hierdie sake gereël moet word volgens die oordeel van die kerkraad; en waar die kerkraad dit nie alleen kan doen nie, moet die oordeel van die klassis ingewin word.

|90|

’n Situasie wat nie aan die beginsel in hierdie artikel reg laat geskied nie, is wanneer ’n ouderling of diaken slegs in die amp dien as skriba of kassier, en geen lidmate het om te bearbei nie.

 

Gelyke versorging.

Die beginsel van gelykheid in artikel 17 geld vanselfsprekend ook ten opsigte van traktement, behuising, vergoeding van reisonkoste, verlof en pensioenvoordele.

„Gelykheid” in hierdie artikel beteken egter nie „eendersheid” nie.

Byvoorbeeld: predikant A het nog geen kinders nie, terwyl predikant B vier kinders het; dit spreek dus vanself dat predikant B se traktement hoër sal wees as dié van predikant A, omdat sy lewenskoste (met vier kinders) hoër is as dié van predikant A (kyk op p. 52 vir die verskil tussen traktement en salaris).

Visser, J. (1999) Art. 18

|91|

Artikel 18

 

Die dienspligte van die professore aan die Teologiese Skool is om bedienaars van die Woord op te lei, die Heilige Skrif uit te lê en die suiwere leer teen die ketterye en dwalinge te verdedig.

 

Wie mag beroep word as professor aan die Teologiese Skool?

By artikel 2 is daarop gewys dat die diens van professor aan die Teologiese Skool slegs ’n toegespitste diens van bedienaar van die Woord is, gegrond op II Timótheüs 2: 2 (kyk p. 3).

Die uiteensetting van die dienspligte van die professore hier in artikel 18 maak dit des te duideliker dat ’n professor aan die Teologiese Skool niks anders is nie as ’n bedienaar van die Woord met ’n spesiale opdrag, naamlik die opleiding van bedienaars van die Woord.

Daarom is dit logies dat ’n professor aan die Teologiese Skool slegs uit die diensdoende predikante van die plaaslike kerke binne kerkverband beroep word (Sinode 1973, Handelinge p. 315, punt 2.2.2.1). „Kerkverband” sluit ook buitelandse kerke in met wie die GKSA korrespondensie onderhou (kyk p. 18), soos in die „Teologiese skoolboekie” geformuleer word.

 

Prosedure by beroep.

Die prosedure by die beroep van ’n professor aan die Teologiese Skool word volledig uiteengesit in die „Teologiese skoolboekie”, verkrygbaar by die Registrateur van die Teologiese Skool. Aangesien die professore aan die Teologiese Skool ook professore aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO is, is daar sekere bepalings ten opsigte van die beroep opgeneem in die „Ooreenkoms tussen die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys met betrekking tot die Opleiding van teologiese studente aan die Teologiese Skool Potchefstroom.” Die huidige Ooreenkoms is opgeneem in die Handelinge van die Sinode van 1994, p. 656 e.v.

|92|

Die beroep geskied deur al die kerke in kerkverband deur middel van hul afgevaardigdes, die Breë Kuratorium (Sinode 1973, Handelinge p. 315, punt 2.2.2.2; Sinode 1994, Handelinge p. 650, punt 3.2).

Nadat die beroep aanvaar is, word die predikant volgens artikel 10 KO losgemaak van sy kerk en ontvang ’n akte van losmaking (kyk p. 34, en 49) (Sinode 1991, Handelinge p. 730, punt 2.1.4).

 

Toesig en tug oor professore.

Wat hul dienswerk betref, is die professore gelyklik verbonde aan al die plaaslike kerke in die kerkverband (GKSA) (Sinode 1973, Handelinge p. 315, punt 2.2.1.3). Daarom hou al die kerke gesamentlik toesig oor die dienswerk van die professore deur middel van die Kuratorium.

Ten opsigte van die dienswerk van die professore, het die Sinode van 1991 besluit dat die Breë Kuratorium verantwoordelik is vir die tug ooreenkomstig artikels 79 en 80 KO; dieselfde Sinode het ook die prosedure vir hierdie tug vasgestel. Die kerkraad waar die professor lidmaat is, is verantwoordelik vir die toesig oor sy leer en lewe en vir die tug ooreenkomstig artikels 76 en 77 KO. Wanneer ’n professor op uitnodiging die Woord bedien in een of ander plaaslike Gereformeerde kerk, geskied dit onder toesig van die plaaslike kerkraad (Handelinge p. 729 e.v., punt 2.1).

 

Die dienspligte van die professore.

Die eerste plig van die professore is „om bedienaars van die Woord op te lei”. Hierdie opleiding geskied volgens die leerplanne en kursusse wat deur die Sinodes en Kuratoriums vasgestel word.

’n Belangrike en fundamentele deel van hierdie opleiding is die uitleg van die Heilige Skrif; prediking is die hart van enige predikant se bediening, en daarom is die opleiding in die uitleg van Gods Woord ’n kardinale en onmisbare deel in die toerusting van voornemende bedienaars van die Woord.

Hierdie „uitleg van die Heilige Skrif” as deel van die professore se diensplig is egter nie beperk tot die lesingkamer nie, maar dit moet ook die kerke in kerkverband ten goede kom; veral deur middel van publikasies kan baie bereik word.

|93|

Dit geld ook van die derde „diensplig” in hierdie artikel: die verdediging van die suiwere leer teen ketterye en dwalinge. In die opleiding van voornemende predikante is dit van groot betekenis; maar terselfdertyd moet die lidmate van die plaaslike kerke ook in hierdie verband toegerus word deur middel van publikasies.

 

Die Kuratorium.

Die Kuratorium is die „liggaam” wat namens die kerke in kerkverband toesig hou oor alle aspekte van die werksaamhede aan die Teologiese Skool.

Elke partikuliere sinode benoem 2 lede elk (met secundi) van die Kuratorium en die Breë Kuratorium vir ’n termyn van 3 jaar. Hierdie benoeming vind plaas op die sitting van die partikuliere sinodes direk vóór die driejaarlikse byeenkoms van die nasionale sinode. Wanneer ’n kurator uit die ressort van die partikuliere sinode wat hom benoem het, verhuis, bly hy aan as kurator totdat die eersvolgende partikuliere sinode iemand in sy plek benoem. Hy kan egter ook versoek dat ’n secundus in sy plek opgeroep word tot met die eersvolgende partikuliere sinode.

Die Sinode van 1991 het omvattende besluite geneem oor die samestelling, die wese en die verantwoordelikhede van die Kuratorium (Handelinge p. 494 e.v., punt 22.7; kyk ook Handelinge Sinode 1994, p. 650, punt 3.2).

Besonderhede oor die Kuratorium is vervat in die „Teologiese skoolboekie”, verkrygbaar by die Registrateur van die Teologiese Skool.

Visser, J. (1999) Art. 19

|94|

Artikel 19

 

Die kerke moet soveel nodig sorg dat daar studente in die Teologie is wat deur hulle ondersteun word.

 

Voldoende aantal predikante.

Dit is vir die kerke in kerkverband van wesenlike belang dat daar genoeg predikante is vir die bediening van Gods Woord. ’n Tekort aan predikante is om begryplike redes nadelig vir die geestelike groei van die lidmate, terwyl dit ’n bykomende las lê op die dienende predikante.

Vandaar hierdie bepaling dat die kerke moet sorg dat daar genoeg studente in die Teologie is.

In hierdie opsig speel die getroue verbondsonderrig deur verbondsouers en die kategetiese onderrig deur die predikante ’n baie belangrike rol. Begaafde jongmanne moet ook aangemoedig word om hulle vir die diens van die Woord te laat oplei aan die Teologiese Skool.

Vanselfsprekend word hier slegs bedoel jongmanne wat inwendig geroepe voel tot die bediening van die Woord (kyk p. 7).

 

Ondersteuning van studente.

Die kerke het ook die verantwoordelikheid om teologiese studente finansieel te ondersteun; 7 jaar studie verg tans in die omgewing van R110 000 — ’n som geld wat min mense kan bybring.

Daarom het die kerke beursfondse in die lewe geroep, waarvan die „Kas vir Teologiese Studente” die belangrikste is; plaaslike kerke dra tot hierdie Beursfonds by deur middel van eredienskollektes. Hulp uit hierdie Fonds word deur die Beursekomitee van die Kuratorium volgens ’n vasgestelde Reglement hanteer. Besonderhede kan verkry word van die Registrateur van die Teologiese Skool.

Verder is daar die moontlikheid om lenings te bekom van die Administratiewe Buro van die GKSA in Potchefstroom. Besonderhede kan verkry word van die Direkteur van die Administratiewe Buro.

|95|

Dit gebeur ook dat studente finansieel gehelp word deur individuele lidmate en/of individuele kerkrade/diakonieë wat finansieel daartoe in staat is. Belangrik in so ’n situasie is dat daar oorleg moet plaasvind, sodat enkele studente nie te veel finansiële steun ontvang ten koste van ander nie.

 

Toelating tot teologiese studie.

Voordat ’n voornemende student toegelaat word tot die voorbereidende en teologiese studie, moet hy aan bepaalde vereistes beantwoord; besonderhede hiervan is verkrygbaar by die Registrateur van die Teologiese Skool. Aansoek moet gedoen word op die voorgeskrewe aansoekvorm; verder word daar ’n vertroulike verslag van die voornemende student se predikant verwag, bepaalde getuigskrifte, ’n mediese verslag en ’n staat van die jongste eksamenuitslae.

Die voorbereidende (propedeutiese) studie vir die BA-graad aan die PU vir CHO duur normaalweg 3 jaar; daarna gaan die student na die Teologiese Skool vir die vierjarige teologiese studie (ThB- graad).

Keuring tot die voorbereidende en teologiese studie is baie streng.

Voornemende studente in hul matriekjaar, sowel as studente in hul finale voorbereidende (BA) studiejaar, moet onder andere psigometriese toetse aan die PU vir CHO ondergaan; ook word met almal in hul matriekjaar sowel as in hul finale BA-jaar indringende individuele onderhoude gevoer deur die Toelatingskommissie van die Kuratorium oor onder andere die uitslae van die psigometriese toetse, die beweegredes tot die teologiese studie, die inwendige roeping, die persoonlike geloofslewe, en so meer.

Eers daarná word ’n finale besluit oor toelating tot/voortsetting van studie geneem.

Gedurende die hele studietydperk hou die Kuratorium en die dosente toesig oor die student se vordering, sy leefwyse asook sy bekwaamheid en geskiktheid om later as predikant toegelaat te word.

Visser, J. (1999) Art. 21

|96|

Artikel 21

 

Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied.

 

Kerk en skool.

Kerk en skool is elk selfstandig op eie terrein.

Op sigself is hierdie stelling korrek.

Ongelukkig word hierdie stelling egter dikwels misbruik deur op grond van artikel 30 KO te beweer dat „skoolsake” nie in kerkraadsvergaderings tuishoort nie, aangesien dit nie ’n „kerklike saak” volgens artikel 30 KO is nie.

Hierdie stelling kan misleidend wees.

As daarmee bedoel word dat kerkrade nie mag inmeng in skoolsake nie, is dit korrek; hierdie artikel impliseer immers gladnie dat kerkrade direkte inspraak in skoolsake en toesig oor skole behoort te hê nie.

As daarmee egter bedoel word dat kerkrade niks te doen het met die skoolonderrig van die verbondsjeug nie, is dit verkeerd. Dan word artikels 21 en 30 KO op ’n gevaarlike manier teen mekaar uitgespeel.

In hierdie artikel word juis bepaal dat kerkrade ’n verantwoordelikheid het ten opsigte van skoolsake: hulle moet toesien dat ouers hul roeping nakom ten opsigte van die skoolonderrig aan hul kinders.

By die doop van elke verbondskindjie word daar beloof dat dié kindjie in die Gereformeerde leer opgevoed sal word.

Die nakoming van hierdie belofte is egter nie afgehandel met die verbondsonderrig deur die ouers en die amptelike kategetiese onderrig in die kerk nie; dit strek ook uit oor die onderrig wat die verbondskind op skool ontvang: verbondsouers het die verantwoordelikheid om te sorg dat die onderrig wat hul verbondskinders op skool ontvang, „in die vrees van die Here” sal geskied.

En kerkrade moet toesien dat dit wel gebeur.

|97|

Derhalwe het kerkrade ’n besliste taak en verantwoordelikheid ten opsigte van wat in die skole aan verbondskinders geleer word.

Hierdie artikel reël dus nie toesig van kerkrade oor skole nie, maar oor verbondsouers, ten opsigte van die skoolonderrig aan hul verbondskinders.

 

Christelike onderwys in ’n onchristelike staat.

Onder die huidige onchristelike ANC-regering in Suid-Afrika word dit vandag vir verbondsouers by die dag moeiliker en moeiliker om hul doopbelofte ten opsigte van die skoolonderrig aan hul kinders na te kom. In die staatskole mag geen godsdiens bevoordeel word bó ander nie; die sogenaamde „godsdiensvryheid” het ontaard in godsdiensgelykheid!

Daarom het die verantwoordelikheid van kerkrade volgens hierdie artikel dubbelgroot geword.

Dit is ’n bekende feit dat ouers min belangstelling toon in dié dinge wat op skool aan hulle kinders geleer word; baie ouers is ook glad nie betrokke by verkiesing van bestuursrade nie, terwyl hul bywoning van oueraande veel te wense oorlaat.

Aan hierdie sake sal kerkrade indringend aandag moet gee, veral in die nuwe (ANC) onderwysbedeling. Die toepassing van artikel 21 KO is vandag van baie aktuele betekenis en intens belangrik!

 

Kerkskole?

Op sigself is die bedoeling van artikel 21 nie dat kerke self skole moet oprig en bestuur nie.

In buitengewone omstandighede mag dit egter nodig wees dat kerke self skole oprig, in stand hou en bestuur; soms mag dit selfs die plig van kerke word, veral wanneer die onderrig in die staatskole onchristelik en selfs antichristelik word.

Visser, J. (1999) Art. 22/24

|98|

Artikels 22 en 24

 

Artikel 22.

Die ouderlinge word deur die gemeente onder die leiding van die kerkraad verkies volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. By hierdie reëling staan dit elke kerkraad vry om vooraf aan die gemeentelede geleentheid te gee om die aandag op geskikte persone te vestig, en om saam met die diakens vir die verkiesing die nodige aantal ouderlinge aan die gemeente vir approbasie voor te dra of om tweetalle of ’n dubbele getal te stel waaruit die gemeente die nodige aantal kies. Die verkose broeders word, nadat hulle name verskillende male afgekondig is, en geen wettige beswaar ingekom het nie, bevestig volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 24. 

Wat gebruiklik is in die geval van die ouderlinge, moet ook onderhou word by die verkiesing, goedkeuring en bevestiging van die diakens.

 

Verkiesing deur die gemeente.

’n Belangrike beginsel in hierdie artikels is dat die verkiesing van ouderlinge en diakens by die gemeente berus, onder leiding van die kerkraad.

 

Wie mag deelneem aan die verkiesing?

Op die vraag wie mag deelneem aan die verkiesing van ouderlinge en diakens, is die antwoord: alle manlike en vroulike belydende lidmate wat nie onder sensuur is nie (kyk p. 27).

 

Wie is verkiesbaar? 

In die GKSA is slegs manlike belydende lidmate verkiesbaar tot die ampte van ouderling en diaken. (Die vraag oor toelating van vroue-lidmate tot die besondere ampte is op p. 11 e.v. behandel).

|99|

Die Bybel stel egter bepaalde vereistes waaraan persone moet beantwoord voordat hulle oorweeg mag word vir verkiesing tot ouderling of diaken. Op p. 4 is hierdie vereistes (en gawes) bespreek.

 

Wyse van verkiesing.

In artikel 22 (en dus ook in art. 24) word verskillende reëlings vir die verkiesing van ouderlinge en diakens aangedui.

Vooraf moet egter eers gewys word op ’n aantal algemene bepalings wat in ag geneem moet word, en wat reeds op p. 24 e.v. bespreek is.
➢ Wanneer daar oor persone gestem word, word dit normaalweg per geslote stembrief gedoen; indien dit die verkiesing die beste laat vlot en daar nie gevaar van onbehoorlike beïnvloeding is n ie, mag ook met opsteek van hande gestem word.
➢ ’n Beginsel wat in ag geneem moet word in alle gevalle waar gestem word, is dat die uitslag by wyse van ’n volstrekte meerderheid bepaal word (kyk p. 24 e.v.).
➢ Wanneer daar ’n staking van stemme ontstaan, het die voorsitter geen beslissende stem nie; by verkiesing van ampsdraers kan daar in geval van ’n staking van stemme oorgestem word; wanneer daar dan weer ’n staking van stemme is, moet met plegtige aanroeping van die Naam van die Here geloot word (kyk p. 21, 28).

Wat die wyse van verkiesing betref, word verskillende moontlikhede genoem.

Aan die gemeente kan geleentheid gegee word om die name van geskikte persone skriftelik onder die aandag van die kerkraad te bring.

Hierdie name word in aanmerking geneem wanneer die kerkraad saam met die diakens ’n groslys opstel, tweetalle of dubbele getalle aan die gemeente vir verkiesing voorlê, of persone ter approbasie aan die gemeente voorhou.

 

Tweetal.

’n Tweetal beteken presies wat die woord sê: twee persone vir elke vakature, van wie die gemeente een moet kies.

Hierdie is by verre die eenvoudigste en maklikste metode.

|100|

Dubbele getal.

By hierdie metode word daar dubbel die aantal persone per vakature aan die gemeente voorgelê, waaruit die benodigde aantal dan gekies moet word.

Byvoorbeeld: daar is 3 vakatures; 6 name word aan die gemeente voorgelê, waaruit 3 gekies moet word.

 

Approbasie.

Die woord „approbasie” beteken „goedkeuring”.

Wanneer daar nie genoeg geskikte persone is om tweetalle of dubbele getalle aan die gemeente vir verkiesing voor te lê nie, kan die kerkraad en diakens die benodigde aantal ter approbasie aan die gemeente voorhou, gewoonlik by wyse van afkondiging op 3 agtereenvolgende Sondae. Dit beteken dat die gemeente versoek word om daardie persone goed of af te keur. Geen reaksie van die kant van die gemeente beteken gewoonlik stilswyende goedkeuring.

Dit is verkeerd om te beweer dat die gemeente by hierdie metode uitgeskakel word net omdat daar nie ’n verkiesing plaasvind nie. Die feit bly staan dat die finale goedkeuring tog by die gemeente berus.

’n Variasie op hierdie metode is dat die benodigde aantal persone aan die gemeente voorgelê word, sodat vir of teen hulle gestem kan word.

Dit bly altyd gewens dat aan die gemeente geleentheid gegee word om aktief te kies.

 

Afkondiging aan gemeente.

Ná die verkiesing moet die name van diegene wat verkies is, verskeie kere (gewoonlik 3 agtereenvolgende Sondae, na analogie van artt. 4 en 5 KO) aan die gemeente afgekondig word. Die bedoeling hiervan is om nog finaal aan die gemeente geleentheid vir goed- of afkeuring te gee.

Dit kan naamlik gebeur dat daar ná die verkiesing iets kan gebeur of sekere feite aan die lig kan kom wat ’n verkose persoon onaanvaarbaar maak vir bevestiging in die amp.

|101|

Enige beswaar teen ’n verkosene moet skriftelik by die kerkraad ingehandig word; die inhoud daarvan sal bepaal of dit ’n saak vir die kerkraad is, of vir die kerkraad en diakens.

Elke beswaar moet deeglik gegrond wees met stawende feite.

Elke beswaar moet ook indringend oorweeg word.

Indien ’n beswaar gehandhaaf word, word die verkiesing nietig verklaar; die betrokke persoon moet dienooreenkomstig ingelig word, en aan die gemeente moet ’n afkondiging in dié verband gedoen word.

 

Bevestiging in die amp.

Indien daar geen beswaar ingebring word nie, word die verkose persone in die amp(te) bevestig tydens ’n erediens, volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

Ondertekeningsformulier.

In artikel 54 KO word bepaal dat ouderlinge en diakens die „Formuliere van Eenheid (moet) onderskryf en onderteken.”

Hiervoor is ’n Ondertekeningsformulier opgestel (kyk p. 84 van die Kerkordeboekie).

Die vraag is by watter geleentheid hierdie Formulier onderteken moet word: moet dit gedoen word direk ná die bevestiging, voor die gemeente, of kan dit later in ’n kerkraadsvergadering gedoen word?

Aangesien die gemeente die allernouste belang het by die belofte wat elke ampsdraer ten opsigte van die suiwere leer aflê kragtens die Ondertekeningsformulier, behoort die ondertekening van hierdie Formulier direk ná die bevestiging in teenwoordigheid van die gemeente plaas te vind.

Die Sinode van 1985 het besluit dat die ondertekening van die Formulier vir alle ampsdraers plaasvind volgens plaaslike reëling, verkieslik in die midde van die gemeente (Handelinge p. 422. punt 4.5.4).

Visser, J. (1999) Art. 23

|102|

Artikel 23

 

Die amp van die ouderlinge is, benewens dit wat hulle gemeenskaplik saam met die bedienaar van die Woord moet doen soos in artikel 16 neergelê, ook om toesig te hou dat bedienaars van die Woord, hulle mede-ouderlinge en diakens hulle ampte getrou bedien; verder om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente soos die omstandighede van tyd en plek dit toelaat, sowel voor as na nagmaal, om die lidmate te vertroos en te onderrig en om ook ander tot die Christelike Godsdiens op te wek.

[Opmerking: Die laaste sinsnede moet soos volg lees: „...om die lidmate veral te vertroos en te onderrig...” (kyk Handelinge Sinode 1964, p. 57). My kursivering, J.V.].

 

Artikel 23 en artikel 16.

Sekere gedeeltes van die dienswerk van die ouderlinge stem ooreen met dié van die bedienaar van die Woord, soos in artikel 16 bepaal word.

Dit sluit in die uitoefening van die kerklike dissipline (tug) en die sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

In samehang hiermee word die ander dele van die ouderling se amp in artikel 23 uiteengesit.

 

Toesig oor mede-ampsdraers.

Ouderlinge se amp is ook om toesig te hou dat die bedienaar van die Woord, hul mede-ouderlinge en die diakens hulle ampte getrou bedien.

Die bedoeling hiermee is nie dat ouderlinge soos „gehalte kontroleurs” of inspekteurs moet optree ten opsigte van elke klein onderdeel van hul mede-ampsdraers se dienswerk nie; dit is beslis nie die gees van hierdie bepaling nie, en so iets is uit praktiese oogpunt nie haalbaar nie.

Ten opsigte van die toesig oor die getroue ampsbediening van die predikant is die volgende van belang:

|103|

Woordbediening

Om toesig te kan hou oor die suiwere Woordbediening van die predikant, spreek dit vanself dat die ouderlinge die Skrif biddend moet bestudeer en ten volle op hoogte moet wees met die inhoud van die Belydenisskrifte.

Katkisasie

Wat hierbo gesê is ten opsigte van toesig oor die suiwere Woordbediening, geld ook ten opsigte van toesig oor die predikant se kategetiese werk. Amptelike verbondsonderrig deur die predikant is ook Woordverkondiging. Geen ouderling kan egter toesig hou oor hierdie dienswerk van die predikant as hy nie goed op hoogte is met die inhoud van die katkisasieleerplanne nie — veral die Skrif en die drie Formuliere van Eenheid.

Huisbesoek

Die ouderlinge moet ook toesig hou oor die predikant se amptelike huisbesoek in die gemeente. Amptelike huisbesoek deur die predikant is immers ook Woordverkondiging. Hierdie toesig deur die ouderlinge kan slegs behoorlik gedoen word as hulle (wyksgewyse) saam met die predikant op huisbesoek gaan.

Sommige predikante het die gewoonte om alleen deur die gemeente te gaan met amptelike huisbesoek; die wyksouderlinge word nie saamgeneem nie. Maar hoe kan daar dan toesig van die ouderlinge wees oor die huisbesoek van die predikant in die gemeente?

Dit mag soms nodig wees vir die predikant om in ’n bepaalde geval alleen te gaan huisbesoek doen. Sulke gevalle moet egter die uitsondering wees, en nie die reël nie.

Uit die aard van die saak is dit ook nie moontlik vir ouderlinge om toesig te hou oor alle fasette van die predikant se amptelike besoeke, soos byvoorbeeld sieke-, hospitaal- en bejaardebesoeke nie.

 

Huisbesoek.

’n Belangrike onderdeel van die ouderlinge se ampswerk is „om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente...”.

Omdat ouderlinge herders en opsieners is, moet hulle deurlopend in voeling bly met die lidmate wat onder hul sorg geplaas is. Die doel van

|104|

hul gereelde huisbesoek is die „stigting” (geestelike opbou) van die gemeente.

In hierdie huisbesoek beklee Skriflesing en gebed die vernaamste plek. Amptelike huisbesoek deur ’n ouderling is nie bloot ’n gesellige kuiertjie nie; dit is ampswerk, om die lidmate te vertroos, te versterk, te vermaan en te onderrig.

Hierdie bepaling in artikel 23 veronderstel dat die ouderlinge deeglik onderlê moet wees in die Skrif om hierdie deel van hul ampswerk sinvol tot eer van die Here en tot geestelike opbouing van die lidmate uit te voer.

Sinvolle huisbesoek vereis ook dat ouderlinge vóór elke huisbesoek hulself deeglik sal voorberei; ’n ouderling wat onvoorbereid huisbesoek doen, en dan maar tydens huisbesoek slegs ’n paar gedagtetjies „uit sy mou skud”, is sy amp onwaardig.

 

Huisbesoek „sowel voor as na nagmaal”.

Huisbesoek deur die ouderlinge moet gedoen word vóór sowel as ná nagmaal.Die huisbesoek vóór nagmaal moet uiteraard sterk daarop ingestel wees om die lidmate te begelei tot selfondersoek en voorbereiding met die oog op die nagmaalsviering.

Die huisbesoek ná nagmaal sal meer toegespits wees op sogenaamde „probleemlidmate”, sowel as op lidmate wat te kenne gegee het dat hulle begeerte het om nagmaal te gebruik, maar nie by die nagmaal teenwoordig was nie.

 

Lidmate „uitnooi” na nagmaal?

’n Interessante (maar absurde) vraag, waaroor verskillende menings bestaan, is of ’n ouderling lidmate moet (mag) „uitnooi” om nagmaal te gebruik.

So ’n vraag is in dié sin absurd, dat daar geen Skriftuurlike begronding bestaan vir „uitnodiging” na die nagmaal nie; die Skrif leer inteendeel dat Christus ons beveel om nagmaal te gebruik (kyk Sondag 28 van die Heidelbergse Kategismus). Nagmaalsgebruik is beslis nie opsioneel nie, maar verpligtend!

|105|

Ouderlinge moet lidmate dus nie tydens huisbesoek uitnooi om nagmaal te gebruik nie, maar hulle opskerp om die bevel van Christus te gehoorsaam om nagmaal te gebruik.

 

Huisbesoek ook by mede-ampsdraers.

As daar in die wyk van ’n ouderling ander ampsdraers woonagtig is, spreek dit vanself dat hy ook by daardie huisgesinne huisbesoek moet doen ... selfs al is dit die gesin van ’n mede-ouderling of die predikant. Hulle is immers ook aan sy herderlike sorg as wyksouderling toevertrou.

Veral aan die predikant en sy gesin moet besondere sorg bestee word — nie slegs vanweë sy besondere roeping en sy veeleisende dienswerk nie, maar ook omdat die predikant en sy gesin nie ’n „herder en leraar” in die gemeente het na wie hulle kan gaan vir steun en raad en bemoediging nie.

Wanneer ’n ouderling self in sy eie wyk woon, is dit wenslik dat hy en sy gesin deur die kerkraad toevertrou word aan die sorg van ’n mede-ouderling.

 

Huisbesoek deurlopend deur die jaar.

Die gewoonte wat sommige ouderlinge het om slegs vier keer per jaar vóór nagmaal deur hul wyk te „storm” om vir lidmate te vra of hulle „beswaar het om nagmaal te gebruik”, moet baie sterk afgekeur word.

Dit is inteendeel baie wenslik dat ouderlinge op ’n deurlopende basis by lidmate besoek aflê; só sal hulle hul lidmate goed leer ken, en op hoogte wees met hul behoeftes en probleme; hulle sal sodoende egter ook ’n baie goeie verhouding met die lidmate opbou, wat uiteraard baie bevorderlik is vir positiewe en waardevolle bearbeiding.

Ouderlinge wat hul lidmate só goed ken, hoef selfs nie noodwendig vóór elke nagmaal by elke huisgesin amptelike huisbesoek te doen nie.

 

Ander besoeke.

Benewens die deurlopende amptelike huisbesoek deur die ouderlinge, soos hierbo beskryf, is dit ook die ampstaak van ouderlinge om siekes (tuis en in hospitale), bejaardes, beproefdes en bedroefdes gereeld te besoek — om hulle te bemoedig, te versterk en te vertroos.

|106|

Dit is onjuis as ouderlinge hierdie soort herderlike werk nalaat, omdat dit dan kwansuis die predikant se werk is.

 

Ander opwek tot Christelike Godsdiens.

In hierdie artikel word bepaal dat dit ouderlinge se ampswerk is „om ook ander tot die Christelike Godsdiens op te wek.”

Hieruit word soms afgelei dat daar ’n spesiale ouderling afgesonder moet word vir sending- en evangelisasiewerk, of dat sending- en evangelisasiewerk fisies aan die ouderlinge opgedra is.

Dit kan egter nie die bedoeling hiervan wees nie.

Amptelike prediking aan heidene en afvalliges is immers die ampstaak van geroepe bedienaars van die Woord.

Hierdie deel van die ouderlinge se ampswerk moet só verstaan word dat sending- en evangelisasiewerk amptelik onder leiding en toesig staan van die kerkraad (ouderlinge, art. 37 KO). In dié sin is dit die ampswerk van die ouderlinge „om ook ander tot die Christelike Godsdiens op te wek”.

 

Ouderling sonder wyk?

Dit gebeur soms dat aan ’n ouderling geen wyk toegesê word nie, maar dat hy slegs skriba en/of kassier van die kerkraad is.

Hierdie toedrag van sake is nie in ooreenstemming met artikel 23 nie, aangesien so ’n „ouderling” geen ampswerk verrig soos in hierdie artikel uiteengesit is nie.

 

„In-diens-opleiding”.

Geen ouderling kan sy ampswerk behoorlik verrig as hy nie daarvoor toegerus is nie.

Benewens grondige kennis van Skrif en Belydenis, moet ouderlinge ook goeie kennis hê van die Kerkorde.

Daar is ook deugdelike handleidings vir ouderlinge beskikbaar, wat sterk aanbeveel kan word (byvoorbeeld dié wat saamgestel is en uitgegee word deur Klassis Noordelike Pretoria).

|107|

Om so ’n handleiding, asook die Kerkorde, gereeld in die kerkraadsvergaderings te behandel, is nie net aanbevelenswaardig nie, maar vir my aanvoeling noodsaaklik. Dit sal beslis daartoe meewerk dat ouderlinge op ’n deurlopende grondslag toegerus word vir hul dienswerk.

Visser, J. (1999) Art. 25

|108|

Artikel 25

 

Die eintlike amp van die diakens is om die liefdesgawes in geld en goedere wat aan die armes gegee word, nougeset te versamel en dit met gesamentlike oorleg getrou en vlytig uit te deel volgens die eis van die behoefte aan sowel die behoeftiges in die gemeente as aan ander; en verder om die wat in nood is te besoek en te vertroos en om goed toe te sien dat die gawes nie misbruik word nie. Die diakens moet in die kerkraad verslag doen van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente wanneer die kerkraad dit geskik ag

[Opmerking: Die Nasionale Sinode van 1997 het ’n gewysigde bewoording vir hierdie artikel goedgekeur. Hierdie wysiging moet egter eers, volgens artikel 86 KO, vir advies aan die ander Nasionale Sinodes voorgelê word voordat dit vir goedkeuring na die Algemene Sinode deurgestuur kan word (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 562 e.v.)].

 

Die „eintlike” amp.

Hierdie vreemde en ietwat eienaardige bewoording in artikel 25, wat afwyk van die bewoording van artikels waarin die ander ampte beskryf word (artt. 16, 18 en 23), is nie van besondere belang vir die doel van hierdie boek nie. Die historiese agtergrond daarvan kan in kerkreghandleidings opgelees word. Daar moet egter gewys word op die praktyk in heelwat gemeentes dat die diakens hulpdiens verrig by die nagmaalsvierings, asook met die insameling van kerklike bydraes — dinge wat, streng gesproke, nie tuishoort by hul amp soos die Skrif dit aandui nie. Hierdie hulpdiens deur die diakens is egter nie op sigself verkeerd nie, mits dit nie beskou word as hul eintlike amp nie. En ek is bevrees dat dit in verskeie gevalle wel só beskou word. Ek het al opmerkings gehoor soos hierdie: „Die diakens het in ons gemeente nie juis werk nie, want ons het ’n koevertstelsel vir ons kerklike bydraes”.

Daar moet ook gewys word op die feit dat die diakens se amp baie wyer strek as slegs armversorging. Volgens die bewoording van artikel 25 is dit duidelik dat hulle „eintlike” amp die versorging van armes is.

|109|

Dit is egter nie hulle „enigste” amp nie.

Hierby kom nog besoeke en vertroosting aan „die wat in nood is” ... ’n taak so wyd as die lewe self!

Die diakens se „eintlike amp” moet dus gesien word binne die breë raamwerk van hul roeping om die gemeente op te bou as ’n gemeenskap van gelowiges.

 

„Armes” en „die wat in nood is”.

Die amp van die diakens moet in sy totaliteit gesien word: hoewel hulle eintlike amp die versorging van armes is, is daar ook ’n groot deel van hul amp wat hulle gesamentlik met die predikant en die ouderlinge verrig; dit is die opbou en die beskerming van die gemeenskap in die gemeente.

Die amp van die diakens is dus om te sorg dat geen lidmaat buite die gemeenskap van die gemeente te staan kom nie, om watter rede ook al.

Alles wat dus dreig om die samelewing van die gelowiges te verniel of te vernietig, soos byvoorbeeld armoede, siekte, droefheid, ouderdom, eensaamheid en ander probleme, moet deur die diakens teengegaan en verlig en, waar moontlik, opgehef en uitgeskakel word.

Die armes moet voorsien word van voldoende lewensmiddele; vir die haweloses moet behoorlike verblyf gereël word; die siekes moet versterk en opgebeur word; die treurendes moet vertroos word; die oues moet bemoedig word; die eensames moet in die gemeenskap van die gemeente ingetrek word, en so meer.

Die diakens het ook ’n taak teenoor nuwe lidmate in die gemeente; veral in stadsgebiede bestaan die gevaar dat nuwe lidmate maklik kan vereensaam, en later selfs vervreemd kan raak. Nuwe lidmate moet so gou as moontlik in die volle gemeenskap van die gemeente opgeneem word.

Só moet ons die verband sien tussen die „armes” en „die wat in nood is”, as voorwerpe van die diakonale ampswerk.

|110|

Die wyse van versorging.

Artikel 25 bepaal dat die diakens met betrekking tot die versorging van die armes drie dinge moet doen:
➢ hulle moet die liefdesgawes in geld en goedere wat aan die armes gegee word, nougeset versamel;
➢ hulle moet die gawes met gesamentlike oorleg getrou en vlytig uitdeel volgens die eis van die behoeftes;
➢ hulle moet goed toesien dat die gawes nie misbruik word nie.

Hierby moet nog opgemerk word dat die amp van die diakens nie beperk word tot die gemeente nie; die artikel bepaal dat hulle moet uitdeel aan die behoeftiges in die gemeente en „aan ander”, dit wil sê behoeftiges buite die gemeente (kyk Galásiërs 6: 10).

Liefdegawes versamel.

Kragtens die vierde gebod (kyk Heidelbergse Kategismus Sondag 38) moet die gemeente op Sondae in die erediens Christelike liefdegawes gee.

Die kollektes op Sondae by die erediens (die sogenaamde „barmhartigheidskollektes”) is die hoofbron van inkomste vir die diakens.

Oor die vraag of hierdie kollekte binne of ná die erediens ingesamel moet word, het die Sinode van 1964 (Handelinge p. 477) besluit dat die plek van die kollekte ’n middelmatige saak is, en daarom geheel en al aan die vryheid van die kerkrade oorgelaat word om dit binne of buite die erediens te plaas.

Persoonlik meen ek dat die verklaring wat in die Heidelbergse Kategismus van die vierde gebod gegee word, dit duidelik maak dat hierdie kollekte ’n integrale deel van die erediens vorm.

Indien die normale opbrengs van hierdie kollektes ontoereikend is vir die behoeftes waarin die diakens moet voorsien, moet hulle, met toestemming van die kerkraad, bykomende metodes gebruik om voldoende middele te bekom. Allereers moet die gemeente bearbei word om groter offers by wyse van kollektes te bring. Indien dit nog nie genoegsame inkomste besorg nie, moet die diakens uitgaan in die gemeente om geld en goedere in te samel. Sou selfs hierdie optrede nog nie voldoende middele oplewer nie, moet die kerkraad versoek word om hulp te vra by ander kerke in die kerkverband. Die kerkraad is immers die enigste regeerliggaam in die kerk en die

|111|

amptelike orgaan wat die gemeente na buite verteenwoordig. Dit is ook nie diakonieë wat mekaar help nie, maar kerke.

In die Skrif vind ek egter geen grond dat kerklike „barmhartigheidsfondse” by wyse van straatkollektes of koerantaksies ingesamel mag word nie.

Vir gemeentes moet dit ’n saak van eer wees om die diakens in staat te stel om hulle amp waardig te kan vervul! Elke lidmaat moet volgens vermoë ruim bydra vir hierdie diens, uit liefde vir die Here en sy kerk! Daar moet by elke lidmaat ware bewoënheid wees oor die lot van armes en minderbevoorregtes; en daar moet dankbaarheid wees oor eie voorspoed onder die seën van die Here!

Deur middel van gereelde huisbesoek moet die diakens die gemeente in hierdie opsig bearbei en opskerp en toerus.

Liefdegawes uitdeel.

Die geld en goedere vir die armes moet „met gesamentlike oorleg” getrou en vlytig uitgedeel word, volgens die eis van behoeftes.

Volgens die Formulier vir bevestiging van diakens moet hierdie gawes „met vertroosting uit die Skrif” uitgedeel word.

Die diakens moet deur die wyse waarop hulle hul dienswerk vervul, asook deur middel van „opvoeding” van lidmate, dit baie duidelik beklemtoon dat hulle maar net instrumente is in die hand van Jesus Christus; in wese is dit egter die Here Self wat sy behoeftige kinders versorg! Lidmate moet geleer word om weg te kom van die oppervlakkige idee dat dit „die kerk” is wat behoeftiges versorg!

Die uitdeel van die gawes vind plaas
➢ met gesamentlike oorleg; dus: die diakens besluit gesamentlik oor die uitdeel van die gawes;
➢ getrou en vlytig; dus: diakens hoef nie aangespoor te word in die uitdeel van die gawes nie;
➢ volgens die eis van die behoefte; dus: die diakens doen, by wyse van deeglike ondersoek, eers ’n bepaling van die behoefte, voordat daar uitgedeel word; diakonale fondse is, streng gesproke, trustfondse, waaroor die noukeurigste kontrole uitgeoefen moet word; hierdie gawes mag nie bestee word aan verkwisters, luiaards, dronkaards, dobbelaars of onverantwoordelikes nie;

|112|

➢ ook aan behoeftiges buite die gemeente; dus: diakonale ampswerk is nie beperk tot die lidmate van die gemeente nie; uit die aard van die saak sal aan eie lidmate voorrang verleen word, en indien daar dan nog fondse beskikbaar is, moet ook aan behoeftiges buite die gemeente hulp verleen word (kyk Galásiërs 6: 10).

Toesig teen misbruik van gawes.

Aangesien barmhartigheidsgawes gawes uit die hand van die Here is (kyk hierbo), is dit die verantwoordelikheid van die diakens om toe te sien dat die gawes nie misbruik word nie. In die agtste gebod verbied die Here trouens alle misbruik van sy gawes (kyk Heidelbergse Kategismus, Sondag 42).

Hierdie toesig deur die diakens kan slegs verantwoordelik en sinvol uitgeoefen word as die wyksdiakens gereeld huisbesoek doen by hulle wat gehelp word.

Van hierdie huisbesoek moet verslag gelewer word in die vergadering van die volle diakonie.

Indien daar wel misbruik van gawes waargeneem word, lê die oplossing nie daarin dat die gawes teruggehou word nie.

Afhangende van die aard van die misbruik, kan die metode van versorging gewysig word. As daar byvoorbeeld direkte hulp verleen word in die vorm van kontantgeld, en dié geld word misbruik, kan die direkte hulpverlening gewysig word na indirekte hulpverlening. Daarmee bedoel ek dat aan so ’n hulpbehoewende geen kontantgeld meer gegee word nie, maar dat sy/haar rekenings deur die diakonie vereffen word en dat lewensmiddele deur die diakonie aangekoop en afgedra word.

Verder moet daar by wyse van intensiewe bearbeiding, desnoods met die hulp van die wyksouderling en/of predikant, „opvoedingswerk” by so ’n lidmaat gedoen word.

 

Voorkoming van armoede.

Die amp van die diakens behels nie slegs die voorsiening in behoeftes nie, maar beslis ook die voorkoming van armoede, waar dit enigsins moontlik is.

Dit gebeur soms dat die broodwinner van ’n gesin sy betrekking verloor, en daarmee ook sy inkomste. Dit bring die gevaar mee dat hy alle

|113|

artikels waarop hy nog uitstaande skuld het soos huis, motor, meubels, en so meer, kan verloor en só met sy hele gesin in totale armoede kan verval.

In sulke gevalle is dit die verantwoordelikheid van die diakens om alles binne hul vermoë te doen om so ’n gesin te help om finansieel kop bo water te hou, en sodoende dreigende armoede af te weer.

 

Huisbesoek.

Huisbesoek vorm ’n belangrike deel van die diakens se ampswerk.

Hierdie huisbesoek moet egter nie slegs toegespits word op behoeftiges en armes nie, maar op die hele gemeente.

Huisbesoek by behoeftiges en armes is vanselfsprekend.

Ek wil ook weer beklemtoon dat die diakens die gawes aan die armes met vertroosting uit die Skrif moet afdra (kyk p. 111).

In die huisbesoek van die diaken wanneer die gawes afgedra word, moet dit ook duidelik na vore kom dat dit Jesus Christus is wat sy kinders versorg, deur middel van die diakens as geroepe instrumente (kyk p. 111).

Op p. 109 en 110 is aangetoon dat die fokus van diakonale ampswerk ook „die wat in nood is” insluit.

Die diakens moet egter ook, in die uitvoering van hul ampswerk, huisbesoek doen by ander lidmate as net hulpbehoewendes en beproefdes. Trouens, die hele gemeente is die voorwerp van die diakonale ampswerk.

In hierdie ampswerk by ander lidmate as behoeftiges en beproefdes sal op die volgende aspekte toegespits moet word:
➢ die lidmate moet, uit dankbaarheid vir die talle seëninge uit die hand van die Here, deurlopend opgeskerp en aangemoedig word tot offervaardigheid en tot bewoënheid teenoor hulle wat behoeftig is;
➢ die lidmate moet aangemoedig word om mee te werk in die belangrike taak om te sorg dat geen enkele lidmaat vereensaam en buite die gemeenskap van die gemeente te staan kom nie, om watter rede dan ook.

|114|

Verslag van werksaamhede.

Die diakens moet op gereelde tye in die kerkraad verslag doen van hul werksaamhede. Die ouderlinge is die opsieners in die gemeente; hulle moet ook toesien dat die diakens hul amp getrou bedien (kyk art. 23).

Let daarop dat die artikel nie sê: aan die kerkraad nie, maar wel: in die kerkraad.

Die kerkraad is die predikant en die ouderlinge (art. 37 KO); die diakens vorm dus nie deel van die kerkraad nie.

As artikel 25 dan bepaal dat diakens verslag van hul werksaamhede moet doen in die kerkraad, is die bedoeling dat hulleself fisies teenwoordig moet wees in die kerkraadsvergadering waar hierdie verslag gedoen en behandel word. Hulle mag nie maar net ’n skriftelike verslag lewer wat in hulle afwesigheid behandel word nie.

Gewoonlik word hierdie verslag gedoen by elke vergadering van die kerkraad saam met die diakens (die sogenaamde „breë kerkraadsvergadering”).

Dit mag ook wenslik wees om voor die gemeente verslag te doen van die werksaamhede van die diakens wanneer die kerkraad dit geskik ag.

 

Afkondiging van kollekte in erediens.

Dit gebeur soms dat die geleentheid vir die insameling van die barmhartigheidskollekte in die erediens aangekondig word as: „Geleentheid word nou gegee vir die diens van barmhartigheid.”

So ’n afkondiging is beslis nie aan te beveel nie, om die eenvoudige rede dat dit die verskraling van die diakonale amp, wat alreeds ’n ongesonde werklikheid in ons kerklike lewe is, verder versterk. „Diens van barmhartigheid” is tog baie ruimer as net die insameling van ’n kollekte!

 

Diakonale konferensies.

In die GKSA is daar ’n interessante geskiedenis van die sogenaamde „Diakonale Konferensies”. Ek verwys hier onder andere na die volgende Sinodebesluite:
➢ 1930 (Handelinge p. 44);

|115|

➢ 1961 (Handelinge p. 220, punt D; p. 221, punt E);
➢ 1964 (Handelinge p. 408 e.v., art. 155);
➢ 1970 (Handelinge p. 186 e.v., art. 90).

Streng gesproke is daar niks mee verkeerd as diakens van naburige gemeentes byeenkom om te „konfereer” (gesprek te voer) oor sake wat hul amp raak nie.

In die verlede het hierdie „Konferensies” egter ’n totale skewe rigting ingeslaan; op ’n stadium het dit byna die status aangeneem van ’n volwaardige kerklike vergadering in die gees van artikel 29 KO. „Konferensies” van diakens het tehuise vir onversorgde kinders opgerig, afgevaardigdes na meerdere vergaderings gestuur, aangedring op spreekbeurte in meerdere vergaderings, en so meer. Daar is ook ’n soort permanente „struktuur” opgerig wat in die "bestuur" (later in iets soos ’n „Voortsettingskomitee”) gesetel was/is en wat die reëlings vir die volgende „Konferensie” moes/moet tref.

Dit het ook praktyk geword dat diakens met probleme in hul ampsbediening nie na hul kerkrade gegaan het om hulp en raad nie, maar na hierdie „Konferensies”. Daar is egter nie in die kerkraad verslag gedoen van wat in hierdie „Konferensies” gesê en gedoen is nie.

Dit het al gebeur dat predikante, in die uitvoering van hul toesigtaak oor diakonale vergaderings (art. 40 KO), op baie vreemde gedagtes insake diakonale ampswerk afgekom het; by nadere ondersoek het aan die lig gekom dat sulke vreemde gedagtes uitgedra is in een of meer „voordragte” deur hierdie of daardie predikant by ’n diakonale konferensie.

Ek wil die bewering maak dat daar geen behoefte sal wees aan hierdie konferensies nie as diakens ingelig word oor die regte prosedure in geval van probleme in die uitvoering van hul ampswerk. Wanneer die diakens hulp of raad verlang, wend hulle hul tot die kerkraad; indien die kerkraad nie die gevraagde hulp of raad kan bied nie, wend die kerkraad hom na die klassis by wyse van beskrywingspunt of advies-versoek, ensovoorts.

Die verkeerde praktyke rondom diakonale konferensies het helaas meegebring dat die klassis en ook die partikuliere sinode (as meerdere vergaderings waar kerkregering bedien word), heeltemal uit die gesigsveld van die diakens verdwyn het.

Visser, J. (1999) Art. 26

|116|

Artikel 26

 

Die diakens moet ander liggame of instellings wat aan behoeftiges hulp verleen, versoek om met hulle oorleg te pleeg sodat die gawes des te beter uitgedeel kan word onder die wat die meeste gebrek het.

 

Verhouding tot ander liggame. 

Daar bestaan vandag ’n hele aantal liggame en instellings wat hulp aan behoeftiges verleen; dit kan dus maklik gebeur dat daar in die aanwending van beskikbare middele ’n wanbalans ontstaan indien daar nie onderlinge oorlegpleging plaasvind nie.

Vandaar hierdie bepaling in artikel 26.

Die doel van hierdie bepaling is duidelik: dat die beskikbare middele op die bes moontlike manier aangewend kan word met die mins moontlike wanbesteding. Wanbesteding sou baie maklik kon gebeur as die bestaande welsynsliggame en die diakens nie op hoogte was van mekaar se werk nie. Oorlegpleging is dus nie slegs gewens nie, maar noodsaaklik.

Die wyse van oorlegpleging sal bepaal word deur die omstandighede, sowel as deur die aard en samestelling van sulke ander liggame of instellings.

 

Huise vir bejaardes en onversorgde kinders.

Een terrein waar diakens voortdurend oorleg moet pleeg met ander welsynsorganisasies, asook met die owerheid, is dié van die versorging van hulpbehoewende bejaardes en onversorgde kinders.

In Suid-Afrika bestaan daar ’n stelsel waar kerke en welsynsorganisasies deur die Staat gesubsidieer word in die oprigting en instandhouding van tehuise waar hulpbehoewende bejaardes, asook kinders wat nie deur hul ouers of familie behoorlik versorg kan word nie, opgeneem en versorg kan word. Hoe lank hierdie subsidies nog voorsien sal word, sal die tyd leer.

|117|

In die GKSA is daar veral 2 „instansies” wat op hierdie terrein arbei: die Deputate vir Diakonale Sake (wat die sogenaamde „diakonale inrigtings” onder hul sorg het) en die Gereformeerde Stigting (wat slegs op die terrein van bejaarde-huisvesting werk).

Uit die aard van die saak behoort daar tussen hierdie twee „instansies” die allernouste oorlegpleging en samewerking te wees.

Die Sinode van 1976 (Handelinge p. 44, 45) het onder andere soos volg besluit ten opsigte van die diakonale inrigtings en die Deputate vir Diakonale Sake:
➢ Die beheer oor die diakonale inrigtings berus by die plaaslike kerk waaronder die inrigting ressorteer.
➢ Die kerkverband het ook belang by die diakonale inrigtings. Daarom benoem die Sinode deputate vir diakonale sake om:
 - korrelerend op te tree;
 - geldelike hulp te bied;
 - met die Owerheid te skakel.
➢ die Deputate vir Diakonale Sake moet allereers uit diakens bestaan. Volgens artikel 40 KO word ook predikante bygevoeg.

 

Oorlegpleging met kennis van kerkraad.

Voordat diakens van plaaslike kerke volgens artikel 26 oorleg pleeg met ander liggame of instellings, moet die kerkraad eers in die saak geken word. Die kerkraad is immers die enigste regeerliggaam in die kerk en die amptelike orgaan wat die gemeente na buite verteenwoordig.

Visser, J. (1999) Art. 27

|118|

Artikel 27

 

Die dienstyd van ouderlinge en diakens word deur die kerkraad gereël soos hy tot die meeste stigting van die kerk ag. By periodieke aftreding na minstens twee jare diens of meer, moet ’n eweredige deel jaarliks aftree.

 

Onderskeid met bedienaars van die Woord. 

In artikel 12 KO word die beginsel gestel dat ’n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is.

Hierdie beginsel is nie van toepassing op ouderlinge en diakens nie, om redes wat voor die hand lê.

 

Dienstyd deur kerkraad gereël.

In hierdie artikel word bepaal dat die dienstyd van ouderlinge en diakens deur die kerkraad gereël word soos hy tot die meeste stigting van die kerk (gemeente) ag.

Hierdie bepaling hou onder andere in dat ’n ouderling of diaken nie maar net kan kennis gee dat hy nou "bedank" uit die amp nie; hy moet, met opgaaf van redes, op die ordelike wyse aansoek doen om losgemaak te word uit die amp; die kerkraad oorweeg dan sy aansoek en besluit daaroor.

 

Periodieke aftreding.

In sommige gemeentes bestaan die reëling dat ouderlinge en diakens slegs vir ’n bepaalde tyd dien en dan moet aftree. In sulke gevalle bepaal hierdie artikel dat ’n eweredige deel jaarliks moet aftree, ná minstens twee jare diens.

Oor die verdienste van so ’n reëling sal elke kerkraad self moet oordeel.

Daar is egter geen afdwingbare sinodebesluit dat hierdie reëling in alle gemeentes toegepas moet word nie.

|119|

Indien hierdie reëling in ’n kerkraad ingevoer word, mag dit nooit plaasvind met die oneerlike motief om van „lastige” ampsdraers ontslae te raak nie.

 

Bevestiging ná herverkiesing?

Wanneer ’n ouderling of diaken herverkies word nadat hy volgens die reëling van periodieke aftrede losgemaak is, moet hy weer in die amp bevestig word. Indien dit sy beurt was om af te tree volgens die genoemde reëling, maar die kerkraad sou besluit dat sy dienstyd met nog ’n termyn verleng word, en hy dus nie uit die amp losgemaak is nie, vind geen nuwe bevestiging in die amp plaas nie.

 

„Eervolle” en „gewone” losmaking?

Daar bestaan ’n wyd verbreide opvatting dat daar onderskeid gemaak moet word tussen „eervolle” en „gewone” (dus: oneervolle) losmaking van ouderlinge en diakens uit die amp.

Die bedoeling is dan dat ’n ouderling of diaken wie se ampsbediening nie so baie voorbeeldig was nie, wel „gewone” losmaking mag ontvang, maar nie „eervolle” losmaking nie.

Dikwels word hierdie onhoudbare standpunt gehuldig wanneer ’n ouderling of diaken eintlik uit die amp afgesit behoort te word kragtens artikels 79/80 KO, maar die kerkraad het nie die durf om dit te doen nie.

So ’n onderskeid tussen „eervolle” en „gewone” losmaking uit die amp kan hoegenaamd nie verdedig word op grond van artikel 27 nie.

Dit is slegs een van twee: óf eervolle losmaking uit die amp kragtens artikel 27 KO, óf afsetting uit die amp kragtens artikels 79/80 KO.

[Opmerking: Sou dit nie wenslik wees om heeltemal ontslae te raak van die bewoording „eervolle losmaking”, en slegs te praat van „losmaking” nie? Dit sou die problematiek van „eervolle” en „gewone” losmaking uitskakel.
Ek maak hierdie opmerking na analogie van die wysiging wat die Sinode van 1985 aangebring het in die konsepte vir „Losmaking van ’n vertrekkende bedienaar van die Woord” en „Emeritusverklaring” (Handelinge p. 559 en 560). Die ou geykte bewoording van „... op die

|120|

mees eervolle manier los te maak” en „sy emeritaat ... op die mees eervolle manier te verleen”. (Kerkordeboekie p. 98 en 99) is verander na „... los te maak” en „... emeritaat te verleen”. „Eervol” het eenvoudig verdwyn! (Hierdie verandering in bewoording beteken egter nie dat die pad nou oopgemaak is dat predikante onder ’n skadu van bedenklike leer en/of lewenswandel losgemaak of emeritaat verleen mag word nie!).
Indien daar nou ook in die geval van ouderlinge en diakens slegs gepraat sou word van „losmaking”, impliseer dit beslis nie dat artikel 27 nou misbruik kan word as ’n soort skuiwergat om die toepassing van artikel 79 te systap nie!].

Visser, J. (1999) Art. 28

|121|

Artikel 28

 

Soos dit die plig van die owerhede as instellings van God is om aan die kerk en sy ampsdraers hulp en beskerming te bied, so is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou en ywerig by die gemeente in te skerp, en hulle moet trag om in die vrees van die Here, die guns van die owerheid jeens die kerke op te wek en te behou in belang van die kerke. Dit is ook die plig van die kerklike vergaderings om korrespondensie met die owerheid te onderhou om die nodige medewerking van die owerheid te verkry en in voorkomende gevalle as kerk van Christus voor die owerheid te getuig.

 

Wedersydse verpligting. 

In hierdie artikel word melding gemaak van ’n wedersydse verpligting wat deur God opgelê is:
➢ die plig van die owerheid, as instelling van God, teenoor die kerk en sy ampsdraers; en
➢ die plig van die ampsdraers, die gemeente en die kerklike vergaderings teenoor die owerheid.

 

Geen ordelike samelewing sonder burgerlike regering.

Sonder burgerlike regerings kan daar geen sprake wees van enige ordelike samelewing nie. Daarom het God die owerhede ingestel. Of die owerheid dit erken of nie, maak basies geen verskil aan die feit dat hy dienaar van God is nie (kyk Romeine 13: 1-5).

Daarom is onderwerping aan die owerheidsgesag, sowel as gehoorsaamheid en eerbied wat aan owerhede verskuldig is, opdrag van God, wat ’n bepaalde verantwoordelikheid plaas op ampsdraers, gemeente en kerklike vergaderings.

 

Nie slegs Christelike owerheid.

Die verpligting wat ampsdraers, gemeente en kerklike vergaderings volgens hierdie artikel het, geld nie slegs teenoor ’n Christelike owerheid

|122|

nie, maar teenoor die owerheid in die algemeen. Romeine 13: 1-7 is hier van deurslaggewende belang; toe hierdie Brief onder inspirasie van die Heilige Gees geskryf is, was die heidense Romeinse owerheid aan bewind.

 

Deputate vir Korrespondensie met Streeks- en Sentrale Owerheid.

Die Nasionale Sinode wys Deputate aan vir korrespondensie met die verskillende streeksowerhede sowel as die sentrale owerheid. Die opdragte wat van tyd tot tyd aan hierdie Deputate gegee word, kan in die Handelinge van die Nasionale Sinode opgelees word.

 

Roeping van kerklike vergaderings.

Dit gebeur dikwels dat kerkrade en ander mindere vergaderings versoeke aan bogenoemde Deputate rig om bepaalde sake met die verskillende owerhede op te neem en die medewerking van die owerhede te verkry.

Soms kan sulke versoeke sinvol en prakties wees. Meestal is dit egter ’n ontduiking van eie plig en verantwoordelikheid. Kerkraad, klassis en partikuliere sinode is tog ook „kerklike vergaderings” in die gees van hierdie artikel; en daarom het elke kerklike vergadering ’n eie plig en verantwoordelikheid tot skakeling met die verskillende owerhede, soos dit op gegewe tye nodig mag wees (kyk hier art. 30 KO).

 

Getuienis voor owerheid.

Die laaste gedeelte van artikel 28, naamlik die roeping van kerklike vergaderings om as kerk van Christus voor die owerheid te getuig, behoort baie meer aandag in die handelinge van kerklike vergaderings te kry.

Daar is heeltemal te veel die neiging en houding dat dit nutteloos sal wees om sekere sake onder die aandag van die owerheid te bring (veral nou, met ’n on-Christelike regering aan die bewind).

Só word ’n uiters belangrike en duidelike opdrag van die Here, wat in hierdie artikel aangetoon word, skromelik versuim.

Visser, J. (1999) Art. 29

|123|

Artikel 29

 

Kerklike vergaderings wat onderhou word, is: kerkraad, klassis, partikuliere sinode, nasionale sinode en algemene sinode.

 

Plaaslike kerk en kerkverband. 

Elke plaaslike kerk (gemeente), dit wil sê elke kerk op ’n bepaalde plek, is ’n selfstandige kerk.

Dit beteken egter nie dat die plaaslike kerk die enigste kerk is nie. Op ander plekke is nog ander kerke met dieselfde belydenis, liturgie en kerkregering.

En kerke wat met mekaar één is in belydenis, liturgie en kerkregering moet daardie eenheid met mekaar ook prakties beleef in kerkverband.

Vir die belewing van hierdie eenheid van kerke is meerdere kerkvergaderings noodsaaklik.

 

Meerdere vergaderings, en nie hoëre vergaderings nie.

In die Gereformeerde kerkregering bestaan daar nie so iets as hoëre kerkvergaderings nie; een vergadering is nie hoër as ’n ander nie (’n klassis is nie hoër as ’n kerkraad nie, en ’n partikuliere sinode nie hoër as ’n klassis nie, en so meer).

Daar is egter wel meerdere vergaderings; dit beteken vergaderings waarin meer as een kerk (ver)teenwoordig is.

In hierdie meerdere vergaderings word die eenheid tussen verskillende plaaslike kerke op ’n bepaalde wyse uitgeleef.

Die byeenkoms van meer kerke in meerdere vergadering(s) beteken egter nie dat die verskillende plaaslike kerke wat só vergader, „ineensmelt” tot een groter kerk, sodat die „kerkverband” nou die eintlike „kerk” word nie.

Dit is ’n kollegialistiese kerkbegrip wat geen plek het in die Gereformeerde (Presbiteriale) kerkregering nie.

|124|

Aantal kerklike vergaderings.

In kerkverband is daar ten minste twee kerklike vergaderings noodsaaklik: een wat die belange van die plaaslike kerk behartig (die kerkraad), en minstens een wat gemeenskaplike sake behartig (klassis of sinode).

Die aantal meerdere vergaderings is nie ’n beginsel nie, maar ’n praktiese reëling.

Daarom bepaal artikel 29 ook nie dat hierdie en daardie kerklike vergaderings onderhou „moet” word nie.

Die praktyk kan dit dalk wenslik en/of nodig maak dat een of meer van die (tans) bestaande meerdere vergaderings afgeskaf kan word.

In artikels 37, 41, 47, 50 en 51 KO word respektiewelik gehandel oor kerkraad, klassis, partikuliere sinode, nasionale sinode en algemene sinode.

 

Die kworum van kerklike vergaderings.

Die Sinode van 1920 (Handelinge p. 58, art. 139) het besluit dat die kworum van die sinode twee-derdes van die aantal wettige afgevaardigdes is. Hierdie besluit is herbevestig deur die Sinode van 1958 (Handelinge p. 43).

Die Sinode van 1920 het ook besluit dat kerkrade en die „Algemene Vergaderingen” (in huidige terme beteken dit klassisse en partikuliere sinodes — J.V.) hulle eie kworum moet bepaal; die Sinode ag dit egter wenslik dat dit nie minder sal wees nie as die helfte plus een. As verskeie lede van ’n kerkraad sodanig betrokke is dat hulle geen sitting kan neem nie en daar geen kworum oorbly nie, dan moet dit bereken word volgens die getal wat nog oorbly. As besware teen die hele kerkraad gemaak word, moet volgens Kerkorde die meerdere vergadering in die saak handel (Handelinge p. 58, art. 139).

Visser, J. (1999) Art. 30

|125|

Artikel 30

 

Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel. Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.

 

Beperking van bevoegdhede.

In hierdie artikel word ’n aantal beperkinge in die bevoegdhede van kerklike vergaderings aangedui:
➢ Kerklike vergaderings mag slegs kerklike sake behandel.
➢ Kerklike vergaderings mag sake in hul agenda slegs op kerklike wyse behandel.
➢ Meerdere vergaderings mag nie sake behandel wat deur mindere vergaderings afgehandel kan word nie.
➢ Meerdere vergaderings mag slegs sake behandel wat by hulle tuishoort.
➢ Bogenoemde impliseer ook baie duidelik dat mindere vergaderings nie sake wat by ’n meerdere vergadering tuishoort, mag afhandel nie.

 

Slegs kerklike sake.

Die noodsaaklikheid van hierdie beperking in artikel 30 lê daarin dat dit die wese van die kerk en kerkregering beskerm.

Dit is egter nie altyd ewe maklik om uit te maak wat kerklike sake is, en wat nie. Soms bestaan daar ook ernstige meningsverskil hieroor.

Enige poging egter om ’n „katalogus” op te stel van wat kerklike sake is, is ’n onbegonne taak.

Kerklike vergaderings sal hier met wysheid en verantwoordelikheid en fyn aanvoeling moet oordeel.

Daar sal egter ook deurentyd selfdissipline toegepas moet word; mense is baiekeer geneig om oor sekere sake, wat hulle na aan die hart lê en wat in verband staan met hul tradisionele en/of politieke oorwegings,

|126|

emosioneel en pragmaties op te tree; dit word ook as belangrik en voordelig beskou om vir sekere aksies ’n „kerklike sanksie” te verkry.

Wat hier deurslaggewend is, is dat slegs sake wat pas by die wese en aard en doel van die kerk, behandel mag word. Kerklike vergaderings mag hulle nie bemoei met politieke, maatskaplike, militêre en soortgelyke sake nie.

Tog is daar soms raakvlakke tussen kerk en owerheid, kerk en skool, kerk en samelewing, en so meer. Die kerk moet ook die lig van Gods Woord laat val op alle terreine van die lewe. Soms mag kerklike vergaderings geroepe wees om in konkrete situasies met verklarings uit die Skrif te reageer, om die owerheid met vertoë te nader, om maatskaplike misstande en euwels aan te pak en te beveg, en so meer. Hier sal wysheid en versigtigheid die wagwoord moet wees.

Maar nooit mag die kerk probeer doen wat uitsluitlik die taak en verantwoordelikheid is van owerheid, skool, weermag, en ander samelewingsverbande nie.

 

Op kerklike wyse.

Omdat die kerk die liggaam van Christus is, moet kerklike vergaderings die heerskappy van Christus verwesenlik, ook in die wyse waarop sake behandel word; dit moet ten alle tye by die Hoof van die kerk pas.

Dit spreek dus vanself dat kerklike vergaderings nie dieselfde werkwyse volg as byvoorbeeld die parlement of enige ander raad of vereniging nie. Daar is wel bepaalde prosedures wat in kerklike vergaderings dieselfde geldingskrag het as in ander sekulêre rade en verenigings. Dit neem egter nie weg nie dat sake in kerklike vergaderings op ’n eiesoortige wyse behandel moet word.

[Die prosedure in kerklike vergaderings word by artikel 35 behandel].

Christus regeer sy kerk deur sy Woord en Gees; daarom moet die handelinge van kerklike vergaderings gelei en beïnvloed word deur die Woord en Gees van die Here. Optrede in kerklike vergaderings moet staan in die gees van liefde tot die Here en liefde tot die naaste.

Hieruit spruit voort dat sekere handelwyses nie in kerklike vergaderings geduld mag word nie; die volgende kan hier genoem word:

|127|

➢ Partyvorming.
➢ Vooraf koukus.
➢ Onbehoorlike beïnvloeding van persone.
➢ Manipulasie van persone en/of prosedures.
➢ Dreigemente en/of geweldpleging.
➢ Sloerstaking.
➢ Omkopery.
➢ Protesteer by wyse van uitstap.
➢ Stoomroller-taktiek.
➢ Dwangmaatreëls.

Kortom: alle metodes om eie standpunt te laat seëvier ten koste van die eer van God, die welsyn van die kerk en die belang van die saak in behandeling.

 

Geen presedente.

Soms word in kerklike vergaderings probeer om besluitneming te beïnvlo ed deur te verwys na ’n presedent (’n vroeëre beslissing in ’n soortgelyke saak as dié onder bespreking).

Voorbeelde:
➢ Iemand verwys na ’n vroeëre besluit wat verband hou met die saak onder bespreking, in ’n poging om die besluitneming in ’n soortgelyke rigting te stuur.
➢ Iemand probeer ’n voorstel verongeluk met die argument dat aanvaarding van die besluit ’n „gevaarlike presedent sal skep”.

In die GKSA bestaan daar egter geen „presedensiële” kerkregering nie (’n kerkregering wat op presedente berus), maar slegs ’n Skriftuurlike kerkregering. Elke saak moet op eie verdienste, in die lig van die Skrif, oorweeg en beslis word.

 

Meerdere vergaderings en studie.

Dit gebeur nogal dikwels dat ’n mindere vergadering ’n versoek rig tot ’n meerdere vergadering, by wyse van ’n beskrywingspunt, dat studiedeputate aangewys moet word wat ’n sekere saak in studie moet neem, sodat daar ’n „eenvormige besluit” geneem kan word.

Nou mag dit soms nodig wees vir ’n meerdere vergadering om deur middel van verdere studie meerdere lig op ’n bepaalde saak te kry

|128|

voordat ’n besluit geneem word. Ook is dit soms nodig om ’n „eenvormige besluit” te neem wat verpligtend is vir alle gemeentes in kerkverband.

Maar ’n meerdere vergadering is nie ’n „studieliggaam” nie.

Indien ’n saak by wyse van beskrywingspunt in die agenda van ’n meerdere vergadering opgeneem word, moet die studie wat daarvoor nodig is, reeds afgehandel wees deur dié vergadering wat die beskrywingspunt deurgestuur het.

 

Motivering by besluite.

Besluite deur kerklike vergaderings moet ten alle tye behoorlik gemotiveer word, omdat dit dikwels tot in die verre toekoms gebruik word vir navorsing en vir die kerkregering.

Dit is veral belangrik dat die toepaslike Skriftuurlike en/of konfessionele en/of kerkregtelike en/of ander begronding by besluite aangedui moet word.

Om met besluite van kerklike vergaderings te werk waarby geen motivering aangegee word nie, is uiters frustrerend en dikwels futiel.

 

Onderskeid tussen prinsipiële en middelmatige sake.

In besluite deur kerklike vergaderings behoort duidelik onderskei te word tussen prinsipiële en middelmatige sake.

Om ter wille van „eenvormigheid” besluite van kerklike vergaderings af te dwing waarby geen beginsels ter sprake is nie, is onbehoorlik; so ’n optrede tas die Christelike vryheid van kerke en lidmate aan.

Meerdere vergaderings behoort duidelik in hul besluite aan te toon watter sake „vas en bindend” is (kyk by art. 31 KO), en watter aan die vryheid van die kerke oorgelaat word.

 

Beperkte bevoegdheid van meerdere vergaderings.

In hierdie artikel word duidelik bepaal dat meerdere vergaderings beperkte bevoegdheid het. Slegs sake wat in mindere vergaderings nie afgehandel kan word nie, asook sake wat by meerdere vergaderings tuishoort, moet deur meerdere vergaderings behandel word.

|129|

Dit is dus duidelik dat meerdere vergaderings nie maar na willekeur in die sake van mindere vergaderings kan inmeng en/of ingryp nie.

Nou is dit so dat daar onder Gereformeerdes meningsverskil bestaan oor die bevoegdheid van meerdere vergaderings. Sommige meen dat ’n meerdere vergadering hoegenaamd nie, selfs nie in gevalle van wanbestuur en eiegeregtige optrede deur ’n mindere vergadering, mag ingryp nie.

Met respek gesê grens baie van hierdie soort besware aan ’n kerkbegrip wat sterk independentisties gekleur is.

Kerklike vergaderings moet in hierdie opsig met versigtigheid en wysheid handel. Aan die een kant moet die selfstandigheid van elke plaaslike kerk (gemeente) gerespekteer word; aan die ander kant moet steeds onthou word dat kerke in kerkverband nie in isolasie lewe nie, maar op mekaar aangewese is.

Kerkrade moet hul taak ten volle vervul en hul verantwoordelikhede in alles nakom. Dit gebeur te maklik dat kerkrade sake na die klassis verwys sonder om eers ondersoek te doen of dit nie iets is wat plaaslik selfstandig afgehandel en opgelos kan word nie.

Wanneer kerkrade sake, wat plaaslik afgehandel kan en moet word, deurstuur na die klassis vir behandeling deur meerdere vergaderings, moet die klassis dit na die kerkraad terugverwys.

Indien ’n saak vir alle kerke in die gebied van ’n klassis of partikuliere sinode of in die hele kerkverband van belang is, word dit, ná deeglike studie, op die ordelike wyse volgens kerkorde deurgestuur na die betrokke meerdere vergadering.

 

Mag ’n beskrywingspunt deur ’n meerdere vergadering verander word?

By die bespreking van artikel 33 sal aangetoon word dat alle sake vir behandeling deur meerdere vergaderings (behalwe deputate-rapporte en appèlle), die weg moet volg van die kerkraad na die klassis, en dan via die klassis (en die ander kerklike vergaderings) na dié meerdere vergadering vir wie dit oorspronklik bedoel is.

|130|

Die vraag ontstaan nou: kan een van die kerklike vergaderings, deur wie se agenda ’n beskrywingspunt (of ’n beswaarskrif of ’n versoek tot revisie) gaan, die oorspronklike bewoording van so ’n saak verander?

Die antwoord is onomwonde: ja.

Byvoorbeeld:

’n Kerkraad versoek die klassis om via die partikuliere sinode ’n beskrywingspunt deur te stuur na die nasionale sinode.

Indien die klassis (en respektiewelik die partikuliere sinode) aan die beskrywingspunt gevolg gee (die voorstel daarin steun), beteken dit dat hy daardie beskrywingspunt sy eie maak. Hy kan dus, voordat hy dit verder deurstuur, gedeeltes daarvan (of ’n formulering daarin) na sy goeddunke verander.

Dieselfde geld van beswaarskrifte en versoeke tot revisie.

 

Mag ’n meerdere vergadering ingryp in die sake van ’n mindere vergadering?

Soos vroeër gesê is, bestaan daar meningsverskil oor hierdie vraag.

Ek wil weereens beklemtoon dat meerdere vergaderings nie maar na willekeur in die sake van mindere vergaderings kan inmeng en/of ingryp nie.

Tog is daar omstandighede wat so ’n ingryping nie slegs toelaatbaar maak nie, maar beslis noodsaaklik ... kragtens kerkverband.

[Hier kan verwys word na die besluit van Sinode 1920 wat op p. 124 (by die kwessie van die kworum) ter sprake gekom het: as besware teen die hele kerkraad gemaak word, moet die meerdere vergadering in die saak handel (Handelinge p. 58, art. 139)].

Die volgende kan as voorbeelde dien:
➢ ’n Kerkraad weier om op te tree teen ’n predikant wat sy plig versuim of dwaalleer verkondig, ondanks besluite van die klassis in hierdie verband. Daar is dus onwilligheid by die kerkraad om sy plig te doen.
In so ’n geval moet die klassis doen wat die kerkraad normaalweg doen, en die tug kragtens artikel 79 KO toepas.

|131|

➢ Die kerkraad weier om die klassisdeputate in die gemeente toe te laat om hul opdrag uit te voer, en die gemeente vereenselwig hom met die optrede van die kerkraad. Weer ’n geval van onwilligheid.
So ’n weiering kom neer op de facto (feitelike) verbreking van kerkverband. Sou die gemeente hom vereenselwig met die optrede van die kerkraad, verklaar die klassis dat die gemeente deur sy optrede de facto kerkverband verbreek het en voortaan ook de jure (regtens) buite die verband van die GKSA staan.
Indien die gemeente hom nie met die kerkraad se optrede vereenselwig nie, moet die klassis die kerkraadslede uit hul amp afsit; daarna moet die gemeente, onder leiding van die klassis, ’n nuwe kerkraad verkies. As die kerkgebou nie gebruik kan word nie weens die kerkraad se optrede, moet die vergadering van die gemeente om ampsdraers te kies, in ’n ander lokaal plaasvind — desnoods onder ’n seringboom, soos met die herstigting van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg in 1859!
Kennisgewing van so ’n gemeentevergadering sal uit die aard van die kerkraad se onwilligheid tot samewerking nie tydens ’n erediens gedoen kan word nie. Kennisgewing van lidmaat tot lidmaat is dan die enigste moontlikheid.
Dit mag wees dat daar in sulke gevalle ’n dispuut ontstaan oor die kerkeiendomme, wat kan uitloop op hofsake. Elke sodanige geval moet volgens eie omstandighede hanteer word.
➢ Die kerkraad weier om uitvoering te gee aan besluite van meerdere vergaderings in geval van onregmatige praktyke in die gemeente wat deur die predikant en/of die kerkraad ingevoer is, byvoorbeeld:
- die liturgiese orde wyk af van die orde soos deur die nasionale sinode vasgestel;
- die nagmaal word op on-Skriftuurlike wyse gevier;
- Gesange en vrye liedere word in die erediens gesing;
- eredienste ontaard in „gesellighede” om lidmate en ander te lok;
- „charismatiese” elemente word in die eredienste toegelaat, en so meer. 

Dieselfde optrede soos hierbo genoem, word gevolg.

|132|

Nadruk moet egter daarop gelê word dat ’n klassis eers ná langdurige vermanings by wyse van visitasie, korrespondensie, en so meer tot sulke drastiese stappe mag oorgaan.

 

Meerdere vergaderings en grensreëlings tussen plaaslike kerke.

’n Plaaslike kerk wil die grens(e) tussen hom en sy buur-kerk(e) verander. Die kerkraad stuur ’n beskrywingspunt met so ’n versoek na die klassis, voordat hy nog met sy buur-kerkraad(e) daaroor onderhandel het.

Wat staan die klassis te doen in so ’n situasie?

Wanneer die klassis vasgestel het dat daar nog nie onderlinge oorlegpleging plaasgevind het nie, moet die saak na die betrokke kerkraad terugverwys word. Onder geen omstandighede mag die klassis op daardie stadium die versoek in behandeling neem nie, omdat dit iets is wat by die mindere vergadering(s), naamlik die betrokke kerkrade, tuishoort.

Slegs wanneer die kerkrade, ná indringende en herhaalde oorlegpleging, nie tot ’n vergelyk kan kom nie, mag die saak na die klassis verwys word vir arbitrasie en finale beslissing.

Dit spreek egter vanself dat ’n klassis in so ’n delikate situasie met die grootste omsigtigheid en wysheid moet optree. Oorhaastigheid moet ten alle koste vermy word. Die klassis sal verstandig wees om nogeens te probeer om die saak te besleg deur middel van voortgesette onderhandeling, met klassisdeputate as adviseurs en bemiddelaars.

 

Meerdere vergadering word versoek om in te gryp in die sake van ’n plaaslike kerk.

Dit kan gebeur dat ’n kerkraad die klassis versoek om in ’n bepaalde situasie in te gryp in ’n saak wat streng gesproke tuishoort by en afgehandel behoort te word deur die kerkraad self.

In so ’n geval sal die klassis homself eers baie deeglik moet vergewis of so ’n versoek gebore is uit onkunde of onwil of uit werklike onmag.

|133|

In geval van onkunde en onwil moet die klassis die saak summier na die kerkraad terugverwys met ’n ernstige vermaning om sy verantwoordelikheid uit te voer en die saak self op te los.

In geval van onmag (wat vanselfsprekend eers deeglik deur die klassis ondersoek en uitgemaak moet word) mag die klassis die versoek bewillig en die saak opvolg. Optrede sal afhang van die betrokke probleem, óf by wyse van visitasie (gewoon of buitengewoon, afhangende van die omstandighede), óf by wyse van advies-deputate wat die probleem saam met die kerkraad aanpak en oplos.

By wyse van voorbeeld: ’n kerkraad rig ’n brief aan die klassis met die mededeling dat hy as kerk nie meer kan voortbestaan nie, as gevolg van finansiële probleme. Verskillende opsies word deur die betrokke kerkraad aan die klassis voorgehou. By nadere ondersoek kom die klassis tot die oortuiging dat die grootste enkele oorsaak van daardie kerk se dilemma bestaan in ’n gebrek aan begrotingsdissipline. Op ’n vraag onder artikel 41 KO, of kerke die oordeel en hulp van die klassis vir hul regte bestuur nodig het, sê die afgevaardigdes van daardie kerk dat hul kerkraad se brief die antwoord op hierdie vraag is. Daarop besluit die klassis dat die kerkraad se mededeling, dat daardie kerk nie langer kan voortbestaan nie, só beantwoord word dat die klassis twee adviseurs aanwys as volle lede van daardie kerkraad se finansiële kommissie, ten einde hulp te verleen om die regte begrotingsdissipline daar te stel. (In ’n werklike soortgelyke geval het hierdie optrede van die klassis daartoe gelei dat daardie kerk se skuldlas ná ’n paar jaar met meer as die helfte gedaal het, bloot as gevolg van die hulp van die twee klassisdeputate ten aansien van begrotingsdissipline. Met die skryf van hierdie boek, was die twee klassisdeputate nog steeds besig om die kerkraad by te staan).

’n Volgende voorbeeld: ’n Kerk (kerk A) se lidmatetal daal aansienlik as gevolg van werksgeleenthede in die gebied wat drasties ingekort is. Die betrokke kerk is genoodsaak om sustentasie aan te vra. ’n Kleiner naburige kerk (kerk B) maak egter gebruik van die dienste van ’n emerituspredikant, omdat hulle nie ’n predikant volledig kan versorg nie. Mag die klassis kerk B nou verplig om die dienste van die emerituspredikant te beëindig en met kerk A in kombinasie te tree, om sodoende sustentasie te bespaar? Vir my aanvoeling kan die klassis slegs

|134|

kerk B se kerkraad versoek om kombinasie met kerk A te oorweeg. Indien kerk B egter, om watter rede ook al, nie so ’n versoek van die klassis sou bewillig nie, mag die klassis nie kerk B in so ’n „ongewenste” kombinasie indwing nie. Aan die ander kant sal kerk B ook, kragtens kerkverband, die belang van kerk A sowel as die belang van die klassis, ernstig moet oorweeg in sy besluit.

Voorbeeld 3 (kyk ook by art. 79): ’n Predikant se vrou verlaat hom om met ’n ander man in die huwelik te tree; die konsulent word versoek om as voorsitter van die kerkraad op te tree in die oorweging van die aangeleentheid. Die kerkraad bevind egter dat die predikant geen skuld het in die verbreking van die huwelik nie. Nogtans adviseer die konsulent (wederregtelik) dat die predikant voorlopig geskors word, en dat ’n classis contracta (kyk p. 292) opgeroep word. Uit onkunde stem die kerkraad tot hierdie optrede in. Die classis contracta besef nie dat hier ’n blatante oortreding is van die beginsel in artikel 30 KO nie; die saak word wederregtelik behandel, die predikant word geskors en die saak word na die volle klassis met deputate van die partikuliere sinode verwys vir afhandeling. Die deputate van die partikuliere sinode adviseer die klassis egter tereg dat die saak deur ’n mindere vergadering afgehandel is deurdat die kerkraad die predikant reg in die begin onskuldig bevind het. Die klassis aanvaar hierdie advies van die deputate van die partikuliere sinode, en daarmee is die saak afgehandel.

Voorbeeld 4: ’n Predikant is só ernstig geestelik siek dat hy nie sy werk kan volhou nie. Visitatore beveel (sonder die kerkraad se instemming) by die klassis aan dat hy kragtens art. 11 KO „ontslaan” word. Die klassis neem die saak (wederregtelik) ter tafel en roep die deputate van die partikuliere sinode op vir advies (kyk by art. 11 KO). Die deputate van die partikuliere sinode adviseer die klassis dat die saak wederregtelik in behandeling geneem is en dat die saak na die kerkraad terugverwys moet word. Die klassis aanvaar hierdie advies. Uiteindelik kon daardie betrokke predikant op ’n ordelike wyse aansoek doen om kragtens artikel 13 KO te emeriteer, wat dan ook bewillig is.

Wat nou van die opvatting dat ’n meerdere vergadering alle sake wat op ’n wettige wyse deur ’n mindere vergadering na hom verwys is, in behandeling mag neem? Uit wat reeds tot dusver gesê is, behoort dit duidelik te wees dat so ’n opvatting nie geldig is nie. Sake wat deur ’n

|135|

mindere vergadering afgehandel kan/moet word, kan nie „op ’n wettige wyse” na ’n meerdere vergadering verwys word nie; so iets is beslis „onwettig”.

By wyse van voorbeeld: ’n Predikant versprei dwaalleer deur middel van die pers of brosjures. Die argument is nou dat omdat dwaalleer alle kerke in kerkverband raak, hierdie saak direk tuishoort by die meerdere vergaderings. Hier moet egter in gedagte gehou word dat die aard of die omvang van so ’n „openbare growwe sonde” gladnie die subjek van die eventuele tugtoepassing bepaal nie. Kragtens artikel 79 KO begin die tug in so ’n geval by die kerkraad. Die kerkraad mag die tug egter nie afhandel nie. Maar indien die kerkraad in die tugproses verbygegaan word, sneuwel die presbiteriale kerkregering onder die stewel van die kollegialisties-presbiterianistiese kerkregering!

Daarom kan nie ernstig genoeg gewaarsku word nie dat meerdere vergaderings met die grootste nougesetheid daarop moet let dat artikel 30 KO ten alle tye gerespekteer en in werking gestel moet word.

Die beginsel in artikel 30 KO gaan naamlik baie dieper as ’n formele aanduiding wat op die agenda van ’n meerdere vergadering mag kom. Hierdie artikel wil nie bloot die aard van agendastukke definieer nie, maar dit wil die regte en pligte van kerkvergaderings waarborg. Dit maak ’n Bybelse beginsel, van hoe elkeen geroepe is om aan die Here verantwoordelik te lewe en te werk, diensbaar in kerkvergaderings. Tegelykertyd wil dit negatief enige heerskappyvoering en magsindringing uitsluit (kyk B. Spoelstra, 1980: „Die beginsel in Art. 30 KO”, p. 12 in In die Skriflig, 14(55):3-12, September).

Artikel 30 KO is anti-hiërargies, omdat dit nie toelaat dat alles maar deur die meerdere vergaderings behandel word nie; dit is egter ook anti-independentisties, omdat dit duidelik spreek van die sake wat die kerke gemeenskaplik raak en wat gemeenskaplik afgehandel moet word (kyk J. Kamphuis, 1966: Verkenningen III, p. 85-87. Goes, Oosterbaan en Le Cointre).

Visser, J. (1999) Art. 31

|136|

Artikel 31

 

Wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde. As iemand egter ’n klagte het dat hy deur die uitspraak van ’n mindere vergadering verongelyk is, kan hy hom op ’n meerdere vergadering beroep.

 

Kerklike vergadering.

Die beginsel wat in hierdie artikel gestel word, naamlik dat besluite wat met meerderheid van stemme geneem is, vas en bindend is, geld nie slegs meerdere vergaderings nie, maar alle kerklike vergaderings, insluitende kerkraadsvergaderings.

 

Kworum.

Geen besluite mag deur ’n kerklike vergadering geneem word sonder dat daar ’n kworum is nie (kyk hiervoor p. 124). Sulke besluite het hoegenaamd geen geldigheid nie.

 

Meerderheid van stemme.

Op p. 24 is gestel dat in kerklike vergaderings besluite oor alle sake met volstrekte meerderheid geneem moet word.

 

Konformering.

Die Skrif leer uitdruklik dat Christus Self sy kerk regeer deur sy Woord en Gees; Hy gebruik egter in die regering van sy kerk ook mense wat Hy daartoe roep. Daarom is die bepaling van die meerderheidstem in hierdie artikel nie simplisties ’n kwessie van die meerderheid wat die minderheid oorheers nie. Die belangrike onderliggende gedagte hier is dat die minderheid, meestal stilswyend, met die meerderheid konformeer. ’n Voorsitter kan ook, ter wille van volle duidelikheid, vra of almal wat in die minderheid gestem het, met die meerderheid konformeer.

|137|

Indien iemand nie in die meerderheidsbeslissing kan berus nie, mag hy nie eiewillig die besluit „tersyde stel” en maak asof so ’n besluit nie bestaan nie. Hy moet hom aan die genome besluit hou omdat dit vas en bindend is (kyk verder by hierdie artikel), en kennis gee van beswaar of appèl.

 

Twee derde meerderheid?

Daar bestaan ’n opvatting dat, veral in geval van gewigtige sake, dit noodsaaklik/gewens is dat besluite met ’n meerderheid van twee derdes geneem moet word. So ’n siening is beslis nie Gereformeerd nie, maar kollegialisties.

Hierdie manier van doen wek baie beslis die persepsie dat besluitneming in kerklike vergaderings bloot ’n kwessie is van die meerderheid wat die minderheid oorheers. Ook tas dit die beginsel aan wat in die vorige onderafdeling gestel is, naamlik dat Christus Self sy kerk regeer deur sy Woord en Gees. In kerklike vergaderings word daar nie menslike opvattings teen mekaar opgeweeg om sodoende vas te stel watter opvatting voorkeur moet geniet nie. Maar in kerklike vergaderings word gevra wat die Here in sy Woord sê.

Daarom is die gedagte van besluitneming deur middel van twee derde meerderheid beslis nie aanvaarbaar in die Gereformeerde kerkregering nie.

By wyse van voorbeeld word die volgende (absurde) voorval genoem (wat werklik plaasgevind het):

’n Klassis behandel ’n appèl van ’n lidmaat teen sy kerkraad. Die appèlkommissie se bevinding en aanbeveling (dat die appèl slaag) word aanvaar met 12 stemme teen 9. Die toerbeurt-voorsitter haal aan uit ’n kerkorde-handleiding van professor A, dat in geval van gewigtige sake besluitneming moet plaasvind met ’n twee derde meerderheid; die klassis aanvaar die voorsitter se „leiding” (miskien moet dit wees „lyding”) en die vorige besluit word nietig verklaar. Gevolglik het die appèl nie geslaag nie. Met ’n appèl by die eersvolgende partikuliere sinode is die absurde besluit van die klassis nietig verklaar. (Interessant is dat prof. A sy mening baseer op ’n foutiewe interpretasie van wat ’n ander professor (B) in sy kerkorde-handleiding beredeneer oor hierdie aangeleentheid — foutief, omdat prof. A die argumentasie van prof. B oor

|138|

die kwessie van twee derde meerderheid nie volledig opgelees het nie, maar slegs tot aan die einde van ’n bepaalde bladsy!).

Die ideaal moet altyd wees om besluite te neem met algemene instemming. Omdat dit egter nie in alle gevalle moontlik is nie, moet daar gestem word; maar daar moet biddend gestem word, dat die Here deur sy Woord en Gees só sal lei en beïnvloed dat die regte besluit geneem sal word.

 

Opsteek van hande, of geslote stembriewe?

Gewoonlik word oor sake gestem met opsteek van hande, en oor persone met geslote stembriewe. Soms kan ook oor persone met opsteek van hande gestem word, maar dan moet daar sekerheid bestaan dat daar nie onbehoorlike beïnvloeding sal wees nie (kyk p. 99).

Dit is nie noodsaaklik dat daar oor alle sake formeel gestem word nie; die voorsitter kan uit die bespreking byvoorbeeld aflei dat daar algemene ooreenstemming oor ’n saak is; dan hoef hy slegs te vra of almal daarmee instem (kyk Bylae „C” agter in hierdie boek).

 

Buite stemming bly.

Omdat Christus Self sy kerk regeer deur sy Woord en Gees, is dit nie toelaatbaar dat enigiemand in ’n kerklike vergadering buite stemming mag bly nie, behalwe in hoogs uitsonderlike omstandighede. In so ’n geval moet die persoon wat buite stemming wil bly, die toestemming van die vergadering daarvoor verkry.

 

Aantekening in minderheid.

Soms gebeur dit dat iemand, wat in die minderheid gestem het, vra dat dit in die notule aangeteken moet word dat hy in die minderheid gestem het.

Hieroor het die Sinode van 1961 besluit dat aantekening in die minderheid kerkregtelik geen implikasies het nie (Handelinge p. 562/563, art. 209).

|139|

Staking van stemme.

Wanneer stemme staak oor persone, moet met aanroeping van die Naam van die Here geloot word. Wanneer stemme egter staak oor sake, is die saak van die tafel af (Sinode 1873, p. 46, art. 173).

Soms is die saak wat in behandeling is, egter van so ’n belangrike aard dat dit nie sonder meer van die tafel gereël kan word by staking van stemme nie. In so ’n geval is daar verskeie moontlikhede:
➢ die saak kan weer oopgestel word vir bespreking;
➢ die saak kan vir beslissing uitgestel word vir ’n volgende vergadering;
➢ die inhoud van die saak kan gewysig word vir groter aanvaarbaarheid;
➢ stem met geslote stembriewe i.p.v. met opsteek van hande.

Indien nie een van bogenoemde reëlings ’n uitslag oplewer nie, kan daar ook in so ’n dringende geval met aanroeping van die Naam van die Here geloot word. Dit moet egter slegs in uitsonderlike gevalle gedoen word, en dan ook slegs wanneer die saak in behandeling so belangrik is dat dit nie summier van die tafel gereël kan word nie.

[Hierdie laaste moontlikheid kom dalk vreemd voor; daarom wil ek dit soos volg motiveer:

Die basis van Gereformeerde kerkregering is dat Jesus Christus self sy kerk regeer; Hy doen dit deur middel van mense wat hy daartoe roep (byvoorbeeld by wyse van meerderheidstem); Hy kan dit egter ook doen sonder die bydrae van mense, (byvoorbeeld deur die lot wat gewerp word), veral wanneer die regering deur middel van mense nie gewenste resultate oplewer nie (soos by staking van stemme).

Prinsipieel is daar geen verskil tussen stemming oor persone en stemming oor sake nie.].

 

Voorsitter geen beslissende stem.

Wanneer stemme staak, het die voorsitter geen beslissende stem nie (kyk bladsy 22, 28).

 

Vas en bindend.

[Kyk Bylae „B” agter in hierdie boek].

|140|

Die besluite van alle kerklike vergaderings, wat wettig met meerderheid van stemme geneem is, is vas en bindend.

Dit beteken dat alle kerke en lidmate binne die gebied van die vergadering wat die besluit geneem het, hulle daaraan moet hou en daaraan uitvoering moet gee. Om eensydig en eiewillig sulke besluite te ignoreer en te maak asof dit geen regskrag het nie, is onordelik en onaanvaarbaar. In wese is dit nie gereformeerd nie, maar independentisties. Dit kom prakties neer op verbreking van kerkverband. Nadruk moet egter daarop gelê word dat besluite van kerklike vergaderings slegs bindend is vir lidmate en mindere vergaderings binne die gebied van so ’n kerklike vergadering. Die besluite van een partikuliere of nasionale sinode is byvoorbeeld nie vanself bindend vir ander partikuliere of nasionale sinodes nie.

In die „Openlike Verklaring” wat gewoonlik aan die begin van meerdere vergaderings gelees word en waarmee afgevaardigdes hul instemming moet betuig, word onder andere die volgende vervat: „Met betrekking tot die Kerkregering sal ons ons hou aan die kerkorde van bogenoemde sinode van Dordrecht soos dit gewysig is deur die sinodes van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.” Afgevaardigdes wat nie met die Openlike Verklaring instem nie, verbeur hul sittingsreg in die betrokke meerdere vergadering.

Ook die geloofsbrief wat mindere vergaderings aan hul afgevaardigdes na meerdere vergaderings gee, bind hulle aan hierdie beginsel van artikel 31. In daardie geloofsbrief word onder andere die volgende onderneem: Die ... (afvaardigende vergadering) verbind hom om alle besluite van die ... (vergadering waarheen afgevaardig is) as vas en bindend te beskou en dit getrou te help uitvoer en nalewe.

 

Voorwaarde.

Hierdie onderneming van die afvaardigende vergadering is egter onderhewig aan dié voorwaarde dat alle besluite geneem moet wees volgens die Woord van God, die Formuliere van Eenheid en die aanvaarde Kerkorde.

Gestel nou byvoorbeeld ’n mindere vergadering is oortuig dat ’n sekere besluit van ’n meerdere vergadering nie aan bogenoemde voorwaarde

|141|

voldoen nie. Mag hy dan die genome besluit eiewillig ignoreer en maak asof dit geen regskrag het nie?

Ongelukkig is daar in die GKSA hierdie siening by sommige. Hierdie siening word genoem die „ratifikasiereg”.

 

Ratifikasiereg. 

Ratifikasiereg is die vermeende reg wat ’n mindere vergadering sou hê om eers die besluite van meerdere vergaderings te „ratifiseer” voordat dit regskrag het; dit beteken dat mindere vergaderings eers die besluite van meerdere vergaderings moet goedkeur en bekragtig (d.m.v. ondersoek en toetsing om te bepaal of dit aan die bogenoemde voorwaardes voldoen), voordat hulle daaraan uitvoering gee.

In die GKSA is hierdie ratifikasiereg egter nie geldig nie. Besluite van kerklike vergaderings is vas en bindend en almal moet hulle daaraan hou en dit nalewe „... tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde.”

 

„Tensy bewys word ...”.

Hierdie artikel bepaal dat daar eers „bewys” moet word (LW: nie „beweer word” nie) dat besluite in stryd is met Skrif en Kerkorde, voordat die „vas en bindend” van artikel 31 nie meer geldig is nie. Dit kan gedoen word by wyse van beswaar by die vergadering wat die besluit geneem het, of by wyse van appèl na ’n volgende meerdere vergadering. (Die vereistes/besonderhede vir beswaarskrifte word by artikel 46 bespreek, en dié vir appèlle later by art. 31).

Slegs een van hierdie meerdere vergaderings het die bevoegdheid om te verklaar dat ’n besluit in stryd is met Skrif en Kerkorde, en daarom geen regskrag meer het nie.

Geen mindere vergadering het die reg om eiewillig ’n meerdere vergadering se besluit kragteloos te maak nie ... nie by wyse van die ratifikasiereg óf by wyse van blote ignorering van so ’n besluit nie!

 

Appèl

(Kyk Bylae E).

Artikel 31 bepaal dat iemand hom op ’n meerdere vergadering kan beroep indien hy deur die besluit van ’n mindere vergadering „verongelyk” is (gelukkig nie „verongeluk” nie!).

|142|

Dit beteken dat as iemand deur die besluit van ’n mindere vergadering in die ongelyk gestel is, kan hy hom by wyse van appèl op ’n meerdere vergadering beroep. Die Sinode van 1939 het die woord „verongelyk” verklaar as „krenking van die reg”: „... alleen by krenking van die reg mag geappelleer word” (Handelinge p. 144, art. 135, 1(a), kursivering oorspronklik J.V.).

Die appèl moet wees van ’n mindere op ’n meerdere vergadering.

 

Is appèl toelaatbaar in alle gevalle waar nie saamgestem word met besluite van kerklike vergaderings nie?

Daar is ’n breë opvatting dat regskrenking in hierdie artikel nie slegs dui op krenking van die persoonlike reg nie, maar krenking van die reg in die algemeen.

Persoonlik is ek van mening dat die bewoording van artikel 31 só is dat dit slegs persoonlike regskrenking bedoel: „As iemand egter ’n klagte het dat hy deur die uitspraak van ’n mindere vergadering verongelyk is, ...” (my kursivering, J.V.).

In die praktyk gebeur dit dikwels dat iemand wat nie met ’n mindere vergadering se besluit saamstem nie, direk oorgaan tot appèl ... selfs al is daar geen sprake van persoonlike regskrenking nie. Behalwe dat die agendas van meerdere vergaderings deur hierdie praktyk onnodig oorlaai kan word, strook dit na my mening ook nie met die gees en bedoeling van artikel 31 nie.

In so ’n geval, waar daar nie gekonformeer kan word nie (maar geen persoonlike regskrenking is op die spel nie) moet ’n beswaar teen die gewraakte besluit ingedien word, by dieselfde vergadering wat die oorspronklike besluit geneem het. Indien so ’n beswaar nie gehandhaaf word nie, is die beswaarde se reg daardeur gekrenk, en kan hy hom op daardie stadium met ’n appèl tot ’n meerdere vergadering wend.

Die verskil tussen ’n appèl en ’n beswaar is onder andere juis dat slegs in geval van krenking van die (persoonlike) reg geappelleer mag word.

 

Appèlprosedure.

Die „Prosedure vir die behandeling van appèlsake” word agter in die Kerkordeboekie, p. 67 e.v., weergegee; ek gaan dit nie in hierdie boek herhaal nie.

|143|

Ek wys slegs op die volgende wysigings/byvoegings:
➢ by punt 4 op p. 68 het die Sinode van 1991, na aanleiding van ’n beswaarskrif, besluit dat die professor in kerkreg nie langer „ex officio lid” van appèlkommissies sal wees nie (Handelinge p. 524 e.v.);
➢ die Sinode van 1985 (Handelinge p. 524, 525) het die volgende byvoeging by die prosedure gevoeg: „Die appellant stel waar moontlik (verkieslik 14 dae) voor die betrokke meerdere vergadering sy appèl, met uiteensetting van gronde skriftelik ter beskikking van die korresponderende kerkraad/Deputate vir korrespondensie (KO, art. 45)”;
➢ die Sinode van 1997 (Handelinge p. 545, 546) het ’n byvoeging by die prosedure gemaak met betrekking tot getuienis/toeligting wat moontlik in die behandeling van ’n appèl nodig is.

 

Orde van behandeling van appèl.

Eers moet die appèl formeel ontvanklik verklaar word deur die vergadering wat dit moet behandel.

Nou gebeur dit soms dat ’n appèl onontvanklik verklaar word as gevolg van een of ander formele vereiste waaraan dit nie voldoen nie (byvoorbeeld punt 1(d) op p. 68: die appellant het nie presies binne 6 weke kennis gegee van sy voorneme om te appelleer nie, maar was ’n week of wat te laat).

Ek wil baie sterk daarop nadruk lê dat appèlle nie bloot op grond van formele gebreke onontvanklik verklaar word nie; dit sou kon neerkom op verdere regskrenking. (Baie van die formele gebreke is naamlik nie te wyte aan moedswilligheid of blote nalatigheid nie, maar aan onkunde ... wat na my mening met liefde verdra moet word.)

Die kwessie van laat kennisgewing van appèl mag egter nooit daarop gemik wees om die vergadering teen wie se besluit geappelleer word, daarvan te weerhou om ’n behoorlike verweer teen die appèl voor te berei nie.

Nota 1: Daar word beweer dat dit nie nodig is vir die vergadering teen wie se besluit geappelleer word, om ’n „verweer” op te stel nie; want, só word gesê, ’n appèl gaan teen ’n besluit en nie teen ’n vergadering nie. Maar: Elke appèl is tog in wese ’n beskuldiging

|144|

van regskrenking deur ’n vergadering deur middel van ’n sekere besluit; ’n „besluit” kan homself nie verweer nie, en daarom is dit logies dat die vergadering wat die besluit geneem het, voldoende geleentheid kry om homself te verweer teen die beskuldiging van regskrenking.
Nota 2: By sommige mense is daar beswaar teen die woord „verweer”. Maar, soos hierbo gesê is: ’n appèl is tog in wese niks anders nie as ’n beskuldiging dat ’n vergadering regskrenking gepleeg het deur ’n sekere besluit; daarom moet so ’n vergadering homself tog verweer teen die beskuldiging van regskrenking.

Nadat die appèl ontvanklik verklaar is, word ’n appèlkommissie aangewys. Daarná besluit die vergadering of die appèl met geslote deure behandel moet word, of nie. Alle appèlle wat om tugsake gaan, word met geslote deure behandel (kyk punt 5 van prosedure in Kerkordeboekie, p. 68).

Die appèl word nou toegelig deur die appellant(e), of deur dié persoon wat deur die appellant(e) gevra is om dit namens hom/hulle te doen. (’n Appellant mag versoek dat iemand anders sy/haar appèl toelig en/of verdedig; dit impliseer dat die appellant(e) self afstand doen van die reg tot toeligting/verdediging. Die vergadering wat oor die appèl uitspraak moet doen, moet so ’n versoek eers bewillig).

Daarná stel die vergadering teen wie se besluit die appèl gerig is, sy verweer.

Nadat die verweer gestel is, kry die vergadering geleentheid om vrae te stel. (LW: op hierdie stadium word daar nog geen beredenering toegelaat nie; dit volg eers nadat die appèlkommissie se rapport aan die orde kom.)

Die appèl word nou na die aangewese appèlkommissie verwys.

Nota: die appellant, die verweerder sowel as enige afgevaardigde in die vergadering wat so verkies, mag hulle by die Kommissie voeg om verdere insette te lewer.

Wanneer die Kommissie se rapport gereed is, is die volgorde só:
➢ rapport van Kommissie; (waar toepaslik, eers die meerderheids- en daarna die minderheidsrapport);

|145|

➢ bespreking/vrae;
➢ repliek deur rapporteur van Kommissie; (waar toepaslik, eers deur rapporteur van meerderheids- en daarna deur rapporteur van minderheidsrapport);
➢ repliek deur verweerder, indien verkies;
➢ repliek deur appellant(e), indien verkies;
➢ appellant(e) en verweerder(s) verlaat vergadering, tensy hy/hulle afgevaardig is;
➢ besluitneming deur vergadering;
➢ mededeling van uitslag aan appellant(e).

Nota: dit is belangrik dat die appellant(e) die laaste geleentheid tot repliek ontvang, aangesien daar met ’n ander volgorde onbehoorlike beïnvloeding in die proses van besluitneming beweer kan word. ’n Appèl is naamlik ’n regsaak waar daar uitspraak oor beweerde regskrenking gegee moet word. Daarom moet diegene wie se reg na bewering gekrenk is, die laaste geleentheid tot repliek ontvang.

 

Praktiese konsekwensies van geslaagde appèl.

Die effek van ’n appèl wat geslaag het, is dat die besluit waarteen geappelleer is, nietig verklaar word; die toestand van vóór die mindere vergadering se besluit wat nou nietig verklaar is, geld dus weer, asof die betrokke mindere vergadering nie so ’n besluit geneem het nie.

Die praktiese konsekwensies van ’n appèl wat geslaag het, is baiekeer eenvoudig en duidelik. Maar dit kan ook wees dat dit nie so voor die hand liggend is nie.

Kan/mag ’n meerdere vergadering nou, nadat ’n appèl geslaag het, die praktiese konsekwensies daarvan uitspel indien hy daarom gevra word?

Soms word dit geweier, met die motivering dat so iets nie op die weg van die meerdere vergadering lê nie; ’n appèl is ’n regsaak, word daar dan gesê, en die meerdere vergadering moet slegs reg spreek, en niks meer nie.

Na my mening is so ’n argument nie korrek nie en onnodig formalisties. ’n Appèl is wel ’n regsaak; maar dan ’n kerklike regsaak, wat nie hanteer word soos ’n regsaak in die wêreldlike hof nie. Indien ’n meerdere vergadering daarom gevra word, mag hy nie net nie, maar moet hy

|146|

ook verduidelik wat die praktiese konsekwensies van ’n geslaagde appèl is — ter wille van die goeie orde in die kerk en die korrekte implementering van die saak waaroor dit in die geslaagde appèl gegaan het. Dit geld veral waar ’n appèl nie op alle appèlgronde slaag nie.

In die praktyk het dit helaas al dikwels gebeur dat daar, óf as gevolg van onkunde, óf as gevolg van blote moedswilligheid, verwarring, meningsverskil en selfs onsmaaklikhede rondom so ’n saak ontstaan het. In sekere gevalle het dit uitgeloop op nuwe appèlle. Dit kon alles voorkom gewees het indien die meerdere vergadering die praktiese gevolg van ’n geslaagde appèl verduidelik het.

Sou dit nie tot welsyn van die kerke gewees het indien dit ’n staande praktyk was dat die praktiese konsekwensies van alle appèlle deur die „regsprekende” meerdere vergaderings verduidelik word nie?

 

Appèl geniet voorrang.

Indien dit gebeur dat daar op die agenda van ’n meerdere vergadering ’n appèl is, maar ook een of meer ander sake wat direk verband hou met die appèl, dan moet aan die appèl voorrang verleen word in die orde van behandeling van sake — eenvoudig omdat daar met ’n appèl reg in geding is. Die appèl sou ook geprejudiseer word indien dit nie voor die ander sake behandel word nie.

As voorbeeld: ’n predikant word deur ’n classis contracta (kyk p. 292) geskors, met aanbeveling aan die klassis met deputate van die partikuliere sinode dat hy uit die amp afgesit word. Die predikant appelleer teen die besluit van die classis contracta na die volle klassis. Daar is dus nou op die agenda van die klassis die aanbeveling tot afsetting van die predikant, en ook die predikant se appèl daarteen. Dit is baie duidelik dat daar eers uitspraak gegee moet word oor die appèl, voordat die kwessie van afsetting uit die amp (indien nog van toepassing) behandel kan word.

Indien die sake andersom behandel word, kan dit wees dat ’n predikant uit die amp afgesit word, en kort daarná weer in die amp herstel moet word nadat sy appèl geslaag het.

|147|

Kan kennisgewing van appèl uitvoering van besluite opskort? 

Op hierdie vraag kan nie ’n algemeen-geldende antwoord gegee word nie, omdat dit verskil van geval tot geval. Elke vergadering sal self, met inagneming van alle faktore, daaroor moet oordeel. Steeds moet egter in groot erns rekening gehou word met die eer van die Here en die welsyn van die kerk ... maar ook met die reg van die voornemende appellant.

Indien bostaande vraag met ’n ongekwalifiseerde „ja” beantwoord sou word, kan dit daarop neerkom dat uitvoering van ’n bepaalde besluit vir jare uitgestel sal moet word; iemand kan byvoorbeeld tot by die Algemene Sinode (kyk art. 51) appelleer.

Indien bostaande vraag aan die ander kant met ’n ongekwalifiseerde „nee” beantwoord sou word, kan daaruit weer onnodige leed en regskrenking voortspruit.

Wat egter baie sterk beklemtoon moet word, is dat niemand in ’n bepaalde geval die regering van Christus in sy kerk tot stilstand kan bring deur ’n blote kennisgewing van appèl nie.

Wanneer iemand byvoorbeeld kennis gee van appèl omdat sy beswaar teen ’n verkose ampsdraer nie gehandhaaf is nie, sou dit raadsaam wees om die bevestiging uit te stel totdat ten minste die klassis so ’n appèl van die hand gewys het; want dan het die kerkraad darem die steun van die klassis vir die bevestiging. Indien die kerkraad in so ’n geval, ondanks kennisgewing van appèl, die bevestiging wel laat deurgaan, kan dit gebeur dat hy, indien die appèl slaag, die bevestiging van so ’n ampsdraer nietig moet verklaar — iets wat begryplikerwys traumatiese gevolge kan hê.

In geval van die afsetting van ’n ampsdraer uit die amp, is daar natuurlik nie sprake van ’n moontlike „uitstel” van so ’n besluit tot afsetting nie, selfs al sou die afgesette ampsdraer dadelik mondeling kennis gee van appèl; die rede vir hierdie stelling is dat die besluit tot afsetting onmiddellike effek het. Die oomblik wanneer besluit word tot afsetting, tree die afsetting ipso facto in werking. Indien in so ’n geval ’n latere appèl sou slaag, moet daar herstel in die amp plaasvind (kyk p. 302); in

|148|

die geval van ’n predikant sou so ’n ampsherstel terugwerkende krag hê met betrekking tot sy verbeurde versorgingsvoordele.

Indien ’n vergadering sou besluit om in geval van kennisgewing van appèl wel die uitvoering van sy besluit uit te stel, sal hy so ’n besluit duidelik moet motiveer, om moontlike prejudisering van die appèl te voorkom; daar kan byvoorbeeld soos volg geargumenteer word: die vergadering het, deurdat hy die uitvoering van sy gewraakte besluit uitgestel het, blyk gegee dat hyself nie baie oortuig is van die korrektheid/ regverdigheid van sy besluit nie. So ’n redenasie kan dan daartoe lei dat die appèl onregmatig bevoordeel word.

Vergaderings moet ook versigtig wees om nie uit vrees vir die moontlike sukses van ’n eventuele appèl die uitvoering van ’n besluit te maklik uit te stel nie.

 

Mag ’n appèl verwys word na deputate om ’n volgende vergadering te adviseer?

Hierdie vraag moet baie beslis negatief beantwoord word.

Omdat ’n appèl ’n regsaak is, moet dieselfde vergadering wat die appèl in behandeling geneem het, dit ook afhandel.

Indien dit gebeur dat daar nie voldoende tyd is om ’n oorwoë besluit te neem nie, kan die vergadering verdaag tot ’n latere datum. Dit is dan dieselfde vergadering, met dieselfde afgevaardigdes en dieselfde moderamen, wat sy sitting slegs op ’n latere datum voortsit.

Die appèlkommissie kan egter in die reses sy werksaamhede voortsit, indien dit nie tydens die eerste sitting afgehandel is nie.

Visser, J. (1999) Art. 32

|149|

Artikel 32

 

Alle vergaderinge moet met aanroeping van die Naam van God geopen en met danksegging gesluit word.

 

„Alle vergaderinge...”

Hierdie bewoording lê daarop nadruk dat alle kerklike vergaderings met gebed geopen en met danksegging gesluit moet word. Dit sluit dus in vergaderings van die kerkraad en diakens vóór en ná eredienste, asook alle vergaderings van staande- en ad hoc-kommissies van die kerkraad, sowel as alle vergaderings van deputate van meerdere vergaderings.

 

Christus Hoof van sy kerk.

Die rede hiervoor is eenvoudig: Christus is die Hoof van sy kerk, en Hy regeer self sy kerk deur sy Woord en Gees; hierdie regering word egter bedien deur mense wat Christus daarvoor roep. In wese is dit dus nie die vergaderde ampsdraers wat self besluite neem in vergaderings nie, maar Jesus Christus, deur hulle as geroepenes.

Daarom moet in die openingsgebed die leiding van die Here deur sy Woord en Gees afgesmeek word; in die dankgebed moet Hy gedank word vir sy bystand en leiding.

Visser, J. (1999) Art. 33

|150|

Artikel 33

 

Die afgevaardigdes na die meerdere vergaderinge moet hulle geloofsbriewe en opdragte saambring, onderteken deur die wat hulle stuur; en elke afgevaardigde sal ’n keurstem hê, behalwe in sake wat sy eie persoon of kerk in die besonder aangaan.

 

Samestelling van meerdere vergaderings.

’n Meerdere vergadering is nie ’n vergadering van ampsdraers nie, maar ’n vergadering van kerke, deur middel van hul afgevaardigdes (kyk by art. 41).

Mindere vergaderings vaardig predikante en ouderlinge af na meerdere vergaderings.

Hierdie afgevaardigdes ontvang van die vergadering wat hul stuur, geloofsbriewe, as bewys van hul afvaardiging.

 

Geloofsbriewe.

’n Geloofsbrief (ook genoem „kredensiebrief”) is ’n bewysstuk wat ’n mindere vergadering aan sy afgevaardigdes gee as bewys dat hulle wettig deur die betrokke vergadering afgevaardig is. Op grond van die geloofsbrief ontvang afgevaardigdes keurstem in die meerdere vergadering. Daarom is dit noodsaaklik dat geloofsbriewe noukeurig voltooi moet word; die name en ampte van die afgevaardigdes moet korrek ingevul word.

Kragtens die besluit van die Sinode van 1876 (Handelinge p. 73, art. 35) moet alle geloofsbriewe „voor de afgevaardigden naar de onderscheidene kerkvergaderingen” onderteken word deur die voorsitter en skriba van die mindere vergadering. (’n Konsep-geloofsbrief verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 560, 3.6).

In so ’n geloofsbrief verklaar die mindere vergadering dat hy aan sy afgevaardigdes las en volmag gee om namens hom volgens Skrif, Belydenis en Kerkorde in alle sake wat op die meerdere vergadering sal voorkom, te help oordeel en besluit. Die mindere vergadering verbind hom daarin ook om alle besluite van die meerdere vergadering, wat nie

|151|

met die bogenoemde reël in stryd is nie, as vas en bindend te beskou en dit getrou te help uitvoer en nalewe (kyk in hierdie verband by art. 31, p. 139 e.v.).

Die roepende kerkraad van die meerdere vergadering moet noukeurig let op die korrektheid van die geloofsbriewe. Dit word juis „geloofsbrief” genoem omdat dit die afvaardiging geloofwaardig maak. Sonder wettige/korrekte geloofsbriewe mag niemand sittingsreg in ’n meerdere vergadering verkry nie, selfs al bestaan daar geen twyfel oor sy/hul afvaardiging nie. Wanneer sittingsreg verleen word aan iemand wie se geloofsbrief ontbreek of nie in orde is nie, kom die wettigheid van die betrokke meerdere vergadering met al sy handelinge in gedrang.

Daarom is dit die veiligste om geloofsbriewe nie slegs per pos aan die roepende kerkraad te stuur nie (vanweë die onbetroubaarheid van die posdiens), maar om ’n getekende afskrif aan die afgevaardigdes saam te gee.

 

Openlike Verklaring.

Meerdere vergaderings kom byeen op grond van die eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering, waarop kerkverband berus. Hierdie eenheid word verwoord in die „Openlike Verklaring” wat aan die begin van elke meerdere vergadering gelees (behoort te) word. Afgevaardigdes betoon hul instemming daarmee deur op te staan. Wie weier om instemming daarmee te betuig, verbeur sy sittingsreg.

 

Opdragte.

Hierdie artikel bepaal dat afgevaardigdes ook hul „opdragte” moet „saambring”. Hierdie opdragte moet behoorlik onderteken word „deur die wat hulle stuur”, dus die afvaardigende vergadering.

„Opdragte” sluit in beskrywingspunte, beswaarskrifte, versoeke tot revisie en appèlle wat in die agenda van die meerdere vergadering opgeneem word. In die agenda kom hierby nog die rapporte van deputate.

Slegs dié vergadering wat afvaardig, mag opdragte vir die agenda van die meerdere vergadering deurgee; ’n kerkraad mag dus nie regstreeks aan die partikuliere of nasionale of algemene sinode opdragte deurgee, met verbygang van die klassis nie; dieselfde geld toepaslik van die klassis

|152|

en die partikuliere sinode (kyk hier besluit van Sinode 1967, Handelinge p. 349, 350, art. 124).

Om praktiese redes vereis meerdere vergaderings dat alle opdragte en ander stukke vir die agenda vóór ’n bepaalde datum by die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie moet wees. Die doel hiervan is duidelik: die agenda moet opgestel word en uitgestuur word aan alle belanghebbende partye vir kennisname en voorbereiding. Hierdie reëling moet nie rigoristies gehandhaaf word nie, maar met billike oorweging. Laatgekome stukke kan deur die vergadering in die agenda opgeneem word. Slapheid en nalatigheid moet egter so effektief moontlik uitgeroei word. 

As voorbeeld: ’n sekere mindere vergadering maak ’n (slegte) gewoonte daarvan om alle opdragte en ander agendastukke te laat vir opname in die opgestelde agenda te stuur. So ’n mindere vergadering moet streng vermaan word; as dit geen resultate oplewer nie, moet die meerdere vergadering weier om sulke laatgekome stukke in die agenda op te neem. Die nalatigheid sal waarskynlik nie weer voorkom nie.

 

Geen oop agenda nie.

’n Meerdere vergadering is ’n regeerliggaam in belang van die kerke wat daarin verteenwoordig is. Daarom mag hy slegs sake in die agenda opneem wat deur die mindere vergaderings aan hom opgedra is. Dit sluit alle nuwe opdragte in, asook dié wat oorstaan van ’n vorige vergadering en wat as deputaterapport(e) weer aan die orde kom. Geen ander sake mag in die agenda opgeneem word nie, aangesien geen meerdere vergadering ’n „oop agenda” het nie.

Die vergadering stel self sy agenda vas aan die begin van sy werksaamhede.

 

Mag ’n vergadering aan sy afgevaardigdes opdrag gee hoe om te stem?

Die antwoord op hierdie vraag val in twee dele uiteen.

Eerstens: Die woord „opdrag” impliseer dat afgevaardigdes van ’n mindere vergadering nie teen ’n beskrywingspunt, beswaarskrif, versoek tot revisie, en so meer van hul afvaardigende vergadering mag praat of stem nie. Dit sou die hele begrip van afvaardiging in gedrang

|153|

bring, omdat dit sou impliseer dat elke afgevaardigde in eie persoonlike hoedanigheid in die meerdere vergadering teenwoordig is, en nie as ’n afgevaardigde van ’n mindere vergadering met ’n bepaalde opdrag nie. In die geloofsbrief word immers verklaar dat die afgevaardigdes „namens” die betrokke mindere vergadering optree.

Indien ’n afgevaardigde as gevolg van die diskussie in die meerdere vergadering tot die oortuiging kom dat hy die „opdrag” van sy afvaardigende vergadering nie langer kan steun nie, mag hy hoogstens buite stemming bly en daarvan rekenskap gee aan die vergadering wat hom afgevaardig het.

Tweedens: Wanneer ’n mindere vergadering ’n bepaalde oortuiging het oor een of meer sake in die agenda van die meerdere vergadering waarheen hy afvaardig, mag hy aan sy afgevaardigdes opdrag gee hoe om oor daardie sake te praat en te stem. In aansluiting by wat hierbo gesê is insake die begrippe „opdrag” en „afvaardiging”, het ’n mindere vergadering beslis die reg om aan sy afgevaardigdes opdrag te gee hoe om in ’n bepaalde geval te stem. Indien ’n afgevaardigde hom nie daarmee kan vereenselwig nie, spreek dit vanself dat hy nie die mindere vergadering kan verteenwoordig nie. Hy moet dus versoek om van sy afvaardiging onthef te word.

Dit spreek vanself dat wat hierbo gesê is, nie van toepassing is in die geval van ’n beskrywingspunt van die mindere vergadering na die meerdere vergadering waarteen een of meer van sy afgevaardigdes appelleer nie.

 

Keurstem.

In hierdie artikel word bepaal dat elke afgevaardigde in ’n meerdere vergadering ’n keurstem sal hê, behalwe in sake wat sy eie persoon of kerk (lees: „afvaardigende vergadering”) in die besonder aangaan. „Keurstem” is die stem wat uitgebring word in die besluitnemingsproses.

Dit beteken dat slegs wettige afgevaardigdes in meerdere vergaderings mag stem. Predikante wat nie afgevaardig is nie (kyk art. 42) asook teologiese professore het adviserende stem, dit beteken hulle mag slegs advies gee. Besoekers mag deur die vergadering spreekstem verleen word, dit beteken dat hulle slegs oor sake mag praat.

|154|

Hierdie bepaling beteken egter ook dat die „stemreg” beperk is tot sake wat nie eie persoon of afvaardigende vergadering direk aangaan nie. As voorbeelde kan genoem word:
➢ ’n appèlsaak waarby afgevaardigdes direk betrokke is: óf as appellante, óf as verweerders;
➢ ’n klag waarby ’n afgevaardigde self of ’n familielid in gedrang is.

Kortom: in enige saak waar ’n afgevaardigde nie meer objektief kan oordeel nie, verval sy keurstem en behoort hy homself aan die stemproses te onttrek. Niemand kan immers regter wees in sy eie saak nie.

Of in so ’n geval afgevaardigdes uit die vergadering gestuur moet word, moet die vergadering na gelang van omstandighede self besluit. Wanneer die teenwoordigheid van so ’n afgevaardigde nie onbehoorlike beïnvloeding sal veroorsaak nie, behoort hy nie uit die vergadering gestuur te word nie.

Visser, J. (1999) Art. 34

|155|

Artikel 34

 

In alle vergaderinge moet by die praeses ’n skriba gevoeg word om noukeurig op te skrywe wat noodsaaklik opgeteken moet word.

 

„Praeses”

Hierdie deftige woord (kyk ook artt. 35 en 41) beteken niks anders nie as „voorsitter”. (Waarom ons nog nie ontslae geraak het van hierdie en ander latynse oorblyfsels in ons Kerkorde nie, verstaan ek nie).

In artikels 35, 37 en 41 word bepaal dat ’n bedienaar van die Woord voorsitter moet wees in kerklike vergaderings (kyk by art. 37, bl. 168 vir beredenering in hierdie verband).

 

Skriba.

’n Skriba is die „sekretaris” van ’n kerklike vergadering. (Nog ’n latynse oorblyfsel!). 

Die taak van die skriba is „om noukeurig op te skrywe wat noodsaaklik opgeteken moet word.” Met ander woorde: die skriba moet noukeurig die verrigtinge en besluite van die vergadering notuleer.

 

Notule.

Die belangrikheid van korrekte en noukeurige notulering van ’n kerklike vergadering kan nooit genoeg beklemtoon word nie. Dit geld in dubbele mate van die notulering van tughandelinge.

Die notule van ’n vergadering is die enigste gesaghebbende en wettige weergawe van die verrigtinge/besluite van so ’n vergadering. Versigtigheid moet egter aan die dag gelê word wanneer oor persone genotuleer word.

Die notule moet ’n weergawe wees van wat in die agenda vasgestel is.

Dit beteken egter nie dat elke klein besonderheid van wat in die vergadering gebeur het, in die notule aangeteken moet word nie. Beraadslaginge hoef nie opgeteken te word nie, omdat persoonlike menings nie

|156|

van belang vir notule-doeleindes is nie. Daar hoef byvoorbeeld nie genotuleer te word: „Broeder So-en-so het dit en dat gesê” nie. In hierdie artikel word bepaal dat slegs dié dinge wat noodsaaklik is, in die notule opgeneem moet word.

Om uit te maak wat noodsaaklik is en wat nie, is nie altyd ewe maklik nie; daarom moet ’n skriba ’n fyn aanvoeling hê van wat hy moet notuleer, en die vergadering moet hom daarin leiding gee, indien nodig. Daarom is die goedkeuring en vasstelling van enige notule van die uiterste belang.

Oor die algemeen word slegs besluite genotuleer; dit is egter nie nodig (en ook nie wenslik) dat genotuleer word wie ’n voorstel gemaak en wie gesekondeer het nie. Ook hoef nie aangeteken te word hoeveel ten gunste van ’n voorstel was en hoeveel daarteen gestem het nie; daar word net genotuleer: „Die vergadering besluit...” (kyk hierby art. 31, p. 136 e.v.).

Dit is ook belangrik dat by elke besluit van kerklike vergaderings (waar van toepassing) ’n duidelike motivering gegee en genotuleer word (kyk p. 128).

Rapporte van kommissies hoef nie woordeliks genotuleer te word nie; dit word as bylaes in die notule aangemerk en dan geliasseer.

 

Gebruik van bandopname.

Mag ’n skriba gebruik maak van ’n bandopname om hom te help met die skryf van ’n notule? 

Hierdie vraag kan positief beantwoord word. Dit moet egter beklemtoon word dat so ’n bandopname veilig bewaar moet word, net soos die notuleboek. Nadat die betrokke notule goedgekeur is, moet die bandopname so gou moontlik vernietig word.

 

Goedkeuring van notule.

Die goedkeuring van notules moet met groot noukeurigheid gedoen word. Want, soos reeds gesê is, die notule is die enigste gesaghebbende en wettige weergawe van die verrigtinge/besluite van enige vergadering.

|157|

Die notules van meerdere vergaderings moet goedgekeur word voordat die vergadering afsluit; want (anders as ’n kerkraad) is ’n volgende vergadering ’n ander vergadering as die vorige, met ander afgevaardigdes en ’n ander moderamen.

 

Notuleboek moet genommerde bladsye hê.

Dit is noodsaaklik dat notuleboeke genommerde bladsye moet hê, om moontlike vervalsing van notules te voorkom. In die verlede het daar wel gevalle voorgekom waar notules in ongenommerde boeke vervals is.

Wanneer getikte notules in notuleboeke geplak word, of ’n aantal getikte notules in boekvorm gebind word, moet dit met groot noukeurigheid en versigtigheid gedoen word.

 

Korrespondensie voortvloeiend uit vergadering.

Korrespondensie voortvloeiend uit ’n kerkraadsvergadering is die verantwoordelikheid van die skriba. Dit moet verkieslik so spoedig moontlik ná die betrokke vergadering afgehandel word, wanneer die besonderhede nog vars in die geheue is.

Korrespondensie voortvloeiend uit meerdere vergaderings word afgehandel deur die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie.

 

Uittreksels uit notule.

Wanneer ’n vergadering geen vertroulike sake behandel het nie, is uittreksels uit en insae in notules toelaatbaar.

Persoonlike aangeleenthede is gewoonlik vertroulik; daarom mag uittreksels uit notules van sulke sake slegs met groot versigtigheid en noukeurigheid gegee word.

Persone wat belang het by vertroulike sake, het die reg op uittreksels van/insae in die toepaslike gedeelte(s) van ’n notule.

Soms word ’n „gewaarmerkte” afskrif van ’n gedeelte uit ’n notule aangevra. Indien met „gewaarmerkte” bedoel word sertifisering deur ’n „buitestaande” kommissaris van ede, soos byvoorbeeld ’n polisiebeampte, kan so ’n versoek nie bewillig word nie. Die notule van ’n

|158|

kerklike vergadering kan tog nie aan ’n buitestaander voorgelê word vir verifiëring van ’n uittreksel nie.

Die handtekening van voorsitter en skriba is in so ’n geval voldoende.

 

Verskillende skribas.

In meerdere vergaderings word by die skriba ’n adjunk-skriba gevoeg om behulpsaam te wees met die notulering.

In kerkrade is dit raadsaam om afsonderlike skribas te benoem vir die sogenaamde „breë kerkraad” en die kerkraad (ouderlinge, art. 37). Die skriba van die kerkraadsvergadering kan ook verantwoordelik wees vir die hantering van attestasies.

Visser, J. (1999) Art. 35

|159|

Artikel 35

 

Op meerdere vergaderinge presideer ’n bedienaar van die Woord en die werk van die praeses is om voor te dra en te verduidelik wat behandel moet word, toe te sien dat elkeen op sy beurt spreek, om die wat redetwis en alte heftig spreek die swye op te lê, en as hulle geen gehoor gee nie, die gepaste sensuur oor hulle uit te oefen. Sy amp hou op as die vergadering beëindig is.

(Kyk by hierdie artikel Bylae "C" agter in hierdie boek).

[Opmerking: Wat in hierdie artikel bepaal word vir die voorsitter van ’n meerdere vergadering, geld oor die algemeen ook van die voorsitter van ’n kerkraadsvergadering].

 

Bedienaar van die Woord voorsitter.

Omdat Christus Self sy kerk regeer deur sy Woord en Gees, moet ’n bedienaar van die Woord voorsitter wees in kerklike vergaderings. (Vir beredenering in hierdie verband, kyk by art. 37 bl. 168.)

 

Werk van voorsitter.

Die werk van die voorsitter kan in vier dele verdeel word:
➢ hy moet voordra en verduidelik wat behandel moet word;
➢ hy moet toesien dat elkeen op sy beurt spreek;
➢ hy moet die wat „redetwis” en alte heftig spreek, die swye oplê;
➢ hy moet „gepaste sensuur” uitoefen oor diegene wat nie sy reëlings gehoorsaam nie.

 

Voordra en verduidelik wat behandel moet word.

Hierdie taak van die voorsitter vereis dat hy homself deeglik moet voorberei en goed op hoogte moet wees van die inhoud van die agenda.

Hy moet nie slegs op hoogte wees van die volgorde van die verskillende agendapunte nie, maar hy moet homself ook intensief voorberei op die inhoud van elke agendapunt.

|160|

Vir die voorsitter van ’n kerkraadsvergadering is dit nie so moeilik nie, aangesien hy vooruit weet dat hy voorsitter van die vergadering is, asook wat in die vergadering behandel sal word.

In die geval van die voorsitter van ’n meerdere vergadering (behalwe waar die voorsitter volgens toerbeurt optree) is dit egter ’n ander storie; want geen predikant weet by voorbaat al dat hy voorsitter sal wees nie. Tog hoef dit nie ’n probleem te skep nie, want elke afgevaardigde na ’n meerdere vergadering moet homself deeglik voorberei vir die vergadering aan die hand van die agenda wat betyds beskikbaar is.

Die predikant wat verkies word as voorsitter van ’n meerdere vergadering, behoort dus alreeds voor die aanvang van die vergadering goed voorbereid te wees vir sy taak.

Ook gedurende die verloop van ’n meerdere vergadering moet die voorsitter hom vir elke dag se werksaamhede deeglik voorberei. Hy moet byvoorbeeld vooraf kommissierapporte wat sal dien, intensief bestudeer sodat hy nie slegs weet wat daarin staan nie, maar ook duidelike leiding kan gee aan die vergadering.

’n Onvoorbereide voorsitter is ’n ramp vir enige vergadering!

 

Toesien dat elkeen op sy beurt spreek.

Die voorsitter moet spreekbeurte reël soos dit aangevra word. ’n Goeie reëling in meerdere vergaderings is dat die ondervoorsitter ’n lys van sprekers saamstel, wat dan aan die voorsitter beskikbaar gestel word. By die samestelling van sulke „sprekerslyste” is dit goed dat die ondervoorsitter die volgorde van sprekers afwissel, sodat diegene wat ’n vorige keer eerste gepraat het, met ’n volgende geleentheid in die middel praat, en dan weer laaste, ensovoorts.

Om te voorkom dat die beredenering van sake ontaard in debatvoering, behoort geen vergadering as ’n reël meer as een spreekbeurt per afgevaardigde per agendapunt toe te staan nie. (Dit geld natuurlik nie toeligters, appellante en verweerders nie.)

 

Swye oplê aan die wat „redetwis en alte heftig spreek”.

’n Kerklike vergadering moet in alle opsigte ordelik verloop, tot eer van die Hoof van die kerk. Daarom moet die voorsitter ferm en beslis

|161|

orde handhaaf in die vergadering. Hy moet nie toelaat dat humeure opvlam, selfbeheersing verlore gaan en redelikheid sneuwel nie. Daarom het hy die reg (en die plig) om persone wat hulleself nie kan beheer nie, tot orde te roep en die swye op te lê. Hy mag selfs ’n persoon tydens sy spreekbeurt aansê om te swyg en te gaan sit.

Geen voorsitter wat sy sout werd is, sal toelaat dat ’n kerklike vergadering ontaard in ’n hoërskool- debat of ’n parlementsitting nie!

 

„Gepaste sensuur” uitoefen indien nodig.

Indien dit sou gebeur dat iemand hom nie wil onderwerp aan die reëling van die voorsitter nie, moet die „gepaste sensuur” oor hom uitgeoefen word.

„Sensuur” in hierdie artikel het niks te doen met tugoefening volgens artikels 76-79 KO nie. Dit veronderstel slegs verskeie moontlike dissiplinêre optredes deur die voorsitter:
➢ skerp vermaning/bestraffing;
➢ verskoning vir verkeerde optrede eis;
➢ uit die vergadering uitstuur.

In die laasgenoemde geval moet die vergadering in die oortreder se afwesigheid sy optrede beoordeel; indien nodig, moet die vergadering wat hom afgevaardig het, van sy verkeerde optrede in kennis gestel word vir verdere handeling. (Uiteindelik behoort so ’n situasie by die oortreder se kerkraad tereg te kom, wat dan met gepaste tug teenoor hom moet optree.)

Dit mag soms gebeur dat ’n vergadering in totale wanorde verval. In so ’n geval mag die voorsitter die vergadering verdaag vir ’n korter of langer periode, sodat gemoedere kan kalmeer en/of advies ingewin kan word.

 

Onpartydigheid van voorsitter.

Vir die deugdelike verloop van sake in enige vergadering is dit noodsaaklik dat die voorsitter onpartydig moet wees. Niemand moet voel dat hy, of die saak wat hy stel, benadeel word deur ’n partydige voorsitter nie.

|162|

Die voorsitter moet ook nie uit die voorsitterstoel sy mening blatant of subtiel aan die vergadering opdwing nie, al voel hy ook hoe sterk oor ’n bepaalde saak.

As daar sake aan die orde kom waarby die voorsitter direk of indirek betrokke is, moet hy vir die duur van so ’n saak die leiding oordra aan die ondervoorsitter.

Indien die voorsitter sy mag/beperkinge as voorsitter oorskry, kan die vergadering onder leiding van die ondervoorsitter gepaste stappe neem. Dit kan insluit vermaning of selfs ontheffing van sy pligte as voorsitter, waarná ’n ander voorsitter gekies moet word. Ook in hierdie geval sal die vergadering wat hom afgevaardig het, in kennis gestel moet word vir verdere optrede.

Visser, J. (1999) Art. 36

|163|

Artikel 36

 

Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.

 

„Seggenskap” en „gesag”. 

In die raamwerk van hierdie artikel moet onderskei word tussen „seggenskap” en „gesag”. In die kerk het slegs Christus, as Hoof van die kerk, gesag. Hy dra sy gesag ook aan geen mens oor nie. Hy oefen egter sy gesag uit deur mense wat Hy daartoe roep en wat sy gesag bedien. Hierdie mense (ampsdraers) verkry dan van Christus seggenskap in die bediening van sy gesag.

Deur middel van hierdie ampsdraers (as afgevaardigdes) verkry ook kerklike vergaderings „seggenskap”.

Daar moet dus nie gepraat word van die gesag van kerklike vergaderings nie, maar van die gesag in kerklike vergaderings. Want in die kerk is daar slegs een gesag, en dit is die gesag van Christus.

Daar mag egter wel gepraat word van die seggenskap van kerklike vergaderings, soos in hierdie artikel.

 

„Dieselfde” seggenskap.

In hierdie artikel word die verhouding tussen die verskillende kerklike vergaderings bepaal.

Die verskillende kerklike vergaderings het „dieselfde” seggenskap, dit beteken „identiese” of „gelyke” seggenskap.

Die vergaderings mag dus nie in hiërargiese rangorde van laag na hoog ingedeel word met laere, hoëre en hoogste seggenskap nie. Elke kerklike vergadering oefen „dieselfde” seggenskap uit, naamlik die seggenskap wat Christus as Hoof aan hulle verleen. Daar is dus geen wesenlike verskil tussen die seggenskap van die verskillende vergaderings nie.

|164|

Kragtens artikel 30 het elke vergadering „seggenskap” in dié sake wat by hom tuishoort. Dit beteken dat kerklike vergaderings normaalweg nie die reg het om in mekaar se sake „in te meng” nie.

Tog het die verskillende vergaderings „seggenskap” oor mekaar, soos in hierdie artikel bepaal word. Dit impliseer dat die mindere vergaderings hierdie seggenskap moet eerbiedig en hulle aan die besluite van meerdere vergaderings moet hou (kyk art. 31).

 

Mag ’n meerdere vergadering ingryp in die sake van ’n mindere vergadering?

Op p. 130 is beredeneer dat en wanneer ’n meerdere vergadering mag ingryp in die sake van ’n mindere vergadering.

Hier kan bygevoeg word dat wanneer ’n klassis ’n kerkraad uit die amp afsit kragtens artikel 79 KO (kyk p. 130 e.v. hiervan), die gemeente tydelik onder die sorg van ’n naburige kerkraad geplaas word, totdat ’n nuwe kerkraad ingestel is (kyk art. 39 KO).

Visser, J. (1999) Art. 37

|165|

Artikel 37

 

In alle kerke moet ’n kerkraad wees wat bestaan uit die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge, wat gereeld vergader onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord of die bedienaars om die beurt as daar meer as een is.

(Kyk by hierdie artikel Bylae „C” agter in hierdie boek).

 

Uit wie bestaan die kerkraad?

Volgens hierdie artikel bestaan die kerkraad uit die ouderlinge en die bedienaar(s) van die Woord.

Die diakens vorm dus nie deel van die kerkraad nie. As die Kerkorde praat van „kerkraad”, word altyd die ouderlinge en die predikant(e) bedoel. Waar die sogenaamde „breë kerkraad” bedoel word, praat die Kerkorde konstant van „die kerkraad en (met) die diakens” (kyk byvoorbeeld artt. 4, 5,10, 22/24, 25, 81).

Nou lyk dit egter of daar ’n teenstrydigheid is tussen hierdie artikel en artikel 30 van die NGB, waar ons lees dat die diakens saam met die predikante en ouderlinge die kerkraad vorm. Hierdie teenstrydigheid is egter slegs skyn. In sy uitnemende werk oor die NGB (Vierde Deel, p. 22 e.v., veral p. 27 en 28) verduidelik A.D.R. Polman die saak só dat die diakens by die kerkraad gereken is as hulpouderlinge (vgl. hier KO art. 38).

 

Gereelde byeenkomste.

Die Kerkorde bepaal slegs dat die kerkraad gereeld moet vergader; die frekwensie van die vergaderings of die aantal per jaar word nie gestipuleer nie. Dit is ’n saak vir elke plaaslike kerkraad. Sorg moet egter gedra word dat vergaderings nie te ver uitmekaar gereël of te lank uitgestel word tot nadeel van die kerk nie.

|166|

Buitengewone vergaderings.

Soms gebeur dit dat ’n spoedeisende saak ’n buitengewone vergadering noodsaak, dit wil sê ’n vergadering wat buite die gereelde vergaderings val en dus nie op die jaarprogram verskyn nie.

In so ’n geval is dit noodsaaklik dat alle betrokke ampsdraers kennis kry van so ’n vergadering. Indien slegs een ampsdraer nie kennis ontvang het nie en hy beswaar aanteken teen die hou en die handelinge van so ’n vergadering, kan dit gebeur dat die besluite van so ’n vergadering nietig verklaar word en dus van nul en gener waarde is.

In die sogenaamde „konsistorie-vergaderings” voor/ná eredienste behoort daar nie ingrypende sake behandel te word nie; dit moet liewer wag vir ’n gereelde vergadering, of in dringende gevalle moet daar ’n buitengewone vergadering belê te word.

 

Kworum van vergaderings.

Op p. 124 is daarop gewys dat die Sinode van 1920 besluit het dat kerkrade hulle eie kworum bepaal; die Sinode ag dit egter wenslik dat dit nie minder sal wees nie as die helfte plus een. Indien ’n kerkraad sy kworum vasstel op minder as die helfte plus een (byvoorbeeld een-derde) kan dit maklik gebeur dat besluite van ’n vergadering waar daar net-net so ’n kworum was, op ’n volgende vergadering, waar daar meer ampsdraers teenwoordig is, herroep word.

 

Kworum van „breë kerkraadsvergadering”.

Omdat ’n „breë kerkraadsvergadering” ’n vergadering is van die kerkraad saam met die diakens, word die kworum daarvan bereken volgens die aantal ouderlinge wat teenwoordig is. Gestel ’n „breë kerkraad” bestaan uit 22 ouderlinge en 22 diakens (totaal 44); in die vergadering is daar slegs 10 ouderlinge, maar 20 diakens; uit die somtotaal van 44 is daar dus 30 teenwoordig, wat meer is as die helfte plus een (23). Tog is daar geen kworum van ouderlinge nie, en dus geen kworum van die kerkraad nie. So ’n vergadering kan dus nie voortgaan nie omdat dit onwettig sal wees, en sy besluite geen geldigheid sal hê nie.

|167|

Agenda.

Die agenda word deur die vergadering self vasgestel. Volgens artikel 30 mag daarin slegs kerklike sake opgeneem word.

Dit is wenslik dat aan die vergadering ’n konsep-agenda voorgelê word, wat goedskiks deur die skriba en/of voorsitter opgestel word.

Voordat die vergadering begin met die behandeling van die verskillende sake in die konsep-agenda, moet daar geleentheid gegee word aan die vergadering om sake wat dringend behandel moet word, by te voeg. Daarna moet die vergadering die agenda vasstel.

Die voorsitter moet nie toelaat dat die teenwoordige ampsdraers buite die vasgestelde agenda ronddwaal nie; ook nie dat sake wat afgehandel is, weer onder bespreking kom nie — behalwe in noodsaaklike gevalle, en dan met toestemming van die volle vergadering.

Die bekende (maar absurde) item „Algemeen” hoort nie tuis in die agenda van enige kerkraadsvergadering nie. Hierdie item kan maklik daarin ontaard dat daar ’n nuwe vergadering gehou word met ’n wawyd-oop agenda en wat soms langer kan duur as die ordelik-gereelde vergadering!

Aan die einde van die vergadering moet daar geleentheid gegee word vir die opgawe van beskrywingspunte vir die volgende vergadering.

Op die vraag watter sake hoort tuis by die kerkraad, en watter by die kerkraad met die diakens, is daar eerstens die stipulasies in die Kerkorde, byvoorbeeld artt. 4, 5, 10, 22/24, 25, 81). Daarby is daar talle ander sake waaroor kerkrade self kan besluit, met in agneming van die ampsomskrywings van predikante (art. 16), ouderlinge (art 23) en diakens (art. 25). ’n Volledige onderskeidende katalogus van wat by watter vergadering tuishoort, is nie wenslik nie, omdat omstandighede van plek tot plek verskil.

Wat die insameling van kerklike bydraes betref, is dit nie buite orde dat die diakens versoek word om hierdie dienswerk te verrig nie; dit is egter nie deel van hul ampspligte volgens artikel 25 nie. (Die ideaal is natuurlik dat lidmate self hul bydraes by die eredienste afdra.) Die toesig oor en vermaning in geval van nalatige en uitstaande bydraes

|168|

is egter die ampswerk van die ouderlinge en nie die taak/plig van die diakens nie.

Administrasie van finansies en eiendomme kan ook goedskiks deur die „breë kerkraad” hanteer word.

 

„Gemeentevergaderings”.

In die Gereformeerde kerkregering het ’n sogenaamde „gemeentevergadering” geen „status” nie; die naam is ook foutief; die korrekte benaming is: „vergadering van die kerkraad saam met die gemeente”.

Hierdie korrekte naam sê dan ook presies wat die „status” van hierdie vergadering is: dit is ’n kerkraadsvergadering waar die medewerking van die gemeente ingeskakel word. In die uitvoering van artikels 22 en 24 (verkiesing van ouderlinge en diakens) moet die gemeente ingeskakel word (kyk p. 98, 100). So ook by die beroeping van ’n predikant, alhoewel artikels 4 en 5 dit nie eksplisiet noem nie; in die Konsep-beroepsbrief word dit soos volg bewoord: „... dat die Gereformeerde Kerk ... op ... onder leiding van die kerkraad vergader het en dat u op hierdie vergadering as herder en leraar van hierdie Kerk verkies is” (kyk p. 20, 21).

Dit is ook wenslik en beslis aanbevelenswaardig dat die kerkraad by ingrypende besluite (soos byvoorbeeld die oprigting van ’n kerkgebou, kombinasievorming of -opsegging, ens.) die medewerking van die gemeente vra.

Hoewel die kerkraad nie gebonde is om die oortuiging van die gemeente in ag te neem of uit te voer nie, sal dit tog onverstandig wees om ná so ’n vergadering saam met die gemeente die mening van die gemeente te ignoreer. Maar tog is die finale besluitneming die verantwoordelikheid van die kerkraad.

 

Bedienaar van die Woord voorsitter.

Hierdie artikel bepaal dat die kerkraad vergader onder voorsitterskap van die predikant ... nie omdat die predikante altyd die beste voorsitters is nie; inteendeel, daar sit soms in kerkraadsvergaderings ouderlinge/diakens wat oor baie meer bekwaamhede as voorsitter beskik. Maar omdat Christus sy kerk regeer deur sy Woord en Gees, moet die bedienaar van die Woord as voorsitter optree in kerkraadsvergaderings. In

|169|

kerklike vergaderings word daar immers nie menslike slimmighede en redenasies teenoor mekaar opgeweeg vir uiteindelike besluitneming nie; daar word gevra wat die Here in sy Woord sê.

Predikante moet hulleself dan ook goed voorberei vir elke vergadering; daar is min dinge so frustrerend en gevaarlik as ’n onvoorbereide voorsitter.

 

Predikante om die beurt voorsitter.

Waar daar in ’n gemeente meer as een predikant is, moet hulle om die beurt as voorsitter optree, om elke moontlikheid van oorheersing uit te skakel.

Dit mag wees dat een van die predikante die gawe het om ’n baie bekwame voorsitter te wees; tog mag hy nie die „permanente” voorsitter wees ten koste van die ander nie. Die predikante moet om die beurt optree as voorsitter.

 

Mag ’n ouderling as voorsitter in ’n kerkraadsvergadering optree?

(Kyk p. 22.)

Op die vraag of ’n ouderling in afwesigheid van die predikant mag optree as voorsitter in ’n kerkraadsvergadering, kan bevestigend geantwoord word. Daar mag ’n saak of twee behandel word waarby die predikant belang het en dus nie teenwoordig behoort te wees nie; of die predikant kan skielik kort vóór die vergadering siek word of dringend weggeroep word.

In sodanige gevalle (wat uit die aard van die saak hoë uitsonderings moet wees) mag ’n ouderling wel as voorsitter optree, maar dan op die volgende voorwaardes:
➢ die saak moet só dringend wees dat nie gewag kan word vir die predikant of konsulent nie;
➢ die besluit(e) van hierdie vergadering moet so gou moontlik bekragtig word deur ’n volgende vergadering waar die predikant of konsulent voorsitter is.

|170|

Die taak van die voorsitter.

Die taak van die voorsitter van ’n kerklike vergadering word in artikel 35 behandel (waar dit gaan om die voorsitter van meerdere vergaderings).

Tog kan die stipulasies in artikel 35 ook toegepas word op die voorsitter van ’n kerkraadsvergadering. (In Bylae „C” word meer uitvoerig hieraan aandag gegee).

 

Uitpraat uit kerkraadsvergadering.

Normaalweg is sake wat in kerkraadsvergaderings behandel en besluit word, vertroulik. Daarom is dit onordelik dat ampsdraers los en vas na buite daaroor praat.

Dit geld veral konfidensiële aangeleenthede, soos die predikant se versorging, onderlinge vermanings kragtens artikel 81, tugsake en so meer.

Tog is daar soms dinge wat nie so vertroulik hanteer hoef te word nie en waarby die gemeente ook belang het. In sulke gevalle is dit die heel verstandigste dat daar ’n amptelike bekendmaking (by wyse van afkondiging of in die nuusbrief) aan die gemeente gedoen word; uit die aard van die saak sal die kerkraad self so ’n bekendmaking formuleer en/of goedkeur.

Dit is gewaagd as elke ampsdraer op sy eie sulke sake „bekendmaak”; daar kan op hierdie wyse verskillende (verwarrende) weergawes van dieselfde saak gegee word, wat oplaas tot skade van die onderhawige aangeleenthede mag lei.

Visser, J. (1999) Art. 38

|171|

Artikel 38

 

Waar ’n kerkraad vir die eerste maal of opnuut ingestel word, moet dit geskied met advies van die klassis. As die aantal ouderlinge klein is, kan die diakens deur plaaslike reëling by die kerkraad gereken word; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.

 

Kerkraad vir eerste maal of opnuut ingestel.

Hierdie bewoording in artikel 38 impliseer die „afstigting” van ’n nuwe kerk (lees:gemeente), of die herinstelling van ’n kerk wat voorheen ontbind het. Die Kerkorde reël nie die „afstigting” van ’n nuwe kerk nie, maar wel die voorsiening van ’n benodigde kerkraad vir lidmate (wat ’n kerk vorm).

 

Advies van klassis.

Die kerke (wat in ’n klassis saamkom) in die omgewing van so ’n nuwe kerk, het belang by die stigting daarvan. Daarom moet die klassis oordeel oor byvoorbeeld die noodsaaklikheid, lewensvatbaarheid t.a.v. finansies en ampsgawes, asook die grense van so ’n te stigte kerk. (Vir die draagwydte van die begrip „advies”, kyk p. 56 hiervan).

 

Aansoek om stigting van bykomende kerk.

Indien daar behoefte ontstaan aan die stigting van ’n bykomende kerk, word daar by die klassis daarom aansoek gedoen by wyse van ’n „konsepakte van afstigting”. Die inisiatief daartoe kan uitgaan van ’n bestaande kerk(e), of ook van ’n aantal lidmate wat as selfstandige kerk geïnstitueer wil word. In laasgenoemde geval sal so ’n aansoek eers deur die plaaslike kerkraad bewillig moet word.

 

Konsepakte van afstigting.

In so ’n konsepakte van afstigting moet die volgende besonderhede (waarop reeds tussen kerkraad en gemeente ooreengekom is) aan die klassis voorgelê word:
➢ die redes vir afstigting;
➢ die grense van die nuwe kerk;

|172|

➢ die lidmatetal;
➢ die aanwesigheid van ampsgawes;
➢ die finansiële aspekte;
➢ die posisie van ouderlinge en diakens wat lidmate sal wees van die nuwe kerk (kyk „Opmerking 1” hier onder);
➢ die posisie van die predikant(e) van die afstigtende kerk, indien van toepassing (kyk Opmerkings 2 en 3 hieronder).

[Opmerkings:

1. Ek is van oortuiging dat dit die ordelikste is indien ouderlinge en diakens, wat lidmate sal wees van die nuwe gemeente, formeel uit die ampte losgemaak word by die afstigtende kerk en weer formeel in die ampte bevestig word in die nuwe kerk, saam met bykomende ouderlinge en diakens wat verkies sal word, indien nodig. As daar wel bykomende ampsdraers verkies moet word, spreek dit vanself dat daar nie 3 Sondae vir goedkeuring kan verloop nie; goedkeuring moet staande die vergadering van die nuwe kerk se lidmate verkry word. Ná bevestiging moet die Ondertekeningsformulier van die nuwe kerk onderteken word (kyk p. 36).

2. Wanneer daar in die gemeente van wie afgestig word, twee (of meer) predikante is, kan die volgende metodes oorweeg word om te bepaal watter predikant aan die afgestigte gemeente „toegewys” word. (In geval van meer as twee predikante, is die veronderstelling dat die afgestigte gemeente slegs een predikant benodig):
➢ Die mees-ideale metode (teoreties gesproke) sou wees dat die afgestigte gemeente (Gemeente X) ná afstigting selfstandig beroep. Die risiko hieraan verbonde is egter die moontlikheid dat geeneen van die predikante van die „ou” gemeente (Gemeente Y) beroep word nie ... wat die goeie reg van die Gemeente X is. (Gemeente X, as ’n selfstandige gemeente, mag naamlik nie by voorbaat daartoe beperk word om slegs een van die twee predikante van Gemeente Y te beroep nie; dit sal die selfstandigheid en die regte van Gemeente X, asook die beroepingsprosedure onder biddende opsien tot die Here, ernstig aantas.) Dit laat Gemeente Y dan met die dilemma dat hy moontlik met twee (of meer) predikante kan „agterbly” (met heelwat minder lidmate as voorheen) wat sy versorgingstaak

|173|

ernstig sal bemoeilik. Die enigste oplossing in so ’n situasie (aangesien sustentasie vanweë gebrek aan sustentasiefondse nie ’n praktiese moontlikheid is nie) is om een van die predikante (of almal, om die ongemaklikheid van ’n keuse uit te skakel) volgens art. 11 KO te „ontslaan” (kyk p. 56 e.v.).
➢ ’n Tweede moontlikheid is dat, nadat die afstigting formeel deur kerkraad en gemeente goedgekeur is, daardie deel van die gemeente wat gaan afstig, in ’n vergadering onder toesig van die kerkraad en onder leiding van die konsulent (omdat al die predikante persoonlik betrokke is ) deur middel van geslote stembriewe gaan besluit watter predikant hy verkies. (Die verskil tussen hierdie moontlikheid, in onderskeiding van ’n normale beroeping soos in moontlikheid 1 hierbo bespreek, is dat die „afstigtende lidmate” in hul keuse beperk word tot die „huidige” predikante van die „ou” gemeente.)
➢ ’n Derde alternatief is dat die lidmate van albei „dele” van die gemeente in ’n vergadering onder toesig van die kerkraad en onder leiding van die konsulent (omdat al die predikante persoonlik betrokke is ) afsonderlik deur middel van geslote stembriewe gaan kies watter predikant hulle wil hê. Die gevaar by hierdie metode is natuurlik dat albei „dele” dieselfde predikant kan kies. Enige „oplossing” van so ’n probleem sal in meerdere of mindere mate onbevredigend wees. Daar kan byvoorbeeld (vooraf) besluit word dat die verkose predikant „toegewys” word aan daardie gemeente wie se lidmate die meeste stemme op hom uitgebring het (persentasiegewys, omdat albei die „gemeentes” waarskynlik nie eweveel lidmate sal hê nie). Waar daar meer as twee predikante betrokke is, sal ’n proses van eliminasie waarskynlik toegepas moet word. Vertroulikheid met betrekking tot die uitslag van die stemming is natuurlik gebiedend noodsaaklik, ten einde die gevoelens van die predikante te beskerm.

Die verskil tussen moontlikhede 2 en 3 teenoor moontlikheid 1 is dat daar nog nie ’n selfstandige gemeente is aan wie „voorgeskryf” word nie; albei hierdie moontlikhede vind naamlik plaas tydens die proses van afstigting.

|174|

Die metode wat uiteindelik toegepas gaan word met alle moontlike konsekwensies moet vooraf deur die kerkraad (met of sonder samewerking van die gemeente) finaal vasgestel word, sodat daar met die praktiese implementering daarvan geen „toutrekkery” in die gemeente gaan plaasvind nie.

3. Indien daar besluit is dat die predikant (of een van die predikante, as daar meer as een is) die predikant van die nuwe kerk sal wees, moet hy formeel van die afstigtende kerk losgemaak word volgens artikel 10 KO en weer formeel in die nuwe kerk bevestig word volgens artikel 5 KO. Hy hoef egter nie weer formeel beroep te word nie. Ná bevestiging moet die ondertekeningsformulier van die klassis onderteken word.

Hierdie aspekte moet vooraf deur die afstigtende kerk (kerkraad en gemeente) gereël word en in die konsepakte van afstigting uiteengesit word].

 

Die taak van die klassis.

Die klassis beoordeel die sake wat in die akte van afstigting voorgelê word. Indien die noodsaaklikheid vir en die lewensvatbaarheid van so ’n nuwe kerk uitgemaak is, stel die klassis die grense daarvan vas en wys ’n konsulent vir die nuwe kerk aan, asook ’n classis contracta (kyk p. 33) vir die afstigting.

Die klassis is nie gebonde aan die grense wat in die konsepakte van afstigting voorgestel word nie; hy mag dit wysig indien dit nodig of gewens is. Die belange van alle kerke in die gebied van die klassis moet immers gedien word.

 

Die afstigting.

Die fisiese afstigting en alle reëlings in verband daarmee, vind plaas onder leiding van die kerkraad van die kerk waarvan afgestig word. (Indien van meer as een kerk afgestig word, word onderling gereël watter kerkraad die afstigting sal hanteer). Hierdie kerkraad roep die classis contracta op vir die afstigtingsvergadering. Hierdie afstigtingsvergadering is ’n vergadering van die kerkraad(e) met gemeente(s), saam met die afgevaardigdes van die twee kerke wat deel van die

|175|

classis contracta vorm; tydens hierdie vergadering word die afstigting formeel afgehandel.

Ná die vergadering word ’n erediens gehou, waartydens die bevestiging van ampsdraers en die ondertekening van die toepaslike Formuliere plaasvind.

Die volgende moet met die oog op/in die afstigtingsvergadering gereël word:
➢ die opstel van ’n akte van afstigting ooreenkomstig die besluite van die klassis, in drievoud (of meervoudig as die afstigting van meer as een kerk plaasvind): een vir elke betrokke kerk, en een vir die klassis; in hierdie akte word die datum van afstigting, lidmatetalle (doop- en belydende lidmate), naam van die nuwe kerk, aantal wyke, grense, posisie van predikant(e) opgeneem;
➢ alfabetiese naamlys van doop- en belydende lidmate wat nie onder tug is nie, met ’n aparte naamlys van lidmate wat wel onder tug is; (let wel: geen attestasies word afgegee aan lidmate van die nuwe kerk nie, aangesien hulle nie na ’n reeds bestaande kerk vertrek nie);
➢ reëlings vir bediening van Woord en sakramente (wat tyd en plek van eredienste insluit, indien nie eerder gereël nie);
➢ reëlings van kategetiese onderrig, indien nie eerder gereël nie;
➢ die voorlees van die afstigtingsakte;
➢ voorlees van name van stemgeregtigde belydende lidmate met die oog op verkiesing van ampsdraers, indien nodig; (ter wille van tydbesparing kan so ’n naamlys vooraf skriftelik aan die lidmate beskikbaar gestel word);
➢ vrae en antwoorde, indien daar onduidelikhede is;
➢ formele voorstel tot afstigting, en goedkeuring daarvan;
➢ verkiesing van bykomende ouderlinge en diakens, indien nodig (kyk „Opmerking 1” op p. 172);
➢ bevestiging van ouderlinge en diakens (kyk ,,Opmerking 1” op p. 172);
➢ bevestiging van predikant, indien van toepassing (kyk „Opmerking 3” op p. 174);
➢ ondertekening van afstigtingsakte deur verteenwoordigers van alle betrokke kerke (insluitende afgevaardigdes van naburige kerke wat saam die classis contracta vorm).

|176|

Die kerkraad van die afstigtende kerk is verantwoordelik om ’n afskrif van die afstigtingsakte aan die klassis te besorg.

Ná die erediens, wat volg op die afstigtingsvergadering, moet daar ’n vergadering gehou word van die nuwe kerkraad met diakens onder leiding van die aangewese konsulent, waar die volgende sake behandel moet word:
➢ aanwys van funksionarisse (skribas, kassier vir kerkraad en diakens);
➢ verkiesing van voorsitter van diakens (deur die diakens);
➢ aanwys van noodsaaklike kommissies;
➢ aankoop van notuleboeke, kasboek(e) en ander skryfbehoeftes en benodigdhede;
➢ opstel van lidmaatregisters (doop- en belydende lidmate);
➢ afdra en kontrole van kerklike bydrae deur lidmate;
➢ opening van bankrekening en magtiging vir ondertekening van tjeks;
➢ versorging van eiendomme, indien van toepassing;
➢ bewaring van dokumente;
➢ werksaamhede van susters en jeug;
➢ opstel van jaarprogram van kerkraad en gemeente;
➢ vergoeding van konsulent (kyk p. 21 e.v. hiervan vir werk van konsulent);
➢ volgende vergadering(s).

 

Toetrede van bestaande kerk(e) tot verband van GKSA.

Wanneer ’n bestaande kerk(e) buite die verband van die GKSA begeer om in te skakel by die verband van die GKSA, moet dit hanteer word deur die klassis(se) binne wie se gebied sulke kerke geleë is (kyk besluit van Sinode 1955, Handelinge p. 319, punt 4).

Die betrokke klassis sal so ’n aansoek aan ’n diepgaande studie moet onderwerp. As belangrikste vereiste vir so ’n inskakeling sal gestel moet word eenheid in belydenis, liturgie en kerkregering.

Indien so ’n aansoek toegestaan word, sal alle kerke in kerkverband daarvan kennis gegee moet word.

|177|

Die klassis en grensgeskille tussen kerke. 

Soms ontstaan daar geskille tussen kerke oor bestaande grense. Die vraag ontstaan of die klassis in so ’n geskil enige funksie het.

As antwoord op hierdie vraag moet allereers verwys word na artikel 30 KO. Dit impliseer dat ’n klassis hoegenaamd nie betrokke moet raak in so ’n geskil voordat die betrokke kerke nie eers ernstig en langdurig oor die kwessie onderhandel het nie.

Indien daar geen oplossing deur onderhandelings verkry kan word nie, kan die saak vir arbitrasie en finale beslissing na die klassis verwys word (kyk besluit van Sinode 1955, Handelinge p. 319, laaste paragraaf van punt 4 en veral die „Besluit” by punt 4b onder aan die bladsy. Kyk ook p. 132 hiervan).

 

Handhawing van bestaande grense.

Grense tussen kerke is daar om gerespekteer te word, ter wille van goeie orde.

Daar moet egter dadelik bygesê word dat handhawing van grense nie absoluut en rigoristies toegepas moet word nie; soepelheid in hierdie opsig moet sterk aangemoedig word, maar slegs in gevalle van aanvaarbare verdienstelikheid. Daaroor sal kerke onderling moet beraadslaag en ooreenkom.

In geval van gebrek aan konsensus tussen kerke, kan die saak vir arbitrasie en finale beslissing na die klassis verwys word. Klassisse sal egter moet vasstel of onderhandelings langdurig met erns gevoer is (kyk in hierdie verband die besluit van Sinode 1955 waarna hierbo verwys is, asook p. 132 hiervan).

In die praktyk het dit egter al gebeur dat lidmate besware het, om watter rede ook al, om in die kerk te bly waar hulle geografies tuishoort (kerk A); dan doen hulle aansoek om met attestasie te „vertrek” na ’n naburige kerk wat vir hulle aanvaarbaar is (kerk B). Die kerkraad (van kerk A) weier op goeie gronde om so ’n versoek te bewillig; die lidmate sê dan gemeenskap met kerk A op, en ná ’n tydjie doen hulle by kerk B aansoek om opgeneem te word as lidmate.

Die volgende word in hierdie verband opgemerk:

|178|

➢ die bogenoemde optrede van lidmate is hoegenaamd nie aanvaarbaar nie, om die eenvoudige rede dat hulle nie die kerklike weg (van beswaar en appèl) gevolg het nie;
➢ die kerkraad van kerk B moet die aansoek summier van die hand wys en die lidmate terugverwys na die kerkraad van kerk A, en hulle adviseer om die kerklike weg te volg;
➢ indien die kerkraad van kerk B die lidmate egter wel opneem, kom dit neer op verbreking van kerkverband. Kerk A se kerkraad moet onmiddellik ernstig beswaar daarteen maak; indien kerk B se kerkraad so ’n beswaar van die hand sou wys, moet kerk A se kerkraad daarteen appelleer na die klassis in wie se ressort kerk B val.

 

Samesmelting van twee of meer kerke.

Indien twee of meer kerke sou besluit om saam te smelt tot een kerk, moet ’n versoek tot hierdie effek by die klassis (of klassisse indien meer as een klassis betrokke is) ingedien word. So ’n versoek sal alle toepaslike gegewens (soos redes tot samesmelting, naam van nuwe kerk, posisie van predikante, ouderlinge en diakens, situasie met betrekking tot eiendomme, en so meer) moet bevat.

Die klassis(se) sal deeglik moet ingaan op alle besonderhede (ook op die instemming van die betrokke lidmate) voordat bewilliging gegee word. Indien daar lidmate is wat op goeie gronde verkies om by ’n kerk in te skakel wat nie by die samesmelting betrokke is nie, sal hulle keuse met erns en deernis oorweeg moet word.

 

Ontbinding van kerk.

Soms gebeur dit dat ’n kerk nie meer kan voortbestaan nie, as gevolg van ’n drastiese afname in lidmaatgetalle en/of ampsgawes en/of geldelike middele.

Hoewel hierdie artikel nie reëlings vir so ’n situasie bevat nie, is dit vanselfsprekend (en absoluut noodsaaklik) dat ook in so ’n geval die advies van die klassis ingewin moet word. ’n Versoek tot ontbinding moet aan die klassis voorgelê word. In hierdie versoek sal alle besonderhede vervat 

moet wees, soos byvoorbeeld die posisie van die predikant (en emerituspredikant, indien van toepassing), lidmate en eiendomme.

|179|

Indien toestemming tot ontbinding gegee word, moet die kerke in kerkverband daarvan kennis gegee word.

Iets wat nie genoeg benadruk kan word in so ’n geval nie, is die verantwoordelikheid van die klassis om prakties-uitvoerbare reëlings te tref met betrekking tot die posisie en versorging van die predikant en/of emerituspredikant (indien van toepassing).

Die volgende is van belang:
➢ aan watter kerk sal die predikant en/of emerituspredikant voortaan ampshalwe verbind wees, met gepaardgaande verantwoordelikheid vir sy/hulle versorging;
➢ die kerkverband moet in kennis gestel word dat die predikant wag op ’n beroep;
➢ keerdatum in geval die predikant nie ’n beroep ontvang nie (kyk p. 57).

 

Kerkraad „te klein”.

In hierdie artikel word bepaal dat die diakens by die kerkraad gereken kan word as die aantal ouderlinge te klein is; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.

Die rede vir hierdie bepaling is dat gesonde kerkregering daaronder kan ly (en hiërargie makliker kan insluip) as die aantal ouderlinge te klein is.

In so ’n situasie tree die diakens dan ten volle op as ouderlinge (wat mede-verantwoordelikheid in tugsake en afvaardiging na die klassis insluit). Per implikasie kan die ouderlinge, volgens hierdie bepaling, ook as diakens optree, indien nodig; afsonderlike vergaderings van ouderlinge en diakens is uit die aard van die saak dan onnodig.

 

Kombinasie van kerke.

Soms kan ’n kerk nie selfstandig ’n predikant behoorlik versorg nie. Dan kan hy oorweeg om met ’n naburige kerk in kombinasie te tree.

Aangesien die besonderhede van kombinasievorming uitvoerig op p. 29 e.v. bespreek is, word nie hier verder daarop ingegaan nie.

Visser, J. (1999) Art. 39

|180|

Artikel 39

 

Plekke waar nog geen kerkraad kan wees nie, moet deur die klassis onder die sorg van ’n naburige kerkraad gestel word.

 

Interpretasie van artikel. 

Na aanleiding van ’n beskrywingspunt oor die interpretasie van hierdie artikel, naamlik wanneer ’n lidmaat verspreidwonend is en of dit bepaal word t.o.v. die lidmaat of t.o.v. die gemeente, het die Sinode van 1955 besluit dat die beantwoording van die vraag tuishoort by die betrokke klassis (Handelinge p. 374).

Die Sinode van 1961 het egter bepaalde riglyne gegee met betrekking tot die bearbeiding van verspreidwonende lidmate (Handelinge p. 446 e.v.).

 

Geestelike versorging van verspreidwonendes.

In hierdie artikel gaan dit basies om die geestelike versorging van lidmate wat onbereikbaar ver van ’n geïnstitueerde kerk (lees: gemeente) woonagtig is (selfs in die buiteland).

Die kerke in gebiede waar moontlike verspreidwonende lidmate kan wees, moet ’n opname van sulke gevalle maak en dit onder die aandag van die klassis bring.

In sulke gevalle moet die klassis, in wie se gebied sulke lidmate woon, die lidmate plaas onder die sorg van ’n naburige kerkraad.

Dit impliseer die volgende:
➢ die name van sulke lidmate (doop en belydend) moet (verkieslik afsonderlik) in die lidmaatregister van die „versorgende” kerk ingeskryf word en afsonderlik in die statistiek vir die Almanak aangegee word (kyk besluit van Sinode 1955, Handelinge p. 262, „Art. 220. Statistiek in Almanak.”).
➢ ’n ouderling en diaken moet so gou moontlik gekies/aangewys word vir die bearbeiding van hierdie lidmate;

|181|

➢ bediening van Woord en sakramente aan hierdie lidmate, kategetiese onderrig aan dooplidmate, sowel as huisbesoek moet so gereeld moontlik plaasvind;
➢ indien nodig, moet ander kerke finansiële bystand gee aan dié kerk wat die verspreidwonendes bearbei;
➢ verspreidwonende lidmate moet deur middel van hul lewenswandel en die uitdra van die gereformeerde godsdiens probeer om die kerk in daardie gebied uit te brei, sodat later ’n selfstandige kerk geïnstitueer kan word.

Visser, J. (1999) Art. 40

|182|

Artikel 40

 

Die diakens moet gereeld saamkom om met die aanroeping van die Naam van God te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref en die bedienaar van die Woord moet daaroor goed toesig hou en, indien nodig, daarby teenwoordig wees.

 

Vergadering van diakens.

Kragtens artikel 40 moet die diakens as ’n afsonderlike vergadering konstitueer, met ’n eie voorsitter, skriba en kassier uit eie geledere. Dit is beslis noodsaaklik, in die lig van die belangrikheid van kerklike barmhartigheidswerk; diakens moet ook gesamentlik besluite neem oor die uitvoering van hul ampswerk in onderskeie gevalle.

 

Aantal vergaderings.

Die Kerkorde bepaal hier slegs dat die diakens gereeld moet vergader; soos in artikel 37, word die frekwensie en die aantal per jaar nie gestipuleer nie; dit word plaaslik gereël. Die vergaderings van die diakens moet egter nie te ver uitmekaar gereël of te lank uitgestel word dat die dienswerk van die diakens daardeur benadeel word nie.

 

Aanroeping van die Naam van God.

Hier sluit artikel 40 aan by artikel 32, waar bepaal word dat alle vergaderings met aanroeping van die Naam van God geopen moet word. Die diakens is naamlik in hulle ampswerk en vergaderings nie besig met hul eie sake nie, maar met die barmhartigheidswerk van Jesus Christus, die Koning van die kerk.

 

Handel oor eie ampsake.

Hier sluit artikel 40 aan by artikels 25 en 26; die diakens vergader gereeld om te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref. Die diakens oefen hul ampswerk uit in oorleg met mekaar, en nie elkeen afsonderlik soos hy goedvind nie. Die uitoefening van die diakonale ampswerk is breedvoerig in artikel 25 behandel.

|183|

Toesig deur predikant.

Hier sluit artikel 40 aan by artikel 37, waar bepaal word dat die bedienaar van die Woord voorsitter moet wees in kerkraadsvergaderings.

Die toesig oor die diakens se ampswerk deur die predikant spruit voort uit die feit dat die diakens gesante/ampsdraers is van die Koning van die kerk, Jesus Christus. Omdat Jesus Christus sy kerk regeer deur sy Woord en Gees, spreek dit vanself dat die Woord van die Here vir die diakens die Rigsnoer moet wees vir die uitoefening van hulle ampswerk. Daarom is dit vanselfsprekend dat die bedienaar van die Woord toesig moet hou dat die wil van die Koning ook uitgevoer word in die ampswerk van die diakens.

Sonder die lig van God se Woord kan die ampswerk van die diakens ontaard in blote maatskaplike liefdadigheid. Die Bevestigingsformulier vir diakens bepaal dan ook dat die diakens die gawes moet uitdeel „met vertroosting uit die Skrif”.

 

Teenwoordigheid van predikant.

Hier word nie bepaal dat die predikant by alle vergaderings van die diakens teenwoordig moet wees nie, maar slegs indien dit nodig sou wees. Dit is egter belangrik dat die predikant beskikbaar en bekombaar moet wees wanneer die diakens vergader, sodat hy teenwoordig kan wees indien die diakens dit nodig vind.

By wyse van voorbeeld: in gemeente A word die maandelikse vergaderings só gereël dat die kerkraad eers saam met die diakens vergader (die „breë kerkraadsvergadering”); daarná vergader die kerkraad en diakens afsonderlik — die kerkraad onder voorsitterskap van die predikant (soos in art. 37 bepaal) en die diakens onder voorsitterskap van hul eie voorsitter. Indien daar iets is waar die diakens die raad/advies/leiding van die predikant nodig het, is hy dus bekombaar.

 

Diakonale konferensies.

Oor diakonale konferensies is gehandel op p. 114 e.v. onder artikel 25. Hier moet net weer beklemtoon word dat diakens nie met hul probleme en advies-versoeke na die diakonale konferensies moet gaan nie, maar eerstens na die eie predikant/kerkraad.

|184|

Verteenwoordiging van diakens in meerdere vergaderings.

In die verlede was daar sterk aandrang vanuit die geledere van diakens om ook in meerdere vergaderings verteenwoordig te word; diakens moet dan ook, soos ouderlinge, afgevaardig word na meerdere vergaderings; sodoende sal hulle in staat wees om persoonlik in meerdere vergaderings insette te lewer oor diakonale sake.

Hierdie aandrang is egter gebore uit ’n verkeerde persepsie van die samestelling en aard van meerdere vergaderings.

’n Meerdere vergadering is naamlik nie ’n vergadering van ampsdraers nie, maar van kerke, deur middel van hul afgevaardigdes (kyk by art. 41). Die diakens is dus wel verteenwoordig in meerdere vergaderings, deur middel van hul kerk se afgevaardigdes, al is daar geen enkele diaken teenwoordig/afgevaardig nie.

Visser, J. (1999) Art. 41

|185|

Artikel 41

 

Die klassis is ’n vergadering van naburige kerke wat elkeen ’n bedienaar van die Woord en ’n ouderling of, waar nie ’n bedienaar is nie, twee ouderlinge afvaardig. Die plek en die tyd van die volgende vergadering word deur die vorige vergadering bepaal en dit mag nie meer as drie maande uitgestel word nie. Op hierdie vergadering moet die bedienaars van die Woord om die beurt presideer of anders die een wat deur die vergadering gekies word, maar dieselfde bedienaar mag nie op twee agtereenvolgende vergaderinge gekies word nie.
Die praeses moet onder andere vra of die kerke kerkraadsvergaderings hou, of die kerklike tug uitgeoefen word, of die armes en die skole versorg word, en of daar iets is waarin ’n kerk die oordeel en die hulp van die klassis vir sy regte bestuur nodig het. Op die laaste vergadering voor die partikuliere sinode moet die afgevaardigdes na hierdie sinode gekies word
.

 

Vergadering van kerke.

’n Klassis (soos trouens alle meerdere vergaderings) is ’n vergadering van kerke en nie ’n vergadering van ampsdraers nie.

Naburige kerke wat een is in belydenis, liturgie en kerkregering moet op gereelde grondslag bymekaar kom om gesamentlik te beraadslaag oor sake van gemeenskaplike belang, met inagneming van die beginsel in artikel 30.

Hierdie kerke word verteenwoordig deur hul kerkrade (ouderlinge en predikant, art. 37).

Om te praat van „die vergadering van die klassis” of van „klassisvergadering” is nie korrek nie, omdat die woord „klassis” alreeds die begrip „vergadering” bevat. Daar moet liewer gepraat word van die „byeenkoms” of die „sitting” van die klassis.

Die klassis is ook nie ’n permanente vergadering nie, maar duur slegs van konstituering tot sluiting. ’n Volgende klassis is weer ’n ander klassis, al is dit ’n vergadering van dieselfde kerke. ’n Klassis mag

|186|

egter verdaag om sy werksaamhede op ’n latere datum voort te sit; dit moet egter ’n voortsetting van dieselfde vergadering wees, met dieselfde afgevaardigdes (miskien met uitsondering van een of twee, waar ’n sekundus teenwoordig is of ’n gewysigde geloofsbrief ingedien word) en dieselfde moderamen.

 

Afvaardiging.

Die klassis is ’n vergadering van naburige kerke, verteenwoordig deur hul kerkrade.

Omdat dit egter prakties nie moontlik is dat die hele kerkraad in die klassis teenwoordig kan wees nie, vaardig die kerkraad sy predikant en een ouderling af om namens hom in die klassis teenwoordig te wees en op te tree. Waar daar nie ’n predikant is nie, word twee ouderlinge afgevaardig.

Wanneer geen ouderling beskikbaar is om afgevaardig te word nie, mag ’n diaken en (in hoogs uitsonderlike gevalle) selfs ’n lidmaat afgevaardig word.

Aan hierdie afgevaardigdes word ’n geloofsbrief gegee as bewys dat hulle wettig deur die afvaardigende vergadering gestuur is. (Kyk p. 150 vir „Geloofsbriewe”).

Afvaardiging van ouderlinge kan by wyse van vrye verkiesing of toerbeurt geskied.

Omdat ’n klassis ’n vergadering van kerke is, is dit is vanselfsprekend dat alle kerke ewe veel afgevaardigdes sal hê, sodat ’n kleiner kerk nie deur ’n groter kerk oorheers/oorstem kan word nie.

Opmerklik dat hierdie artikel nie bepaal dat dit kerkrade is wat moet afvaardig nie, maar kerke. Daarom is dit wettig as die afvaardiging hanteer word deur die kerkraad saam met die diakens — te meer nog aangesien die sake in die agenda van die klassis nie beperk is tot sake van die sogenaamde „smal” kerkraad nie.

 

Plek en tyd.

Die plek en tyd van die volgende klassis word deur die voorafgaande vergadering bepaal.

|187|

Verder bepaal hierdie artikel dat klassisse minstens 4 keer per jaar moet vergader („... dit mag nie meer as drie maande uitgestel word nie.”). Ek is egter nie bewus van een klassis wat 4 keer per jaar vergader nie. Klassisse moet egter daarteen waak om hul aantal byeenkomste nie só te verminder dat dit tot nadeel van die kerke strek nie.

[In ’n sekere handleiding by die Kerkorde word ten onregte die opmerking gemaak dat die Sinode van 1964 hierdie bepaling geskrap het. Ook ontbreek hierdie woorde foutiewelik in die weergawe van die Kerkorde agter in die Psalmboek. ’n Studie van die Handelinge van Sinode 1964 oor hierdie aangeleentheid toon egter dat die betrokke Deputate wel so ’n aanbeveling aan die Sinode gemaak het (Handelinge p. 71; die hele punt „F” van p. 67 tot p. 73 is die motivering van die Deputate, kyk punt E1 op p. 67); die Sinode het egter nie hierdie aanbeveling aanvaar nie, soos blyk uit die weergawe van artikel 41 op p. 60 van die Handelinge (punt „C” op p. 52 verklaar uitdruklik dat slegs die finale teks en besluite in die Handelinge weergegee word — soos op p. 53 onder tot 67 bo.). Die feit dat die Deputate vir die uitgee van die Handelinge die motivering van die Deputate in die Handelinge opgeneem het, is verantwoordelik vir hierdie verwarring].

Persoonlik meen ek dat die Sinode van 1964 hierdie bepaling sonder enige verlies vir die kerke wel uit artikel 41 kon verwyder.

 

Voorsitter.

Soos artikel 35 (kyk ook artikel 37) uitdruklik bepaal, moet ’n bedienaar van die Woord voorsitter wees van die klassis (kyk p. 168 vir beredenering hiervan).

Die voorsitter kan by wyse van toerbeurt aangewys word, of by wyse van vrye verkiesing. Om elke sweem van hiërargie te vermy, mag dieselfde predikant nie op twee agtereenvolgende vergaderings gekies word nie.

Toerbeurt is in ’n klassis die aangewese manier om ’n voorsitter aan te wys, sodat elke predikant op hierdie wyse ondervinding kan opdoen van voorsitterskap in meerdere vergaderings. Wanneer ’n jong, onervare predikant volgens toerbeurt voorsitter moet wees, kan ’n ouer en meer ervare predikant dan as ondervoorsitter gekies word om die voorsitter te help.

|188|

Indien daar besonder moeilike sake in die agenda voorkom, kan die voorsitter by wyse van vrye verkiesing aangewys word.

 

Die agenda.

Behalwe die sake wat kragtens artikel 33 (kyk p. 151 e.v.) in die agenda van die klassis opgeneem word, bepaal hierdie artikel dat die voorsitter aan elke kerk se afgevaardigdes ’n aantal vrae oor sekere aspekte moet vra. Hierdie vrae beklemtoon die doel van die klassis, naamlik dat kerke op mekaar moet ag gee en mekaar moet bystaan.

In die Kerkordeboekie (p. 71) word 12 vrae by hierdie artikel genoem. Die Sinode van 1955 het egter besluit dat hierdie vrae moontlik slegs as leidraad by die toepassing van artikel 44 gebruik kan word. Hierdie Sinode het ook sekere besluite geneem insake die verhouding tussen artikels 41 en 44 (Handelinge p. 179-186, veral p. 185, punt 4).

 

Afvaardiging na partikuliere sinode.

Op die laaste vergadering van die klassis voor die partikuliere sinode moet die afgevaardigdes na hierdie sinode gekies word.

Hieroor het die Sinode van 1976 besluit dat die klassis ewe veel predikante en ouderlinge afvaardig na die partikuliere sinode; indien daar nie genoeg predikante is nie, word hulle getal deur ouderlinge aangevul. Die partikuliere sinode bepaal die getal afgevaardigdes wat deur elke klassis in sy ressort gedeputeer moet word (Handelinge p. 464).

Visser, J. (1999) Art. 42

|189|

Artikel 42

 

Waar in ’n kerk meer as een bedienaar van die Woord is, kan ook die wat nie volgens die bogenoemde artikel afgevaardig is nie, in die klassis teenwoordig wees met adviserende stem.

 

Wese van klassis. 

Omdat die klassis ’n vergadering van kerke is en nie van ampsdraers nie, is die bepaling in hierdie artikel van aktuele betekenis.

Waar daar in ’n kerk meer as een predikant is, mag slegs een na die klassis afgevaardig word (art. 41). Die ander predikant(e) mag egter die klassis bywoon met „adviserende stem”; dit beteken dat so ’n predikant in die klassis mag praat, maar nie mag stem nie. 

Hierdie vergunning word gewoonlik ook toegestaan aan emeriti.

 

Ook in ander meerdere vergaderings?

Die bepaling in hierdie artikel met verwysing na die klassis, word normaalweg ook toegepas in ander meerdere vergaderings: predikante wat nie afgevaardig is na die ander meerdere vergaderings nie, word ook in daardie vergaderings toegelaat „met adviserende stem”.

Dit spreek vanself dat sulke predikante nie van die vergunning in hierdie artikel misbruik moet maak en die tyd van sulke vergaderings onnodig in beslag moet neem nie.

Die nasionale sinode moes in die verlede, weens gebrek aan voldoende tyd, besluit om aan geen besoeker (behalwe dié wat amptelik deur ander instansies/kerke gestuur is) spreekgeleentheid te gee nie.

 

Ook ouderlinge?

Na analogie van bogenoemde vergunning aan nie-afgevaardigde predikante, is dit in meeste meerdere vergaderings die gebruik om ook bona fide ouderlinge wat nie afgevaardig is nie, in die vergadering toe te laat „met adviserende stem”.

Visser, J. (1999) Art. 43

|190|

Artikel 43

 

Aan die einde van die klassikale en ander meerdere vergaderings moet sensuur uitgeoefen word oor die wat iets tugwaardigs in die vergadering gedoen of die vermaning van die mindere samekomste verontagsaam het.

 

Sensuur.

„Sensuur” in hierdie artikel beteken: vermaning, teregwysing, berisping of waarskuwing. Dit is dus nie ’n „tugartikel” in die betekenis van artikels 76-79 nie. Dit moet ook onderskei word van die sensuur wat die voorsitter in ’n bepaalde situasie toepas soos in artikel 35 bepaal word.

Dit kan naamlik gebeur dat iemand tydens die vergadering of gedurende ’n verdaging iets gesê of gedoen het wat vermaning verdien in die gees van hierdie artikel; dan kan die vergadering voor afsluiting hierop terugkom en die nodige sensuur uitoefen.

 

Doel.

Die doel van hierdie sensuur is allereers om die eer van God te handhaaf. Tweedens om die waardigheid van die vergadering as ’n kerklike vergadering te beskerm. Derdens om die eenheid en goeie verhouding tussen afgevaardigdes as broeders in die Here te herstel.

 

Wyse.

Hierdie sensuur kan op verskillende maniere hanteer word. Die voorsitter kan self inisiatief daartoe neem; of ’n afgevaardigde kan versoek dat hierdie artikel geïmplementeer word; of die vergadering kan aan die einde van die vergadering ’n onderlinge rondvraag reël. Die vergadering kan selfs ’n klag formuleer wat aan die oortreder se kerkraad gestuur word vir behandeling.

Wanneer sensuur oor die voorsitter uitgeoefen moet word, spreek dit vanself dat die ondervoorsitter dan die leiding van die vergadering moet oorneem.

|191|

Verontagsaming van vermaning van mindere samekomste.

Sommige kerkregkundiges verklaar hierdie laaste gedeelte van artikel 43 só dat sensuur ook uitgeoefen moet word oor iemand teen wie ’n klag ingedien is dat hy die vermaning van ’n mindere vergadering verontagsaam het.

Vir my aanvoeling kan dit nie korrek wees nie, veral in die lig van artikel 30: so ’n klag hoort immers nie tuis by ’n meerdere vergadering nie (waaroor hierdie artikel gaan), maar by so ’n persoon se kerkraad.

Die enigste aanvaarbare verklaring van hierdie laaste gedeelte is na my mening van toepassing op ’n afgevaardigde wat deur sy afvaardigende vergadering vermaan is om ’n sekere opdrag uit te voer (kyk art. 33) en dit dan nie gedoen het nie. Dit kan ook toegepas word op iemand wat deur sy afvaardigende vergadering vermaan is om homself in die meerdere vergadering te beheers, terwyl hy homself dan een of meer kere te buite gegaan het.

Visser, J. (1999) Art. 44

|192|

Artikel 44

 

Die klassis moet minstens twee van die oudste, mees ervare en geskikte bedienaars van die Woord as visitatore benoem om in alle kerke van die klassis gereeld kerkvisitasie te hou, vas te stel of die ampsdraers hulle ampte getrou waarneem, by die suiwerheid van die leer bly, die Kerkorde in alles onderhou, die stigting van die gemeente en onderwys van die jeug behoorlik na hulle vermoë bevorder, sodat hulle diegene wat nalatig in een of ander bevind word, betyds broederlik kan vermaan en met raad en daad alles kan help reël wat bevorderlik is vir die vrede, die opbou en belange van die kerk.

 

Betekenis en doel van visitasie.

„Visitasie” kom van die Latynse woord „visito” wat beteken: „dikwels sien”, „besoek” (vergelyk die Engelse „visit”).

Visitasie is dus ’n besoek wat by ’n kerk afgelê word, en nie ’n „visentering” nie. Dit is geen inspeksie wat deur die klassis uitgevoer word nie.

Die doel van visitasie is, breed gestel, dat kerke in klassisverband op mekaar sal ag gee en mekaar sal bystaan sodat hulle, deur getroue ampsbediening, steeds meer sal beantwoord aan die merktekens van die ware kerk volgens artikel 29 NGB.

As hierdie artikel reg toegepas word, is dit vir kerke van onskatbare, selfs onmisbare waarde.

 

Artikel 44 en artikel 49.

Dikwels word die bewering gemaak dat visitatore nie deputate is soos in artikel 49 beskryf nie. Daar is selfs al beweer dat artikel 44 ,,ingrypend verskil” van artikel 49. 

Op grond van hierdie „verskil” moet visitatore dan ook nie aan die klassis verslag doen van hul werksaamhede nie; hulle moet slegs rapporteer dat hulle hul opdrag uitgevoer het, maar nie hoe hulle dit gedoen het nie. Dit is dan nie die klassis wat beoordeel of visitatore hul

|193|

opdrag behoorlik uitgevoer het nie, maar Jesus Christus, die Koning van die kerk. (Ek kom later meer breedvoerig hierop terug).

Hierdie bewerings is, met respek gesê, nie korrek nie.

Visitatore is niks anders nie as deputate van die klassis met ’n gespesifiseerde (breë) opdrag. Hierdie opdrag in artikel 44 kan egter moeilik deur die klassis „omskryf” word in die gees van artikel 49, omdat dit so wyd is as die hele veld van kerkwees! Artikel 44 gee slegs die breë hooflyne waarvolgens visitasie gedoen moet word.

Ons vind egter ook in artikel 49 ’n „onomskrewe opdrag”, naamlik in die geval van die deputate van die partikuliere sinode: hulle moet aan klassisse hulp bied „in voorkomende moeilikhede”; hoe gaan hierdie opdrag „omskryf” word?!

Om dus te beweer dat artikels 44 en 49 ingrypend verskil, omdat die opdrag aan deputate volgens artikel 49 deur die betrokke meerdere vergadering gegee word, terwyl die opdrag aan visitatore deur die Kerkorde gegee word, gaan baie beslis nie op nie. Die klassis kan die „opdrag” wat in artikel 44 aan visitatore gegee word, in verskillende onderafdelings verdeel en „presiseer”, soos hy in belang van die kerke goedvind.

Artikels 44 en 49 staan baie beslis nie teenoor mekaar nie; ons kan sê dat hulle aanvullend tot mekaar beskou moet word.

 

Die visitatore.

Hierdie artikel bepaal dat die visitatore „twee van die oudste, mees ervare en geskikte” bedienaars van die Woord moet wees.

As hierdie kwalifisering op die letter gevolg word, sal dié twee „oudstes” só besig wees met jaarlikse visitasie, dat hulle baie min tyd oor sal hê vir diens in hul eie gemeentes!

Die praktyk maak dus ’n letterlike toepassing hiervan onmoontlik.

In sommige klassisse is dit die reël dat alle predikante as visitatore aangewys word. Hierdie „paneel” van visitatore doen dan self die indeling van pare en die toewysing van wie by watter kerk visitasie sal doen.

|194|

Indien hierdie reëling inhou dat die jong, onervare predikante elkeen saam met ’n ouer, meer ervare predikant ’n kerk besoek, het dit die voordeel dat die jong predikante sodoende goeie ervaring van visitasie kan opdoen.

Die aard van visitasie maak dit egter noodsaaklik dat (ten minste een van) die visitatore ervare en geskik moet wees.

 

Ouderlinge as visitatore?

Alhoewel hierdie artikel slegs praat van predikante as visitatore, sal dit prinsipieel nie verkeerd wees om byvoorbeeld twee predikante en een ouderling as visitatore te stuur nie. 

Predikante is egter oor die algemeen beter onderlê in byvoorbeeld die dogma en die kerkreg as ouderlinge, wat hulle meer toegerus maak vir visitasie.

Dit neem egter nie weg nie dat heelwat ouderlinge oor die algemeen (veral saam met een of twee predikante) baie geskik sal wees as visitatore. (Met hierdie siening van my is ek in die goeie geselskap van Bouwman, Van Dellen en Monsma, en Jansen).

 

Gewone en buitengewone visitasie.

In hierdie artikel word slegs gewone, gereelde visitasie gereël. Met hierdie visitasie bly die plaaslike predikant en skriba in funksie.

Daar is egter ook, na analogie van die gewone visitasie volgens artikel 44, gevalle waar buitengewone visitasie noodsaaklik is, byvoorbeeld in geval van ernstige wanbestuur, verdeeldheid of selfs dreigende skeuring in ’n bepaalde kerk.

Inisiatief tot die reëling van buitengewone visitasie in ’n bepaalde kerk kan uitgaan van die klassis, of van die betrokke kerkraad, of van ’n groep lidmate en/of ampsdraers, of selfs van ’n naburige kerkraad.

Buitengewone visitasie, afhangende van die omstandighede, behoort deur meer as slegs twee visitatore hanteer te word.

In hierdie geval is dit wenslik dat een van die visitatore optree as voorsitter en ’n ander as skriba.

|195|

Afkondiging van visitasie. 

Alhoewel hierdie artikel dit nie eksplisiet bepaal nie, is dit logies en noodsaaklik dat die gewone sowel as die buitengewone visitasie herhaaldelik en duidelik aan die gemeente afgekondig moet word.

Die doel hiervan is sodat nie slegs die kerkraad nie, maar ook die lidmate op hoogte kan kom van die komende visitasie; lidmate en/of individuele ampsdraers wat behoefte het om die visitatatore oor een of ander saak te ontmoet, kan op grond van hierdie afkondigings betyds reëlings in hierdie verband met die kerkraad tref.

 

Ontmoeting van individue met visitatore.

Ontmoetings van individuele lidmate en/of ampsdraers met die visitatore moet deur sulke individue by die kerkraad aangevra word. Visitatore het, op grond van artikel 30, nie die vryheid om lidmate te woord te staan sonder medewete en toestemming van die kerkraad nie; so iets sou die selfstandigheid van die plaaslike kerk ernstig in gedrang bring, en van visitatore selfstandige inspekteurs maak!

Hiermee saam moet ook benadruk word dat kerkrade sulke versoeke nie ligtelik van die hand moet wys nie; dit kan maklik die indruk skep dat die kerkraad dinge het om vir die visitatore weg te steek.

Indien sulke versoeke wel geweier word, kan teen hierdie besluit van die kerkraad geappelleer word na die eersvolgende klassis. Visitatore behoort hulle hoegenaamd nie in te meng in so ’n saak tussen ’n kerkraad en lidmate nie.

Indien sulke ontmoetings wel deur die kerkraad bewillig is, moet die visitatore dit hanteer op ’n wyse wat uiteindelik die welsyn van die betrokke gemeente sal dien.

Dit mag meebring dat visitasie baie langer kan duur as slegs een aand of een dag; dit kan verskillende ontmoetings met sulke individue sowel as met die kerkraad nodig maak. (Ek is bewus van ’n geval waar buitengewone visitasie oor ’n periode van 2 jaar gedoen is!).

 

Die inhoud van visitasie.

Volgens hierdie artikel val gewone visitasie uiteen in 3 dele:

|196|

➢ vasstel of ampsdraers hul ampte getrou waarneem, by die suiwerheid van die leer bly, die kerkorde in alles onderhou, en die stigting van die gemeente en onderwys van die jeug behoorlik na hulle vermoë bevorder;
➢ nalatiges betyds broederlik vermaan; hierdie vermaning kan aan ’n individu, aan ’n paar, aan ’n groep ampsdraers (byvoorbeeld ouderlinge en/of diakens) of aan die hele kerkraad met diakens gerig word;
➢ met raad en daad alles kan help reël wat bevorderlik is vir die vrede, die opbou en belange van die kerk.

Visitatore hoef dus nie ’n spesiale opdrag van die klassis te kry vir vermanings en/of reëlings soos hierbo genoem nie; dit sit opgesluit in hulle breë opdrag kragtens Kerkorde.

 

Vasstel of versorging van predikant behoorlik is?

(Kyk p. 54)

Dikwels word die opmerking gemaak dat visitatore geen navraag mag doen na die traktement van die predikant nie, omdat dit uitsluitlik ’n saak is van die plaaslike kerk. So ’n navraag sou dan die selfstandigheid van die plaaslike kerk in gedrang bring.

Hierdie argumentasie gaan egter hoegenaamd nie op nie.

Artikel 44 bepaal immers dat die visitatore onder andere moet vasstel of die Kerkorde „in alles” onderhou word. Dit sluit vanselfsprekend artikel 11 in! (Artikel 11 bepaal dat kerkrade verplig is om hul predikante met behoorlike onderhoud te versorg.) Op grond waarvan sou artikel 11 uitgesluit word van hierdie opdrag aan visitatore?

My ondervinding het geleer dat dit juis kerkrade is wat nalatig is in die behoorlike versorging van hul predikante wat beswaard is wanneer visitatore hieroor navraag doen.

Ek wil beweer dat artikel 11 ’n kardinale en onmisbare onderdeel is van die werk van visitatore.

Geen predikant kan immers self ’n beter versorging „beding” nie; ’n konsulent het nie die vryheid om sonder ’n kerkraad se versoek/ bewilliging „in te meng” in die kwessie van die predikant se versorging

|197|

nie. Visitasie is al moontlikheid wat oorbly om ’n verbetering in ’n predikant se versorging te bewerkstellig.

En juis daarom het visitatore myns insiens ’n belangrike roeping ten opsigte van die predikant se behoorlike versorging.

 

Verslag van visitasie aan klassis.

Oor die vraag of visitatore van hulle werk verslag moet doen aan die klassis, is daar ongelukkig sterk meningsverskil.

Vir my aanvoeling is die antwoord hierop egter baie eenvoudig: soos in die geval van alle deputate en kommissies, moet die visitatore wel deeglik aan die klassis (wat hulle gestuur het) verslag doen — en dan nie slegs dat hulle hul opdrag uitgevoer het nie, maar ook hoe hulle dit gedoen het (kyk p. 192, by „Artikel 44 en artikel 49”).

Vir die Sinode van 1955 is die kwessie van rapport deur visitatore só logies en vanselfsprekend, dat dit nie eers beredeneer word nie; daar word eenvoudig besluit: „Die rapport wat oor die visitasie aan die klassis voorgelê word, moet dan ook by voorkeur sodanig wees dat juis die belangrike aspekte van die toesig beklemtoon word.” (Handelinge p. 185, punt (3). Die Sinode het reeds eerder in sy besluit visitasie gekwalifiseer as „toesig”, p. 184, J.V.).

Die volgende argumente kan bykomend aangevoer word ten gunste van verslag deur visitatore aan die klassis:
➢ visitasie is toesig van kerke op mekaar, en nie toesig van enkele ampsdraers op kerke nie; kerke in klassis kan egter nie hierdie toesig doen sonder verslag van visitatore oor die uitvoering van hul opdrag nie;
➢ die Skrif leer dat alle dienste, selfs die apostels, verslag gedoen het van werk wat aan hulle opgedra is en wat hulle uitgevoer het (kyk byvoorbeeld Handelinge 14: 27; 15: 4, 1953-Vertaling). Visitatore word deur die klassis aangewys met ’n bepaalde opdrag (soos bewoord in art. 44); daarom moet hulle ook, in die gees van Skrif en Kerkorde, van hulle handelinge verslag doen aan die klassis;
➢ die beginsel in artikel 49 van notule hou om verslag te doen aan diegene wat gestuur het, geld vanselfsprekend ook in die geval van artikel 44 (kyk argumentasie op p. 192 e.v. oor artt. 44 en 49);

|198|

➢ om te sê dat dit nie die klassis is wat oordeel of die visitatore hul opdrag behoorlik uitgevoer het nie, maar Jesus Christus, is (met alle respek gesê) ’n absurde redenasie, wat eintlik nie reaksie en kommentaar regverdig nie. Jesus Christus kan wel die werk van visitatore beoordeel, en Hy doen dit ook, soos Hy alle dienswerk in sy kerk beoordeel. Dit is egter nie die punt in geding nie. Waarom dit hier wel gaan, is dit: waarom sal Jesus Christus alle ander ampswerk in sy kerk laat beoordeel en beslis deur geroepenes-in-vergadering, behalwe die werk van visitatore? Hierdie redenasie kan die toets beslis nie deurstaan nie. Ek kan dan ook nêrens in die Skrif of in die Belydenis of in die Kerkorde enige steun daarvoor vind nie;
➢ indien die klassis die uitvoering van visitatore se opdrag nie mag/moet/kan beoordeel nie, word die deur wawyd oopgemaak vir hiërargie en eiewilligheid deur visitatore; visitatore kan dus na willekeur oor kerke regeer en hul eie sin en wil afdwing, sonder dat die klassis enige kontrole daaroor het; voorts ontneem dit kerkrade die moontlikheid om in die klassis die werk wat visitatore by hulle gedoen het, te bespreek, daarteen beswaar te maak of dit te korrigeer. In die praktyk het dit al gebeur dat visitatore deur die klassis teruggestuur is om hulle (foutiewe) werk te gaan regmaak; sonder verslag van visitatore oor die uitvoering van hul opdrag, sou so iets nie moontlik wees nie — met begryplike skade vir die welsyn van die kerke;
➢ om te beweer dat nie die rapport van die visitatore nie, maar die visitasie self die belangrikste is (soos wel geredeneer word), maak ’n ongegronde en onaanvaarbare teenstelling tussen die werk en die rapport van visitatore.

Dit is dus nie slegs gewens dat visitatore verslag lewer aan die klassis oor die uitvoering van hul opdrag nie; dit is beslis noodsaaklik — vir die „heilsame uitwerking” van visitasie en vir die welsyn van die kerke.

Hierdie verslag van die visitatore moet verkieslik in drievoud opgestel word: een vir die klassis, een vir die visitatore self en een vir die kerkraad waar die visitasie gehou is.

Laasgenoemde afskrif moet betyds voor die byeenkoms van die klassis aan die betrokke kerkraad beskikbaar gestel word; die kerkraad moet

|199|

geleentheid hê om deeglik daarvan kennis te neem, daaroor te besin en, indien nodig, reaksie daarop voor te berei vir die klassissitting.

Visitasie dra naamlik ’n sterk gesprekskarakter; by visitasie is daar twee „partye” betrokke: die kerkraad, en die klassis (deur middel van die visitatore); elke „party” moet ten volle in die geleentheid gestel word om homself op hoogte te bring van die weergawe van die gesprek wat plaasgevind het, sodat hy daarop kan reageer indien nodig.

 

Slegs kardinale sake wat die klassis se aandag benodig.

In hierdie verslag van die visitatore aan die klassis moet slegs die belangrikste sake, wat die aandag van die klassis benodig, aangetoon word.

Waar die klassis ’n „paneel” van visitatore aanwys (kyk p. 193), is dit ’n praktiese en waardevolle metode dat die „paneel” voor die klassissitting byeenkom en alle rapporte aanhoor. Die belangrikste sake uit elke rapport word uitgelig en vir aandag van die klassis in ’n gesamentlike rapport opgeneem; die verskillende afsonderlike rapporte word dan as bylaes by hierdie gesamentlike rapport gevoeg.

 

Woordbediening deur visitator(e).

Moet een of albei van die visitatore ook met Woordbediening voor die gemeente optree?

Op hierdie vraag kan geantwoord word dat Woordbediening voor die gemeente, streng gesproke, nie deel vorm van die visitatore se opdrag nie.

Tog kan dit waardevol wees as minstens een van die visitatore die Woord aan die gemeente bedien. By daardie geleentheid kan die gemeente ook ingelig word oor kardinale sake wat tydens die visitasie na vore gekom het.

Op hierdie wyse word die gemeente ook direk betrek by die visitasie wat gedoen is.

Visser, J. (1999) Art. 45

|200|

Artikel 45

 

Elke meerdere vergadering benoem ’n korresponderende kerkraad of deputate vir korrespondensie wat alle stukke en dokumente van die vergadering ontvang en bewaar en sy handelinge op die volgende vergadering besorg.
Eweneens benoem elke meerdere vergadering ’n roepende kerkraad om die volgende vergadering op te roep en te ontvang op die vasgestelde tyd en plek of anders op die tyd en plek wat die roepende kerkraad in die geval van die partikuliere sinode, volgens advies van sy klassis, en in geval van die algemene sinode, volgens advies van sy partikuliere sinode, bepaal
.

 

Taak van korresponderende kerkraad.

Die korresponderende kerkraad moet alle onafgehandelde korrespondensie behartig; sekere korrespondensie-items word tydens die vergadering deur die skribaat afgehandel, maar meeste van die korrespondensie wat voortspruit uit die vergadering moet deur die korresponderende kerkraad afgehandel word.

Verder moet die korresponderende kerkraad alle agendastukke ontvang.

In sy rapport aan die vergadering moet die korresponderende kerkraad melding maak van opdragte wat uitgevoer is en stukke wat ontvang is vir die vergadering. Die rapport van die korresponderende kerkraad vorm normaalweg die agenda van die vergadering, en dien gewoonlik net na die konstituering en die rapport van die roepende kerkraad.

Dit word sterk aanbeveel dat die korresponderende kerkraad die vergadering adviseer oor die behandeling van die agenda aan die hand van ’n werksagenda. Dit is vir die voorsitter van groot waarde en laat die werk van die vergadering van die begin af vlot verloop.

Die korresponderende kerkraad moet ook alle dokumente veilig bewaar en die vergadering van tyd tot tyd adviseer watter dokumente na die sentrale argief gestuur moet word.

|201|

Taak van roepende kerkraad. 

Die taak van die roepende kerkraad is om die volgende vergadering op te roep. Gewoonlik vergader klassisse en partikuliere sinodes op vasgestelde tye.

Die nasionale sinode vergader elke drie jaar.

Die volgende byeenkoms van die algemene sinode is deur die Buitengewone Algemene Sinode van Februarie 1992 onbepaald uitgestel, totdat probleme ten opsigte van die samestelling van die algemene sinode tot bevrediging van elke Nasionale Sinode opgelos is.

’n Buitengewone of vervroegde klassis word opgeroep wanneer minstens twee kerkrade dit noodsaaklik ag; die tyd en plek word bepaal in oorleg met die korresponderende kerkraad.

’n Buitengewone of vervroegde partikuliere sinode word opgeroep wanneer minstens twee klassisse dit noodsaaklik ag (kyk art. 47). Die tyd en plek van so ’n partikuliere sinode word deur die roepende kerkraad bepaal volgens advies van „sy” klassis.

’n Buitengewone of vervroegde nasionale sinode word opgeroep wanneer minstens twee partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings waar geen partikuliere sinode is nie) dit noodsaaklik ag (kyk art. 50). Alhoewel dit nie kerkordelik so bepaal word nie, is dit na analogie van die reëling in die geval van ’n buitengewone of vervroegde partikuliere en algemene sinode wenslik dat die roepende kerkraad die tyd en plek van so ’n nasionale sinode bepaal op ten minste die advies van „sy” klassis of partikuliere sinode.

’n Buitengewone of vervroegde algemene sinode word opgeroep wanneer minstens twee nasionale sinodes dit noodsaaklik ag (kyk art. 51). Die tyd en plek van so ’n algemene sinode word deur die roepende kerkraad bepaal volgens advies van „sy” partikuliere sinode.

Die roepende kerkraad ontvang die geloofsbriewe en kontroleer dit in die lig van die Kerkorde en toepaslike Sinodebesluite. Verder reël die roepende kerkraad alles in verband met die sittingstye van die vergadering, voorsiening van verversings en verblyf van afgevaardigdes.

|202|

Die voorsitter van die roepende kerkraad lei ook die konstituering van die vergadering.

Visser, J. (1999) Art. 46

|203|

Artikel 46

 

Sake vir behandeling op meerdere vergaderings moet nie opgestel word voordat die besluite van die voorgaande sinodes oor die voorgestelde punte nagegaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word om iets te verander.

 

Eindelose herhaling voorkom.

Die kernbetekenis van hierdie artikel is die voorkoming van ’n eindelose herhaling van dieselfde saak: „... sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie ...”.

In die praktyk gebeur dit soms dat ’n mindere vergadering nie kan berus in die besluit van ’n meerdere vergadering nie — veral as dit gaan om ’n „voorstel” wat die betrokke mindere vergadering in die meerdere vergadering gemaak het. Om so ’n mindere vergadering dan toe te laat om eindeloos met dieselfde „voorstel” na die meerdere vergadering te kom, is eenvoudig ’n verloëning van die Skriftuurlike gedagte van: „... die Heilige Gees en ons het besluit ...” (Handelinge 15: 28).

Meerdere vergaderings moet die kernbetekenis van hierdie artikel streng handhaaf, ten einde onnodige herhaling van dieselfde saak te voorkom.

 

Moontlikheid van wysiging.

Wat hierbo gesê is, beteken nie dat alle besluite van kerklike vergaderings onveranderlik is nie; slegs die Woord van God is onveranderlik. Dit mag soms wel noodsaaklik wees om iets te verander.

Byvoorbeeld:
➢ ’n besluit is miskien geneem op grond van ’n verkeerde verstaan van die Woord van God;
➢ tye het sodanig verander dat ’n besluit oor ’n middelmatige saak nie meer toepaslik is nie;
➢ ’n besluit het nie rekening gehou met alle omstandighede nie.

|204|

Om so ’n verandering bewerkstellig te kry, moet die regte metode gebruik word.

En die regte metode is nie om oor en oor met dieselfde voorstel na die vergadering te kom nie. So ’n herhaling word deur artikel 46 afgesny.

Daar moet by wyse van ’n beswaarskrif, of ’n versoek tot revisie, of ’n beskrywingspunt duidelik aangetoon en bewys word waarom so ’n verandering noodsaaklik is.

 

Beswaarskrif of gravamen.

Die Sinode van 1964 (Handelinge p. 444 e.v.) het ’n vaste prosedure vir die behandeling van beswaarskrifte voorgeskryf.

Hierdie prosedure is egter na aanleiding van ’n beswaarskrif deur die Sinode van 1991 geskrap. In die plek daarvan het hierdie Sinode besluit dat alle beswaarskrifte „sake” is wat onder artikel 33 KO tuisgebring kan word, en die kerklike weg (die weg van art. 33 KO) moet volg (Handelinge p. 526-528).

Aansluitend hierby het die Sinode van 1994 besluit dat op p. 69 van die Kerkordeboekie (bepalings by art. 33 KO) punt 4 soos volg aangevul word: „... sodat alleenlik opdragte van partikuliere sinodes en sake onder artikel 46, KO ter tafel geneem mag word ...” (kursiefgedrukte woorde is die aanvulling, J.V.) Hierdie Sinode het egter ook besluit dat alle sake onder artikel 46 KO onder gewone omstandighede op die gewone kerklike weg van artikel 33 KO in behandeling geneem sal word (Handelinge p. 53-54).

 

Behandel en nie afhandel nie.

Beteken die wysigings deur genoemde Sinodes nou dat mindere vergaderings die besluite van meerdere vergaderings kan wysig of nietig kan verklaar?

Dit is glad nie die bedoeling en draagwydte van bogenoemde wysigings nie. Dit sou neerkom op ’n onregmatige vetoreg wat aan mindere vergaderings toegeken word en wat stry met artikel 30.

Die bedoeling is slegs dat mindere vergaderings, op wie se agenda nou so ’n beswaarskrif teen die besluit van ’n meerdere vergadering verskyn, so ’n beswaar wel kan beoordeel; (die beoordeling deur die

|205|

mindere vergadering kan byvoorbeeld wees dat so ’n beswaar wel geldig is en verder deurgestuur moet word; of dit kan wees dat die beswaar nie geldig is nie en dus nie verder deurgestuur word nie; in so ’n geval „stop” die beswaar net daar, aangesien die betrokke mindere vergadering dit nie verder deurstuur nie; indien die beswaarde nog daarmee verder wil gaan, is die ordelike wyse van optrede dat hy teen die besluit van die mindere vergadering appelleer).

Die mindere vergadering kan die beswaar dus wel behandel (in die sin van beoordeel), maar dit nie afhandel nie (in die sin van ’n wysiging aan of nietigverklaring van die meerdere vergadering se besluit). Die afhandeling (in die sin van wysiging of nietigverklaring) berus uitsluitlik by die vergadering wat die oorspronklike besluit geneem het.

Visser, J. (1999) Art. 47

|206|

Artikel 47

 

Die partikuliere sinode is ’n vergadering van naburige klassisse waarheen elke klassis ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge afvaardig soos deur die partikuliere sinodes bepaal. Die partikuliere sinode vergader jaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee klassisse noodsaaklik geag word om ’n buitengewone vergadering byeen te roep.

 

Vergadering van klassisse.

Die partikuliere sinode is ’n vergadering van naburige klassisse, wat elkeen ’n gelyke aantal predikante en ouderlinge afvaardig.

Die klassis is weer ’n vergadering van naburige kerke (art. 41). Hoewel daar dus nie direkte verteenwoordiging van kerke in ander meerdere vergaderings as die klassis is nie, is elke kerk tog indirek in die ander meerdere vergaderings verteenwoordig.

 

Afvaardiging.

Die sogenaamde „getrapte afvaardiging” (kerke vaardig af na klassis, klassisse na partikuliere sinode, partikuliere sinodes na nasionale sinode en nasionale sinodes na algemene sinode) is ’n bloot praktiese maatreël om die omvang van veral die nasionale sinode te beperk. Besonderhede hiervan verskyn op p. 74 van die Kerkordeboekie. (Voor die Sinode van 1961 het elke kerkraad direk na alle meerdere vergaderings afgevaardig, volgens die metode van afvaardiging in artikel 41 gestipuleer).

Die gelyke aantal afgevaardigdes is nodig, sodat kleinere mindere vergaderings nie deur groteres oorstem en oorheers kan word nie.

 

Vergadertye.

Hierdie artikel bepaal dat die partikuliere sinode jaarliks vergader. Dit is egter nie ’n beginsel wat afgedwing moet word nie, maar ’n praktiese maatreël.

Indien die omvang van die agenda in ’n sekere jaar nie die byeenkoms van ’n partikuliere sinode regverdig nie (wat voorlopig deur die

|207|

korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie in oorleg met die roepende kerkraad bepaal word), hoef hy nie opgeroep te word nie. Die partikuliere sinode moet egter vooraf so ’n besluit neem om die roepende kerkraad daartoe volmag te gee. Die finale beoordeling van die agenda se omvang met die oog op die oproep van die partikuliere sinode of nie, behoort te geskied met advies van die klassis in wie se ressort die roepende kerkraad is.

Indien ’n buitengewone of vervroegde partikuliere sinode noodsaaklik is, moet minstens twee klassisse daartoe instem (kyk p. 201 e.v.).

Uit die aard van die saak sal die partikuliere sinode wat aan ’n nasionale sinode voorafgaan, wel byeen moet kom; daar moet naamlik afgevaardigdes na die nasionale sinode, sowel as lede vir die gewone en breë kuratoriums, aangewys word.

Visser, J. (1999) Art. 48

|208|

Artikel 48

 

Onderskeie klassisse, partikuliere en/of nasionale sinodes onder kerke in algemene sinodale verband, kan met naburige klassisse, partikuliere en/of nasionale sinodes onderskeidelik, korrespondensie hou soos elkeen dit vir die algemene welsyn die beste ag.

 

Die term „korrespondensie”.

Die term „korrespondensie” in hierdie artikel beteken nie primêr en per se „briefwisseling” nie, maar wel „ooreenkoms” of „ooreenstemming”.

Kerke in dieselfde kerkverband (en dus ook kerklike vergaderings) is met mekaar een in Belydenis, liturgie en kerkregering. Daar is dus ooreenstemming (korrespondensie) tussen hulle oor kardinale sake.

Hierdie eenheid of ooreenstemming moet ook gehandhaaf en daadwerklik uitgeleef word.

 

Wyse van korrespondensie hou.

Die wyse waarop kerke met mekaar hul eenheid of ooreenstemming uitleef en met mekaar korrespondensie hou, bestaan allereers in die gesamentlike vergadering in meerdere vergaderings oor sake van gemeenskaplike belang.

Meerdere vergaderings kan egter ook, volgens hierdie artikel, met ander naburige meerdere vergaderings korrespondensie hou om hul eenheid en ooreenstemming te beleef.

Dit kan gedoen word by wyse van briefwisseling, of by wyse van gesamentlike vergaderings oor gemeenskaplike sake deur middel van deputate. Alternatiewelik kan een meerdere vergadering ook ’n afvaardiging stuur om die byeenkoms van ’n naburige meerdere vergadering by te woon met ’n bepaalde opdrag.

’n Ander voorbeeld van die onderhouding van hierdie „korrespondensie” is die gereelde ontmoetings van deputate van die verskillende nasionale sinodes oor die samestelling van die algemene sinode en aanverwante sake (kyk Handelinge Algemene Sinode 1992. p. 25-26, art. 16, veral punt 3.2.3).

Visser, J. (1999) Art. 49

|209|

Artikel 49

 

Elke meerdere vergadering benoem deputate om wat besluit is, uit te voer volgens ’n welomskrewe opdrag. Die partikuliere sinode benoem in elk geval deputate om aan klassisse hulp te bied in voorkomende moeilikhede en om teenwoordig te wees by die proponentseksamen (peremptoir). Vir die onderskeie belange, moet soveel moontlik afsonderlike groepe deputate benoem word. Hierdie deputate hou van al hulle handelinge notule om aan die meerdere vergadering verslag te doen. Slegs die betrokke meerdere vergadering kan hulle van hierdie opdrag onthef.

 

Meerdere vergaderings nie permanente „strukture” nie. 

Aangesien meerdere vergaderings nie permanente „strukture” is nie, spreek dit vanself dat deputate benoem moet word om uitvoering te gee aan bepaalde besluite wat geneem is.

 

Deputate met omskrewe opdrag.

Deputate is nie regeerders wat volgens eie goeddunke en na willekeur optree nie. Elke deputategroep moet van die vergadering wat hom aanwys, ’n bepaalde welomskrewe opdrag ontvang waarvolgens hy moet/mag optree. Deputate mag nie buite die grense van hul opdrag optree nie.

 

Deputate sonder „omskrewe” opdrag.

Daar is egter deputate wat nie ’n „welomskrewe” opdrag kan ontvang nie, vanweë die aard van hul opdrag. ’n Voorbeeld hiervan is die deputate wat elke partikuliere sinode moet aanwys om aan klassisse hulp te bied „in voorkomende moeilikhede”. Begryplikerwys kan sulke „voorkomende moeilikhede” nie vantevore reeds deur ’n partikuliere sinode voorsien word en dan in ’n „welomskrewe” opdrag vervat word nie. Ook visitatore val gedeeltelik in hierdie kategorie (kyk by art. 44, p. 192 e.v.).

|210|

Die hulp van hierdie deputate kan deur klassisse ingeroep word in enige voorkomende geval waar ’n klassis meerdere hulp benodig, en wat nie op ’n ander wyse gereël word nie.

 

Deputate „vanweë die partikuliere sinode”.

Hierdie deputate wat elke part sinode moet aanwys volgens hierdie artikel, word gewoonweg genoem: „Deputate vanweë die partikuliere sinode”.

Benewens die spesifieke opdrag in hierdie artikel i/s die proponentseksamen (art. 4 KO), moet hulle advies ook ingewin word in gevalle waar artikels 11, 12, 13 en 79-80 KO toegepas moet word. (Vir die draagwydte van die begrip „advies”, kyk p. 56.)

Waar geen konsensus bereik kan word tussen ’n klassis en die deputate van die partikuliere sinode nie, moet die hele aangeleentheid verwys word na die volle partikuliere sinode vir finale beslissing (kyk p. 56).

 

Deputate moet verslag doen van hul werksaamhede.

’n Baie belangrike stipulasie in hierdie artikel is dat alle deputategroepe van al hulle handelinge notule moet hou „om aan die meerdere vergadering verslag te doen.”

Juis omdat deputate nie selfstandige regeerders is wat na eie goeddunke optree nie, maar ’n bepaalde opdrag moet uitvoer, moet hulle verslag doen van hul werksaamhede aan dié vergadering wat hulle aangewys en opdrag gegee het. Dit geld ook visitatore, soos op p. 192 e.v. en 197 e.v. aangetoon is. Die opdraggewende vergadering moet immers die werk van sy deputate beoordeel en daarvolgens handel.

Slegs die vergadering wat deputate aangewys het, kan hulle ook van hul opdrag onthef.

 

Kuratore/Kuratorium.

Kuratore, wat deur partikuliere sinodes aangewys word en aan die nasionale sinode verslag doen, is nie deputate in die sin van artikel 49 nie.

Indringende studie wat oor jare gestrek het, is oor die aard en posisie van kuratore en die kuratorium gedoen.

|211|

Die Sinode van 1991 het bepaalde besluite in hierdie verband geneem (Handelinge p. 494-508).

Hiervolgens is die Kuratorium en die Breë Kuratorium (toe nog genoem „Beroepingsvergadering” — kyk p. 29 hiervan) ’n vergadering van kerke wat om besondere redes vir ’n bepaalde taak byeenkom. Hulle konstitueer soos meerdere vergaderings op grond van geloofsbriewe van die partikuliere sinodes, met ’n beperkte opdrag.

(Meer besonderhede oor die Kuratorium en die Breë Kuratorium kan gevind word in die bogenoemde Handelinge van Sinode 1991, asook in die Teologiese Skoolboekie, verkrygbaar by die Registrateur van die Teologiese Skool).

Visser, J. (1999) Art. 50

|212|

Artikel 50

 

Die nasionale sinode is ’n vergadering van al die partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) waarheen elke partikuliere sinode (of betrokke mindere vergadering) ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge, soos die nasionale sinode bepaal, afvaardig. Die nasionale sinode vergader driejaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) noodsaaklik geag word om ’n buitengewone vergadering byeen te roep.

 

Vergadering van partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings).

Die nasionale sinode is ’n vergadering van al die partikuliere sinodes. Waar daar geen partikuliere sinodes geïnstitueer is nie, vaardig die betrokke mindere vergaderings af na die nasionale sinode (by Nasionale Sinode Middellande, waar daar geen partikuliere sinodes is nie, word dit deur die klassisse gedoen; by Nasionale Sinode Soutpansberg, waar daar geen klassisse en partikuliere sinodes is nie, word dit deur die plaaslike kerke gedoen).

 

Afvaardiging.

Wat geld van die afvaardiging na die partikuliere sinode, geld toepaslik ook van die afvaardiging na die nasionale sinode (kyk p. 206).

 

Afvaardiging by wyse van toerbeurt?

Soms word daar gepleit dat die afvaardiging na meerdere vergaderings by wyse van toerbeurt moet geskied. Die argument is dat sekere predikante andersins nooit na ’n sinode afgevaardig sal word nie; bowendien kan die situasie, dat dieselfde predikante altyd na die sinodes afgevaardig word, maklik hiërargie in die hand werk.

Hierop moet geantwoord word dat ’n sinode nie ’n leerskool is waar ondervinding deur middel van afvaardiging opgedoen word nie. Sinodes is regeerliggame in belang van die plaaslike kerke; daarom behoort slegs die mees geskikte broeders afgevaardig te word. Ander predikante

|213|

(en ouderlinge) kan as besoekers die sittings van sinodes bywoon om op so ’n wyse ondervinding op te doen (kyk by art. 42, p. 189).

 

Vergadertye.

Die nasionale sinode vergader elke drie jaar. Soos in die geval van die partikuliere sinode, is dit slegs ’n praktiese reëling. Indien nodig, kan die nasionale sinode meer dikwels byeenkom.

Indien ’n buitengewone of vervroegde nasionale sinode noodsaaklik is, moet minstens twee partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) daartoe instem (kyk p. 201 e.v.).

 

Werkswyse.

Die Sinode van 1976 het die besluite van vorige Sinodes insake die werkswyse van die nasionale sinode gewysig en aangepas (Handelinge p. 14-19). Latere Sinodes het verskillende wysigings hierby aangebring, wat reflekteer in die rapporte van die onderskeie Deputate vir die Programmering van die Agenda vanaf Sinode 1979.

Visser, J. (1999) Art. 51

|214|

Artikel 51

 

Die algemene sinode is ’n vergadering van al die nasionale sinodes waarheen elke nasionale sinode ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge, soos deur die algemene sinode bepaal, afvaardig. ’n Buitengewone of vervroegde algemene sinode word opgeroep wanneer ten minste twee nasionale sinodes so ’n algemene sinode noodsaaklik ag.

 

Vergadering van nasionale sinodes.

Die algemene sinode is ’n vergadering van al drie nasionale sinodes.

 

Afvaardiging.

Wat geld van die afvaardiging na die partikuliere sinode, geld toepaslik ook van die afvaardiging na die algemene sinode (kyk p. 206).

 

Vergadertye.

Wat die vergadertye van die algemene sinode betref, het die ongewone situasie ontstaan dat die Algemene Sinode van 1992 om verskeie redes besluit het dat die volgende Algemene Sinode byeengeroep sal word wanneer probleme ten opsigte van die samestelling van die Algemene Sinode tot bevrediging van elke Nasionale Sinode opgelos is (Handelinge p. 25-26, art. 16, veral punt 3.3 op p. 26).

Visser, J. (1999) Art. 52

|215|

Artikel 52

 

Kerklike korrespondensie en samewerking of kontak (met kerke en kerklike instansies) buite die algemene sinodale verband, word in ’n algemene sinode gereël.

 

Korrespondensie.

Die term „korrespondensie” in hierdie artikel het dieselfde betekenis as in artikel 48 (kyk p. 208).

Die „korrespondensie” waarvan in hierdie artikel gepraat word, beteken kerkverband met kerke in die buiteland, op grond van eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering.

Dit behels aanvaarding van attestasies oor en weer, beroepbaarheid van predikante, stuur van afgevaardigdes na sinodes oor en weer, kanselruil en so meer.

 

Samewerking.

Samewerking in hierdie artikel beteken samewerking met kerke en/of kerklike instansies met wie daar nie korrespondensie (soos bogenoem) is nie; hierdie samewerking kan op verskillende terreine van gemeenskaplike belang plaasvind, soos byvoorbeeld met Bybelvertaling en Bybelverspreiding, die daarstelling van Christelike lektuur (Bybelmedia), op onderwysgebied, gesprek met die owerhede en so meer.

 

Kontak.

Kontak beteken hoofsaaklik gesprekke met kerke om tot groter eenheid te kom, met die uiteindelike doel om kerklike korrespondensie aan te gaan.

 

Taak van nasionale sinode.

Die Nasionale Sinode Potchefstroom het die volgende Deputategroepe wat onder hierdie artikel tuisgebring kan word:
➢ Deputate vir Korrespondensie met Buitelandse Kerke; hierdie Deputate hanteer sake tussen die GKSA en buitelandse kerke met wie daar reeds kerklike korrespondensie aangegaan is.

|216|

➢ Deputate vir Ekumeniese Aangeleenthede; hierdie Deputate hanteer hoofsaaklik kontak met kerke, buite- en binnelands, met die oog op uiteindelike aangaan van kerklike korrespondensie.
➢ Deputate vir Gesprek met Binnelandse Kerke; hierdie Deputate voer tans gesprek met die NG-, NH- en AP-Kerke oor die sake wat die kerke op gereformeerde grondslag in Suid-Afrika uitmekaar hou; die uiteindelik doel is groter kerklike eenheid tussen hierdie Kerke.

 

Taak van algemene sinode.

Hierdie artikel bepaal dat bogenoemde sake in ’n algemene sinode gereël word.

Die Algemene Sinode van 1984 het hieroor soos volg besluit: „Binnelands (in Suidelike Afrika) voer die Algemene Sinode en die Nasionale Sinodes respektiewelik gesprek met kerke wat in gelyksoortige kerklike vergaderings as die Algemene Sinode en die Nasionale Sinodes byeenkom” (Handelinge p. 30-31, art. 19, punt 3.3, kyk punt 3.2.2. (iv)).

Visser, J. (1999) Art. 53/54

|217|

Artikels 53 en 54

 

Artikel 53.

Die bedienaars van die Woord en ook die professore aan die Teologiese Skool moet die drie Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618-19 onderskryf en onderteken en die wat weier om dit te doen, moet metterdaad in hulle diens geskors word deur die kerkraad of klassis, en in die geval van professore, deur die nasionale sinode, totdat hulle hul daaroor volledig verantwoord het. As hulle hardnekkig weier, moet hulle heeltemal van hulle diens afgesit word.

Artikel 54.

Ook die ouderlinge en die diakens en diegene wat deur ’n klassis as proponente toegelaat word, moet die genoemde Formuliere van Eenheid onderskryf en onderteken.

 

Onderskrywing en ondertekening van Belydenisskrifte.

In hierdie boek gaan dit nie om die vraag waarom die Belydenisskrifte onderskryf en onderteken moet word en die geskiedenis daarvan nie; dit kan in handleidings by die Kerkorde opgelees word.

Hier gaan dit slegs om die praktiese uitvoering daarvan en die praktiese konsekwensies by weiering om te onderskryf en te onderteken.

 

„Onderskryf en onderteken.”

Hierdie terme het nie dieselfde betekenis nie. Ook is dit nie só (soos soms beweer word) dat die Belydenis met die „Ja” by bevestiging in die amp onderskryf word, en met ondertekening van die Ondertekeningsformulier onderteken word nie.

Trouens, by bevestiging in die amp word daar geen direkte eksplisiete onderskrywing van en binding aan die Belydenis beloof nie.

„Onderskrywing” van die Belydenis word wel veronderstel by bevestiging in die amp.

|218|

Wanneer ’n bevestigde ampsdraer ná die bevestiging die Ondertekeningsformulier aanhoor, onderskryf hy die Belydenis stilswyend in sy hart; wanneer hy daarná die Ondertekeningsformulier onderteken, bekragtig hy daarmee sy onderskrywing van die Belydenis.

 

Ondertekeningsformulier.

Die Ondertekeningsformuliere waardeur die Belydenisskrifte deur predikante, proponente asook ouderlinge en diakens onderskryf en onderteken word, is in die Kerkordeboekie op p. 82-84. Dié vir teologiese professore is in die Handelinge van Sinode 1988, p. 409, punt 2.5.

 

Waar ondertekening moet plaasvind.

By sommige is daar beswaar om die Ondertekeningsformulier voor die gemeente te onderteken na bevestiging in die amp. Die rede vir hierdie beswaar is vir my volkome duister.

Soms word as rede aangevoer dat ondertekening van die Ondertekeningsformulier impliseer dat die „Ja” van belofte by bevestiging in die amp, nie opreg bedoel en daarom nie voldoende was nie; dit moet nou met ’n handtekening bekragtig word.

So ’n argumentasie is totaal van die punt af, om die eenvoudige rede (soos alreeds eerder aangetoon is) dat by bevestiging in die amp geen direkte eksplisiete onderskrywing van en binding aan die Belydenis beloof word nie; met ondertekening van die Ondertekeningsformulier word so ’n onderskrywing en binding wel beloof.

Soos op p. 36 uitvoerig beredeneer, behoort die ondertekening plaas te vind direk ná die bevestiging in die amp, in teenwoordigheid van die hele gemeente.

 

Optrede by weiering om te onderteken.

In artikel 53 word bepaal dat predikante en professore wat weier om die Belydenis te onderskryf en te onderteken, metterdaad in hul diens geskors moet word totdat hulle hul daaroor volledig verantwoord het.

Alhoewel daar in artikel 54 nie sodanige bepaling is in geval van ouderlinge en diakens nie, spreek dit vanself dat by weiering om te

|219|

onderskryf en te onderteken, soortgelyk opgetree moet word as in die geval van predikante en professore.

In die geval van proponente, wat nog nie in enige besondere diens bevestig is nie en dus nie in die diens geskors kan word nie, moet die partikuliere sinode (wat die eksaminering en beroepbaarstelling en ondertekening van die Ondertekeningsformulier hanteer het), die beroepbaarstelling nietig verklaar — aanvanklik voorlopig, en by hardnekkige weiering finaal. Die konsekwensie hiervan sal wees dat die voormalige proponent se „proponentstatus” hom ontneem word. Indien hy later tot besinning kom, sal hy van nuuts af by dieselfde partikuliere sinode moet aansoek doen om weer geëksamineer te word met die oog op beroepbaarstelling.

 

„Metterdaad”.

Die begrip „metterdaad” in hierdie artikel het die konnotasie van „onmiddellik”.

Dit beteken dus dat die tugproses onmiddellik ná die weiering om te onderteken, ’n aanvang moet neem.

 

Skorsing/afsetting.

[Die terminologie „kerkraad of klassis” in hierdie artikel is vreemd, veral in die lig van artikels 30 en 79 KO. Die voorlopige skorsing is volgens artikel 79 die prerogatief van die kerkraad. Slegs indien die kerkraad sou weier om sy roeping tot tugoefening uit te voer, mag (en moet) die klassis optree en doen wat des kerkraads is].

In die geval van ’n predikant moet die kerkraad onmiddellik onder leiding van die konsulent vergader en die predikant dadelik voorlopig skors volgens artikel 79 KO.

Die deputate van die twee naburige kerke wat vir die bevestiging teenwoordig was, kan nie daarna met die kerkraad as classis contracta (kyk p. 33 hiervan, asook art. 79 KO) konstitueer nie, en wel om die volgende redes:
➢ hulle het, kragtens hul geloofsbrief, nie van die kerkrade wat hulle gestuur het, opdrag en volmag ontvang om namens die betrokke kerkrade in ’n tugsaak op te tree nie, maar slegs by ’n bevestiging;

|220|

➢ vir die bevestiging van ’n predikant is slegs twee lede van elke naburige kerk nodig (gewoonlik die predikant en een ouderling, kyk p. 33); vir ’n tugsaak teen ’n predikant, egter, word drie lede van elke naburige kerk benodig: die predikant of konsulent en twee ouderlinge, kragtens besluit van die Sinode van 1936 (Handelinge p. 93-94, art. 87. Kyk ook p. 292 hiervan).

Indien daar dus hardnekkige weiering by ’n predikant is om die Ondertekeningsformulier te onderteken, sal die kerkraad onmiddellik ’n nuwe classis contracta moet oproep om die tug verder te voer kragtens artikel 79 KO.

[Daar bestaan ’n siening dat wanneer ’n predikant tydens die bevestiging in die amp weier om die Belydenis te onderskryf, dit die konsekwensie het dat die losmaking kragtens artikel 10 KO verval. Daarom moet die kerkraad wat losgemaak het, die saak behandel.

Hierdie siening is nie korrek nie, om die eenvoudige rede dat daar nie tydens bevestiging in die amp geleentheid bestaan vir ’n predikant om instemming met die Belydenis te weier nie; dit kan slegs geskied indien hy sou weier om die Ondertekeningsformulier te onderteken. Maar op daardie stadium is die predikant reeds bevestig in die „nuwe” kerk, en val hy dus nie meer onder die jurisdiksie van die kerk wat losmaking verleen het nie (kyk p. 50 hiervan: „Kerklike verbintenis in die periode tussen losmaking en bevestiging”: die losmaking geld vanaf die dag dat die predikant in die „nuwe” kerk bevestig is.)].

In die geval van teologiese professore sal die Kuratorium (as verteenwoordigers van die nasionale sinode) onmiddellik opgeroep moet word om te oordeel oor voorlopige skorsing; by hardnekkige weiering tot ondertekening moet die Breë Kuratorium (as verteenwoordigers van die nasionale sinode) opgeroep word om te oordeel oor afsetting uit die amp (kyk Handelinge Sinode 1994, p. 465, punt 5.4).

In die geval van ’n ouderling of diaken, moet die kerkraad onmiddellik optree kragtens artikel 79 KO: hy moet self dadelik voorlopig skors; by hardnekkige weiering om te onderteken moet ’n classis contracta opgeroep word om te oordeel oor afsetting uit die amp.

Visser, J. (1999) Art. 55

|221|

Artikel 55

 

Om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf en om die valse leringe en dwalinge te weer, wend die bedienaars van die Woord en die ouderlinge by die uitoefening van hulle onderskeie ampte, by die bediening van die Woord, by die kategetiese onderrig en by die huisbesoek, die middele van lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning aan.

 

Handhawing van suiwere leer.

Die handhawing van die suiwere leer, wat in hierdie artikel tereg tuisgebring word onder die dienswerk van predikante en ouderlinge, gaan baie wyer as wat met die eerste oogopslag mag voorkom.

Valse leringe en dwalinge word ook veroorsaak deur geloofsondermynende en sedebederwende lektuur, televisieprogramme, video's en films — dinge wat selfs oor die Internet versprei kan word.

Daarom sal hierdie dinge skerp teengegaan moet word deur predikante en ouderlinge in die uitoefening van hulle dienswerk.

Predikante en ouderlinge sal hulleself op hoogte moet bring van die dinge wat lidmate en hulle kinders lees en waarna hulle kyk op televisie en video's en films.

In Woordbediening, katkisasie en met huisbesoek sal geleer, weerlê, gewaarsku en vermaan moet word om alles wat die suiwere leer en die ware geloof bedreig, aan die kaak te stel en teen te gaan.

 

Nie primêr die taak van meerdere vergaderings nie.

Daar is ’n wye tendens by lidmate, ampsdraers en kerkrade om nie self die bogenoemde euwels teen te gaan en te bestry nie; dit word by wyse van beskrywingspunte „afgeskuif” op die meerdere vergaderings.

Nou is dit wel so dat meerdere vergaderings ook ’n plig in hierdie opsig het as die sake op hul tafel kom. Maar ampsdraers, kerkrade en lidmate sal baie meer moet besef dat die bestryding van alles wat die geloof, die suiwere leer en die Christelike lewenswandel kan bedreig, allereers hul eie verantwoordelikheid is.

Visser, J. (1999) Art. 56

|222|

Artikel 56

 

Die verbond van God moet so spoedig moontlik aan die kinders van die Christene in die erediens met die Heilige Doop beseël word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

Die verbond van God.

Die uitgangspunt van hierdie artikel is nie die Heilige Doop nie, maar die verbond van God.

Hierdie verbond van God word met die Heilige Doop beseël, soos dit in die Ou Testament gedoen is met die besnydenis, wat op die ouderdom van 8 dae moes geskied.

Daarom spreek dit vanself dat die bediening van die doop so spoedig moontlik moet plaasvind.

 

Geen onnodige vertraging.

Dit gebeur dikwels dat die bediening van die doop uitgestel word as gevolg van allerlei beuselagtighede.

Hiervan het die Sinode van 1958 met „groot besorgdheid” kennis geneem; hierdie Sinode wys deputate aan wat ’n voorligtingstuk ter beskikking van kerkrade moes opstel (Handelinge p. 134- 135, art. 69).

Die voorligtingstuk verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1961, p. 132 e.v., artikel 39.

 

Verbondskinders.

Met die verbond as uitgangspunt bring hierdie artikel vanself ook die kinderdoop in die gesigsveld, omdat God sy verbond opgerig het met sy uitverkorenes: volwassenes en kinders.

Die Heilige Doop moet dus bedien word aan alle verbondskinders.

Wie word nou gereken as verbondskinders?

Opmerklik dat hierdie artikel nie praat van: „die kinders van die lidmate van die gemeente” nie, maar van: „die kinders van die

|223|

Christene”. Dit impliseer dat ook verbondskinders van buite die gemeente gedoop mag word.

’n Paar probleme, oor watter kinders gereken mag word as verbondskinders en watter nie, sal nou hier bespreek word.

 

Kinders van ouers wat onder tug is.

Die kinders van ouers wat kragtens artikels 76 of 77 KO onder tug is, mag wel nog gereken word as verbondskinders. Die ouers is nog lidmate van die kerk, en moet daarom nog gereken word as Christene.

Die ouers mag egter nie self hul kinders ten doop hou nie. Sulke ouers verbeur naamlik sekere regte en voorregte van lidmaatskap, waaronder die voorreg om nagmaal te gebruik, en dus per implikasie ook die voorreg om kinders ten doop te hou.

’n Kerkraad kan tog nie ouers, wie se eie lewenswandel afwyk van die vereistes van Skrif en Belydenis, toelaat om voor die aangesig van die Here te beloof dat hulle hul verbondskindjie in die „ware en volkome leer van die saligheid” sal onderrig nie. (Die „onderrig” van die derde doopvraag geskied naamlik allereers met die voorbeeld van ’n vroom lewenswandel!).

Daardie kinders mag wel gedoop word indien die grootouers of ander „doopgetuies” wat kerklik meelewend is, die kinders ten doop hou.

Dit beteken egter dat sulke „doopgetuies”, kragtens hulle belofte met die doop van daardie kinders, ten volle aanspreeklik is vir die verbondsopvoeding van daardie kinders.

 

Kinders wat buite die huwelik gebore is.

’n Verbondskindjie wat buite die huwelik verwek en/of gebore is, moet wel gedoop word. Die moeder/ouers van so ’n kindjie mag egter nie self die kindjie ten doop hou nie (selfs nie wanneer daar berou is nie), omdat sy/hulle onder tug behoort te wees weens oortreding van die sewende Gebod.

Hier geld dieselfde as in die bogenoemde geval waar die ouers onder tug is.

|224|

Aangenome kinders.

Oor die doop van aangenome kinders het die Sinode van 1970 soos volg besluit:

Wanneer lidmate aansoek doen om die doop van hulle aangenome kinders, moet kerkrade hulle daarvan vergewis dat die aanneming ook in wetlike vorm sy beslag gekry het, en dat die ouers die aanneming beleef as ’n aanneming in die Here.

Origens word dieselfde prosedure as by die doop van natuurlike kinders gevolg, en dieselfde Formulier word ook gebruik (Handelinge p. 131-137, veral p. 137).

 

Kinders van ouers wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie.

Die verbondskinders van ouers wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie, moet wel gedoop word. Die ouers mag egter nie self die kinders ten doop hou nie.

Hier geld dieselfde as in die geval van ouers wat onder tug is.

 

Verbondskinders in kinderhuise.

Hieroor het die Sinode van 1949 soos volg besluit: 

„Die huisouers, of ander verantwoordelike persone deur die Tehuiskommissie goedgekeur, mag die verbondskinders vir die doop aanbied” (Handelinge p. 278, punt IX (b)).

 

Wanneer een ouer nie lidmaat van die gemeente is nie.

In die geval waar een ouer van ’n verbondskindjie nie lidmaat van die (Gereformeerde) gemeente is nie (maar wel van ’n ander nie-Gereformeerde kerk), moet groot versigtigheid (en deernis) aan die dag gelê word.

Op p. 222 is aangetoon dat hierdie artikel nie uitgaan van die doop nie, maar van die verbond van God. Ook is daarop gewys dat hierdie artikel nie praat van: „die kinders van die lidmate van die gemeente” nie, maar van: „die kinders van die Christene”.

|225|

Wanneer die doop nou aangevra word vir ’n verbondskindjie wie se een ouer nie lidmaat van die (Gereformeerde) gemeente is nie (maar wel van ’n ander nie-Gereformeerde kerk), kan daardie ouer wel toegelaat word om saam met die ander (Gereformeerde) ouer voor die preekstoel te staan, maar nie om op die doopvrae te antwoord nie.

Die rede hiervoor is nie omdat die ander ouer nie gereken word as ’n Christen of ’n verbondsouer nie. Dit sou die suiwerste kerkisme wees.

Maar die rede is wel omdat so ’n (nie-Gereformeerde) ouer tog nie eerlik op die tweede en derde doopvrae sal kan antwoord nie! In hierdie twee doopvrae gaan dit naamlik om die „ware en volkome leer van die saligheid” wat in die „Christelike kerk hier geleer word” (my kursivering, J.V.).

Anders gestel: in die tweede en derde doopvrae gaan dit om die Gereformeerde leer (teenoor ’n nie-Gereformeerde leer), wat in ’n Gereformeerde kerk (teenoor ’n nie-Gereformeerde kerk) geleer word. Al is dit só dat meer kerke as die Gereformeerde Kerke dieselfde Belydenis het, is die interpretasie en die uitlewing daarvan (tragies genoeg) tog nie dieselfde nie; daarom het ons die jammerlike verskynsel dat daar verskillende kerkgroeperinge op dieselfde (teoretiese) Belydenisbasis is.

Enige doopouer wat eerlik op die tweede en derde doopvrae kan antwoord, moet onmiddellik sy/haar lidmaatskap van die „ander kerk” beëindig en aansoek doen om opgeneem te word as lidmaat van ’n Gereformeerde kerk!

Wanneer die Gereformeerde ouer nou opgeroep word om op die doopvrae te antwoord, sal ek die volgende bewoording aanbeveel: „Ons versoek nou broeder/suster So-en-so om saam met sy/haar eggenoot voor die preekstoel te kom staan, sodat hy/sy op die doopvrae kan antwoord.”

 

Doopsbediening in ’n ander (Gereformeerde) Kerk.

Om verskeie redes versoek lidmate soms dat die doop aan hul verbondskinders in ’n ander (Gereformeerde) kerk bedien mag word. (Om dieselfde redes as wat in die vorige onderafdeling aangevoer is, is dit nie toelaatbaar dat Gereformeerde ouers hul verbondskinders in ’n nie-Gereformeerde kerk laat doop nie.)

|226|

In sulke gevalle moet die (verkieslik skriftelike) toestemming van die eie kerkraad (kerkraad A) voorsien word aan die kerkraad van die gemeente waar die doop bedien sal word (kerkraad B).

Ná die doopsbediening moet die ouers ’n doopseel verkry van die attestasie-skriba van kerkraad B. Hierdie doopseel (as bewys dat die kindjie wel gedoop is) moet ingehandig word by kerkraad A, sodat die naam van die gedoopte kindjie ingeskryf kan word in die dooplidmaatregister van gemeente A.

Daar moet deeglik onderskei word tussen die Doopregister (die Register waarin alle doopsbedienings aangeteken moet word) en die Dooplidmaatregister (die Register waarin die name van alle dooplidmate aangeteken moet word).

Al is die verbondskindjie in gemeente B gedoop, beteken dit nog nie dat daardie kindjie nou vanselfsprekend ’n dooplidmaat is van gemeente B nie.

 

Doop bedien deur ’n nie-Gereformeerde predikant.

Gestel een van die grootvaders van ’n verbondskindjie is ’n predikant in ’n nie-Gereformeerde kerk. Die doopouers vra toestemming dat genoemde grootvader die doop aan sy kleinseun in die Gereformeerde kerk bedien.

Is dit toelaatbaar?

Na my mening is daar geen rede om so ’n versoek te weier nie — op voorwaarde dat dit beperk sal word tot bediening van die doop, sonder bediening van die Woord (kyk p. 11 vir die kwessie van kanselruil).

 

Leeftydsgrens vir die kinderdoop.

Die vraag hier is tot op watter leeftyd die kinderdoop bedien mag word aan ’n verbondskind, en van watter leeftyd af die volwassedoop bedien moet word.

Op hierdie vraag kan nie simplisties geantwoord word deur ’n blote leeftydsyfer vas te stel nie.

Die antwoord op hierdie vraag sal bepaal word deur die betrokke kind se geestelike ontwikkeling en onderskeidingsvermoë. Sodra die kind

|227|

rekenskap kan gee van die geloof, mag die kinderdoop nie meer bedien word nie. Dan moet gewag word totdat belydenis van geloof gedoen word, by watter geleentheid ook die volwassedoop bedien moet word. Meestal word ongeveer 12-jarige leeftyd as grens gestel vir die bediening van die kinderdoop.

’n Vraag wat soms gevra word, en wat (ongegronde) verwarring veroorsaak, is of die belydenisaflegging aan die doopsbediening moet voorafgaan, of andersom.

Eintlik is hier geen probleem nie, om die eenvoudige rede dat die antwoord op die vrae vir die volwassedoop terselfdertyd die aflegging van geloofsbelydenis is.

 

Erkenning van die doop deur ander kerkgroepe.

In antwoord op die vraag watter doopsbedienings in Gereformeerde Kerke erken mag word, kan die volgende drie vereistes gestel word:
➢ ’n doop wat in die Naam van die drie-enige God bedien is;
➢ ’n doop wat met suiwer water bedien is;
➢ ’n doop wat bedien is deur ’n kerklik-bevoegde ampsdraer.

Alle doopsbedienings wat aan bogenoemde vereistes beantwoord, mag erken word — selfs as dit deur een of ander sekte bedien is.

In sulke gevalle moet die doop nie weer bedien word nie.

Doopsbedienings wat egter nie beantwoord aan een of meer van bogenoemde drie vereistes nie, mag nie erken word nie; in sulke gevalle moet weer gedoop word.

Die praktyk om sogenaamde „heilige” Jordaanwater aan te piekel en dan te versoek dat die doop daarmee bedien moet word, moet sterk afgekeur word; dit is naamlik ’n miskenning van „gewone” water as teken by die doop en ’n praktyk wat sterk bygelowig gekleur is.

 

Voorskrifte by doopsbediening.

Artikel 56 gee nog die volgende voorskrifte vir die bediening van die doop:
➢ dit moet in ’n erediens plaasvind;
➢ dit moet geskied volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

|228|

Die doopsformule.

Die formule wat by die bediening van die doop gebruik moet word, is die volgende:

„N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (kyk Doopsformulier).

Dit is beslis verkeerd (en dit grens aan die antitrinitariese dwaalleer) om te sê:

„N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en die Naam van die Seun en die Naam van die Heilige Gees” (drie maal „die Naam van...”).

Nog erger, en blatant antitrinitaries:

„N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en in die Naam van die Seun en in die Naam van die Heilige Gees” (drie maal „in die Naam van”).

 

Wyse van doopsbediening.

Op die kwessie van besprinkeling of onderdompeling gaan ek hier nie in nie, behalwe om te sê dat die GKSA beslis nie gekant is teen onderdompeling nie; waarteen ons wel gekant is, is die leerstelling dat slegs onderdompeling aanvaarbaar is.

Op grond van die Skrif glo ons dat besprinkeling ook aanvaarbaar is vir ’n ware doopsbediening. Dit gaan naamlik nie om die hoeveelheid water nie, maar wel om water as ’n teken van die bloed van Christus.

Predikante moet egter daarteen waak om nie só min water te gebruik dat die teken amper verlore raak nie.

Doopouers moet asseblief ook nie onmiddellik by wees om die doopwater met ’n sakdoek af te vee nie! (Ek het dit al meegemaak dat die predikant dadelik ná die doopsbediening die water met sy sakdoek afvee!)

Visser, J. (1999) Art. 57

|229|

Artikel 57

 

Die bedienaars van die Woord moet toesien dat die vader, moeder of voogde die doop vir hulle kinders aanvra.

 

Taak van die bedienaar van die Woord.

Die vraag kan gevra word waarom nou juis die bedienaar van die Woord moet toesien dat die doop aangevra word; kan die wyksouderling dit nie net so goed doen nie?

Die antwoord op hierdie vraag is dat die betekenis van artikel 57 dieper gaan as bloot die betydse aanvraag van die doop.

Dit gaan hier ten diepste om die ampstaak van die bedienaar van die Woord om die verbondsouers te onderrig uit Gods Woord aangaande die suiwere leer van die doop.

In hierdie onderrig gaan dit om die volgende:
➢ dat die doop so spoedig moontlik aangevra word;
➢ dat die vader, as hoof van die verbondsgesin, die betekenis van die doop besef en verstaan, asook sy eie verantwoordelikheid tot verbondsonderrig. Waar die vader as hoof van die gesin oorlede is of nie bevoeg is om op die doopvrae te antwoord nie (kyk by art. 56), gaan die verantwoordelikheid oor op die moeder. Waar vader en moeder albei oorlede is of onbevoeg om op die doopvrae te antwoord, gaan die verantwoordelikheid oor op die voogde.

 

Aanvraag van die doop.

Die doop moet by die kerkraad aangevra word deur óf die wyksouderling óf die predikant.

Hierdie aanvraag hoef nie oor te staan tot by ’n volgende geskeduleerde kerkraadsvergadering nie; dit kan op ’n Sondag vóór of ná die erediens gedoen word.

’n Praktiese reëling is dat daar ’n standaardvormpie beskikbaar is waarop alle besonderhede van die kind en die ouers (soos byvoorbeeld volle name, geboortedatum en datum van doop, woonadres en

|230|

wyknommer of -naam) deur die wyksouderling of predikant ingevul word; hierdie voltooide vormpie word dan aan die attestasie-skriba oorhandig vir inskrywing in die Doopregister en die Dooplidmaatregister (kyk p. 225 e.v.).

Verkieslik moet die aanvraag tot die doopsbediening ingedien en oorweeg word minstens ’n week vóór die Sondag waarop gedoop sal word.

Visser, J. (1999) Art. 58

|231|

Artikel 58

 

Die bedienaar van die Woord moet by die doop van klein kinders sowel as die volwasse persone die onderskeie formuliere gebruik wat daarvoor vasgestel is.

 

Die belangrikheid van die Formuliere.

Die Formuliere is hoofsaaklik om twee redes belangrik:
➢ dit gee ’n Skriftuurlike en konfessionele verklaring van die sakrament van die doop;
➢ dit handhaaf die eenheid in liturgie m.b.t. die bediening van die doop tussen kerke in kerkverband.

 

Verklaring van die doop.

In die Doopsformuliere gaan dit hoofsaaklik om die genadewonder van die verbond wat met die doop beseël word.

Om te verseker dat daar nie dwaalleer insake die verbond en/of die doop insluip nie, is die Doopsformuliere vasgestel en verpligtend gemaak.

Want indien dit aan die vryheid van elke bedienaar van die Woord of kerk oorgelaat word, kan daar so maklik dwaalleer insluip deur verkeerde beklemtonings en/of weglating/byvoeging van woorde.

Bedienaars van die Woord moet hulle dus streng hou aan die vasgestelde Formuliere.

Dit geld ook die gebede in die Formuliere.

Of die algemene gebed wat aan die Woordbediening voorafgaan, afsonderlik gedoen word of by die eerste Formuliergebed ingesluit/bygevoeg word, is geen prinsipiële saak nie.

 

Eenheid in liturgie m.b.t. doopsbediening.

Gebondenheid van bedienaars van die Woord aan die vasgestelde Formuliere by doopsbediening is noodsaaklik ter wille van liturgiese eenheid in kerkverband.

|232|

Kerkverband berus naamlik op eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering. In die Formuliere word bepaalde kardinale aspekte wat in Skrif en Belydenis m.b.t. die betrokke sakrament gegee word, verwoord.

Geen bedienaar van die Woord het dus die vryheid om willekeurig die vasgestelde Formuliere aan te pas of te wysig nie.

Visser, J. (1999) Art. 59

|233|

Artikel 59

 

Volwassenes word deur die doop in die gemeente van Christus ingelyf en as lidmate van die kerk opgeneem en daarom is hulle verplig om die Nagmaal van die Here te gebruik soos hulle by hulle doop belowe het om te doen.

[Opmerking: Die Nasionale Sinode van 1994 het die woord „gemeente” in hierdie artikel verander na „kerk”. Hierdie wysiging moet egter eers, volgens artikel 86 KO, vir advies aan die ander Nasionale Sinodes voorgelê word voordat dit vir goedkeuring na die Algemene Sinode deurgestuur kan word (kyk Handelinge Sinode 1994, p. 437-455, art. 22.7)].

 

Konsekwensies van volwassedoop.

Hierdie artikel bepaal dat volwassenes deur die doop as lidmate van die kerk opgeneem word.

In artikel 56 word gesê dat die verbond van God deur die doop beseël word; dit geld ook van die volwassedoop.

Iemand wat dus as volwassene gedoop word en belydende lidmaat van die kerk geword het (kyk p. 226 by „Leeftydsgrens vir die kinderdoop”), moet die verbond bewustelik belewe. Hy is onder andere verplig om die Nagmaal te gebruik soos hy beloof het.

 

Konsekwensies van ongeoorloofde herdoop.

Soms raak belydende lidmate emosioneel só meegevoer deur een of ander sekte se volwassedoop dat hulle hulself as volwassenes laat „oordoop”.

Hieroor het die Sinode van 1945 soos volg besluit: „Die Sinode is van oordeel dat as ’n lidmaat van die Geref. Kerk hom deur ’n sekte laat doop het, hy daardeur by sodanige sekte aangesluit het. Daardeur verval hy as lidmaat van die Gereformeerde Kerk en kan alleen weer opgeneem word ná openbare belydenis van geloof.” (Handelinge p. 126, art. 93(a), 171).

|234|

So ’n lidmaat het dus met die daad van herdoop sy geloofsbelydenis verloën en opgehou om lidmaat van die betrokke Gereformeerde Kerk te wees.

Streng rigoristies gesproke mag ’n kerkraad dus, volgens hierdie Sinodebesluit, eenvoudig ’n lidmaat se naam uit die lidmaatregister skrap as hy hom deur ’n sekte laat „oordoop” het.

Ek meen egter dat dit nie die korrekte manier van optrede is nie.

Ondervinding het geleer dat sommige lidmate wat hulle laat „oordoop” het, nie die volle konsekwensies van hul daad besef het nie.

Deur liefdevolle pastorale bediening en onderrig kan sulke lidmate tot die besef gebring word van die sondigheid van hulle impulsiewe optrede.

Hulle kan dan voor ’n kerkraadskommissie hul berou betoon en opnuut hul geloof bely. Openbare aflegging van geloofsbelydenis is dus nie nodig nie.

Indien lidmate nie die sondigheid van hul optrede wil besef en bely nie, moet die beëindiging van hul lidmaatskap duidelik aan hulle uitgespel en aan die gemeente bekend gemaak word.

Heropname as lidmate kan in hierdie gevalle slegs gebeur na openbare aflegging van geloofsbelydenis.

Visser, J. (1999) Art. 60

|235|

Artikel 60

 

Die name van die gedooptes en van hulle ouers of voogde sowel as die datums van geboorte en doop moet opgeteken word.

 

Doopregister.

(Kyk in hierdie verband p. 226 en 229 e.v.)
Die belangrikheid van die bepaling in hierdie artikel kan nie genoeg benadruk word nie.

Elke kerkraad moet ’n Doopregister hê waarin volledige besonderhede van elke gedoopte (en die ouers in geval van kinderdoop) aangeteken moet word.

Attestasie-skriba's (wat normaalweg hierdie funksie vervul) moet met groot noukeurigheid en stiptelikheid uitvoering hieraan gee.

 

Doopseel benodig vir aflegging van geloofsbelydenis.

Voordat ’n dooplidmaat belydenis van geloof mag aflê, moet daar eers objektiewe getuienis wees dat so ’n lidmaat wel gedoop is. Soms is dit nodig dat ’n doopseel voorgelê moet word as bewys dat die lidmaat wel gedoop is.

 

Geen doopseel bekombaar.

Begryplikerwys kan dit ’n groot probleem afgee as die kerkraad van die gemeente waar so ’n lidmaat gedoop is, geen rekord daarvan het nie en dus geen doopseel kan voorsien nie.

Voordat in so ’n geval oorgegaan word tot volwassedoop, moet alle moontlike pogings aangewend word om deurslaggewende bewys te bekom dat die betrokke lidmaat wel gedoop is. Sulke pogings kan byvoorbeeld skriftelike getuienis wees van minstens twee betroubare persone dat die doop wel bedien is.

Dit sal raadsaam wees om sulke getuienis deur te gee aan die kerkraad van die gemeente waar die doop bedien is, sodat ’n aantekening in die Doopregister aangebring kan word.

|236|

Koste verbonde aan uitreik van doopseels.

Elke kerkraad bepaal self of, en indien wel, hoeveel geld gehef mag word by die uitreik van doopseels.

Indien wel geld gehef word, moet dit nie die perke van billikheid oorskry nie.

 

Naamsverandering in Doopregister.

Die Sinode van 1961 het ’n uitvoerige rapport goedgekeur oor die naamsverandering in die Doopregister in geval van aangenome kinders. (Handelinge p. 126-132, art. 38. Kyk ook Kerkordeboekie p. 86 e.v.).

Hierdie Sinodebesluit geld ook in ander gevalle van naamsverandering in die Doopregister.

Visser, J. (1999) Art. 61

|237|

Artikel 61

 

Tot die Heilige Nagmaal word alléén diegene toegelaat wat volgens gebruik van die plaaslike kerk belydenis van die Gereformeerde godsdiens gedoen het en ’n goeie getuienis van ’n vrome wandel besit. Sonder sodanige getuienis moet ook diegene wat uit ander kerke (van dieselfde kerkverband) kom, nie toegelaat word nie

[Opmerking: Die Nasionale Sinode van 1997 het die woorde „(van dieselfde kerkverband)” in hierdie artikel geskrap. Hierdie wysiging moet egter eers, volgens artikel 86 KO, vir advies aan die ander Nasionale Sinodes voorgelê word voordat dit vir goedkeuring na die Algemene Sinode deurgestuur kan word (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 531 e.v., punt 3.2.2 asook p. 537, punt 4.2)].

 

Toelating tot nagmaalsgebruik.

In hierdie artikel word twee vereistes gestel vir toelating tot nagmaalsgebruik:
➢ belydenis van die „Gereformeerde godsdiens”;
➢ goeie getuienis van ’n vrome wandel.

 

Belydenis van Gereformeerde godsdiens.

Die term „belydenis van Gereformeerde godsdiens” klink tot ’n mate vreemd.

Die betekenis hiervan word egter duidelik as dit teen die historiese agtergrond gesien word. Dit staan teenoor bepaalde dwalinge wat geheers het toe hierdie formulering gedoen is.

Die bedoeling is dat belydenis gedoen moet word dat Jesus Christus die Seun van die lewende God is en dat Hy met sy enige offerande aan die kruis vir alle sondes van sy uitverkorenes eenmaal en ten volle betaal het. Dit is immers wat deur die nagmaal afgeteken en verseker word.

Met ander woorde: „belydenis van Gereformeerde godsdiens” bedoel niks anders nie as „belydenis van geloof in die drie-enige God en aan alles wat in die Heilige Skrif geopenbaar en in die Gereformeerde

|238|

Belydenisskrifte uitgedruk word” (kyk eerste en derde vrae by Aflegging van Belydenis van Geloof).

 

Aflegging van Belydenis van Geloof.

In die GKSA is die normale gang van sake dat belydenis van geloof slegs gedoen kan word ná deeglike kategetiese onderrig en indringende ondersoek na leer en lewenswandel deur die kerkraad.

Die ware geloof (waarvan belydenis gedoen word) is hoofsaaklik twee dinge:
➢ „’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar”;
➢ „’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God ... ook aan my uit loutere genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het” (Heidelbergse Kategismus, V/A 21).

Die ondersoek wat die kerkraad instel ná die kategetiese onderrig is dus nie ’n ondersoek bloot na verstandelike kennis nie, maar na geloofskennis en geloofsvertroue.

Dit sluit ook in ’n ondersoek na ’n vroom lewenswandel.

Geen dooplidmaat wie se geloofskennis onvoldoende en wie se lewenswandel bedenklik is, mag toegelaat word om belydenis van geloof af te lê nie.

Wanneer die kerkraad tevrede is dat die geloofskennis voldoende en die lewenswandel voorbeeldig is, word toelating verleen om openbare belydenis van die geloof te doen.

 

Voor die gemeente.

Openbare geloofsbelydenis word voor die gemeente gedoen, in ’n erediens. Dit staan pertinent so in die Formulier vir die Aflegging van Belydenis van Geloof: „U kom nou hier voor die aangesig van God en in die midde van sy gemeente om u geloof te bely” (kyk Psalmboek, uitgawe 1988, p. 608 e.v.).

Soms is daar, veral wanneer ’n dooplidmaat al effe bejaard is, nie vrymoedigheid om voor die gemeente belydenis van geloof af te lê nie.

|239|

Sulke lidmate moet volhardend bearbei word om die gebrek aan vrymoedigheid uit te skakel.

 

Geen „aanneming en voorstelling” nie.

Die terminologie „aanneming en voorstelling” of „aanneming tot lidmaat” of „lidmaat word” is nie aanvaarbaar en korrek nie.

Die Doopsformulier sê immers uitdruklik dat kinders van die Here al vóór hulle doop lidmate van die kerk van Jesus Christus is.

Wat gebeur wanneer iemand belydenis van geloof aflê, is dat hy/sy voortaan nie meer dooplidmaat is nie, maar wel belydende lidmaat.

 

Opname van lidmate uit ander nie-Gereformeerde kerke met dieselfde Belydenis.

Wanneer iemand uit ’n ander nie-Gereformeerde kerk, met dieselfde Belydenis as die GKSA, aansoek doen om as lidmaat opgeneem te word, moet die kerkraad homself deeglik daarvan vergewis dat die volgende sake sonder verdenking is:
➢ die motiewe vir aansoek om opname;
➢ die kennis en vertroue volgens V/A 21 van die Heidelbergse Kategismus;
➢ die kennis van die liturgie en kerkregering van die GKSA;
➢ die voorneme tot ’n vroom lewe en onderwerping aan die kerklike vermanings.

Indien die situasie ten opsigte van een of meer van bogenoemde sake onbevredigend is, moet opname as lidmaat nie plaasvind nie; of daar moet vóór opname (na gelang van omstandighede) eers bykomende onderrig gegee word.

Normaalweg word bogenoemde ondersoek deur ’n kommissie van die kerkraad gedoen.

Dit is baie wenslik, indien nie noodsaaklik nie, dat opname as lidmaat geskied by wyse van geloofsbelydenis voor die kommissie van die kerkraad aan die hand van die Formulier vir die Aflegging van Belydenis van Geloof wat normaalweg in Gereformeerde Kerke gebruik word (Psalmboek, uitgawe 1988, p. 608 e.v.).

|240|

In elk geval moet ’n belofte/onderneming verkry word wat ooreenstem met die antwoord op die vrae wat in bogenoemde Formulier voorkom.

 

Opname van lidmate uit kerke met ’n nie-Gereformeerde Belydenis.

Wanneer iemand uit ’n kerk met ’n nie-Gereformeerde Belydenis of uit ’n ketterse gemeenskap aansoek doen om in ’n Gereformeerde kerk opgeneem te word as lidmaat, moet die kerkraad so ’n persoon se motiewe, asook sy/haar kennis van en instemming met die Gereformeerde Belydenis, liturgie en kerkregering indringend ondersoek.

Gewoonlik sal bykomende onderrig in sulke gevalle nodig wees.

Wanneer die kerkraad tevrede is dat die geloofskennis voldoende en die geloofsvertroue suiwer is (V/A 21 Heidelbergse Kategismus), word so iemand toegelaat om voor die gemeente belydenis van geloof af te lê ... desnoods met openbare herroeping van die kettery wat voorheen aangehang is.

 

Toelating tot gebruik van die nagmaal.

Ná „suksesvolle” aflegging van geloofsbelydenis word toelating verleen tot die gebruik van die heilige nagmaal. Dit moet by hierdie lidmate ingeskerp word dat die gebruik van die heilige nagmaal nie maar ’n opsionele saak is nie, maar ’n dure verpligting volgens die bevel van Christus in die Heilige Skrif (byvoorbeeld Matthéüs 26:26-28).

 

Geen „oop nagmaalstafel” nie.

Dit is nodig om weer te beklemtoon dat hierdie artikel ’n pertinente beperking stel t.o.v. wie toegelaat mag word om nagmaal te gebruik (kyk p. 237).

In die GKSA bestaan daar nie so iets soos ’n „oop” nagmaalstafel, sodat elkeen wat „behoefte” het om nagmaal te gebruik, mag toetree nie.

Die nagmaal is ’n heilige sakrament waaroor die ouderlinge streng toesig moet hou.

Daarom moet die ouderlinge gereeld huisbesoek doen, sodat die kerkraad, aan die hand van die ouderlinge se verslae oor hulle lidmate, kan besluit wie nagmaal mag gebruik en wie nie.

|241|

Wanneer iemand, wie se „belydenis en lewe” nie beantwoord aan die vereistes van Gods Woord en wet nie, toegelaat word om nagmaal te gebruik, is die konsekwensies eenvoudig skrikwekkend!: „... want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek...” (Heidelbergse Kategismus, V/A 82).

In so ’n geval kan daar dus geen sprake wees van „’n geseënde nagmaalsviering” deur die gemeente nie!

 

Toelating tot nagmaalsgebruik deur lidmate van ander Gereformeerde gemeentes.

Wanneer lidmate van ander Gereformeerde gemeentes (dus binne dieselfde kerkverband) saam met die gemeente nagmaal wil gebruik, moet hulle daarom aansoek doen by die kerkraad.

So ’n aansoek behels die volgende:
➢ toestemming deur die lidmaat se „eie” kerkraad;
➢ goeie getuienis van ’n vrome wandel.

Normaalweg moet hierdie toestemming en getuienis skriftelik gegee word, onderteken deur twee lede van die kerkraad (lees: ouderlinge, art. 37 KO).

Daar kan egter gevalle wees waar mondelinge toestemming en/of getuienis aanvaarbaar is. Elke kerkraad sal egter in groot verantwoordelikheid daaroor moet besluit.

 

Toelating tot nagmaalsgebruik deur nie-Gereformeerde lidmate.

Kerkrade word soms gekonfronteer met die ongemaklike situasie dat lidmate aansoek doen dat een of ander familielid, wat nie lidmaat is van ’n Gereformeerde kerk nie, toegelaat moet word om saam nagmaal te gebruik.

Op p. 237 is aangetoon dat hierdie artikel twee vereistes stel voordat iemand toegelaat mag word om die heilige nagmaal te gebruik:
➢ belydenis van Gereformeerde godsdiens;
➢ goeie getuienis van ’n vrome wandel.

Om dit toe te pas op lidmate van een of ander nie-Gereformeerde kerk, is nie so maklik nie.

|242|

Die feit van die saak is dat geen Gereformeerde kerk „in korrespondensie” staan met enige ander nie-Gereformeerde kerk nie; daarom kan onder andere nie attestasies oor en weer gegee en aanvaar word nie. En die „getuienis” waarvan artikel 61 praat, dra dieselfde karakter as ’n attestasie volgens artikel 82.

Die amptelike bewys van belydenis van Gereformeerde godsdiens en getuienis van ’n vrome wandel deur ’n nie-Gereformeerde kerk is dus nie aanvaarbaar vir die kerkraad van enige Gereformeerde kerk nie.

Tog kom daar gevalle voor waar die kerkraad van ’n Gereformeerde kerk wel beskik oor die informasie waarvan hierdie artikel praat, hoewel nie-amptelik.

Byvoorbeeld: ’n bejaarde vader of moeder, wat nie lidmaat van ’n Gereformeerde kerk is nie, woon in by Gereformeerde kinders. Met huisbesoek deur predikant en ouderling is hierdie ouer gewoonlik teenwoordig; hy/sy woon dikwels eredienste in die Gereformeerde kerk by; die predikant en ouderling is op hoogte van sy/haar vrome lewenswandel.

Wanneer so ’n nie-Gereformeerde lidmaat nou sou aansoek doen om saam nagmaal te gebruik in die Gereformeerde kerk (omdat nagmaalsgebruik in die eie kerk om een of ander geldige rede nie moontlik is nie), sou die kerkraad van die Gereformeerde kerk so ’n aansoek wel gunstig kon oorweeg. (Dit is bekend dat meeste bejaardes uit sentiment nie graag, soos dit dikwels gestel word, hulle „assestate lig” na ’n ander kerk nie).

Nadruk moet egter daarop gelê word dat dit slegs in uitsonderlike gevalle toegelaat moet word.

Visser, J. (1999) Art. 62-64

|243|

Artikels 62, 63 en 64

 

Artikel 62.

Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat na die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby behoort, gelees moet word.

Artikel 63.

Die nagmaal van die Here moet minstens elke drie maande gehou word.

Artikel 64.

Die bediening van die nagmaal vind alleen in ’n erediens plaas onder toesig van die ouderlinge.

 

Vryheid van elke plaaslike kerk.

Voordat enkele voorskrifte met betrekking tot nagmaalsviering aangetoon word, sê artikel 62 dat elke kerk die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien.

Daar is dus ’n aantal middelmatige sake by die viering van die nagmaal wat aan die vryheid van elke plaaslike kerk oorgelaat word.

Onder andere kan die volgende genoem word:
➢ of die nagmaal sittende of staande gevier moet word;
➢ of daar tydens die viering gedeeltes uit die Skrif voorgelees of toepaslike Psalms/Skrifberymings gesing moet word;
➢ watter tipe brood en wyn gebruik moet word;
➢ of daar voor die nagmaal ’n voorbereidingsdiens en daarna ’n nabetragtingsdiens gehou moet word;
➢ of daar elke Sondag nagmaal gevier moet word.

|244|

Voorskrifte wat nagekom moet word. 

Artikel 62 bepaal dat „die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is” nie verander mag word nie.

Wat onder die onveranderlike „uiterlike seremonies” gereken moet word en wat nie, is nie altyd so maklik uit te maak nie; daarom is daar skerp verskil van mening oor sommige van die „elemente” by nagmaalsviering.

Waaroor daar (sover my wete strek) nie verskil van mening is nie, is onder andere die volgende:
➢ die maaltydkarakter moet gehandhaaf word;
➢ die nagmaal moet ná die preek, gebede en Formulier bedien word (art. 62);
➢ die Nagmaalsformulier (insluitende die „Formule”, J.V. — kyk Psalmboek, uitgawe 1988, p. 624 en 630) moet woordeliks gelees word (art. 62);
➢ gewone brood en wyn moet gebruik word;
➢ die nagmaal moet minstens elke drie maande gehou word (art. 63);
➢ die nagmaal mag slegs bedien word in ’n erediens, onder toesig van die ouderlinge (art. 64).

 

Aan tafel, of in banke? 

Mag met die nagmaalstafel weggedoen word, sodat bord(e) en beker(s) tussen die lidmate rondgaan terwyl hulle in die banke bly sit?

Na my mening is dit om die volgende redes nie die ideale wyse van nagmaalsviering nie:
➢ die maaltydkarakter kom nie tot sy volle reg nie;
➢ die ouderlinge kan nie behoorlik toesig hou nie;
➢ die getuienis/verkondiging wat spreek uit lidmate se aksie om op te staan en na die nagmaalstafel te gaan, gaan hiermee verlore.

 

Beker of kelkies.

Vandag is daar ernstige meningsverskil oor die kwessie van beker of kelkies.

Die Sinodes van 1927 (Handelinge p. 52, art. 154(b) en 1930 (Handelinge p. 47-50, art. 45, 46; p. 157-159, art. 184) het egter eksplisiet

|245|

die gebruik van kelkies afgewys.

Na aanleiding van ’n aantal beswaarskrifte het die Sinode van 1994 (Handelinge p. 524, punt 3 en 4) die aangeleentheid vir studie na deputate verwys. Aangesien die Sinode van 1997 nie voldoende tyd gehad het om ’n verantwoordelike besluit oor die uitgebreide studiemateriaal te neem nie, is besluit om die hele aangeleentheid vir verdere studie na deputate te verwys (Handelinge p. 729, punt 7).

Hopelik sal die Sinode van 2000 DV ’n finale besluit hieroor neem.

Voordat ’n sinode nie besluit dat die Sinodebesluite van 1927 en 1930 „in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde” nie (kyk art. 31 KO), bly die besluite van hierdie twee Sinodes nog van krag. Kragtens artikel 31 KO is plaaslike kerke verplig om nog steeds daaraan uitvoering te gee (kyk Sinodebesluit 1997, p. 729, punt 6.6).

Dit is daarom betreurenswaardig dat verskeie plaaslike kerke op eg independentistiese wyse artikel 31 KO kragteloos maak, die Sinodebesluite van 1927, 1930 en ook 1997 eiegeregtig ter syde stel en wederregtelik kelkies invoer by nagmaalsviering.

Die argument dat meeste kerke in die verband van die GKSA alreeds kelkies gebruik (met verwysing na meer as een beker), hou egter nie steek nie. Alhoewel die ideaal die gebruik van een beker is, bly die gemeenskapskarakter tog behoue as daar meer as een beker is — deurdat ’n groep lidmate gemeenskaplik dieselfde beker gebruik. Dit word ook nie aanbeveel dat ná elke tafel ’n stel skoon bekers, wat van nuuts af gevul word, gebruik word nie. Kontinuïteit tussen tafels word tot ’n groot mate behou indien die beker(s) ná elke tafel slegs weer opgevul word. Daar kan egter geen beswaar ingebring word as die predikant tussen die verskillende tafels die rante van die bekers met ’n skoon doek afvee nie. Trouens, hierdie gebruik kan sterk aanbeveel word.

 

Druiwesap.

Soms word daar geargumenteer dat gerehabiliteerde alkoholiste weer in die sonde kan terugval as hulle wyn drink met nagmaal. Daarom moet die nagmaal liewer met druiwesap bedien word.

|246|

Behalwe dat daar in die Skrif geen steun vir so ’n argument is nie, is daar (sover my wete strek) nog geen enkele geval bekend waar ’n gerehabiliteerde alkoholis as gevolg van nagmaalsgebruik weer in sy ou sonde teruggeval het nie.

Dit is ook my absolute geloofsoortuiging dat die Here nie sal toelaat dat enigiemand, wat aan sy bevel gehoorsaam is en nagmaal gebruik, as gevolg daarvan in sonde sal (terug)val nie.

 

Uitnooi om aan te sit?

Moet ’n predikant by elke tafel lidmate uitnooi om toe te tree tot die nagmaalstafel?

My ernstige mening is dat dit nie gedoen moet word nie.

’n Predikant nooi nie lidmate uit om toe te tree tot die tafel nie, maar hy skerp hulle op om, in gehoorsaamheid aan die bevel van Christus, toe te tree.

 

Alle bygeloof vermy.

Hierdie bepaling in artikel 62 moet gesien word in sy historiese verband. Dit is naamlik hoofsaaklik gerig teen die dwaalleer van die Roomse mis, naamlik dat die brood en wyn werklik in die liggaam en bloed van die Here verander en daarom as die offer van sy liggaam en bloed aanbid moet word.

Vandag is daar egter ook in die geledere van die GKSA ’n stuk bygeloof wat wortel en tak uitgeroei moet word! Dit is naamlik dié bygeloof dat die nagmaal baie hoër geag word as die gereelde Woordbediening: van die nagmaal mag nie weggebly word nie; maar die Woordbediening, twee keer elke Sondag, is nou nie so belangrik nie!

 

Twee nagmaalsvierings op een Sondag.

Ter wille van lidmate wat as gevolg van skofwerkery nie die oggend nagmaalsvierings kan bywoon nie, vier sommige gemeentes soggens en saans nagmaal.

As sodanig kan hiermee nie fout gevind word nie.

|247|

Die verkeerde sluip in wanneer lidmate wat in die oggend nagmaal gebruik het en weer in die aanddiens teenwoordig is, dan nie weer nagmaal gebruik nie.

Dan word die aand se nagmaalsviering ’n opsionele viering. En dit mag nie.

Die sinode van 1967 (Handelinge p. 165, art. 53 (63, 242)) het dan ook besluit dat ’n opsionele tweede nagmaalsviering op een Sondag nie toelaatbaar is nie.

Dit beteken dus dat as daar op ’n Sondag ’n oggend en aand nagmaalsviering is, alle lidmate wat in die diens(te) teenwoordig is, moet nagmaal gebruik. Geen lidmaat het dus die reg om ’n keuse te maak of hy/sy by die oggend- of aanddiens nagmaal wil gebruik nie.

 

Nagmaalsbediening buite die normale erediens.

Mag die nagmaal aan byvoorbeeld ’n kroniese sieke of ’n verswakte bejaarde aan huis bedien word?

Artikel 64 bepaal uitdruklik dat die nagmaal slegs in ’n erediens onder toesig van die ouderlinge bedien mag word.

Daar mag dus, teoreties gesproke, in hoogs uitsonderlike gevalle wel nagmaal aan huis van ’n lidmaat bedien word — op voorwaarde dat daar in die huis ’n erediens gehou word onder toesig van die ouderlinge.

Persoonlik meen ek dat dit prakties nie gedoen behoort te word nie, en wel om twee redes:
➢ die nagmaal is bedoel as ’n gemeenskapsmaal vir die hele gemeente;
➢ om nagmaal aan huis te bedien kan maklik die indruk skep dat lidmate wel sonder gereelde Woordbediening kan klaarkom, maar nie sonder nagmaalsbediening nie. So ’n siening is natuurlik totaal onaanvaarbaar, omdat dit grens aan bygeloof (kyk op p. 246: „Alle bygeloof vermy.”).

Visser, J. (1999) Art. 65

|248|

Artikel 65

 

Lykpredikasies of lykdienste mag nie ingevoer word nie.

 

Historiese agtergrond.

Hierdie artikel het sy ontstaan te danke aan reaksie teen die Roomse dwalinge by begrafnisse.

Met die Roomse lykdienste is ’n predikasie uitgespreek en gebede gedoen vir die oorledene asof daar nog hulp en bystand aan hom/haar verleen kan word.

Artikel 65 verbied sulke praktyke.

 

Geen erediens.

’n Begrafnis is ’n familie-aangeleentheid, waarby die kerk ook belang het.

By die begrafnisse van lidmate word nie eredienste gehou nie, maar slegs troos uit die Skrif aan die bedroefde agtergeblewenes gegee.

 

Waak teen verkeerde praktyke.

By begrafnisse moet gewaak word teen onder andere die volgende verkeerde praktyke:
➢ mensverheerliking;
➢ oormatige emosionaliteit;
➢ om die liggaam van ’n ontslapene te tipeer as „stoflike oorskot”;
➢ die strooi van blomme of grond op die kis.

 

Lykverbranding.

Verskeie Sinodes het lykverbranding sterk veroordeel as ’n heidense praktyk wat die geloof aan die opstanding uit die dood versluier.

Die volgende Sinodes kan genoem word:
➢ 1933 — Handelinge p. 117, punt III, vgl. p. 121, punt I (a) en p. 122.
➢ 1952 — Handelinge p. 216, punt B, vgl. p. 219 onder.
➢ 1958 — Handelinge p. 431, punt 1, vgl. p. 438, punt B 1.

|249|

Soms gebeur dit dat die familie gekonfronteer word met ’n wens van die oorledene dat sy lyk verbrand moet word. So ’n familie sal gewoonlik groot behoefte hê aan pastorale leiding en vertroosting uit die Skrif.

Op die vraag of ’n predikant in sulke gevalle ’n trooswoord uit die Skrif by die krematorium moet uitspreek, sal elke predikant volgens sy eie gewetensoortuiging moet optree. Die treurende familie mag egter nie aan hulself oorgelaat word nie.

Visser, J. (1999) Art. 66

|250|

Artikel 66

 

In tye van oorlog, pestilensie, algemene volksrampe en ander groot beproewings waarvan die druk oral in die kerke gevoel word, moet die klassis wat daarvoor deur die algemene sinode aangewys is, ’n dag van verootmoediging en gebed uitskrywe.

 

„Groot beproewings.”

Hierdie woorde in artikel 66 impliseer dat sulke dae van verootmoediging en gebed slegs in uitsonderlike gevalle van besondere nood uitgeskrywe moet word — en dan ook slegs wanneer die druk „oral in die kerke” gevoel word.

Streng gesproke is elke Sondag ’n „dag van verootmoediging en gebed”.

 

Taak van aangewese klassis.

Die algemene sinode wys ’n klassis aan om te oordeel of sulke dae uitgeskryf moet word. Gewoonlik sal nie gewag kan word vir die geskeduleerde normale byeenkoms van die klassis nie, maar ’n buitengewone klassis sal byeengeroep moet word (kyk p. 201).

Die aangewese klassis kan ook besluit dat ’n classis contracta (kyk p. 33) in spoedeisende gevalle namens die volle klassis kan besluit.

Tans is Klassis Potchefstroom die Klassis wat deur die Algemene Sinode hiervoor aangewys is.

 

Samewerking van ander kerkgroepe/owerheid.

Die aangewese klassis besluit in voorkomende gevalle of die samewerking van ander kerkgroepe en/of die owerheid gevra moet word vir sulke besondere dae.

 

Inkleding van byeenkomste.

Daar is geen vasgestelde vorm wat byeenkomste op sulke besondere dae moet aanneem nie. Elke plaaslike kerk (gemeente) besluit self daaroor.

Visser, J. (1999) Art. 67

|251|

Artikel 67

 

Die onderhouding van die Christelike feesdae, Kersdag, Paasfees, Pinkster en Hemelvaartsdag word aan die vryheid van die kerk oorgelaat.

 

Historiese agtergrond van hierdie artikel.

Die kerke van die Reformasie het van die vroegste tye af sterk nadruk daarop gelê dat slegs die Sondag as Christelike feesdag onderhou behoort te word.

Hiervoor kan verwys word na veral die Kerkorde van die Provinsiale Sinode van Dordrecht in 1574, artikel LIII: „...dat men met den Sondach alleen te vreden sijn sal...”, asook die Acta van die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1578, [Cap. IV] artikel XXIII: „Het ware wel te wensschen dat ... de Sondach alleen ghevyert mocht worden...”.

Die kerke het egter voor die probleem te staan gekom dat die (Roomse) owerhede bepaalde Christelike feesdae as vakansiedae bepaal het, waarop die Roomse Kerk dienste gehou het. Die lidmate van die Reformatoriese Kerke het dan ledig rondgeloop.

Om hierdie „onnutten ende schadelicken ledichganck” van die protestantse lidmate teen te gaan, het die voorgenoemde Nasionale Sinode van Dordrecht (1578) besluit dat die predikante „met predicatien” op sulke feesdae die „ghemeynte leeren sullen” om die nuttelose en skadelike ledigheid te verander „in een heylighe ende profytelicke oeffeninghe” (Acta (Cap. IV] artikel XXIII).

 

Aan vryheid van kerk oorgelaat.

Volgens hierdie artikel word die onderhouding van die Christelike feesdae nie verpligtend gemaak nie, maar aan die vryheid van die plaaslike kerke (gemeentes) oorgelaat.

Die Sondag is en bly nog die enigste Christelike feesdag waarvan die onderhouding verpligtend is.

|252|

Gesamentlike dienste met nie-Gereformeerde Kerke. 

Op verskillende plekke is dit die gebruik dat op een of meer van hierdie Christelike feesdae gesamentlike dienste gehou word met nie-Gereformeerde Kerke.

Behalwe wat op p. 11 e.v. gesê is oor kanselruil, kan die vraag gevra word wat die doel en betekenis is van sulke gesamentlike dienste. En waarom dan nie maar elke Sondag gesamentlike dienste hou nie? Wat toelaatbaar is op die sogenaamde ander Christelike feesdae, kan mos dan tog nie verbode wees op dié Christelike feesdag, naamlik die Sondag nie (kyk ook p. 37).

 

Die sogenaamde „kerklike jaar”.

Daar bestaan geen afdwingbare verpligting dat predikante hulle in hul prediking moet hou aan die sogenaamde „kerklike jaar” nie; (dit beteken dat predikante byvoorbeeld in die lydenstyd slegs preke oor die lyde van Jesus Christus mag preek, by Hemelvaart slegs preke oor die hemelvaart van Christus en met Pinkster slegs preke oor die uitstorting van die Heilige Gees).

Tog is dit wenslik dat die gemeente ten minste op die Sondag naaste aan die datum van ’n spesifieke heilsgebeurtenis, in die prediking besiel en geïnspireer moet word deur dit wat op daardie besondere dag herdenk word.

Dit wil natuurlik nie sê dat ’n predikant gebonde is om slegs by die herdenking van die heilsgebeurtenisse te preek oor Skrifgedeeltes wat direk daarmee in verband staan nie.

Visser, J. (1999) Art. 68

|253|

Artikel 68

 

Die bedienaars van die Woord moet op Sondag, gewoonlik in die tweede diens, die hoofinhoud van die Christelike leer soos vervat in die Heidelbergse Kategismus uitlê en soveel moontlik jaarliks afhandel volgens die Sondagsafdeling daarvan.

 

Woordbediening.

Kategismusprediking is niks anders nie as Woordbediening. Die Kategismus, soos ook die ander Belydenisskrifte, formuleer slegs wat die Woord van God sê.

 

Teks?

’n Vraag in verband met Kategismusprediking is of daar by elke Kategismuspreek ’n spesifieke teks uit die Skrif aangegee moet word.

Die antwoord hierop is onomwonde: Nee; en wel om twee redes:
➢ ’n bepaalde teks is nie nodig nie, omdat elke Sondagsafdeling en elke vraag en antwoord duidelik gegrond is op spesifieke Skrifgedeeltes;
➢ baie min Sondagsafdelings (indien enige) kan deur ’n enkele teks uit die Skrif gedek word.

Indien nodig, kan predikante meer as een Skrifgedeelte voorlees wat by die betrokke Sondagsafdeling pas.

Die gevaar om elke Kategismuspreek deur ’n enkele teks te probeer „dek”, loop meestal daarop uit dat die preek tussen die teks en die Sondagsafdeling deurval. Dan gebeur een van drie:
➢ die preek laat nie reg geskied aan die teks nie;
➢ die preek laat nie reg geskied aan die Sondagsafdeling nie;
➢ die preek laat nie reg geskied aan óf die teks óf die Sondagsafdeling nie.

As kurator van die Teologiese Skool Potchefstroom, en ook as hoorder van heelwat „Kategismuspreke” deur gevestigde predikante, het ek die bogenoemde probleme só dikwels duidelik gemerk.

|254|

Ook ander Belydenisskrifte? 

Die gebruik by sommige predikante om die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls soms in die plek van die Heidelbergse Kategismus te preek, moet sterk ontmoedig word.

Die Heidelbergse Kategismus is spesifiek opgestel as ’n troos- en leerboek — iets wat nie van die NGB en die DLR gesê kan word nie. Hierdie laasgenoemde twee Belydenisskrifte verskil opmerklik van die Heidelbergse Kategismus wat opset, inkleding en doel betref. Meestal loop „preke” uit hierdie ander twee Belydenisskrifte ook uit op „lesings in dogmatiek”.

Die argument dat die betrokke drie Belydenisskrifte hoofsaaklik dieselfde inhoud het, is nie geldig nie. Die DLR handel hoofsaaklik oor die predestinasie (uitverkiesing en verwerping), terwyl die NGB oor baie leerstukke nie so omvattend en uitvoerig handel as die Heidelbergse Kategismus nie (vergelyk byvoorbeeld Sondag 31 met NGB art. 32 en Sondae 26-30 met NGB artt. 34 en 35). Die „styl” van die NGB en DLR is ook beslis nie soos dié van die Heidelbergse Kategismus as troos- en leerboek nie.

Die ander twee genoemde Belydenisskrifte kan wel naas die „vrye stof”-preke gepreek word, maar nie in die plek van die Heidelbergse Kategismus nie. Artikel 68 verbied nie prediking uit die NGB en die DLR nie, maar dit gebied gereelde en sistematiese prediking uit die Heidelbergse Kategismus.

 

Sondagsafdelings verdeel?

Mag ’n predikant in sy Kategismusprediking ook individuele Vrae/Antwoorde behandel in plaas van hele Sondagsafdelings?

By wyse van uitsondering en afwisseling mag so iets gewens wees. Hierdie artikel bepaal naamlik slegs dat die Kategismus elke jaar „soveel moontlik” volledig afgehandel moet word.

Visser, J. (1999) Art. 69

|255|

Artikel 69

 

In die kerke moet die 150 Psalms, die Tien Gebooie, die Onse Vader, die Twaalf Artikels van die Geloof, die Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon gesing word. Ander skrifberyminge wat die sinode goedgekeur het, word in die vryheid van die kerkrade gelaat.

 

Psalms en Skrifberyminge.

In hierdie artikel word bepaal dat slegs die 150 Psalms en Skrifgedeeltes wat berym en deur die sinode goedgekeur is, in die eredienste gesing mag word.

Oor Skrifberymings is daar nog geen eenstemmigheid nie; die sing daarvan word ook nie in hierdie artikel verpligtend gemaak nie, maar aan die vryheid van die kerkrade oorgelaat.

Dit is na my mening onverstandig om dissiplinêr op te tree teenoor lidmate wat nie Skrifberymings wil sing nie; vir sulke lidmate is dit oor die algemeen ’n saak van beginsel, wat hulle nie kan rym met hul gewete nie.

 

„Skrifgetroue liedere”.

By die Sinode van 1997 het ’n beskrywingspunt gedien waarin gevra is dat artikel 69 KO uitgebrei word om ook die sing van sogenaamde „Skrifgetroue liedere” toe te laat; dit is liedere waarvan die teks nie gebaseer is op ’n bepaalde teks van die Bybel (soos Skrifberymings) nie.

Die Sinode het nie aan hierdie beskrywingspunt gevolg gegee nie; die motivering was soos volg: „Die liedere wat die Here ons in sy Woord gegee het (dit sluit berymde en te beryme OT en NT liedere in) is vir gebruik in die kerke die beste en voldoende” (Handelinge p. 806-809).

|256|

Liturgie.

Aangesien daar geen artikel in die Kerkorde is wat spesifiek oor die liturgie handel nie, sal ek by hierdie artikel enkele liturgiese aangeleenthede bespreek.

 

Liturgiese elemente.

Die Sinodes van 1985 (Handelinge p. 398 e.v.) en 1997 (Handelinge p. 731 e.v.) het belangrike besluite geneem insake liturgiese aangeleenthede. Besonderhede kan in die betrokke Handelinge van hierdie twee Sinodes opgelees word.

Wat ek graag hier wil benadruk, is dat in hierdie Sinodebesluite twee dinge deeglik onderskei en gerespekteer moet word:

Liturgiese elemente waaraan alle kerke in kerkverband hulle moet hou, word duidelik aangedui met die woorde „aanvaar” of „goedgekeur”. As voorbeelde kan die volgende genoem word:
➢ „Die aanvangseën word deur die liturg met opheffing van hande uitgespreek (vgl. Lev. 9:22). Besluit: Aanvaar” (Handelinge Sinode 1985. p. 412, punt 3.2.5.1).
➢ „Dat die Wet na die Geloofsbelydenis gelees word. Besluit: Goedgekeur.” (Handelinge Sinode 1985, p. 414, punt 3.5.3.1).

Liturgiese elemente wat aan die vryheid van die plaaslike kerke oorgelaat word, word duidelik as sodanig aangedui. As voorbeeld kan die volgende genoem word:
➢ „Die beoefening van hierdie liturgiese handeling (selfstandige Skriflesing, J.V.) word aan die vryheid van die plaaslike kerk oorgelaat. Besluit: Goedgekeur...” (Handelinge Sinode 1997, p. 755, punt 8.3.2.1).

Dit is dus vanselfsprekend dat predikante en kerkrade hulle moet hou aan Sinodebesluite i/s liturgiese elemente en liturgiese orde wat nie aan die vryheid van die plaaslike kerke oorgelaat is nie; kragtens artikel 31 KO is daardie besluite immers „vas en bindend”.

Dit is en bly ’n tragiese verskynsel dat sommige predikante (met goedkeuring van hul kerkrade) hulle eenvoudig nie aan hierdie kerkordelike beginsel steur nie; op eg-independentistiese wyse eien hulle hulself ’n „liturgiese vryheid” toe wat hulle nie toekom nie: hulle stel hul eie

|257|

liturgie vas waarvolgens hulle die eredienste in hul gemeentes laat verloop!

Klassisse behoort deur middel van kerkvisitasie deeglik hierop te let en hieroor te handel.

 

Die sogenaamde „kinderkerk”.

Dit gebeur tans in toenemende mate in gemeentes dat dooplidmate tot ’n sekere leeftyd op ’n bepaalde moment die erediens verlaat; hulle word dan in ’n ander lokaal deur iemand besig gehou met waarmee ook al. Die rede wat vir hierdie reëling van ’n afsonderlike „kinderkerk” gegee word, is dat die kinders dan nie die preek verstaan nie.

Hierdie gebruik kan nie in sterk genoeg taal afgekeur word nie!

Die redes vir hierdie afkeuring is onder andere die volgende:
1. dit is ’n miskenning van die wese van ’n erediens;
2. dit is ’n miskenning van die almagswerk van die Heilige Gees;
3. dit is ’n miskenning van die verbond;
4. dit is ’n miskenning van die feit dat kinders ook lidmate van die gemeente is.

By 1: ’n Erediens is ’n ontmoeting van die gemeente met die drie-enige Verbondsgod, Vader, Seun en Heilige Gees. Hy neem die inisiatief; Hy roep en nooi uit. Daarom is hierdie ontmoeting van en gemeenskap met God alleen moontlik vanweë die kruisiging en opstanding van Jesus Christus en die vernuwende inwerking van die Gees van God (kyk Handelinge Sinode 1985, p. 406. punt 2.2).

Wanneer dooplidmate die erediens op ’n bepaalde stadium moet verlaat, is die konsekwensie daarvan dat hulle nie lidmate van die gemeente is nie, en dat daar vir hulle nie plek en geleentheid is vir die volle duur van die ontmoeting met God nie.

Die erediens is dus net vir ’n gedeelte ’n „ontmoeting tussen God en sy (volle) gemeente”.

By 2: Die argument dat kinders nie die preek kan verstaan nie, is ’n ysingwekkende demonstrasie van onkunde oor die almag van God die Heilige Gees! Watter mens durf beweer dat die Heilige Gees nie ook tydens Woordbediening werk in die harte van sy klein uitverkore

|258|

kindertjies nie?! Ons bely dan in die Heidelbergse Kategismus: aan die kinders word „... nie minder as aan die volwassenes nie deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes en die Heilige Gees, wat die geloof werk, belowe” (Antwoord 74. Kyk ook die verwysing na die Sinodebesluit van 1985 op die vorige bladsy, veral: „die vernuwende inwerking van die Gees van God”).

By 3: Die kinders is in die verbond van God ingesluit; as God dan sy verbondsgemeente in die erediens ontmoet, hoort die kinders ook daar — van die begin van daardie ontmoeting af tot die einde daarvan (kyk byvoorbeeld Génesis 17: 7, Handelinge 2: 39; ook Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 34: „Ons glo daarenteen dat ons hulle {die kindertjies, J.V.} behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël...”. Ook die Doopsformulier is baie duidelik dat die kinders in die verbond van God ingesluit is en lidmate van sy gemeente is).

By 4: Soos die kinders ingesluit is in die verbond van God, so is hulle ook lidmate van sy verbondsgemeente. Daarom moet hulle ook enduit teenwoordig wees in die eredienste, waar God sy verbondsgemeente amptelik ontmoet.

’n Interessante (maar baie belangrike) bevinding wat duidelik teenoor die redes vir die sogenaamde „kinderkerk” staan, is die resultaat van navorsing wat in hierdie verband gedoen is en wat jare gelede in „Die Hervormer” gepubliseer is.

Hiervolgens word kinders ’n groot ondiens bewys as hulle op ’n bepaalde tydstip die erediens moet verlaat. Want, so is bevind, die erediens is vir ’n kind een van die baie weinige geleenthede waar hy letterlik alles saam met die volwassenes kan doen sonder om daaroor berispe te word: hy kan saam sing (al doen hy dit dan ook vals of in sy eie brabbeltaal); hy kan saam „Bybel lees” (al kan hy gladnie by die predikant „byhou” nie); hy kan saam bid (al kyk hy ook so nou en dan rond tydens die gebed); hy kan sy eie kollektegeld in die sakkie gooi; (en hy kan selfs saam met ’n volwassene of twee ’n bietjie „indut”! — J.V.).

Daarom is ’n erediens vir ’n kind in ’n belangrike sin ’n hoogtepunt.

En om hierdie hoogtepunt nou van hom weg te neem (al is dit ook slegs gedeeltelik), is om hom in ’n sekere sin te verarm.

Visser, J. (1999) Art. 70

|259|

Artikel 70

 

Kerkrade moet toesien dat die huwelik as heilige verbintenis in die Here aangegaan word volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

Huweliksbevestiging en erediens.

Vroeër is daar in die geledere van die GKSA ’n stryd gevoer oor die vraag of die „diens” by ’n huweliksbevestiging ’n erediens is of nie. Vir baie jare was dit dan ook die gebruik dat die „diens” by ’n huweliksbevestiging wel ’n erediens is.

In die vroeëre uitgawes van die Kerkordeboekie het artikel 70 dan ook só gelui: „Die Kerkrade moet toesien dat die huwelikstaat voor die gemeente van Christus, volgens die Formulier daarvoor, bevestig word, omdat dit so behoort” (my kursivering, J.V.).

Hierdie bewoording is eers deur die Sinode van 1967 gewysig soos dit tans is (Handelinge p. 454- 477).

Dit is wel nie ontoelaatbaar dat ’n huwelik tydens ’n erediens bevestig word nie.

 

Die Owerheid en huweliksbevestigings.

Die Owerheid het ’n direkte belang by die bevestiging van huwelike.

Daarom word predikante ook deur die Owerheid aangestel as huweliksbevestigers, wat vanselfsprekend meebring dat hulle gebonde is aan die verskillende wette en bepalings ten opsigte van huwelike en huweliksbevestigings.

Predikante moet steeds daarop bedag wees dat hulle, selfs in hul optrede as „staatsamptenare” (huweliksbevestigers) gebonde bly aan die beginsels van Gods Woord en wet en die besluite van Sinodes.

|260|

„Huweliksgebooie”, afkondiging van voorgenome huwelik.

Vir baie jare was dit wet dat geen huwelik bevestig mag word voordat die sogenaamde huweliksgebooie nie bekendgemaak is nie. Dit kon op twee maniere gedoen word:
➢ deur ’n kennisgewing by ’n magistraatshof (lees: landdroshof);
➢ deur afkondiging op drie agtereenvolgende Sondae met ’n erediens in die kerk.

Een van die doelstellings hiervan was om geleentheid te gee vir die indien van besware teen ’n voorgenome huwelik.

Hierdie wet is later gewysig en die verpligte afkondiging van huweliksgebooie is geskrap.

Aangesien die gemeente tog direkte belang het by die voorgenome huwelik van lidmate, het die Sinode van 1973 die volgende besluit geneem: „...dat volgens artikel 70 K.O. dit noodsaaklik is dat voorgenome huwelike voortaan nog aan die gemeente bekend gestel sal word” (p. 330).

 

Egskeiding.

Op grond van die Skrif, asook verskeie Sinodebesluite, erken die GKSA slegs owerspel as wettige grond vir egskeiding (kyk byvoorbeeld Sinode 1964, Handelinge p. 468-476).

Predikante moet uiters versigtig wees om nie in die versoeking gestel te word om, veral in die geval van geskeide persone, huwelike te bevestig wat volgens die Skrif nie toelaatbaar is nie (kyk byvoorbeeld Matthéüs 19: 9 veral in vergelyking met I Korinthiërs 7: 11; hiervolgens is dit ontoelaatbaar dat ’n geskeide persoon weer trou terwyl daar nog ’n moontlikheid van versoening met die vervreemde eggenoot is).

So ’n huwelik kan nie getipeer word as „heilige verbintenis in die Here” nie.

Visser, J. (1999) Art. 71

|261|

Artikel 71

 

Die kerklike tug is geestelik, daarom is, afgesien van die burgerlike straf, die kerklike sensuur noodsaaklik om die eer van God te handhaaf, die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen en die aanstoot uit die gemeente van Christus weg te neem.

 

Tug, sensuur en straf.

Tussen die begrippe „tug” en „sensuur” is daar prakties geen verskil nie. Albei is ’n aanduiding van die kerklike dissipline wat uitgeoefen word om afgedwaalde lidmate in liefde weer terug te bring op die regte pad.

Die begrip „straf” beteken nie noodwendig „vergelding”, soos wat algemeen aanvaar word nie. Daar is twee soorte straf: ’n straf tot bekering (tydelike straf) en ’n straf tot vergelding (ewige straf; kyk Heidelbergse Kategismus Antwoord 10 en Vraag 12). 

Dit is insiggewend dat die ou Acta en Kerkordes feitlik deurgaans die woord „straffinghen" (Dordrecht 1578, [Cap. VI] art. I) en „straffe” (Middelburg 1581, art. LVIII, ’s Gravenhage 1586, art. LXIV en Dordrecht 1618-19, art. LXXI) gebruik.

 

Tug onontbeerlik vir ware kerk.

In artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis word die toepassing van die kerklike tug aangetoon as een van drie merktekens van die ware kerk.

’n Kerk kan dus nie ware kerk wees sonder konsekwente toepassing van die tug nie.

 

Tugtoepassing ’n betoning van liefde.

Feitlik die mees algemene wanopvatting oor tug is dat dit ’n liefdelose handeling is waardeur mense van die kerk weggedryf word. Ons hoor dan ook dikwels van lidmate (en selfs predikante) die skyn-vrome argument teen konsekwente tugtoepassing: „Ons moet nie wegjaag nie, maar versamel.”

|262|

As sodanig is die tug egter hoegenaamd nie ’n liefdelose handeling nie. Inteendeel, die tug is juis ’n bewys van liefde! Die Here sê dan ook Self in sy Woord dat Hy diegene wat Hy liefhet, tugtig en kasty (kyk Hebreërs 12: 6; Openbaring 3: 19).

’n Kerkraad wat nie die tug toepas nie, is ’n liefdelose kerkraad. Want so ’n kerkraad laat sy afgedwaalde lidmaat maar voortgaan op sy verkeerde pad, totdat hy oplaas die verderf instort! — En dit is waaragtig nie ’n bewys van liefde nie; dit is inteendeel die grofste liefdeloosheid!

 

Kerklike tug is geestelik.

In hierdie artikel word gesê dat die kerklike tug „geestelik” is, teenoor die burgerlike straf. Kerklike tug bestaan dus nie in geldboetes, lyfstraf of tronkstraf nie. Inteendeel is die kerklike tug vermaning, bestraffing, opskorting van gemeenskap en by uiterste verharding uitbanning uit die gemeente.

Elke vorm van kerklike tug begin by vermaning — nie-amptelike vermaning van lidmate onder mekaar en amptelike vermaning deur die kerkraad.

 

Stiptelike en noukeurige notulering.

Aangesien daar uit tughandelings appèlle kan voortspruit, en ook omdat die advies van die klassis volgens artikel 77 benodig word, is dit van absoluut-kardinale belang dat alle tughandelings deur die kerkraad reg van die begin af stiptelik en baie noukeurig genotuleer moet word.

 

Tug oor dooplidmate.

Soms moet ’n kerkraad ook tug toepas oor ’n dooplidmaat.

Begryplikerwys sal so ’n tughandeling verskil van dié oor belydende lidmate; ’n dooplidmaat kan byvoorbeeld nie van die nagmaal afgehou word nie, soos artikel 76 bepaal.

In hierdie verband het die Sinode van 1961 besluit dat dooplidmate wel lidmate van die kerk is kragtens die genadeverbond; hulle is egter inkomplete lidmate, en daarom kan die tug ook slegs inkompleet wees. Daar bestaan geen wesensverskil tussen tug oor belydende lidmate en die oor dooplidmate nie, maar wel ’n verskil in graad. Kerkrade moet

|263|

dus die gewone prosedure van tug, soos dit volgens die Kerkorde op belydende lidmate toegepas word, ook toepas op dooplidmate met inagneming van die inkompleetheid van hulle lidmaatskap (Handelinge p. 120-126).

Visser, J. (1999) Art. 72/73

|264|

Artikels 72 en 73

 

Artikel 72.

As iemand dan ten opsigte van die suiwerheid van die leer of vroomheid van die wandel sondig, moet, in sover dit heimlik is en geen openbare aanstoot gegee het nie, die reël onderhou word soos Christus duidelik in Matthéüs 18 voorskrywe.

Artikel 73.

Die heimlike sondes waaroor die sondaar berou het nadat hy deur een persoon afsonderlik of in teenwoordigheid van twee of drie getuies vermaan is, moet nie voor die kerkraad gebring word nie.

(Kyk by hierdie artikels Bylae „D” agter in hierdie boek).

 

Heimlike sondes.

Die woord „heimlik” het in hierdie artikels en in artikel 74 die betekenis van „verborge” of „geheim”.

Sondes wat heimlik is en geen openbare aanstoot gegee het nie, moet behandel word soos Christus in Matthéüs 18: 15-17 voorskryf: eers moet persoonlik „onder vier oë” bestraf word; word daar geen gehoor gegee nie, moet een of twee persone saamgeneem word, in wie se teenwoordigheid die oorspronklike bestraffing herhaal word; word daar steeds geen gehoor gegee nie, moet die saak onder die aandag van die kerkraad (lees: ouderlinge, art. 37) gebring word (kyk art. 74).

Christus skryf dus in Matthéüs 18 persoonlike bestraffing voor in gevalle van heimlike sondes.

In praktyk gebeur dit egter maklik dat ’n lidmaat nie die lus en/of moed het om hierdie opdrag van die Here uit te voer nie; dan gaan vra hy die ouderling of predikant om die saak te hanteer of om dit by die kerkraad aanhangig te maak; dit onthef hom dan van die ongemaklike pligpleging om self te gaan vermaan.

Ouderlinge en predikante moet baie versigtig wees om nie in hierdie strik te trap nie, omdat daaruit slegs ongelukke gebore word. Om ’n

|265|

„kortpad” te kies waar die Skrif ’n „langer pad” voorskryf, is die resep vir ’n ramp!

Daar moet ook in gedagte gehou word dat geen ouderling of predikant die reg of die vryheid het om ’n heimlike sonde openbaar te maak deur dit byvoorbeeld by die kerkraad aanhangig te maak nie. Indien dit wel gebeur, en die vermeende sondaar sou daarteen appelleer, sou hy sy appèl loshande wen.

 

In alle gevalle eers die weg van Matthéüs 18?

Daar bestaan ’n siening dat in alle gevalle waar gesondig is, ook in gevalle van openbare of growwe sondes (kyk art. 76), éérs die weg van Matthéüs 18 gevolg moet word voordat ’n beskuldiging/klag by die kerkraad aanhangig gemaak mag word.

Hierdie siening vind egter geen steun in óf die Skrif óf die Kerkorde nie (kyk Bylae „D” vir meer uitvoerige beredenering).

Visser, J. (1999) Art. 74

|266|

Artikel 74

 

As iemand, nadat hy deur twee of drie persone in liefde oor ’n heimlike sonde vermaan is, geen gehoor gee nie of ’n openbare sonde bedryf het, moet dit by die kerkraad aanhangig gemaak word.

 

Wanneer ’n sonde by die kerkraad aanhangig gemaak moet word.

In hierdie artikel word bepaal dat ’n sonde slegs in twee gevalle by die kerkraad (lees: ouderlinge, art. 37) aanhangig gemaak mag/moet word:
➢ wanneer iemand nie gehoor gee aan die bestraffing(s) volgens Matthéüs 18 nie;
➢ wanneer iemand ’n openbare sonde bedryf het.

 

Op watter wyse ’n sonde by die kerkraad aanhangig gemaak moet word.

Wanneer die punt bereik word dat ’n bepaalde sonde by die kerkraad aanhangig gemaak moet word, is dit die beste dat dit skriftelik gedoen word. Die agtergrond/verloop moet duidelik geskets word en die saak moet behoorlik geformuleer en gemotiveer word.

Dit is egter moontlik dat ’n sonde ook wel mondeling onder aandag van die kerkraad gebring mag word. Kerkrade moet oor die wenslikheid/ toelaatbaarheid daarvan oordeel.

Sondes wat normaalweg mondeling onder aandag van die kerkraad gebring word, is gevalle waar ’n wyksouderling die swak kerklike meelewing van lidmate (swak bywoning van eredienste en/of swak kerklike bydrae), by die kerkraad aanhangig maak.

 

Ontvanklikheid eers beoordeel.

Voordat die materie van ’n klag/beskuldiging deur ’n kerkraad behandel mag word, moet die ontvanklikheid daarvan eers beoordeel word. Daardeur sal voorkom word dat los-en-vas beskuldigings, waarvoor daar geen substansie is nie, aan die kerkraad oorgedra word. Sodoende word lidmate beskerm teen kwaadwillige en ongegronde bewerings.

|267|

Deeglike ondersoek deur kerkraad.

Dit is van kardinale belang dat ’n kerkraad enige klag/beskuldiging wat by hom ingedien word, deeglik moet ondersoek voordat enige besluit geneem word.

Die klaer met sy getuies, sowel as die aangeklaagde met sy getuies, moet aangehoor word.

 

„Advokaat” van buite?

Indien ’n beskuldigde dit verkies, kan hy iemand van buite kry om namens hom sy verdediging te behartig as sy „advokaat”. Dit impliseer egter dat die beskuldigde daarmee sy eie spreek- en verdedigingsreg prysgee, omdat hy dit oorgedra het aan iemand anders.

 

Getuienis van meer as een.

Wat ook van die uiterste belang is, is dat niemand slegs op die getuienis van een persoon beoordeel of skuldig bevind mag word nie. In die lig van Deuteronómium 19: 15 (vergelyk 17: 6) moet minstens die getuienis van twee of drie persone verkry word voor ’n finale skuldigbevinding.

Wanneer ’n sonde deur ’n wyksouderling in sy gereelde wyksverslag onder aandag van die kerkraad gebring word, mag die kerkraad nie slegs op die getuienis van die betrokke wyksouderling tot ’n bevinding geraak nie (behalwe as die saak algemeen bekend is by die kerkraad); daar moet by wyse van ondersoek deur ’n kerkraadskommissie (byvoorbeeld die wyksouderling en een of twee medeouderlinge) tot ’n objektiewe konklusie gekom word. (Deuteronómium 19: 15, vergelyk 17: 6).

 

Saak verwys na kerkraadskommissie?

Wanneer ’n beskuldiging teen ’n lidmaat by die kerkraad aanhangig gemaak word en die saak word ontvanklik verklaar, mag dit profytlik wees dat die saak na ’n kommissie verwys word om alle toepaslike gegewens/getuienis in te samel en te evalueer. Dit is egter ’n algemene regsreël dat ’n beskuldigde nie slegs voor so ’n kommissie nie, maar voor die volle kerkraad geleentheid moet kry om homself te verdedig.

Visser, J. (1999) Art. 75

|268|

Artikel 75

 

Die versoening oor alle sondes wat uit hulle aard of deur veragting van die kerklike vermaninge openbaar geword het, moet, as daar genoegsame tekens van boetvaardigheid is, in so ’n vorm en op so ’n wyse plaasvind soos elke kerkraad dit vir die stigting van die kerk nodig oordeel. Indien daar verskil is in die kerkraad oor die vraag of die versoening in bepaalde gevalle in die openbaar moet plaasvind, moet daaroor met advies van twee naburige kerkrade beslis word.

 

Die plek van artikel 75.

Dit is opmerklik dat artikel 75 (oor die versoening) aan die eintlike „tugartikels” (76 en 77) voorafgaan.

Dit beklemtoon die belangrike feit dat versoening een van die belangrike doelwitte van kerklike tugoefening is.

Kerkrade wat konsekwent hiermee rekening hou, sal nie in die versoeking val om tugoefening te misbruik slegs om van „lastige lidmate” ontslae te raak nie.

Hierdie artikel gryp nie slegs terug op die vorige artikels, 72-74, nie; dit gryp ook vooruit na artikels 76 en 77 wat volg (let byvoorbeeld op die ooreenkoms in die aanvangswoorde van artt. 75 en 76: „uit hulle aard” in art. 75 slaan duidelik op „openbare of ... growwe” in art. 76; „veragting van ... vermaninge” in art. 75 slaan duidelik op „hardnekkig ... vermaning ... verwerp” in art. 76).

 

Slegs ná boetvaardigheid.

Versoening mag slegs plaasvind as die tug sy doel bereik het en daar boetvaardigheid by die sondaar is.

Die kerkraad moet egter baie seker wees dat die tug sy doel wel deeglik bereik het; daar moet naamlik „genoegsame tekens” van boetvaardigheid sigbaar wees.

|269|

Wyse deur kerkraad bepaal. 

Daar is geen vasgestelde, afdwingbare manier waarop die versoening moet plaasvind nie. Die aard van die sonde wat begaan is, sal die manier van versoening bepaal.

Die bewoording van hierdie artikel maak dit egter duidelik dat „openbare” versoening eerder die uitsondering as die reël is.

Elke kerkraad bepaal self die vorm en die wyse waarop die versoening moet geskied. In sekere gevalle kan die versoening afgehandel word deurdat ’n kerkraadskommissie die betrokke kerkraadsbesluit aan die lidmaat oordra en hom/haar indringend pastoraal begelei. In ander gevalle mag dit wenslik wees om die versoening voor die hele kerkraad te laat plaasvind; die kerkraad bepaal dan ook self die wyse en die mate van pastorale begeleiding.

Belangrik is dat die versoening moet plaasvind tot „stigting van die kerk”.

 

Openbare versoening.

In gevalle waar die sonde van so ’n aard was dat dit wye beroering in die kerk veroorsaak het (byvoorbeeld openbare godslastering, moord, owerspel) sal dit wenslik wees om die versoening in die openbaar te laat plaasvind.

Dit kan egter slegs met vrug en seën gedoen word as daar sekerheid is dat die ergernis uit die weg geruim is, die boetvaardigheid en bekering algemeen aanvaar word en die gemoedere heeltemal tot kalmte gekom het.

 

Wyse van openbare versoening.

In die wyse waarop die openbare versoening sal plaasvind, moet drie dinge voorop staan:
➢ die eer van God;
➢ die stigting van die gemeente;
➢ die welsyn van die sondaar.

 

Vorm van openbare versoening.

Die openbare versoening kan verskeie vorms aanneem:

|270|

➢ die kerkraad kan ’n goed-geformuleerde afkondiging aan die gemeente doen, met die naam van die sondaar genoem of weggelaat, soos die omstandighede vereis;
➢ die kerkraad kan ’n bondige afkondiging aan die gemeente doen en daarná die sondaar self geleentheid gee om sy boetvaardigheid voor die gemeente te bely ... weer soos die omstandighede vereis;
➢ toelating tot die nagmaal kan nog eers teruggehou word ten einde die sondaar geleentheid te bied om die egtheid van sy boetvaardigheid te bewys.

 

Verskil van mening.

Wanneer daar verskil van mening in die kerkraad is oor die vraag of en hoe die openbare versoening moet plaasvind, moet die advies van twee naburige kerkrade ingewin word.

Hierdie twee naburige kerkrade sal saam met die plaaslike kerkraad as classis contracta optree (kyk pp. 33, 292).

Die „advies” wat hierdie twee naburige kerkrade gee, mag nie maar willekeurig deur die plaaslike kerkraad tersyde gestel word nie (kyk p. 56 e.v.). Indien daar nie eenstemmigheid tussen die plaaslike kerkraad en die twee naburige kerkrade bereik kan word nie, moet die saak na die volle klassis verwys word vir finale beslissing.

Visser, J. (1999) Art. 76

|271|

Artikel 76

 

Diegene wat hardnekkig die vermaning van die kerkraad verwerp en ook die wat ’n openbare of anders ’n growwe sonde gedoen het, moet van die sakramente van die Here afgehou word

[Opmerking: Die Nasionale Sinode van 1997 het die woord „sakramente” in hierdie artikel vervang met „nagmaal”. Hierdie wysiging moet egter eers, volgens artikel 86 KO, vir advies aan die ander Nasionale Sinodes voorgelê word voordat dit vir goedkeuring na die Algemene Sinode deurgestuur kan word (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 535. punt 3.2.3 en p. 537, punt 4.2.3)].

 

„Dissiplinêre afhouding.”

Die „afhouding van die sakramente” wat in hierdie artikel bepaal word, is ’n dissiplinêre afhouding. In die verdere bespreking van hierdie artikel sal ook nog gewys word op ’n nie-dissiplinêre afhouding.

[Opmerking: Ek sal verder in artikels 76 en 77 deurgaans die woord „nagmaal” in plaas van „sakramente” gebruik; ’n belydende lidmaat kan tog slegs van die nagmaal afgehou word, maar nie van die doop nie; hy/sy is immers reeds gedoop!].

 

Erns van dissiplinêre afhouding.

Dissiplinêre afhouding van die nagmaal is ’n uiters ernstige aangeleentheid. In die Heidelbergse Kategismus word duidelik gesê dat wanneer mense, wat nie daartoe geregtig is nie, wel nagmaal gebruik, die verbond van God ontheilig word en sy toorn oor die hele gemeente opgewek word (Vraag/Antwoord 82).

In sulke gevalle kan daar dus geen sprake wees van ’n geseënde nagmaalsviering nie!

 

Redes vir dissiplinêre afhouding.

Die redes vir dissiplinêre afhouding is tweërlei:
➢ wanneer die vermanings van die kerkraad hardnekkig verwerp word;

|272|

➢ wanneer daar ’n openbare of growwe sonde gedoen is.

Op p. 262 is daarop gewys dat elke vorm van tug by vermaning begin. As die vermaning egter geen gewenste resultaat oplewer nie, spreek dit vanself dat die intensiteit van die tug moet toeneem. Die volgende stap is afhouding van die nagmaal.

 

Wanneer vermanings van kerkraad verwerp word.

Wanneer ’n lidmaat se lewe sodanig is dat hy deur die kerkraad oor ’n tydperk amptelik vermaan is, maar die vermanings word hardnekkig verwerp, moet die kerkraad so iemand dissiplinêr van die nagmaal afhou.

Hierdie afhouding van die nagmaal sal egter slegs kan plaasvind nadat veelvuldige vermanings gedoen is. Die term „hardnekkige” verwerping van vermanings impliseer baie duidelik veelvuldige vermanings.

In die lig van Deuteronómium 19: 15 is dit belangrik dat hierdie vermanings nie slegs deur die wyksouderling gedoen word nie, maar bykomend ook deur ’n kerkraadskommissie. Slegs op die getuienis van twee of drie mag besluit word tot afhouding van die nagmaal (en eventuele verdere tughandelings).

 

Wanneer ’n openbare of growwe sonde begaan is.

Dissiplinêre afhouding van die nagmaal moet ook plaasvind wanneer ’n lidmaat ’n openbare of growwe sonde gepleeg het. (’n Growwe sonde kan gepleeg word sonder dat dit onmiddellik openbaar geword het).

In sulke gevalle is dit uit die aard van die omstandighede nie moontlik en ook nie nodig dat daar eers vooraf „veelvuldige” vermanings gedoen moet word nie. Iemand wat sulke sondes gepleeg het, word summier dissiplinêr van die nagmaal afgehou.

 

Voortgaande bearbeiding.

Tydens die periode van afhouding moet so ’n lidmaat voortdurend intensief pastoraal bearbei word deur middel van vermanings, waarskuwings en bemoediging.

Die bearbeiding in sulke gevalle moet meer dikwels en met dringender vermanings gedoen word as by lidmate wat nie onder tug is nie.

|273|

Mededeling van kerkraadsbesluit. 

Wanneer ’n kerkraad besluit om ’n lidmaat dissiplinêr van die nagmaal af te hou, moet die oordra van die besluit aan die lidmaat skriftelik geskied, deur minstens twee ouderlinge. Die oordrag van die skriftelike besluit moet ook gepaard gaan met pastorale bearbeiding (Skriflesing, vermaning, waarskuwing, bemoediging en gebed).

Dit is beslis onwenslik dat so ’n besluit slegs deur die wyksouderling oorgedra word. Want sodoende kan ’n situasie ontstaan dat die lidmaat kennis van die kerkraadsbesluit ontken en wel gaan nagmaal gebruik; dan is dit die ouderling se woord teen dié van die lidmaat.

 

Indien so ’n lidmaat desondanks na die nagmaal gaan?

Dit het al gebeur dat lidmate wat deur die kerkraad dissiplinêr van die nagmaal afgehou is, tog by die nagmaalstafel gaan aansit.

Wat staan ’n predikant in so ’n situasie te doen?

Dit is logies dat die saak met die mins moontlike ontwrigting en ontstigting hanteer moet word. Die naam van so ’n lidmaat mag ook op geen stadium genoem word nie!

Na my mening is dit miskien die aangewese weg vir die predikant om soos volg op te tree:

Wanneer hy die betrokke lidmaat opmerk, moet hy sê dat daar aan die tafel ’n lidmaat is wat deur die kerkraad dissiplinêr afgehou word. Hy versoek dan die lidmate om die tafel te ontruim. Daarna roep hy lidmate weer op om toe te tree, met die uitdruklike versoek dat die lidmaat wat afgehou word, nie weer sal aansit nie. Indien die betrokke lidmaat tog weer gaan aansit, moet hy hom/haar versoek om die bord en beker by hom/haar te laat verbygaan. Die kerkraad moet so spoedig moontlik ná die nagmaal vergader om so ’n lidmaat summier volgens artikel 77 onder die „eerste trap” van sensuur te plaas (kyk by art. 77).

 

Afhouding afkondig?

Normaalweg word nie afgekondig wanneer lidmate van die nagmaal afgehou word nie.

|274|

„Selftug”.

Soms word gesê dat een of ander lidmaat hom/haarself onder „selftug” geplaas het. Die bedoeling hiervan is dat ’n lidmaat hom/haarself vrywillig van die nagmaal weerhou ná een of ander tugwaardige sonde, sodat die kerkraad nie meer nodig het om artikel 76 toe te pas nie.

Dit is egter ’n growwe dwaling. „Selftug” kan onder geen omstandighede die tugtoepassing deur die kerkraad vervang of oorbodig maak nie, omdat „selftug” geen dissiplinêre handeling van die kerkraad is nie.

 

„Stille sensuur” of „eenvoudige afhouding”.

Soms kan daar gevalle wees waar ’n kerkraad iemand adviseer om hom/haarself van die nagmaal te weerhou; of ’n lidmaat kan uit eie beweging hom/haarself vrywillig weerhou — ter wille van die stigting van die gemeente of die lidmaat se eie geestelike en ewige welsyn. Verskillende omstandighede kan daartoe aanleiding gee:
➢ wanneer sake nie vóór die nagmaal afgehandel kon word nie;
➢ waar iemand klaarblyklik onskuldig is, maar geen aanstoot in die gemeente wil gee nie.

Hierdie advies deur die kerkraad tot weerhouding van die nagmaal is geen dissiplinêre optrede nie. Dit word gewoonweg „stille sensuur” of „eenvoudige afhouding” genoem.

 

Posisie van ’n afgehoudene.

Wat is die posisie van ’n lidmaat wat dissiplinêr van die nagmaal afgehou word?

So iemand
➢ word nie van erediensbywoning uitgesluit nie; inteendeel moet so ’n lidmaat juis, deur getroue bywoning van eredienste en ander vorme van kerklike meelewing, bydra tot bewys van sy/haar boetvaardigheid en bekering;
➢ is nie verkiesbaar tot ’n besondere amp in die kerk nie;
➢ verbeur sy/haar „kiesreg” in die kerk;
➢ mag nie ’n kind ten doop hou nie;
➢ se versorging deur die diakens (indien van toepassing) moet voortgaan.

|275|

Hertoelating tot nagmaal.

Soms gebeur dit dat ’n lidmaat vir ’n vasgestelde tydperk, byvoorbeeld 6 maande, dissiplinêr van die nagmaal afgehou word; na verstryking van die 6 maande word hy/sy outomaties weer tot die nagmaal toegelaat, ongeag of daar boetvaardigheid en bekering is of nie.

Hierdie optrede moet in die sterkste taal afgekeur word, omdat dit ’n totale miskenning is van die doel van die kerklike tug!

Die doel van die kerklike tug is immers die eer van God, die suiwerheid van die gemeente en die behoud van die sondaar (kyk by art. 71). Hierdie drieërlei doel kan egter slegs bereik word as daar opregte boetvaardigheid en eerlike bekering is.

Slegs wanneer die kerkraad oortuig is van opregte boetvaardigheid en eerlike bekering, mag so ’n lidmaat weer tot die nagmaal toegelaat word.

 

Lidmaat weier om ouderling en/of predikant te ontvang.

Dit gebeur soms dat ’n lidmaat wat onder intensiewe vermaning is, weier om die ouderling en/of predikant in sy huis te ontvang. Op watter wyse moet die vermaning in so ’n geval voortgesit word?

Daar is slegs een manier wat oorbly, en dit is by wyse van korrespondensie. Maar dan moet die kerkraad seker wees dat die briewe wel deur die lidmaat ontvang word.

Indien dit nie moontlik is om briewe per hand deur minstens twee ouderlinge af te lewer nie, moet gebruik gemaak word van die koerierdiens van die poskantoor, wat allerweë beskou word as die veiligste manier om posstukke te versend.

Aflewering/versending moet in alle gevalle aan die lidmaat persoonlik gedoen word.

Die kerkraad moet egter afskrifte van sulke briewe, asook die strokies van die poskantoor, veilig bewaar as bewysstukke.

Die notulering van hierdie buitengewone bearbeiding moet vanselfsprekend stiptelik en noukeurig geskied.

Visser, J. (1999) Art. 77

|276|

Artikel 77

 

Diegene wat na afhouding van die sakramente en na herhaalde vermanings geen teken van boetvaardigheid laat blyk nie, maar hardnekkig in die sonde volhard, moet eindelik met die laaste tugmiddel, die afsnyding van die gemeenskap van die kerk afgesny word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.
Die finale afsnyding moet voorafgegaan word deur drie openbare afkondigings daarvan aan die gemeente, waarin vermeld moet word wat die oortreding van die sondaar is, dat daar veel arbeid aan hom bestee is deur bestraffing, afhouding van die sakramente en menigvuldige vermaninge en dat hy hom nie bekeer het nie. In hierdie afkondiginge moet die gemeente opgewek word om met die sondaar te spreek en vir hom te bid.
By die eerste afkondiging moet die naam van die sondaar, om hom enigsins te spaar, nie genoem word nie.
By die tweede moet met advies van die klassis ook sy naam genoem word.
By die derde moet aan die gemeente bekend gemaak word dat die sondaar, as hy hom nie bekeer nie, van die gemeenskap van die kerk afgesny sal word, sodat sy afsnyding met die stilswyende bewilliging van die gemeente kan plaasvind as hy hardnekkig bly.
Die kerkraad bepaal die tyd wat vir elke afsonderlike geval tussen die drie afkondigings verloop
.

 

Afsnyding van die kerk.

Die laaste tugmiddel is die afsnyding van die gemeenskap van die kerk.

Daartoe word slegs oorgegaan indien die sondaar, nadat hy/sy verskeie kere van die nagmaal afgehou en intussen ook herhaaldelik vermaan is, geen boetvaardigheid en bekering laat blyk nie, maar hardnekkig in die sonde volhard.

|277|

Artikel 76 mag nie oorgeslaan word nie.

’n Foutiewe optrede waarteen ernstig gewaarsku moet word, is dat die afhouding van die nagmaal volgens artikel 76 in die tugproses oorgeslaan word.

Ek het al argumente gehoor soos hierdie: die sonde wat begaan is, is só gruwelik dat die kerkraad nie die sondaar eers van die nagmaal afgehou het nie, maar onmiddellik oorgegaan het tot die „eerste trap van sensuur” (art. 77).

Dit mag nooit gebeur nie!

In geen geval mag die afhouding van die nagmaal oorgeslaan word nie — selfs al is die sonde wat gepleeg is hoe ernstig.

Artikel 77 bepaal uitdruklik: „...na afhouding van die sakramente en na herhaalde vermanings...”.

 

Drie openbare afkondigings.

Die afsnyding moet egter voorafgegaan word deur drie openbare afkondigings daarvan aan die gemeente.

In hierdie afkondigings moet die volgende aan die gemeente gemeld word:
➢ die oortreding van die sondaar;
➢ die bearbeiding wat aan hom/haar bestee is deur bestraffing, afhouding van die nagmaal en menigvuldige vermanings;
➢ dat daar geen bekering is nie;
➢ die gemeente moet opgewek word om met die sondaar te spreek en vir hom/haar te bid.

Hierdie afkondigings is in wese niks anders nie as drie openbare vermanings, wat met toenemende intensiteit plaasvind. Al is dit afkondigings aan die gemeente, verg dit nie groot onderskeidingsvermoë om in te sien dat daarin tog ook ’n baie sterk element van vermaning aan die sondaar sit nie, selfs al is dit in sy/haar afwesigheid.

Gewoonweg word hierdie afkondigings genoem: „eerste en tweede en derde trappe van sensuur”. (Die argument dat hierdie terminologie foutief is, omdat daar in die tugproses slegs twee trappe is, naamlik die afhouding van die nagmaal en die afsnyding, grens vir my aan

|278|

haarklowery. Met selfs groter geldigheid kan gesê word dat daar in die tugproses vyf trappe is: afhouding van die nagmaal, eerste en tweede en derde afkondigings, en laastens afsnyding volgens die formulier. Ook kan met reg gesê word dat die tugproses in vyf verskillende stadiums uiteenval, en dat die vyfde stadium, die afsnyding, voorafgegaan word deur die drie trappe van die vierde stadium).

Die tydsverloop tussen die drie afkondigings word deur die kerkraad bepaal.

 

Die eerste afkondiging.

In hierdie afkondiging word aan die gemeente bekendgemaak dat ’n lidmaat weens hierdie of daardie sonde, na afhouding van die nagmaal, onder die eerste trap van sensuur geplaas word.

Die sonde word dus wel bekendgemaak, maar nie die naam van die sondaar nie.

Die gemeente word aangemoedig om vir hierdie lidmaat voorbidding te doen.

Intussen moet die intensiewe pastorale arbeid aan hierdie lidmaat voortgaan, ook deur kerkraadskommissies, met noukeurige notulering daarvan.

 

Die tweede afkondiging.

In die tweede afkondiging word ook die naam van die sondaar bekendgemaak. Die gemeente word opgeskerp om met die sondaar te spreek en vir hom/haar voorbidding te doen.

Hierdie tweede afkondiging mag egter nie gedoen word voordat die advies van die klassis eers ingewin is nie (vir die draagwydte van die begrip „advies”, kyk p. 56 e.v.).

Die advies van die klassis is nodig om groter objektiwiteit in die tughandeling te waarborg.

Die klassis gee sy advies nadat hy die pastorale bearbeiding gedurende die verloop van die tugproses nagegaan het aan die hand van die kerkraad se notuleboek. As die bearbeiding voldoende was, gee die klassis toestemming dat met die tughandeling voortgegaan en die tweede

|279|

afkondiging gedoen mag word. As dit onvoldoende was, mag die kerkraad nie oorgaan tot die tweede afkondiging nie; die saak word vir voortgesette bearbeiding na hom terugverwys.

Na verloop van genoegsame tyd van voortgesette bearbeiding kan die kerkraad, indien nodig, weer die advies van die klassis inwin.

 

Die derde afkondiging.

Die derde afkondiging is ’n herhaling van die tweede, met die byvoeging dat die sondaar, as hy/sy hom/haar nie bekeer nie, op ’n vasgestelde datum van die gemeenskap van die kerk afgesny sal word.

Hiervoor is nie weer advies van die klassis nodig nie.

Die doel van hierdie afkondiging is om die stilswyende bewilliging van die gemeente tot afsnyding te verkry indien die hardnekkigheid voortduur.

Weer moet die gemeente aangemoedig word om met die sondaar te praat en vir hom/haar te bid.

Die pastorale bearbeiding moet egter nog voortgaan tot met die vasgestelde datum van afsnyding.

Die tydsverloop tussen die tweede en derde afkondigings (wat deur die kerkraad bepaal word) is gewoonlik heelwat korter as dié tussen die eerste en tweede.

 

Die afsnyding.

As daar ná die derde afkondiging en die vermanings daarná nog geen boetvaardigheid en bekering is nie, moet die sondaar van die gemeenskap van die kerk afgesny word. Hierdie afsnyding, wat ’n baie pynlike handeling is, vind in ’n erediens plaas volgens die vasgestelde Formulier.

Die naam van die afgesnedene word vanselfsprekend uit die lidmaatregister verwyder.

Volgens Christus se voorskrif in Matthéüs 18: 17 („... laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar”) moet daar geen intieme, broederlike omgang meer met die afgesnedene onderhou word nie.

|280|

Opsegging van gemeenskap voor afsnyding.

Indien die sondaar voor die afsnyding offisieel die gemeenskap met die kerk opsê, spreek dit vanself dat nie met die afsnyding voortgegaan mag word nie. Met die daad van opsegging van gemeenskap het die sondaar hom/haar onttrek aan die jurisdiksie van die kerkraad.

Visser, J. (1999) Art. 78

|281|

Artikel 78

 

As iemand wat afgesny is hom weer deur boetvaardigheid met die gemeente wil versoen, moet dit — voor die viering van die Heilige Nagmaal, of anders wanneer dit geleë is — tevore aan die gemeente bekend gemaak word, sodat hy by die eersvolgende nagmaal, as niemand daarteen beswaar inbring nie, openlik met betuiging van sy bekering weer opgeneem kan word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

Heropname ná boetvaardigheid.

In hierdie artikel word bepaal dat heropname van ’n afgesnedene wel moontlik is.

Dit mag egter slegs gedoen word indien daar opregte boetvaardigheid is. Hierdie boetvaardigheid moet nie slegs beweer word nie; dit moet daadwerklik bewys word (kyk Heidelbergse Kategismus V/A 85: „...beloof en bewys...”).

Die kerkraad sal vanselfsprekend eers baie oortuig moet wees van die opregtheid van die boetvaardigheid.

 

Aansoek om heropname.

Indien ’n afgesnedene weer as lidmaat opgeneem wil word, moet hy skriftelik daarom aansoek doen.

Soos hierbo gesê is, sal die kerkraad oortuig moet wees dat die boetvaardigheid opreg is.

Daarom sal die kerkraad allereers ’n kommissie stuur om met die aansoeker indringend te spreek oor sy voorneme en aansoek. Indien hierdie gesprek bevredigend verloop, moet die kerkraad eers ’n proeftyd bepaal, waartydens die aansoeker deur getroue kerklike meelewing kan bewys dat sy voorneme eerlik en sy boetvaardigheid opreg is.

Daarna moet die aansoek vir minstens twee of drie Sondae aan die gemeente bekendgemaak word, om sodoende geleentheid vir besware te

|282|

gee. Besware moet behoorlik gemotiveer en bewys word en skriftelik voor ’n bepaalde datum ingedien word.

 

Die heropname.

Indien daar geen wettige besware ingedien is nie, vind die heropname plaas by die eersvolgende nagmaalsviering volgens die vasgestelde Formulier.

 

Verbind aan viering van nagmaal.

Dat die heropname verbind word aan die viering van die nagmaal, is nie sonder betekenis nie.

Die nagmaal bekragtig naamlik vir elke berouvolle sondaar versoening en vergewing van die Here. Die eenheid by die nagmaal verseker ook vir hom/haar die herstelde gemeenskap in die gemeente van Christus.

 

Met betuiging van bekering.

Volgens artikel 78 moet hierdie heropname geskied „met betuiging van sy bekering”. Dit is egter geen afsonderlike deel van die heropname nie, maar ingesluit in die Formulier.

 

Opname in geval van verhuising.

Dit kan gebeur dat ’n afgesnedene ná sy afsnyding verhuis het.

By watter gemeente moet hy dan aansoek doen om heropname?

In so ’n geval moet die aansoek gerig word aan die kerkraad van die kerk in wie se gebied hy woon.

Uit die aard van die saak sal hierdie kerkraad oorleg moet pleeg met die kerkraad waar hy afgesny is.

Visser, J. (1999) Art. 79/80

|283|

Artikels 79 en 80

 

Artikel 79.

As ampsdraers ’n openbare growwe sonde bedryf wat in die kerk skandelik of ook by die owerheid strafbaar is, moet hulle deur die kerkraad dadelik voorlopig in hul amp geskors word; ouderlinge en diakens moet dan deur die kerkraad en ’n naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade in hulle amp geskors of daarvan afgesit word. Bedienaars van die Woord moet deur die kerkraad en deur die naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade egter net geskors word, waarna die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode oordeel of hulle heeltemal uit hulle amp afgesit moet word.

Artikel 80.

Onder die growwe sondes wat skorsing in of afsetting uit die diens verdien, is die volgende die vernaamste: valse leer of kettery, openbare skeurmakery, openbare godslastering, simonie, trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van ’n ander, meineed, egbreuk, hoerery, diefstal, geweldpleging, gewoonte-dronkenskap, vegtery, onregverdige winsbejag — kortom al die sondes en misdade wat die bedrywer by die wêreld en die kerk eerloos maak.

 

Openbare growwe sondes.

In artikels 72-74 is die kwessie van heimlike en openbare sondes bespreek (kyk p. 264 e.v.).

Die saak word ook meer breedvoerig beredeneer in Bylae „D” agter in hierdie boek.

In artikel 79 gaan dit slegs om „openbare growwe sondes”.

Wanneer ’n ampsdraer ’n heimlike sonde begaan het, word opgetree soos in artikels 72 en 73 bepaal word.

Slegs wanneer ’n ampsdraer sou weier om gehoor te gee aan die vermanings volgens Matthéüs 18, moet die saak by die kerkraad aanhangig

|284|

gemaak word volgens artikel 74. Maar dan moet die kerkraad ook in gedagte hou dat normaalweg eers die tug volgens artikel 79 toegepas moet word voordat die tug volgens artikels 76 en 77 in werking gestel mag word. Hierdie probleem word later in die behandeling van artikel 79 bespreek.

Die „openbare growwe sonde” wat in hierdie artikel ter sprake is, word breedweg gekwalifiseer as ’n sonde „wat in die kerk skandelik of ook by die owerheid strafbaar is”. In artikel 80 word die „vernaamste” van hierdie sondes aangedui.

Die bedoeling van hierdie bepaling: „growwe” sonde in artikel 79 moet duidelik gesien word as ’n middel om ampsdraers te beskerm teen allerlei kleinlikhede en ’n ongegronde ketterjag, op grond van beuselagtighede.

Anders sou ampsdraers weerloos blootgestel gewees het aan ’n magdom van ongegronde en onbewysbare aanklagte.

 

Die „sondelys” in artikel 80.

Dit moet baie goed verstaan word dat die bedoeling in artikel 80 hoegenaamd nie is om ’n volledige „katalogus” van sondes saam te stel wat met skorsing of afsetting gestraf moet word nie. So iets is nie slegs onmoontlik nie, maar ook onnodig.

In artikel 80 word uitdruklik gesê dat die sondes wat genoem word, die „vernaamste” is. Dit is dus geen volledige, afgeronde „sondelys” nie.

Vir die doel van hierdie boek is ’n bespreking van al hierdie sondes wat genoem word, nie nodig nie; dit kan in kerkorde-handleidings nagegaan word. Ek wil egter slegs op ’n paar „vangplekke” wys waarin so maklik beland word by die toepassing van artikel 79.

Valse leer of kettery, openbare skeurmakery, openbare godslastering, meineed, hoerery, diefstal, geweldpleging, vegtery en onregverdige winsbejag is sondes waarmee normaalweg nie probleme ondervind behoort te word nie. Ek gaan dus slegs ’n paar opmerkings maak by elkeen van die oorblywende sondes in artikel 80.

|285|

Simonie.

Die naam van hierdie sonde is afgelei van Simon die towenaar, wat volgens Handelinge 8: 18, 19 die gawe van die Heilige Gees deur geld probeer verkry het. In ons omstandighede vandag kan elke poging om deur die gee van geld (openlik of bedektelik) ’n amp of ’n geestelike gawe te verkry, tuisgebring word onder die term „simonie”.

Wanneer ’n predikant byvoorbeeld aanbied om gratis in ’n vakante gemeente te gaan preek om sodoende ’n beroep daarheen uit te lok, kan dit ook beskou word as simonie.

By die Sinode van 1997 het ’n beskrywingspunt gedien dat die Sinode hom moet uitspreek teen predikante wat hulleself teen vergoeding bekendstel as Pastorale Beraders (Handelinge p. 543-545). In die motivering van die beskrywingspunt word onder andere gesê dat die vra van vergoeding in sulke gevalle neerkom op simonie (punt 2.3 op p. 544).

Die Sinode het nie aan die beskrywingspunt gevolg gegee nie; as motivering is genoem dat dit ’n saak is wat in ’n mindere vergadering afgehandel kan word, asook dat die roeping, versorging en ampswerk van Woordbedienaars in die Kerkorde gereël word.

Die Sinode het hom dus nie oor die „aanklag” van simonie uitgespreek nie. Dit sal nogal interessant wees om ’n amptelike uitspraak van ’n kerklike vergadering oor hierdie kwessie te kry.

 

Trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van ’n ander.

Hierdie sonde word dikwels verwar met eiewillige neerlegging van die amp, wat afsonderlik in die behandeling van artikel 79 bekyk sal word.

Die Sinode van 1973 het bepaal dat met „trouelose verlating van die diens” iets anders bedoel word as „eiewillige neerlegging van die amp”, soos veral blyk uit die volgende woorde in artikel 80: „...of indringing in die diens van ’n ander,...”. Trouelose verlating van die diens is nie prysgawe van ampsregte nie, maar betref net die ampspligte. Dit is om die eie gemeente sonder wettige afskeid in die steek te laat om op onreëlmatige wyse ’n ander gemeente te gaan dien. Daarom vereis trouelose verlating van die diens "skorsing en afsetting" om die ampsregte te beëindig (kyk Handelinge Sinode 1973, p. 316, 317).

|286|

Egbreuk. 

„Egbreuk” in die konteks van artikels 79/80 impliseer dat die ampsdraer self skuld dra aan hierdie bepaalde sonde.

Daar bestaan ’n opvatting dat in alle gevalle waar ’n ampsdraer betrokke is in ’n saak van egbreuk, selfs al het hyself nie skuld daaraan nie (byvoorbeeld wanneer sy vrou, sonder dat hy die oorsaak daarvan is, wegloop met ’n ander man) hy uit die amp afgesit moet word.

Hierdie opvatting kan nie gehandhaaf word nie, om die eenvoudige rede dat dit die mees blatante regskrenking inhou. Om ’n ampsdraer wat geen skuldige aan egbreuk is nie, maar ’n tragiese slagoffer daarvan, uit die amp af te sit, sou totale liefdeloosheid en growwe regskrenking wees.

 

Gewoontedronkenskap.

Die aandag moet hier gevestig word op die begrip gewoonte(dronkenskap).

Met ander woorde: wanneer ’n ampsdraer by geleentheid in die openbaar ’n paar drankies te veel geniet het en as gevolg daarvan nie meer ten volle by sy positiewe is nie, beteken dit nie vanselfsprekend dat hy volgens artikel 79 geskors/afgesit moet word nie. Dat hy daaroor ernstig vermaan moet word, val nie te betwyfel nie.

Wanneer hy egter onder invloed van drank sy motor bestuur en ’n verkeersongeluk begaan, of geweld pleeg, of andersins iets onverantwoordeliks aanvang, verander die prentjie natuurlik.

Elke sodanige geval sal volgens eie omstandighede beoordeel en hanteer moet word.

 

Wie die tug volgens artikel 79 uitoefen.

In sommige handleidings by die Kerkorde is al beweer dat die kerkraad saam met die diakens die tug volgens artikel 79 moet hanteer.

Die volgende twee argumente word dan aangevoer:
1. omdat die diakens meegewerk het in die roeping tot die amp (kyk artt. 4, 5, 22, 24), moet hulle ook meewerk in die skorsing in en afsetting uit die amp;

|287|

2. artikel 38 KO verleen aan die kerkraad diskresie om deur „plaaslike reëling” die diakens by die kerkraad te reken.

Hierdie argumente kan egter nie die toets deurstaan nie.

Wat argument 1 betref: artikel 79 praat eksklusief van die „kerkraad” as die handelende subjek in die tugoefening. En die „kerkraad” is volgens artikel 37 KO die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge.

Die Nasionale Sinode van 1979 word in ’n beskrywingspunt deur ’n Partikuliere Sinode versoek om hom uit te spreek oor die konnotasie van die woord „kerkraad” soos dit in artikel 79 KO voorkom. Die motivering by hierdie beskrywingspunt is die volgende: „In ons kerkverband is daar twee duidelike gebruike in dié verband: een sluit die diakens in en die ander sluit die diakens uit.” Die Sinode gee nie gevolg aan die beskrywingspunt nie, maar verwys die betrokke Partikuliere Sinode slegs na artikel 37 KO. (Handelinge p. 560, art. 157).

Met ander woorde: die Sinode van 1979 beskou die saak gladnie as ’n probleem waarop hy duidelikheid moet gee nie; artikel 37 KO is duidelik genoeg!

Argument 1 is dus ’n blatante weerspreking van die bogenoemde besluit van die Sinode van 1979. Dit is ook ’n verkragting van die beginsel in artikel 31 KO, naamlik dat besluite van kerklike vergaderings „vas en bindend” is!

Wat argument 2 betref: die reëling in artikel 38 geld uitdruklik slegs wanneer ’n kerkraad klein is! Dit is vanselfsprekend ook van toepassing by artikel 79.

Die reëling in artikel 38 kan egter hoegenaamd nie as beginselargument gebruik word om die diakens in alle gevalle van tug oor ampsdraers by die kerkraad te reken nie.

Dit behoort tog nie moeilik te wees om te begryp nie!

 

Hoe kom ’n tugsaak ordelik ter tafel?

Normaalweg kom ’n tugsaak ordelik op die tafel van ’n kerkraad by wyse van ’n geskrewe klag.

|288|

Voordat ’n kerkraad so ’n klag egter ter tafel mag neem, moet seker gemaak word dat dit onderteken is deur minstens twee persone. Dit is ’n voorskrif van die Here in sy Woord by monde van die apostel Paulus in I Timótheüs 5: 19: „Moenie ’n beskuldiging teen ’n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie”.

Hier word die algemene beginsel in Deuteronómium 19: 15 (vergelyk 17: 6) van toepassing gemaak op die besondere geval van ouderlinge (en per implikasie dus ook van diakens en predikante; ’n predikant is immers ook ouderling, kyk I Timótheüs 5: 17).

Ampsdraers word dus deur die Here Self in besonder beskerm teen kwaadwillige beskuldigings.

Wanneer daar dus by ’n kerkraad ’n klag teen ’n ampsdraer ingedien word, moet die kerkraad allereers, nog voordat hy enigsins op die inhoud daarvan ingaan, vasstel of die klag beantwoord aan hierdie onmisbare voorskrif van die Here in sy Woord.

’n Kerkraad mag dus onder geen omstandighede ’n klag teen ’n ampsdraer in behandeling neem as daar nie ten minste twee of drie getuies is wat die klag steun nie.

As die klag aan bogenoemde vereistes beantwoord, word dit amptelik ter tafel geneem vir behandeling.

As dit egter nie aan bogenoemde vereistes beantwoord nie, mag daar gladnie verder aandag aan gegee word nie. Die klag moet summier na die klaer terugverwys word, met opgaaf van rede.

’n Kerkraad mag egter ’n tugsaak teen ’n ampsdraer ter tafel neem, selfs al is daar geen formele klag ingedien nie. ’n Saak kan byvoorbeeld by die hele kerkraad of by die meerderheid van die kerkraad só openbaar en duidelik wees, dat daar geen noodsaaklikheid bestaan vir ’n formele klag nie.

Die kerkraad moet die saak dus, kragtens die openbaarheid en duidelikheid daarvan, ter tafel neem.

Die kerkraad konstateer dan, op grond van eie kennis, die sonde self; hy konstateer ook die tyd en plek wanneer en waar die sonde begaan is. Die beskuldigde ampsdraer word dan daarmee gekonfronteer.

|289|

Dit kom dus daarop neer dat die kerkraad self die klag opstel.

 

Kerkraad terselfdertyd klaer en regter?

Daar word soms die bewering gemaak dat die kerkraad nie self ’n klag mag formuleer en dit dan self mag „verhoor” nie — omdat die kerkraad dan terselfdertyd klaer en regter is.

Hierdie argumentasie, wat logies en korrek klink, is egter ’n ernstige dwaling.

Die fout hiermee is dat met algemeen-juridiese terme geopereer word op die terrein van die kerkreg.

In die kerkregering is die kerkraad nooit ’n klaer of ’n regter nie; hy is ’n geroepe regeerliggaam wat optree in die Naam en op gesag van die Koning van die kerk, Jesus Christus, volgens die beginsels van sy Woord.

 

In alle gevalle eers Matthéüs 18?

Daar bestaan ’n verkeerde persepsie dat in alle gevalle van moontlike tug oor ampsdraers eers die reël wat Christus in Matthéüs 18 voorskryf, onderhou moet word.

Met ander woorde: voordat ’n kerkraad ’n klag volgens artikel 79 mag behandel, moet hy eers vasstel of daar persoonlike vermanings volgens die voorskrif van Matthéüs 18 gedoen is.

Hierdie siening is heeltemal verkeerd. Dit vind geen steun in óf die Skrif óf die Kerkorde nie (kyk Bylae „D” agter in hierdie boek vir beredenering hiervan).

 

Verdere verloop.

Wanneer die klag nou formeel ter tafel geneem is, moet die kerkraad vasstel of daar ’n sogenaamde prima facie-saak is.

Dit beteken dat die kerkraad, met ’n voorlopige beoordeling van die gronde en materie van die klag, moet bepaal of daar „by die eerste aansig” ’n saak uitgemaak kan word dat die klag waarskynlik gegrond en gewigtig is.

|290|

Artikel 79 bepaal naamlik: „As ampsdraers ’n openbare growwe sonde bedryf...” (my kursivering, J.V.). Hierdie bewoording gaan dus duidelik van die veronderstelling uit dat daar reeds deur die kerkraad, deur middel van ’n voorlopige ondersoek, met ’n redelike mate van sekerheid die moontlikheid van skuld by die beskuldigde ampsdraer vasgestel is. Kerkrade mag immers nie bloot op gerugte reageer nie. Daar moet eers vasgestel word of so ’n klag waarskynlik gegrond is.

As die klag, volgens bogenoemde beoordeling, nie behoorlik gegrond is nie, gaan die kerkraad nie verder daarop in nie. Dit word na die klaers terugverwys, met opgaaf van redes.

As die klag egter wel gegrond voorkom en dit lyk asof daar wel ’n prima facie-saak uitgemaak kan word, moet die beskuldigde dadelik ten volle ingelig word oor die inhoud van die klag teen hom, sodat hy hom vir verdediging kan voorberei. Dit is immers ’n basiese reg van elke mens dat hy geleentheid moet kry om homself te verdedig as hy beskuldig word. Niemand kan homself egter verdedig as hy nie op hoogte is van die beskuldiging teen hom nie. Indien daar notules, korrespondensie en/of ander geskrewe stukke is wat vir die verdediging van belang is, het die beskuldigde ampsdraer binne redelike perke reg op insae daarin, uittreksels daaruit of afskrifte daarvan.

Kerkrade moet versoeke in hierdie verband so simpatiek en objektief en tegemoetkomend as moontlik oorweeg.

Genoeg tyd moet ook aan die aangeklaagde ampsdraer gegee word om sy verdediging voor te berei, sonder dat die saak onnodig vertraag word.

[Die bewoording van artikel 79 kan die indruk skep dat die kerkraad, nadat die moontlikheid van ’n prima facie-saak uitgemaak is, die beskuldigde dadelik voorlopig moet skors.

Dit sou egter regskrenkend wees, omdat die beskuldigde nog geen geleentheid gekry het om homself te verdedig nie; niemand mag immers onverhoord veroordeel word nie — nie eers voorlopig nie. En hierdie voorlopige skorsing is alreeds ’n voorlopige dissiplinêre maatreël; dit is ’n voorlopige tughandeling deur die kerkraad.

|291|

Die bedoeling van die „dadelik voorlopig ... geskors word” in artikel 79 is slegs dat dit gedoen moet word voordat die hulp van die naburige kerk(e) ingeroep word. Dit is ook logies: want anders kan die naburige kerk(e) opgeroep word vir ’n aangeleentheid wat geen substansie het nie].

Nadat die kerkraad die verweer van die beskuldigde aangehoor het, moet hy vasstel of daar wel ’n prima facie-saak is. Indien daar nie ’n prima facie-saak is nie, is die aangeleentheid afgehandel en die beskuldigde sowel as die klaers word so in kennis gestel. Indien daar wel ’n prima facie-saak is, word die beskuldigde dadelik voorlopig geskors.

Hierdie voorlopige skorsing impliseer vanselfsprekend afhouding van die nagmaal volgens artikel 76 KO.

Die gemeente moet ook op gepaste wyse hieroor ingelig word.

Hierna word ’n classis contracta opgeroep. 

Nota: Dit spreek vanself dat wanneer die predikant die beskuldigde is, die konsulent reg van die begin af as voorsitter van die kerkraad moet optree. Niemand kan „regter” in sy eie saak wees nie.

 

Die inskakeling van naburige kerke.

Die inskakeling van naburige kerke in die tughandeling moet in die regte perspektief gesien word.

Dit is en bly die plaaslike kerkraad se verantwoordelikheid om te tug. Die bystand van naburige kerkrade, en later die bykomende bystand van ander meerdere vergaderings, word egter benodig om die las en verantwoordelikheid vir die plaaslike kerkraad enigsins te verlig, asook om die groots moontlike objektiwiteit in die tughandeling te verseker.

Dit moet egter duidelik gestel word dat dit die plaaslike kerkraad is wat die tug uitoefen, met die gesagvolle hulp van die ander kerke in kerkverband, wat in meerdere vergaderings byeenkom.

Dit spreek dus vanself dat die plaaslike kerkraad volledige sittingsreg (wat stemreg insluit, wanneer van toepassing) in die classis contracta en later in die klassis het as daar oor skorsing of afsetting gehandel en gestem word.

|292|

Die oproep van die classis contracta.

Die classis contracta wat volgens hierdie artikel opgeroep moet word, word anders saamgestel as byvoorbeeld in die geval van artikel 10 KO (kyk p. 33, 48).

Die Sinode van 1936 het besluit dat in geval van tugsake oor ampsdraers die classis contracta moet bestaan uit die predikant (of konsulent, indien een kerk vakant is) en minstens twee ouderlinge van elk van die twee naburige kerkrade (Handelinge p. 93, 94, art. 87).

Dit is nie wenslik om drie ouderlinge af te vaardig in geval van ’n vakante kerk wie se konsulent by die saak betrokke is nie. In so ’n geval moet afgevaardigdes van die naaste kerkraad wie se predikant of konsulent nie betrokke is nie, opgeroep word.

 

Die funksionering van die classis contracta.

Dit moet duidelik gestel word dat die afgevaardigdes van die naburige kerke nie slegs adviserende stem het nie; hulle beraadslaag en besluit saam met die plaaslike kerkraad.

In die classis contracta word egter nie deur middel van stemming tot ’n beslissing gekom nie, maar deur middel van algemene instemming.

Eers moet die classis contracta as vergadering konstitueer.

As voorsitter tree op die predikant van die plaaslike kerkraad, of die konsulent as die predikant as persoon betrokke is.

Die geloofsbriewe van die naburige kerkrade se afgevaardigdes moet nagegaan word om vas te stel dat hulle wettig deur hulle kerkrade afgevaardig is.

Hierna vergader die classis contracta volledig, om op hoogte te kom met die volle besonderhede van die aangeleentheid.

Die verrigtinge verloop verder soos volg:
1. die klaers lig hul klag toe;
2. die vergadering en die beskuldigde kry geleentheid om hulle te ondervra;

|293|

3. die klaers verlaat die vergadering, tensy die kerkraad self die „klaer” is;
4. die beskuldigde lewer sy verweer;
5. die vergadering kry geleentheid om hom te ondervra;
6. die beskuldigde verlaat die vergadering;
7. die vergadering verdaag, sodat die plaaslike kerkraad en die afgevaardigdes van die naburige kerke afsonderlik kan vergader.

 

Afsonderlike vergaderings.

Terwyl die kerkraad alleen vergader, vergader elkeen van die afvaardigings van die naburige kerke afsonderlik, om elkeen objektief tot ’n eie bevinding te kom.

Dit is van kardinale belang dat hierdie drie vergaderings elkeen selfstandig en objektief, onafhanklik van mekaar, tot ’n eie bevinding moet kom — sodat daar geen sweem van onbehoorlike beïnvloeding is nie.

Elkeen van hierdie vergaderings mag die klaers, sowel as die beskuldigde, verder ondervra en/of aanhoor. Die klaers, sowel as die beskuldigde, mag ook versoek om hierdie vergaderings te ontmoet om bykomend sekere aspekte verder te beklemtoon, indien nodig. Nuwe inligting, wat nie in die aanvanklike gesamentlike vergadering te berde gebring is nie, mag egter onder geen omstandigheid toegelaat word nie. Dit sou naamlik kan veroorsaak dat een of meer van die drie afsonderlike vergaderings nie oor alle inligting beskik nie — iets wat uit die aard van die saak nie toelaatbaar is nie.

Nadat elkeen van die drie vergaderings afsonderlik tot ’n eie bevinding gekom het, vergader die classis contracta weer volledig vir finale besluitneming.

 

Volledige vergadering.

In hierdie volledige vergadering van die classis contracta maak eers die kerkraad sy bevinding bekend.

Daarna maak elkeen van die afvaardigings van die naburige kerke agtereenvolgend hul bevindings bekend.

Indien die drie bevindings ooreenstem, word die verdere verloop van die saak bepaal kragtens die bevoegdheid van die classis contracta.

|294|

Die bevoegdheid van die classis contracta.

Die classis contracta het volgens artikel 79 die volgende bevoegdheid:

as die beskuldigde ’n ouderling of diaken is, mag die classis contracta die saak afhandel. As hy die beskuldigde onskuldig bevind, is die saak daarmee finaal afgesluit. As hy die beskuldigde skuldig bevind, besluit hy op bestraffing, tydelike skorsing in die amp of volledige afsetting uit die amp, afhangende van die erns van die sonde. In geval van skorsing, bepaal hy die duur daarvan. Indien opheffing van die skorsing afhanklik is van die egtheid van berou, bepaal hy hoe en deur wie dit beoordeel sal word, en of ’n latere vergadering nodig is. Indien wel, sluit die vergadering nie af nie, maar verdaag tot ’n datum waarop besluit word; by die voortgesette classis contracta moet verkieslik dieselfde afgevaardigdes van die naburige kerkrade teenwoordig wees. In geval van afsetting uit die amp tree dit onmiddellik in werking, en dit hoef nie deur skorsing in die amp voorafgegaan te word nie. Afsetting kan egter ook op skorsing volg, naamlik wanneer ’n geskorste tydens die skorsingsperiode nie bevredigende bewys lewer van opregte berou en eerlike bekering nie. In alle gevalle moet die beskuldigde sowel as die klaers van die bevinding (onskuldig, bestraffing, skorsing en afsetting, wat ook al die geval mag wees) in kennis gestel word. Die kerkraad moet die besluit ook aan die gemeente meedeel op ’n geskikte tyd en gepaste wyse.

as die beskuldigde ’n predikant is, mag die classis contracta die saak slegs afhandel indien hy die beskuldigde onskuldig bevind. Indien hy egter die beskuldigde skuldig bevind, moet hy hom onmiddellik in sy amp skors. Hy mag egter in sy strafbepaling nie verder gaan as skorsing in die amp nie. ’n Besluit oor afsetting uit die amp berus slegs by die klassis, met advies van die deputate van die partikuliere sinode. Die classis contracta het selfs nie die bevoegdheid om te besluit dat die sonde nie so ernstig is dat die saak na die klassis en deputate van die partikuliere sinode verwys hoef te word om te oordeel oor afsetting nie. Oor moontlike afsetting mag slegs die klassis met deputate van die part sinode oordeel. Hoogstens kan die classis contracta by die volle klassis met deputate van die partikuliere sinode aanbeveel dat die skorsing nie met afsetting opgevolg moet word nie. Dus: wanneer die classis contracta tot ’n

|295|

skuldigbevinding geraak, skors hy die predikant en verwys die saak dan na die klassis met deputate van die partikuliere sinode. Die beskuldigde sowel as die klaers moet van die bevinding in kennis gestel word. Die kerkraad moet die gemeente op ’n gepaste wyse hieroor inlig.

 

Wat skorsing behels.

Skorsing in die amp (wat voorlopige skorsing insluit) beteken dat die uitoefening van alle ampspligte tydelik verbied word.

Vanselfsprekend mag ’n geskorste ampsdraer nie toegelaat word tot die nagmaal nie.

In die geval van ’n predikant geld die volgende bykomend:
➢ die versorging mag nie gestaak word nie; dit sou neerkom op regskrenking, omdat die amp so ’n predikant nog nie ontneem is nie. Traktement het niks te doen met die hoeveelheid werk wat ’n predikant doen nie; dit is naamlik nie vergoeding vir gelewerde dienste nie, maar voorsiening in lewensbehoeftes (kyk p. 52 hiervan);
➢ aan alle kerke in kerkverband moet vertroulik van die skorsing kennis gegee word, om te voorkom dat ’n geskorste predikant beroep word of in ander kerke op uitnodiging die Woord en/of sakramente bedien.

 

Indien bevindings nie ooreenstem nie.

Indien die bevindings van die drie „komponente” van die classis contracta nie ooreenstem nie, moet pogings aangewend word om tot eenstemmigheid te kom.

Wanneer eenstemmigheid nie bereik kan word nie, mag die kerkraad nie die saak van nuuts af aanpak met die hulp van ander naburige kerkrade, wat moontlik met hom sal saamstem nie.

Die hele saak moet dan (in die geval van ’n ouderling of diaken) na die volle klassis verwys word; die klassis hanteer dit dan van nuuts af soos die classis contracta dit aanvanklik hanteer het (kyk p. 292 e.v. vir verloop van verrigtinge).

|296|

By gebrek aan eenstemmigheid in die geval van ’n predikant, word die saak verwys na die klassis met deputate van die partikuliere sinode, wat dit dan van nuuts af hanteer soos die classis contracta dit aanvanklik hanteer het.

In alle gevalle moet die reg van appèl volgens artikel 31 KO vir alle partye ongeskonde gehandhaaf bly.

 

Deputate van partikuliere sinode hulp/advies gee aan classis contracta?

Dit het al gebeur dat ’n classis contracta die deputate van die partikuliere sinode opgeroep het vir hulp en advies in die behandeling van ’n tugsaak. Dieselfde deputate van die partikuliere sinode het dan later weer saam met die volle klassis vergader om advies te gee.

So iets is egter totaal ongerymd, omdat die deputate van die partikuliere sinode in sy vergadering saam met die volle klassis dan nie meer onbevooroordeeld kan wees nie!

 

Die klassis met deputate van die partikuliere sinode.

Indien die classis contracta ’n predikant skuldig bevind, moet hy hom onmiddellik skors, soos op p. 294 reeds gesê is. Die saak word dan na die volle klassis met deputate van die partikuliere sinode verwys vir finale afhandeling.

Indien die klassis se gewone geskeduleerde byeenkoms nie in die nabye toekoms sal plaasvind nie, moet die korresponderende kerkraad/ deputate vir korrespondensie versoek word om te reël vir ’n buitengewone klassis. Die deputate van die partikuliere sinode moet ook onverwyld in kennis gestel word.

Eers vergader die klassis en die deputate van die partikuliere sinode gesamentlik, om ten volle op hoogte te kom van alle besonderhede.

By hierdie vergadering verloop sake soos volg:
1. die kerkraad lig die vergadering so volledig as moontlik in oor die besonderhede van die aangeleentheid;
2. die oorspronklike klaers (indien dit nie die kerkraad is nie) lig hulle klag toe;

|297|

3. die vergadering en die beskuldigde kry geleentheid om hulle te ondervra;
4. die klaers verlaat die vergadering, tensy die kerkraad die „klaer” is;
5. die beskuldigde lewer sy verweer;
6. die vergadering kry geleentheid om hom te ondervra;
7. die beskuldigde verlaat die vergadering;
8. die vergadering verdaag, sodat die klassis en die deputate afsonderlik kan vergader. 

Dit is van die uiterste belang dat hierdie vergadering die saak onafhanklik van die classis contracta van nuuts af ondersoek.

 

Afsonderlike vergaderings.

Terwyl die klassis alleen vergader, vergader die deputate van die partikuliere sinode afsonderlik, sodat klassis en deputate elkeen objektief en onafhanklik van mekaar tot ’n eie bevinding kan kom.

Elkeen van hierdie vergaderings kan die klaers en/of die beskuldigde weer aanhoor en ondervra. Nuwe inligting, wat nie in die gesamentlike vergadering te berde gebring is nie, mag egter onder geen omstandigheid toegelaat word nie (kyk p. 293).

Sodra die klassis en die deputate elkeen tot ’n bevinding gekom het, vergader hulle weer gesamentlik.

 

Gesamentlike vergadering.

In die gesamentlike vergadering maak eers die klassis sy bevinding bekend.

Daarna maak die deputate hulle bevinding bekend, wat terselfdertyd hulle „advies” (kyk bewoording art. 79) aan die klassis is.

Indien die twee bevindings nie ooreenstem nie, moet daar probeer word om tot eenstemmigheid te kom.

As dit uiteindelik blyk dat eenstemmigheid nie bereik sal word nie, moet die hele aangeleentheid na die volle partikuliere sinode verwys word vir finale beslissing. Die volle partikuliere sinode hanteer die saak dan van nuuts af soos die klassis met deputate van die partikuliere sinode dit aanvanklik hanteer het (kyk p. 296 vir verloop van sake).

|298|

Indien die twee bevindings ooreenstem, besluit die klassis om die advies van die deputate te aanvaar (kyk p. 56 vir draagwydte van begrip „advies”).

Indien die beskuldigde onskuldig bevind word, word die skorsing opgehef en die beskuldigde weer in sy amp herstel.

Indien die beskuldigde skuldig bevind word, is daar verskeie moontlikhede:
➢ Skuldigbevinding beteken nie vanselfsprekend dat afsetting die enigste gepaste straf hoef te wees nie; die vergadering kan ook besluit op bestraffing, en/of skorsing vir ’n bepaalde tydperk. In die geval van bestraffing, word dit in die volle vergadering gedoen. In die geval van tydelike skorsing, bepaal die vergadering ’n keerdatum, met die uitdruklike veronderstelling dat opregte berou en eerlike bekering binne die vasgestelde termyn bewys moet word. Die vergadering besluit ook hoe en deur wie die berou en bekering beoordeel moet word. Indien ’n volgende vergadering nodig sou wees, sluit die vergadering nie af nie, maar verdaag tot ’n latere datum. Dit beteken dat dieselfde afgevaardigdes en deputate van die partikuliere sinode weer byeen moet kom, en dat die moderamen in funksie sal bly tot na die afsluiting van die voortgesette sitting.
➢ Sou die vergadering besluit op afsetting uit die amp, tree dit onmiddellik in werking. Dit beteken dat die beskuldigde alle regte en voorregte wat aan die amp verbind is, onmiddellik verloor.

Die beskuldigde en die klaers moet van die besluit in kennis gestel word.

Van hierdie besluit (skorsing of afsetting) moet ook kennis gegee word aan die betrokke gemeente, asook aan alle kerke in kerkverband.

Ook die Administratiewe Buro moet in kennis gestel word met die oog op emeritaatsversorging en/of pensioen.

 

Wat afsetting behels.

Afsetting uit die amp beteken dat die amp so ’n persoon ten volle ontneem word.

Soos reeds gesê is, tree dit onmiddellik in werking. So ’n persoon is dus van daardie oomblik af nie meer ouderling, diaken of predikant nie.

|299|

In die geval van ’n predikant beteken dit verlies van alle regte en voorregte wat aan die amp verbonde is, soos traktement, huisvesting, reistoelaag en emeritaatstraktement (indien van toepassing).

 

Minder ernstige en meer ernstige afsetting?

Op voetspoor van die groot kenner van die kerkreg, Gysbertus Voetius, word daar soms ook in die geledere van die GKSA gepraat van die sogenaamde minder ernstige en meer ernstige afsetting uit die amp van predikant.

Die minder ernstige afsetting (depositio minor) is ’n algehele afsetting uit die bediening in ’n bepaalde kerk (gemeente). Dit gebeur wanneer die oortreding nie so algemeen bekend geword het of soveel aanstoot gegee het nie. In hierdie geval kan ’n predikant, ná opregte berou en eerlike bekering en versoening, weer tot die bediening in ’n ander kerk (gemeente) beroepbaar gestel word.

Die meer ernstige afsetting (depositio major) is ’n algehele afsetting uit die hele bediening, ten volle en vir altyd. So ’n predikant verloor sy „naam en titel” as predikant; hy verloor vanself ook alle regte en voorregte wat aan die bediening verbonde is (soos versorging).

Dit is egter nie wenslik dat hierdie weg gevolg word nie, omdat hier in ’n sekere sin ’n vermenging is van drie sake:
➢ ontslag volgens artikel 11 KO (kyk p. 56 e.v.);
➢ afsetting volgens artikel 79 KO;
➢ herberoepbaarstelling ná afsetting.

Dit is versigtiger om maar op die „bekende en beproefde” weg te bly. Die verskillende sake en artikels moet maar uitmekaar gehou word, soos tot dusver in hierdie boek aangedui en beredeneer is. Anders kan daar maklik lelike ongelukke begaan word wat tot nadeel van die kerke en tot oneer van die Here kan lei.

 

Tug oor predikante wat nie lidmate van hul „roepende” kerke is nie.

’n Predikant kan soms lidmaat wees van ’n ander gemeente as dié waaraan hy ampshalwe verbind is (die „roepende” gemeente).

|300|

’n Tipiese voorbeeld is dié van ’n emerituspredikant wat uit die gebied van sy „roepende” gemeente verhuis om hom elders te vestig. ’n Ander voorbeeld is dié van ’n predikant wat gestuur word om buite die grense van die gemeente aan wie hy ampshalwe verbind is, kerke te gaan versamel (byvoorbeeld deur middel van sendingwerk).

In sulke gevalle moet dit uitdruklik vasstaan dat slegs dié kerkraad aan wie so ’n predikant ampshalwe verbind is, die tug volgens artikel 79 KO op hom mag toepas. Die kerkraad waar hy woon en die kerkraad wat die tug toepas, moet uit die aard van die saak met mekaar oorleg pleeg.

Die tug volgens artikels 76-78 KO word egter toegepas deur die kerkraad waar so ’n predikant woon (kyk hier Sinode 1970, Handelinge p. 428, punt B).

Indien daar in die oorlegpleging tussen hierdie twee kerkrade nie eenstemmigheid bereik kan word nie, moet die saak na die klassis verwys word waaronder die „roepende” kerkraad ressorteer.

In geval ’n emerituspredikant lidmaat is van die kerk waaraan hy ampshalwe verbonde is, geld dieselfde as wat vroeër by die behandeling van hierdie artikel beredeneer is.

 

Tug oor teologiese professore.

Die prosedure by die toepassing van die tug oor teologiese professore is nie ’n aangeleentheid wat van praktiese betekenis is vir alle lidmate en ampsdraers nie.

Daarom behandel ek dit nie in hierdie boek nie.

Ek verwys egter na die besluit van die Sinode van 1991 in hierdie verband, Handelinge p. 729 e.v., punt 2.1 (kyk ook Handelinge Sinode 1994, p. 465 pt. 5.4). Ek verwys ook na die Teologiese Skool-boekie, verkrygbaar by die Registrateur van die Teologiese Skool Potchefstroom.

 

Tug in gevalle van eiewillige neerlegging van die amp en opsegging van kerklike gemeenskap.

Tussen eiewillige neerlegging van die amp en trouelose diensverlating moet duidelik onderskei word (kyk p. 285 e.v.).

|301|

In geval van eiewillige ampsneerlegging kan daar nie meer tug volgens artikel 79 KO toegepas word nie.

Afsetting volgens artikel 79 beteken verlies van alle ampsregte. Met eiewillige ampsneerlegging het die persoon self reeds eensydig alle ampspligte afgelê en alle ampsregte prysgegee. So ’n persoon het homself eensydig en eiewillig van die amp losgemaak. Hy het ’n verbintenis wat in sy wese tweesydig is, eensydig beëindig en ’n „kontrak” eiewillig verbreek.

„Ampstug” is dus in so ’n geval nie meer moontlik nie.

Tog mag eiewillige neerlegging van die amp nie bloot met kennisname afgehandel word nie. Omdat die uitwendige roeping (kyk p. 7) van die kerk uitgaan, moet deur die kerk beslis word dat die eiewillige daad die reg om die betrokke dienswerk uit te oefen, beëindig het. Dit word gedoen volgens die kerkordelike weg wat hierbo bespreek is: in die geval van ’n ouderling of diaken voorlopig deur die kerkraad en finaal deur die classis contracta; in die geval van ’n predikant voorlopig deur die kerkraad en finaal deur die klassis en deputate van die partikuliere sinode (kyk Sinode 1973, Handelinge p. 316-317, punt 3.2.1).

So ’n persoon se amp word dus offisieel vervalle verklaar.

[Opmerking: Soms word ampsdraers geadviseer om hul amp neer te lê wanneer daar sprake is van tug; dit sou dan ’n bewys wees van opregte berou. Hierdie advies is egter ’n groot stuk dwaasheid, omdat dit die sonde vererger; want sodoende word die belofte wat met bevestiging in die amp afgelê is (onderwerping aan die kerklike vermaning wanneer daar ’n misstap begaan is), blatant verbreek].

In geval van opsegging van kerklike gemeenskap (sonder dat losmaking uit die amp verkry is) kan daar ook geen sprake wees van tugtoepassing volgens artikel 79 KO nie; die opsegging van kerklike gemeenskap het naamlik die seggenskap van die kerkraad oor so iemand beëindig.

Tog mag ook hierdie daad nie bloot met kennisname afgehandel word nie. Dieselfde prosedure as in die geval van eiewillige ampsneerlegging moet gevolg word.

Dit geld ook in die geval waar ’n ampsdraer, sonder losmaking en attestasie-aanvraag, uit die gemeente verhuis met die klaarblyklike kwade

|302|

bedoeling om eventuele of voortgesette tughandeling te ontduik, en sonder voorneme om hom by ’n ander kerk in dieselfde kerkverband te voeg.

 

Artikels 11 en 79 KO.

Die „ontslag” waarvan artikel 11 KO praat, is heeltemal iets anders as die „afsetting” volgens artikel 79 KO.

Artikel 11 KO handel nie oor gevalle waar ’n predikant gesondig het nie (kyk p. 56 e.v. vir die bespreking van die ontslag volgens art. 11 KO).

Soms word artikel 11 wel misbruik in ’n poging om van ’n predikant, wat eintlik volgens artikel 79 getug moes word, ontslae te raak.

Dit mag egter nie toegelaat word nie.

Klassisse en deputate van partikuliere sinodes moet by alle aansoeke om ontslag volgens artikel 11 fyn oplet of dit nie dalk onder artikel 79 tuishoort nie.

 

Hertoelating tot die amp ná afsetting.

Op die vraag of ’n afgesette ampsdraer weer tot die amp toegelaat mag word, is daar geen eenstemmigheid nie.

Elke geval moet egter volgens eie omstandighede beoordeel word. Daar moet nie by voorbaat kasuïsties bepaal word dat persone wat weens ’n spesifieke sonde uit die amp afgesit is, nooit weer tot die amp toegelaat mag word nie.

Groot versigtigheid moet egter aan die dag gelê word.

Van hertoelating tot die amp kan nie omvattend gepraat word as „ampsherstel” nie.

Van „ampsherstel” kan daar slegs in twee gevalle gepraat word:
➢ ná opheffing van skorsing;
➢ wanneer ’n appèl, teen ’n besluit tot afsetting, by ’n meerdere vergadering geslaag het.

|303|

In die geval van ’n ouderling of diaken sal hertoelating tot die amp (behalwe in geval van suksesvolle appèl) geskied by wyse van ’n nuwe verkiesing tot die amp.

In die geval van ’n predikant geskied dit (behalwe in geval van suksesvolle appèl) by wyse van herberoepbaarstelling.

Oor hertoelating tot die amp vir alle gevalle waar ’n predikant uit die amp is (eiewillige ampsneerlegging, oorgaan tot ’n ander staat van die lewe volgens art. 12 KO en afsetting volgens art. 79 KO) het die Sinode van 1973 die volgende riglyne neergelê (Handelinge p. 317-318, punt 3.2.2 veral 3.2.2.3):
➢ die aansoeker moet eers die oordeel en ’n positiewe aanbeveling verkry van die kerk waar hy lidmaat is;
➢ daarna doen hy aansoek om ’n positiewe aanbeveling by die kerk en klassis waar hy uit die amp is;
➢ laastens wend hy hom tot die partikuliere sinode (in wie se ressort laasgenoemde kerk en klassis is) met ’n aansoek om beroepbaarstelling.

Vanselfsprekend sal alle aansoeke om beroepbaarstelling in sulke gevalle met die grootste versigtigheid hanteer moet word. Die bogenoemde Sinode van 1973 het tereg bepaal dat berou alleen nie genoegsame grond kan wees om weer beroepbaar gestel te word nie. By oorweging van ’n aansoek om beroepbaarstelling sal beslis moet word of die persoon weer met stigting in die kerk sal kan dien, en of hy die gawes van roepingstrou, selfverloëning en volharding besit (Handelinge p. 318, punt 3.2.2.5).

Vanselfsprekend sal die opregtheid van berou en bekering deeglik getoets moet word. Ook sal vasgestel moet word of hertoelating tot die amp nie beroering en/of ergernis in die kerk(e) sal veroorsaak nie.

 

Die verhouding tussen artikels 79 en 76-77.

Op die vraag of ’n ampsdraer, wat uit die amp afgesit is, vanselfsprekend ook onder die „gewone” tug volgens artikels 76-77 geplaas moet word, is die antwoord ’n besliste „nee”. Dit moet nie vanselfsprekend gebeur nie.

|304|

Soms sal dit nodig wees om afsetting uit die amp op te volg met dissiplinêre afhouding van die nagmaal en moontlik verdere stappe volgens artikel 77 KO. In ander gevalle sal dit weer nie nodig wees nie.

’n Algemene reël kan nie vasgestel word nie.

Elke geval sal afsonderlik beoordeel moet word.

Indien ’n ampsdraer volgens artikel 79 KO asook volgens artikels 76-77 getug moet word, moet die tug volgens artikel 79 KO eers toegepas word. Daarna moet oorgegaan word tot die tug volgens artikels 76-77 KO.

Met ander woorde: iemand wat nog in die amp is, mag nie dissiplinêr van die nagmaal afgehou word nie.

Behalwe in die volgende uitsonderlike omstandighede:
➢ wanneer ’n ampsdraer geskors is, maar nog nie uit die amp afgesit is nie (kyk pp. 291, 295 e.v.);
➢ wanneer ’n ampsdraer byvoorbeeld op die Saterdag, voorafgaande aan die Sondag waarop nagmaal gevier word, ’n tugwaardige sonde begaan (tyd ontbreek gevolglik om eers te handel oor voorlopige skorsing — kyk p. 287 e.v.).

Normaalweg, egter, moet ’n ampsdraer eers uit die amp afgesit word; daarna moet, indien nodig, die „gewone” tug op hom toegepas word.

Visser, J. (1999) Art. 81

|305|

Artikel 81

 

Die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en die diakens moet onder mekaar die Christelike sensuur uitoefen en mekaar oor die bediening van hulle amp vriendelik vermaan.

 

Christelike sensuur.

Die term „sensuur” skep die indruk dat ons hier te doen het met kerklike tug. „Sensuur” beteken egter ook dat ampsdraers toesig oor mekaar moet uitoefen en op mekaar moet ag gee. In hierdie sin moet die woord „sensuur” in artikel 81 verstaan word. In die streng sin van die woord is dit dus nie een van die „tugartikels” nie, maar dit is eerder bedoel om die toepassing van tug te voorkom, soos hierná duidelik sal word. Só sluit artikel 81 aan by die voorafgaande artikels oor die kerklike tug.

Nadruk moet gelê word op die Christelike sensuur; die sensuur wat kragtens hierdie artikel uitgeoefen word, moet dus in die gees van die liefde van Jesus Christus gedoen word. Dit word verder beklemtoon deurdat die vermaning „vriendelik” moet wees.

In die toepassing van hierdie artikel is daar dus geen ruimte vir onchristelikheid, onbroederlikheid of onvriendelikheid nie.

 

Praat met mekaar, nie van mekaar nie.

Die sondige mens praat so graag en so maklik van sy medemens, in plaas van met hom/haar. In hierdie artikel word nou ’n kosbare geleentheid vir ampsdraers in die kerk van Jesus Christus geskep om, wanneer nodig, met mekaar te praat en nie agteraf van mekaar nie. Hierdie geleentheid moet benut word — tot eer van die Here, tot welsyn van die kerk en tot inkeer en behoud van die mede-broeders.

 

Artikel 81 en artikels 79/80.

Soos hierbo gesê is, is artikel 81, in die streng sin van die woord, nie een van die „tugartikels” nie. Tog is daar ’n besliste verband met die voorafgaande artikels.

|306|

As ’n ampsdraer sien dat sy mede-broeder op ’n pad loop wat uiteindelik sy ondergang gaan meebring, mag hy hom nie maar laat begaan totdat hy oplaas in die amp geskors of daaruit afgesit sal moet word nie; so iets sou totaal liefdeloos wees.

Wanneer ’n ampsdraer nou sien dat daar nalatigheid, eiewilligheid, baasspelerigheid of iets dergeliks in die ampsbediening van ’n mede-broeder is; of as hy merk dat sy mede-broeder met versoekings speel, of enigiets anders doen/nalaat wat die bediening kan skaad, moet hy hom daaroor betyds „vriendelik vermaan” soos artikel 81 bepaal.

Dit gaan dus nie in hierdie artikel oor ’n aanklag wat op tugoefening kan uitloop nie. Artikel 81 mag ook nie misbruik word as ’n „plaasvervanger” vir artikels 79/80 nie.

Inteendeel is hierdie artikel juis bedoel om ’n moontlike tugoefening volgens artikels 79/80 te voorkom.

 

Artikel 81 en Matthéüs 18.

(Kyk Bylae „D” agter in hierdie boek).

Moet ’n ampsdraer eers die reël in Matthéüs 18: 15-17 (die persoonlike vermaning in geval van ’n heimlike sonde, kyk art. 72) nakom voordat hy ’n mede-broeder volgens artikel 81 vermaan?

Daar is kerkrade waar hierdie voorwaarde/vereiste gestel word.

Na my mening is dit nie korrek nie, omdat artikel 81 en Matthéüs 18 nie identiese situasies op die oog het nie.

Slegs wanneer ’n ampsdraer artikel 81 wil misbruik om sy plig volgens Matthéüs 18 te omseil, moet die vereiste van Matthéüs 18 met beslistheid gestel word. Iemand wat nie die moed het om ’n medebroeder persoonlik onder 4 oë volgens Matthéüs 18 te vermaan nie, mag nie toegelaat word om artikel 81 in die plek daarvan te misbruik nie.

Voordat iemand ’n medebroeder onder artikel 81 vermaan, spreek dit vanself dat hy seker moet wees van sy feite. Daarom mag ’n persoonlike gesprek in sekere omstandighede eers nodig wees. Hierdie persoonlike gesprek lê egter nie op dieselfde vlak as die reël in Matthéüs 18 nie.

|307|

Ook oor leer en lewenswandel?

Gaan dit in artikel 81 slegs oor die bediening van die amp, of ook oor die algemene leer en lewenswandel?

Die bewoording laat dit lyk asof leer en lewenswandel buite die reikwydte van hierdie artikel val.

En tog kan leer en lewenswandel nie losgemaak word van ampsbediening nie. Onberispelike ampsbediening is nie moontlik as daar vlekke in die leer en/of lewenswandel is nie. Die „vriendelike vermaning” van artikel 81 gaan dus nie slegs oor die ampsbediening nie, maar ook oor die leer en lewenswandel.

 

In elke vergadering.

Hoewel artikel 81 gewoonweg in die vergadering van kerkraad met diakens vóór nagmaal in die agenda opgeneem word, kan enige ampsdraer by elke vergadering ’n geleentheid vra onder artikel 81. Want indien artikel 81 slegs elke 3 maande in werking gestel word, kan dit gebeur dat ’n toestand só versleg voor die volgende voor-nagmaalse vergadering, dat artikel 81 dan nie meer enige doel sal dien nie.

 

Praktiese toepassing.

In die praktyk word artikel 81 op verskillende maniere toegepas — sommige goed, ander minder goed. Ek noem die volgende moontlikhede:
➢ elke afsonderlike ampsdraer se naam word genoem, met die vraag of iemand behoefte het om hom te vermaan;
➢ die ouderlinge en diakens word afsonderlik as groep genoem, met die vraag of iemand behoefte het om een of albei van die groepe te vermaan; dieselfde word gedoen met die predikant;
➢ daar word bloot in die algemeen gevra of iemand behoefte het om iemand anders te vermaan;
➢ die ouderlinge, diakens en predikant word agtereenvolgens uit die vergadering gestuur, waarná geleentheid vir „vriendelike vermaning” gegee word.

Die derde moontlikheid het dié nadeel dat die hele implementering van artikel 81 kan ontaard in ’n niksseggende formaliteit.

|308|

Die vierde moontlikheid moet beslis afgewys word, omdat dit bots met die hele gees en bedoeling van hierdie artikel. Soos eerder gesê is, lê dit in die gees van hierdie artikel dat ampsdraers met mekaar (en dus in mekaar se teenwoordigheid) moet praat, en nie van mekaar (wanneer die „voorwerp” van bespreking afwesig is) nie.

Dit is beslis makliker om agter iemand se rug sekere dinge van hom kwyt te raak, as om hom in die oë te kyk en dan dieselfde dinge vir hom te sê.

 

Waak teen formaliteit.

Ondervinding wat ek in verskeie kerkrade opgedoen het, toon duidelik dat die toepassing van artikel 81 ’n blote formaliteit is waaruit niks konkreets en positiefs voortspruit nie — ’n „geraamte” waaraan geen „vleis” is nie.

Hierdie gevaar bedreig elke kerkraad en elke ampsdraer.

Dit is nou maar eenmaal nie maklik om jou medebroeder(s) in die oë te kyk en hom/hulle dan reguit te vermaan nie ... of dit nou in die gees van die liefde van Christus en in alle vriendelikheid is of nie. Want die vrees lê maar in elkeen se hart dat onderlinge vermanings onderlinge verhoudings kan vertroebel. Hierdie vrees is egter slegs gegrond wanneer daar ’n verkeerde gesindheid skuil agter die toepassing van hierdie artikel — óf by die „vermaner”, óf by dié een wat vermaan word, óf by albei.

En só sneuwel die hele pragtige bedoeling van hierdie artikel!

As ampsdraers werklik begaan is oor hulle medebroeders se geestelike en ewige welsyn, sal hulle aan die „geraamte” van artikel 81 „vleis” gee ... sal hulle hierdie mooi geleentheid gebruik om onder mekaar die Christelike sensuur uit te oefen en mekaar vriendelik te vermaan wanneer nodig.

As artikel 81 slegs ’n formaliteit in kerkraadsvergaderings is, moet dit maar uit ons Kerkorde verdwyn! Want dan dien dit geen doel nie.

Maar as artikel 81 daarteenoor werklik toegepas word soos die bewoording daarvan spreek en die bedoeling daarvan is, sal dit in elke kerkraad ’n ryke oes oplewer. Onderlinge verhoudings sal daardeur nie vertroebel word nie, maar inteendeel gebou word — tot welsyn van kerkraad en gemeente.

Visser, J. (1999) Art. 82

|309|

Artikel 82

 

Aan diegene wat uit die gemeente vertrek, moet die kerkraad ’n attestasie (getuienis) van hulle belydenis en wandel saamgee wat deur twee van sy lede onderteken is.

 

Lidmaatskap verbonde aan plaaslike kerk.

Volgens die Gereformeerde kerkregering is iemand lidmaat van een of ander plaaslike kerk, byvoorbeeld die Gereformeerde Kerk Rustenburg. Niemand kan lidmaat wees van die kerkverband as sodanig, byvoorbeeld die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie.

Wanneer iemand dan uit die gebied van die plaaslike kerk waar hy lidmaat is, verhuis, verval sy lidmaatskap (streng gesproke onmiddellik).

Daarom is dit belangrik dat hy betyds by die kerkraad aansoek doen om ’n attestasie.

 

Attestasie word deur kerkraad gegee.

Hierdie artikel bepaal dat die kerkraad (die sogenaamde „smal kerkraad” — art. 37 KO) attestasies gee.

Dit moet ook onderteken word „deur twee van sy lede”, volgens die Skrifbeginsel in Deuteronómium 19: 15, vergelyk 17: 6.

’n Attestasie wat slegs deur een lid van die kerkraad onderteken is, is dus nie geldig en aanvaarbaar nie.

Gewoonlik word attestasies deur die predikant en die attestasie-skriba onderteken; dit kan egter deur enige twee ouderlinge onderteken word.

 

Vrou as attestasie-skriba?

Kerkrade wys soms ’n vrouelidmaat aan as attestasie-skriba.

Hierdie praktyk bring egter ’n paar probleme na vore:
➢ ’n vrouelidmaat mag nie lid van die kerkraad wees nie;
➢ daarom mag ’n vrouelidmaat nie ’n attestasie onderteken nie;

|310|

➢ voorts mag sy ook nie inligting oor lidmate se belydenis en lewenswandel, wat vertroulik deur die kerkraad hanteer word, in ’n attestasie weergee nie.

Ek kan dus nie sien hoe ’n vrouelidmaat „attestasie-skriba” van ’n kerkraad kan wees nie.

 

Wat ’n attestasie is.

Volgens hierdie artikel is ’n attestasie ’n „getuienis”.

Tog is daar in ’n attestasie nog ’n ander komponent, naamlik ’n bewys van lidmaatskap. Die bewoording van die konsep-attestasievorm maak dit eksplisiet duidelik: „Die kerkraad van die Gereformeerde Kerk ... getuig hiermee dat die ondergenoemde(s) ’n lidmaat/lidmate van hierdie Kerk is:...” (Handelinge Sinode 1985, p. 561, punt 3.7; my kursivering, J.V.).

Die konsekwensie hiervan is dan ook duidelik: iemand wat sonder attestasie verhuis, bly nog (regtens) lidmaat van die betrokke gemeente.

 

Verhuis sonder attestasie.

Dit gebeur dikwels dat lidmate sonder attestasie uit ’n gemeente verhuis.

In die lig van wat hierbo gesê is (dat so ’n persoon regtens nog lidmaat bly van die betrokke gemeente) kan ’n situasie soos hierdie nie onbepaald voortduur nie. Daarom moet ’n kerkraad in so ’n geval drie dinge doen:
➢ hy moet self pogings aanwend om die lidmaat te vermaan om sy attestasie onverwyld aan te vra;
➢ hy moet die kerkraad van die gemeente na wie se gebied die lidmaat verhuis het, daarvan in kennis stel, met die versoek dat die lidmaat vermaan word om sy attestasie onverwyld aan te vra;
➢ die attestasie-skriba moet ’n aantekening maak van die datum waarop die lidmaat verhuis het, sodat die kerkraad op ’n bepaalde tydstip (gewoonlik ná ses maande) amptelik kan besluit dat die lidmaat deur sy versuim om attestasie aan te vra, sy lidmaatskap laat verval het.

|311|

Attestasie „saamgee”. 

Hierdie artikel bepaal dat die kerkraad aan lidmate wat uit die gemeente vertrek, ’n attestasie moet „saamgee”.

Hierdie woord „saamgee” het ’n belangrike betekenis: dit impliseer dat lidmate wat verhuis, self hul attestasie moet aanvra en dit self moet ingee by die nuwe gemeente.

In ons kerke het ’n slapheid ingetree op hierdie terrein: baie lidmate is gladnie meer bewus van hul eie verantwoordelikheid met betrekking tot attestasies nie; die kerkraad moet maar sorg dat hul „lidmaatskap” in die nuwe gemeente agtermekaar kom.

En ek is bevrees dat kerkrade in baie gevalle self verantwoordelik is vir hierdie onaanvaarbare toestand.

 

Attestasie aanstuur sonder aansoek?

Mag ’n kerkraad, wanneer ’n lidmaat in gebreke bly om aansoek te doen vir attestasie, uit eie inisiatief so ’n attestasie aanstuur?

Die antwoord hierop is ’n besliste „nee”.

So ’n kerkraad kan homself blootstel aan ’n regsgeding, indien die betrokke lidmaat nie van voorneme was om homself weer by ’n Gereformeerde kerk te voeg nie.

Indien daar in die attestasie negatiewe dinge van die betrokke lidmaat getuig word, stel die kerkraad homself bloot aan ’n lasteraksie deur so ’n lidmaat.

 

Noukeurige attestering deur kerkrade.

Die belangrikheid van noukeurige attestering deur kerkrade kan nooit genoeg beklemtoon word nie.

Volgens my eie ervaring gebeur dit heeltemal te veel dat kerkrade se getuienis in attestasies nie ooreenstem met die leer en lewenswandel van die betrokke lidmate nie.

Sulke attestasies is niks anders nie as oortreding van die negende gebod, en dus sonde voor die Here. Dit is „Gereformeerde leuens” wat nogal deur twee handtekeninge bevestig word!

|312|

Die waarde van sulke attestasies is ook feitlik nul. Die doel van ’n attestasie is tog dat die nuwe kerkraad met die pastorale arbeid kan voortgaan waar die vorige kerkraad opgehou het. Hoe kan dit gedoen word waar die waarheid in ’n attestasie geweld aangedoen word?

Hierdie praktyk is tot oneer van die Here, maar ook tot nadeel van lidmaat en kerk!

Indien die konsep-attestasievorm nie genoeg ruimte het vir uitvoerige getuienis nie, moet ’n skriftelike getuienis die attestasie vergesel wat deel vorm van die attestasie self.

Kerkrade is ook nie verplig om die gedrukte attestasievorms te gebruik nie; hulle kan hul eie vorms vervaardig, solank die bewoording basies ooreenstem met dié van die goedgekeurde konsepvorm.

(Die nuutste konsepvorm verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 561. punt 3.7).

 

Attestasie aanvra sonder dat verhuis word.

Dit gebeur vandag in toenemende mate dat lidmate attestasie aanvra sonder dat hulle uit die gebied van die gemeente verhuis. Die rede daarvoor is gewoonlik dat hulle nie tevrede is met een of ander aspek van die bediening in die gemeente nie, en daarom by ’n ander gemeente (van eie keuse) wil aansluit. 

Hierdie gebruik moet baie sterk ontmoedig word, en wel om die volgende redes:
➢ aan lidmate se voorkeure kan nie toegegee word ten koste van goeie orde nie;
➢ lidmate se voorkeure kan ontstaan as gevolg van sondige oorsake; afgee van ’n attestasie in so ’n geval kom dus daarop neer dat die sonde gesanksioneer word;
➢ indien lidmate se beweegredes ontstaan het as gevolg van gebrekkige bediening/dwalinge/kettery deur die predikant, moet die bediening van die predikant as sodanig ernstige aandag geniet; afgee van attestasies in so ’n situasie los geen probleem op nie; inteendeel kan dit so ’n gemeente ernstig knou as ’n groot aantal lidmate die gemeente om hierdie rede sou verlaat. Dit sou ook meebring dat

|313|

oplaas meeste lidmate wat reformasie in die gemeente begeer, na ander gemeentes verhuis; die sonde woeker dus ongehinderd voort.

 

Geen attestasie in geval van opsegging van kerklike gemeenskap nie.

Attestasies is slegs bedoel in geval daar van een gemeente na ’n ander in dieselfde kerkverband verhuis word. Geen attestasie mag gegee word waar lidmate na ’n kerk buite die verband van die GKSA wil oorgaan nie.

 

Geen bewys van lidmaatskap nie.

Soms vra lidmate ’n sogenaamde „bewys van lidmaatskap” aan wanneer hulle kerklike gemeenskap opsê („kerk bedank”).

So iets is egter ’n absurditeit. Hoe kan ’n „bewys” gegee word van lidmaatskap wat reeds opgesê is en dus nie meer bestaan nie? Die oomblik wanneer ’n lidmaat amptelik kennis gee van opsegging van kerklike gemeenskap, is die lidmaatskap beëindig. Daarna het die kerkraad geen jurisdiksie meer oor daardie persoon nie.

Die beste wat ’n kerkraad in so ’n geval kan doen, is om skriftelik kennis te neem dat So-en-So op daardie datum gemeenskap met die betrokke kerk opgesê het.

 

Mag ’n kerkraad weier om ’n attestasie te gee?

Geen kerkraad het die reg om, onder normale omstandighede, te weier om ’n attestasie te gee nie — selfs nie in geval ’n lidmaat onder tug is nie.

Die enigste geval waarin ’n kerkraad die afgee van ’n attestasie mag weier, is wanneer ’n lidmaat só lank gelede uit die gemeente vertrek het, dat die kerkraad nie in staat is om enige bruikbare getuienis te gee nie. Al wat ’n kerkraad in so ’n geval kan „getuig”, is dat die betrokke persoon tot op ’n bepaalde datum lidmaat van die gemeente was, maar sonder aanvraag van attestasie lank reeds uit die gemeente vertrek het.

 

Mag ’n kerkraad weier om ’n attestasie te aanvaar?

Normaalweg moet kerkrade attestasies aanvaar van ander kerkrade in kerkverband. Weiering om ’n attestasie sonder grondige rede te

|314|

aanvaar, sou daarop neerkom dat die kerkraad wat geattesteer het, buite kerkverband geag word.

Tog kan daar situasies ontstaan wat kerkrade kan verplig om attestasies te weier.

Ek noem die volgende voorbeeld:

’n Kerkraad neem (nie-amptelik) kennis dat ’n Gereformeerde lidmaat in sy gebied ingetrek het. Op versoek van die lidmaat vra die kerkraad ’n attestasie aan.

Intussen woon die „lidmaat” geen eredienste by nie, gee geen kerklike bydrae nie en leef ’n lewe wat nie pas by ’n kind van die Here nie.

Wanneer die attestasie ontvang word, blyk dit dat die vorige kerkraad van die lidmaat getuig dat, sover dit aan die kerkraad bekend is, hy suiwer in die belydenis en onberispelik in die wandel is. Hierdie getuienis bots dus vierkantig met die lidmaat se lewenswandel in die nuwe gemeente.

Is die kerkraad verplig om hierdie attestasie te aanvaar?

Na my mening moet die volgende optrede gevolg word:

Deur middel van ’n kerkraadskommissie moet die kerkraad aan die lidmaat kennis gee dat die attestasie voorlopig nie aanvaar kan word nie, met opgaaf van rede.

Onverwyld moet die kerkraad met die vorige kerkraad in verbinding tree om die saak op te klaar.

Indien dit sou blyk dat die lidmaat in die vorige gemeente kerklik meelewend was, maar ná sy vertrek geestelik en kerklik verval het, het die vorige kerkraad dus die waarheid getuig.

Die getuienis is egter, in die lig van die verval wat ingetree het, verouderd; die kerkraad mag dit dus nie aanvaar nie.

Indien dit sou blyk dat die vorige kerkraad uit nalatigheid nie die waarheid getuig het nie, moet daardie kerkraad ernstig vermaan word. Indien nodig moet die saak by die betrokke klassis aanhangig gemaak word.

Ook in hierdie geval mag die getuienis nie aanvaar word nie.

|315|

Tog mag die lidmaat, in beide gevalle, nie summier „verwerp” word nie. Hy mag egter ook nie toegelaat word tot die nagmaal nie.

Die kerkraad moet deur middel van gemelde kommissie die lidmaat ontmoet, die feite van die saak aan hom deurgee en die konsekwensies daarvan aan hom verduidelik.

Indien die lidmaat begeerte het om sy lewe te verbeter, word hy as lidmaat opgeneem.

Hy word egter dadelik langs die gewone weg van artikel 76 KO dissiplinêr van die nagmaal afgehou, totdat hy bewys het dat sy berou eerlik en sy bekering opreg is.

Indien die lidmaat egter nie daarin sou belangstel om meelewende lidmaat van die nuwe gemeente te word nie, word hy meegedeel dat sy lidmaatskap as beëindig beskou word.

Notulering van bogenoemde handelinge moet uiteraard noukeurig geskied.

[Die bogenoemde opname (en tug) moet nie verwar word met die genootskapsidee (dat die kerk ’n genootskap is en alle takke van die genootskap verplig is om sy lede te aanvaar) nie. Inteendeel is dit gegrond in die werklikheid van eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering tussen kerke in kerkverband.]

 

Reisattestasie.

Wanneer ’n lidmaat slegs tydelik uit die gemeente verhuis, word aan hom ’n reisattestasie gegee.

Die Sinode van 1970 (Handelinge p. 461-463, Artikel 185) het ’n uitvoerige besluit hieroor geneem, wat op die volgende neerkom:
➢ die betrokke lidmaat „gaan nie oor” na ’n ander gemeente nie, maar bly lidmaat van die gemeente wat die reisattestasie gegee het;
➢ hy handig sy reisattestasie in by kerkrade waar hy aandoen, totdat hy weer daarvandaan vertrek;
➢ die kerkrade waar hy aandoen, word versoek om hom tydelik pastoraal te bearbei en alle kerklike voorregte aan hom te vergun;
➢ van die kerkrade waar hy aandoen, word verwag om aantekeninge op die reisattestasie te maak wat van belang mag wees;
➢ by permanente terugkeer na die tuisgemeente, word die reisattestasie weer aan die kerkraad terugbesorg.

Visser, J. (1999) Art. 83

|316|

Artikel 83

 

Aan armes wat om gegronde redes uit die gemeente vertrek, gee die diakens soveel middele as wat hulle nodig oordeel en hulle pleeg oorleg oor die verdere versorging met die diakens van die gemeente waarheen die armes vertrek het.

 

Voortgesette verantwoordelikheid.

Artikel 83 sluit aan by artikel 82 — albei handel oor lidmate wat uit die gemeente vertrek. 

Wanneer armes, wat deur die diakens versorg word, om gegronde redes uit die gemeente vertrek, beteken dit nie dat die diakens se verantwoordelikheid tot versorging van sulke armes daarmee verval nie.

 

Redes vir vertrek.

Tereg lê hierdie artikel nadruk daarop dat die redes vir vertrek uit die gemeente gegrond moet wees.

Voorbeelde hiervan is onder andere:
➢ werklose lidmate wat elders gaan werk soek;
➢ behoeftige lidmate wat genoodsaak word om elders verblyf te vind;
➢ bejaarde lidmate wat na ’n tehuis vir versorging van bejaardes vertrek.

Indien die diakens oortuig is dat die redes vir vertrek ongegrond is en dat verhuising die situasie sal vererger, moet hulle sulke lidmate adviseer om nie te verhuis nie; indien die advies nie opgevolg word nie en die behoeftige lidmate wel verhuis, kan die diakens met reg die versorging opskort.

 

Aard van hulpverlening.

Die aard van hulpverlening volgens hierdie artikel, sal bepaal word deur betrokke omstandighede. Dit kan byvoorbeeld reisgeld, voedsel, geld vir verblyf, geld vir ’n nuwe begin, en so meer wees.

|317|

Oorlegpleging met diakens van gemeente waarheen vertrek word.

Om te voorkom dat sulke behoeftiges tydelik onversorg gelaat word, moet die diakens oorleg pleeg met die diakens van die gemeente waarheen verhuis word, om reëlings te tref vir voortgesette versorging.

Veral is dit van belang in die geval van behoeftige bejaardes en/of gestremdes wat na ’n versorgingsinrigting verhuis. Die diakens van die gemeente in wie se gebied so ’n inrigting geleë is, sal moeilik alle behoeftige lidmate wat daarin opgeneem word, finansieel kan ondersteun.

Daarom is oorlegpleging met die oog op voortgesette versorging veral in sulke gevalle onontbeerlik.

Visser, J. (1999) Art. 84

|318|

Artikel 84

 

Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.

 

Geen hiërargie.

In die Gereformeerde kerkregering is daar hoegenaamd geen plek vir enige hiërargiese heerskappyvoering nie.

Daarom is daar in Gereformeerde Kerke geen tydelik/permanente moderators, geen leier-ouderlinge of -diakens en geen oorheersing van een predikant deur ’n ander waar daar meer as een predikant in ’n gemeente werk nie.

In vorige artikels is hierdie beginsel toegepas op bepaalde situasies, byvoorbeeld artikels 17, 35, 37 en 41.

 

Tug per implikasie.

Alhoewel dit nie met soveel woorde gestel word nie, is die implikasie in hierdie artikel dat by volhardende verkragting van hierdie beginsel, die kerklike tug toegepas moet word. Daarom vorm hierdie artikel ook deel van die sogenaamde „tugartikels”. Let veral op die sterk bewoording in die begin: „Geen kerk mag ...” (my kursivering, J.V.).

 

Ook by afvaardiging na meerdere vergaderings.

Die beginsel in hierdie artikel moet ook konsekwent toegepas word by afvaardiging na meerdere vergaderings.

Groter kerke/klassisse/partikuliere sinodes/nasionale sinodes mag nie meer afgevaardigdes na meerdere vergaderings stuur as kleineres nie. Dit word tans gereël in artikels 41, 47, 50 en 51.

Verandering van hierdie reëlings sal die baie belangrike, onmisbare beginsel in artikel 84 geweld aandoen — met onoorsienbare skade vir die welsyn van die kerke in kerkverband.

Visser, J. (1999) Art. 85

|319|

Artikel 85

 

In middelmatige dinge moet die buitelandse kerke by wie ander gebruike as by ons in swang is, nie veroordeel word nie.

 

Tug kragtens ekumeniese verhoudings.

Artikel 85 is die laaste van die sogenaamde „tugartikels”.

Dit kom na vore as die volgende oorweeg word:
➢ wanneer hier die negatiewe „nie veroordeel word” pertinent gestel word, spreek dit vanself dat die positiewe „wel veroordeel/vermaan word” ook van krag is, indien nodig.

Ekumeniese verhoudings berus op eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering. Dus kom ekumeniese verhoudings (korrespondensie) neer op kerkverband oor nasionale grense heen. Daarom is handhawing van suiwerheid in Belydenis, liturgie en kerkregering in alle ekumeniese verhoudings van die uiterste belang.

Indien een of meer van genoemde „fondamentstene” van korrespondensie in gedrang kom, mag dit nie stilswyend aanvaar word nie. Oor die betrokke sake moet indringend gesprek gevoer word, soos ons kerke in verskeie opsigte met verskillende kerke reeds doen en gedoen het. Indien nodig, moet daar vermaan word.

Wanneer dit blyk dat daar by die „dwalende” kerke verharding is en die vermanings op dowe ore val, moet daar „tug” toegepas word — wat in sy uiterste konsekwensie bestaan in die verbreking van onderlinge bande.

’n Sprekende voorbeeld hiervan is die gebeure tussen die GKSA en die Gereformeerde Kerken in Nederland (GKN) in 1973 tot 1976.

As gevolg van onaanvaarbare afwykings deur die GKN, het die Sinode van 1973 indringende vermanings tot die GKN gerig (Handelinge p. 33 e.v., punt F11; p. 82, punt 6; p. 84, punt 5 en p. 92, punt G).

Aangesien hierdie vermanings geen positiewe resultate opgelewer het nie, het die Sinode van 1976 die „tughandeling” verskerp en met

|320|

leedwese die bande tussen die GKSA en die Gereformeerde Kerken in Nederland verbreek (Handelinge p. 242 e.v., veral p. 302 e.v., punt 5).

 

Verdraagsaamheid in middelmatige sake.

Die bogenoemde drastiese optrede geld egter slegs ten opsigte van kardinale beginselsake, wat onmisbaar is vir die handhawing van ekumeniese verhoudings.

In middelmatige dinge (dit beteken dinge wat nie van deurslaggewende belang vir ekumeniese verhoudings is nie) moet daar verdraagsaamheid wees.

Waar sulke dinge by buitelandse kerke in gebruik is, moet hulle nie veroordeel word nie.

Vanselfsprekend is dinge wat Skriftuurlik normatief gefundeerd is, nie middelmatig nie; dit is kardinaal en deurslaggewend.

Visser, J. (1999) Art. 86

|321|

Artikel 86

 

Hierdie artikels wat betrekking het op die wettige orde van die kerk, is so opgestel en aangeneem met algemene stemme dat hulle, as die belang van die kerk dit anders vereis, verander, vermeerder of verminder kan word en behoort te word. Geen besondere kerk, klassis of sinode het egter die reg om dit te doen nie, maar hulle moet hul daarop toelê om dit te onderhou totdat die algemene sinode anders verorden, nadat geleentheid vir advies deur die kerke gegee is deur middel van die onderskeie nasionale sinodes.

 

Slotartikel.

Artikel 86 is nie een van die „tugartikels” nie, maar ’n slotartikel wat aansluit by die inleidende artikel 1.

 

Onderhouding van Kerkorde.

Reeds by die bespreking van artikel 1 is daarop gewys hoe belangrik dit is om die Kerkorde te onderhou (kyk p. 1 e.v.).

Die Kerkorde is nie slegs ’n riglyn, waarmee elkeen kan doen wat hy wil nie.

Artikel 86 praat met reg van die „wettige” orde van die kerk, waarop die Kerkorde betrekking het.

 

Verandering van Kerkorde.

Dat die Kerkorde verander mag word indien nodig, is duidelik.

Hoe en deur wie word in hierdie artikel bepaal.

Geen kerk, klassis of sinode mag die Kerkorde verander nie; slegs die algemene sinode mag dit doen, en dan ook net as al die kerke hul advies gegee het deur middel van die nasionale sinodes.

Indien die Nasionale Sinode dus besluit om sekere artikels van die Kerkorde te wysig (soos byvoorbeeld deur die Sinodes van 1994 en

|322|

1997 gedoen is), mag die veranderings nie in werking gestel word voordat die algemene sinode so besluit het nie.

Op sy beurt mag die algemene sinode geen artikel van die Kerkorde verander voordat die advies van die kerke, deur middel van die nasionale sinodes, nie ingewin is nie.

In praktyk beteken dit dus dat wanneer ’n nasionale sinode besluit op ’n wysiging van ’n Kerkorde-artikel, die beoogde wysiging eers aan die ander nasionale sinodes voorgelê moet word vir advies. Indien die advies positief is, moet die wysiging deurgestuur word vir finale goedkeuring deur die algemene sinode.

[Wat die praktiese implikasies op die lang duur gaan wees noudat die Algemene Sinode besluit het om voorlopig nie weer byeen te kom nie (kyk p. 214 hiervan), moet maar afgewag word. Noodsaaklike veranderinge in die Kerkorde kan egter nie onbepaald in die lug bly hang nie].

Visser, J. (1999) Byl A1

|323|

Bylae „A1”

(Van toepassing op emeriti wat weens swak gesondheid moes emeriteer).

BEDIENINGSOOREENKOMS TUSSEN DIE GEREFORMEERDE
KERK ............................................................
VERTEENWOORDIG DEUR DIE KERKRAAD (HIERNA
GENOEM „DIE KERKRAAD”)
EN
DS. .............................................

[Die Kerk met wie die Ooreenkoms aangegaan word, is Kerk „A”, en die Kerk aan wie die Emeritus ampshalwe verbind is, is Kerk „B”]

Hiermee kom die Gereformeerde Kerk .............................................
(Kerk „A”) soos volg ooreen met Ds. .............................................:

1. Die bedieningsooreenkoms is voorlopig vir 1 jaar (een jaar).

2. Ds. .............................. en sy gesin gaan as lidmate met attestasie oor na die Gereformeerde Kerk ................................................ (Kerk „A”).

3. Indien ds. .......................................... ná 1 jaar nog nie volkome duidelikheid het oor sy gesondheidstoestand nie, kan die duur van hierdie ooreenkoms verleng word soos onderling nodig en wenslik geag.

4. Die Kerkraad onderneem om ds. .......................................... en sy gesin soos volg te versorg tydens die duur van hierdie Ooreenkoms:
4.1. Traktement:
4.2. Huisvesting/toelaag, insluitend water- en elektrisiteitskoste, eiendomsbelasting, assuransie, telefoon:
4.3. Motor- of Reistoelaag:

|324|

4.4. Boektoelaag:
4.5. Verlof:
4.6. Verlofbonus (Dertiende tjek):
4.7. Mediese Skema:

5. Ds. ................................................... sal alle ampspligte in die gemeente verrig wat normaalweg deur ’n predikant verrig word. Dit sluit in die voorsitterskap by vergaderings volgens artikel 37 KO.; hiertoe word die instemming van die konsulent verkry.

6. Indien ds. .......................................... se gesondheidstoestand dit vereis, mag hy te eniger tyd, sonder enige vooraf kennisgewing, hierdie Ooreenkoms eensydig beëindig.

7. Indien ds. .......................................... voor die verstryking van 1 jaar oortuig is dat sy gesondheidstoestand sodanig verbeter het, gee hy die Kerkraad kennis dat hy die Ooreenkoms beëindig met die doel om aansoek te doen vir opheffing van sy emeritaat. (Ds. ................................................... en die Kerkraad moet oor die wenslikheid van hierdie artikel baie deeglik besin).

8. Aangesien ds. .......................................... tydens die duur van hierdie Ooreenkoms steeds die emerituspredikant van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „B”) bly, het die Kerkraad geen bevoegdheid om ampstug (volgens artt. 79/80 KO) op ds. .......................................... toe te pas nie. By eventuele wangedrag volgens artikel 80 KO, mag die Kerkraad egter onmiddellik, onder voorsitterskap van die Konsulent, die Ooreenkoms beëindig, en moet hy die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „B”) volledig daaroor inlig. Ds. .......................................... en sy gesin is egter volledig onderworpe aan die tug deur die Kerkraad volgens artikels 72 tot 77 KO, solank hulle lidmate van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „A”) is.

9. Indien en wanneer ds. .......................................... se gesondheidstoestand dit toelaat, doen hy langs die ordelike weg aansoek om opheffing van sy emeritaat.

|325|

10. Indien en wanneer die emeritaat van ds. .......................................... opgehef en hy weer „beroepbaar” gestel is, is die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „A”) nie verplig om hom te beroep nie.

11. Eweneens is ds. .......................................... nie verplig om ’n eventuele beroep na die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „A”) te aanvaar nie.

12. Tydens die duur van hierdie Ooreenkoms mag ds. .......................................... nie afgevaardig word na meerdere vergaderings nie. Hy mag egter meerdere vergaderings bywoon volgens die bepaling van artikel 42 KO.

13. Met verwysing na punt 4 op p. 323 doen die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „B”) aansoek by die betrokke Deputate om die uitbetaling van pensioen/ ongeskiktheidsvoordele/emeritaatstraktement (wat ook al van toepassing mag wees) vir die duur van hierdie Ooreenkoms op te skort.

Geteken op hierdie ............................................................ dag van .......................................... 19......... te .......................................

Namens die Kerkraad:

.......................................... (Konsulent/Voorsitter)

.......................................... (Skriba)

.......................................... (Ds. ..........................................)

Goedgekeur op hierdie .......................................... dag van ..........................................19......... namens die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „B”) deur:

.......................................... (Voorsitter)

.......................................... (Skriba)

Visser, J. (1999) Byl A2

|326|

Bylae „A2”

(Van toepassing op emeriti wat weens „onderdom” geëmeriteer het).

BEDIENINGSOOREENKOMS TUSSEN DIE GEREFORMEERDE
KERK ............................................................
VERTEENWOORDIG DEUR DIE KERKRAAD (HIERNA
GENOEM „DIE KERKRAAD”) EN
DS. .............................................

[Die Kerk met wie die Ooreenkoms aangegaan word, is Kerk „A”, en die Kerk aan wie die Emeritus ampshalwe verbind is, is Kerk „B”]

Hiermee kom die Gereformeerde Kerk .............................................
(Kerk „A”) soos volg ooreen met Ds. .............................................:

5. Die bedieningsooreenkoms word voorafgegaan deur ’n proeftyd van 3 (drie) maande, met ingang .............................................

6. Indien beide partye na verstryking van die proeftyd met die ooreenkoms wil voortgaan, sal dit jaarliks hersien word. Dit mag egter met 1 (een) kalendermaand wedersyds beëindig word.

7. Ds. .............................. en sy gesin gaan reeds met die aanvang van die proeftyd as lidmate met attestasie oor na die Gereformeerde Kerk ................................................ (Kerk „A”).

8. Die Kerkraad onderneem om ds. .......................................... en sy gesin soos volg te versorg tydens die duur van hierdie Ooreenkoms:
4.8. Honorarium:
4.9. Huisvesting/toelaag, insluitend water- en elektrisiteitskoste, eiendomsbelasting, assuransie, telefoon:
4.10. Reistoelaag:
4.11. Verlof:

|327|

4.12. Verlofbonus (Dertiende tjek):

14. Ds. ................................................... sal die volgende ampspligte in die gemeente verrig:
5.1 Woord- en sakramentsbediening.
5.2 Kategetiese onderrig.
5.3 Huisbesoek.
5.4 Sieke- en bejaardebesoeke.
5.5 Begrafnisse.
5.6 Voorsitterskap by vergaderings volgens artikel 37 KO; hiertoe word die instemming van die konsulent verkry.

(Haal deur wat nie van toepassing is nie).

15. Aangesien ds. .......................................... die emerituspredikant van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „B”) is, het die Kerkraad geen bevoegdheid om ampstug (volgens artt. 79/80 KO) op ds. .......................................... toe te pas nie. By eventuele wangedrag volgens artikel 80 KO, mag die Kerkraad egter onmiddellik, onder voorsitterskap van die Konsulent, die Ooreenkoms beëindig, en moet hy die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „B”) volledig daaroor inlig. Ds. .......................................... en sy gesin is egter volledig onderworpe aan die tug deur die Kerkraad volgens artikels 72 tot 77 KO, solank hulle lidmate van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „A”) is.

16. Ds. .......................................... mag nie afgevaardig word na meerdere vergaderings nie. Hy mag egter meerdere vergaderings bywoon volgens die bepaling van artikel 42 KO.

Geteken op hierdie .......................................... dag van .......................................... 19......... te .......................................

Namens die Kerkraad:
.......................................... (Konsulent/Voorsitter)

.......................................... (Skriba)

|328|

.......................................... (Ds. ..........................................) 

Goedgekeur op hierdie .......................................... dag van ..........................................19......... namens die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk .......................................... (Kerk „B”) deur:

.......................................... (Voorsitter)

.......................................... (Skriba)

Visser, J. (1999) Byl B

|329|

Bylae „B”

Besluite van Meerdere Vergaderings: Vas en Bindend.

Plaaslike kerk en kerkverband.

Die algemene (of universele) kerk, dit is die een liggaam van Christus (I Korinthiërs 12; Efesiërs 4), gaan aan die plaaslike kerk vooraf.

Die plaaslike kerk is ’n nadere organisasie van die algemene kerk.

Die plaaslike kerk is die algemene kerk wat op elke plek georganiseer word.

Soos gelowiges hulle moet verbind tot ’n gemeente, só moet gemeentes hulle verbind in kerkverband. Nie om een te word nie, maar omdat hulle een is. (Skrifbewyse hiervoor kan gevind word in B. Spoelstra, 1989, p. 170).

Voetius (1676, p. 121) sê uitdruklik dat kerkverband voortspruit uit verpligting van hul onderlinge eenheid of gemeenskap („...ex debito mutuae societatis...” — kursivering van my, J.V.). Soortgelyke standpunte word gestel deur A. Kuyper (aangehaal deur Kuypers, 1949b, p. 116), W.J. Snyman (1977, p. 82), G.P.L. van der Linde (1965, p. 137-138) en B. Spoelstra (1980, p. 8).

Kerkverband en algemene kerk is nie identies nie, soos bv. by o.a. L. Roeleveld (1980, p. 6) en G.C.P. van der Vyver (s.j., by art. 29(2)). Ter stawing van hierdie stelling, verwys ek na Snyman, 1977, p. 44-45; A. Kuyper, 1883, p. 147-148 en Voetius, 1902, p. 26.

Kerkverband hef nie die selfstandigheid van die plaaslike kerk op nie (kyk hiervoor Voetius, 1676, p. 119; P. Biesterveld en H.H. Kuyper, 1905, p. 23; Weselse Artikels, Hoofstuk V, art. 19).

Die plaaslike kerk, ook in kerkverband, is ’n selfstandige openbaring van  die liggaam van Christus. Elke plaaslike kerk is selfstandig, maar nie onafhanklik nie; daarom is kerkverband noodsaaklik (Snyman, 1977, p. 62; H. Bouwman, 1934, p. 14; Spoelstra, 1980, p. 11). 

Kerkverband is nie kerk nie. Daarom het die Nasionale Sinode van 1985 tereg die naam, waardeur die kerkverband aangedui word, verander

|330|

na: „Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika” — meervoud, teenoor „Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika” — enkelvoud (kyk Handelinge 1985, p. 462 e.v., veral p. 477). (Vir breër argumentasie oor hierdie stelling, ook Skrifbewyse, kyk Visser, 1989, p. 28 e.v., asook p. 222 e.v.).

Dikwels praat en doen selfs Gereformeerdes asof die kerkverband of die Sinode eintlik die kerk is. Dit is nie presbiteriaal nie, maar kollegialisties.

 

Meerdere en mindere vergaderings.

Die beginsel van meerdere vergaderings word gevind in die Jerusalemse vergadering van Handelinge 15. (Meer besonderhede hieroor kan gevind word in Visser, 1989, p. 233 e.v.).

’n Klassis of sinode is nie ’n hoëre vergadering nie, maar ’n meerdere vergadering, omdat meer kerke daar teenwoordig is.

’n Meerdere vergadering is ’n ad-hoc byeenkoms, en nie ’n permanente struktuur nie.

Meerdere vergaderings is vergaderings van kerke en nie vergaderings van ampsdraers nie (kyk art. 41 KO: „Die klassis is ’n vergadering van naburige kerke...”. My kursivering, J.V.). Hierdie naburige kerke word in die klassis verteenwoordig deur afgevaardigdes.

 

Die gesag in meerdere vergaderings.

Wat die gesag in meerdere vergaderings betref, kan opgemerk word dat die hele probleemstelling of meerdere vergaderings oorspronklike gesag of afgeleide gesag het, ’n valse probleemstelling is.

In die kerk is daar immers net één gesag, en dit is die gesag van Christus, wat deur menslike instrumente bedien word (Efesiërs 1: 22, 23; 5: 23; Kolossense 1: 18). 

Streng gesproke kan daar dus nie gepraat word van die gesag van meerdere vergaderings nie; daar moet liewer gepraat word van die gesag in meerdere vergaderings.

Hier kan ook nog opgemerk word dat daar in die kerk geen sprake is van demokrasie nie, maar wel van Christokrasie.

|331|

Die gesag in kerkrade en meerdere vergaderings verskil dus nie prinsipieel of wesenlik of kwalitatief van mekaar nie; in alle gevalle is dit die gesag van Christus. Die enigste verskil tussen die gesag in ’n kerkraad en dié in meerdere vergaderings is ’n verskil in omvang, volgens artikel 30 KO, en ’n verskil in duurte, omdat die kerkraad die enigste permanente vergadering is.

Hier is artikel 36 KO van belang: „Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.”

Die woord „dieselfde” in hierdie artikel moet só verstaan word dat die seggenskap dwarsdeur, in alle gevalle, dieselfde is omdat dit berus op die gesag van Christus deur sy Woord. „Dieselfde” beteken dus hier „identies” of „gelyk”.

As sodanig wil hierdie artikel dus verhoed dat „kerkverband” ’n opsionele saak word. Dit beklemtoon naamlik die goddelike reg van meerdere vergaderings wat die reg het om gesagvolle besluite te neem waaraan mindere vergaderings gehoorsaamheid moet bewys (Du Plooy, p. 127).

 

Artikel 30 Kerkorde.

In artikel 30 KO word die volgende bepaal: „Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.”

Die gesag in meerdere vergaderings word in hierdie artikel dus duidelik beperk.

Meerdere vergaderings mag nie maar enige saak behandel nie, maar slegs dié wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie en dié wat by die meerdere vergadering tuishoort.

Hierdie beperking is in hoofsaak reeds deur die Sinode van Emden, 1571, bepaal. Daarna kom dit voor in die Acta van die Sinode van Dordrecht, 1578, en is dit opgeneem in die Kerkordes van die volgende Sinodes: Middelburg, 1581; 's Gravenhage, 1586; Dordrecht, 1618-1619.

|332|

Tereg sê H.H. Kuyper (1923, Deel VI, bladsye ongenommer) dat artikel 30 KO die waarborg van die plaaslike kerk se vryheid neerlê. Elke besluit wat teen artikel 30 ingaan, mis alle regskrag.

J. Kamphuis (1966, p. 85-87) merk op dat artikel 30 KO anti-hiërargies is, maar ook anti- independentisties. Dit is anti-hiërargies omdat dit nie toelaat dat alles maar deur die meerdere vergaderings behandel word nie. Ook is dit anti-independentisties omdat dit duidelik spreek van sake wat die kerke in gemeen het, soos bv. die handhawing van die suiwere leer.

Die beginsel van artikel 30 KO gaan dus baie dieper as ’n formele aanduiding van wat op ’n agenda mag kom. Dit wil nie die aard van agendastukke definieer nie, maar dit wil die regte en pligte van kerkvergaderings waarborg. Dit maak ’n Bybelse beginsel, van hoe elkeen geroep is om aan die Here verantwoordelik te lewe en te werk, diensbaar in kerkvergaderings. Tegelykertyd wil dit negatief enige heerskappyvoering en magsindringing uitsluit, sodat die kerke nie weer, soos in die geskiedenis telkens gebeur het, deur kerklike dienaars totaal onder ’n juk van diensbaarheid gebring word nie (Spoelstra, 1980, p. 12).

Watter sake hoort nou tuis by meerdere vergaderings? Om ’n afgeronde katalogus van sulke sake op te stel, is seker nie haalbaar in die bestek van hierdie referaat nie.

Die volgende kategorieë kan egter breedweg gestel word:
Alle sake waarby meer kerke belang het as ’n bepaalde mindere vergadering.
Alle sake wat te doen het met die eenheid van die kerke, d.i. met sake betreffende „leer, diens en tug” (of anders gestel: sake betreffende Belydenis, liturgie en kerkregering).

Hier wil ek graag verwys na die Openlike Verklaring, waarmee alle kerke by die aanvang van meerdere vergaderings instemming (behoort te) betuig:

|333|

In die eerste paragraaf die binding aan die leer of Belydenis.
In die tweede paragraaf die binding aan die diens of liturgie.
In die derde paragraaf die binding aan die tug of kerkregering

Bepaalde onderafdelings van die bogenoemde sake mag egter van mindere belang wees, bv. of daar staande of sittende gesing moet word in die erediens. Daaroor sal ’n sinode bv. besluit om dit aan die vryheid van die kerke oor te laat.

 

Artikel 31 Kerkorde.

„Wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde.”

Omdat Christus sy kerk deur sy Woord en Gees regeer, moet ’n kerklike vergadering altyd ernstig vra na die openbaring van God in die Skrif en daarna streef om besluite in die lig van Gods Woord met algemene instemming te neem. Indien dit nie moontlik is nie, word ’n beslissing verkry deur ’n volstrekte meerderheidstem.

Die minderheid moet óf met hierdie besluit konformeer óf daarteen beswaar indien of appelleer. Onder geen omstandighede mag dit bloot geïgnoreer word asof dit nie bestaan nie.

Sulke besluite wat met algemene instemming of ’n volstrekte meerderheidstem geneem is, moet as vas en bindend beskou word (kyk Handelinge 15: 28-30; 16: 4, vgl. 15: 41 — „gemeentes”).

By hierdie bindende krag van die besluite van kerklike vergaderings word egter ’n baie duidelike beperking geplaas: „...tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde.” Let wel: „bewys”, en nie slegs beweer nie!

Hier word Gods Woord dus gestel as die grens vir alle kerklike gesag en besluitneming. Want slegs Gods Woord bind absoluut. Kerkvergaderings moet hulle in hul besluitneming aan die Woord van God verantwoord.

Tereg sê Du Plooy: „Die toepassing van artikel 31 KO onderskei die kerk van die valse kerk‚ ‘wat aan homself en sy ordinansies meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God...’ (art. 29, Nederlandse

|334|

Geloofsbelydenis). Artikel 31 KO bied dus die ruimte of deurgang vir die Woord van God sodat die Woord van God die eerste en laaste sê sal hê in kerk en meerdere vergadering. Op hierdie wyse regeer die Koning dan self sy kerk” (p. 126).

Dit is egter nie die reg en voorreg van elke individuele ampsdraer of mindere vergadering om self en alleen uit te maak of ’n bepaalde besluit in stryd is met die Woord van God nie. Die bewys moet gelewer word in die vergadering wat die besluit geneem het, of, in geval van appèl, by die bevoegde meerdere vergadering.

Kerke is egter nie net een in Belydenis (as akkoord van kerklike gemeenskap) nie, maar ook in kerkregering. Die Kerkorde is vrug van die Belydenis (kyk artt. 30-32 NGB). Daarom mag besluite van kerklike vergaderings ook nie in stryd wees met die Kerkorde nie.

As ’n kerklike vergadering dus ’n besluit neem wat strydig is met die Kerkorde, word daarmee nie slegs die goeie orde aangetas nie, maar ook die „kubernetiese eenheid” van die kerke wat kragtens dieselfde Belydenis in kerkverband saamgesnoer is.

Wie moet nou uitmaak of ’n besluit in stryd is met Gods Woord en die Kerkorde? Wat behels die „vas en bindend” in hierdie artikel? Kan elkeen maar vir homself „bewys” dat ’n besluit in stryd is met Gods Woord en die Kerkorde, en dit dan nie as vas en bindend beskou nie?

Op hierdie punt gaan die menings skerp uitmekaar.

’n Belangrike aspek hier is die sogenaamde „ratifikasiereg”, dat ’n mindere vergadering eers die besluite van ’n meerdere vergadering moet „ratifiseer”, dit „regskragtig” moet verklaar, voordat hy dit as vas en bindend beskou. Begryplikerwys bring hierdie siening totale willekeur en ordeloosheid mee.

In die Skrif is daar geen steun vir hierdie „ratifikasiereg” nie. Handelinge 15: 22-29 en 16: 4 wys duidelik in die teenoorgestelde rigting.

Hierdie „ratifikasiereg” bots lynreg met die beginsel in artikel 31 KO. Dit is nie Gereformeerd, presbiteriaal nie, maar independentisties!

Tereg sê Van der Linde (1977/78, DeeI II, p. 13-14) dat diegene wat nie kan konformeer nie, bewys moet lewer dat die betrokke besluit

|335|

strydig is met Gods Woord of die Kerkorde. Die bewys moet gelewer word in die vergadering wat die besluit geneem het (art. 46 KO) of in ’n meerdere vergadering waarheen geappelleer word (art. 31 KO).

Wanneer ’n mindere vergadering of ’n individu van mening is dat ’n besluit van ’n meerdere vergadering hersien of nietig verklaar moet word, mag hulle nie maak asof so ’n besluit nie bestaan en dit dan ignoreer of tersyde stel nie. Dit bly vas en bindend totdat daar by wyse van beswaar of appèl bewys gelewer is dat dit stry met Skrif en/of Kerkorde. (Ek vestig hier graag die aandag op die gewysigde prosedure i.v.m. beswaarskrifte, soos vasgestel deur die Sinode van 1991, Handelinge p. 526-528).

Ek verwys hier na die volgende onderneming wat elke ampsdraer en proponent gee by ondertekening van die onderskeie Ondertekeningsformuliere: „Gedurende die tyd van appèl sal ek my onderwerp aan die uitspraak en die oordeel van die betrokke vergadering” (kyk Handelinge Sinode 1988, p. 409). Hier verbind elke ampsdraer en proponent hom persoonlik aan die beginsel in artikel 31 KO!

By die hantering van hierdie probleem staan Handelinge 5: 29 voorop: „Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”. Wanneer die besluit van ’n kerklike vergadering só opsigtelik in stryd is met die Skrif en die Kerkorde dat dit objektief duidelik is, en dat die uitvoering daarvan gewetenslas sou meebring, mag daar nie onderwerping en gehoorsaamheid wees nie. Daar moet egter dadelik oorgegaan word tot beswaar of appèl. Daar mag nie skeurmakery plaasvind of revolusionêr opgetree word nie!

Watter besluite kan ons nou as „vas en bindend” verklaar volgens artikel 31 KO?

Kortweg: alle besluite wat aan die vereistes van artikels 30 en 31 KO beantwoord.

Maar soos reeds gesê is, as iemand meen dat ’n besluit hersien of nietig verklaar moet word, moet opgetree word soos hierbo uiteengesit is.

 

Afvaardiging en geloofsbriewe.

Die afgevaardigdes na meerdere vergaderings verteenwoordig die mindere vergadering, asof die betrokke mindere vergadering self

|336|

teenwoordig is. Die afgevaardigdes is nie organe van dié vergadering wat hulle stuur nie, maar verteenwoordigers; hulle is slegs organe van Christus.

Mindere vergaderings word in meerdere vergaderings verteenwoordig deur lerende en regerende ouderlinge (KO artt. 41, 47, 50, 51).

Omdat ’n klassis ’n vergadering van kerke is, wys kleiner en groter kerke ewe veel afgevaardigdes aan.

Dieselfde beginsel en praktyk geld ook by afvaardiging na ander meerdere vergaderings.

Die sogenaamde „getrapte afvaardiging” na partikuliere, nasionale en algemene sinodes, wat om praktiese redes deur die Sinode van 1958 ingevoer is, hef nie die beginsel op dat meerdere vergaderings vergaderings van kerke is nie (kyk Handelinge Sinode 1958, p. 37 e.v.). Alle plaaslike kerke is in die klassis teenwoordig deur middel van hul afgevaardigdes. Om praktiese redes vaardig hierdie kerke-in-klassis ’n kleiner aantal verteenwoordigers, wat hulle almal verteenwoordig, af na die partikuliere sinode. Al is die afvaardiging dus kleiner, verteenwoordig hulle steeds al die plaaslike kerke wat in die klassis byeen was.

Dieselfde geld van die afvaardiging verder na nasionale en algemene sinodes.

Dit sou absurd wees om te argumenteer dat, omdat gemeente A nie self direk in die Nasionale Sinode verteenwoordig was nie, hy daarom nie nodig het om die besluite van die Nasionale Sinode as „vas en bindend” te beskou nie. Dit sou neerkom op dieselfde soort onhoudbare argument dat ouderling Y van gemeente X nie die besluite van die Klassis as „vas en bindend” vir homself en sy wyk beskou nie, omdat hy nie self in die Klassis teenwoordig was nie.

Gemeente A en ouderling Y, hierbo genoem, was naamlik wel deeglik indirek in die Nasionale Sinode en die Klassis teenwoordig, deur middel van hul afgevaardigdes.

Volgens artikel 33 KO moet afgevaardigdes na meerdere vergaderings geloofsbriewe saamneem, onderteken deur dié wat hulle stuur.

|337|

Volgens die geloofsbrief tree die afgevaardigdes op namens die vergadering wat hulle stuur (kyk bewoording geloofsbrief in Handelinge van Sinode 1985, p. 560).

’n Geloofsbrief is die wettige bewys dat iemand gestuur is en opdrag ontvang het om namens ’n mindere vergadering te handel.

Sonder geloofsbrief mag niemand reg tot sitting in ’n meerdere vergadering verleen word nie.

In die geloofsbriewe wat in die GKSA gebruik word, is twee dinge van kardinale belang:
❖ Die gesag van Gods Woord, asook die krag van die Belydenisskrifte en die Kerkorde, word daarin erken. Die afgevaardigdes mag slegs oordeel en besluit volgens Gods Woord en die Belydenisskrifte en Kerkorde.
❖ Die afvaardigende vergadering verbind hom in die geloofsbrief om alle besluite van die meerdere vergadering, wat ooreenstem met Skrif, Belydenis en Kerkorde, „as vas en bindend te beskou en dit getrou te help uitvoer en nalewe” (kyk bewoording geloofsbrief in Handelinge van Sinode 1985, p. 560). Indien ’n kerkraad dan besluite van meerdere vergaderings ignoreer of tersyde stel (of toelaat dat van sy ampsdraers dit doen), is dit niks minder nie as verbreking van ’n gegewe onderneming en belofte.

 

Opdragte.

In artikel 33 KO word ook gepraat van opdragte wat afgevaardigdes moet saamneem. Hierdie opdragte kan in twee onderskei word:
➢ Die algemene opdrag, soos bewoord in die geloofsbrief. Die afgevaardigdes kry las en volmag om namens die afvaardigende vergadering volgens die Woord van God, die Formuliere van Eenheid en die aanvaarde Kerkorde in alle sake wat op die betrokke vergadering sal voorkom, te help oordeel en besluit.
➢ Die besondere opdragte wat ’n vergadering aan sy afgevaardigdes mag saamgee, bv. beskrywingspunte, beswaarskrifte, versoeke tot revisie, adviesversoeke, ens..

Mag die afvaardigende vergadering aan sy afgevaardigdes voorskryf hoe hulle in bepaalde gevalle moet stem?

|338|

Hierop antwoord ek onomwonde: Ja!

Want die afgevaardigdes woon die betrokke meerdere vergadering nie in hul persoonlike hoedanigheid by nie, maar as afgevaardigdes met geloofsbrief wat namens die afvaardigende vergadering moet oordeel en besluit!

In elk geval mag ook geen afgevaardigde teen ’n besondere opdrag van sy afvaardigende vergadering stem nie.

Dikwels word geargumenteer dat die afgevaardigdes na meerdere vergaderings slegs gebind is aan „die Woord van God, die Formuliere van Eenheid en die aanvaarde Kerkorde”, soos in die geloofsbrief bepaal word. Maar dieselfde geloofsbrief bepaal ook uitdruklik dat die afgevaardigdes las en volmag het om namens die afvaardigende vergadering te help oordeel en besluit. Afgevaardigdes is dus ook gebind aan die opdragte van die vergadering wat hulle stuur.

Ek is van mening dat wanneer ’n afgevaardigde tydens die bespreking van ’n „opdrag” deur sy afvaardigende vergadering tot die oortuiging kom dat voortgesette binding aan hierdie opdrag, aan hom gewetenslas sou oplê as hy ten gunste daarvan sou stem, hy toestemming moet vra om buite stemming te bly, en hom dan daaroor moet verantwoord teenoor sy afvaardigende vergadering by die eerste moontlike geleentheid.

 

Samevatting.

➢ Kerkverband is nie willekeurig nie, maar plig kragtens kerkeenheid.
➢ Kerkverband hef nie die selfstandigheid van die plaaslike kerk op nie.
➢ Meerdere vergaderings is vergaderings van kerke en nie van ampsdraers nie.
➢ Hierdie kerke word verteenwoordig deur afgevaardigde predikante en ouderlinge met geloofsbriewe, wat die wettige bewys is van verteenwoordiging en volmag.
➢ ’n Mindere vergadering mag sy afgevaardigdes opdrag gee hoe om in bepaalde gevalle te stem.
➢ Die gesag in meerdere vergaderings is die gesag van Christus, deur middel van sy Woord en Gees, wat deur menslike instrumente bedien word.

|339|

➢ Hierdie gesag verskil nie prinsipieël van dié in kerkrade nie, maar slegs wat omvang en duurte betref.
➢ Meerdere vergaderings se gesag is beperk volgens artikel 30 KO.
➢ Alle besluite van kerklike vergaderings is vas en bindend.
➢ Die sogenaamde „ratifikasiereg” het nie plek in die Gereformeerde kerkregering nie.
➢ Besware teen besluite van meerdere vergaderings moet op die ordelike manier hanteer word en nie eiegeregtig-revolusionêr nie.
➢ As ’n besluit só objektief-duidelik in stryd met Skrif, Belydenis en Kerkorde is dat uitvoering daarvan gewetenslas meebring, moet ons God meer gehoorsaam as mense.

(Geringe verwerking van ’n referaat, oorspronklik gelewer voor G.T.V. Witwatersrand, 26 oktober 1992).

 

Literatuurlys

Biesterveld, P. en Kuyper, H.H. 1905. Kerkelijk Handboekje. Kampen, Bos.
Bouwman, H. 1934. Gereformeerd Kerkrecht. Tweede deel. Kampen, Kok.
Du Plooy, A. le R. 1979. Ekklésia en meerdere vergaderinge. PU vir CHO.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1958. Handelinge van die 33ste Sinodale vergadering, p. 37 e.v.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1985. Handelinge van die 42ste Nasionale Sinode, p. 462 e.v.; p. 560.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1991. Handelinge van die 44ste Nasionale Sinode, p. 526- 528.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1980. Kerkorde van ...
Kamphuis, J. 1966. Verkenningen III. Goes, Oosterbaan en Le Coitre.
Kuyper, A. 1883. Tractaat van de reformatie der kerken. Amsterdam, Höveker.

|340|

Kuyper, H.H. 1923. Deel III-IV. „De bevoegdheid der meerdere vergaderingen.” in De Heraut, 2355, Maart; 2356, Maart; 2357, Maart; 2358, April.
Kuypers, G. 1949(b). „Abraham Kuyper over het gezag der synoden, slot.” in Gereformeerd Theologisch Tijdschrift, 49, p. 100-129. Kampen, Kok.
Roeleveld, L. 1980. „Die gereformeerde kerkverband as societas van plaaslike gemeentes.” in In die Skriflig, 14 (56): 5-26, Desember.
Snyman, W.J. 1977. Nuwe en ou dinge. Potchefstroom, Pro Rege.
Spoelstra, B. 1980. „Die beginsel in artikel 30 KO.” in In die Skriflig, 14 (55): 3-12, September.
Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering, Hammanskraalse Teologiese Skool.
Van der Linde, G.P.L. 1965. Die grondbeginsels van die presbiteriale kerkregeringstelsel. Potchefstroom, Pro Rege.
Van der Linde, G.P.L. 1977/78. Die kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Deel I en II. (Ongepubliseerde klasdiktaat — Teologiese Skool, PU vir CHO).
Van der Vyver, G.C.P. s.j. Dordtse Kerkorde. (Ongepubliseerde klasdiktaat — Teologiese Skool, PU vir CHO. Bladsye ongenommer).
Visser, J. 1989. Die tug oor ampsdraers. Departement Sentrale Publikasies. Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Potchefstroom.
Voetii, Gisberti. 1676. Politicae ecclesiasticae. Pars tertia et ultima. Quatuor libris adornata. Amstelodami, apud Johannem Jansonium á Waesberge.

Visser, J. (1999) Byl C

|341|

Bylae „C”

Vergaderingprosedure.

Inleidend.

In I Korinthiërs 14: 33 staan dat God nie ’n God van wanorde is nie.

Dit is dus logies en elementêr dat in alle byeenkomste waar mense in God se Naam byeen is, dus ook in kerkraadsvergaderings, alles in goeie orde moet plaasvind.

Daarvoor is behoorlike vergaderingprosedure onmisbaar. Want foutiewe en/of gebrekkige vergaderingprosedure kan nie net onordelikheid in die hand werk nie, maar dit kan ook ander wrange gevolge hê.

 

Kenmerke van ’n kerkraadsvergadering.

’n Kerkraadsvergadering verskil in verskeie opsigte van alle ander vergaderings. Alhoewel ’n kerkraadsvergadering baie dinge in gemeen het met ander vergaderings, is daar tog ook ingrypende verskille, soos deurlopend in hierdie praatjie na vore sal kom. Hierdie verskille het uiteraard konsekwensies vir die prosedure in kerkraadsvergaderings.

In ’n kerkraadsvergadering geld bv. geen konstitusie of huishoudelike reglement nie. Hier geld die Kerkorde. En die Kerkorde is nie ’n wet of ’n reglementebundel nie. Die Kerkorde bevat breë riglyne met bepaalde Skrifbeginsels, wat ook betekenis het vir die prosedure in kerkraadsvergaderings.

In artikel 37 KO word bv. bepaal dat die predikant voorsitter moet wees. Nie omdat predikante altyd die beste voorsitters is nie; trouens, in die geledere van predikante is daar seker ook van die swakste voorsitters denkbaar. Maar die voorsitter in ’n kerkraadsvergadering (en in meerdere vergaderings) moet ’n predikant wees, omdat hy bedienaar van Gods Woord is; want Christus regeer sy kerk deur sy Woord en Gees.

In gevalle waar die plaaslike predikant nie teenwoordig kan wees nie of wanneer ’n gemeente vakant is, moet die konsulent die vergadering lei.

|342|

’n Kerkraad mag nie sommer enige predikant as voorsitter vra nie, behalwe met die uitdruklike toestemming van die konsulent.

In hoogs uitsonderlike gevalle mag ’n ouderling ’n kerkraadsvergadering lei as voorsitter. Besluite wat egter in so ’n geval geneem is, moet so gou moontlik bekragtig word in ’n vergadering onder voorsitterskap van ’n predikant.

In die kerklike lewe is die kerkraadsvergadering die enigste „permanente” vergadering. Klassis en sinodes ,,ontbind” as die agenda afgehandel is en konstitueer telkens opnuut.

 

Agenda.

Soos in alle kerklike vergaderings mag in kerkraadsvergaderings net kerklike sake behandel word, en dan ook op kerklike wyse, soos in artikel 30 KO bepaal word ... juis omdat kerklike vergaderings onderskeie is van alle ander vergaderings.

’n Kerkraad stel sy eie agenda vas. Dit kan op verskillende maniere gedoen word.

Byvoorbeeld: die skriba en/of die predikant stel ’n konsep-agenda op; aan die begin van die vergadering gee die voorsitter geleentheid vir die opgawe van sake wat nie kan wag vir ’n volgende vergadering nie; daarna stel die vergadering die agenda vas. 

Die berugte item „Algemeen” hoort nie tuis in die agenda van enige kerkraadsvergadering nie, omdat dit gewoonlik ontaard in ’n herhaling van ’n groot deel van die reeds-afgehandelde agenda; dit kan selfs uitloop op ’n splinternuwe vergadering sonder agenda!

Aan die einde van elke vergadering moet daar geleentheid wees vir die opgawe van beskrywingspunte vir die volgende vergadering.

Vir die vlot verloop van sake in ’n kerkraadsvergadering is dit noodsaaklik dat alle betrokkenes ten volle op hoogte moet wees van sake wat in die agenda voorkom.

 

Kworum.

Die wettigheid van enige vergadering word o.a bepaal deur ’n kworum. Daarom word die presensielys vasgestel direk ná die opening, voordat

|343|

met die agenda begin word, ten einde te bepaal of daar wel ’n kworum is.

Om die kworum in ’n kerkraadsvergadering te bepaal, is dit nodig om te weet wat die verskil is tussen die sogenaamde „smal” en „breë” kerkraadsvergaderings.

Die kerkraad bestaan, volgens artikel 37 KO, uit die predikant en die ouderlinge. ’n Kerkraadsvergadering is dus ’n ouderlingevergadering (die sogenaamde „smal” kerkraadsvergadering). Die sogenaamde „breë” kerkraadsvergadering word in die Kerkorde bewoord as ’n vergadering van die kerkraad saam met die diakens (kyk bv. artt. 4, 5, 10, 22).

Om dus vas te stel of daar ’n kworum vir die sogenaamde „breë” kerkraadsvergadering is, moet vasgestel word of daar ’n kworum van ouderlinge is ... want dit is immers ’n vergadering van die kerkraad, saam met die diakens

Gestel ’n sogenaamde „breë” kerkraad bestaan uit 10 ouderlinge en 10 diakens; by ’n bepaalde vergadering is daar 9 diakens teenwoordig, maar slegs 4 ouderlinge; uit die totaal van 20 dus 13. Tog is daar geen kworum van ouderlinge nie, en kan daar dus geen wettige vergadering van die kerkraad saam met die diakens gehou word nie.

Wanneer die diakens egter afsonderlik vergader, word die kworum gewoonweg vasgestel volgens die helfte plus 1 van die aantal diakens.

Van buitengewone vergaderings (dus vergaderings wat nie normaalweg volgens die jaarprogram bepaal is nie) moet betyds kennis gegee word aan elke betrokke ampsdraer. Indien slegs 1 broeder nie kennis ontvang het nie, en hy sou beswaar aanteken teen die besluit(e) van so ’n vergadering, sal sy beswaar gehandhaaf moet word. Want regtens is die handelinge van so ’n vergadering ultra vires en dus van nul en gener waarde.

 

Spreekbeurte.

Die kwessie van die aantal spreekbeurte per persoon oor ’n bepaalde saak kan soms netelig raak. Geen rigoristiese reëling kan hier gemaak word nie.

|344|

Aan die ander kant weer kan ’n voorsitter nie aan elke ampsdraer oor elke saak ’n onbeperkte aantal spreekbeurte gee nie. So iets kan ’n vergadering onnodig lank uitrek en in chaos ontaard.

As beginsel moet hier gestel word dat Christus sy kerk regeer deur sy Woord en Gees. Die persoonlike siening van een of meer ampsdraers is dus nie van deurslaggewende betekenis nie (al mag hulle self so dink!)

As riglyn moet hier geld dat bespreking toegelaat word totdat die vergadering ryp is om tot ’n besluit te kom; m.a.w. totdat die saak vir almal duidelik is.

Kerkraadsvergaderings mag nie ontaard in debatvoering nie. Die deurdruk van persoonlike opinies mag hoegenaamd nie geld nie.

As die voorsitter oortuig is dat die saak vir almal duidelik is en die vergadering ryp is vir besluitneming, sluit hy alle verdere bespreking ... behalwe wanneer ’n voorstel of amendement verdere toeligting vereis.

’n Goue reël is dat die voorsitter aan niemand ’n tweede of selfs derde spreekbeurt toestaan voordat ander broeders nie eers geleentheid ontvang het om hul mening uit te spreek nie.

’n Voorsitter moet ook daarteen waak om nie aan sekere broeders, wat dieselfde mening huldig as hyself, meer spreekgeleenthede toe te staan as aan hulle wat anders oor die saak dink nie. Hy moet dus in die toekenning van spreekbeurte absoluut onpartydig wees.

Die voorsitter het dus beslis die reg om die bespreking op ’n bepaalde tydstip te sluit. Hy mag hierdie reg egter nie outokraties misbruik ter bevordering van ’n bepaalde standpunt nie.

 

Ordevoorstelle en punte van orde.

Tussen ’n ordevoorstel en ’n punt van orde is daar bepaalde verskille.

Dikwels word ’n punt van orde misbruik om iemand anders in die rede te val en dan die eie mening uit te spreek of te beklemtoon.

Punte van orde kan slegs by wyse van ’n vraag aan die voorsitter gestel word en nooit by wyse van ’n bewering/stelling nie.

|345|

Die doel van ’n punt van orde is nie om die eie mening te bevorder nie, maar slegs om die aandag te vestig dat ’n spreker afwyk van bepaalde reëls en/of beginsels.

Die volgende dien as voorbeelde:
➢ onwelvoeglike taal;
➢ oorskryding van tyd;
➢ onnodige herhaling;
➢ wanvoorstelling van ander menings.

Wanneer ’n punt van orde geopper word, moet die voorsitter dit beoordeel en daaroor sy reëling gee sonder om dit te laat bespreek!

Die sogenaamde „ordevoorstel”, ook genoem „formele mosie” of „ordemosie”, is ’n voorstel wat slegs die orde van behandeling van ’n saak raak, en nooit die inhoud daarvan nie.

Byvoorbeeld:

’n Voorstel dat alle verdere bespreking nou gestaak word en oorgegaan word tot stemming.

’n Ordevoorstel moet gesekondeer word en dadelik, sonder bespreking, tot stemming gebring word voordat met die saak onder behandeling verder gegaan word.

In uitsonderlike gevalle mag ’n voorsitter weier om ’n ordevoorstel ter tafel te neem, veral as hy van mening is dat ’n bepaalde ordevoorstel ingedien is om die besluit oor ’n saak deur te „stoomroller” ten gunste van ’n sekere denkrigting.

Vergaderings moet maar suinig werk met ordevoorstelle, aangesien dit normaalweg nie ’n profytlike instrument is nie.

 

Besluitneming.

Nadat ’n saak behoorlik bespreek is en dit vir almal duidelik is, word oorgegaan tot besluitneming.

Die gewone prosedure om tot besluitneming te kom, is by wyse van ’n voorstel wat behoorlik gesekondeer is.

’n Vergadering kan egter ook sonder ’n voorstel tot besluitneming kom.

|346|

As voorbeeld dien die volgende:

Die saak onder bespreking is of daar voortgegaan moet word met eredienste op Hemelvaartdag, aangesien dit nie meer ’n openbare vakansiedag is nie. Uit die bespreking is dit duidelik dat niemand ten gunste daarvan is nie. Die voorsitter kan dan vra of almal tevrede is dat nie voortgegaan word met dienste op Hemelvaartdag nie. As alternatief kan die voorsitter, sonder ’n voorstel uit die vergadering, vir en teen die gedagte laat stem, aangesien daar slegs een van twee moontlike besluite is.

Die voorsitter kan ook, nadat ’n saak duidelik is, die vergadering lei in die rigting van ’n voorstel wat die goeie orde van behandeling sal bevorder.

As voorbeeld dien die volgende:

Die saak onder bespreking is of daar ’n donasie vir ’n verdienstelike saak gemaak moet word en, indien wel, tot watter bedrag. Uit die bespreking het duidelik geblyk dat daar verskillende menings is. Sommige broeders wil geen donasie bewillig nie; ander praat van R50, ander weer van R100, en so meer. Die voorsitter kan dan die saak só reël dat daar, met of sonder ’n voorstel uit die vergadering, eers gestem word of daar hoegenaamd ’n donasie gemaak moet word. As die meerderheid teen ’n donasie stem, is die saak daarmee afgehandel. As die meerderheid vir ’n donasie stem, kan die voorsitter voorstelle vra vir ’n spesifieke bedrag en dan daaroor laat stem.

Daar kan op ’n gegewe tydstip slegs een voorstel ter tafel wees.

Die sogenaamde „teenvoorstel” is absurd en ontoelaatbaar, aangesien almal wat teen ’n bepaalde voorstel is, daarteen kan stem.

’n Voorstel kan ook, voordat dit tot stemming gebring word, gewysig word by wyse van ’n amendement. ’n Amendement is ’n voorstel dat ’n bepaalde deel van die oorspronklike voorstel gewysig of weggelaat word, of dat iets by die oorspronklike voorstel bygevoeg word. Daar kan ook meer as een amendement voorgestel word, en daar kan selfs ’n amendement op ’n amendement voorgestel word — ’n voorstel dus dat die voorgestelde amendement gewysig word.

’n Amendement mag egter nooit ’n teenvoorstel wees nie.

|347|

’n Voorsitter moet ook daarop bedag wees dat, wanneer meer as een amendement voorgestel word, slegs een amendement op ’n keer ter tafel geneem word.

Ook moet hy die prosedure só reël dat die goeie orde ten alle tye gehandhaaf word en dat daar volkome duidelikheid oor die verskillende amendemente is voordat tot stemming oorgegaan word.

Onderwyl ’n amendement behandel word, word die oorspronklike voorstel tydelik opsy geskuif. As ’n amendement aanvaar word, word die oorspronklike voorstel dienooreenkomstig gewysig; so ’n gewysigde voorstel heet dan „die substantiewe voorstel”. Hierdie substantiewe voorstel moet dan opnuut aan die vergadering voorgelê word om finaal daaroor te stem.

Alle stemming oor persone en sake vind plaas met volstrekte meerderheid. By ’n ewe getal, bv. 10, is die meerderheid die helfte plus een, nl. 6. By ’n onewe getal, bv. 11, word 1 by die totaal gevoeg sodat die totaal dan 12 is; die volstrekte meerderheid is dan die helfte van 12, nl. 6.

Om ’n volstrekte meerderheid te bepaal wanneer daar bv. oor meer as 2 persone gestem moet word, kan soms lastig wees. Die goue reël hier is dat dié persoon wat aangewys word, se stemtotaal meer moet wees as al die stemme vir die ander persone bymekaar.

Daar is geen verskil in die krag van ’n besluit wat eenparig geneem is teenoor dié van ’n besluit wat met meerderheid van stemme geneem is nie.

In die kerkregering is daar geen bepaling van ’n twee-derde meerderheid nie.

Die voorsitter het in geen kerklike vergadering ’n beslissende stem nie. (Sinode 1910, art. 176).

Wanneer die stemme staak, kan daar weer gestem word. By herhaalde staking van stemme geld gewoonlik die volgende (kyk Sinode 1873, Handelinge p. 46, art. 173):
➢ by staking van stemme oor persone moet met plegtige aanroeping van die Naam van die Here geloot word;

|348|

➢ by staking van stemme oor sake is die saak normaalweg daarmee van die tafel af. Dit hoef egter nie rigoristies altyd só toegepas te word nie; dit kan óf uitgestel word vir heroorweging by ’n volgende vergadering, óf dit kan na ’n kommissie van pre-advies verwys word vir behandeling by ’n volgende vergadering; die belangrikheid en/of dringendheid van elke saak sal hier rigtinggewend wees.

’n Konsulent het geen stemreg in ’n kerkraadsvergadering nie.

 

Bindende krag van besluite.

Met betrekking tot die krag en geldigheid van besluite, bepaal artikel 31 KO die volgende: „Wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde.”

Indien iemand nie met ’n besluit saamstem nie of daaroor beswaard voel of meen dat sy reg daardeur gekrenk is, mag hy dit nie eiegeregtig tersyde stel asof die besluit nie in sy geval „vas en bindend” is nie. Hy moet daarteen beswaar indien op die ordelike manier of daarteen appelleer volgens die voorgeskrewe bepalings; intussen, egter, bly die besluit „vas en bindend” vir elkeen.

Die gedagte agter die bepaling in artikel 31 KO van die meerderheidstem is dié van konformasie ... dat die minderheid hom stilswyend by die besluit van die meerderheid neerlê. 

Indien iemand hom nie met ’n genome besluit kan vereenselwig by wyse van stilswyende konformasie nie, moet hy beswaar aanteken of appelleer.

Maar totdat die beswaarde gelyk gegee is d.m.v. ’n uitspraak oor sy beswaar of appèl bly die besluit staan as vas en bindend, ook vir die beswaarde! So iets as dikmond op ’n sloerstaking gaan en besluite ignoreer net omdat jy nie daarmee saamstem nie, is totaal ontoelaatbaar in die Gereformeerde kerkregering. So ’n persoon sou homself beslis tugwaardig maak!

Insake die praktyk om jou naam in die notule te laat aanteken dat jy in die minderheid gestem het, het die Sinode van 1961 besluit dat so ’n

|349|

stap kerkregtelik geen implikasies het nie (Handelinge, p. 562, art. 209). So iets onthef dus niemand van binding aan die geldigheid van ’n genome besluit nie.

Met verwysing na wat vroeër gesê is oor die kworum van die sogenaamde „breë” vergadering, wil ek die aandag daarop vestig dat wanneer daar ’n kworum is, die stemme van ouderlinge en diakens by besluitneming nie afsonderlik getel word om ’n geldige meerderheid te bepaal nie; maar omdat dit ’n wettige vergadering is van die kerkraad en die diakens, het almal gelyke stembevoegdheid.

 

Notulering.

Wat notulering betref, bepaal die Kerkorde in artikel 34 dat die skriba slegs dié dinge moet notuleer ,,wat noodsaaklik opgeteken moet word”.

Die praktyk om te notuleer dat broeder A dit-en-dat gesê het en dat broeder B só voorgestel en broeder C dit gesekondeer het, is nie wenslik of nodig nie.

Daar hoef ook nie genotuleer te word hoeveel broeders vir en teen ’n voorstel gestem het nie. Daar word eenvoudig genotuleer: „Die Kerkraad (of die Vergadering) besluit soos volg: ...”, sonder om ’n enkele naam te noem.

Notules moet baie noukeurig bygehou word, verkieslik in boeke met genommerde bladsye. By alle korreksies moet deur voorsitter en skriba geparafeer word.

 

Artikel 81 KO.

„Die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en die diakens moet onder mekaar die Christelike sensuur uitoefen en mekaar oor die bediening van hulle amp vriendelik vermaan.”

Die bedoeling van hierdie artikel is onder meer dat ampsdraers met mekaar moet praat en nie van mekaar nie.

Hier word gepraat van Christelike sensuur en van vriendelike vermaning. Die onderlinge vermanings moet dus plaasvind in die gees van die liefde van Jesus Christus.

Alhoewel hier slegs melding gemaak word van die bediening van die amp, sluit dit die algemene lewenswandel beslis nie uit nie. Want hoe

|350|

kan iemand sy amp tot eer van God bedien as sy lewenswandel bedenklik is? 

Artikel 81 KO is beslis nie bedoel om Matthéüs 18 (die persoonlike vermaning onder vier oë) te omseil nie.

Die artikel is ook nie bedoel om artikels 79/80 KO te vervang nie; nee, die bedoeling is juis om optrede kragtens artikels 79/80 te voorkom! As iemand dus skuldig is aan iets wat onder artikels 79/80 KO hanteer moet word, mag dit nie onder artikel 81 KO behandel word nie.

Kerkrade moet oortuig wees van die uiters belangrike plek van hierdie artikel in die Gereformeerde kerkregering. Ek is bevrees dat dit in baie kerkrade nie tot sy reg kom nie, omdat dit slegs as ’n formaliteit beskou en hanteer word.

Artikel 81 KO kan by elke kerkraadsvergadering hanteer word, en nie slegs by die vergaderings voor nagmaal nie.

 

Die voorsitter.

Ten slotte wil ek graag ’n paar opmerkings maak oor die voorsitter. Want die korrekte prosedure en die goeie orde en die vlot verloop van sake in ’n kerkraadsvergadering hang grootliks af van die voorsitter se optrede, en van die respek en agting wat aan hom betoon word.

Soos in die begin gesê is, bepaal die Kerkorde dat die voorsitter die predikant moet wees. Ongelukkig is dit egter so dat nie alle predikante goeie voorsitters is nie. Daar sit soms ouderlinge en/of diakens in die vergadering wat beter voorsitters is as die predikant. Sulke broeders kan met taktvolle leiding uit die vergadering die voorsitter baie ondersteun en ’n enorme bydrae maak tot die goeie orde en die vlot verloop van sake.

Maar: hulle kan ook die teendeel bereik as hulle hul eie kundigheid en bekwaamhede taktloos en konfronterend teenoor die optrede van die voorsitter uitstal!

Die voorsitter moet ten alle tye ten volle op hoogte wees met elke saak op die agenda. Anders maak hy ongelukke. Deeglike voorbereiding is dus onontbeerlik vir goeie voorsitterskap.

|351|

Dit is geen skande vir ’n voorsitter om te erken dat hy nie ’n bepaalde antwoord uit die vuis kan verskaf nie en eers daaroor meer inligting wil inwin.

Die voorsitter moet ’n deeglike kennis hê van die Kerkorde en die algemene kerkreg en kerkregering. Ek vind die verstommend-gebrekkige kennis oor hierdie kardinale dinge by baie predikante (en ander ampsdraers) geweldig tragies.

Die voorsitter moet hom daarop toelê om ten alle tye kalm en onpartydig te wees.

In beginselsake en ander kardinale aangeleenthede mag hy egter nie onpartydigheid voorrang gee bó handhawing van beginsels en beklemtoning van die belangrikheid van sekere sake nie.

Byvoorbeeld:

Met die verkiesing van ampsdraers word iemand voorgestel wie se kerklike meelewing baie te wense oorlaat; die argument is: sit hom in die kerkraad en dan sal sy kerklike lewe regkom. Na sy mening het die voorsitter, as bedienaar van Gods Woord, in so ’n situasie nie net die reg nie, maar beslis die plig om die kerkraad daarop te wys dat so iemand nie beantwoord aan die Skriftuurlike vereistes vir ampsdraers nie. Die kerkraad is immers nie ’n „verbeteringskool” nie! As die voorsitter dus in so ’n geval sy onpartydigheid gehandhaaf het ten koste van duidelike Skriftuurlike leiding, sou hy sy plig as bedienaar van Gods Woord, en dus as voorsitter, versuim het.

Sonder om sy eie persoonlike siening oor sake af te dwing of te bevorder, moet die voorsitter dus duidelike leiding aan die vergadering gee.

Die voorsitter moet altyd beslis wees. Niks is nadeliger vir goeie orde en behoorlike prosedure en profytlike vordering in ’n vergadering as ’n swak en onbesliste voorsitter nie!

Laastens: In I Thessalonicense 5: 12, 13 staan die volgende: „...erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is...; ...bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk...”.

Hierdie Skrifwoord is ook van toepassing op ampsdraers in kerkraadsvergaderings.

|352|

As elke ouderling en diaken hierdie opdrag uitvoer in die kerkraadsvergaderings ten opsigte van die predikant as voorsitter (selfs al is hy ’n swak voorsitter) — deur hom te erken en aan hom agting te bewys, nie ter wille van sy persoon of sy gawes of sy bekwaamhede nie, maar ter wille van sy werk, — dan sal kerkraadsvergaderings vir almal, die voorsitter inkluis, aangenaam wees!

En dan kan met reg die seën van die Here in elke kerkraadsvergadering verwag word!

 

Geringe verwerking van ’n referaat gelewer in kerkraadsvergadering Kemptonpark, 10 Mei 1995.

Visser, J. (1999) Byl D

|353|

Bylae „D”

Matthéüs 18: 15-18: Tekskrities, Eksegeties en Kerkregtelik.

Inleidend.

Hierdie betrokke Skrifgedeelte is van besondere belang in die kerkregering, veral ten opsigte van die tugoefening.

Ons kan sê dat hierdie paar verse uit Matthéüs 18 vir ons in ’n spesifieke sin die liefdesweg met ons mede-gelowiges uitspel.

Daar is egter bepaalde probleme, veral tekskrities, by vers 15; daaroor is al baie studie gedoen en baie menings uitgespreek. Ek sal probeer om in hierdie verband aan u meer duidelikheid te gee op grond van verskeie studies wat hieroor gedoen is.

Ek gaan vanaand in ons gesprek nie alle kleinere besonderhede bespreek nie; voor die hand liggende gegewens laat ek met rus, en ek spits my toe op daardie bepaalde aspekte wat van kardinale belang is vir die regte verstaan van wat Jesus hier vir ons wil sê.

Beskou my optrede voor u vanaand asseblief as ’n broederlike gesprek oor ’n aktuele vraagstuk in die kerkregering; my bedoeling is beslis nie om ’n volledige teologies-wetenskaplike voorlegging te doen nie.

Om die omvang van hierdie praatjie binne perke te hou, sal ek ongelukkig nie alle tersaaklike studieresultate en Skrifgedeeltes in besonderhede kan bespreek nie; ek sal dus verskeie kere verwys na die studie wat ek self gedoen het, en wat vervat is in my Th.M-verhandeling, gepubliseer onder die titel: „Kerklike Tug.”

Ek maak deurgaans gebruik van die 1953 vertaling van die Bybel, omdat dit ’n meer letterlike vertaling van die Griekse grondteks is.

 

Tekskrities.

In vers 15 sê Jesus: „En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.”

|354|

By hierdie vers is daar die tekskritiese probleem of die woorde „teen jou" (in Grieks eis se) hier tuishoort of nie. (In die 1983-vertaling ontbreek hierdie woorde).

Verskeie geleerdes beweer dat hierdie woorde weggelaat moet word, omdat dit in die beste Griekse handskrifte ontbreek.

Ander kenners van die Griekse Nuwe-Testamentiese tekste is egter van mening dat hierdie twee woorde wel hier tuishoort.

Finale en absolute duidelikheid oor hierdie kwessie is tans blykbaar nog nie in sig nie. Tog bied ’n vergelyking van Matthéüs 18: 15 met ander Skrifgedeeltes insiggewende lig.

In vers 21 van hierdie hoofstuk vra Petrus: „Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig ...?" (eie kursivering, J.V.). Die Skrifverband hier met vers 15, asook die inhoud van die twee verse, dui daarop dat vers 21 baie waarskynlik aansluit by vers 15.

Interessante gegewens kom ook na vore wanneer Matthéüs 18: 15 vergelyk word met Lukas 17: 3, 4: „... En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; ... En as hy sewe maal op ’n dag teen jou sondig ... moet jy hom vergewe.”

In vers 3 kom die woorde „teen jou” (eis se) in die beste handskrifte nie voor nie, maar in vers 4 wel. By vers 3 skryf Christus vergewing ná berou voor; hierdie feit wys tog in die rigting van ’n persoonlike oortreding, omdat enige lidmaat tog nie die sondes van ander kan vergeef nie.

Die ooreenkoms tussen Matthéüs 18: 15 en Lukas 17: 3, 4 is baie duidelik: albei die betrokke gedeeltes volg op wat Jesus oor die struikelblokke sê, terwyl daar ook ooreenkoms is wat die inhoud betref. Met die oog daarop dat die woorde „teen jou” in Lukas 17: 4 wel voorkom in die beste handskrifte, lyk dit dus baie waarskynlik dat dit ook in Matthéüs 18: 15 tuishoort.

Verskeie geleerdes is dan ook hierdie mening toegedaan.

Augustinus, Martin Bucer en Johannes Calvyn tel onder diegene wat die onderskeid tussen geheime en openbare sondes onder andere baseer op Matthéüs 18: 15 (kyk my Verhandeling, p. 100-103).

|355|

Dit is ook opmerklik dat die onderskeid tussen geheime en openbare sondes alreeds in die Weselse Artikels van 1568 uitdruklik in die voorgeskrewe tugprosedure gehandhaaf is. Daarná kom ’n soortgelyke onderskeiding, gefundeer op Matthéüs 18, herhaaldelik voor in die „Acta” en Kerkordes van verskeie Sinodes, tot en met die Kerkorde van die Nasionale Sinode van Dordrecht, 1618-1619.

Ook in die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) word daar ’n onderskeid gemaak tussen „heimlike” en „openbare” sondes (kyk artikels 72, 73, 74, 75, 76, 79); hierdie onderskeid word in artikel 72 direk gebaseer op Matthéüs 18.

By die 43ste Nasionale Sinode van die GKSA (1988) word die Sinode versoek om te besluit dat die onderskeid tussen heimlike en openbare sondes en die verskillende optredes wat daarvolgens in verskillende Kerkorde-artikels voorgeskryf word, nie gehandhaaf kan word nie; dit sou dan, na bewering, berus op ’n verkeerde „eksegese” van veral Matthéüs 18: 15. Daarom behoort die Kerkorde dienooreenkomstig gewysig te word.

Die Sinode verwys hierdie versoek vir studie na die Deputate vir Kerkregtelike Sake om die volgende Sinode te adviseer. („Handelinge van die drie en veertigste Nasionale Sinode”, p. 809- 816).

Genoemde Deputate rapporteer by die volgende Nasionale Sinode (1991), wat soos volg besluit: „Artikels 72-75 van die Kerkorde word, soos dit tans geformuleer is, onveranderd gelaat aangesien die broeders nie daarin geslaag het om uit die Skrif aan te toon dat dit noodsaaklik is om dit te verander nie.” („Handelinge van die vier en veertigste Nasionale Sinode”, p. 515-519).

In die GKSA word die onderskeid tussen heimlike en openbare sondes, sowel as die verskillende optredes wat op grond daarvan in die artikels van die Kerkorde voorgeskryf word, dus nog steeds gehandhaaf.

 

Eksegeties.

Onderskeid tussen heimlike en openbare sondes.

Die eerste belangrike eksegetiese waarheid wat uit hierdie Skrifdeel na vore kom, is dat Jesus ’n persoonlike vermaning onder vier oë

|356|

voorskryf („tussen jou en hom alleen”) wanneer daar ’n persoonlike (heimlike) sonde begaan is („teen jou”).

’n Belangrike eksegeties-hermeneutiese beginsel is dat die Skrif met die Skrif verklaar moet word. Daarom moet ons gaan kyk of daar elders in die Skrif bykomende getuienis gevind kan word om hierdie eksegese van Matthéüs 18: 15 te steun — veral in die lig van die tekskritiese probleem wat hierbo bespreek is.

Eerstens kan verwys word na Lukas 17: 4, waaroor geen tekskritiese probleem bestaan nie. Hier sê Jesus dat, as jou broeder selfs sewe maal op ’n dag „teen jou” sondig, moet jy hom vergewe. Dus: persoonlike vergewing waar daar persoonlike sonde begaan is.

Augustinus stel tereg Matthéüs 18: 15 („... gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.”) en I Timótheüs 5: 20 („Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal...”) teenoor mekaar; hy sê dan dat geheime sondes in die geheim en openbare sondes in die openbaar bestraf moet word. Ook Calvyn maak ’n duidelike onderskeid tussen geheime en openbare sondes op grond van Matthéüs 18: 15 en I Timótheüs 5: 20. Die geheime sondes is dié wat net by enkele persone bekend is, terwyl die openbare sondes algemeen bekend is en openbare aanstoot gegee het (kyk my Verhandeling, p. 101, 102).

Ten spyte van die tekskritiese probleem in Matthéüs 18: 15, is dit tog opmerklik dat Jesus ’n „geheime” vermaning onder vier oë voorskryf. Ook dui I Korinthiërs 13: 7 (die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles) en Jakobus 5: 19, 20 (iemand wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, sal ’n siel uit die dood red en ’n menigte sondes bedek) daarop dat ’n lidmaat nie in alle gevalle summier die sonde van ’n ander openbaar mag maak nie. Hierdie gegewens veronderstel dus dat daar wel so iets as „geheime sondes” is.

Maar die Nuwe Testament leer in sekere gevalle ook openbare bestraffinge sonder voorafgaande „geheime” vermaninge. Dit veronderstel weer „openbare sondes”.

In Markus 8: 33 bestraf Jesus vir Petrus in die teenwoordigheid van die ander dissipels. En in Handelinge 5: 1-11 bestraf Petrus eers vir Ananías en daarná vir Saffíra in die teenwoordigheid van ander apostels (vers 2) en gemeentelede (vers 5, 11).

|357|

In Handelinge 8: 20 word beskryf hoe Petrus teenoor Simon die towenaar optree. Hierdie Simon was klaarblyklik ’n leidende figuur in Samaria en ’n lidmaat van die gemeente aldaar (verse 9, 10 en 13). Toe hy egter probeer om die mag tot mededeling van die Heilige Gees deur geld te verkry (verse 18, 19), het Petrus hom onmiddellik baie skerp in die openbaar bestraf (vers 20). Petrus neem hom nie eers opsy vir ’n „geheime” vermaning nie, maar sy openbare sonde het ’n direkte openbare bestraffing vereis.

In Galásiërs 2 beskryf Paulus hoe hy Petrus „openlik” (vers 11), „in teenwoordigheid van almal” (vers 14) vermaan het. Die openbare aard van Petrus se geveins het ’n openbare bestraffing nodig gemaak, „...omdat hy veroordeeld gestaan het.” (vers 11).

’n Volgende voorbeeld is I Timótheüs 5: 19, 20. In vers 19 vermaan Paulus Timótheüs om nie ’n beskuldiging teen ’n ouderling aan te neem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie. As daar dan so ’n geval voorkom waar ’n ouderling só gesondig het dat hy op die getuienis van twee of drie beskuldig is (’n openbare sonde dus), moet hy „in die teenwoordigheid van almal”, dit is in die teenwoordigheid van al die ouderlinge, bestraf word.

Op grond van die voorgaande gegewens is dit dus duidelik dat daar in die Skrif wel onderskeid gemaak word tussen heimlike en openbare sondes.

 

Die liefdesweg met my mede-gelowige.

Wat tot dusver duidelik geword het, is dat daar in die geval van ’n heimlike sonde eers ’n bepaalde pad geloop moet word voordat ’n saak by die „gemeente” aangegee mag word. (Met „gemeente” word hier „die kerkraad” bedoel, wat in die Naam van Christus die regering in die gemeente uitoefen en die gesag van Christus bedien. Vergelyk hier byvoorbeeld die onverkorte Formulier vir die Bevestiging van Ouderlinge en Diakens).

Eers moet daar persoonlike vermaning onder vier oë plaasvind. By gebrek aan berou, moet een of twee getuies saamgeneem word, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. (Hierdie beginsel van meerdere getuies word al deur God voorgeskryf in Deuteronómium 19: 15, vergelyk 17: 6. Dit is nie slegs in die kerklike

|358|

„regspleging” ’n onmisbare voorvereiste nie, maar dit geld ook in die gemene reg). As daar selfs dan nog geen berou en inkeer is nie, word dit by „die gemeente” (lees: „die kerkraad”) aangegee. En as hy na die gemeente ook nie luister nie, moet hy wees „soos die heiden en die tollenaar”. Hierdie laaste uitdrukking hou per implikasie in dat die sondaar van die gemeente afgesny moet word.

 

Bind en ontbind.

Die woorde „bind” en „ontbind” word reeds in Matthéüs 16: 19 gebruik. Nadat Petrus, as woordvoerder van die dissipelkring, sy kragtige belydenis uitgespreek het: „U is die Christus, die Seun van die lewende God” (16: 16), het Jesus vir hom gesê: „En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees” (16: 19).

Hier word „bind” en „ontbind” meer algemeen gekoppel aan die sleutelmag, terwyl dit in Matthéüs 18: 18 meer spesifiek in verband gebring word met die kerklike tug.

Hier is ook Johannes 20: 23 van groot belang: „As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.”

Dit is ook betekenisvol dat Jesus in Matthéüs 16 vir Petrus aanspreek: wat jy ook op die aarde mag bind en ontbind; in Matthéüs 18, egter, gebruik die Here die meervoud: wat julle op die aarde bind en ontbind; dit is ’n duidelike bewys dat Jesus in Matthéüs 16 vir Petrus aanspreek as verteenwoordiger van die dissipelkring. (Dit word versterk deur Johannes 20: 23, waar Jesus ook in die meervoud praat).

Die Griekse woorde deoo en luoo, wat in ons Afrikaanse Bybel vertaal word met „bind” en „ontbind”, is ’n letterlike weergawe van die Aramese ekwivalente asar en sera. Hierdie Aramese werkwoorde beteken eerstens letterlik „bind” en „ontbind”; dit word egter ook besonderlik gebruik om die toepassing en opheffing van die ban uit te druk.

As daar egter teruggegaan word na die rabbynse spraakgebruik, blyk dit dat hierdie twee werkwoorde in die sogenaamde „Halacha”-leerbeslissings

|359|

van die Skrifgeleerdes veral die betekenis het van „verbied” en „veroorloof”. 

Hierdie bykomende betekenis van „bind” en „ontbind” hou dus in dat wanneer Petrus (en die apostels) geroep word om die tug toe te pas, hulle ook in die posisie moet wees om in elke geval met gesag te besluit wat geoorloof en wat verbode was. Die tuggesag van die apostels veronderstel daarmee onvoorwaardelik en beslis hulle leergesag; eers die vereniging van tuggesag en leergesag vorm die sleutelmag wat aan hulle toevertrou is. („Halacha” beteken die wetlike voorskrifte in die Ou Testament waarvolgens die Jode hulle lewenswandel moes inrig, teenoor die sogenaamde „Haggada” wat meer toegespits is op die geskiedkundige en leerstellige inhoud van die Skrif).

Oor die betekenis en draagwydte van die twee woorde „bind” en „ontbind” is daar omvangryke studiemateriaal beskikbaar (kyk my Verhandeling, p. 38-42).

Ek wil u nie vanaand verder vermoei met allerlei taalkundige, semantiese en eksegetiese besonderhede nie.

Saamgevat kan die volgende gestel word: In al drie die bogenoemde uitsprake van Jesus (Matthéüs 16: 19, 18: 18 en Johannes 20: 23) gaan dit om sleutelmag; wat in Matthéüs 16: 19 nog ’n algemeen-prinsipiële betekenis het, word in Matthéüs 18: 18 meer spesifiek, terwyl Johannes 20: 23 ’n nadere verklaring is van die twee uitsprake in Matthéüs 16 en 18. In al drie die gedeeltes gaan dit dus om die dissiplinêre, regterlike bevoegdheid wat op die aarde uitgeoefen en in die hemel bevestig word. Dit gaan dus in hierdie uitsprake om sowel die Woordbediening as die tugoefening, die twee sleutels van die koninkryk van die hemel (Heidelbergse Kategismus, Sondag 31).

 

Kerkregtelik.

Die subjek van die kerklike tug.

Onomwonde moet hier allereers gesê word dat Jesus Christus, die Hoof van die kerk, die absolute Subjek van die kerklike tug is. Hy oefen die sleutelmag in absolute sin uit. 

Hy maak egter gebruik van mense as sy instrumente, wat ons kan noem die bedienende subjekte van die kerklike tug. Dit beteken egter nie dat

|360|

Jesus Christus sy gesag oordra aan mense, asof Hyself daarvan afstand doen nie. Hy roep en gebruik slegs mense om sy gesag in sy kerk te bedien.

Oor die vraag aan wie die sleutelmag toevertrou is: aan Petrus alleen, of ook aan die ander apostels, is daar selfs in reformatoriese kringe nie algehele eenstemmigheid nie.

Hierbo is egter voldoende aangetoon dat, alhoewel Jesus in Matthéüs 16: 19 vir Petrus alleen aanspreek, dit tog só verstaan moet word dat hy as verteenwoordiger van die dissipelkring gesien moet word.

In Matthéüs 18: 17 noem Jesus „die gemeente” as die finale instansie wat hier op aarde volmag het om die vermaning en die tug te hanteer.

Skrifgegewens maak dit egter duidelik dat dit nie ’n geval is van die gemeente of die kerkraad wat volmag het om die tug toe te pas nie (soos in sommige ander kerkregeringstelsels), maar die gemeente en die kerkraad. In die Rooms-katolieke kerkregering, byvoorbeeld, is daar ’n oorheersende ampstruktuur en ’n onmondige gemeente, terwyl die Independentisme weer ’n oorheersende gemeente het met ’n onmondige kerkraad.

Op grond van Matthéüs 18: 15-17 kan ons sê dat die tug sy wortels het in die gemeente; Christus het Self hierdie bevoegdheid aan die gemeente gegee. Verdere Skrifgegewens waarna verwys kan word is onder andere Romeine 16: 17, I Korinthiërs 5: 4 en II Thessalonicense 3: 6, 14, 15.

In die Nuwe-Testamentiese kerke het die apostels die gewone, blywende ampte ingestel. Ná die verdwyning van die eenmalige en omvattende amp van die apostels het daar dus nie ’n lugleegte ontstaan nie. Hier kan byvoorbeeld verwys word na die kies van die sewe diakens (Handelinge 6: 1-7), die verkiesing van ouderlinge in elke gemeente (Handelinge 14: 23) en Paulus se opdrag aan Titus om van stad tot stad ouderlinge aan te stel (Titus 1: 5).

Volgens die Skrif is dit duidelik die opdrag en taak van die ouderlinge om gesamentlik, as vergadering die tug uit te oefen; ook die verhouding tussen die kerkraad en die gemeente word duidelik afgebaken. Vir besonderhede hieroor, verwys ek u na my Verhandeling, p. 82-90.

|361|

Onderskeid tussen heimlike en openbare sondes.

Die onderskeid tussen heimlike en openbare sondes, gegrond op Matthéüs 18, word pertinent in ons Kerkorde verreken (kyk artikels 72, 73, 74, 75, 76 en 79). Daar word bepaalde voorskrifte gegee oor hoe opgetree moet word in elk van die gevalle.

Ek aanvaar dat u met hierdie voorskrifte vertroud is.

Vergun my egter asseblief ’n paar waarskuwende opmerkings:
➢ Kerkrade moet nougeset daarteen waak dat hulle nie sake wat nog op die terrein van die persoonlike vermaning lê, sommerso in behandeling neem nie (artikels 72, 73). Om op die gebied van die kerkregering, en by name dié van die tugoefening, „kortpaadjies” te probeer loop, is om te tender vir moeilikheid!
➢ Aan die ander kant weer mag ’n kerkraad ’n „beskuldiging” of ’n „saak” wat regtens deur hom in behandeling geneem moet word volgens die bostaande Skrifgegewens, nie met ’n onregmatige beroep op die sogenaamde „weg van Matthéüs 18” op die syspoor van die persoonlike vermaning stoot nie (artikels 74, 76, 79). Sodoende ontduik die kerkraad sy Godgegewe verantwoordelikheid.

 

In alle gevalle eers die „weg van Matthéüs 18”?

’n Foutiewe persepsie bestaan dat in alle gevalle van moontlike tug eers die reël wat Christus in Matthéüs 18 voorskryf, onderhou moet word.

Met ander woorde: voordat ’n kerkraad byvoorbeeld ’n klag volgens artikel 79 KO mag behandel, moet hy eers vasstel of daar persoonlike vermanings volgens die voorskrif in Matthéüs 18 gedoen is.

So ’n siening vind egter geen steun in óf die Skrif óf die Kerkorde nie.

Wanneer ’n openbare sonde begaan is, hoef daar geen persoonlike vermanings gerig te word voordat ’n klag by die kerkraad gelê word nie.

Dit wil egter nie sê dat daar nou maar los en vas, op grond van vermoedens en gerugte, klagtes teen ampsdraers by kerkrade aanhangig gemaak mag word nie.

Aan die hand van enkele voorbeelde sal ek dit verduidelik.

|362|

Voorbeeld 1

’n Predikant ketter van die preekstoel af deur te sê: „Jesus Christus is nie die Seun van God nie.” Hy beklemtoon dit deur dit te herhaal. Daar kan dus geen twyfel oor hierdie openbare sonde bestaan nie.

Geen lidmaat hoef in so ’n geval die predikant eers persoonlik te gaan vermaan volgens Matthéüs 18 nie; ’n klag kan summier by die kerkraad aanhangig gemaak word. Die kerkraad moet in hierdie omstandigheid die predikant in elk geval direk na die erediens konfronteer en reëlings tref vir ’n buitengewone vergadering onder leiding van die konsulent.

Voorbeeld 2.

’n Ouderling of lidmaat hoor die predikant iets in sy preek sê wat klink na kettery. Hy is egter nie seker of hy reg gehoor het nie.

Voordat enige dissiplinêre aksie in werking gestel mag word, moet daar eers sekerheid verkry word oor wat presies gesê is. Dit is nie wenslik dat die predikant direk ná die diens voor die hele kerkraad om ’n verduideliking gevra word nie. Die saak moet eers met hom alleen „uitgeklaar” word.

Maar: hierdie „uitklaring” is nie die toepassing van die reël in Matthéüs 18 nie! Dit is slegs ’n ontmoeting om helderheid te kry.

Indien dit blyk dat die predikant nie geketter het nie, maar slegs verkeerd verstaan is of ’n uitdrukking gebruik het wat vir misverstand vatbaar is, is die saak daarmee afgehandel.

Indien dit egter blyk dat die predikant wel geketter het, moet daar summier ’n klag by die kerkraad aanhangig gemaak word.

 

„...dan het jy jou broeder gewin...”

Hierdie woorde van Jesus dui beslis daarop dat een van die doeleindes van die tug (wat by vermaning begin) die behoud van die sondaar is.

Verskeie ander Skrifgegewens kan aangehaal word as verdere bewys dat die tug onder andere die behoud van die sondaar ten doel het (kyk hiervoor my Verhandeling, p. 56-61).

|363|

Hierop berus artikel 71 van ons Kerkorde waar gesê word dat die tug onder meer as doel het om „die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen”.

Ook artikel 75 van ons Kerkorde is hier van belang. In hierdie artikel word gehandel oor die versoening. Opmerklik, egter, dat hierdie artikel dié oor die tugprosedure voorafgaan. Daarmee word die versoening as een van die die doelpunte van die tug beklemtoon. Die kerklike tug soek die behoud van die sondaar, die verbetering en heiliging van sy lewe; dit streef daarna om die mede-gelowige te „win”; dit is nie straf as kerklike vergelding nie.

 

„...soos die heiden en die tollenaar”

Soos hierbo reeds gesê is, hou hierdie woorde van Jesus per implikasie in dat die sondaar van die gemeente afgesny moet word.

Verskeie ander Skrifgedeeltes kan aangehaal word as verdere bewys dat verharding van die sondaar moet uitloop op afsnyding van die gemeente (kyk hiervoor my Verhandeling, p. 52-55, 58-60).

Artikel 77 van ons Kerkorde, waar „die laaste tugmiddel, die afsnyding van die gemeenskap van die kerk” gereël word, kan dus ook onder Matthéüs 18 (en ander Skrifgedeeltes) tuisgebring word.

 

Slotopmerkings.

Oor die belangrikheid van die kerklike tug moet daar onder Gereformeerdes geen verskil van mening bestaan nie. Tereg word die toepassing van die kerklike tug in Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis genoem as een van die drie kenmerke waaraan die ware kerk uitgeken kan word.

Met die konsekwente toepassing van die kerklike tug is die waarheid en die suiwerheid van die kerk dus onontwykbaar op die spel. Daardie kerk wat nie meer die tug toepas nie, is geen ware kerk meer nie ... al is daar ook nóg soveel drukte en aktiwiteit!

Dat die kerklike tug van ingrypende betekenis is, word baie duidelik uit hierdie woorde van Jesus: „Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” (Matthéüs 18: 18).

|364|

Terselfdertyd beklemtoon hierdie woorde van die Here ook die ontsaglike verantwoordelikheid van elke kerkraad: met die kerklike tug is die ewige toekoms van lidmate op die spel, na watter kant toe ook al!

Mag hierdie wete ons elkeen getrou maak in ons roepingsvervulling!

 

(Geringe verwerking van ’n referaat gelewer voor die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Magalieskruin op 31 Oktober 1995)

Visser, J. (1999) Byl E

|365|

Bylae „E”

Enkele Opmerkings oor Appèlle.

1. ’n Appèl moet so kort en kragtig en duidelik as moontlik opgestel word, met geen omhaal van woorde nie.

2. ’n Appèl moet so min as moontlik gronde hê waarop dit gefundeer word. Daar bestaan ’n verkeerde persepsie dat hoe meer gronde daar is waarop ’n appèl rus, hoe beter is die kans op sukses; die teenoorgestelde is egter waar. Daar is min dinge wat ’n meerdere vergadering so frustreer en irriteer as ’n onnodige aantal appèlgronde en ’n groot omhaal van woorde wat geen bydrae lewer tot die opheldering van die onderhawige saak in die appèl nie.

3. Sorg dat daar betyds van die voorneme om te appelleer kennis gegee word aan die vergadering teen wie se besluit geappelleer word (kyk punt 1d op bladsy 68 van die Kerkordeboekie). Sodoende word ten minste een moontlikheid uitgeskakel dat die appèl nie ontvanklik verklaar word nie.

4. Stel die appèl betyds tot beskikking van die meerdere vergadering waar dit sal dien, sowel as aan die mindere vergadering teen wie se besluit geappelleer word, sodat daar genoeg tyd vir voorbereiding en verweer is (kyk besluit van Sinode 1985, Handelinge p. 524 en 525).

5. Haal die besluit waarteen geappelleer word, woordeliks in die oorspronklike formulering en notulering aan in die appèl; verkry daarvoor ’n gewaarmerkte afskrif uit die betrokke notule.

6. Gee die gronde waarop jou appèl rus, in jou eie woorde kort, saaklik en duidelik weer in die lig van punt 2 hierbo. Motiveer (verduidelik) dan elke appèlgrond in 1 of meer afsonderlike punte — weer so kort, saaklik en duidelik as moontlik. Elke appèlgrond en motivering moet afsonderlik genommer word.

7. Appelleer slegs wanneer jou persoonlike reg gekrenk is, en nie teen elke besluit waarmee jy nie saamstem nie (kyk p. 142 van hierdie boek). Moet ook nie oor allerlei onbenullighede appelleer nie! Dit is nie tot eer van die Here, tot welsyn van die kerke en tot voordeel van die betrokke vergaderings wie se tyd só in beslag geneem word

|366|

nie. Win objektiewe mening(s) in oor wat belangrik en wat onbenullig is.

8. Daarteenoor: appelleer asseblief as dit oor belangrike beginselsake gaan — al staan jy met jou appèl manalleen! Te veel lidmate en ampsdraers laat maar, ter wille van liefde en vrede, Gods water oor Gods akker loop wanneer verkeerde en skadelike praktyke in die kerk ingevoer/toegelaat word!

’n Appèl behoort die onderstaande volgorde te hê:

1. Kort skets van die agtergrond en/of verloop van die saak waaroor dit in die appèl gaan, slegs vir duidelikheid; dit moet egter sover as moontlik nie oorvleuel met die inhoud van die appèl nie.
2. Woordelikse aanhaling van die besluit waarteen geappelleer word, volgens die uittreksel uit die notule.
3. Die verskillende gronde van die appèl in die appellant se eie woorde, elk apart genommer, byvoorbeeld: „Appèlgrond 1”, „Appèlgrond 2”, en so meer.
4. Een of meer punte van motivering by elke appèlgrond ter verduideliking, byvoorbeeld: by „Appèlgrond 1” sal die motiveringsnommering só lyk:
1.1 Motivering:
 1.1.1 .........................................
 1.1.2 ......................................... en so meer.